Die Brood van die lewe in oorvloed

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-06-04
Teks: 
Markus 6:30-44
Preek Inhoud: 

Preek: Markus 6:30-44

 

Dit is vandag Sondag vir die vervolgde kerk.

Laasweek Sondag was dit Pinkster.

Die vervolging van die kerk het direk na Pinksterdag begin.

Die ontstaan en groei van die kerk het gepaard gegaan met teenstand, diskriminasie, lyding en vervolging.

Die Bybelboek Handelinge vertel reeds daaroor uit die eerste periode.

Maar ook vandag word ons voorbede gevra vir Christene wat swaarkry.

Die Sondag vir die vervolgde kerk is bedoel om ons aandag veral hierby te bepaal.

 

Tema: Die Brood van die lewe in oorvloed

 

Die gedeelte voor ons teks begin met ‘n terugblik op wat met Johannes die Doper gebeur het.

Hy is deur koning Herodes om die lewe gebring.

Dit het gebeur omdat hy vir Herodes vermaan het.

Jy mag nie die vrou van jou broer hê nie.

Herodias was die vrou van sy broer Filippus.

Hy het Herodes dus vermaan oor sy sondige lewenswyse.

 

Herodes, so weet ons, het ontsag gehad vir Johannes die Doper.

Hy het geweet dat Johannes ‘n eerlike man was.

Hy was ook skrikkerig vir die skare, omdat die mense baie van Johannes die Doper gehou het.

Daarenteen was Herodus ‘n swakkeling.

Want uiteindelik het hy nie na Johannes geluister nie, maar ingegee onder die druk van sy vrou.

Sy was ‘n sluwe vrou, en het met ‘n lis dit reggekry om van Johannes die Doper ontslae te raak.

Toe die koning tydens sy verjaardagsfees, goed onder die invloed, bekoor is deur hoe sy dogter Herodias dans, sweer hy dat hy haar sou gee wat sy ook vra.

Aangehits deur haar ma, vra sy toe – gruweliker kan dit nie – die kop van Johannes op ‘n skottel.

So het Herodias dit reggekry om van hierdie lastige profeet ontslae te raak.

Ja deur die eeue sien mens hoe geloofsvervolging kan ontvlam as Christene vir die owerhede vermaan.

 

Hoe was dit eintlik moontlik dat hierdie profeet so afskuwelik om die lewe gekom het?

Kon God dit nie voorkom het nie?

Hoekom is hy nie, soos byvoorbeeld Petrus later, uit die tronk bevry nie?

Dikwels bid ons vir ‘n wonderbaarlike bevryding soos by Petrus.

Tog gebeur nog steeds in ons tyd met gelowiges wat met die Johannes die Doper gebeur het.

Nog steeds word Christene ter wille van hulle geloof vervolg.

Soms word hulle selfs aangeval tydens ‘n erediens, soos die laaste jare meer en meer in die noorde van Nigerië gebeur.

En ook vandag sit daar gelowiges in die gevangenis.

Ek lees laas van ‘n dominee in Oesbekistan wat laat weet het die mense moet nie vir sy vrylating bid nie.

Hy vra gebed dat baie mense in die tronk tot bekering mag kom.

 

Toe ons Here Jesus die berig van Johannes die Doper se dood gehoor het, het dit Hom geskok.

Hy het met sy dissipels in ‘n boot geklim om alleen na ‘n eensame plek te gaan.

Miskien moet ons ook soms meer ‘n eensame plek opsoek om te bid.

Maar lank is Jesus nie rus gegun nie.

Dadelik vervolg Markus dat toe die skare uitvind waar Hy was, hulle Hom te voet gevolg het.

Hulle het selfs nog voor Jesus op daardie eensame plek aangekom.

Toe Jesus uit die boot klim, blyk dat ‘n skare mense reeds op Hom staan en wag het.

Hoe het Jesus toe gereageer?

Het Hy gesê: Kan julle My asseblief net ‘n oomblik met rus laat?

Nee, Hy het innig jammer vir hulle gevoel.

Hy het hulle van alle kante af sien aankom, soos verstrooide skape wat geen herder gehad het nie.

Hulle het, net soos skape, byna oor hulle eie voete gestruikel om eerste te wees.

En Jesus, staan daar, het hulle toe baie dinge begin leer.

Hy het ook hulle siekes genees, skryf die evangelis Mattheüs.

 

Toe dit aand word, het dit skielik tot die dissipels deurgedring dat hulle op ‘n eensame plek was.

‘n Uur of meer vanaf die naaste dorp.

Daarom het die dissipels by Jesus daarop aangedring dat Hy die mense moes wegstuur.

Op sig verstandig, mens moet nie onverantwoordelike dinge doen nie.

Die plek is verlate en dit is reeds laat.

Laat hulle gaan, dat hulle ten minste nog op die plase in die omgewing of in die dorpies iets te ete kan koop.

 

Dan kom ‘n antwoord wat die dissipels nie verwag het nie.

Gee julle maar vir hulle kos!

Die Here het geweet dat sy dissipels nie kos gehad het nie.

Tog het Hy hulle gevra.

Die dissipels was verontwaardig.

Moet ons vir 200 pennings – denarius in die Grieks – gaan brood koop vir almal?

Nou 200 denarius was nie min geld nie, dit was ‘n baie groot bedrag.

Ongeveer 8 maande se salaris.

Dis ook nie dat die dissipels daardie tipe bedrae geld by hulle gehad het nie.

Daarom was hulle verontwaardig.

As mens ‘n rowwe skatting maak, gesien hierdie duisende mense, gaan dit ten minste 200 denarius – oftewel ‘n fortuin – kos om vir hulle almal brood te koop!

Dis mos nou totaal onrealisties!

 

Dan vra Jesus verder: Nou maar hoe baie kos het julle self hier?

In feite niks, was die antwoord.

Net vyf brode en twee visse.

Jesus verwag die ontmoonlike van hulle.

Gemeente, voel jy soms dat God die onmoontlike van jou verwag?

Ek is seker ons broers en susters in Christenvyandige lande voel soms so ...

 

Dan begin Christus om sy majesteit te toon.

Bring vir My daardie brode en vissies.

Hy gee die skare opdrag om in groepe op die gras te gaan sit.

Alles moes ordelik geskied, sodat niemand oorgeslaan sou word of daar ‘n gedrang sou ontstaan nie.

Duisende mense wat almal beur om eerste te wees, dit is soos u weet lewensgevaarlik.

 

Toe het Jesus die voedsel geneem en die seën uitgespreek.

Hy het nie gefokus op die omstandighede nie, maar in gebed sy oë op God gerig.

Met sy hande uitgestrek na ‘n oop hemel het Hy ‘n seën gevra.

Vandag is ons gewoond om hande te vou.

Destyds het die mense, as hulle bid, hulle hande uitgestrek na die hemel.

Jou hande ophef, noem Paulus dit in 1 Timotheüs 2:8.

 

Toe het Jesus begin om die brood te breek, en stukkies vis af te breek, en die dissipels moes uitdeel.

Met verbaasde oë het die skare, soos hulle in hulle groepies gesit het, gekyk wat besig was om te gebeur.

Want die twaalf dissipels het net bly uitdeel en uitdeel.

Geen rantsoenering, hulle wat ‘seconds’ wou hê, het gekry.

Almal het geëet tot hulle versadig was.

En die stukke brood wat oorgebly het, was twaalf mande vol.

Riet mande, wat waarskynlik in die boot was, waarin vissers die visse wat hulle gevang het, gegooi het.

Markus noem dan hoeveel mense daar was.

Nie dat die dissipels presies getel het nie.

Dit was ‘n skatting.

Die mense het in groepe gesit van ongeveer vyftig en honderd.

En almal was dit daarmee eens dat dit in elk geval vyf duisend man was, die vroue en kinders nog nie bygetel nie – skryf die evangelis Mattheüs.

 

Hier het ‘n ongelooflike wonder plaasgevind.

Vyf brode, hoe groot hulle was, weet ons nie.

Maar sê nou maar vyftien mense kon van een brood eet en versadig word.

En twee visse ... vyftien mense maksimum.

Dit kom nog nie naby vyf duisend nie.

 

Gemeente, hoekom het Christus hierdie wonder verrig?

Hoekom het Christus so baie wonders gedoen toe Hy op aarde was?

Die wonders was bedoel om die mense se aandag te trek vir ‘n nog groter wonder.

En daardie wonder was Christus self.

Dat Hy, God se Seun, mens geword het om vir ons skuld te betaal.

Dat sy koms na die aarde bedoel was om Middelaar te wees, in gehoorsaamheid aan God wat Hom daardie opdrag gegee het.

Daardie boodskap, inderdaad ‘n blye boodskap, wou Hy aan die mense oordra.

“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.” (Luk 4:4; Matt 4:4)
 

Op daardie stadium wou Jesus na ‘n eensame plek gaan om tot rus te kom.

Maar God die Vader se plan was anders.

Hy stuur ‘n menigte mense op Hom af.

Al langs die oewer van die meer het hulle agter sy boot aangeloop.

Jesus het vir hulle innig jammer gevoel.

Hy het geweet sy hemelse Vader sit hieragter.

Hulle, herderlose skape ...

Hy het met hulle begin praat, hulle baie dinge begin leer.

Hy het die siekes genees wat hulle gebring het.

En so, al lerende en genesende, het die tyd verby gevlieg.

Voor almal dit besef, het die son aan die horison gestaan.

 

Skape sonder herder.

Mense vanaf plase en dorpe wat op soek was na groen weivelde.

Wat sin gesoek het in hulle lewe.

Wat vertroosting gesoek het, te midde van siekte en swaarkry.

So is mense ook vandag.

As die stem van die herder nie duidelik klink nie, hardloop hulle agter alle modegiere aan, agter ieder en elk wat homself voordoen as ‘n herder, politieke leiers, predikers wat hulle gehoor na die mond praat, celebrities, influencers, hoe hulle ook al deesdae genoem word.

 

Maar julle, geliefde gemeente, kudde van Christus, bly standvastig.

Luister steeds na die stem van die ware Herder.

By Hom is voedsel in oorvloed en bronne van lewende water.

Laat ons nie dink dat ander weivelde groener is nie.

Wêreldse leefsyl, materialisme, geld en goed, dwaalleer wat maklik verteerbaar is soos kitskos, maar nie blywend versadig nie.

Ons is bevoorreg dat ons deel is van daardie menigte wat aan Jesus se voete sit.

Groep vir groep versamel Christus hulle.

Gemeente vir gemeente, waar sy Woord helder klink.

So deel Hy Homself uit in oorvloed, Hy die brood van die lewe (Joh 6:35)

 

Maar daar is ook plekke op aarde waar gemeentes uitmekaar gejaag word.

Waar die skape daagliks in gevaar verkeer.

In lande waar hulle geloof, hulle Christelike lewenswyse, onderdruk word.

Dink net hoe honger moet hulle wees na die stem van die herder, na die Brood van die lewe.

Hoe gereeld lees jy uit die Bybel elke week?

In Noord-Korea is die besit van ‘n Bybel strafbaar – ‘n lewenslange strafkamp wat eintlik maar ‘n doodsvonnis is.

Van die Christene daar leer Bybelboeke uit hulle kop.

‘n Bybelboek word uit ‘n Bybel geskeur, omdat los bladsy minder opvallend is.

Daarna, as hulle die boek ken, vernietig hulle dit.

Van hulle luister in die grootste geheim na radiouitsendings wat vanuit Suid-Korea uitgesaai word.

Dink jy soms, ek is moeg Bybelgelees, of het dit net ‘n leë gewoonte geword?

Dink vir ‘n oomblik aan hoe smag gelowiges elders in die wêreld na dit wat jy het!

 

Baie van die skare destyds was meer geïnteresseerd in Jesus se wonders.

In die Johannesevangelie lees mens dat die mense die volgende dag selfs teruggekom het en by Jesus daarop aangedring het dat Hy weer die brode moes vermeerder.

Maar Jesus se bedoeling met die wonder was om die mense se aptyd te wek, nie vir nog gewone brood nie, maar vir die Brood van die lewe.

 

Vandag is Jesus nie meer op aarde as mens om wonders te verrig nie.

In laasweek se preek, op Pinksterdag, het ons gehoor wat Jesus gesê het:

Dit is vir julle voordelig as Ek weggaan, dit is selfs beter.

Want Hy het die Heilige Gees, die Trooster, gestuur, wat by ons tot in ewigheid bly.

 

Sien jy die aanwesigheid van die Gees hier in ons land?

Die Gees is soos die wind.

Ons sien Hom nie met ons oë nie, maar ons sien met ons eie oë wel die effek van sy werk.

Boekwinkels vol boeke oor die Bybel.

Selfs Bybels te koop in die supermarkte.

‘n Internet gelaai met preke, Christelike lektuur, potgooie en dies meer.

Ons eie kerkverband het ‘n webwerf met talle en talle preke.

Tydskrifte, dink aan Kompas.

Dit is alles dinge waarop Christene in sommige ander lande jaloers op sal wees.

Miskien het ek hierdie storie al ‘n keer vertel.

In die jaar 2000 was ek op Cyprus om daar klas te gee.

Daar was ook Christene uit Sudan, waar op daardie stadium daar nog Christenvervolging plaasgevind het.

Die broers uit Sudan het daardie twee weke omtrent nie geslaap nie.

Oordag het hulle klasgeloop.

In die nag het hulle in die biblioteek sit en lees.

Toe ek vra hoekom, het hulle my geantwoord:

In ons land het ons nie so baie boeke oor die Bybel nie.

Dit is dalk die enigste geleentheid wat ons in ons lewe gaan hê.

 

Vir my was dit eintlik beskamend.

Ons lees of kyk dikwels so graag iets oor ons stokperdjie, of dit motorkarre is, karavane of klere, vakansieplekke, ensovoorts.

Ons moet onsself soms dwing om ook ‘n artikel te lees uit ‘n Christelike tydskrif.

In ‘n land soos Noord-Korea mag die Naam van Jesus Christus, die Koning van die aarde, nie genoem word nie, laat staan dat daar Christelike tydskrifte is.

Dit terwyl die naam van hulle president Kim Jong Un daagliks uit duisende luidsprekers galm.

Dink net hoe smag die gelowiges daar om Jesus se Naam op die strate uit te roep!

En dit terwyl ons, wat in vryheid leef, soms veels te min die Naam van ons Heiland uitspreek.

Nie net in ons huise nie, maar ook in die samelewing.

Gemeente, kom ons maak ‘n punt daarvan om dit meer te doen.

Dan bedoel ek nie dat jy vir ieder en elk moet vra: Glo jy in Christus, is jy bekeer? nie.

Laat ons begin met gewoon oor onsself te getuig.

Byvoorbeeld, vertel vir ander: Die Here is goed vir my.

Of gewoon vir iemand sê, of dit nou by die petrolstasie is, of in ‘n winkel, of by die werk:

Ek bid dat die Here jou sal seën.

Om te getuig, dit is die beste manier van evangelisasie.

Mense voel dan nie aangeval nie.

Hulle hoor hoe jy in die lewe staan, waar jy jou krag vandaan haal, en dat jy vir hulle omgee, dat jy die goeie, selfs die Here se seën, vir hulle toewens.

 

Laat ons die godsdiensvryheid in ons land gebruik.

In baie opsigte lyk mense in ons land soos die skare wat Jesus destyds gevolg het.

Hulle is gefokus op materiële seëninge.

Dis hoekom mense Christus wil volg, omdat dit mag lei tot ‘n hoër lewenstandaard.

Maar ons mag getuig dat die seën van die Here nog verder gaan as dit.

Christus is die Brood van die ewige lewe.

Hy deel Homself uit in oorvloed.

Ons mag mense herinner aan wat Christus daardie dag gesê het:

“julle soek My ... omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe” (Joh 6:26-27).

 

Vir jare probeer Noord-Korea se presidente en regering al om die Naam bo alle name, Christus die lewende Brood, uit hulle land te verban.

Hulle probeer die bevolking wys maak dat dit hulle is wat brood en voorspoed verskaf.

Dit terwyl die bevolking aan ernstige ondervoeding ly.

Maar die mense daar weet nie beter nie.

Hulle is totaal afgesny van die res van die wêreld.

‘n Kollega van my uit Suid-Korea vertel dat jy die enkele Noord-Koreaanse vlugtelinge direk kan uitken.

Dit is dieselfde volk, Noord- en Suid-Korea, maar weens dekadeslange ondervoeding is die Noordkoreane deesdae veel kleiner as hulle suiderbure wat in voorspoed lewe.

 

Kom ons bid dat Christus die lot van daardie land spoedig sal wend.

Laat uit die res van die wêreld die gebed vir Noord-Korea nie verstom nie.

En ook die gebed vir al die ander lande wat op die organisasie Open Doors se lys staan, lande waar Christene swaarkry.

Uit die top 10 is nommer 2-6 alles lande in Afrika: Somalië, Jemen, Eritrea, Libië, Nigerië.

Ja talle Christene op ons kontinent ly vir hulle geloof.

En ek herinner ook aan die Christene in Noordoos-Indië waarvoor ons ‘n paar Sondae gelede gebid het, wat aangeval is deur Hindu nasionaliste, waar verskillende kerke afgebrand is.

 

Nadat die draak, dit is Satan, nie kon verhoed dat Christus uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het nie, het hy weggegaan om oorlog te voer teen hulle wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou – Openbaring 12:17.

Dit sien ons vandag nog steeds.

En dit sal voortduur.

Die Satan sal nie stilsit nie.

 

Daarom bid ons des te intenser:

Laat u koninkryk kom!

“Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.” (Sondag 48)

Mag dit spoedig gebeur dat ‘n mens Noord-Korea weer kan besoek en oor Christus met die mense kan praat.

Mag dit spoedig wees dat daar weer kerke in daardie geslote land gebou word.

Sodat die Brood van die lewe daar in oorvloed uitgedeel kan word.

En nog heerliker, mag spoedig die volmaakte koninkryk op aarde neerdaal, en die Satan finaal verban word.

Mag ons Saligmaker se Naam klink sonder enige aarseling, van Noord-Korea tot Suid-Afrika, van Eritrea tot Nigerië, van die ooste tot die weste, van die Noordpool tot die Suidpool.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Markus 6:14-29

Teks: Markus 6:30-44

Tema: Die Brood van die lewe in oorvloed

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wanneer het daar vervolging in die Nuwe Testament begin?
  2. Wat het die dissipels bedoel toe hulle sê: “Moet ons gaan en vir tweehonderd pennings brood koop”?
  3. Wat was Christus se doel met die vermeerdering van brode en visse?
  4. Bid vir Christene in Afrika wat gebuk gaan ons Islam ekstremisme.
  5. Bid vir die Christene in Noord-Korea. Bid vir hierdie land as geheel.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 116:1,2,4,10

Wet

Sb 28:1-4

Gebed

Skriflesing: Markus 6:14-29

Ps 105:22,23

Teks: Markus 6:30-44

Preek

Ps 46:1,4

Gebed

Kollekte

Ps 46:5,6

Seën