Die twee mooiste boeke

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-08-25
Teks: 
NGB artikel 2
Preek Inhoud: 

Hierdie week begin ons met ‘n reeks preke oor die Nederlandse Geloofsbelydenis, wanneer ek in die aand voorgaan.  Die NGB is ‘n wonderlike pastorale en deur-en-deur Bybelse dokument wat die Kerke van die Here Jesus Christus reeds vir meer as 500 jaar dien.

Ons begin met Artikel 2, want ons behandel die eienskappe van God in die Nagmaal-meditasies en sal aan die meeste eienskappe wat in Artikel 1 genoem word, raak.

 Artikel 2 van die NGB praat van die twee boeke van God:  die Skepping en die Bybel.  Hulle is deur God geskryf om Hom te openbaar en aan Hom die eer te gee.   Vir ons as Christene is beide hierdie boeke baie belangrik.  In ‘n sekere sin kan ‘n mens hierdie twee boeke nie van mekaar skei nie.  Die Woord van God vertel ons van die God van die skepping.  En die hele skepping getuig van sy Woord.  Hulle gaan saam, en om die een van die ander te skei lei daartoe dat geeneen verstaan word nie.  Sy woord is die basis vir beide die skepping en die herskepping, en skepping en herskepping vloei vanuit sy lewendmakende Woord.

 

Die twee mooiste boeke:

  1. Die Skepping
  2. Die Bybel

Die Skepping

In Artikel 2 van die NGB lees ons:  “Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.”

Voordat ek verder gaan, wil ek julle ‘n vraag vra wat die NGB alreeds veronderstel.  Die vraag is:  “As ‘n kind van God, ken jy hom deur na die heelal te kyk?  Sien jy Hom, en ervaar jy sy heerlikheid en majesteit?  Sy liefde en sorg, sy bewaring en voortdurende regering van die heelal?”  Die feit dat die son vanoggend opgekom het is ‘n teken dat God in beheer is.  Soos Psalm 19 dit so poëties stel: “Vir die son het Hy daarin ‘n tent gemaak; en dié is soos ‘n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos ‘n held om die pad te loop.  Sy uitgang is van die einde van die hemel af, en sy omloop tot by die eindes daarvan, en niks is verborge vir sy hitte nie.”  Hy is die Skepper van alles wat jy sien.  Hy het dit gemaak en gevorm.

Hy het nie net alles uit niks gemaak nie.  Hy bewaar dit ook.  Die feit dat julle asemhaal, die feit dat julle oë het om te sien, ore om te hoor, en monde om te sing in hierdie erediens is omdat God die heelal bewaar en regeer.  Die hele Skepping juig en verkondig die heerlikheid van God.  Op hierdie manier vervul die Skepping die doel waarvoor dit geskape is.  Daar is nog so baie wat ons nog nie ontdek het nie.  Daar is nog so baie wat ons nog nie verstaan nie of nog nie gesien het nie.  Maar alle dinge, groot en klein, verkondig nou die heerlikheid van God!  “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”

En Hy bewaar dit nie net nie, Hy regeer ook oor alles.  Die hele skepping is onder sy beheer en luister na sy stem.  Vanaf die grootste storms tot die kleinste insekte.  Hy beheer baie dinge indirek deur die wette wat Hy in plek gestel het.  Al die wette van wiskunde en meetkunde.  Die wette van wetenskap en fisika.  Die wette van chemie. Elke wet wat wet is, is sy wet.  Hy is die Koning wat regeer met orde en goedheid.  Hierdie wette word ontdek soos wat ons meer en meer die boek van die skepping lees.  Ons sien sy kreatiwiteit, sy sorg en sy regering meer en meer hoe langer ons hierdie boek lees.  En hoe meer ons van die skepping sien, hoe minder het ons ‘n verskoning om nie te glo nie.

Ek hou daarvan hoe ons bely dat die skepping is “voor ons oë soos ‘n mooi boek”.  Nie mooi omdat ons “voel” dis mooi nie, maar mooi omdat God dit so gemaak het.  Die skepping het wat ons sou noem “intrinsieke skoonheid”, wat nie daarvan afhanklik is of ons dink dit is mooi of nie.  As jy wil weet hoekom daar sulke skoonheid in die wêreld is – dit is omdat die grootste kunstenaar dit geskilder het.

Ons bepaal nie wat mooi is nie, maar ons ontdek skoonheid.  Ons ontdek die skoonheid wat alreeds daar is.  Ek is meer en meer daarvan oortuig dat skoonheid nie subjektief is nie.  Daar is bitter min meningsverskille as dit kom by kunswerke.  Dink aan die bekende Dawid-standbeeld deur Michelangelo.  Of hoekom sommige musiekstukke langer hou as generasies mense.  As dit subjektief was,hoekom sou die moderne wêreld steeds hou van eeu-oue musiek.

Of waarom is hierdie plek ‘n toeristebestemming vir mense van elke uithoek van die wêreld?  Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie – jy dink hierdie plek is mooi.  Is dit nie interessant nie?  Ongeag daarvan of jy van Chinese of Amerikaanse, Indiese of Duitse afkoms is, jy het dieselfde smaak as dit kom by skoonheid.

Daar is absoluutheid in skoonheid, net soos in waarheid.  In werklikheid behoort skoonheid ons nader aan die waarheid te bring.  Want alle waarlik pragtige dinge is waar, en waarheid is pragtig.

Daar is intrinsieke skoonheid in landskappe, in die verwikkeldheid van ekosisteme, in die kleinste insek tot die grootste planeet.  God het dit gemaak; daarom verkondig dit sy krag, heerlikheid en mag, en daarom is dit mooi.

En alles wat Hy gemaak het is soos ‘n pragtige roman, waarin elke onderdeel daarvan gevorm is soos wat die letters bymekaar gekom het om woorde, paragrawe en hoofstukke te maak, en hierdie storieboek is een van die mees opwindende, pragtige stories wat al ooit geskryf is.  Die hemele vertel die eer van God en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.  Deur na die skepping te kyk, behoort ons te laat juig!  As die son opkom, of as ons na die naghemel kyk – hulle spreek in woorde wat ons almal behoort te verstaan.  Ongeag waar jy woon, of watter taal jy praat, die skepping kommunikeer met elkeen van ons.  Met elke mens, van elke taal en nasie. Dit is presies wat Psalm 19:4 sê: “daar is geen spraak en daar is geen woorde nie – onhoorbaar is hulle stem.”

Die skepping is goed vir die mensdom, want ons behoort daaraan.  Ons pas daarin.  Dit vertel ons dat ons deel is van iets groter as onsself.  Ons is afhanklik.  Ons het die skepping nodig.  Ons is rentmeesters van God.  Hy gebruik ons in sy werk van bewaring en regering.  Die skepping het die mensdom nodig.  Die mensdom het die skepping nodig.

Maar ons weet dan mos almal iets is verkeerd?  Daar is vloede, orkane, droogte, aardbewings.  Daar is besoedeling en misbruik van God se oorvloed in die skepping.  Ons weet daar is ‘n probleem.  Die probleem was dat die sonde elke verhouding wat ons gehad het, verbreek het.  Toe ons verhouding met God verbreek was, is ons verhouding met mekaar verbreek, en is ons verhouding met die skepping verbreek.

Dit beteken nie dat ons nie steeds die waarde daarin kan sien nie, maar ons weet nie hoe om die waarde te kweek nie.  Net soos wat almal sien dat ons menslike verhoudings nodig het, maar as sondaars worstel om gesonde verhoudings te vorm, so is daar so baie wetenskaplike bewyse dat ons die skepping nodig het, maar steeds weet ons nie hoe om dit te kweek sonder God nie.  Ons beland oor die algemeen in die uiterstes van aanbidding of misbruik.

Daar is baie wetenskaplike navorsing wat die uitgangspunt verdedig dat om tyd in die natuur te spandeer, werklik baie goed is vir jou.  Om buite te wees, maak ons meer gelukkig, minder gespanne, meer kreatief, en meer sosiaal verbonde.  Dit verbeter korttermyn-geheue en fokus, verminder inflammasie, verlaag bloeddruk, stry teen angs en depressie, en verhoog ons algehele immuniteit.  Plus, toegang tot vars lug en natuurlike lig ondersteun ‘n gesonder respiratoriese funksie en meer gebalanseerde sirkadiese ritmes, wat beter en dieper slaap ondersteun.  Mense wat buite oefen, voel gelukkiger, het meer selfvertroue en meer energie as dié wat verkies om binne te oefen.  Hierdie is sekulêre ondersoeke, maar die Christen is nie verbaas hieroor nie.  As dit God se boek is, is dit goed om dit te lees.

Maar op een of ander manier sukkel mense nog steeds om goeie rentmeesterskap, sorg en verhouding met die skepping te kweek.  Hoekom?  Want die verhouding met die Skepper van die skepping is gebroke.  Hulle weier om die boek van die skepping te lees op die manier waarop dit veronderstel is om gelees te word.  Tot die eer van God.  En dit is waar die krag van die kruis nie net ‘n verlossende krag vir mense is nie, maar in Jesus word die skepping hernu en herstel.  In Christus leer ons hoe om daardie verhouding te herbou, nie net met mekaar nie, maar met die skepping wat verbreek was by die sondeval.  En ons herken meer en meer van God in die skepping.

Want die Skepping is net voordelig vir ons nie, maar – meer belangrik nog – dit vertel ons van God!  Wat vertel dit ons van God?  Ek dink Romeine 1 is die beste verduideliking hiervan.  Romeine 1:20, “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie”.  Dit herinner my aan die ou kinderliedjie:  “My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen.  Die berge maak Hy!  Riviere daarby!  Die see en alles daarin!  My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen.”  As jy jou klein kinders wat nog nie kan lees of skryf nie, wil wys hoe groot ons God is, vertel hulle dat God Tafelberg gemaak het.  God het alle berge, riviere en die lug gemaak!  Hulle sal verstaan. Die skepping is ‘n taal wat klein kinders verbasend goed kan verstaan, as ons maar net daardie boek vir hulle wil voorlees.

As ‘n Christen behoort ons te groei in ons verhouding met die skepping.  Maar die skepping sal ons nie in ‘n verhouding met God bring nie.  Selfs al wys dit duidelik dat daar wel ‘n God is.

Alexander Tsaiaras was ‘n mediese professor en hoof van wetenskaplike visualisering by Yale-universiteit in die mediese departement.  ‘n Tydjie gelede het hy ‘n praatjie gelewer oor ‘n projek waarby hy betrokke was om die ontwikkeling van ‘n mens van bevrugting tot geboorte te visualiseer.  Hy is nie ‘n gelowige nie, maar luister na wat hy gesê het:

                “Die towerkuns van die meganismes binne elke genetiese struktuur…  Die kompleksiteit daarvan, die wiskundige modelle van hoe hierdie dinge juis gedoen word is buite  menslike begrip, selfs al is ek ‘n wiskundige, kyk ek met verwondering na hoe hierdie instruksie-stelle nie hierdie foute maak soos wat ons hulle bou soos hoe ons is nie.  Dit is ‘n raaisel, dit is ‘n wonder, dit is goddelikheid.  …  Of kyk na die instruksie-stelle van die brein na elke ander deel van die liggaam.  Kyk na die kompleksiteit van die vouwerk [wat gebeur met die brein].  Waarvandaan kom die wete dat ‘n vou meer informasie kan bevat? ...   En dit is nie slegs ons eie bestaan nie, maar hoe weet die vrou se liggaam om genetiese strukture te hê wat nie slegs haar eie bou nie, maar dan die verstand het wat haar in staat stel om ‘n bewegende immunologiese kardiovaskulêre sisteem te word wat eintlik hierdie wonder kan koester wat weer eens buite ons begrip is, die wonder van bestaan wat ons is.”

Die wonder van bestaan wat ons is.  Hoor jy dit.  Nie ‘n gelowige nie.  Maar hy sê goed soos: buite menslike begrip.  Dit is ‘n raaisel, dit is ‘n wonder, dit is goddelikheid.  God is die God van die geliefde skepping, en sy krag en goddelikheid kan duidelik gesien word in dit wat Hy gemaak het!  Dit sluit jou in!  Mense het nie ‘n verskoning nie!  Daar is genoeg in die skepping.  Ongelukkig het die sonde hulle so verblind, hulle opstandigheid is so volkome, dat die skepping nie genoeg is om hulle tot aanbidding te bring nie.  Dit is slegs met die oopmaak van die tweede boek dat jy die sleutel tot die eerste boek ontvang.  Mag die kerk van Jesus Christus hierdie boek dikwels oopmaak, dit ondersoek, hulself sien as deel van hierdie boek.

Voordat ons aanbeweeg na die tweede boek, wil ek vier waarnemings maak.

Eerstens, die skepping is God se boek, wat ons behoort te lees, te bestudeer, lief te hê en te geniet.  Dit beteken ook dat ons daarvoor moet sorg en daaroor moet heers onder die aanwysing en sorg van die hemelse Vader.  Elkeen van ons moet dit doen op ons eie persoonlike manier.  En ons moet sonde teen die skepping sien as sonde teen die Skepper.

Tweedens, en dit is ‘n punt wat ek dink baie belangrik is deesdae, daar is geen werklike teenstrydighede tussen wetenskaplike feite en die Bybel as dit reg geïnterpreteer word nie.  Ons hoef nie bang te wees vir die wetenskap nie.  As God die wêreld geskep het en God die Bybel geskryf het, sal hulle mekaar altyd komplementeer.  100% van die tyd.  Waar dit lyk asof hulle nie saamstem nie, is dit weens ons onkunde.  Waar dit blykbaar verskil, moet ons met geduld en in gebed aanhou om albei te bestudeer.  Dit is belangrik om daarop te let dat ons na die skepping moet kyk deur die lens van die Skrif.  En nie andersom nie.

Derdens, ondersoek in die wetenskap is reg en goed.  Dit is ‘n ondersoek van een van God se boeke.  Wanneer ‘n wetenskaplike die skepping bestudeer, of wanneer ‘n kind skool toe gaan en wiskunde, aardrykskunde, astronomie, biologie, chemie, fisika of enige ander vak bestudeer, is hulle op ‘n manier teoloë in die sin dat hulle leer en studeer oor wie God is.

Vierdens, God versoen nie net ons elkeen individueel met Homself nie, maar alle dinge.  Alle dinge beteken alle dinge.  Dit was die bedoeling dat ons in die skepping sal lewe.

Laastens, voordat ons verder gaan, God is ons Skepper en ons aanbidding en liefde waardig.  Die skepping behoort ons te bring tot ontsag vir die krag van God.

 

Die Bybel

Ondanks dit alles, laat hierdie wonderlike skeppingsboek, soos ons gesê het, mense net sonder verskoning. Dit oortuig mense, maar bring hulle nie tot die waarheid nie.  Dit beteken nie dat dit mense nie na die tweede boek kan lei nie, maar dit kan ons nie wys wat die tweede boek ons kan wys nie.

Dit is hoekom ons bely: “Hy maak Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.”  Duideliker en meer volkome.  Daar is groter duidelikheid en ‘n dieper kennis in die tweede boek van God.  Wanneer ons na die skepping kyk, sien ons God, maar net vaagweg, soos in die mis.  Ons kan deur die skepping agterkom dat daar iets buite onsself is, maar wat dit is, kan ons nie heeltemal uitmaak nie.  Ons is verblind deur ons eie sonde en onkunde.  Totdat ons hierdie boek – die Bybel – oopmaak, dan word dit duideliker.  En dit word nie net duideliker nie, maar ons leer ook meer van God in die Woord as in die skepping.

In werklikheid kan ons slegs die eerste boek reg interpreteer as ons die tweede boek lees.  Artikel 2 praat van ons:  “Ons ken Hom deur twee middele”.  Ons verwys hier spesifiek na gelowiges.  Ek is bevoorreg om voordeel te trek uit die boek van die natuur, want God het my oë oopgemaak en my in staat gestel om dit te lees as gevolg van sy openbaring in die tweede boek.  As gevolg van sy werk kan ek iets lees van wat God in die skepping geskryf het.  Dit wil sê: ek is in staat gestel om die dinge wat Hy geskep het, te waardeer, insluitend die reuke en teksture van die blomme, die snelheid en behendigheid van die muis, die muskiet met vlerke wat hom dra alhoewel hulle so dun is, die manier waarop voëls hul voedsel vind.  Deur God se genade word ek in staat gestel om iets van die grootheid en heerlikheid van my Vader te sien.

Inderdaad, slegs deur die lees van die tweede boek verstaan ek dat dit nie net ‘n magtige, kragtige en ordelike God is nie, maar ‘n hemelse Vader wat al hierdie dinge geskep het.  Slegs deur die tweede boek weet ek waarom die eerste boek vol natuurrampe is.  Dit is nie slegs die wêreld van ‘n Skepper God nie, maar “dit is die wêreld van my Vader, en vir die luisterende oor sing die hele natuur en om my weerklink die musiek van die sfeer!”  ‘n God wat so baie omgee vir jou en vir my en vir alles wat Hy gemaak het, dat Hy sy Seun na hierdie wêreld gestuur het om vir ons te sterf.

Ons gaan nog baie meer praat oor die Bybel in die komende weke, dus sal ek nie nou veel sê nie.

Een ding wat ek wel wil uitwys, is hoe baie die Skrif oor die skepping praat.  Dit is ongelooflik hoe baie die tweede boek ons vra om die eerste boek van die skepping te lees om sodoende goed te kan leef in ons daaglikse lewe.  Gedurigdeur wys God ons hoe om te leef deur die alledaagse dinge in die skepping.  Hy sê: kyk na die sterre, en tel.  Hy sê: kyk na die magtige diere – hulle is my troeteldiere!  Hy sê: kyk na die mier, en leer hoe om te werk.  Hy sê: kyk na die bome wat geplant is by die water, en kyk hoe hulle groei.  Hy sê: wees slu soos die jakkalse.  Hy sê: koring en onkruid, of wingerde, doringbosse en seders.  Hy sê Hy is ouer as die berge.  Sy stem is magtiger as dieklotsende golwe.  Die skepping sê daar is ‘n God.  Soos die lied lui: “Hoe kan jy sê daar is geen God, as alle skepping sy Naam roep!”  Die Bybel vertel ons wie God is en sê vir ons om na die skepping te kyk.  Hierdie twee boeke pas pragtig bymekaar.  Dit is God se twee-volume-boekestel van genade deur ons Vader aan ons gegee sodat ons Hom mag ken, Hom mag geniet en Hom mag aanbid.

Neem tyd om hierdie boeke te lees.  Neem tyd om te studeer.  Veral die studente.  Julle spandeer nou so baie tyd aan die lees van die boek van die skepping!  Beskou julle studies as die studie van God.  Soek die waarheid.  Soek skoonheid.  Geniet dit.  Juig daarin.  En aanbid HOM!  Want dit is ons doel vir ewig en altyd.

Amen.