Die koms van die Heilige Gees is beter

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-05-28
Teks: 
Johannes 16:7
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 16:7

 

In ons teks berei Christus sy dissipels voor op wat gaan gebeur.

Dis ‘n plegtige uitspraak: Ek sê vir julle die waarheid.

Meestal sê iemand dit as dit wat hy gaan sê op eerste gesig dalk ongeloofwaardig klink.

Dan beklemtoon mens dit: Dit is wel die waarheid.

So Jesus ook hier.

Julle mag dalk verbaas wees, maar dit is vir julle voordelig as Ek weggaan, dit is in julle belang.

 

Gemeente, dink aan ‘n huisgesin, as die pa vir sy kinders verduidelik dat daar ‘n dag sal kom dat dit vir hulle beter sal wees om die huis te verlaat.

Ja dit is lekker by die huis.

Jou kos word vir jou gekook, jou klere word vir jou gewas ...

Maar onthou, die tyd staan nie stil nie.

Kinders word groot en volwasse.

En ook vir pa en ma kan dit moeilik wees om hulle kinders te laat gaan.

Tog moet hulle op ‘n stadium die deur uit.

Dis ‘n goeie ding as hulle die huis verlaat.

As hulle hulle eie huis kry, as hulle trou, as hulle ‘n gesin stig.

Dit hoort so.

Die tyd stap aan.

Dit bly nog steeds jou seun of dogter, dit bly nog steeds jou ouers.

Tog gaan die lewe verder, en ook die verhoudings tussen mekaar verander.

 

Tema: Vir ons bedeling is die koms van die Heilige Gees beter

 

Gemeente, destyds het die dissipels, en ook Maria, met dieselfde geworstel.

Hou My nie vas ... Raak My nie aan nie ... sê Jesus vir Maria na sy opstanding – Johannes 20:17.

Nogal ingrypende woorde.

Dit is net nadat Maria Hom weer vir die eerste keer gesien het na sy opstanding.

Sy het sy stem herken.

Wat sou sy liewer wou doen as om Hom daar en dan te omhels!

Tog sê Jesus: Raak My nie aan nie ...

Dalk het u al ‘n keer ‘n sogenaamde pieta gesien.

‘n Pieta is ‘n beeld of skildery van Jesus se ma, Maria, wat die dooie liggaam van Jesus op haar skoot vashou.

‘n Uitbeelding wat mens veral in Roomse kerkgeboue sien.

Meestal baie kunstig, baie emosioneel uitgebeeld.

Artistieke meesterstukke.

Dit beeld iets uit van die grootste verdriet wat ‘n ma op aarde kan tref, as haar eie kind te sterwe kom.

Die bekendste pieta is seker die een van Michelangelo in die St Pieters Katedraal in Rome.

Tog het hierdie gewyde tradisie van ‘n pieta nie ‘n basis in die Skrif nie.

Ons lees nêrens in die Bybel dat die oorlede Jesus in Maria se arms gelê het nie.

Wat ons wel lees, is dat Josef van Arimathea vir Pilatus gevra het of hy die liggaam van Jesus mag wegneem (Joh 19:38).

Hy het Hom toe in ‘n nuwe graf neergelê wat in ‘n tuin was daar naby Golgota.

Opvallend dus dat dit nie in die Skrif staan nie.

En ook opmerklik, eintlik konfronterend, wat Jesus vir Maria Magdalena gesê het, net na sy opstanding:

“Raak My nie aan nie”.

Dit dui tog op ‘n nuwe soort verhouding wat van daardie oomblik af begin het.

Soos enige ma nie meer haar volwasse seun op haar skoot sal neem soos toe hy ‘n baba was nie – al verlang sy soms daarna terug – so het nou ook ‘n nuwe fase aangebreek.

En, al het dit dalk emosioneel vir Maria Magdalena op daardie stadium nie so gevoel nie, sou dit tog ‘n beter fase word.

Dink aan ons teks: “Dit is voordelig dat Ek weggaan.”

Dit is in julle belang!

“Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God” (Joh 20:17)

Maar, Jesus laat haar en die dissipels nie ongetroos agter nie.

Hy gaan binnekort ‘n ander Trooster stuur om by hulle te bly tot in ewigheid – Johannes 14:16.

Hy “sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” – Johannes 14:26. 
 

Herinner aan al Jesus se woorde ...

Soos destyds toe Jesus ‘n keer vir sy ma gesê het:

“My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.” (Luk 8:21)

Dit was ‘n uitspraak wat Maria moes laat nadink.

Is sy nie die enigste ma van Jesus nie ...?

Daar breek ‘n nuwe fase aan, waarin elkeen wat die wil van God doen, sy moeder en broers sal wees.

Het sy ma dalk te veel haar seun wou vashou, te veel wou beskerm, en dalk te min na sy woorde geluister?

Jesus is nie net haar Seun nie, maar ook haar Saligmaker!

Hy is ook haar Koning!

Die bedoeling is nie dat Hy altyd by haar hier op aarde bly nie.

Die heilsgeskiedenis beweeg aan.

“Ek vaar op na my Vader en julle Vader”.

Daar wag ‘n kroning op Hom.

Hy gaan plaasneem op die hemelse troon.

Dit moet sy besef.

 

‘n Aantal jare later sou Paulus met dieselfde probleem te make kry.

In die gemeente van Korinthe was daar verdeeldheid, daar was groepsvorming.

Sommige mense het gesê: ek is van Paulus. Ander: ek is van Apollos. Ander: ek is van Cefas.

Sommiges het selfs gesê: Ek is van Christus (1 Kor 1:12).

Moontlik gaan dit hier oor mense wat Christus nog persoonlik geken het, tydens sy lewe op aarde.

Hulle het ‘n band met Hom gehad as persoon, na die vlees.

Maar hulle het te min na sy woorde geluister.

Paulus vermaan hulle hieroor: moenie meer op die vlees fokus nie.

Moenie op mense fokus, of dit nou Paulus, Apollos, Cefas of selfs Christus nie.

2 Korinthiërs 5:16: “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.”

Dis presies dieselfde boodskap as wat Jesus vir Maria Magdalena en die dissipels gegee het.

Moenie My vashou nie.

In die sin van: moenie My vashou as ‘n mens van vlees en bloed nie.

Nee, Ek vaar op.

Die tyd het nou aanbeweeg.

Hy is nie meer ‘n mens soos sy ma hom as kind in haar huis gehad het nie.

Hy is nou die verhoogde, die verheerlikte, die een wat dood was en weer lewend geword het.

Hy is nou haar en ons ewige Koning.

Hy wat haar, en ons, wil verander, transformeer, deur sy Woord en Gees.

Luister daarom na sy woorde.

Sy ma en sy broers, hulle moet nie net na Hom kyk soos hulle gewoond was, vroeër toe Hy nog by hulle in die huis gewoon het nie.

Hulle moet nou met geloofsoë na Hom leer kyk.

Wie die Woord van God hoor en dit doen, hulle is my moeder en my broers.

En daarom gaan Hy sy Gees stuur.

Want die Heilige Gees gaan hulle herinner aan sy Woord, aan alles wat Hy gesê het.

 

Gemeente, dit mag ons vandag herdenk op Pinksterdag.

Toe die Heilige Gees uitgestort is, het Hy die dissipels herinner aan alles wat Jesus gesê het.

Hy het hulle verstand verlig, sodat hulle nou verstaan het wat die bedoeling was van al Jesus se woorde.

In Petrus se pinksterpreek hoor ons die stem van sy Heiland.

Hy praat nie sy eie woorde nie, hy verkondig die Woord van sy Heiland.

Hy roep die mense op om hulle tot Jesus te keer, Hom as Messias te bely, dit wat met Jesus gebeur het, die heilsfeite, gelowig te aanvaar.

So werk die Gees op Pinksterdag.

Hy oortuig hulle wat hulle Messias gekruisig het van sonde en geregtigheid en oordeel – Jesus se eie woorde in die vers na ons teks.

Dit is wat sy pinksterpreek doen.

Naamlik dat dit sondig was dat hulle hulle Messias gekruisig het.

Sondig dat hulle nie in Hom geglo het nie.

Hy oortuig hulle ook van geregtigheid.

Al is Christus gekruisig, Hy het die reg aan sy kant gehad.

En meer nog, ook die erkenning dat daardie kruisiging nie sinneloos was nie, maar God se wil.

Omdat daar danksy die Messias se dood geregtigheid vir hulle voor God gekom het.

Ja die Messias het na die Vader gegaan om daar sy geregtigheid aan te bied, sodat Hy ‘n Voorspraak kan wees vir almal wat in Hom glo.

En, sê die vers na ons teks, die Gees werk ook die erkenning van die oordeel.

Dat deur Christus se kruisdood die owerste van die wêreld geoordeel is.

Wat ‘n heerlike boodskap!

‘n Boodskap waardeur die Gees gewerk het.

Want die mense op Pinksterdag, lees ons in Handelinge 2:37, is diep in die hart getref.

So het die Heilige Gees vir Petrus en die ander apostels geïnspireer.

Deur hulle prediking van Christus se woorde is berou en bekering in mense se lewens gewerk, ja is hulle diep in die hart getref.

 

Dit is dus die werk van die Heilige Gees.

In ons teks gebruik Jesus ‘n spesifieke woord vir die Gees: Trooster.

Die woord in Grieks is: Parakleet.

Dit is ‘n woord met ‘n ryke betekenis.

Nie net Trooster nie, mens kan ook vertaal: Bemoediger, of Vermaner, of Aanklaer.

Vir daardie rede het die 2020-Bybelvertaling die woord Parakleet onvertaald gelaat.

In ‘n voetnota staan dan hierby: Die Griekse woord parakleet “verwys na iemand wat geroep is om bystand te verleen – ‘n helper, ‘n voorspraak, ‘n pleitbesorger, ‘n trooster.” (Joh 14:16)

Op ‘n manier, gemeente, is al hierdie betekenisnuanses van toepassing op ons teks.

Die Heilige Gees sal hulle Voorspraak, hulle Pleitbesorger, wees.

Die Heilige Gees is die een wat sal aankla en vermaan.

Die Heilige Gees is die een wat sal bemoedig en vertroos.

En ook het die Heilige Gees die apostels gebruik om Christus se woorde op Skrif te stel.

Daarmee het Hy ons al op die oog gehad.

So werk Hy as Parakleet.

Jesus se prediking is vandag steeds aan ons bekend, dit is die Lig op ons lewenspad, ook in die 21ste eeu.

Dit klink nog steeds in hierdie wêreld.

Dit oortuig nog steeds ‘n opstandige wêreld van sonde en geregtigheid en oordeel.

 

En dit bring ons weer terug by ons teks waar Jesus gesê het:

Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan, ja in julle beste belang!

In die nuwe bedeling beweeg die heilsgeskiedenis aan.

Jesus is nou nie meer net die Seun van die mens nie.

Sy staat van vernedering is verby.

Hy is nou die Seun van God, wat die dood oorwin het, wat op die troon in die hemel sit.

Dit was die Vader se beplanning.

Nie dat Hy in die nuwe bedeling as mens op aarde sou bly nie.

Tog is Hy nie afwesig nie.

Soos ons in die Kategismus bely: “Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie” (HK v/a 47).

Ja die Gees bly by sy kerk tot Hy terugkom.

Die Heilige Gees werk vernuwend op ’n aarde deur die mensdom toegetakel.

Danksy Christus se betaling aan die kruis is daar weer ’n toekoms vir hierdie aarde.

Elke nuwe seisoen wat die Heilige Gees op aarde skep, bring ons nader aan Christus se wederkoms, na die herstel van alle dinge.

 

As mense is ons, net soos Maria en die apostels, veral visueel ingestel.

Ons heg aan die dinge van die hede.

Ons streef na direkte bevrediging, ‘instant gratification’.

Ons wil Jesus nou by ons hê, soos destyds toe Hy op aarde groot wonders en tekens gedoen het.

Soos die skare destyds verlang ons na die vermeerdering van die brode en vissies, op ’n daaglikse basis.

Ons is minder geïnteresseerd in sy woorde, in sy planne.

Maar Christus verseker sy dissipels, en so ook ons, in ons teks:

Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan.

Dit is selfs beter!

In julle toekomstige lewe gaan die inwoning van die Heilige Gees vir julle meer beteken as dat Ek hier op aarde in vlees en bloed agterbly.

 

Geliefde gemeente, laat hierdie woorde by ons insink.

Vandag het ons die Gees, ons leef uit krag van die Gees.

Christus regeer ons vanaf die troon deur sy Woord en Gees.

Dit is hoe Hy ons lewe lei na die ewige heerlikheid.

Hy weet wat beter is vir Maria, vir die dissipels, en vir ons.

Vir die bedeling waarin ons nou leef is die koms van die Heilige Gees beter.

 

Soms gebeur dit dat Google Maps die roete na jou bestemming bring deur strate waar jy nog nooit was nie, wat jy nie self sou gekies het nie.

Tog blyk dit agteraf die beste roete te gewees het.

Dit het dalk ‘n verkeersopstopping vermy, of padwerke, of ‘n ongeluk.

Nou weet ons Google maak van tyd tot tyd foute.

Die Heilige Gees egter nie.

Hy lei ons in die waarheid.

Die pad waarop Hy ons lei, is ook nie die een wat ons sou gekies het nie, ook nie die een wat Maria en die dissipels aanvanklik in hulle kop gehad het nie.

Dit gaan dalk soms teen ons gevoel, ons rigtingsgevoel in.

Maar sonder om nou al die bestemming te sien, word van ons geloof gevra.

Glo dat die Gees se weg die regte pad is.

Hou vas aan die kompas van sy Woord.

Ook as die wêreld ander rigtings inslaan.

Moenie dan onseker, bang vir die toekoms word nie.

Vind jou troos by die Trooster.

Christus verseker jou deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (HK v/a 1).

Die Gees sal jou daarheen lei.

Vertrou dit maar.

 

Gemeente, laat ons onsself op hierdie Pinksterdag weer verbind aan die kompas van die Gees.

Die woorde van Christus waaraan die Gees die dissipels en ons telkens weer aan herinner.

Al soveel keer deur die eeue het wêreldse analiste voorspel dat die kerk een of ander tyd gaan ophou bestaan.

Nog steeds is dit nie die geval nie.

Ook nog steeds in ons eeu vergader, beskerm en onderhou Christus sy kerk deur sy Woord en Gees (HK v/a 54).

Dit is die Pinksterwonder.

Ja, die wonder was die spreek in tale, maar nie net dit nie.

Die wonder was veral ook die vrug op Petrus se prediking.

Dat die mense diep in die hart getref was.

Daardie Pinksterwonder gebeur vandag nog steeds.

Nog steeds tref die Evangelie mense diep in die hart en verander ‘n opstandige hart van steen in ‘n gewillige hart van vlees.

Maar ook nog steeds word die Evangelie in allerhande tale verkondig.

Ook daardie Pinksterwonder gaan nog voort, al is dit in ‘n ander vorm.

Net vir die duidelikheid, dit is nie tongetaal soos die charismatici beweer nie.

Dit is ‘n vervalsing van die Pinksterwonder.

Want die apostels het nie in inverstaanbare klanke gepraat nie, maar in gewone tale.

En so word die Evangelie vandag in ‘n menigte gewone tale verkondig.

Volgens Wycliffe Bybelvertalers is die Bybel alreeds in ongeveer 3500 tale vertaal!

Tog wag daar nog ten minste 2000 tale waarin dit nog nie vertaal is nie.

Dit nog losstaande van die feit dat tale nooit dieselfde bly nie, steeds besig is om te verander, wat nuwe Bybelvertalings in ‘n taal weer noodsaaklik maak.

Die Pinksterwonder dat die apostels direk in staat was om ander tale te praat, sodat die opdrag van Jesus om uit te gaan van Jerusalem na Judea, Samaria en tot aan die eindes van die aarde direk kon begin, daardie Pinksterwonder het in sekere sin opgehou, want ons kan nie meer van een op ‘n ander dag ‘n ander taal vlot praat nie.

Maar die Gees het nie opgehou nie.

Soos Augustinus gesê het, in die lig van die feit dat daardie spesiale gawe ook al in sy tyd opgehou het:

Die wonder van die spreek in tale het egter nie opgehou nie, omdat die kerk nog steeds in baie tale die Evangelie verkondig, selfs baie meer as op Pinksterdag.

Die kerk bestaan nou uit ‘n menigte mense, in teenstelling tot die kerk in Jerusalem destyds wat net uit ‘n paar duisend bestaan het.

En in Augustinus se tyd, en nog veel meer in ons tyd vandag, is daar talle en talle predikers – veel meer as die apostels destyds – wat elkeen in hulle eie taal die Evangelie verkondig.

Dus die wonder van die prediking van die Evangelie in allerhande tale het nog nie opgehou nie, dit het net groter geword.

Dit mag ons vandag op Pinksterdag herdenk.

Dit Gees werk, sy werk brei almaar uit.

 

Geliefdes, gaan vandag Geesvervuld weer huis toe.

Wees jy ook ‘n instrument van die Gees.

Ook in jou lewe oortuig die Gees jou van sonde en geregtigheid en oordeel.

Ook in jou gedagtes herinner die Gees jou steeds aan Christus se Woord.

Leef sy Woord.

Dra dit uit, by jou werk, en waar jy ook is.

So is jy deel van die Pinksterwonder.

Daarbuite is ‘n wêreld wat gebuk gaan onder sy eie sonde, wat op pad is om verlore te gaan weens die gevolge van hulle eie sondes.

Bring die lig van die Evangelie te midde van daardie donker wêreld.

In Pretoria se gaga binnestad, maar ook in die netjiese voorstede waarin ons woon, maar tog is hier ook mense wat lewe sonder hoop, mense wat soms so wanhopig raak dat hulle hulleself ophang.

Te midde van alle uitdagings in ons land, in ons bestaan, mag ons ligdraers wees.

‘n Pinkstergemeente, in die regte sin van die Woord.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Johannes 16 & 20:11-18

Teks: Johannes 16:7

Tema: Vir ons bedeling is die koms van die Heilige Gees beter

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Hoekom het Jesus vir Maria gesê: “Raak My nie aan nie”? (Joh 20:17)
  2. Wat was die wonders van Pinksterdag?
  3. Wat is die verskil tussen die Pinksterwonder van spreek in tale en die sogenaamde tongetaal (glossolalie) in hedendaagse Pinkstergroeperings?
  4. Duur die Pinksterwonders vandag nog voort?
  5. Hoe kan jy vandag deel wees van die Pinksterwonders?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 104:1,17,18,19,20,21 

Wet

Sb 49:3,4

Gebed

Skriflesing: Johannes 16

Sb 50:7

Skriflesing: Johannes 20:11-18

Ps 143:7,8 

Teks: Johannes 16:7

Preek

Ps 75:1,2,4

Gebed

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën