Die kerk is op pad na die beloofde land.

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-07-24
Teks: 
Genesis 15
Verwysing: 
Reeks: Wie is die kerk? 8
Preek Inhoud: 

Inleiding:

Die Bybel begin mooi en hoopvol. Paradys, lewe met God in eindelose vreugde, alles lyk skitterend!
Maar baie gou, reeds in die 3e hoofstuk, loop alles verkeerd.
Die mens word uit die paradys verdryf. Daar is straf, daar is Gods vloek op die aarde. Die sonde neem toe en God was die hele aarde skoon. Tog red hy 8 mense, en diere in ’n boot.
Die mensheid groei weer, maar hulle is steeds buite die paradys. Hoe kan dit weer goed gaan met die mensheid, met die wêreld?

’n Nuwe begin

Dan maak God ’n nuwe begin met Abram (Genesis 12).
Hy roep een man en een vrou en beloof om van hulle ’n groot volk te maak. Die reddingswerk van God word sigbaar: vir die volgende eeue word die volk Israel die kerk van Christus.
Die kerk word so talryk soos die sterre! (Genesis 15,1-5: vorige preek)

Daarmee saam gee God nog ‘n belofte vir Abram: sy nageslag sal ’n eie land kry.
Die eerste belofte (groot volk) maak vir ons sin: die volk Israel het baie groter geword, selfs uit alle volke! Gods bedoeling is nie dat die kerk maar net oorleef nie, maar dat dit veelkleurig, multikultureel word: mense uit alle volke word deel daarvan.
Wat maak christene met hierdie belofte vandag? Abraham se nageslag het die land Kanaän in besit geneem. Die Joodse volk woon tans daar. Moet christene daarna verlang om eendag in Israel te woon, is dit ons bestemming?

Jesus is die antwoord. Luister saam na die evangelie:

Tema:    Die kerk is op pad na die beloofde land.
1 -    God sluit ’n verbond (hy versterk ons geloof)
2 -    God beloof meer as ’n land.

1    God sluit ‘n verbond

Abram het Gods roeping en belofte geglo en na Kanaän toe getrek.
Sy aankoms in die land was egter ’n teleurstellende ervaring: hy het daar rondgeswerf, daar het ’n hongersnood gekom en hy moes in Egipte gaan bly. Toe hy in Kanaän terugkom, was daar stryery met sy neef Lot (nie genoeg kos en water nie), dus die familielede het uit mekaar uit gegaan. Daarna het hy selfs ’n oorlog gevoer teen die konings van die land, om sy neef Lot te bevry.

Nou, in Genesis 15, praat God weer met Abram en gee hom nog ’n belofte (v1). Hy bemoedig Abram: ‘Vrees nie, ek is vir jou ’n skild en ’n groot beloning.’
Abram glo dit, maar tog bly daar vrae in hom woel:
‘Ek het geen erfgenaam nie. Moet my kneg dan maar alles erwe?’
Nee, sê God, jou eie seun sal jou erfgenaam wees.
En vervolgens wys God vir hom die sterrehemel: so talryk sal jou nageslag wees.
Hy glo, en God reken dit tot geregtigheid.

Maar Abram ken God nog nie so lank nie. Hy het in sy vaderstad afgode vereer, en sy denke is steeds beperk tot menslike afmetings. Hy moet nog leer om by Gods mega-afmetings aan te pas en dit met sy hele hart te aanvaar.

Maar hy hou vrae: hoe weet ek dat ek hierdie land in besit sal neem?
God vermaan Abram nie. Sy antwoord is verrassend en oorweldigend.

Eerste sluit God ’n verbond met Abram. 

En vervolgens gee hy hom ongelooflik groot beloftes.

Verbond gesluit volgens gewoontes van daardie tyd

Die seremonie wat dan plaasvind, laat ons wenkbroue lig. Diere word doodgemaak en opgetjop, daar het ’n skrikwekkende duisternis gekom, en dan gaan ’n rokende oond en ’n vurige fakkel tussen die stukke vleis deur.
Vir ons ’n snaakse manier. Dis nie hoe ons ooreenkomste sluit nie!
Ons sou saam aan ’n tafel sit en dinge bespreek. Daar kan dalk ’n kontrak wees wat beide partye onderteken. Of ’n mooi seremonie met ringe of geskenke, in elk geval met mooi toesprake.

Die verbondssluiting was egter op die manier soos dit in díe tyd in die Midde Ooste gebruiklik was. 
As ’n magtige koning ’n ander koning oorwen het, het hy ’n verbond gesluit en eensydig die voorwaardes bepaal: die belasting wat die oorwonne koning moes betaal, en die beskerming wat die oorwinnaar aangebied het.
Diere is middedeur gedeel, as ’n tipe van uitbeelding van ’n vloek: as ek nie die verbond hou nie, sal dit met my gebeur: ek sal as ’n straf in twee geskeur word.
Daarom het beide partye van die verbond middedeur die gedeelde diere gegaan.

Maar nou gebeur daar twee vreemde dinge:
1) God is die magtiger party, maar hy stel nie enige voorwaardes of eise vir Abram nie! In vs. 13-15 lees ons net van beloftes wat God vir Abram gee, en hy vertel wat met die volk sal gebeur. Hierdie is ’n vriendskapsverbond, wat die magtigste party (God) vir die afhanklike Abram aanbied.

2) Die ander snaakse ding is in v. 17: wie gaan tussen die stukke vleis deur? Onthou, beide partye behoort daartussen deur te gaan om die vloek te dra as een van beide die verbond nie hou nie. Maar kyk: Abram doen niks nie, en die rokende oond en vurige fakkel is simbole van God (dink aan die vuurvlam in ’n doringbos (Moses) en die wolk van vuur wat in die woestyn voor Israel uit getrek het).
Dit is dus net die Here wat tussen die stukke vleis deurgaan, dis nie nodig dat Abram dit doen nie!
Dit beteken dat God self die vloek van die verbond op hom neem.

Vir die eerste keer onderstreep God sy beloftes vir Abram deur op ’n sigbare manier ’n verbond met hom te sluit. 
Hy gebruik die gewoontes van daardie tyd, sodat Abram meer sekerheid sal kry dat God die beloftes virseker sal uitvoer. Die verbond is ’n ondersteuning vir Abrams geloof.
Maar God wyk dus van die verbondsseremonie af om duidelik te maak dat die verbond eensydig is: seën vir Abram en sy nageslag. En God waarborg met sy eie lewe, om so te sê, dat hy die verbond sal hou! Hy is die enigste party wat tussen die stukke deur gaan. Hy neem die vloek van die verbond op hom.

Ons weet dat God nie kan sterf nie.
Hy kan ook nie lieg of sy woord breek nie.
Hy sal definitief sy belofte hou: Abram sal ’n seun kry, sy nageslag sal ’n groot volk word, en hulle sal die land Kanaän besit.

God het dit in die Bybel laat neerskryf sodat ons ook mag raaksien wat God in die verbond vir ons gee.

Ek wil twee hoofsake in hierdie eerste deel vd preek vir julle uitlig:

a) God ondersteun ons swak geloof

Die geskiedenis van die aartsvaders is ’n pad met baie draaie, slaggate en doodloopstrate.
Hoe sou jy die verhaal lees as jy die verdere geskiedenis nie sou ken nie? Jy sou in afwagting wees: 
-    sal Abram wel ’n seun kry? Hulle was kinderloos; 10 jaar na die belofte het hulle steeds nie ’n seun gehad nie.
-    Abram het verskeie planne gemaak om self ’n erfgenaam te reël: hy wou sy kneg Eliëser aanneem sodat díe sy erfgenaam kon word. Hy het ’n kind verwek by die slavin Hagar (J iël) Abram het dus voortdurend menslike oplossings gesoek. Hy het Gods belofte geglo, maar sy geloof was swak en onvolmaak.
-    En Jakob vaar nie beter nie: wanneer gaan hy ophou bedrieg en manipuleer, en God eindelik gehoorsaam?
-    As die hele volk in Egipte slawe geword het en alle seuntjies doodgemaak word, hoe sal hulle die land Kanaan erf?
Ons ken die uitkoms – maar as jy maak asof jy dit nie weet nie, en net die verhale lees: voel die spanning: die beproewings wat die aartsvaders ondergaan het, die lang wagtyd: sal hulle die beproewings deurstaan, vashou aan Christus, en volhard in geloof in die belofte?
Sal die nageslag van Abram wel die beloofde land ontvang?

Die verbond wat God met Abram sluit, is vir hom ’n waarborg.
God maak die verbond sigbaar. Die hele seremonie bevestig dat God ’n blywende en bindende verhouding met hom bou.

En dan herhaal God sy belofte: ek maak van jou ’n groot volk.
Hy maak dit nog meer spesifiek, en hy laat Abram ver in die toekoms kyk: wat met die volk sal gebeur in 400 jaar. Dit het latere generasies ook gehelp: die wagtyd beteken nie dat God sy beloftes vergeet het of gekanselleer het nie. God is in beheer van die geskiedenis en sal alles so regeer, dat die volk na 400 jaar bevry word en die beloofde land ontvang.

Die verbond is dus bedoel vir die ondersteuning van Abram se swak geloof.

En dit is ook hoekom God ons in die verbond opgeneem het.
“Die verbond met Abraham sy vrind, bevestig hy van kind tot kind.” (Ps105)
Is jy gedoop? Dan mag jy op die betroubaarheid van God vertrou. Jy kan terugkyk in die geskiedenis, en in die Bybel lees dat God die beloftes aan Abram presies uitgevoer het.
En onthou: dit is God wat sy seën uitstort oor Abram en sy nageslag – en dit sluit alle gelowiges in. Jy mag ’n liefdevolle verhouding met God hê, ’n verhouding wat hy self begin het en moontlik maak – dis sy genade!

(Dit was dus die eerste hoofsaak: God ondersteun ons swak geloof.)

Nou die tweede hoofsaak:

b) In Christus neem God self die vloek van die verbond op hom

Toe God die verbond met Abram gesluit het, het hy self tussen die stukke vleis deurgegaan, deur die simbole van die vurige fakkel en die rokende oond.
God het dus die vloek van die verbond op hom geneem. Hy sal die straf van die dood dra as die verbond verbreek word. Hy waarborg die vervulling van die beloftes.

Vir Abram was dit ’n ongewone, skokkende gebeure. Hy moet wel daaroor gedink het.
God die Vader kan nie sterf nie.
Maar Jesus het gesterf om die vloek van die verbond te dra. Al ons ongeregtigheid, teenstand, ontrou, al ons sondes, het hy gedra. Aan die kruis het hy die smaad wat ons verdien het omdat ons die verbond verbreek het, gedra. So het hy die vloek vernietig en kan die seën van God vryelik na ons toe stroom!
Eet en drink die tekens van sy liggaam en bloed: glo dat hy sy lewe gegee het in ons plek, en dat hy met sy bloed die verbond van genade moontlik gemaak het.
Watter sonde jy ook gedoen het, hoe groot ook, Jesus het die vloek en die straf daarvoor gedra. Glo in hom, dan was hy jou in sy bloed, en mag jy die seën van Gods liefde ontvang.
Jesus roep ons en moedig ons persoonlik aan: eet en drink my liggaam en bloed, ek het dit verbreek en vergiet om die seën van Abram aan my volk te gee. Eet en drink almal, en glo in my!

2    God beloof meer as ’n land

Vir Abram was die belofte van ’n land baie konkreet: hy het die grond en die bome en die riviere en die stede van Kanaan gesien en aangeraak.
Dit was tasbaar, konkreet, maar nooit sy eiendom nie.
Hy bly ’n vreemdeling sonder grondgebied in die beloofde land. Abram woon die res van sy lewe in tente, hy is nie ’n grondbesitter nie.

400 jaar later het die volk Israel wel die beloofde land ontvang. God het die belofte aan Abram vervul: hy het ’n groot volk geword. En hy gee die volk ook ’n plek om te woon, om hulself te regeer, om hulle te kan beskerm, om hulle kultuur / roeping uit te leef.
Maar die land meer as ’n stuk grond, meer as ’n blyplek.

Dit blyk as ons Hebreërs 11 lees.
9    Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.
10    Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.
14    Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ’n vaderland soek.
15    En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.
16    Maar nou verlang hulle na ’n beter een, dit is ’n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei.

Dis eintlik asemrowend om Hebreërs 11 te lees. Dit gee insigte wat jy nie in Genesis lees nie:
-    Abram het, toe hy Isaak geoffer het, oorweeg dat God Isaak uit die dode kon opwek! (ek kan dit nie in Genesis 22 lees nie)
-    en hierdie: “Abram het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” Dit lees jy nie in Genesis 15 nie! Dit is aanvullende openbaring van God. Dit help ons om te verstaan wat die belofte van die land vir Abram en ons beteken.

Ons is vreemdelinge op aarde. Ons het geen permanente blyplek hier nie, ons is eintlik tentbewoners soos Abram.

Ons verwag nie meer Israel as die beloofde land nie.
Hebreërs 11 vertel vir ons dat Abram reeds besef het dat dit nie oor Kanaan/Israel gaan nie. Hy het verlang na die stad wat fondamente het, die hemelse stad wat God ontwerp en gebou het.

Kom ons kyk na die stad. Dit kom terug in Openbaring 21:
Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is.
En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.

Die stad wat God berei het, is teselfdertyd die bruid van Christus, die vrou van die Lam: die kerk.
Openbaring 21 beskryf twee maal die stad, en in beide gevalle staan daar heel duidelik dat dit “uit die hemel van God neerdaal”.
Die stad is gemaak van suiwer goud en die mooiste edelstene.
En wat is die stad presies?
Lees weer vers 3: 
Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. [v3]
Lees ook vers 22-23:
En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.
En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.

Die stad is: God en mens verenig – deur die Lam. 
Jesus is ‘God met ons’: Immanuel. Dis Christus wat gelowiges by God bring in heerlikheid, in ewige, sondelose toewyding en vreugde.

Die sonde van Adam en Eva het God en mens geskei, en die mens uit die paradys, uit Gods heerlike aanwesigheid, verdryf.
God begin daardie beweging terugdraai by Abram: 
Op pad na die eindpunt en einddoel van die geskiedenis: die hemelse stad, beloof God reeds vir Abram dat hy die gevolge van die sonde sal omkeer en uiteindelik vernietig. Die beeld daarvoor is die beloofde land, waar sy nageslag sal woon – saam met God. Dit die hele punt van die beloofde land!

Dit sluit heel mooi aan by die begin van Genesis 15. (nou is ons eintlik full circle)
God het vir Abram gesê: 
“Vrees nie, Abram, Ek is jou skild en jou groot beloning.”

Dis waaroor die verbond gaan. 
God gee reeds vir Abram ’n herstel van die verhouding wat in die paradys verbreek is: God wandel met hom, praat met hom, en konsulteer hom selfs. Abram het in die verbond reeds die aanwesigheid en vertrouelikheid van Gods gemeenskap geniet.
(dink aan Psalm 25 wat ons gesing het: die vertroulike omgang met God)

Abram besef reeds, dat die verbond oor meer as die land gaan. 
Vanuit sy tent in Kanaän sien Abram uit na die hemelse stad, waar die heerlikheid van God volledig sal woon by alle gelowiges wat Christus gered het.
Dis wat hom gemotiveer het om tevrede te wees met sy lewe in tente in die beloofde land.

Die belofte van ’n land is vir ons steeds geldig: die hemelse stad wag vir alle gelowiges.
Ons is tentbewoners, vreemdelinge op aarde. Moenie verlang na ’n rustige en veilige plek hier op aarde en daarvoor hard werk nie. Dit is tydelik, dis ’n verkeerde prioritiet. (as jy ’n vaste plek besit, leef asof jy dit nie het nie).
Verlang in geloof na die stad wat fondamente het en wat straal met die heerlikheid van God. Dis waardoor dit gaan in die verbond, in die belofte van die land, en dis die eindpunt en doel van die geskiedenis!

Laat ons daarna uitsien met verlange, maar nie met ’n verlange om net in ’n mooi stad te woon nie. Verlang daarna om in ’n oneindige ongesteurde verhouding met God te leef, bestraal deur sy lig van heerlikheid, terwyl jy elke moment die heerlikheid van Christus, die Lam van God, sien en bewonder.

Moenie moeg of ontevrede word as die belofte van die ewige stad nog nie gerealiseer het nie. Dis geensins ’n bewys dat dit nooit gaan kom nie, soos Abram geleer het toe God hom vertel van die 400 jaar wat aan die beloofde land voorafgegaan het. God is trou, en vandag se nagmaalsviering is ’n herinnering en waarborg dat die ewige stad se fondamente reeds gelê is en dat dit spoedig uit die hemel neer sal daal, van God.

Amen

Liturgie: 

Psalm 75,1-2

Lees:
Genesis 15
Hebreërs 11: 8-16

Psalm 105: 7.8.23.24

Preek: Genesis 15,7-18

Psalm 37: 17.18.21

Psalm 25: 6-7 (na belydenis)

Skrifberyming 43: 4-6