Sy hart was nie daarop gerig om die HERE te soek nie

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2021-03-21
Teks: 
2 Kronieke 10 - 12
Preek Inhoud: 

Vandag begin ons die verkenningstog deur die seuns van Dawid, en ons sien met verwagting uit na DIE seun van Dawid wat die HERE sou soek en die Here te alle tye voor Hom sou stel.  Soos ons die reis aanpak, sal ons baie leer oor wat dit beteken om Hom te soek en hoe dit lyk.  Ons sal ook leer oor wat dit beteken om Hom nie te soek nie en hoe dit lyk.  God wil by sy volk wees.  Die sleutel tot herlewing, vernuwing en hervorming het niks te doen met wat in die wêreld buite die kerk aangaan nie.  Dit het alles te doen met wat onder die verbondsvolk aangaan.  As jy dink dat die antwoord in die regte onderwys, regering, wetenskap of geld lê, is jou hoop tevergeefs.  Dit begin hier in die kerk. In gebrokenheid, afhanklikheid, passievolle soeke na God, en gebede gerig tot God!  Dit is waar ons herlewing sien!  Dit is waar ons God sien werk.  Deur nederigheid!

En vandag begin ons met Rehabeam, wie se regering slegs 17 jaar geduur het, maar waarvan die verhaal drie hoofstukke beslaan.  Sy besluite sou op die res van Israel se geskiedenis ‘n impak hê.  ‘n Seun van die man wat Spreuke geskryf het en alles doen wat die dwase seun in Spreuke doen.

Sy hart was nie daarop gerig om die HERE te soek nie:

  1. Hy het nie geluister nie
  2. Hy het nie gedien nie
  3. 'n Volk wat luister en dien

Soek die Here

Die wêreld het Israel se buitelandse beleid begeer.  Dit het goed gegaan met handel.  Vyande is stilgemaak. Israel was ‘n volk wat ‘n tyd van vrede beleef het.

Maar daar was ‘n gevoel van bitterheid aan die opbou in Israel.  Die mense onder Salomo is in ‘n ernstige mate swaar belas.  Die juk was swaar, en die volk Israel het die las gevoel.  Daar het 'n toenemende gevoel van onreg in die harte van die mense gegroei.  Die leier van God se volk het 'n onderdrukkende juk op sy volk geplaas.  Hy het gegroei in mag, rykdom en eer, maar dit het nooit gelyk of dit genoeg was nie.

God het hulle teen so ‘n koning gewaarsku.  In 1 Samuel 8, toe die volk die eerste keer vir ‘n koning gevra het, het Samuel gesê: “... Julle seuns sal hy neem en hulle vir homself aanstel by sy wa en by sy perde, dat hulle voor sy wa uit hardloop; en om hulle vir homself aan te stel as owerstes oor duisend en owerstes oor vyftig, en om sy land te ploeg en om sy oes in te samel, en om sy oorlogswapen en gereedskap vir sy strydwaens te maak.  Ook julle dogters sal hy neem as salfmengsters en as kooksters en baksters.  En van julle lande en julle wingerde en julle olyfboorde sal hy die beste neem ...  En julle slawe en slavinne en julle beste jong manne ... en self sal julle sy slawe wees.” (vs. 11-17)

Salomo was inderdaad nie die perfekte koning nie, maar hy het regverdig en verstandig regeer.  Maar nou is hy dood.  En daar sou 'n nuwe koning gekroon word.

Daarom gaan die hele volk na Sigem om sy seun Rehabeam te kroon.  Rehabeam het sy hele lewe hierop gewag.  Hy is gebore een jaar voordat Salomo die troon bestyg het.  Daar staan dat hy 41 was toe hy begin regeer het, en Salomo het 40 jaar regeer, so jy kan jou berekeninge maak.  Dit beteken dat hy sy hele lewe lank die spreekwoorde van sy vader gehoor het.

Die vraag was nou, het hy daardie wysheid sy eie gemaak?  Sou hy luister?  Was sy hart bereid om die Here te soek, of eerder welvaart, mag en aansien?  Wou hy die God van sy vaders soek?

Die toets kom alreeds op die eerste dag wanneer hy gaan om gekroon word.  Met die verandering van die regering voel die mense ‘n verandering van rigting aan.  Dit gebeur dikwels wanneer 'n regering verander en nog nie gevestig is nie.  Die mense stel eise aan die regering.  In hierdie geval lyk hierdie eise goed en selfs regverdig.

Hy gaan op na Sigem – die plek waar God sy verbond met Abraham bevestig het, al lank gelede in Genesis 12. Die plek waar Josua die volk gevra het om 'n keuse te maak oor wie hulle sou dien!  Sou dit God of die gode van die ander nasies wees?  Rehabeam staan voor dieselfde keuse: sal hy die God van sy vaders dien of sy hart volg?

Hulle kom na hom toe en sê: “U vader het ons juk hard gemaak; maak u dan nou die harde diens van u vader en sy swaar juk wat hy op ons gelê het, ligter; dan sal ons u dien.”  En wat doen hy toe?  Hy is wys en vra hulle om hom drie dae te gee.  Besluite neem tyd.  Dit is selde dat ‘n besluit onmiddellik geneem moet word.  En hy doen hy nog 'n wyse ding.  Hy nader die oudstes vir raad.

Dinge lyk belowend.  En die oudstes is nie die tipe mans wat net wil hê dat alles moet bly soos dit voorheen was nie.  Nee, dit is wyse manne wat die goeie sowel as die slegte sien.  Hulle vertel hom dat hy die geleentheid het om geskiedenis te maak.  Om groter as sy vader te wees, om die koninkryk uit te brei.  Om hierdie volk vir hom te laat dien en lief te hê.  Hulle is nie daar om die status quo te handhaaf nie, soos baie mense dink dat die oudstes sou wees.  Nee, hulle stel belang in wat die beste is vir die koninkryk.  Ware leiers.  Hulle sê: "As u vir hierdie volk goed is en hulle behaag en hulle met vriendelike woorde toespreek, sal hulle altyd u dienaars wees.”

Soos wat die verhaal vorder, dink ons almal: “Luister asseblief na hul raad!  Luister na die oudstes!  Kyk na die geloof van jou vaders en grootouers.  Moenie die raad minag nie.  Jy het ‘n geleentheid in die geskiedenis om die foute reg te stel en op daardie geloof voort te bou.”

Hierdie oudstes het geweet dat Salomo die volk onregverdig behandel het.  Dat hy, om 'n ware herder te wees en geliefd te wees by God se volk, aan hulle liefde moet betoon.  En hulle moet dien eerder as dat hulle hom bedien.  Rehabeam het die regte ding gedoen en wysheid gesoek.  Maar dit is nie genoeg om dit te soek nie, jy moet ook daarna luister.

Jy kan elke week hiernatoe kom.  Jy kan jou hele lewe lank katkisasie bywoon.  Jy kan grootword in die huis van die wysste koning.  Maar as jy net hoor en nie luister nie, beteken dit alles niks!

As hy maar net wou luister!  Wat ongelukkig nie gebeur nie.  In plaas daarvan om die Here te soek, soek hy sy eie welstand en die welstand van sy vriende.  Hy gaan na sy vriende, wat dieselfde ouderdom as hy is.  Die vriende saam met wie hy grootgeword het.  En hulle sê vir hom: “NEE!  Moenie na daardie ou mans luister nie! Sê vir die mense dat jy nog harder gaan wees!”

En wat gebeur?  Hy luister na sy vriende.  Hier leer ons ‘n les oor groepsdruk.  Ons is geneig om baie makliker na die mense van ons eie ouderdomsgroep te luister as na mense van 'n ander generasie.  Jou vriende het meer invloed as die wyse ouer leiers van die kerk.

Maar met ouderdom kom wysheid.  Met ervaring in die koninkryk van God kom die reg op leierskap.  Dit is waarom die Bybel vir ons sê dat leiers nie nuwe gelowiges moet wees nie.  Soos 1 Timotheüs sê: “Hy moet nie 'n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie.” (3:6)

En ons sien die dwaasheid van hierdie besluit in die res van die hoofstuk.  Dinge verloop baie sleg.  Hy verloor amper alles, selfs sy lewe!  Driekwart van sy mense verlaat hom.  Sy voormanne word doodgemaak.  En hy kan net-net ontvlug.  Dit is dan wanneer hy uiteindelik na God luister toe God vir hom sê om nie aan te val nie. Toe dinge sleg verloop, draai hy hom skielik na God.  Hier is 'n man wat in die moeilike tye in God glo, maar nie te alle tye nie.  Hy soek na God en kyk, ten spyte daarvan hoe dinge sou uitdraai, seën God hom!  Versterk hom! Mense kom selfs uit Israel om by die tempel te aanbid. En, soos ons lees in hoofstuk 11 vers 17, vir drie jaar lank is daar vrede.  Dinge is wonderlik.  Hy is weer sterk.  Gevestig.  O. as hy tog maar nederig sou bly!

Maar wat gebeur?  Soos ons in hoofstuk 12:1 lees, dit duur dit nie lank voordat hy God se wet verlaat nie.  Hy luister nie.  Trots kom weer by hom op.  As hy verneder word, erken hy sy behoefte aan God; as hy die geld en mag het, dink hy dit gaan alles oor hom.  God verneder hom weer, hierdie keer deur 'n vreemde buitelandse mag te stuur.  Deur die mond van ‘n ou profeet kry die koning die boodskap waarom dit met hom gebeur!  Dit gebeur omdat God jou verlaat het.  Hoe genadig is ons God nie!  Selfs as ons nie luister nie, stuur Hy nog steeds sy profete.

Weer eens luister hy, verneder hy homself, saam met al sy owestes.  Maar weer lees ons aan die einde van hoofstuk 12 dat hy weer sterk geword het.  En dit lyk asof dit is hoe sy regeringstydperk geëindig het.  In trots. Jy sien, dit is nie genoeg om wysheid te soek nie.  Jy moet ook luister.  Dit is nie genoeg om net te luister wanneer jy lus voel nie, maar jy moet altyd luister.  Die refrein van hierdie boek is dat ons weer en weer, keer op keer, aanhoudend na die HERE moet soek!

Die evangelie van Jesus Christus is nie vir die magtiges nie, maar vir die swakkes.  Die nederiges, diegene wat afhanklik is, en dit weet.  Wat 'n groot aanmoediging sou dit gewees het vir die mense van daardie tyd.  Dit is nie militêre mag wat hulle sou vrymaak nie; dit was vertroue en geloof in die Here, die God van Israel.

Dien die Here

Nederigheid en trots is ‘n groot tema in hierdie boek.  Selfvoorsiening maak dood, bring rampspeod en bring vernietiging.  Die eerste stap om met jou hart die Here te soek, is om jouself te verootmoedig.  Dit was trots wat hom gedryf het om na sy jong vriende te luister, dit was trots wat hom daartoe gedryf het om die HERE te verlaat nadat die Here hom sterk gemaak het.  Dit was trots wat die wortel van alle kwaad is.  En die gevolg van trots is altyd slawerny.  Slawerny aan jou behoeftes, slawerny aan jou ambisies.  Ons sien dit dwarsdeur die Skrif, maar veral in hierdie boek.  Daardie trots lei tot vernietiging en slawerny.

As jy dink dat die wêreld om jou draai, dan dryf jy ander tot slawerny en word jy ook 'n slaaf.  Ons sien hierdie tema pragtig uitkom in hierdie hoofstukke.  In hoofstuk 10 veroorsaak Rehabeam se trots dat hy homself as die middelpunt van die heelal stel en dat alle mense sy heerlikheid moet grootmaak.  Hy verslaaf sy eie mense. Hulle is daar om hom en sy belange te dien.  Die wêreld en die koninkryk van hierdie aarde gaan nie daaroor om ander mense te dien nie, maar om ander mense te gebruik om jou eie doel te bereik.  Hy sê dat Salomo met swepe getugtig het, maar hy sou dit met gésels doen.  Hy sou hierdie mense onder sy duim hou.  As jy nie eerstens die Here soek nie, dan soek jy jou eie welstand.  En mense word gebruiksvoorwerpe.  Hulle is bloot hulpbronne.

Ons sien dit oral om ons.  Die onderdrukking en boosheid van multi-nasionale ondernemings.  Werkers word bloot as hulpbronne beskou.  Gebruiksvoorwerpe, om maksimaal te gebruik. Ons moet onsself tydens 'n werksonderhoud verkoop.  Vroue word voorwerpe wat vir plesier gebruik word, mans word verslaaf aan hul eie instinkte.  En daar is nog baie voorbeelde.  Liewe gemeente, trots sal veroorsaak dat die mense wat naby aan jou is, voel soos slawe om aan jou begeertes te voldoen!

Trots in die kerk is dodelik. Ons sal dit weer en weer en weer sien.  Laat dié wat roem, in die HERE roem!  Wanneer die leiers van die kerk groei in hul eie roem, raak hulle trots oor hoe die kerk lyk en minder bekommerd oor die hart van die kerk.  Soos in die dae van Jesus.  Jesus veroordeel die leiers: “Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.” (Matt. 23:4)  Daar is geen skuld oor nie, behalwe die skuld om mekaar lief te hê soos Christus julle liefgehad het.

Trots en sy broer, slawerny, is die teenoorgestelde van die evangelie.  Dit is nie die evangelie nie!  Die evangelie van ons Koning is dat ons Koning nie gekom het om gedien te word nie, maar om te DIEN!  Die teenoorgestelde van Rehabeam.  Om sy eie lewe vir ons af te lê!  Om die minste te wees, nie die grootste nie!  Om diegene rondom Hom te verhef, nie om hulle te onderdruk nie.

Die lewe sonder God probeer nie net van ander mense slawe maak nie, maar dit maak van jou ook 'n slaaf, wat onder ‘n swaar las geplaas word.  Dit is wat met Rehabeam gebeur in hoofstuk 12.  Die ironie is dat die een wat die volk wou verslaaf, onder die mag van 'n vreemde mag geplaas is, en God sê self vir ons dat die rede hiervoor is dat die mense die verskil kan raaksien tussen diens aan die HERE en diens aan hom, soos ons in hoofstuk 12:8 lees.

God het sy volk onder die koninkryk van die wêreld gestel, sodat hulle die swaar juk van die koninkryk van hierdie aarde kan voel.  God doen dit soms, sodat sy volk tot bekering kan kom.  Dink net aan Paulus wanneer hy vir die gemeente in Korinthe sê dat hy 'n sondaar aan Satan moet oorgee, sodat hy die dwaling van sy weë kan leer.  Satan verslaaf mense.  Die koninkryk van hierdie wêreld is slawe van die sonde, hul eie begeertes.  En dit maak hulle stadig maar seker dood.  Net soos fisiese slawerny die lewe uit ‘n mens kan suig, so sal geestelike slawerny dit ook doen.  Dit sal van jou 'n leë dop maak.  Iets om te gebruik en weg te gooi.

Maar ons Koning het die juk van ons onderdrukkers, die dwarsbalk oor ons skouers en die stok van ons onderdrukkers, verpletter (Jesaja 9)!  Om ons uit slawerny na sy heerlike koninkryk te lei!

Die las van hierdie Koning is niks in vergelyking met dié van die wêreld nie.  Hy sê self sy las lig en sy juk is sag!  En so word die leierskap van die kerk geroep om te dien.  So word elke Christen geroep om te dien.  Nie om hulself sentraal te stel nie, maar die volk van God.  God stel nie leiers oor ons aan om te onderdruk nie, maar om God se volk te dien.  Om hulle op te pas, nie om hulle te oorheers nie.  Nie vir selfverheerliking nie, maar vir die welstand van ander.  Verneder jouself voor die aangesig van die HERE, en Hy sal jou ophef!  Dit is wat gebeur en dus word Rehabeam nie vernietig nie.  Soos ons in hoofstuk 12 vers 7 lees.

'n Volk wat die HERE dien en soek

In die middel van hierdie hoofstukke vind ons 'n helder lig, van 'n volk wat die Here soek en dien.  Wat die koninkryk nie verdeel deur hul trots nie, maar die koninkryk verenig deur hulself te verootmoedig in aanbidding voor die aangesig van die HERE!  So sien ons dat die resultaat van die diens aan die HERE seën en vrede, veiligheid en vreugde is.

Kyk net kortliks saam met my na 2 Kronieke 11:5-17. Nadat Rehabeam na die HERE geluister het, ten minste tydelik, versterk hy Juda en Benjamin.  En nie net dit nie, maar ook kom daar Leviete, priesters en mense uit die hele Israel na Juda, wetende dat God in die tempel in Jerusalem beloof het om sy Naam daar te vestig.  En dit was Dawid en Salomo wat deur God gekies is as erfgename van 'n ewige koninkryk.  Hulle laat selfs hul erfenis in Israel agter, soos ons in vers 14 lees.  Hulle besef dat dit God Self is wat hulle erfenis is.

En dit is nie net die Leviete en die priesters nie!  kyk maar net na vers 16: “...die wat hulle hart daarop gerig het om die Here, die God van Israel, te soek, (het) na Jerusalem gekom...”  Dit is hoe jy die HERE moet soek.  Jy gaan om Hom te aanbid.  Dit is waar jy veiligheid en krag vind.  Nie in sterk militêre magte nie.

Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is.  Moenie wag nie.  Hierdie mense het vertrek die oomblik toe hulle besef dat die noordelike koninkryk die tempel en die offerandes verlaat het.  Hulle het nie gewag om te sien of dit sou verander nie.  Hulle het die Here gaan soek waar Hy gevind kon word, in sy heilige tempel.  Liewe gemeente, moenie ophou om die HERE te soek nie.  Die oomblik dat 'n kerk ophou om Christus-gesentreerd te wees, en gerig raak op hoe goed hulle is, roep uit!  Bid!  En as hulle vals begin aanbid, loop weg van die kerk, verlaat dit.  Moenie terugkyk nie.  Jou erfdeel is by die HERE.  Soek Hom.  Nie jouself nie.  Nie jou land nie.  Nie jou kerk nie.  Net Jesus!  Hom alleen!  Hierdie teks sê wat Jesus saamvat met die woorde: "Maar soek eers die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word."

Ek hou van die feit dat daar staan “al die stamme van Israel”.  Nie net sommige stamme nie.  Nie net een of twee nie.  Want God sal getrou wees aan sy beloftes aan ALMAL in ISRAEL.  Aan sy hele volk.  Hy is getrou. Ondanks die ontrouheid van sy volk.

Hulle kom nie om Rehabeam te dien nie.  Hulle kom nie om 'n vreemde mag te dien nie.  Hulle kom soek die Here.  Om na die wysheid van God te luister.  Hierin lê die ware Israel!  Dit is diegene wat die HERE met hulle hele hart soek.  Wat bereid is om huis en familie te ontwortel om te midde van God se volk te wees!

Ongelukkig was die koning nie daarop gerig om die HERE te soek nie.  Ons lees in hoofstuk 12:13 dat hy weer sterk geword het.  En dat die laaste beoordeling van sy lewe soos volg was: “... want hy het nie sy hart gerig om die HERE te soek nie.” (12:14)  Of dit kan ook vertaal word as: “want hy het nie met sy hele hart na die wil van die Here gevra nie.”  Waar is jou hart?  Is ons daarop gerig om die HERE te soek?  Op ‘n manier is dit maklik om nou ‘ja’ te sê, wanneer dinge moeilik is en ons Hom nodig het om ons te help en te red.  Soos om die pandemie te beëindig.  Elke keer wanneer dit met Rehabeam sleg gegaan het, het hy 'n dawerende ‘ja’ op daardie vraag geantwoord het.  Maar toe dinge weer goed gaan, het hy net vir homself geleef en hom nie daaraan toegewy om God met sy hele hart te soek nie.

Maar soek jy dan werklik die HERE, of soek jy net die seëninge wat Hy bied?  Liewe gemeente, soek die HERE.  Hoe doen jy dit?  Aanbid Hom.  Deur jou eie lewe te verloor, en jouself telkens weer onder sy hand te verneder.  Dien Hom, en niemand anders nie.  Luister na sy Woord van wysheid as dit deur die ouderlinge na jou toe kom. Jy weet dat Hy die moeite werd is.  Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is, en moenie ophou om Hom en aangesig altyd te soek nie.

Amen.