Die afwesigheid van ‘n eerlike rigter ...

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-05-07
Teks: 
Rigters 20
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 20

 

Gewoonlik is daar in ‘n storie ‘n protagonis en ‘n antagonis.

‘n Persoon wat goed is en ‘n persoon wat sleg is.

Iemand waarvan mens hou, waarmee jy identifiseer, en iemand waarvan mens ‘n afkeer kry.

Toe ons laasweek die vorige hoofstuk behandel het, het mens al lesende jouself afgevra wie die protagonis is.

Tussen hakies, verlede week was langnaweek, heelwat van ons was weg.

Dit sal die moeite loon om laas week se preek ook te lees.

Dit sal help om hierdie geskiedenis, hierdie gebeurtenis aan die einde van die Rigterboek, beter te verstaan.

In elk geval, in die vorige hoofstuk het dit aanvanklik gelyk of die man wat sy vrou wat weggeloop het weer gaan haal het, die protagonis was.

Maar later in die hoofstuk het geblyk dat hy glad nie so goed was nie, inteendeel, hy was ‘n sadis.

Ook het mens die indruk gekry dat die ou man in Gibea, wat die reisigers gasvryheid verleen het, ‘n goeie mens was.

Maar toe hy sy eie dogter aanbied vir ‘n bende groepsverkragters, kon mens jou ore nie glo nie.

In kort, daar was geen protagoniste, geen goeie mense in die vorige hoofstuk nie.

Die een bomskok van ‘n berig het op die ander gevolg.

En die skokkende gevolgtrekking aan die einde van die hoofstuk was:

So iets het nog nooit gebeur nie!

 

Vandag kyk ons verder na hierdie geskiedenis.

 

Tema: Die afwesigheid van ‘n eerlike rigter ...

 

Ook hoofstuk 20 lyk of dit belowend begin.

Ten minste is die volk nou geskok, ten minste doen elkeen nie nou meer wat goed is in elkeen se eie oë nie.

Ten minste staan hulle nou saam.

Ten minste probeer hulle nou iets om hierdie ongekende morele verval onder die volk aan te spreek.

‘n Volksvergadering is bymekaar geroep, die mense het in massas opgedaag van Dan tot Berseba, dis van die noorde tot die suide, en nog van oorkant die Jordaan.

Hulle was lus vir aksie.

400 000 man wat die swaard uittrek.

Ook die Levitiese man, die een wat sy vrou in stukke gekap het, was daar.

Die volksvergadering ondervra hom: Vertel vir ons wat gebeur het.

En dan hoor ons hoe hierdie man vertel, oor die bende Sodomiete in Gibea wat hom wou verkrag.

Hoe hulle hom wou doodmaak.

Hoe hulle daarna sy byvrou onteer het, sodat sy gesterf het, en dat dit daartoe gelei het dat hy die volk se aandag wou trek vir hierdie verskriklike toestande in Gibea in Benjamin, en hoe hy daarom sy oorlede byvrou in stukke gesny het.

 

Nou gemeente, as iemand vertel wat gebeur het, moet mens nie net luister na dit wat hy sê nie, mens moet veral ook luister na dit wat hy nie sê nie.

Kom ek noem iets.

Uit sy storie klink dit asof die bende Sodomiete in Gibea sy byvrou gegryp het, sonder dat hy iets daaraan kon doen, asof hy magteloos was.

Hy noem nie dat hy self sy byvrou gegryp en buitentoe uit die huis uit gevat het vir die bende om haar te verkrag nie (Rigt 19:25).

Hy noem ook nie hoe hy niks vir haar omgegee het, toe hy haar die volgende oggend vind waar sy dood of halfdood voor die deur gelê het, hoe hy haar net op sy esel gelaai het asof sy ‘n sak koring was en verder getrek het nie.

Nog ‘n verdraaïng van die feite: Hy praat nie oor ‘n bende deugniete, Sodomiete nie, maar hy noem hulle die burgers van Gibea, asof almal in daardie stad betrokke was.

 

Dit klink eintlik bekend.

Is daar nie ook in ons land sulke mense, veral ook leiers, wat steel en lieg en moor, en as hulle ondervra word, is hulle die ene onskuld, is hulle selfs die slagoffer.

Hoe diep kan ‘n mens val?

Hulle is selfs bereid om ‘n land in oorlog te dompel, net om hulle eie straatjie skoon te vee.

Gemeente, hierdie Leviet is nie net ‘n sadis nie, hy is ook oneerlik tot en met, en dit met ‘n doel, naamlik om die res van Israel teen Gibea en die Benjaminiete op te stook.

Wel, hy was suksesvol.

Die volk het massaal teen Gibea opgetrek en geëis dat daardie bende Sodomiete uitgelewer word.

Maar opvallend dat Benjamin nie vir hierdie volksvergadering uitgenooi is nie.

Daardeur het die volk net die een kant van die storie gehoor.

By regspraak is die eerste beginsel: luister na beide kante.

Daar mag nie sonder verhoor ‘n oordeel uitgespreek word nie, het die HERE in sy wet bepaal (Deut 16:18).

In die kerk is dit ook so belangrik, voordat daar enige gevolgtrekkings gemaak word.

Is ons bereid om ook die ander kant van ‘n saak te hoor?

 

Gemeente, hierdie hoofstukke aan die einde van Rigters is vol wrang en ironiese opmerkings.

In die eerste plek, mens sou nie kon sê dat hierdie Leviet ‘n rigter was, vergelykbaar met manne soos Gideon of Jefta nie.

Hy was nie ‘n eerlike man nie.

Hy was niks minder as ‘n manipuleerder nie.

En tweedens nog ‘n ironiese feit, ten spyte dat hy nie ‘n Rigter, ‘n morele leier was nie, kry hy dit tog reg om 400 000 man bymekaar te kry.

Geen rigter kon dit ooit regkry nie.

Nooit was daar soveel manskappe bereid om teen die Kanaäniete te veg nie.

Maar nou het ‘n ongekende aantal van 400 000 man wel aptyd om teen hulle eie broers te gaan veg.

‘n Burgeroorlog wat tot dan toe ongekend was onder God se volk.

Is dit nie in die kerk ook so, dat ons soms meer baklei met broeders as met enigiemand anders nie ...?

 

Ook ironies hoekom Benjamin geweier het om die bende Sodomiete uit te lewer.

Het mense wat homoseksueel geleef het, toe ook al regte gehad?

Hoekom hulle geweier het, was ‘n raaisel.

Was hulle net hardkoppig?

Was hulle al sover moreel ontaard dat hulle nie ‘n mening gehad het oor hierdie Sodomiete nie?

Of het hulle te veel van hulleself gedink?

Want die Benjaminiete se soldate was spesmagte, die room van die room.

Die Rigterskrywer vertel van sewehonderd linkshandige manne wat met ‘n klip kon slinger sonder om ‘n haar te mis.

Was hulle oormoedig?

En hulle aanvanklike suksesse teen die 400 000 Israeliete het hulle nog oormoediger gemaak.

Maar liefs 22 000 Israeliete is deur hulle gedood.

En met die tweede veldslag dood hulle selfs nog 18 000 Israeliete.

Maar ja, 26 000 teenoor 400 000, dit moet ‘n keer misgaan.

Daar is al vrae gevra oor hierdie groot aantalle.

Moet 400 000 nie eerder vertaal word met iets soos 400 distrikte of afdelings, of 400 stede en dorpe nie?

Hoe dit ook sy, die verhouding bly dieselfde, naamlik die totale getalsmatige oormag wat die Israeliete oor Benjamin gehad het.

 

Die derde keer het dit toe fout gegaan vir Benjamin, en ook volledig fout.

Benjamin moes nou op twee fronte veg en hulle was reeds uitgeput.

Van die 26 000 spesmagte, vertel die Rigterskrywer, is meer as 25 000 op daardie een dag uitgeroei.

Net ‘n skamele 600 man kon ternouernood ontsnap.

Hulle kon net betyds die rotse van Rimmon by die woestyn bereik.

Dis ‘n bergagtige gebied met honderde klein grotte waarin hulle redelik maklik kon wegkruip.

 

Maar nog was Israel nie klaar nie.

Die hoofstuk eindig met die droewige berig dat ook al die ander Benjaminiete, vroue en kinders, en die diere, met die skerpte van die swaard verslaan is, en al hulle stede is aan die brand gesteek.

Dit klink soos die banvloek.

Pleks van die Kanaäniete met die banvloek te tref, doen hulle dit nou met een van die stamme uit hulle eie volk.

 

Hierdie hoofstuk het op ‘n manier hoopgewend begin.

God se volk staan op teen die totale morele verval in eie geledere.

Die buitensporige geweld teen ‘n Leviet se byvrou word aangespreek.

Die moord op haar word gewreek.

Maar teen watter koste?

‘n Burgeroorlog op ongekende skaal.

Meer as 50 000 soldate sneuwel, al die vroue en kinders nog nie saamgetel nie.

Is dit wat mens noem geregtigheid?

Die hoofstuk eindig met nog ‘n dieper afgrond.

Nie die sonde is uitgeroei nie, maar ‘n hele volkstam.

Weer eens kan mens wanhopig uitroep:

So iets het nog nie gebeur nie!

Wat moet ons nou doen?

Neem dit tog ter harte, gee raad en spreek! (Rigt 19:30)

 

Gemeente, daar is een aspek in die hoofstuk waaraan ons nog nie aandag geskenk het nie.

Dit is die feit dat Israel die HERE gaan raadpleeg het.

Wat het dit ingehou?

Wel, die volk het na Bet-el opgetrek, want, staan daar in vers 27, die verbondsark was in die dae daar.

En, vers 28, die hoëpriester was daar – Pinehas, die seun van Eleasar, die seun van Aäron.

En, soos ons weet uit die wet van die HERE, deel van die hoëpriester se klere was die borstas.

Dit is genoem die borstas van beslissing (Ex 28:30), want daarin was die twee klippies, twee edelstene, die Urim en Tummim.

Daarmee kon die HERE geraadpleeg word.

Byvoorbeeld of hulle moes uittrek teen die vyand of nie (Num 27:21).

‘n Ja of ‘n nee het die HERE dan as antwoord gegee.

 

Drie keer raadpleeg Israel die HERE in Rigters 20.

Die eerste keer sien mens dat Israel meer as oortuig is dat hulle die regte ding doen.

Hulle vra nie eers vir die HERE se toestemming vir hierdie oorlog nie.

Hierdie is ‘n regverdige oorlog, daaroor leef daar by hulle geen twyfel nie.

Al wat hulle nog van die HERE wil weet, is watter stam eerste moet optrek.

En die antwoord klink logies dat dit Juda moes wees.

Die vermoorde vrou was mos uit Juda.

Ook al aan die begin van die boek Rigters was Juda die eerste stam wat moes optrek (Rigt 1:1-2).

Tog is daar ontstellende verskille:

Toe het hulle opgetrek teen die Kanaäniete, nou teen ‘n broederstam.

Toe het hulle opgetrek onder leiding van Josua, nou op aanhitsing van ‘n oneerlike en manipulerende Leviet.

Die uitkoms het ook hemelsbreed verskil.

Toe is die Kanaäniete verslaan, nou sneuwel 22 000 Israeliete.

 

En dan volg die tweede keer wat die volk die HERE raadpleeg, na hierdie geweldige nederlaag toe 22 000 gesneuwel het.

Israel is verslae.

En in die vraag wat hulle nou aan die HERE voorlê, klink dit asof hulle tog ‘n bietjie begin twyfel of hulle met die regte ding besig is:

Hulle noem Benjamin nou “my broer” (vers 23).

Tog lei hulle weer ‘n nederlaag.

 

Die derde keer wat hulle die HERE raadpleeg is in absolute wanhoop.

Hulle het weer teen Benjamin verloor en nog 18 000 man is gedood.

Die volk was desperaat.

Hulle het geween, hulle het gevas, hulle het offers gebring.

Hierdie keer het hulle openlik getwyfel.

Hulle het eksplisiet ook die opsie genoem: Moet ons nie maar liewers ophou nie? (vers 28).

 

Mens vra jouself af hoe dit moontlik was dat die HERE twee keer vir sy volk gesê het: Trek op, terwyl die HERE vooraf geweet het dat dit sou gebeur?

Duidelik is in elk geval dat die gebruik van die Urim en Tummim nie ‘n kortpad na sukses was nie.

In feite, en dit moet mens besef wil jy hierdie geskiedenis verstaan, in feite het Israel hier die Urim en die Tummim verkeerd gebruik, ja misbruik.

Watter vraag is dit om aan die HERE voor te lê of jy maar een van die stamme uit sy volk kan uitroei?

Of jy maar teen jou eie broer kan gaan oorlog maak??

Wesenlik vir die goeie gebruik van die Urim en die Tummim was om vooraf seker te maak of iets nie teen God se geopenbaarde wil was nie.

God praat nie in die eerste plek met sy volk deur hierdie twee klippies nie.

Hy het veral met sy volk gepraat toe Hy aan hulle sy verbondswet gegee het.

Naby was sy Woord, in hulle eie taal.

 

Gemeente, hierdie misbruik gebeur vandag ook nog.

Daar is nie meer ‘n Urim en ‘n Tummim nie.

Maar mense bid soms tot God, en na die tyd vertel hulle dat hulle nou weet dat God ook ja sê.

Byvoorbeeld iemand wat ‘n ander vrou wil vat, terwyl hy sy eerste vrou in die steek laat.

Dit is teen God se geopenbaarde wil.

Jy kan nie jou gebed gebruik om goed te praat wat volgens God se Woord nie goed is nie.

 

Ja, daardie bende Sodomiete uit Gibea moes hulle welverdiende straf ontvang.

Maar om vervolgens ‘n hele stam uit Israel uit te roei ...

Hoe kon die volk verwag om die HERE se goedkeuring vir soiets te kry?

 

Tog bly daar nog vrae oor wat betref hierdie geskiedenis.

Want die HERE het tog wel twee keer gesê: Trek teen Benjamin op (vers 23 en 28).

En in vers 35 staan selfs: “Toe het die HERE Benjamin voor Israel verslaan”.

Hieruit kan mens tog duidelik aflei dat dit God se wil was dat dit met Benjamin sou gebeur.

Hoe kon dit gebeur dat God op so ‘n wyse by hierdie oorlog betrokke was?

Hoekom het Hy tot drie keer toegelaat dat die Urim en Tummin ja sê vir die oorlog?

 

Inderdaad, die HERE het die geskiedenis so gelei.

In sy raad het Hy toegelaat dat sy volk mekaar uitmoor.

Hy het hulle die wrange vrugte laat proe van hulle morele afval.

Hy het hulle op die rand van die afgrond gebring, Benjamin veral.

Om te dink, alle vroue en kinders is uitgemoor.

Net 600 man kon hulleself in veiligheid bring.

Watter toekoms is daar vir ‘n stam met net mans, sonder enige vroue?

Sal God se volk ooit weer uit hierdie afgrond kan kom, ooit weer verenig word as 12 stamme?

 

Wat kan ons leer uit hierdie verhaal waarin ons beslis geen protagoniste, geen goeie mense, geen morele leiers, geen eerlike rigter ontmoet nie?

Gemeente, eerstens dit: Al is God se raad ondeurgrondelik, is dit vir ons nie heeltemal verborge nie.

Want, lees maar byvoorbeeld Deuteronomium, in sy wet het die HERE reeds vir toestande soos hierdie gewaarsku.

En klaarblyklik het, na eeue waarin die volk gedoen het net wat goed was in hulle oë, toegelaat dat hulle nou oorgegee word aan hulleself, aan die konsekwensies van hulle eie dade, van hulle eie lewensstyl.

Dit is eerstens wat God se Woord leer, vir ons, en ook vir ons tyd.

God kan ‘n land die konsekwensies laat proe van hulle wetteloosheid.

God kan ‘n kerk die konsekwensies laat proe van hulle afval.

En ja, soms is daar ‘n uitbarsting van verontwaardiging as iets verskrikliks gebeur het ...

‘n Verkragting, ‘n rooftog, ‘n moord, ‘n staatskaping.

Dit kan lei tot ‘n teenreaksie.

Maar soos in hierdie hoofstuk, moenie outomaties dink die teenreaksie is dan goed nie.

As daardie teenreaksie nie gevoed word uit God se Woord, in lyn met sy geopenbaarde wil, is dit nie goed nie.

 

Dit bring ons by ‘n tweede aspek wat ons uit hierdie geskiedenis moet leer:

Moenie die verkeerde ‘rigter’ volg nie.

Hierdie Leviet was nie deur God geroep nie.

Hy was die absolute omgekeerde van ‘n gehoorsame rigter.

En elkeen wie in die lig van God se Woord geleef het, kon dit geweet het.

Moenie ‘n verkeerde leier volg nie.

 

Ja ons lig in ‘n donker wêreld is God se geopenbaarde wil.

Laat ons in die lig daarvan dit wat gebeur toets, ook die wêreldleiers, die geestelike leiers.

Tans voer Putin ‘n oorlog in Ukraine in naam van godsdiens, selfs met die seën van patriarg van Rome.

Die Russies Ortodokse Kerk staan bankvas agter hom.

In Amerika staan talle Christene bankvas agter Trump.

En hoeveel Christene in Suid-Afrika sukkel nie om ontslae te raak van hulle blinde lojaliteit aan die ANC nie?

Hoeveel van ons het in die apartheidstyd leiers gevolg wat die Bybel voor hulle eie karretjie gespan het?

Moenie die verkeerde leiers volg nie, nie in die samelewing, ook nie in die kerk nie.

Laat ons telkens teruggaan na die Woord, God se geopenbaarde wil.

Dit is ons lig in ‘n donker wêreld.

En dan moet, mag ons direk opkyk boontoe, na ons hemelse Leier.

Ons Here Jesus Christus.

As ons Hom volg, gee Hy lig vir ons aardse lewensweg.

Jesus Christus, want Hy is die Woord, Hy het God se wil aan ons geopenbaar.

As ons Hom volg, dan leef ons in die lig, al word dit om ons heen hoe donker.

Ons Here Jesus was en is die morele Leier, sonder enige sonde.

Hy was die gehoorsame Rigter, ook tydens sy lewe op aarde, ook toe dit so donker soos nog nooit tevore aan die kruis geword het.

En vandag is Hy nie afwesig nie, Hy is die aanwesige Rigter, soos Hy beloof het:

“Ek is die Alfa en die Omgea, die begin en die einde ... wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” (Openb 1:8)

 

God se genade was groot.

Hy het sy versplinterende, afvallige bondsvolk tog weer verenig onder ‘n troue leier.

Hy het gesorg dat daar ‘n tyd gekom het waarin daar ‘n koning in Isael was, en dat elkeen nie meer kon doen wat reg was in sy oë nie.

God se genade is groot.

Vandag regeer die Messias en versamel sy bondsvolk oor die lengte en breedte van die aarde.

Laat ons Hom volg.

Laat ons die oorloë voer wat Hy voer, nie ons eie oorloë nie.

Laat ons geregtigheid van Hom verwag, nie van reaksionêre volksbewegings of belange groepe of leiers wat aan die einde van die dag verleiers en valse christusse is nie (Matt 24:24; Mark 13:22).

Hy is ons lig in ‘n wêreld wat al donkerder word.

Tog sal die duisternis nie die laaste woord hê nie.

Die duisternis kan die lig nie uitdoof nie (Joh 1:5).

Laat ons lewe soos kinders van die lig.

“Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig.” (Ef 5:8)

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Rigters 20

Teks: Rigters 20

Tema: Die afwesigheid van ‘n eerlike rigter ...

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Was die Leviet wat sy byvrou in stukke opgesny het, ‘n rigter deur God geroep?
  2. Wat het die volksvergadering nagelaat om te doen, nadat hulle na die Leviet geluister het?
  3. Hoekom het die volk nie die Urim en Tummim reg gebruik nie?
  4. Kan die Here sy kinders oorlaat aan hulle eie afval?
  5. Dank die HERE vir ons Here Jesus Christus, wat ons betroubare Rigter is vir die hede en toekoms.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 107:1,3

Wet

Ps 119:27,53

Skriflesing: Rigters 20

Ps 78:20,22-25

Teks: Rigters 20

Preek

Ps 105:10,15,23,24

Gebed

Kollekte

Ps 68:12,13

Seën