Op sy troon in die hemel vernietig koning Jesus alle teenstand teen God

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-06-26
Teks: 
1 Korinthiërs 15: 24,25
Preek Inhoud: 

Doel:
-    Om te wys hoe Jesus vandag sy vyande oorwin
-    En watter impak dit op ons lewens het

Inleiding

Ons leef tussen die hemelvaart en die terugkoms van Jesus.
Wat is Jesus besig om te doen in die honderde jare wat verstryk het?
Daar is ’n Sotho lied wat sê: Jesu o lokisha ditulo = ‘hy skuif die stoele reg’. Dit beteken hy berei ’n plek, maar dit klink nogal eenvoudig, asof hy net ’n paar stoele moet regskuif. Dit kan engele ook doen.

Jesus doen natuurlik heelwat meer.
Hebreërs 9 sê dat Jesus met sy bloed na die hemelse altaar gegaan het en ’n ewige verlossing vir ons bewerk het. Daarna het hy langs God gaan sit en doen voorbede vir gelowiges: Hy is ons voorspraak by die Vader. 
Maar dis nie al nie! in 1 Korinthiërs 15 vind ons ’n ander nut/vrug van die hemelvaart. Daar is vyande wat hy oorwin.
Dit is eintlik een van die gevolge van die opstanding te leer ken.
Die opstanding van Jesus is ’n totaal unieke gebeurtenis, ongeëwenaar deur enigiets anders, en alles beslissend. Die effek daarvan word eers goed duidelik na die hemelvaart. Jesus ontvang in die hemel nie net die voortdurende lof en eer van die engele en die gelowiges wat reeds gesterf het nie, maar hy regeer daar vanaf sy troon. Hy het daar alle gesag en mag ontvang wat hy deur sy opstanding verdien het.

Op sy troon in die hemel vernietig koning Jesus alle teenstand teen God.
1 -    hy red mense uit die mag van die kwaad
2 -    hy vernietig alle vyandige magte.

1    Hy red mense uit die mag van die kwaad

Jesus se beslissende oorwinning deur sy lyding en opstanding.

Ek beperk my vandag tot vers 24 en 25 van 1 Korinthiers 15:
Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.
Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.

Let op die volgorde:
-    eers die opstanding van Jesus
-    Dan die opstanding van die gelowiges
-    Dan die einde, wanneer hy koninkryk aan God die Vader oorgee
-    En wat dan in v.25 gesê word, gebeur dus tussen sy opstanding en ons opstanding: Jesus is besig om sy vyande aan hom te onderwerp!

Daarom lees ons vandag hierdie verse, omdat Jesus daarmee begin het toe hy na die hemel toe gegaan het, en hy sal dit doen totdat hy die hele koninkryk aan God oorhandig.

•    Jesus moet as koning heers

“Hy MOET regeer” sê Paulus.

Die woord kies hy, omdat God beloof het: Ps110:
Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.
(…) Heers te midde van u vyande.

Dit is ’n Messiaanse Psalm waarin God ’n belofte gee aan die Heer van Dawid. Dit is die seun van Dawid, wat teselfdertyd die Seun van God is, en daarom Dawid se Heer.
God beloof dat sy Seun sal regeer, dat hy, die Vader, alle magte aan sy Seun sal onderwerp.
Die Ou Testament vertel dus dat die Messias, die gesalfde, nie net priester en profeet sal wees nie, maar ook koning. God sal alle mag aan hom oordra.

Paulus begin by daardie belofte en sê: hy moet regeer – dis dus vanweë Gods belofte. Jesus sal op die troon sit.
Die doel daarvan is, om die hele skepping terug te bring onder Gods mag.
God het die mens aangestel om koning te wees oor sy skepping. Maar hy het gedros. Deur die eerste sonde het Adam en Eva gedink hulle gaan self in beheer wees. Daarmee het hulle teen God opgestaan en sy koninkryk verwerp.
Maar hulle het nie koning en koningin geword nie. Inteendeel. Hulle het in die arms van die duiwel gehardloop, wat slawe van hulle gemaak het.

En dit bring ons by die dieper betekenis van die magte wat Jesus sal onderwerp en vernietig: die magte van die duisternis.
Paulus sê naamlik in vers 24 dat Jesus alle heerskappy, gesag en mag sal vernietig, om die hele skepping onder Gods regering terug te bring.
Want solank daar teenstand teen God is, veral gewapende teenstand, is die koninkryk nog nie volmaak nie en is daar geen totale vrede op aarde nie.

Dink maar aan Oekraïene: solank die Russe in die land is met hul artillerie, drones, tenks, en spioene, is daar geen rus en sekuriteit in die land nie. En solank die vyand fabrieke, hospitale, paaie, spoorweë, brûe en huise vernietig, kan die land nie funksioneer en blom nie.
Dit is die situasie van die wêreld: dit is in opstand teen God.

•    Wie is die magte?

Paulus sê in Efésiërs ésiërs 2 dat alle sondaars dood is
deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, (Efésiërs 2,1-2)

Die owerste van die mag van die lug: dit is die duiwel. Hy werk in almal wat ongehoorsaam is: alle sondaars.

Paulus gaan later, in Efésiërs 6 meer oor daardie magte sê:
Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug (Efésiërs 6,11-12).

Wie is dus die teenstanders, die vyande?
Dit is onsigbare geestelike magte, demoniese magte, wat deur die sonde oor mense regeer en daardie mense, en die strukture (soos politieke partye, regerings, maatskappye) gebruik om Gods koninkryk teen te staan en probeer vernietig.

Dit is die werklike stryd wat in hierdie wêreld aan die gang is!
En dit is die magte wat Jesus besig is om te vernietig, totdat hy terugkom.

Die goeie nuus is: die vyand kan nie meer sy gang gaan nie. Christus het hom ’n beslissende slag toegebring, en hy is besig om al sy teenstand en mag op te ruim.

•    Eerste oorwinning: die kruis

Die mag van die duiwel lê in die sonde. Daarmee maak hy mense tot slawe. Dit het by Adam en Eva begin toe hulle van die boom van kennis van goed en kwaad geëet het. Dadelik was hulle slawe van die sonde, magteloos om nog self uit sy mag te ontsnap.
En dadelik het die dood in die wêreld gekom. Die dood is die straf op die sonde, en is nou deel van die vyande van God en sy skepping.
Die duiwel het die hele wêreld dus in sy mag gehad deur die sonde: alle sondaars is sy slawe, en is boonop in die greep van die angs vir die dood.

Jesus het met sy lyding en sterwe en opstanding die hart van satan se mag aangeval en die doodsteek toegebring: Kolossense 2:13-15:
En julle, wat dood was deur die misdade (…), het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons (…) uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoon gestel en daardeur oor hulle getriomfeer het. 

Ons het dit ook in Kolossense 1 gelees:
Want dit het die Vader behaag (…) dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis  - die dinge op die aarde en in die hemele. 21 Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen 22 in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;

Elke gelowige is ’n voormalige vyand. Jesus het jou oorwin en aan homself onderwerp het.
Die kruis versoen jou sonde en neem die vyandskap by gelowiges weg.

Die mag van die duiwel word op aarde teruggedring. En die triomftog van Jesus begin by die kruis. Jesus bevry sondaars uit die mag van die duisternis.

•    Verkondiging is prioriteit

Telkens wanneer ’n sondaar die evangelie hoor en hom bekeer, behaal Jesus die oorwinning op die magte wat sondaars gevange hou.
Daarom is die verkondiging van die evangelie van Jesus die grootste prioriteit in die tyd na die hemelvaart!

Die evangelie maak die gesag van koning Jesus op aarde bekend.
Dit bied vir almal redding aan
Die evangelie van genade is die enigste krag tot behoud van sondaars.

Die hemelvaart van Jesus is dus vir ons gemeente ’n herinnering aan ons missie: versprei die evangelie van die oorwinning van Jesus op die koninkryk van die duisternis. Dit is goeie nuus vir alle sondaars in Johannesburg. Almal moet dit hoor. Ons mag nie genoeë neem met ons eie redding en rustig agteroor sit nie. Die kerk is Jesus se herout: maak die koningskap van Jesus bekend! En verkondig die Woord, sodat sondaars oortuig word van sonde en oordeel, tot bekering kom, en die vryheid van Christus mag ontvang. 
Ons moet prioriteit gee aan daardie taak, want dit is dit is deel van Jesus se oorwinningsveldtog op aarde, voordat die einde kom.
Daarom is dit ook passend dat ons vandag ’n kollekte hou vir die studiesentrum: dit ondersteun die verkondiging van die evangelie in talle lande!

2  Jesus vernietig alle vyandige magte

Jesus is dus besig om die mag van die duiwel terug te dring deur mense tot bekering te bring. Hy het hy van vyande dienaars van God gemaak en regeer in die harte van gelowiges. Dit is die oorwinning van sy liefde.

Daar is egter nog ’n hooflyn in die Bybel: Jesus se oorwinning deur mag en krag, wanneer hy die vyandige magte verslaan en vernietig. Dit gaan gepaard met geweld, met magsvertoon, met bloed wat rondspat.

Dit kom ook duidelik in Ps 110 en ook Ps2 na vore:
Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn.
Hy sal ’n strafgerig hou onder die nasies; Hy maak dit vol dooie liggame; Hy verbrysel ’n hoof oor ’n groot land.

Ps2,8-12 sê dieselfde:
U sal (die nasies) verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.
Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.
Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!

Die evangelie bied Gods genade aan vir almal wat dit hoor. Wie dit ook maar aanvaar, sal gered word: dit is die belofte van redding. Dit word eerlik en ernstig vir almal gesê.
Almal wat die vriendelike boodskap verwerp, sal onder Jesus se toorn moet buig.
Dit is ook deel van die boodskap van die goeie nuus: die regverdige oordeel oor sonde en goddeloosheid en die teenstand van almal wat mag het.
Alle mense. En ook spesifiek die magtiges: konings, presidente, direkteure van magtige besighede, mediagigante, alle mense wat invloed het, kan hulle mag gebruik vir Gods koninkryk of daarteen. Daarom word hulle deur die heroute van Christus gewaarsku: bekeer julle, en buig voor Christus, of julle word verpletter.

•    Jesus se waarskuwing aan die magte

Tot die dag van die wederkoms en die oordeel is Jesus besig om sy vyande aan hom te onderwerp.
Jy kan in die boek Openbaring in sprekende beelde lees hoe Jesus sy plae oor die wêreld uitgiet: 7 seëls word verbreek en oordele kom oor die aarde; 7 skale van toorn word uitgegiet, en 7 trompette word geblaas.
Ook daaraan moet ons dink as ons 1 Korinthiërs 15,24 lees: Jesus is besig om alle magte te vernietig.

Die rampe en plae wat Jesus oor die aarde uitstort, is waarskuwings dat die huidige wêreld en sy magsverhoudings besig is om te vergaan. 
Die skrif is aan die muur. 
Dis ’n sinkende skip, en elke ramp is ’n waarskuwingsskoot: die einde gaan kom. Jy speel met vuur as jy aangaan om Jesus te verwerp, en veral as jy mag het en jy gebruik dit teen Christus.

•    Afgode: verby!

Hierdie waarskuwings van die komende oordeel het ’n heilsame effek: Jesus maak dit vir almal duidelik dat die afgode van ons tyd (en van ander tye) nie betroubaar is nie. Hulle belowe lewe en blydskap, genieting en selfverheerliking, maar hulle onderdruk, hulle vernietig die lewe, en hulle beteken opstand teen God en sy koninkryk. 
Die afgode is gedoem om totaal te verdwyn.
Dit is die boodskap – deur die rampe en siektes en dood wat die aarde tref tot die wederkoms, en deur die prediking van die evangelie: Jesus is besig om sy vyande te vernietig, vertrou nie langer meer op hulle, maar bekeer jou!
Onderwerp jou aan Christus, die koning, of jy word saam met jou afgode op die dag van die oordeel vernietig.
Daar is vergewing vir jou sondes. Bekeer jou en ontvang daardie vergewing. Wees vry!

•    Wat beteken dit vir gelowiges?

Daar het ‘n radikale verandering plaasgevind!
Die wêreld is nie meer in hande van die duiwel nie. Die koninkryk het beslissend deurgebreek.
Vergewing is nie meer ‘n uitsondering, nie meer skaars nie.
Dis nou vryelik beskikbaar, vir mense uit alle volke. Ons is nie meer vas in die skuld en oorheersing vd sonde nie!

Die kettings wat ons aan ons afgode vasgebind het, is verbreek!
Watter sondige begeertes ook maar ‘n slaaf van jou gemaak het, dit is alreeds verbreek. Deel in die viering van die oorwinning van Jesus!

Dit beteken dat gelowiges nie meer toegelaat word om terug te hardloop in die mag van die sonde, van die afgode nie.
Jou afgode is reeds oorwonne - los hulle, en ontvang vergewing en vryheid!
Wat maak jy met die redding, met die vryheid wat jy gekry het?
as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, (Kolossense 1,23)

Die laaste vers wys vir ons dat ons nou ’n groot verantwoordelikheid het. 
Ons hoor geweldig mooie nuus: jy is vry! Nie meer ’n slaaf nie, jy leef nie meer in die duisternis nie, en jy mag leef in Gods koninkryk van liefde, lig en vrede.
Maar as ons die vyande en die stryd vergeet, verslap ons en word ons weer ’n prooi van die sonde. Dan weerstaan ons Jesus se koningskap.

•    Voortgaande stryd in ons lewens

Die stryd teen die magte en heersers is nog volop aan die gang, ook in die lewens van gelowiges. 
Dis hoekom Paulus in Efésiërs 6 die waarskuwing en instruksie gee: ons veg nie teen menslike teenstanders nie; agter die mense wat die kerk aanval en gelowiges teenwerk en vermoor, skuil die magte van die duiwel, sy demone. Die stryd gaan aan, want die demone aanvaar nie dat hulle mag verloor nie. Die duiwel is soos ’n brullende leeu wat soek wie hy kan verslind (1 Petrus 5,8). Hy hou aan om die gelowiges te bestook.

Daarom is dit vir ons belangrik om die werke van die duisternis te herken.
Geestelike magte is onsigbaar. Hulle werk agter die skerms. 
Demone versteek hulle agter afgode: dinge wat van mense slawe maak. Die dinge self is deel van Gods skepping en kan goed gebruik word, dit is bedoel om met danksegging gebruik te word.
Maar wanneer word iets wat ons geniet, ’n afgod? Ons het geestelike insig nodig om die magte van die duisternis te herken en ontmasker, en om te onderskei wanneer ons ons begeertes najaag en nie meer die eer van God nie. Lande met demokratiese vryhede het die geloof in God na die binnekamer verwys en daar toegesluit. As jy glo, is dit mooi vir jou, maar moenie my daarmee pla nie.
Die waarheid en die bevrydende krag van die evangelie word dus teengestaan.

Ons moenie verstrik raak in allerhande conspiracy theories nie.
Maar ons het die roeping om met onderskeidingsvermoë die afgode in ons eie hart raak te sien en die evangelie bekend te maak.
Ons het die bevrydende boodskap ontvang: die magte is reeds oorwin, daar is vergewing, die nuwe koninkryk is reeds hier.

Leef dan in die koninkryk: gehoorsaam Christus.
Ontmasker die afgode met die waarheid van Christus en verwerp hulle.
Maak die bevrydende boodskap van Jesus bekend, om sondaars te red.

En sien uit sonder vrees na die wederkoms van Jesus: op daardie dag kom die onderwerping en vernietiging van alle magte op een slag tot ’n einde.
Verwag met verlange die heerlike koninkryk van God.

Amen

Liturgie: 

Skrifberyming 11
Preek:  1 Korinthiërs 15:24-26
Psalm 110: 1-3,6-8
Gebed
Sing Geloofsbelydenis
Skrifberyming 37
Kollekte
Psalm 47