Die genoegsaamheid van God se Woord

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-10-20
Teks: 
NGB artikel 7
Preek Inhoud: 

’n Paar jaar gelede het ’n studie uitgewys dat een uit elke drie Britte ’n Bybel sou saamneem indien hulle op ’n verlate eiland gestrand sou wees.  Wat is die rede hiervoor?

Die Bybel gee nie instruksies oor hoe om ‘n boot te bou nie.  Dit sê ook nie watter plante eetbaar is of nie. Dit leer jou nie visvang nie; ten minste, nie vir visse nie.  Dus, hoekom sou een uit drie mense in Brittanje die Bybel dan met hulle wou saamneem?

Ek dink die antwoord kom uit die besef dat, wanneer jy alleen op ’n verlate eiland is, die vrae rondom die betekenis van die lewe en jou bestemming by jou sal opkom.  As ek weet dit dat my laaste dae op aarde is, watter boek sou ek die graagste wou lees?  Ek wil iets hê wat my kan bemoedig terwyl die dood my in die gesig staar; nie iets wat die realiteit van die dood probeer onderdruk nie.

As mense net wil besef dat die lewe wat hulle nou leef, geleef word op ’n sinkende skip.  As 30 persent van die mense ook nou reeds die Bybel so sou waardeer, sou dit ’n nasie heeltemal verander.

Ongelukkig is dit ’n boek wat hoogs waardeer word, maar ook veels te dikwels eenkant bly lê.  Maar een Bybel in die hand is baie meer werd as tien op die boekrak.  Jy het die Bybel nodig.  Glo my gerus.

Die genoegsaamheid van God se Woord:

Dit bevat alles wat ons moet glo

  1. Geen geloofsbelydenis nie, maar die Bybel?
  2. Die Bybel alleen is volledig en perfek (Psalm 19:8-10)

Dit bevat alles wat ons moet glo

Dit is genoeg!  Noudat ons by hierdie punt uitgekom het, sal ek net eenvoudig sê: Glo hierdie boek van God – elke letter daarvan; andersins moet jy dit verwerp.  Daar is geen logiese standpunt tussen dié twee nie. Wees tevrede met niks minder nie as ’n geloof wat gesetel is in die diepte van Goddelike openbaring.  Want ’n geloof wat vlak geplant is, is op sy beste slegs ’n swak geloof – en op sy swakste ongelowigheid.  Jy kan dan net sowel bo-op die grond staan – in niks gewortel nie.

Die Woord is deur God geïnspireer en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.  Dit is waarheid (Psalm 119:160).  Dit maak vry (Joh. 8:32).  Dit bring geloof voort (Rom. 10:17).  Dit oordeel (Hebr. 4:12).  Daar is geen ander boek wat dit doen nie.

Indien die eerste reël van die belydenis waar is: “Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word.  Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word ... ”; dan gee dit vir ons ’n geweldige troos.  God leer vir ons nie net ’n klein deeltjie van dit wat ek moet weet nie.  Asof Hy dink: Ek sal net ’n gedeelte vir hulle gee, en dan kan hulle die res op hulle eie uitpluis.  Nooit!  Hy het ons lief.  Hy is ons Vader.  ’n Vader wil die beste vir sy kinders hê; hy wil alles met hulle deel, sodat hulle die regte besluite kan neem om ’n seënryke lewe te kan lei.  Vir hulle hele lewe lank!

Ons dink dikwels dat die woord “aanbidding” slegs strek tot by ons fisiese aanbidding op Sondae, maar dit is net ’n deel daarvan.  Dit gaan hier oor die aanbidding met ons hele lewe.  Hart, gedagtes en hande!

Ek weet nie waar jy vandag in jou lewe staan nie.  Sommiges staan dalk voor ’n vurk in die pad, terwyl jy wonder waar presies jy is, hoekom jy hier is, en wat die rede agter dit alles is.  Ander van julle voel dalk asof julle op ’n verlate eiland is.  Maar die laaste ding wat jy wil doen, is om die Bybel oop te maak.  Sommige van julle is so besig met die dolle gejaag van die lewe, sonder om twee keer te dink waarom jy dit doen en vir wie jy dit doen.  Jy is dalk besig om jouself te probeer red.  Hou op daarmee.  Vat ’n blaaskans.  Gaan sit op ’n stil plek.  En lees en bid.  En bid en lees.  Begin met die Psalms of Johannes. En sien dan hoe God met jou praat; jou onderrig en lei in die groen weivelde van sy Woord.

Neem dit en lees dit – nie omdat dit ’n gewoonte is nie, maar omdat jy desperaat is vir antwoorde.  Meer as enigiets anders begeer jy om God te ken.  Lees dit.  Laat die woorde insink.  Herhaal hulle.  Memoriseer hulle.  Laat hulle deel word van jou gedagtes, só ingegraveer dat jy geen besluite neem sonder die Skrifte nie.

Nee, dit sê nie vir jou alles wat daar moontlik van God gesê kan word nie.  Maar dit sê wel alles wat jy moet weet.  Dit gee nie vir jou ’n antwoord op elke etiese of verhoudings-probleem nie, maar dit verskaf wel beginsels vir elke etiese en verhoudings-probleem.  Dit sê nie hoe laat die kerk moet begin nie, maar dit sê wel dat die diens georganiseerd moet wees.  Dit sê nie vir ons of ons gesange mag sing nie, maar dit gee vir ons die basiese elemente van aanbidding.

  1. Dit vertel vir ons alles wat ons van God moet weet.  Alles wat ons van God sê, moet ooreenstem met die Skrif.
  2. Dit vertel vir ons alles wat ons van die Christelike praktyk moet weet.  Die Skrif gee vir ons algemene beginsels wat voldoende en genoegsaam is, en dit kan in elke area van ons lewe en werk toegepas word.
  3. Op die vlak van die kerk as instelling gee die Skrif ook genoegsame beginsels vir beide die organisering en openbare aanbidding.
  4. Op grond van openbare aanbidding is die Skrif genoegsaam vir die vaslegging van die verskillende aspekte daarvan: die sing van lofsange, gebed, die lees en prediking van God se Woord, die gee van tiendes en offergawes vir die werk van die kerk, die doop en die nagmaal.  Die Skrif is ook genoegsaam vir die regulering van die agenda en inhoud van die diens, die liedere en gebede, waarop die geld bestee word, wie gedoop word en wie aan die nagmaal mag deelneem.

Kortliks, ons kan baie leer van hoe ’n kerk hierdie lering verstaan, deur te kyk na hulle vorm van regering, die inhoud en klem op gemeenskaplike aanbidding, en die manier waarop die ouderlinge die gemeente lei.

Geen geloofsbelydenis nie, maar die Bybel?

Beteken dit dat ons ontslae moet raak van die belydenisse, en dat die lied van die geloofsbelydenis van die kerk nie meer ’n belydenis moet wees nie, maar net die Skrif?  Nee, dit moenie verander nie en ek sal verduidelik hoekom nie.  Omdat die geloofsbelydenis gebruik word om die Woord wat mense wil ondermyn, te handhaaf.  

Toe ek gaan ondersoek instel het na die geskiedenis van hierdie leerstelling, hoofsaaklik rondom die 4de en 5de eeu, was ek verbaas oor hoe die ketters dié lering, oor die genoegsaamheid van die Skrif, teen die Skrif gebruik het.

Toe die Geloofsbelydenis van Nicéa geskryf is, het ketters baie luidrugtig geprotesteer oor die onskriftuurlike taal van hierdie ortodokse belydenis. Hulle het uitgewys dat uitdrukkings soos “een in wese met die Vader” nie uit die Bybel kom nie.  Die ketters wou “geen geloofsbelydenis nie, maar net die Bybel” hê, juis sodat hulle Bybelse taal kon gebruik om van die Bybelse waarheid te ontsnap.  Hulle sê byvoorbeeld baie graag dat hulle Christus as die “Seun van God” erken, maar argumenteer dan dat Hy, soos alle ander seuns, dan ook ’n begin moes gehad het.

Daar is vandag baie mense wat aandring op: “geen belydenis nie, maar die Bybel”, net soos die Ariërs destyds.  Maar ons moet uit die geskiedenis leer dat Bybelse taal nie voldoende is wanneer dit kom by die verdediging van die Bybelse waarheid nie.  Een teoloog verduidelik dit só: “Die Christelike Kerk het stadig maar seker tot die besef gekom dat die diepste vrae wat die Christendom in die gesig staar, nie in suiwer Bybelse taal beantwoord kan word nie, want die vrae gaan oor die betekenis van die Bybelse taal self.”  Met ander woorde, ons het belydenisskrifte en geloofsbelydenisse omdat ons glo dat die Bybel voldoende is, en ons wil die taal in die Bybel definieer.  Ons het dus die belydenisskrifte en geloofsbelydenisse nodig om die lering van die Skrif se genoegsaamheid te ondersteun.

Verder is dit duidelik dat die genoegsaamheid van die Bybel nie beteken dat die Bybel die enigste boek moet wees wat jy ooit sal lees nie.  Die genoegsaamheid van die Skrif beteken nie dat die Skrif al is wat ons nodig het om te kan leef en werk nie.  As jy ’n goeie wetenskaplike wil wees, moet jy lees oor wetenskap en die natuur bestudeer.  As jy in die ekonomiese veld wil werk, moet jy lees oor die ekonomie en die besigheidswêreld dophou.  As jy ’n sekere sport wil beoefen, moet jy die reëls van die spel ken.  As jy wil trou, moet jy die persoonlikheid van jou huweliksmaat ken.  As jy ’n vlieënier wil wees, moet jy weet hoe om ’n vliegtuig te vlieg.  Met ander woorde, die Bybel vertel nie vir ons alles wat ons moet weet om die wêreld goed te kan bestuur nie, maar dit sê wél vir ons hoe om goeie bestuurders op al hierdie terreine te wees.

Wat hou dit nou in vir die lering van die genoegsaamheid van die Skrif?  Die genoegsaamheid van die Skrif beteken dat God vir ons in die Bybel die perfekte standaard gegee het waaraan ons alle ander kennis kan toets.  Alle ander kennis staan onder die beoordeling van die Bybel, selfs as dit die Bybel dien.

Dus, op die ou einde is selfs die mees gerespekteerde belydenisskrif of geloofsbelydenis nooit perfek of volmaak nie.  En dit staan altyd onder die standaard wat dit dien.  Want net soos die belydenis eksplisiet sê: “Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self.”

Dit is pragtig hoe die belydenis die hele mensdom beledig terwyl dit die Woord van God verhef.  Geliefde gemeente, ons moet deurlopend dit wat ons glo, toets aan die Skrif.  Ons moenie die belydenisskrifte voorhou as die waarheid op dieselfde manier waarop ons die Skrif as waarheid voorhou nie, maar net in soverre dit die Skrif dien.

’n Oorsig van Psalm 19

Om hierdie mini-reeks preke oor die Skrif af te sluit, wil ek graag ’n oorsig gee van Psalm 19:8-10.  Ek glo hierdie gedeelte vang dié lering baie mooi vas. In hierdie gedeelte maak Dawid ses stellings, waarvan elkeen ’n eienskap van die Skrif beklemtoon en ook die effek daarvan beskryf in die lewe van iemand wat dit aanneem.

Eerstens: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel.”  Die Bybel is perfek vir die verkwikking van die siel.  Die woord “volmaak” kan vertaal word as “heel” of “volledig”.  Dawid impliseer hier ’n kontras met die onvolmaakte, onvoldoende, gebrekkige redenering van die mens. Die Skrif is so kragtig en volledig dat dit ’n mens in sy totaliteit kan transformeer, en hom só ’n manier verander dat hy is soos die persoon wat God wil hê hy moet wees.  Sy Woord kan selfs die mees gebroke lewe verkwik – ’n feit waarvan Dawid self oorvloedige getuienis gelewer het.   

Tweedens: “die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.”  Dawid se gebruik van die woord “gewis” beteken dat die Here se getuienis onwrikbaar, onbeweeglik, onmiskenbaar, betroubaar en waardig is om te vertrou.  Dit voorsien ons van ’n fondament waarop jy jou lewe en ewige bestemming kan bou.  God se gewisse Woord gee wysheid aan die eenvoudige (v.8).  Die Hebreeuse woord wat as “eenvoudige” vertaal is, kom van ’n uitdrukking wat beteken: “ ’n oop deur”.  Iemand wat alles by die deur laat inkom sonder om daaroor na te dink.  Hy is onkundig en liggelowig, maar God se Woord maak hom wys.  Só ’n man is kundig in die goddelike lewe.

Derdens: “Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart.”  Die woord wat as “reg” vertaal is, het die betekenis van: om iemand die regte pad te wys.  Die waarhede van die Skrif lê vir ons die regte pad uit deur die moeilike doolhof van die lewe.  Dit bring wonderlike vertroue.  Daar is so baie mense wat benoud voel, want hulle het geen rigting en doel nie, en die meeste van hulle soek hul antwoorde op die verkeerde plekke.  God se Woord gee nie net ’n lig vir ons lewe nie (Ps. 119:105), maar lê ook die roete vir ons uit.  Dit bring groot blydskap. Goddelike waarheid is die fontein van waarheid en blywende vreugde.

Vierdens: “die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.”  Die woord “suiwer” kan beter vertaal word as “duidelik” en wys daarop dat die Bybel nie deurmekaar of verwarrend is nie.  God se Woord maak die donker dinge lig. Toegegee, daar is dinge in die Bybel wat moeilik is om te verstaan (2 Petr. 3:16), maar die Bybel as geheel is nie ’n verwarrende boek nie.  Dit is duidelik en helder.  Die Skrif bring begrip waar daar onkunde is, orde waar daar verwarring is, en lig waar daar spirituele en morele duisternis is.

Vyfdens: “Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid.”  Hierdie “vrees”, of kennis van God soos wat ons in die Bybel vind, is die verwondering vir God wat ons dwing tot aanbidding van Hom.  In hierdie sin is die Skrif die heilige handboek oor die aanbidding van die Here.  Die Hebreeuse woord “rein” verwys na die afwesigheid van onsuiwerheid, vuiligheid, onreinheid en onvolmaaktheid.  Die Skrif is vry van sonde, die bose, korrupsie en foute.  En daarom bestaan dit tot in ewigheid (Ps. 19:10).  Dit het geen opdatering, redigering of verfyning nodig nie, omdat dit God se openbaring is vir elke generasie.  Die Bybel is geskryf deur die alwetende Gees van God, wat oneindig meer gesofistikeerd is as iemand wat dit waag om te oordeel oor die toepaslikheid van die Skrif vir ons samelewing, en oneindig wyser as al die beste filosowe, ontleders en sielkundiges.

En laastens: “Die verordeninge van die HERE is waarheid – tesame is hulle regverdig.”  In hierdie konteks verwys die woord “verordeninge” na die besluite wat deur die Hoogste Regter van die aarde oorgedra is. Die Bybel is God se standaard vir die beoordeling van elke persoon se lewe en ewige bestemming.  Aangesien die Skrif waar is, is dit tesame regverdig (Ps. 19:10).   

Geliefde gemeente, ons staan aan die einde van die gedeelte oor die Skrif.  Ek het so baie tyd hieraan bestee omdat ek dink dat dit noodsaaklik is vir jou lewe van geloof en vir die lewe van die kerk.  Alle ander leringe is gebaseer op of vloei voort vanuit die lering van die Skrif.  So, kom ons sorg dat geen tradisie, gewoonte, of selfs belydenisskrif ooit bo die Woord staan nie.  Die belydenisskrif self waarsku ons hierteen.

Enige vervanging van God se Woord sal nooit genoegsaam wees nie. Dus, as enigiemand ooit na jou toe kom (ek gee nie om of dit selfs ’n engel uit die hemel is nie) en probeer om hierdie waarheid te verdraai, moenie luister nie.  Laat God alleen in hierdie gebou spreek – en mag sy Woord alleen ons harte vorm en verander wanneer ons sy Woord lees, sy Woord verkondig, sy Woord sing, in gebed op sy Woord reageer, en sy Woord in die sakramente sien.  Mag Hy ons vir ewig bewaar en lei.

Amen.