Die Leer van die Drie-eenheid verander ons Lewens

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-11-03
Teks: 
NGB artikel 8
Preek Inhoud: 

Elke leerstelling is belangrik.  Jy sal my nooit vang dat ek sê dat iets wat ons glo, nie belangrik is nie.  Maar daar is 'n paar leerstellings wat baie, baie belangrik is.  En die leer van die Drie-eenheid is een van daardie leerstellings.  As ons dit verkeerd verstaan, verstaan ons alles verkeerd, want hierdie leerstelling is die kern van dit wat ons glo.  Dit is God.

In die geskiedenis van die kerk is hierdie leerstelling een van dié wat die meeste aangeval is.  Satan was in die eerste paar eeue hard besig om hierdie leerstelling aan te val.  Omdat die kerk se grondslag en ondergang lê in haar verstaan van die Drie-eenheid.  Dit is die kern van wie God is.

Wat ek vandag wil doen, is om kortliks te praat oor die Drie-eenheid soos dit beskryf is in die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 8, en dan wil ek ‘n bietjie tyd afstaan deur te wys hoe hierdie leer alles vorm wat ons doen.

Die Leer van die Drie-eenheid verander ons Lewens:

  1. Die Leer van die Drie-eenheid
  2. Hierdie Leer vorm alles wat ons doen

 

Die Leer van die Drie-eenheid

Wat is die Drie-eenheid?  Hy is Een in drie, en drie in Een.  Hy is Iemand wat ons nie sal verstaan nie, maar net moet aanvaar.  Hy is een wese.  Een God.  Soos Deuteronomium sê: “Hoor, Israel, die HERE julle God, die HERE is een.”  En in daardie God is daar drie persone – wat al drie goddelik is.  Die Vader, die Seun en die Heilige Gees.  Die Vader is God, die Seun is God, en die Heilige Gees is God.  Dit beteken nie dat daar drie gode is nie, maar een God.

Die Vader kom uit niks.  Hy is, soos die belydenis sê, ”die oorsaak, oorsprong en begin”.  Die Seun is ewig verwek uit die Vader.  In teologiese taal noem ons dit die ewige generasie van die Seun.  Hy kom van die Vader af.  Hy is, soos die belydenis sê: “die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader”.  Soos Jesus sê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:9).  En die Gees kom voort uit die Vader en die Seun.  Hy is, soos die belydenis sê: “die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan”.

Al drie is verskillende persone.  Elkeen het sy persoonlike bestaan.  Hulle kan elkeen bedroef wees, daar kan teen elk gesondig word, gelieg word.  Hulle kan elkeen praat en optree.  Hulle kan al drie van mekaar onderskei word deur verskillende persoonlike eienskappe.  Die Heilige Gees leef in ons, nie die Vader nie.  Die Vader het die Seun gestuur, nie die Heilige Gees nie.  Die Seun het vlees geword, nie die Gees of die Vader nie.  Tog werk hulle nooit alleen nie.  Dit is nie asof die Vader geskep het, die Seun verlos het en die Heilige Gees heilig maak nie. 

Dit is hoe Hy Homself geopenbaar het, dit is wat ons glo.  Die oomblik wat ons dit logies probeer beredeneer, kry ons probleme en eindig ons by triteïsme of modalisme.  Drie gode wat op verskillende tye van die geskiedenis werk, of een God wat net op verskillende maniere verskyn.  Vandaar modalisme.  Ons sal in die volgende preek meer oor ketterye praat.  Vir eers is dit belangrik om te weet dat ons slegs die Drie-eenheid verstaan op die manier waarop Hy Homself geopenbaar het.  En Hy het Homself aan ons geopenbaar deur sy dade in die geskiedenis van die menslike ervaring.

 

Hierdie leer vorm alles wat ons doen

As jy dink dat die Drie-eenheid iets is waarvan jy nog geen ervaring of begrip het nie, gaan jy op ‘n tipe van ‘n jagtog om interessante, netjiese, klein ooreenkomste te vind wat moontlik van toepassing kan wees.  Jy sal dalk sê: “Die Drie-eenheid is dus min of meer soos water: vloeistof, ys en stoom”.  En dan, nadat jy dit gesê het, sal jy hopelik sê: “Maar dit is natuurlik nie soos God is nie”.  Of God is soos ruimte, tyd en energie.  Of soos 'n appel: die skil, die vlees en die kern.  Of iemand kan dalk sê dat die Drie-eenheid soos 'n goed funksionerende komitee is.  Ek weet nie in watter komitee jy al was nie, maar dit weerspieël nie die een waarin ek was nie.  So kan ‘n mens voortgaan op hierdie belaglike en doodgevaarlike pad…  die Drie-eenheid is soos ‘n preek met drie punte.  Of die drie-ampte bediening.  Of Profeet, Priester, Koning.  Jy hoor die oppervlakkigheid.

Ons kan nog verder so aangaan, maar dit beteken nie veel nie, want hulle glo tog nie werklik dat God as drie-enige soos enige van hierdie voorbeelde of dinge is nie.  Hulle soek net na ‘n manier om te dink: “Hoe kan iets wat drie is, ook iets wees wat een is?”

Dit is 'n vrugtelose oefening.  As ek sê jy moet die Drie-eenheid so direk as moontlik aan die Evangelie verbind, dan bedoel ek:  die ewige God, wat altyd Vader, Seun en Heilige Gees was, het Homself bekend gemaak in die sentrale Bybelse handelinge van die Vader wat die Seun gestuur het en die Heilige Gees gestuur het.

Net soos wat die Vader die wêreld deur die Seun in die Heilige Gees geskape het, so het die Vader die wêreld gered deur die Seun in die krag van die Gees.  Dus, die Gees is deur die Vader en die Seun gestuur om in ons te woon.

Dit het die volk van God en die kerk tot stand gebring.  En as jy in die kerk is, is jy reeds deel van dit wat deur die Drie-eenheid geskep is.  Die kerk is diepgaande Drie-eenheidsvormig.  Jy hoef nie te gaan soek vir iets wat die Drie-eenheid beskryf nie!  Jy leef in die werklikheid wat deur die Drie-eenheid gemaak is. 

Jy mis die punt heeltemaal as jy wegkyk van die werklikheid waarin jy is en kyk of jy dit buiten dit kan definieer.  Om die Drie-eenheid te verstaan, moet ons nadink oor wat God gedoen het wat sy Drie-eenheid openbaar.  Sy drie-in-een-wees.

In die ewige wese van God is daar iets wat ons die prosessie noem.  Die Seun kom voort, of beter, is verwek uit die Vader van alle ewigheid af.  Die Seun het nooit nie bestaan nie en daar was nooit 'n tyd waarin Hy nie in 'n sekere sin van die Vader gekom het nie.  En die Gees kom van die Seun en die Vader.  Dit is verlossingsgeskiedenis.  Dit is Wie God is.  Dit is waaroor die hele geskiedenis gaan.  Openbaring van die werk van God as een en tog drie.  Dit is die evangelie van skepping en herskepping – God wat almal optree soos een.  Die Vader wat die Seun en die Heilige Gees stuur.  Vir ewig.

Jy moet dit verstaan, sodat jy weet dat dit nie gaan daaroor om meer Trinitaries te wees nie, maar dat ons reeds in 'n Trinitariese werklikheid leef.  Ons het nie al hierdie oulike intellektuele woord-prentjies nodig nie.  In werklikheid, as jy hierdie ongelooflike prentjie van die kerk in jou kop het, lyk hierdie oulike woord-prentjies soos die tekeninge van ‘n eenjarige!

Ons bestaan omdat die Vader die Seun en die Heilige Gees gestuur het.  Ek wil na drie tekste kyk wat ons help om dit beter te verstaan en toe te pas.

Eerstens Galasiërs 4:4-6: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.  En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!”  Ek hoop dat jy die Drie-eenheid hierin gehoor het.  God het sy Seun gestuur.  Watter soort God stuur sy Seun?  God die Vader.  En toe stuur hierdie Vader die Gees van sy Seun in ons harte.  Sodat ons saam met sy Seun die volle regte van kindskap geniet en in een Gees Abba roep.  Hier het ons die objektiewe feite van die evangelie.  Die historiese feite van die evangelie is diepgaande Trinitaries.  In die evangelie wys God ons ten diepste Wie Hy is.  Drie in Een.  Saam werkende vir ons redding.  As jy die evangelie glo, moet jy die Drie-eenheid aanvaar.  Daar is geen evangelie buiten dit nie.  Die Drie-eenheid is goeie nuus.

Tweedens wil ek na Johannes 20: 21-22 kyk: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook…  Ontvang die Heilige Gees.”  Die evangelie is nie net diepgaande gevorm deur die Drie-eenheid nie, maar ook die missie van die kerk word gevorm deur die Drie-eenheid.  Wat die kerk gevorm het, is die Vader wat die Seun uitstuur in die krag van die Gees.  Dit is hierdie evangelie wat daartoe lei dat die Seun die kerk uitstuur in die krag van dieselfde Gees tot heerlikheid van die Vader.  Dit is die Trinitariese karakter van die missie van die kerk.  Soos Christus na die wêreld gestuur is om sondaars te red, so stuur Hy sy dissipels.  Trinitariese teologie is sendings- teologie.

Die Here Jesus het 'n spesiale manier om oor Trinitariese teologie te praat.  As ons uitsprake soos hierdie hoor, of wanneer Hy sê: ”dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U” (Joh. 17:21).  As ons dit hoor, is die eerste reaksie om dit te probeer weg verklaar.  Soos om te probeer sê dat Jesus het nie regtig bedoel het wat Hy gesê het nie.  Ons moet versigtig wees om nie verskonings te probeer maak of Jesus te probeer herinterpreteer wanneer Hy dinge soos hierdie sê nie.  Terselfdertyd moet ons 'n bietjie nuanses toevoeg.  Ons is een op presies dieselfde manier as waarop Vader en Seun een is nie.  Anders sou ons God wees.  Ons word ook nie op presies dieselfde manier gestuur nie.  Ons is nie vir ewig verwek nie.  Ons word nie gestuur om die wêreld te red in die sin van waarop Hy dit gered het nie.  En tog word ons in 'n sekere sin gestuur om die wêreld te red soos wat Hy gestuur is om dit te red, omdat ons deur dieselfde Gees gestuur word.

Dieselfde geld wanneer Hy sê: “mag hulle een wees net soos Ons een is”.  Wat Jesus sê is dat daar 'n diepgaande Trinitariese eenheid in die kerk sal wees.  En die kerk sal 'n Trinitariese missionêre karakter hê.  Dieselfde momentum, rigting, doel, verbinding met die werklikheid, en om dieselfde rede as waarom God die Vader die Seun gestuur het, blaas die Seun die Heilige Gees in die kerk in.  Die kerk se missie is diep gewortel in God.

En derdens, nie net die evangelie en die missie van die kerk is gewortel in die Drie-eenheid nie, maar aanbidding is ook gewortel in die kerk.  Kyk na Efesiërs 2:18: “want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.”  Hier praat Paulus van aanbidding.  Toegang tot die Vader is iets wat jy nie kry nie behalwe deur Jesus.  Ons het dit nie omdat ons mense is nie.  Ons het geen reg om op ons eie na God te gaan nie.  Geen.  Nee, ons moet dit op een of ander manier verkry.  Ons nader tot God as kinders van God in Jesus.  Dit is soos wanneer ons nie toegang tot die internet kan kry sonder Jesus se wagwoord nie, net so kan ons nie die troonkamer van die hemel binnegaan sonder Jesus nie.

Hoe kom jy tot God?  Jy het die gesag van die Seun van God.  In een Gees.  Die aard van ons aanbidding is Drie-enig van aard.  Christelike aanbidding is nie dat ons hier onder is, en God is daar bo nie.  Nee, wanneer ons aanbid, is God self aktief in aanbidding.  Hy maak dit vir ons moontlik om te aanbid.  Ons aanbid dus nie net 'n Drie-enige God nie, maar ons aanbid ook Drie-enig.

Die Skrifgedeelte in Efesiërs sê ook: “Hulle het toegang deur een Gees.”  Almal wat die Drie-eenheid aanbid, moet saamkom om die Drie-eenheid in een Gees te aanbid.  In die Seun in dieselfde Gees tot die Vader.  Dit beteken uiteindelik dat die Drie-eenheid die eenheid van die Kerk vorm.  Eenheid in diversiteit, diversiteit in eenheid.  Hierdie gedeelte van Efesiërs is in die konteks van oorbrugging van die skeidingsmuur tussen Jode en Grieke.  Maar ons kan dit ook uitbrei na: tussen bruin, swart en wit.  Daar moet 'n eenheid in aanbidding wees.  Die Drie-eenheid bring eenheid regoor kulture, rasse, etniese lyne.  Die kerk het deur die geskiedenis gereeld daarmee geworstel.  En ons sukkel vandag nog.  Maar hoe meer ons in die werklikheid van die Drie-eenheid leef, hoe meer sal dit ook in die kerk werklikheid word.

En laastens, die gedeelte raak ook aan die gebed.  Soms vra mense: hoe kan ek meer bid met die Drie-eenheid in gedagte?  Wat hulle bedoel is dat hulle meer tot elke persoon wil bid. En dit is nie verkeerd nie.  Al drie persone is gelyk en waardig vir aanbidding en eer en lof en glorie.  Dit is goed om tot Vader, Seun en Gees te bid.

Maar die grondslag is dat, wanneer jy bid, of dit nou tot God of die Vader of Jesus of die Gees is, jy reeds bid op ‘n Trinitariese manier.  Dit is onmoontlik om selfs te bid sonder om op 'n Trinitariese manier te bid.  Soms is die gewoonte om tot Jesus te bid.  Baie kinders doen dit – waarskynlik omdat Jesus vir hulle meer konkreet is.  Selfs wanneer jy tot Jesus bid wat God is, kom jy nie op eie gesag na God nie.  Jy kom na Hom in die Naam van die Middelaar.  Dit is deur die bemiddeling van die Seun dat jy na die Seun van God kom, en jy kom na Hom in die Gees.

Soms kan ons iets te veel oordink en vergeet dat ons eintlik reeds in hierdie werklikheid leef.  Soms bespreek ons die Drie-eenheid so baie dat ons nooit leer om in hierdie glorieryke werklikheid te leef nie.

As jy gered is, is jy in aanraking met die Drie-eenheid.  As jy waarlik bid, bid jy op 'n Trinitariese manier.  As jy glo, dan is jy een op ‘n soortgelyke manier as waarop die Vader en die Seun een is, want jy het dieselfde Gees wat vloei van die Vader deur die Seun na ons.  Solank jy dit glo.  Dan kan ons daarin groei.  Dan kan ons na die evangelie, na sending, na gebede en na aanbidding kyk en dieper en dieper groei in die werklikheid wat ons alreeds geniet.

Om af te sluit:  die evangelie, die kerk, gebed, sending en eenheid word almal gevorm deur die Drie-eenheid.

Ons leef in 'n werklikheid wat deur God gevorm is – laat ons dit besef en die eer aan Hom gee.  Hierdie Kerk is Trinitaries.  Dit is die huisgesin van God die Vader, die liggaam van Christus en die tempel van die Heilige Gees. Ons deel in, verheerlik ons in en leef in die ryk werklikheid van God wat die Vader is, wat die Seun en die Heilige Gees stuur.

Amen.