Die Bybel is heilig en kanoniek en het dus genoeg gesag en is voldoende

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-10-06
Teks: 
NGB artikel 5
Preek Inhoud: 

Die boeke van die Bybel is vir ons heilig, en kanoniek. Daar is niks buite hulle nie, niks meer as die Bybel nie. Nie tradisie nie, nie leerreëls nie, nie belydenis geskrifte nie, nie Augustinus, Aquinas, Calvyn, Luther, Totius, Spurgeon, Sproul of Piper nie. Net die Bybelboeke is heilig en kanoniek, en dit vorm die basis en grondslag van ons geloof. Nie een van hierdie gesaghebbende mense het enige gesag nie, die enigste gesag wat hulle het kom van die Skrif.

En dit geld natuurlik ook vir die belydenis geskrifte. Hulle het ook geen gesag in of van hulleself nie. Hulle is ondergeskik, hulle is feilbaar omdat hulle gesag afgelei is van die gesag van die Bybel. Artikel 5 van die NGB begin met die belydenis dat die Skrif alle gesag het, en dat die Skrif in homself genoeg is, om ons te lei tot saligheid.

 

Die Bybel is heilig en kanoniek en het dus genoeg gesag en is voldoende om

1. ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig, en

2. ons geloof te verseker

 

En nie net ons eie geloof nie, maar ons geloof hier in die kerk. En nie net ons geloof hier in die kerk nie, maar in al die kerke wêreldwyd, en nie net die kerke wêreldwyd nie, maar in die kerke van alle tye!

Nog altyd was dit die Woord van God wat bepaal het wat die kerk glo. Vanaf die dag toe Adam en Eva gehoor het “van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe”, tot Moses die Israeliete geleer wat hulle moes glo en hoe hulle moes leef, deur al die profete, al die pad deur die nuwe testament, tot vandag by ons.

Ons kies nie self wat ons wel of nie sal glo nie. Die kerk sê nie vir jou wat jy moet glo nie. God self sê vir sy bruid wat sy moet glo en verkondig. Die kerk sê net vir jou dat jy moet glo wat in die Bybel staan, en wat dit beteken vir jou lewe.

Mense sal sommer sê: “Ek soek ‘n kerk wat glo wat ek glo”, of, “Ek is so bly ek het ‘n kerk gevind wat ooreenstem met my geloof”. En dis nie altyd so verkeerd bedoel nie, dit sou net meer korrek wees om te sê: “Ek soek ‘n kerk wat haarself rig na die Bybel net soos ek myself ook wil rig na die Bybel”. En ons voel baie sterk oor die Bybel, en wil graag leef soos die Bybel dit van ons vra, net net as dit ons pas nie, maar altyd, heeltemal en in alle aspekte. Om te glo soos die Bybel jou leer, is om jouself heeltemal aan die Bybel te onderwerp.

Ek mag nie meer glo as wat daar in die Bybel staan nie, en ook nie minder as wat daar in die Bybel staan nie. Ek glo die Bybel is ‘n geskenk van God aan my, en daarom glo ek die Bybel in sy geheel. So staan daar in Open 22:18, 19: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (Sien ook Deut 4:2 en 12:32)

Nie net rig die kerk, en ook jy en ek, ons lewens daarna nie, die Bybel is ook die fondament waarop ons lewens gebou is.

Tweedens dan word ons geloof gegrondves op die Bybel .

Hoekom glo ek wat ek glo? Hoekom glo jy alles wat jy glo? Omdat die dominee so sê. Of jou onderwyser so sê?  Of omdat Google so sê? Wat is die fondasie en grondslag vir jou lewensbeskouing. Is die basis vir jou lewensbeskouing dit wat logies sin maak?  Wetenskaplikes het dit so bewys en dit maak vir my sin, en daarom glo ek dit? Of miskien weet jy nie eintlik wat om te glo nie, nou gaan jy maar saam met jou familie, dit lyk asof hulle weet wat om te glo. Nee!  Vir die Christen is daardie basiese beginsel die Skrif.

Ek glo wat ek glo omdat God so sê. God het so gesê. Ek het nie wetenskaplike bewyse nodig om te glo dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. Ek het nie wteenskaplike bewyse nodig om te glo dat die Israeliete manna geëet het in die woestyn nie. Ek glo dat alles in die Bybel waar is, want dit is God se Woord, Hy het dit gesê en God kan nie lieg nie. Die rede hoekom ek die Skrif aanvaar het te make met my verstaan van wie God is. Dis hoekom artikel 1 van die NGB heel eerste is: Ons God nie ken was dit nie vir sy Woord nie.

3. Die bevestiging van ons geloof

Daar is baie twyfels in die lewe, baie keer wat jy jouself afvra is dit alles wel waar wat ek glo. Hoe weet ek seker, in my daagliks stryd, wat waar is? Hoe kan ek dit kontroleer? Wel, geen ensiklopedie of universiteitsgraad sal dit vir jou kan antwoord nie. Nee, ek glo wat ek glo omdat die dinge wat ek glo bevestig word in die Bybel wat God my gegee het - dit staan alles daar - die Bybel oortuig my, die Bybel bevestig my geloof - dat dit waar is.

Noudat ons so praat oor twyfels,  kom ons by ons tweede punt.

 

2. Om ons geloof te verseker

Die volgende reël in die artikel is verstommend: “ons glo ook sonder twyfel”. Ons glo ook sonder twyfel… Wow, sal jy dink, dis nie so maklik nie. Sommige mense stem glad nie saam dat jy alles sonder twyfel moet glo nie. Sommige mense twyfel of Adam en Eva wel regte mense was, dat Metusalag 969 jaar oud geword het, dat Noag ‘n boot so groot soos ‘n

sokker veld gebou het, dat die son stil gestaan het! Ander twyfel weer dat God rerig alles gesê het wat in die Bybel staan, soos byvoorbeeld die opdrag om ook vroue en kinders dood te maak by die intog en verowering van Kanaan. Of dat mans en vroue gelyke maar tog verskillende rolle het. Daar is ‘n miljoen dinge in die Bybel waar jy oor kan twyfel.  Die probleem is net: twyfel oor een ding, hoe glo jy dan die ander dinge wat jy wel graag wil glo?

Ja, dit sal gebeur dat jy stoei met sommige van die dinge wat ek genoem het, miskien wel met almal. Maar kom praat met my! Dis nie maklike vrae nie, maar in hierdie kerk is ons nie bang om moeilike vrae te vra nie. Ons glo vas die Here sal ons meer en meer versekering gee as ons volhou om sy Woord oop te maak en te lees, as jy op jou eie is, saam met ander, in gebed. En ek wil elkeen van julle uitdaag om nie bang te wees om die moeilike vrae te vra nie. Kom ons soek saam in die Skrif na die antwoorde.

Hoe kan jy dan groei in geloof, sodat jy glo sonder twyfel? Die belydenis gee vir ons drie antwoorde:

Eerstens, jy is nie alleen nie. Ons glo saam met duisende ander broers en susters, mense wat gestaan en geval het by hierdie boek. Ons lees en bestudeer dus die Bybel nie op ons eie nie, maar in ‘n gemeenskap, saam met ander gelowiges, en saam groei ons in geloof. Jou ouers leer jou, in die kerk leer jy. Oor baie jare heen. En dit sal jou nie onveranderd laat nie, jy sal volg in die voetspore van die wat jou geleer het, elke dag meer verseker.

Maar goed, hierdie argument dra nie so baie gewig nie. Die geloofsbelydenis gebruik nie verniet die woorde “nie juis omdat...”, en ook “maar veral omdat...”

Tweedens, die Bybel is self die beste bewys van homself. So baie profesieë wat vervul is, profesieë wat duisende jare vooruit voorspel wat sal gebeur. Is dit nie verstommend hoe die Bybel op so ‘n wonderlike manier sin maak van die mooi en die lelik in die lewe nie? Die lig en die donker. En hoe al die verskillende dele saam ‘n geheel vorm. Nie net weerspreek die Bybel homself nie, nee. Inteendeel, die Bybel praat met een enkele stem, al bestaan dit uit 66 verskillende boeke, geskryf oor ‘n periode van meer as 1,500 jaar deur meer as 30 verskillende skrywers (almal gewone mense), in verskillende tale (Hebreeus, Aramees, Grieks), op verskillende kontinente, in verskillende omstandighede, verskillende tye en kulture. Nie verniet sê die belydenis “Hulle het die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind”.

En derdens, God self bevestig die waarheid daarvan. Dit is die Heilige Gees wat die Woord laat spreek. Nie net is dit God se woorde nie, maar ons aanvaar die Bybel so met die krag van God. Ons kniel en bid dat God ons harte sal open, sodat ons net hoor en nie verstaan nie, nie net sien maar nooit besef nie, nie bely maar intussen is my hart op ‘n ander plek ver weg.  Bid dan dat die Heilige Gees jou hart en verstand verlig. Die oortuiging dat die Bybel die woord van God is kom uiteindelik net van die Gees wat dit in my hart werk. Die Bybel leer ons dit duidelik.

Let ook op die spesifieke bewoording in artikel 5: “Ons aanvaar al hierdie boeke… nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig… Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself” Die klem is hier op die werk van die Heilige Gees. Die Heilige Gees oortuig ons dat die Bybel God se woord is. In Handelinge 16:14 lees ons van Lidia dat “die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is”. Die Heilige Gees werk in Lidia, so dat sy luister na Paulus se prediking.

Geliefde gemeente, die kerk van daardie tyd toe die NGB opgestel sou ly hiervoor. Baie mense het hiervoor gesterf. Hulle het goed besef hierdie is die alfa en die omega van die reformasie: die Skrif. Vandag is seker makliker omdat die kerk nou nie meer so vervolg word nie, maar dit kan weer gebeur.

Sekerlik, dis makliker vandag om artikel 5 van die NGB te bely as jy nie vervolg word nie, maar die feit bly nog steeds staan dat ons geloof uit die Bybel is. God het gesê wat ons moet glo, en ons aanvaar dit eenvoudig so, ongeag moeilikhede wat op ons pad mag kom omdat ons Hom glo.

In die tyd wat die NGB geskryf is mense vervolg omdat hulle geglo het wat in die Bybel staan. En daardie mense was bereid om alles daarvoor te gee. Was dit die moeite werd? Guido de Bres het dit geglo. Hy sou sy lewe daarvoor gee. De Bres het gereken “God sê dat dit is wat ek moet glo, en dit glo ek”.

Hy het die stem van die goeie herder herken toe hy dit hoor, en toe hy dit lees. Hy het geweet wat dit hom sal kos om die stem van Jesus te volg, en dit was vir hom die moeite werd. Want hy wou een ding bo alles hê, hy wou God hê. “...daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel … en die ewige lewe”, sê Jesus.

Die Bybel is al beskryf as ‘aambeeld wat menige hamers verweer het’. Dit het die wantroue van menige en aanvalle van ateïste deur die eeue weerstaan. God het self, op bonatuurlike wyse, sy Woord bewaar tot vandag toe, en dit sal nooit verander nie.

Of jy kan dit glo. Jy kan daarvolgens leef. Jy kan jou laat vorm daardeur. Jy kan jou onderwerp daaraan.

En jy sal lank lewe in die land wat die Here jou God aan jou sal gee. Kies dan vandag wie jy wil dien.

En mag die Gees gee dat jy God sal dien, God en sy Woord.

Amen