Die seun van Dawid bring vernuwing en bring die Woord van God terug op sy regte plek

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2022-01-02
Teks: 
2 Kronieke 34 - 35
Preek Inhoud: 

Daar is onlangs ‘n studie gedoen waar gevind is dat, onder gereelde kerkgangers, net 32% hul Bybel elke dag persoonlik lees, 27% lees dit ‘n paar keer per week, 12%  een keer per week en 28% ‘n paar keer per maand of minder.  Hierdie opname is gedoen onder gereelde kerkgangers in die VSA.  Waag ek dit om te sê dat dit hier nie veel anders is nie?  Vandag het ons die verhaal van ‘n koning wat gevind het dat die Woord van God stof vergader het.  God se verbondsvolk het dit nie meer gebruik nie.  Hulle het dit eenkant gesit om dinge ‘n bietjie meer soos die wêreld te doen.

Wanneer dit gebeur, raak mense maklik verlore, want hulle hoor nie meer die stem van God nie.  Ek vra dus vir julle: hoe stowwerig is julle Bybels?  Hoe lank gelede het jy alleen voor God gesit en sy Woord oopgemaak?  En opreg geluister?  Nie net gelees net om Bybel te lees nie, maar gelees om God te hoor? Hoe lank is dit vandat jy ‘n Bybelgedeelte gememoriseer het om jou geestelik te versterk?  Dalk sedert jou laaste katkisasieklas?  O, ek bid dat dit nie so sal wees nie.  Ons almal wil hê dat die Here Jesus Christus in ons woon, en Hy doen dit deur sy Woord en Gees.  Dis nie verniet nie dat Jesus se gebed vir sy mense was: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.” (Joh. 17:17)

Die seun van Dawid bring vernuwing en bring die Woord van God terug op sy regte plek:

  1. Vernuwing van die Land

  2. Terugkeer na die Woord

  3. Terugkeer na Egipte

Vernuwing van die Land

Josia was agt jaar oud toe hy begin regeer.  God het hierdie jong seun grootgemaak om ‘n leier in Israel te wees.  Ons lees in vers 3: “En in die agtste jaar van sy regering, terwyl hy nog jonk was, het hy begin om die God van sy vader Dawid te soek.”   Dit beteken hy was omtrent 16.  Pragtig.  Daar is ‘n paar jong mense in ons kerk wat so oud is.  Liewe kinders, julle kan nooit te vroeg begin nie.  Soek God met toewyding en bid tot Hom.  Ek hou daarvan as ek sien dat jong mense in ons kerk, ongeveer 16 jaar oud, hulle geloof ernstig opneem.  Togewyd om Jesus te volg.  God het nie gunstelinge in terme van ouderdom, belangrikheid of werk nie.  Die wêreld mag dit dalk nie agterkom nie – jy mag dalk nie in die voorhoede van die kerk wees nie, maar God sien almal wat Hom soek.  Soos ons in Psalm 145 lees: “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.” (vs. 18)

Soos ons deur hierdie hoofstukke gaan is dit belangrik om te sien waar dit alles begin het.  In ‘n jong man se hart.  Dit begin met ‘n dors na God.  Jy kan allerhande dinge verander en allerhande uiterlike dinge doen, maar as die Heilige Gees van God nie jou hart raak nie, gaan niks gebeur nie.  Ware aanbidding begin hier, in die hart. Hierdie verandering van hart vloei dan oor in aksie.  En dit eindig met niks minder nie as die reiniging van ‘n hele land.

In die 12de jaar van sy regering het hy begin om Juda en Jerusalem van die hoogtes te reinig.  En soos voorheen, sien ons weer die sterk taalgebruik – “omgegooi”; “stukkend gekap”; “tot stof vergruis”; “verbreek en vermaal en dit oor die grafte gestrooi van die wat aan hulle geoffer het.”  En jy mag dalk vra: Hoekom op dees aarde strooi hulle die stof op die grafte van die wat daar geoffer het?  Omdat afgode nie sommer net verskyn nie.  Mense plaas hulle daar, mense aanbid hulle.  ‘n Afgod is niks nie – dit is die sonde in die persoon se hart – die probleem is die rebellie teen God.  Dit is waarna die simboliek wys.  Josia se hervormings het nie net sondige dinge verwyder nie, maar ook sondige mense wat hierdie sondige dinge bevorder en toegelaat het.  Die afgode wat die tempel vol gestaan het, het nie op hulle eie daar gekom of daar gebly nie – daar was priesters wat verantwoordelik was vir hierdie sondige gebruike.

Die land is God se land.  Dit is ‘n simbool van sy koninkryk.  Hy het vir hulle die land gegee, van Dan tot Bersheba, en hy reinig dié land.  Die mense van God is nie tevrede totdat elke afgod, elke ander god en elke versoeking uit die land verdelg is nie.  Dit is die soort koning wat ons soek. Nie een wat kom met woorde nie, maar met krag, soos Paulus sê: “want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.” (1 Kor. 4:20)

Inderdaad, ons Koning, van wie Josia maar net ‘n vae beeld was, is Jesus ons Here.  Dit is die werk wat Hy doen, maar op ‘n groter skaal!  En Hy sal nie rus nie, totdat die hemel en die hart syne is, totdat die kwaad uit elke uithoek van sy ryk gegooi is.  Totdat geregtigheid die land bedek soos die water die see bedek.  Hy sal nie rus totdat sy wil op die aarde geskied net soos in die hemel nie!

En dit is nie net die verwydering nie, maar ook die herstel wat ons moet raaksien.  Ons moet nie net verwyder nie, maar ons moet bou.  Ons moet gee. En weer het ons ‘n prentjie van die mense se getroue betrokkenheid hier, beide finansieel en in terme van hul gawes.  In 2 Kronieke sien ons telkens hierdie idee van insameling om telkens weer ‘n punt vir die mense na die ballingskap te probeer maak.  Jou geld wys waar jou hart lê.  Waarvoor gee jy?  Die skrywer van Kronieke sê in werklikheid sit jou geld waar jou hart is.  Vir die bevordering van die aanbidding en die eer van God! Hierdie is ‘n wonderlike boek om die kerk van Christus aan te moedig om te gee.

En terwyl hulle die geld uithaal wat ingesamel word, vind hulle ‘n boek.

Terugkeer na die Woord bring oordeel en genade

Terwyl hulle besig is om die tempel te reinig, vind een van die priesters ‘n boek in een van die kamers.  Dit is waarskynlik die boek Deuteronomium. Ons kan onsself indink – dit is nou die 18de jaar van Josia se regering en Amon het twee jaar regeer.  Daar is waarskynlik nie ‘n kopie gemaak tydens die regering van Manasse nie, wat grotendeels goddeloos was, dus is die boek ten minste 75 jaar oud.  Dit is amper twee generasies, moontlik meer.

Die Woord van God mag dalk in ‘n stowwerige hoekie van jou huis lê.  Of dit mag dalk bedek wees met die tradisies van die kerk deur die eeue, soos voor die reformasie.  En dit was die reformasie wat die stof afgevee het en dit teruggebring het na sy regmatige plek.  O, mag die Woord van God weer ontdek word deur God se kinders in elke eeu!  In elke huis!

So bring Hilkia hierdie stowwerige boekrol te voorskyn, waarskynlik laaste gekopieer deur Hiskia.  Onthou, dit was die koning se werk om seker te maak dat die boek gekopieer word tydens sy regering en om dit te volg.  Ons lees in Deuteronomium: “En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ‘n afskrif van hierdie wet in ‘n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel.” (17:18-20)

Hier was Josia, die getroue koning in sy 18de jaar, halfpad deur sy regering, en hy het dit nog nooit gelees nie.  Jy kan jouself indink toe hy dit hoor.  Eerstens hoor hy die geskiedenis van hoe God hulle na die beloofde land gebring het (Deut. 1-4), dan hoor hy die tien gebooie (Deut. 5).  Sy moed sak in sy skoene.  Toe die Sema in Deuteronomium 6: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.  Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” (vs. 4-5)  En toe die baie waarskuwings teen afgodery, seksuele sonde, gemeng met rein en onrein wette.

Jy kan jouself indink hoe sy moed in sy skoene sak toe hy besef hoe groot hul sonde is.  Hoeveel hulle God aanstoot gegee het.  En dan kan jy jouself indink hoe sy gesig gelyk het toe hy die seëninge en vervloekings van Deuteronomium 28 hoor.  Toe, amper aan die einde van die boek, sou hy hoor van Moses wat vir die volk ‘n keuse gegee het al jare gelede, en hoe Moses hulle gewaarsku het in hoofstuk 31 vers 29 dat hulle “gewis, verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het.”

Sjoe!  Verdoemend.  Die Woord van God het gespreek!  In die lig van hierdie Woord het Josia geweet dat, as jy na sy volk se geskiedenis kyk, daar geen hoop is nie.  Al wat hy kon doen, was om homself op God se genade te beroep.  En hy vra die profeet om die HERE te raadpleeg.

En die antwoord is oordeel.  Rampe. Vervloeking.  Die toorn van God sou oor die plek uitgestort word.  Daar was geen manier om dit te keer nie.  God is getrou aan sy verbond.  God sou sy verbondstoorn oor sy volk uitstort.  Ballingskap is nou onvermydelik.  Jy vra dalk: maar was daar nie ‘n sprankie hoop nie?  Absoluut – as daar nie was nie, sou ek nie ‘n predikant geword nie.  Daar is hoop vir die sondaar.

In Deuteronomium 30:4 e.v. staan daar: “Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.  En die HERE jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem; en Hy sal aan jou goed doen en jou vermenigvuldig meer as jou vaders.  En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.”  Ja, selfs terwyl hierdie oordeel uitgespreek word, is daar genade dat daar ‘n pad van terugkeer is.  Dit is deur ware bekering en vergifnis.  God sal hulle nie laat vaar nie, selfs nadat Hy sy toorn oor hulle uitgestort het, en hulle van sy aangesig verwyder is.  Hy sal hulle harte besny.  God sal dit doen.

En daar is ook ‘n boodskap van genade vir Josia.  Dit sou nog nie gebeur nie.  Hy sou in vrede rus.  Hy sou nie hierdie ramp sien nie.  Hoekom?  Omdat hy homself verneder het.  Hy het berou gehad.  Hy het die HERE gesoek in gebed.

En die koning het dadelik die hele volk bymekaargemaak, en hierdie boek vir hulle gelees!  Die koning spreek die Woord van die Here en hy beloof om self in totale gehoorsaamheid te lewe (vers 31).  Dit is ‘n prentjie van wat eendag sou gebeur, wanneer die Woord self – Jesus – sou neerdaal, en daardie Woord die harte van sy kinders vir ewig sou verander.  Sodat hulle Hom sou volg.

Kyk net na die totale vernuwing wat Josia teweeggebring het... lees die “al” ’s in vers 33: “Josia het toe al die gruwels uit al die landstreke van die kinders van Israel verwyder en almal wat in Israel te vinde was, diensbaar gemaak, om die Here hulle God te dien; al sy dae het hulle nie van die Here, die God van hulle vaders, afgewyk nie.” (Jesus)  Dit is ‘n prentjie van die Messiaanse Koning, wie se koninkryk gereinig sou word; daar sou nie enige sonde oorbly nie.  Hoe?  Deur die dood.  Deur die Paaslam.  Hy sal hulle vir eens en vir altyd uit ballingskap lei.

Die Pasga en Egipte

Daar is ‘n Pasga, daar is ‘n Egiptiese Farao, en daar is ‘n dood van die Here se Eersgeborene wat ook die Koning genoem word in die ou nabye Ooste.  Maar eerder as ‘n feesviering van die uittog uit Egipte, eindig ons hoofstuk met ‘n koning wat na die Egiptiese koning gaan.

Dit was die laaste Pasga voor die ballingskap – maar ook die grootste. Ons lees in vers 18 van hoofstuk 35: “So 'n Pasga soos dié is in Israel nie gehou van die dae van die profeet Samuel af nie, en al die konings van Israel het nie so 'n Pasga gehou as wat Josia en die priesters en die Leviete en die hele Juda en Israel wat aanwesig was, en die inwoners van Jerusalem gehou het nie!”  Sjoe!  Die beloftes van God kom nog steeds tot vervulling!  Die laaste Pasga was die grootste!  Waaraan herinner dit jou?  Die heel laaste Pasga?  Die grootste van hulle almal?  Die een wat ons Here gevier het!

Dit is ‘n Pasga wat in ballingskap eindig.  Daar is net een ander Pasga wat tot ballingskap gelei het.  Dit was die laaste Pasga wat ooit gevier is.  Die Pasga van ons Here Jesus, in die nag wat Hy uit die Vader se teenwoordigheid verban sou word.

Hierdie maaltyd is so belangrik in die Ou Testament.  Ons kan dit baie moeilik onderskat.  Hierdie Pasga was die eerste ding wat hulle gevier het toe hulle Egipte verlaat het, die laaste ding wat hulle gevier het voor hulle in ballingskap weggevoer is; die eerste ding wat hulle by die tweede uittog uit Babilon gevier het, en die laaste een voor die finale en groot ballingskap van ons HERE!  En van toe af het ons nie die Pasga gevier nie.  Nee!  Nou vier ons die Here se nagmaal totdat Hy terugkeer.  Ek hoop julle sien hoe hierdie maaltyd vol teologiese waarde is.  Van dood.  Van bevryding.  Van vernuwing.

Josia is vry.  En in plaas daarvan om van Egipte af weg te bly, gaan hy om die koning in geveg te ontmoet. Om Jerusalem te verlaat om te gaan veg is oor die algemeen ‘n slegte teken in Kronieke. Ons wonder hoekom.  Dit was waarskynlik omdat Egipte ‘n bondgenoot van Assirië was om die Babiloniese ryk aan te val.  En daar was ‘n bondgenootskap met die Babiloniese ryk wat terugstrek tot in Hiskia se tyd.

Ons weet teen hierdie tyd al wat gebeur wanneer die koning van Juda bondgenootskappe sluit met enigiemand behalwe die HERE.  Ons weet teen hierdie tyd al wat  gebeur in Kronieke wanneer ‘n koning van Juda Jerusalem verlaat.  Ons weet wat gebeur wanneer ‘n koning homself vermom om aan die Woord van die Here te ontsnap.  Tog doen Josia al hierdie dinge.  Hy luister na die woord van profetes Hulda, maar nie na die Woord van die Here wat deur Farao Nego gekom het nie.  Jahweh se Woord wat van ‘n heiden na die mense van Israel kom, pas by die rigting wat hierdie laaste hoofstukke inslaan, wat eindig met die laaste woorde wat Kores gespreek het.

En dit is dan geen wonder nie dat hy deur ‘n pyl geskiet word.  Dit alles begin by Saul wat deur ‘n pyl doodgemaak word en dit eindig met ‘n pyl wat vir Josia doodmaak.  En in die middel het ons vir Agab wat deur ‘n pyl geskiet word.  Elke pyl was die doodskoot vir daardie huis.  Saul se huis het daardie dag geëindig, en dit was die begin van die einde van die huis van Agab.  Ook hier het ons dus ‘n teken – die huis van Dawid gaan in ballingskap.

Die Pasga was beide ‘n teken van vryheid en blydskap, en terselfdertyd ook ‘n bloedige gebeurtenis toe die lam ingestaan het vir die eersgebore seun.  Hier het ons die eersgeborene – die voortreflike een wat sterf. Hy sterf nie op die slagveld nie, maar in Jerusalem; en die hele Israel het getreur.  En kyk na vers 25: “En al die sangers en sangeresse het in hulle klaagliedere van Josia gespreek tot vandag toe.”  Wonderlik; dis wat ons doen aan die nagmaaltafel!  Ons herdenk die dood van die Eersgeborene – die Koning, totdat Hy kom.  Maar ons liedere eindig nie in weeklaag nie!  Maar in blydskap!  Want die Een wat gesterf het, leef!  Die ballingskap is verby.  VIR EWIG!  Ons is teruggenooi deur die bloed van die ewige verbond!

En sy werke is in die boek geskrywe!  Hierdie boek wat ons hier het!  Alles was Hy gedoen het – en doen tot vandag toe!  Jesus, die groot Seun van Dawid, het vir ewig die kop van die slang vermorsel deur sy eie dood. As gevolg van sy dood gaan die toorn van God aan ons verby! Babilon – daardie legendariese stad van goddeloosheid – word vernietig!  En Jerusalem is die plek van ewige veiligheid!

Amen.