Christus is die Lig van die wêreld

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-06-18
Teks: 
Johannes 8:12
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 8:12

 

Christus is die Lig van die wêreld

 

1e Tafel: Ervaar die Lig van die wêreld

Op die eerste dag het God die lig geskape.

“Laat daar lig wees! En daar was lig.” (Gen 1:3)

Hierdie vers gaan nie net oor die son nie, dit is eers op die vierde dag geskep.

Maar die feit dat daar lig bestaan teenoor duisternis.

Lig is ‘n veel breër begrip as slegs sonlig.

Behalwe vir die feit dat daar veel meer ligdraers is as die son, gaan dit hier oor lig as sulks.

Lig is iets wat besonder is, dit is ‘n skeppingswonder.

En dikwels gebruik die HERE self die lig wat Hy geskep het as ‘n metafoor vir wie en hoe Hy is.

So noem Christus Homself in ons teks die Lig van die wêreld.

Jesus sê dit hier in kontras met die donker wêreld.

Christus het gekom om die duister wêreld te verlig.

Sonde en opstand bring duisternis.

Christus roep die mense op om Hom, die lig, te volg.

Dan verwys Christus na die lig as die lig van die lewe.

Duisternis dui hier op die wêreld wat besig is om verlore te gaan.

Daarenteen is daar ‘n weg uit hierdie duisternis vir wie Christus volg.

 

Vroeër was daar nog nie straatligte nie.

Maar daar was mense wat bekend gestaan het as ligdraers.

Hulle het voor ‘n groep mense uitgeloop met ‘n fakkel om die pad te verlig.

So kon mense deur ‘n donker gebied in die nag loop.

Christus noem Homself die Ligdraer.

Wie agter Hom aanloop, sal nie verdwaal in ‘n donker wêreld nie.

Hier kom by dat Christus op hierdie oomblik die Loofhuttefees in Jerusalem bygewoon het.

Tydens hierdie fees het die volk herdenk dat hulle in hutte, in tente, gewoon het tydens die woestynreis.

Hulle het ook teruggedink aan hoe God hulle deur die donker woestyn heengelei het met ‘n ligkolom, ook wel genoem vuurkolom (Ex 13:21-22).

By al hierdie simboliek sluit Christus aan in ons teks, maar Hy vestig nou die aandag op Homself.

Die mense, die volk, moet na Hom kyk.

Hy is die Lig in ‘n donker wêreld.

Hy is die Vuurkolom.

 

Die gemeentetema vir vanjaar is: Ons Lig in ‘n donker wêreld.

Hierdie teks gee sonder onduidelikheid die antwoord: Christus is ons Lig in ‘n donker wêreld.

By ‘n donker wêreld is ons deesdae geneig om te dink aan die toestande in ons land.

Elektrisiteit wat al hoe skaarser word.

Wydverbreide korrupsie, misdaad, algemene wetteloosheid.

Tog is dit nie in die eerste plek wat ons teks met donker wêreld bedoel nie.

Duisternis is hier eerstens ‘n godsdienstige en etiese begrip.

Jesus noem in Johannes 3:19: “dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.”

Dit is dubbel hartseer, omdat die Messias hier met die verbondsvolk praat.

Hulle, en dit was die samelewing waarin Jesus toe was, word genoem die donker wêreld.

Donker is hier sinoniem vir die feit dat die mense die sonde liefhet.

Sonde het die duisternis liewer as die lig, want sonde wil weggesteek word.

Sonde lei tot duisternis.

So is die agterliggende rede agter die donkerte in ons land ook die sonde.

Wetteloosheid, selfsugtigheid, egoïsme.

Dit is iets waarteen ons ook self moet stry.

In die gedeelte voorafgaande aan ons teks daag Christus die Skrifgeleerdes, Fariseërs en die skare uit om eerste ‘n klip op te tel.

Hulle het ‘n owerspelige vrou gebring met die doel om gestenig te word.

Maar niemand van hulle het ‘n skoon gewete gehad om ‘n eerste ‘n klip op te tel nie.

Net so is dieselfde duisternis van nature in ons lewens.

Ons kan nie net ander blameer wat vir wat in die wêreld aangaan nie.

Skuldbewus kom ons vanoggend na die nagmaal.

Verlangend na vergifnis, verlangend na sy Lig.

Verlangend na Homself, wat gesê het:

“Ek het as 'n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” (Joh 12:46).

Gemeente, vandag word ons verlange weer vervul.

Want Christus, die Lig van die wêreld, deel sy versoening uit, deel Homself mee, in brood en wyn.

Ons mag die ervaar.

Ons ervaar die Lig van die wêreld.

Hy verlig ons.

 

2e Tafel: Wandel in die Lig van die wêreld

En nou die vraag: Is ons as gemeente van Christus ‘n lig in hierdie donker wêreld?

Wel, ons is nie self ‘n lig nie.

Maar ons word geroep om agter die Ligdraer aan te gaan.

En so mag ons vandag aan die nagmaalstafel sit, by Christus, wat ons Lig is, en daarom ons lewe is.

Hy het die duisternis oorwin.

En dan bedoel ek juis daardie duisternis wat die gevolg is van sonde en dood.

Toe Christus aan die kruis gehang het, het dit stikdonker geword.

Totale duisternis het op die aarde neergedaal.

Die Vader het sy Seun verlaat.

Maar deur sy Middelaarswerk aan die kruis het Hy die duisternis oorwin.

Want sy graf het nie donker gebly nie.

Die steen is weer weggerol.

En die vroeë oggendsonstrale het binnetoe geskyn.

Maar meer as dit, die graf was self verlig.

Christus self is die son, wat uitgekom het.

Hy is die Lig, die son van geregtigheid, wat die wêreld verlig.

En vandag mag ons ook in sy lig wandel.

Hy het die duisternis ook in my en jou lewe oorwin.

Wat ‘n voorreg om vandag nagmaal te vier, deel van die Lig te wees in ‘n donker wêreld.

Mag ons deur die werk van sy Gees nou ook ligdraers wees.

Mag daar ‘n helder lig vanaf hierdie nagmaal uitstraal in ons lewens as ons weer die nuwe week ingaan.

 

Dit is opvallend dat Christus, wat die Lig van die wêreld is, ons ook so noem.

In die Bergrede sê Hy: “Julle is die lig van die wêreld.” (Matt 5:14)

Dit het Hy natuurlik gesê in die konteks van die feit dat Hy na die wêreld gekom het om self ons Lig te wees.

Sonder Hom sou die mense toe, en ons vandag, dit nie kan wees nie.

Hierdie uitspraak is daarom in die eerste plek ‘n opdrag.

Dit is in lyn met ons teks.

Ons teks is ook ‘n oproep: Christus roep op om Hom te volg.

Wie Hom volg as Ligdraer, sal in die lig wandel.

Wandel in die Lig!

In U lig sien ons die lig, soos die bekende spreekwoord lui.

 

So bring Christus se prediking – dink aan sy Bergrede – lig.

En omdat ons dit hoor, bring dit die opdrag om dit uit te dra.

Noudat julle sy prediking gehoor het, noudat julle die Lig van sy Woord ontvang het, moenie dit onder ‘n maatemmer sit nie, maar op ‘n staander (Matt 5:15).

Sorg dat dit jou huis verlig, broer, suster.

Sorg dat jy en jou gesin in die lig wandel.

En sorg dat jou lig ook jou omgewing verlig, soos ‘n stad op ‘n berg (Matt 5:14).

Daarom vertrek ons vanaf die nagmaalstafel, waar Christus se lig ons verlig het, met ‘n opdrag.

Dis ‘n opdrag wat ons op verskillende plekke in die Nuwe Testament terugvind.

Byvoorbeeld Efesiërs 5:8: “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig.”

1 Petrus 2:9: Julle moet verkondig die “deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.”

En Filippense 2:15-16: Julle moet onberispelik en opreg wees, “kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou”.

En Handelinge 13:47: “: Ek het U 'n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.”

Ja ons is ’n lig vir die nasies.
Hierdie woorde kom oorspronlik uit Jesaja 42:6.

Dit was ‘n profesie oor die koms van die Messias, wat God sou stuur as ‘n lig vir alle nasies.

God het groter planne gehad as net met die volk Israel.

“Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.” (Jes 49:6).

En nou word ons opgeroep om agter Christus aan, ligdraers te wees, ‘n lig vir die nasies.

Dit is hoekom die Here ons in hierdie land ‘n plek gegee het.

Laat ons in alle klein dingetjies wat ons elke dag doen, al lyk dit oënskynlik nutteloos, laat ons troue ligdraers wees.

Die Here plaas tog elke week weer mense op ons pad: familie, kollega’s, bediendes, ander mense op die pad of in die winkel, by die dokter, dalk op die kampeerplek, by die wiltuin of die see, orals loop ons ander mense raak.

Dit mag voel of ons geen invloed het nie.

Laat ons tog in ons woord en wandel ligdraers wees.

Baie klein dingetjies het saam ‘n groot impak.

Christus, die Lig van die wêreld sien dit, al kan ons dit nie oorsien nie.

Laat ons nie moeg word om hierdie land vir Christus te wen nie.

As Hy ‘n goeie werk hier begin het, laat ons vertrou dat Hy dit ook sal voltooi (Fil 1:6).

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 27:1

Nagmaalsformulier (en 10 gebooie) 

Sing na 1e deel van formulier: Ps 27:4 

Nagmaalsformulier (2e deel)

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e Tafel:

Skriflesing: Johannes 8:1-12

Teks: Johannes 8:12

Preek 1e deel

Ps 43:3

2e Tafel:

Skriflesing: Mattheüs 5:13-16

Preek 2e deel

Ps 89:6

Lofverheffing

Ps 97:7

Dankgebed

Kollekte

Sb 45:1,7,8,9,10,11

Seën