Eiegeregtige Jerusalem word opgeroep om van God en sy geregtigheid alles te verwag

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-07-10
Teks: 
Jesaja 24
Preek Inhoud: 

Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus.

Vanaf Jesaja 13-23 verkondig die profeet God se heerskappy oor die nasies en stede in beide sy redding en sy oordeel van hulle. Hier was Jerusalem by ingesluit. Hoofstukke 24-27 is ‘n gevolgtrekking van hoofstukke 13-23. Die profeet sien voor hom al die verskillende nasies en vyande van God. Maar Hy sien ook die stad Jerusalem as een van die nasies, want dit is wat die inwoners wou wees, soos die nasies het hulle hulle krag in ‘n versterkte stad, in bondgenootskappe, in wapens gesoek. Die profeet sien die stede van die aarde. Sy oordeel is nie maar plaaslik van Jerusalem nie maar omvattend van die aarde.

Die profeet het dit dus hier oor die aarde en die nasies van die aarde in hulle houding en optrede teenoor God. Die versamelnaam vir die nasies en stede is die aarde. Die aarde het God se ewige verbond verbreek, dink aan die verbond wat God met Noag en sy nageslag gesluit het, dit was God se verbond wat al die bewoners van die aarde ingesluit het. In God se veroordeling van die nasies in hoofstuk 24, word ook Juda en Jerusalem ingesluit, want hulle het God se wette oortree, sy insetting geskend, sy ewige verbond verbreek. God se verskriklike oordeel en straf word in die wereldwye dimensie van die hele aarde geplaas. En nou, na hierdie veroordeling kom daar ‘n wereldomvattende verlossing: 25:6-8, 26:9,21, 27:6. Die profesie word verkondig aan God se volk. En daar is uitkoms - die oorblyfsel wat gered word van die hoeke van die aarde sal die heerlikheid en majesteit van God prys. En die gevangenes wat verlos word van Assirie en Egipte sal die Here dien in Jerusalem 24:15-16, 27:13.

Tema: Eiegeregtige Jerusalem word opgeroep om van God en sy geregtigheid alles te verwag

Jesaja begin hierdie profesie met die treffende oproep KYK! – en daarmee gee hy aan wat gaan volg.

Jesaja bring sy gehoor dadelik midde in die verskriklike katastrofe en oordeel wat hy vir hulle voorhou. Wat hy voorhou van God se oordeel word in die hoofstuk verder uitgewerk. Daar word nie ‘n tyd aan die vervulling van hierdie profesie gestel nie - nader of verdere toekoms nie.

Jerusalem moet in die aangesig van God se oordeel en die dreigende katastrofe die Here van die leerskare in sy geregtigheid sien. Dat hulle nie hulleself kan red deur van Jerusalem ‘n versterkte vesting te maak en daarin hulle veiligheid vind nie, maar dat hulle alleen gered kan word deur op God en sy geregtigheid te vertrou en hulle in sy heerlikheid te verbly. Dit is God wat regeer op die berg Sion en in Jerusalem (23) en in die verbondsgemeenskap met sy volk want ons lees voor sy oudstes sal daar heerlikheid wees. Die inwoners van die stad word opgeroep om hulle deur God te laat versterk, want as God die aarde omkeer bly daar geen selfversekering oor nie.

Die onderwerp is nie die katastrofe as sodanig nie. Maar die Here van die leerskare en sy geregtigheid. Hy is die een wat handel, en wat oordeel in geregtigheid en wat verheerlik sal word. Voor die aangesig van die Here word die verskrikking aan die volk voorgehou. 

Die Here sal die aarde leeg maak. 

Die oordeel en straf van God kom oor die aarde en in die besonder oor God se volk in ‘n verskriklike gesig van lyding op die aarde, alhoewel dit gerig is op al die volke van die aarde. God se volk word dit nie gespaar nie. Die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, 1, Hy vervorm dit onherkenbaar. Die vraag is: gaan hulle voort om in eiegeregtigheid op hulleself te steun en God vanuit hulle aanvaarding dat hulle hulleself moet red, te gebruik? Of gaan hulle in die lyding wat ook hulle sal deurmaak hulle na die Here van die leerskare draai en in ootmoed en vreugde Hom aanroep?

As gevolg van oordeel en straf, 2, word verskillende onderskeidings in die samelewing tussen mense weggeneem. Die omkeer van die gewone orde van die daaglikse lewe vind plaas. Alle onderdanigheid sal verdwyn. Almal sal gelyk wees. Enersyds wys dit op die orde van regering en ander gesag wat vervang word met toestande van wetteloosheid en anargie. Andersyds dui dit daarop dat daar geen onderskeid sal wees nie wanneer aan God rekenskap gegee moet word nie. Almal sal die oordeel voel. Waar nie meer leiding gegee word nie, val die mense weg van God. Neem byvoorbeeld die priesters. As gestuurdes van God moet die priesters die kennis van God uitdeel. Hulle onderrig met gesag. Maar waar hulle nie meer voor die volk staan en leer nie, gaan die volk onder as gevolg van gebrek aan kennis. Dit is God se oordeel. Die gesag word afgebreek. Die samelewing het geen vaste orde meer nie. Die wetteloosheid is koning. Elkeen vir homself. Die sosiale orde ken nie meer die verantwoordelikheid van werkgewer en werker, koper en verkoper, uitlener en lener, skuldeiser en skuldenaar nie.

Die einde van die aarde het aangebreek. God se ingryping deur sy Woord is van kosmiese afmetings. Dit sien op die definitiewe ondergang van God se vyande. Hy sal besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en die konings van die aarde op die aarde (21). Dit is die afsluiting en toespitsing van Jesaja se profesie oor die volke. Wat die tydstip aangaan, wanneer het die profesie plaasgevind? In 25:1,2 lyk dit of Jerusalem of die stede in die algemeen reeds deur die vyande verslaan is, terwyl die geheel steeds oor die toekoms gaan. Die plek van die hoofstuk is in die eerste deel van Jesaja. En daarom verstaan ons dit as onderdeel hiervan. Israel se God, die God van die ganse aarde, is triomferend oor die magte, oor die sonde en die gevolge van die sonde, ook oor die sonde en ellende van sy eie volk, wie se sonde na sy bestraffing van hulle deur Hom, vergewe en weggedoen word. Uit ons teks, hoofstuk 24 sien ons twee sake uitstaan: 1. Hoe die wereld wat ondergaan onder God se geregtigheid en sy regverdige oordeel kreun. 2. Die blye sang van die gemeente wie se God regeer op die berg Sion en vir wie die heil berei word. 

1. Hoe die wereld wat ondergaan onder God se geregtigheid en sy regverdige oordeel kreun.

Die aarde word heeltemaal leeggemaak en geplunder want die Here het hierdie woord gespreek, 3. Letterlik: “Leeg sal word leeg die aarde en geplunder sal dit geplunder word…” Dit is omvattend, onkeerbaar, volledig.

In die eerste twee verse het net die Here opgetree. Hy is die een wat alles sal doen. Maar vers 3, wys plunder op die effek van ‘n inval van die land deur ‘n vyand. Deur alliterasie, in die opvolging van goed gekose woorde, word ‘n gevoel van volslae leegmaak en leegheid gegee.

God het gespreek, so dit staan vas. Gemeente sien wat op aarde gebeur. Kyk en sien God se majesteit, sien sy heerlikheid. Van die profesie is duidelik, dit sal vervul word en ook verder vervul word in terme van God se handhawing van sy geregtigheid en sy heerlike verlossing in die uitkoms wat Hy gee.

Die kreune van die ondergaande wereld word deur die spesifieke taalgebruik duidelik laat hoor. Hoofstuk 24 het met sy besondere taalgebruik geweldige seggingskrag. So die geweld waarmee die Here die aarde aangryp. Dit sal gaan soos met ‘n tafel wat omgekeer word. Die bewoners verdwyn in alle rigtings. Onderskeid van rang en stand verdwyn. Vers 4 gee ‘n herhaling van hierdie ontlediging – die aarde word verwoes en geplunder. Mense! daar is vir julle niks meer aan hierdie aarde nie. Daar is vir julle niks meer te red nie. Daar is ook vir julle niks meer aan die aarde te doen nie. Dit is verby.

Die oordeel word beskryf. Dit het nog nie plaasgevind nie, maar die profeet sien dit so duidelik asof dit reeds gebeur het. Die klem is nie soseer op die aarde self nie as op wat die aarde doen. Ons het dus ‘n aarde wat soos ‘n persoon ‘n handeling uitvoer. Die vervloeking op die aarde oor Adam se sonde het nou tot volle uitdrukking gekom. En dit vernietig die aarde, sodat die aarde treur. Dit gaan oor die ganse aarde wat treur. Dit dra die tekens van opdroog en wegdroog van plante. Dit gee die uitgeputte toestand weer. Die aarde is self hier sonder krag. Soos plante wat nie versorg word nie kwyn die aarde onder die vloek en oordeel. Nie alleen die aarde voel dit nie, maar ook die belangrikste en hooggeplaaste van mense. Alles wat verander het en die gebrek aan onderwerping aan orde, maak onmoontlik dat gewone lewe kan voortgaan. Ons begryp iets hiervan, vanuit die besondere omstandighede waarin ons as gemeente, en die hele wereld afgelope jare onder ‘n pandemie gelewe het, en die rimpeleffek van die oorlog in Ukraine, met stygende brandstof en ander pryse, met ‘n groterwordende voedselnood en dreigende wereldoorlog wat die bewoners van die aarde in die gesig staar.

God se oordeel oor die wereld is as gevolg van die ongeloof van die aarde se bewoners. Hulle het sy wette oortree. Hulle het sy instellings verander. Hulle het God se ewige verbond verbreek. Die fokus is op wat met die aarde gebeur. Die aarde het onheilig geword. Die aarde is ontheilig. Soos die land van God se volk ontheilig is deur die sonde van sy bewoners, so die ganse aarde deur die vertrapping van die verordeninge wat God aan hulle gegee het. Die aarde en alles daarop was geskape vir die heerlikheid van God, en mens is gemaak om dit te bewerk en te bewaar en God te dien. Maar deur die mens se sonde is die aarde vervloek. Die oortreding is teen die wet van God. God se wette word oortree, sy insettinge geskend, sy ewige verbond verbreek. Hierdie oortreding is nie net van God se uitverkore volk nie. Nee dit is die oortredings van die nasies, Israel ingesluit, soos ons lees in die vorige hoofstukke. Maar God se ewige verbond, wette en instellings aan sy volk gegee, bind alle mense.

Die profeet beskryf die vloek wat die aarde verslind met al die verskriklike gevolge daarvan. Dit is soos ‘n vuurwarm gloed wat alles verteer wat in sy pad staan. Die aarde word so opgeëet. Weinig mense kom van hierdie gloed vry. 6. Alleen die Heilige saad kom daar deur.

Jesaja se teleurstelling is groot. Die aarde is getref in die wynbou, 7, daarmee saam verstomming van alle vrolikheid, musiek deur die speel van instrumente, en sang. Die druiwe aan die verwelkte wingerdstok gee ‘n swak oes, die wyn is sleg, ondrinkbaar. Uitgelatenheid van mense met musiek en sang as gevolg van vreugde oor die vrug wat die wingerdstok lewer, verdwyn. 8. Alle feestelike stemming is weg. Die vesting, dit is die stad, elke stad is verlate en bouvallig, 10. Jy kan nie meer daarin woon nie, alle vreugde is verban. 11. Jy kan jou nie meer daarin verskans nie. Dit het ‘n puinhoop, ‘n ruïne geword, daar is nie eers meer ‘n poort nie, jy is nêrens meer veilig nie.12. ‘n Gejammer en ‘n gevoel van verlatenheid hang oor die inwoners.

Dit is die profeet se opdrag om die oorsaak van die komende verwoesting aan te wys. Uit die eerste vers van hoofstuk 24 is dit glashelder dat die Here se hand in die verwoesting is. Die profeet het die sonde in vers 5 in die sonde se gevolglike ontbindende werking aangewys. Die aarde is ontheilig, God verag, sy wette is oortree, sy insettings geskend, sy ewige verbond verbreek. Hierdie verbond is die verbond wat God met die ganse skepping gesluit het. So is dit duidelik dat die sonde van die mense God tot hierdie optrede genoodsaak het. Die verbond met Noag was bepalend vir die ganse aarde. Gen. 9:9-11: Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle,  en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle—al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde.  En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte…. 

En let op Genesis 9:6: wie die mens se bloed vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word. Want na die beeld van God het Hy die mens gemaak. Die reël geld nie net vir Israel nie maar vir alle mense.

Dit is ‘n ewige verbond, dit beteken die verbond staan vas. Dit word oorgedra van die een geslag na die volgende. Dit mag nooit uit die mense se geheue wyk nie. Hier gaan dit oor die mense in die algemeen. God het ook sy wet en verordeninge aan Adam gegee en deur Adam aan die hele menslike geslag. Dat jy God verheerlik in al jou wee. Gaan jy deur ongeloof en afgodery van Hom af weg, verbeur jy al sy beloftes en ryke seeninge. Daarom behoort God se volk, behoort Jerusalem dit as ‘n waarskuwing ter harte te neem. Juis Jerusalem want hulle behoort God te ken. Maar nou blyk dit uit die profesie dat die mense insluitend die inwoners van die stad Jerusalem, steur hulle nie aan die onderrig en belofte van God nie. Dit is daarom duidelik waarom die wereld wankel. Dit is duidelik by wie die skuld lê van die rampe waarmee God die wereld besoek. Die skuld is alleen by die mense. Maar dit lyk asof niemand dit insien nie.  Niemand dit erken nie. Die vloek van God, kom op die vergryp aan sy wette. En dit affekteer die hele wereld. Ons lees daarvan in die Nuwe Testamentiese lig van Rom 1:18-3:20. Die inwoners van die aarde is skuldig. Hulle word so gereken en daarvoor moet hulle ly. En vanuit die oortreding kom die straf, hetsy swaard of hongersnood.

Ja God gaan met ‘n oorblyfsel wat Hy red, verder. Dit is soos met die afslaan van olywe en soos met die oes van druiwe. Daar bly nog olywe aan die boom agter en nie net in die land Palestina, maar in die midde van die volke. So verse 13,14: Wie is hulle daar…? Dit is hulle wat in God glo, die oorblyfsel wat die Here prys. Daarom, die profeet wend hom in vers 15 tot hulle wat God prys en dring aan dat hulle daarmee voortgaan.

Want die eerste deel van vers 16 – van die einde van die aarde af hoor die profeet lofgesange. Hoe kan dit? Daar is blykbaar geen plek wat nie deur die wereldwye katastrofe getref is nie. Die gerig is omvattend. Maar God voorsien daarin dat daar mense is wat steeds sy lof besing. Sy eer roem. Mense wat oortuig is van die onverbreekbaarheid van die verbond. Wat alles van Hom verwag. Sy gemeente van gereddes.

Maar dan in die tweede deel van vers 16 sê die profeet, roep hy wee uit oor die troueloosheid van die ontroues. Met die skrik en die strik vir die bewoners van die aarde, vers 17 en 18 word ons weer heeltemaal verplaas na die wanhopige situasie op aarde. Waar jy ookal vlug, nerens is jy veilig. Soos in die dae van die sondvloed werk die hemele met stortreën van bo en aardbewings van onder die aarde sodat elke uitkomkans vir die mense versper word. 18. Die aarde is uit sy fondamente geskud en wankel. Die oortreding druk swaar, die aarde kan hierdie las nie meer dra nie. Die aarde waggel soos ‘n dronkaard, 19; 20,die aarde word geheel en al verbreek.

2. Die blye sang van die gemeente wie se God regeer op die berg Sion en wie verlossing van Hom ontvang op die dag van Sy besoeking

Is die beeld van hoofstuk 24 dan van ‘n onregverdige God? Ons tyd is daar voortdurend rampe en ellendes. Ook alle denkbare lyding en dood in die voortgang en einde van my eie lewe en lewenskring op aarde. Vir gelowiges is daar ook lyding en so baie gebeure wat onnodig of selfs sinloos kan lyk. 

Nou lyk dit uit ons teks of God self meedoen en self lyding laat gebeur. Sou Hy dan nie as ons goeie God ten minste slegte dinge moet keer nie. Daar is soveel leed. Die een slegte ding volg op die ander. Siektes en en oorloë, onsinnige geweld en natuurrampe bring soveel lyding. Ook vir gelowige kinders van God. Laat God alles maar toe? Hy kan dit tog verander?

God het aan die mens ‘n besondere posisie in die skepping gegee. Hy is God se beeld. Die mens kon hom in elke verhouding waarin hy gestaan het uitleef. Hy kon van alles geniet, maar mag nie van die boom van kennis goed en kwaad geëet het nie. Indien hy wel hierdie weg sou gaan, sou alles onherroeplik vir hom ten kwade verander.

Maar die katastrofe van die sondeval en die gevolge daarvan is heeltemal vir die mens se rekening. Gevolg daarvan was ellende, lyding, dood, wat die mens self ontketen het.

God is regverdig en voer sy dreiging uit. Hy toorn oor ons verbreking van die ooreenkoms met Hom. Want die mens het hom verset, in opstandigheid teen God. Die ellende wat ons ervaar, het alles daarmee te make dat ons voor God sondaars is, wat onsself in valse sekerheid en sonde en ellende probeer verskans, vir God nie ernstig neem nie, Hom nie met ons lewens vertrou nie. 

Dit kom so in Jesaja 24 na ons. Ons bou oral vestings om onsself te red en die aanslae wat teen ons aankom te trotseer.

Dit is egter so dat nie die selfregverdiging en uiterlike wetsonderhouding, of die formele hartelose handhawing van God se instellings en verbond, ons kan red nie.

Jesaja profeteer dat die volk in die lyding en ellende wat God in sy geregtigheid oor die aarde bring, God se besoeking aan hulle moet sien, dat Hy die aarde omkeer, so omkeer dat ons niks meer aan die aarde, die mense en ja selfs ‘n instelling as vesting teen allerlei gevare het nie. Sodat wanneer ons sien hoe Hy die aarde omkeer, leegmaak, laat plunder, wanneer Hy selfs ons vreugde en sin in ons lewens wegneem, ons lewe laat kwyn, ons eiegeregtige godsdienstigheid verbreek, die orde uit ons lewe neem, ons saam met die gemeente sien dat die Here van die leerskare soos dit reeds vervul is in die werk van Christus op aarde, en soos dit toenemend vervul word in die gang na ons Heer se wederkoms toe, ons die Here van die leerskare sien regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en dat ons saam met die oudstes van ons teks sy heerlkheid aanhoor en Hom met vreugde grootmaak in sang en lied.

Op die dag, die dag van oordeel, doen die Here besoeking. Hy verskyn en hou gerig. Hy doen besoeking oor die leerskare van die hoogte in die hoogte - ons dink aan magte wat invloed uitoefen op die politiek van wêreldryke en van sterre en stomme afgode. En Hy sal besoeking doen oor die konings van die aarde op die aarde. Hoe magtig hulle is, hulle hoort by die stof van die aarde.

Maar geliefde gemeente moenie vergeet nie. Die ellende kom nie van Hom nie. Hy gebruik dit in die situasie, maar dit is nie van Hom nie. Die ellende is nie deur Hom maar is die gevolg van die opstand van die mens.

Hy wat skrik en weghardloop van die een onheil word soos in ‘n strik gevang deur die ander. Alles wat ons vandag as gruwels rondom ons kan sien of verneem, is aan die orde: droogte, honger, oorstroming, aardverskuiwings, verwoesting, mishandeling in die gesin, geweld, siekte, dood. Katastrofes van wereldwye omvang. 

Die mens wat God se beeld is het God se verbond verbreek. Beeld te wees beteken verantwoordelikheid voor God dra. God spreek die mens altyd deur aan op sy verantwoordelikheid. As die mens die verbond verbreek en sy eie weg gaan, hoe mooi of hoe lelik in mense oog die weg ookal is, kom God se toorn.

Die ellende wat die mens in sy eie verantwoordelikheid ontketen het, word deur God gebruik in sy toorn. Omdat die mens hom nie aan die afsprake van die verbond gehou het nie, nie kan hou nie, nie wil hou nie, verslind ‘n vloek die aarde en sy inwoners. Die inwoners boet. Hulle kan hulleself nie help nie. Niemand kan vir hulle instaan nie.

Eindelik loop die oordeel oor die uitskakeling van alle magte op aarde wat hulle teen God verhef, 21,22, maar ook van die bose geeste in die hemelse geweste, parallel. So Efésiërs 6, en Openbaring. 20 in die NT. So word die koningskap van God vir goed op aarde gevestig. Hy setel in die nuwe Jerusalem. Dan word sy heerlikheid deur die oudstes aanskou sonder dat hulle daardeur verteer word. Eks 24:9-11,17. Oudstes is die verteenwoordigers van die burgers van die koninkryk. En die luister van die Here se heerlikheid is so groot dat die lig van die son en die maan daarby verbleek. Die maan sal rooi word van skaamte. Ook die son sal skaam wees. So in Openbaring: die nuwe Jerusalem het die son en maan nie meer nodig nie. Want die heerlikheid van God verlig die stad, en die lamp is die Lam, Openb 21:23, 22:5.

Wanneer die glans van die aarde verbleek as selfs son en maan verdof, word die Here openbaar in sy koningglans. God en die Lam se lig sal daar skyn. Rede - die Here sal regeer op Sion. Al die magte word vernietig maar die ware God sal regeer vir ewig. Die setel is Sion en Jerusalem. Maar wat beteken ‘n koning sonder onderdane? Die oudstes is daar, 23, voor wie sy heerlikheid verskyn. Daar is sekerlik sinspeling op Moses en die oudstes. Die vreugde klanke 14-16a kan van ver gehoor word, dit swel aan tot ‘n lied wat in die taal van die Psalms God besing. Die skare sangers prys God om sy wonderbare raad. Die raad van God deur ongelowiges gesmaad, is inspirerende bron van sing en juig vir die gelowige gemeente wat nie meer in hulle eie sterkte, in die sterkte van hulle instellings, vertrou nie, maar op Christus. 

Die uitvoering van die goddelike raad sien ons in die omkeer van die aarde en die puinhoop wat oorbly. Nooit weer sal dit herbou word nie.

Maar wie sal daaraan ontkom? Dit is die armes en geringes. 3:14, 15; 10:2,30; 14:32. Hulle wag nie op die herbou van ‘n mensgemaakte vesting nie. Die Here van die leerskare, is hulle skuilplek teen alle geweld wat op aarde in versoeking en beproewing neerkom. God sal regeer op die berg Sion en by Hom sal heerlikheid wees, ware vreugde. 

Ons groot vreugde is die vernietiging van die dood vir ewig. Ons kom hier op die hoogte van die Nuwe Testament. Die Here ontsluier sy openbaring aan alle nasies. Gemeente vrees daarom nie die gevolge van die vloek van die sonde nie. Maar vrees die lewende God. Deur die eeue moes Israel dit glo. By die fees op die berg Sion gaan die geloof oor in aanskouing. Van hierdie hoop en verwagting laat Jesaja die volk nadruklik getuienis aflê. Hier nog nie met spesifieke verwysing na Christus se werk nie. Maar in die belofte dat die Here van die leerskare sal regeer. En die heerlikheid wat daar daarom vir sy kerk sal wees.

Die nuwe toekoms is alleen moontlik weens God se geregtigheid. Soos Hy in sy oordele vashou aan sy afspraak, so is ook die nuwe hemel en aarde te danke aan sy trou aan sy raad en skeppingsverordening. Ook daarin is sy geregtigheid. Sy geregtigheid vind uiting in sy reddende ingryping vir sy uitverkorenes. Dit vloei voort uit sy trou aan sy afsprake van sy verbond. Dwarsdeur die gejammer deur die oordeel heen, hoor die profeet ‘n pragtige lied: heerlikheid vir die Here van die leerskare wat regeer. In sy oordele wat oor die wereld gaan hoor ons sy geregtigheid, en in hierdie geregtigheid word verkondig dat die skepping bevry sal word van die diensbaarheid aan die verganklikheid tot heerlikheid van God se kinders.

Om volledig reg te doen aan God se geregtigheid en heerskappy het Jesus Christus gekom. In Hom het daar vir God se kinders persoonlik uitkoms gekom. Rom 3:21-26: Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,  en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.  Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.

Amen

Liturgie: 

Votum:
Ons hulp is in die naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet:
Genade vir u en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen.

Psalm 43:2,3,4

Lees van die Wet

Psalm 34:2,4

Gebed

Teks: Jesaja 24

Psalm 78:3,4

Sing staande Amenlied: Psalm 102:1,5,6,9

Dankgebed

Opneem van die kollekte

Slotsang Psalm 104:1,19,20,21

Uitspreek van die seën
Die Here sal u seën en u behoed
die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee. Sê Amen. Sing AMEN