God verneder die arrogantste koning

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2021-11-21
Teks: 
2 Kronieke 33
Preek Inhoud: 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus, Biance, Wilbert en Corné, en ander wat ons vandag besoek –

vandag is ‘n spesiale dag.  ‘n Dag waarop ons God se goedheid en genade in die lewe van hierdie drie vier.   ‘n Dag waarop ons weer die beloftes van God in herinnering roep, om sondaars in en deur die werk van die Here Jesus Christus te red.  Hy stel nie daarin belang om beter mense te maak nie – Hy maak nuwe mense.

Vandag aanvaar hulle ook hierdie beloftes van hulle doop en maak dit hulle eie.  Hulle staan as getuies van dié wat voor hulle hier was, om hulle te herinner aan die beloftes wat hulle gemaak het.  En hulle is ‘n voorbeeld vir dié wat nog na hulle sal volg.  Hulle staan nie in hul eie krag nie.  Hulle is nie hier omdat hulle dit waardig is nie, maar omdat hulle hul sonde en hul behoefte aan ‘n verlosser erken; omdat hulle geroep is en waardig gemaak is deur die bloed van ons Here Jesus en deur die werk van die Gees.

Ek bid dat ons God se hand van genade in hierdie mense sal sien, en dat die prediking ons ook daaraan sal herinner.  Dat God ons almal soewerein roep na Homself deur Christus.  Hy roep ons terug na die gemeenskap met Hom soos dit was in die tuin met Adam.  Hy roep ons terug uit die ballingskap, terug uit die slawerny van sonde.  Hy roep ‘n verlore menslike geslag soos Hy ook gedoen het op daardie dag van noodlot toe Hy gesê het: “Adam, Adam, waar is jy?”

En vandag het ons ‘n voorbeeld van so ‘n man, wat in ‘n sekere sin ‘n voorstelling is van die geskiedenis van Israel.  ‘n Prentjie van die evangelie.  ‘n Beeld van die ou Adam en die nuwe Adam.  ‘n Teken van die sonde van die mensdom, en die oorvloedige genade van God.  ‘n Illustrasie van Paulus se woorde: “... en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword”. (Rom. 5:20)

Die Kroniekskrywer nader die einde van sy reis.  En dit is fassinerend dat hierdie koning so te sê reg voor die laaste groot koning, Josia, kom, met net ‘n klein stukkie oor Amon tussenin.  Die teks behandel Manasse as ‘n voorbeeld van iemand wat verban was, berou gehad het oor sy sonde, teruggekeer het na die beloofde land en die volk se verhouding met God herstel het.

God verneder die arrogantste koning:

1. sy arrogansie voor God

2. sy nederigheid voor God

3. God se genade aan hom

 

Sy arrogansie voor God

Hier was ‘n koning wat nie net kwaad gedoen het soos sy voorvaders nie, of soos die huis van Israel nie, maar, soos die teks sê: “En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het.”  Hy het gedoen soos die volke wat voor Israel in die land gewoon het, gedoen het.  totaal en al goddeloos.  Totaal en al boos.  Hy het voluit gegaan.  Lees maar die eerste paar verse.  Hy maak alles ongedaan wat sy vader Hiskia opgebou het.  Hy dien afgode, en bal sy vuis teen die hemel deur afgodsaltare te bou in God se heilige tempel.  Hy offer selfs sy eie kinders, en hou homself besig met fortuinvertellery, voortekens en towery.  Hy raadpleeg mediums en dodebesweerders.

Hy plaas ‘n afgod in die tempel.  Hy vervang die Verbondsgod met ‘n eiegemaakte god.  En plaas dit in die tempel!  Die plek waar die verbondsbelofte gemaak is dat, as hulle gehoorsaam is, hulle in die land sal bly woon!  En God sou in hulle midde woon, soos ons lees in vers 8.  En dit eindig waar dit begin het. Vers 9 eggo vers 2.  Ons lees daar: “Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het.”

As jy steeds wonder hoe hierdie man was, lees 2 Konings 21.  Die Israeliete wat dit gelees het, sou die geskiedenis wel geken het!  Ons lees daar: “En Manasse het ook vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Jerusalem van end tot end daarmee gevul het”. (2 Kon. 21:16)  Met ander woorde: hy het baie goeie, onskuldige mense doodgemaak.  Ons lees dat dit as gevolg van hom was dat God hulle aan hul vyande sou oorgee. 

Ek hoop regtig julle verstaan wie hierdie man was.  Die Kroniekskrywer wil nie ‘n verkeerde indruk skep nie.  Hy was slegter as die nasies wat God verdryf het.  En boser!  Dit sou erg genoeg gewees het om te sê dat hy net so sleg was.  Maar nee!  Daar staan: “... om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het.”  In die tyd van Josua het God vir die volk gesê dat hulle heeltemal uitgewis moet word weens hulle goddeloosheid.  Man, vrou en kind.  En nou het ons ‘n verbondskind, ‘n seun van Dawid, wat die beloftes aan Abraham, Isak en Jakob geërf het, wat die beloftes aan Dawid ontvang het, wat op hierdie manier optree!

En dit is nie so dat hy nie geweet het nie.  God het sy Woord gestuur – maar sy arrogansie was te groot om na teregwysing en waarskuwing te luister.  Daar was die profete.  God het hulle gestuur.  Maar in plaas daarvan om te luister, het hy Jerusalem met hulle bloed gevul.  Sy arrogansie het sy ore verstop.  Beide die koning en die volk het die pad van rebellie geloop.  Hulle het nie na God geluister nie.

Liewe jong manne en vroue, dit is so maklik om te begin dink dat jy God nie nodig het nie, dat jy nie sy woorde hoef te hoor nie.  Dat jy op jou eie goed genoeg is.  Dat jy die kerk kan uitsluit, en gode najaag wat nie gode is nie, om jou ou mens te bevredig.  O, dat jy altyd ‘n nederige hart sal hê!  ‘n Luisterende hart, sodat jy ook in die kerk ‘n lig sal wees, dat jy kan wys hoe dit is om God te volg!

Onder Manasse is die beloftevolk niks beter as die omliggende nasies nie.  Hulle doen dieselfde.  Hulle tree dieselfde op.  Hulle is dieselfde.  Sondaars.  “... almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”! (Rom. 3:23)

Sy nederigheid voor God

God is getrou en Hy vervul altyd sy verbondsbeloftes.  Hy het sy profete gestuur en hulle het nie geluister nie.  Hulle het nie aandag gegee nie.  Dit is ‘n slapende kerk — die verbondsvolk het een met die wêreld geword.  Die Woord van God gaan by die een oor in en by die ander oor uit, en die mense het net voortgegaan met hulle afgodsdiens in hul harte, in hul land, in hul plekke van aanbidding.

 

Wat doen God toe?  Hy verneder hulle.  Hy stuur die Assiriërs wat Manasse met hake gevange neem en hom met koperkettings boei en hom na Babel neem.  Dit is interessant dat hier van Babel (of Babilon) gepraat word, terwyl Ninevé tog die hoofstad van Assirië was.  Die skrywer wou die volk herinner aan hulle eie ballingskap in Babilon, en aantoon dat dit weens hulle sondes was dat hulle ook soontoe gegaan het.

Sy sonde het tot slawerny gelei.  Hy herken dit.  Dit was nie die mag van die Assiriërs nie, maar sonde wat tot oordeel gelei het.  God verneder die hoogmoediges.  Is dit nie dikwels so dat daar ‘n groot ding in ons lewe moet gebeur om ons te wys dat ons op die verkeerde dinge gefokus het nie?  Iets drasties waardeur God ons herinner aan wie ons is en wie ons voor Hom is.

Wil jy groei in genade, verootmoedig jouself dan opnuut voor God.  Vir ‘n Christen is die pad ondertoe die pad na bo.  Paulus gee vir ons hierdie voorbeeld: “Want ek is die geringste van die apostels...” (1 Kor. 15:9).  Later in sy lewe sê hy: “Aan my, die geringste van al die heiliges...” (Ef. 3:8).  En teen die einde van sy lewe sê hy: “... sondaars..., van wie ek die vernaamste is” (1 Tim. 1:15).

Die gesonde hart is een wat in nederigheid neerbuig en deur bekering opstaan in lof en aanbidding.  Kyk na Paulus se drie beskrywings van homself wat hierbo aangehaal is – soos die jare aanstap, gaan hy steeds laer; hy groei afwaarts!  En soos sy selfbeeld minder word, so word sy verrukking van lof en aanbidding vir die God wat hom so wonderbaarlik gered het, meer.

Ons sien dat dit ook met Manasse gebeur.  Ons sien hier twee bose sondaars.  Een in die Ou Testament, wat God se volk doodmaak, en een in die Nuwe Testament.  God het hulle albei soewerein verander, sodat hulle met oorgawe vir God gelewe het.  Dit is deur lyding dat hierdie pragtige proses van omvorming na die beeld van Christus plaasvind.

Dit is in ons nood dat ons regtig begin luister.  Luister na die evangelie.  Na die prediking.  As Manasse na die profete geluister het, sou hy nie in ballingskap gegaan het nie.  God se Woord kom elke week na jou toe.  Moenie kom asof julle net ‘n lesing bywoon nie.  Mag dit ‘n ware ontmoeting wees.  Laat ons luister en die Gees van God vra om ons te deurgrond en te ken en te kyk of daar enige verkeerde weg in ons is!

En as God ons tugtig, laat ons onsself verneder.  Liewe gemeente, wanneer God ons tot hierdie punt bring, wanneer die lewe jou konfronteer — maak jou hart en lewe oop voor die Here.  Die HERE het die Assiriërs gestuur, en die HERE het hom in ballingskap gestuur.  Dit was God se straf op sy boosheid.  Hoe reageer hy nou op God se tugtiging?

God verneder hom, en deur hierdie vernedering verootmoedig hy homself ook.  Ons lees: “Maar in sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die God van sy vaders.”  Hy het tot Hom gebid.  Gebroke.  In ballingskap.  Hy het sy sonde besef en tot God gebid.  Dit herinner ons aan Daniël se gebed in hoofstuk 9, toe hy bid om vergifnis vir die sondes van die volk kort voordat Israel uit ballingskap sou terugkeer.

En weet julle wat is skokkend?  Wat is verstommend?  God is aangeraak deur sy smeking en het sy pleidooi gehoor en hom teruggebring na Jerusalem, na sy koninkryk.

God se genade aan hom

Hoekom sê ek dit is verstommend?  Ek bedoel, dink ons nie maar net dit is wat God doen nie?  Ja, dit is, maar as jy God se genade as vanselfsprekend ervaar, dan is dit nie meer onbeskryflike genade nie.

 

Kom ek vra jou: Sou jy na Manasse geluister het toe hy gebid het?  wanneer ons in vers 10 en 11 lees dat die koning van Assirië hom in ballingskap weggevoer het, dink ons nie dan maar dat hy dit oor homself gebring het en dit verdien het nie?  Hy hét dit verdien.  Hy het totale uitwissing verdien.  Hy het God meer beledig as enigiemand anders.  Dit is wat gebeur met diegene wat aan God ongehoorsaam is!  Te min, te laat!  Besef jy hoe ver jy gegaan het, Manasse?  Besef jy enigsins wat jy gedoen het?  Jy was ‘n moordende heiden, ‘n afgodsdienaar!  En wat dit erger maak, is dat jy van beter geweet het!  En tog was jy slegter as die konings van Juda, en erger as die konings van Israel wat voor jou regeer het, waarvan daar nie een goed was nie.  Jy was slegter as die mense van die land wat voor jou daar gewoon het!  Erger!  En nou?  Jy durf voor My verskyn?  “Hoe durf jy?”, kan ons vra.

Nie ons God nie.  God se genade reik tot by die slegste sondaars.  Na my en jou.  Hy luister na dié wat hulle sonde erken.  Wanneer laas het jy dit gedoen?  Wanneer laas het jy gevoel hoe die fontein van God se genade in Christus oor jou spoel?

God luister.  

God luister na ‘n sondaar.  

Hy luister na die sondige mensdom.  

Hy luister na sy verbondskind.

As dominee en ouderlinge hoor ons soms dat iemand sê: “Ek is nie seker dat God my meer kan vergewe nie.  Julle het nie ‘n idee wat ek gedoen het nie.  Ek het doelbewus gesondig.  Ek het geweet dat dit verkeerd is.  Ek het keer op keer gefaal”.  En nee, ek weet nie wat jy gedoen het nie.  Maar ek weet van ‘n verbondskind wat totaal boos was en wat vergewing gekry het.  En ek weet van iemand wat eenkeer ontken het dat hy Jesus ken, en selfs drie keer nadat Jesus vir hom gesê het dat hy sou.  En ek ken iemand wat by ‘n ander man se vrou geslaap het en toe haar man vermoor het.  Ek ken myself.  En ek weet almal het vergewing gekry.  Moet nooit moeg raak om terug te keer na Hom toe nie.  Moenie aan sy genade twyfel nie.  En moenie sy genade as vanselfsprekend aanvaar nie.

Hoe hou jy die balans?  Deur God lief te hê met jou hele hart, siel en verstand, en met al jou krag, en dit beteken dat jy ook die sonde moet haat met jou hele hart, siel en verstand, en met al jou krag.  Haat regtig die sonde en bely dit tot jou dood.  Soos een skrywer gesê het: Ons oorwin nie deur harder te probeer en deur ons eie wilskrag nie, maar deur te bely.  Hierdie hoofstuk roep dit uit dat jy nie buite God se guns val nie!  Ons keer terug na dieselfde situasie as in 2 Kronieke 7:14 : “en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

Onthou dat hierdie sondes van Manasse nie sondes teen enige mens is nie, maar sondes teen die heilige God.  Manasse het Jerusalem gevul met onskuldige bloed, met die bloed van God se profete.  Hy het sy vuis teen God gebal deur ‘n afgod in die middel van God se heilige tempel te plaas!  God het sy wingerd aan mense gegee.  En keer op keer het hulle sy profete doodgemaak.  Die oomblik kom nader dat Hy sy eie Seun gaan stuur.

Sy eie Seun sou na hierdie volk gestuur word.  En wat sou hulle doen?  Hulle sou Hom neem en Hom doodmaak.  Maar in sy dood sou hulle redding vind.  In sy ballingskap sou hulle hul woonplek vind.

Liewe gemeente, die geregtigheid van God vereis ballingskap, maar die genade van God triomfeer in Jesus Christus vir elke sondaar!  Daniël 9:9 sê: “By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan.”

Hierdie hoofstuk gee nie toestemming om te rebelleer of te sondig nie.  In Romeine 6:1 staan daar: “Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?”  God se genade kan ons gryp uit die slegste, laagste plek van ons lewe.  Dit is die evangelie.  Dit is die God van die verbond.  Dit is ons verhaal.  Voor ons Manasse veroordeel en vra waarom God hom gehoor het, luister, kyk na jouself.  Ook jy was onder die toorn van God as gevolg van jou sonde.  Efesiërs 2:3 sê: “... ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander”.  Maar raai wat?!  MAAR GOD! het ons “lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered” (Ef. 2:5).

En wat doen hierdie genade?  Jesus sê: diegene wie baie vergewe is, het ook baie lief.  Of, soos Paulus sê in 1 Korintiërs 15:10 : “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”  Dit is geïllustreer in Manasse.  Hy spring dadelik aan die werk.  Dit sou goed gewees het as die volk, toe hulle uit Babel teruggekom het, Manasse se voorbeeld gevolg het.  God het genade aan hulle bewys, maar hulle het dit as vanselfsprekend ervaar en het eers hulle eie huise gebou voordat hulle aan die tempel begin werk het.  Maar nie Manasse nie.  Kyk wat doen hy!

Hy het die bul by die horings gepak — hy gaan dadelik aan die gang en maak sy vorige lewenswyse ongedaan.  Voorheen het hy die koninkryk verswak deur sonde, nou versterk hy die koninkryk.  Hy verwyder die afgode en gooi hulle weg buite die stad, herbou die altaar en bring offers!  Dit is bekering.  Hy het ‘n radikale gedagteverskuiwing ondergaan.  Hy kyk nou anders na die wêreld.  Hy weet wie God is!  Die vrees van die Here is werklik die begin van die Wysheid.  Die werklike lewe begin wanneer jy die lewende God ontmoet het.  Voor dit is jy dood.  Daarna verander alles.  God het na jou toe gekom in jou doop, jy het hierdie dag gekies om te antwoord; mag jy in die toekoms hierdie beloftes onthou, en aanhou om heilig te wees soos Hy heilig is.  Julle liggame is tempels.  Mag julle alle onreinheid daaruit verwyder.

Wat ‘n pragtige boodskap gee die Kroniekskrywer vir ons!  Hy neem die slegste koning in die boek Konings.  Die een van wie die boek Konings sê dat hy die slegste mens van al die konings van Juda, Israel, of selfs van die nasies voor hulle was.  Dit wys dat daar hoop is, selfs vir hom!  Daar is hoop vir sondaars.  Die Kroniekskrywer wil hê dat die volk van Juda hulself in hierdie man sien.  Hy wil hê die kerk moet hulself in hierdie man sien!  Dit is uit genade dat julle gered is en lewend gemaak is in Christus!

En daardie genade laat ons nie waar ons is nie.  Dit motiveer ons tot nuwe lewe.  Mag God se genade vir jou jou motiveer om van harte in liefde vir Hom te lewe.

Amen.