’n Tempel om die HERE onse God te aanbid

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2021-02-07
Teks: 
2 Kronieke 2: 4
Preek Inhoud: 

Die tempel was ’n plek van aanbidding.  ’n Plek waar God sy volk ontmoet.  ’n Heilige plek.  ’n Huis.  ’n Tuiste.  ’n Stukkie aarde waar die hemel naby gekom het.

In die paradys was die hele tuin ’n tempel waar Adam en Eva die teenwoordigheid van God in tyd en ruimte geniet het.  Hulle het gesondig, en is uit die huis van God gesit.  God het twee gerubs of engele aangestel om die weg na gemeenskap met God te bewaak.  Daarna was dit nie meer moontlik vir die sondige mens om gemeenskap met God te hê op enige tyd en by enige plek nie.  Dit was slegs moontlik in ’n spesifieke plek, in spesifieke omstandighede.  Daardie plek was die tempel.  ’n Beeld van die paradys, van God wat onder die mense woon.  Of nog beter: ’n beeld van die realiteit wat Jesus Christus is.  Die plek waar God en die mens ontmoet.  “’n Huis van rus”, soos Dawid dit noem.  ’n Huis van rus in ’n rustelose wêreld.  ’n Plek waar die vrede tussen God en die mens uitgebeeld is in die verbond wat in die ark vervat is.

Vandag behandel ons die tempel.  Dit was die plek waar God sy volk ontmoet het.  ’n Regte plek.  Dit was ’n gebou van asemrowende prag en die massa gepoleerde goud het geblink in die son onder die skoonheid van die Oosterse hemel.

’n Tempel om die Here onse God te aanbid:

  1. Die Voorbereiding

  2. Die Bou

  3. Die Voorwerpe

Die Voorbereiding (Hoofstuk 2)

Ons lees in vers 1: “En Salomo het gedink om vir die Naam van die Here ’n huis te bou en ’n huis vir sy koningskap.”  Dit is die volgorde van die lewe.   Bou ’n tempel en dan ’n huis.  Die beste ding, mees blywende ding, heerlikste ding is om aandag te skenk aan die bou van die tempel van God, wat in die Nuwe Testamentiese era die kerk is.  Dit herinner ons aan die profeet wat in hierdie tyd toe die woorde neergeskryf is, gespreek het: “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?  So sê die Here van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het.”

Dit sou ’n wonderlike herinnering aan die eerste generasie gewees het om besig te raak en hierdie tempel te begin bou.  Dit moet ’n bemoediging vir ons wees, om dit wat belangrik is, eerste te stel.  Waaraan wy ons ons lewe?  Ons geskenke?  Juis nou.  Is ons toegewy aan die opbou van die kerk?  Die bemoediging van gemeentelede?  Om maniere te vind sodat ons in kontak bly met mekaar?  Om lief te hê?  Om die Woord in die lewe van ander te spreek?  Om te evangeliseer?

Ons lees ook dat dit ’n huis is wat deur vreemdelinge gebou is (153 600 om presies te wees) wat vir sewe jaar gewerk het.  Hierdie mense is belangrik genoeg om twee keer genoem te word.  Een keer aan die begin van die hoofstuk en een keer aan die einde van die hoofstuk.  God se tempel word deur die nasies gebou. Deur mense van elke tong, stam, nasie en taal, wat saamwerk om ’n glorieryke huis as woonplek vir God te bou.

En nie alleen word dit deur vreemdelinge gebou nie, maar ook met hulp van vreemdes, naamlik Huram, die koning van Tirus.  En die beste hulpbronne wat die skepping gebied het.  Geen onkoste is ontsien nie.

Dit was ’n glorieryke tempel waarvan die plan direk uit die hemel van God gekom het.  Dit is nie ’n tempel waaroor Salomo gedroom het nie.  Nee, hy het die planne vir die tempel direk van Dawid gekry wat dit weer direk van God self gekry het.  Dit is ’n gebou waarvan God die argitek is, en waarvan die seun van Dawid die bouer was.  Ons lees in 1 Kronieke 28:12 dat Hy hom gegee het ’n “voorbeeld van alles wat by hom in die gees was: van die voorhowe van die huis van die Here en van al die kamers rondom.”  Hierdie plek was nie net ’n gewone tempel nie; dit het ook ingesluit: ’n voorhof van die tempel, sy huise, sy skatte, sy boonste kamers, ensovoorts... vir die verdeling van die priesters en Leviete, en al die dienswerk in diens van die Here; vir al die voorwerpe in die huis van die Here.  Ek sou kon aangaan, maar ek dink julle verstaan. God het aandag gegee aan die kleinste detail.  God is ’n God van detail, maar ook van die geheel.  Dit was sy plan.

Hy gee om oor die klein detail van die tempel.  Die dele waaraan ander mense dalk nie aandag gee nie.  Dit is waar van die tempel vandag ook.  Hy gee om oor die kleinste detail.  Nie net die eredienste nie, maar elke deel van die tempel – elke persoon wat hier is, is ’n bewys van God se oog vir detail.  Elke persoon moet wees waar hulle is, om deel te wees van die tempel wat Hy bou.  En dit is nie ons plan nie, maar God s’n.  En God het al die voorbereidings vir die tempel gedoen.  Hy het sy Seun gegee sodat Hy die hoeksteen kan wees.  Dit is God wat die tempel bou en God sal dit voltooi.

Geliefde gemeente, hierdie gemeenskap word nie deur ons opgebou nie.  Ja, ons moet werk.  Maar die gebou en die ontwerp kom direk van God af, en ons moet bou volgens sy plan en niemand anders s’n nie. Want die tempel in die Nuwe Testament is die kerk – die volk van God.  En die boustene is die gelowiges, wat Hy sny en saam laat pas om iets pragtigs, iets glorieryks te maak.  Ja, hierdie kerk is ’n beeld van daardie gebou.

Hy gee vir mense die werk en gee hulle dan ook die gawe om die werk te kan doen.  Net soos wat Hy Besaleël en Oholiab aangestel het om te help met die bou van die tabernakel in Exodus, en vir hulle die gawes en hulpbronne gegee het daarvoor, so doen Hy dieselfde vir Salomo, en ’n man genaamd Huram Abi hier in ons teks.

En sien u waarvoor hierdie tempel gebou word?  Dit word gebou vir aanbidding.  Om God te verheerlik en te aanbid.  Lees net vers 4.  En omdat dit ’n huis van aanbidding is, wat gebou is tot eer van God, moes dit groot wees, omdat “ons Heer groter is as al die gode”.  Ek hou baie hiervan!  Hy evangeliseer en sê basies dat hierdie tempel groot sal wees omdat ons God groter is as alle gode!  Dit sal die plek van aanbidding wees!

Sien julle hoe God werk?  God is die uiteindelike argitek.  Hy gee die hulpbronne, en Hy gee die nodige gawes vir die gebou.  Sommiges van ons is draers in die kerk, sommiges is klipkappers, sommiges is voormanne.  Sommiges is ontwerpers.  Elkeen het ’n spesifieke taak.  God het elke liewe een van sy heiliges ’n unieke gawe gegee, om aan die bou van die tempel deel te neem, en Hy verskaf ook die hulpbronne sodat ons daardie gawes kan toepas.  Soos Dawid sê in 1 Kronieke 29:14: “Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.”

Laastens, net ’n opmerking oor die prag.  Kyk na hoeveel kunstenaars betrokke was.  Borduurders, houtsnyers, mense begaafd met groot artistieke vermoëns.  Die kerk is glorieryk, maar ook pragtig.  Ons gee om oor mooi musiek, liturgie, geboue.  Ons gee om oor die verheerliking van God met ons kunstigheid. Daar is plek in die kerk vir die kunstenaars.  Dit is die gebou wat bestaan uit die beste materiale wat die skepping ons bied, met die beste wat die mensdom kan bied, en dit alles word saam gebruik om God te verheerlik.  Dit is waarvoor ons gemaak is.  Om as een te bou aan die kerk – die tempel van die heilige God. Kom ons kyk nou verder na hierdie gebou.

Die Gebou (Hoofstuk 3)

“En Salomo het die huis van die Here begin bou in Jerusalem op die berg Moria waar Hy aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek wat Dawid reggemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.”  Sjoe!  Hierdie plek het ’n ryk geskiedenis!  Dit is ryk aan verbondsbeloftes!  Weer eens, wat ’n motivering is dit dan nie vir die volk wat pas uit ballingskap teruggekeer het en klein gevoel het nie!  ’n Hoop dat God weer sal verskyn op sy heilige berg.  Die plek was ryk aan die beloftes van God!  Dit was ’n plek waar hulle die geleentheid gehad het om in aanbidding op God se getrouheid te reageer!

Die berg Moria is die plek waarheen Abraham gegaan het om sy seun te offer, voordat die Here uit genade ’n ram gegee het.  Dit is die enigste plek buiten Exodus waar die berg Moria genoem word.  Die skrywer wil die mense nie net oor die geskiedenis inlig nie, maar ook oor die plek.  Dit is die plek waar God reeds van die begin van jou geskiedenis af werk.  Dit is heilige grond.  Jy kan verwag dat Hy hier werk. Groot hoop vir die volk wat presies op daardie plek weer begin herbou het.  Die dorsvloer van Ornan is die plek waar Dawid geoffer het om die plaag van die verwoestende engel te stop.  Dit is die plek waar die oordeel van God oor sonde deur offers bevredig is.  Die vloek is daar gestop.  En van daar sal die vloek eendag ongedaan gemaak word, en goeie nuus sal na die eindes van die aarde versprei word, sodat die tempel nie weer net een plek sou wees nie, maar die hele aarde!

Julle het my dit al hoor sê vanaf die preekstoel, maar dit kan nie genoeg benadruk word nie.  Ons geloof is gegrond in die geskiedenis van ruimtetyd.  Dat ons God die God is wat alles geskep het en steeds betrokke is by sy skepping.  In plek en tyd.  Dit is die plek wat die historiese realiteit van God se bonatuurlike ingryping in tyd aandui.

Ons is minder geheg aan plek as die mense van die ou tyd.  Sommiges mag dalk dink dat dit nie saak maak of God in Israel of in Afrika gesterf het nie.  Maar God het hierdie spesifieke plek gekies – en nie enige ander plek op aarde nie – om Homself bekend te maak.  Hier naby is ook die plek waar die vrou se saad eendag die slang se kop sal vermorsel.  Dit is hier waar die hemel en die aarde in die Ou Testament ontmoet het.

En ja, dit was net op een plek in die Ou Testament!  Totdat Jesus self onder ons kom woon het!  Hy is die tempel – die plek waar God en die mens ontmoet!  En waar twee of meer in God se Naam vergader, daar sal Jesus in hul midde wees.  Dit beteken dat die plek waar ons ontmoet, heilige grond is!  Toe Hy opgevaar het, is Hy as die Koning van die heelal gesalf.  Die hele aarde is teruggeëis.  Die hele skepping is tot ’n tempel gemaak.  Dit is waarom Johannes op die eiland van Patmos kon wees, en tot in God se troon geneem kon word, want dit is waar God ontmoet het!  Dit was in sy tempel.

Ons het die afgelope jaar baie keer gehoor dat die kerk nie ’n gebou is nie.  En dit is inderdaad waar.  Dit is nie.  Maar dit is die volk van God.  En hierdie tempel is gebou op Christus as die hoeksteen, en die profete en apostels as die fondament.  Die fondament lê die grootte van tempel uit.  Ons is mense, en onlosmaaklik geheg aan die skepping, aan plek.  Dit is waarom ’n huis ’n tuiste word.  ’n Stuk land verander in ‘n vaderland.   Dit was nie die plek self nie, maar dit wat daardeur verteenwoordig word.  Op dieselfde manier gaan dit nie oor die gebou self nie, maar oor dit wat daar gebeur.  Dit is nie die huis wat dit ’n tuiste maak nie.  Maar die feit dat daarin geleef word.

Vers 3 sê: “En dit is die grondplan van Salomo vir die bou van die huis van God: die lengte, in elle volgens die ou maat, sestig el, en die breedte twintig el.”  Sommige van die stene vir die fondament is ses tot nege meter in lengte en het so perfek inmekaar gepas dat nie eers ’n knipmes daartussen ingedruk kon word nie.  Die fondament is in die vaste rots gebou.  ’n Vaste fondament.

En kyk na die gebou self.  Alles was oortrek met goud.  Daar was kerfwerk van gerubs wat in die mure ingekerf is en op die gordyne geborduur is.  En twee massiewe gerubs van hout wat bo‑oor die ark van die verbond gestaan het.  In daardie ark was die wet, en bo‑op daardie ark was die deksel wat dikwels die versoendeksel genoem word.  Jy kan maar sê dit was die troonsaal van God op aarde.  En hierdie huis is gemaak vir die Koning van heerlikheid!  En op die gordyne wat die ark beskerm het, is twee gerubs of engele geborduur.  Hierdie hoofstuk gee baie aandag aan die beskrywing hiervan.  Massiewe gevlerkte skepsels.  Ons sien hulle elke keer wanneer ons ’n blik kry van die teenwoordigheid van God, soos in Jesaja 6, Esegiël 1 of Openbaring 4.

Wat is die laaste plek waar jy twee gerubs gesien het wat die weg na gemeenskap met God bewaak het?  In Eden.  Hier staan ook twee gerubs wat wag hou in die allerheiligste.

Die tempel was ook soos ’n koninklike paleis gevul met purper, skarlaken en goud wat geskik is vir ’n koning!  En geen onkoste is ontsien nie.  Sommiges glo dat die waarde van die goud wat gebruik is, in vandag se waarde tussen 70-80 biljoen Rand werd was.  Dit is die stad van die KONING!  Dit is ook nie net enige koning nie, maar die Koning van heerlikheid!

Dit dwing ons ook vorentoe na die nuwe Jerusalem, waar ons ook vrugtebome sien wat lei na die stad, net soos wat ons dit hier sien; kettings van honderde granaatjies het voor die huis gehang.  In Johannes se visioen van hierdie stad is daar geen tempel nie (Openbaring 21:22), want die tempel het gegroei om die hele stad te omvat, wat oorgetrek is met goud en juwele; en dit is ’n perfekte kubus, die vorm van die Allerheiligste.  Die stad glinster van God se heerlikheid, maar daar is nie meer mure wat die mense van God skei nie; daar is ook geen altaar nie, maar in plaas daarvan woon daar die Lam, wat die finale offer was.

Die pad vanaf die buitenste voorhof na die hoofvertrek, en vanaf die hoofvertrek na die Allerheiligste toon verskillende vlakke van heiligheid.  Mure, deure en die voorhangsel het die mense van God se heerlikheid geskei en het die tempel beskerm van besmetting deur die onreine.  Die glansende goud, en blou, pers en rooi materiaal verteenwoordig die glansende heerlikheid van God se teenwoordigheid in die hemele, en die gerubs wat oral uitgebeeld is, verteenwoordig sy militêre mag terwyl dit ook die weg na sy teenwoordigheid versper.  Die pilare wat buite staan, het name wat permanensie en sterkte oproep, en wat meedeel dat die ontwerp van die tempel ’n blywende plek is vir God om te woon.

Jagin beteken “hy sal stig” en Boas beteken “in hom is sterkte.”  Soos wat mense na die tempel stap, is dit waaraan hulle herinner moet word!  Soos Dawid sê: “Ons dae op die aarde is soos ’n skaduwee, en daar is geen verwagting nie.”  Maar in God is daar vastigheid.  Lewe.  En daardie lewe is gebaseer op sy verbondsbeloftes wat visueel in hierdie huis uitgebeeld is.  Die mense moes dit onthou.  Daar is nêrens anders sterkte behalwe in die Here nie.

Die Voorwerpe (Hoofstuk 4)

Dit is baie interessant dat die Kroniekskrywer baie min tyd aan die gebou, maar baie tyd aan die voorwerpe bestee.  Hoekom?  Wel, miskien omdat hulle baie van hierdie voorwerpe nog steeds ná die ballingskap gehad het.  Ons lees in Esra en Daniël dat minstens 5 400 voorwerpe van die tempeldiens saamgeneem is met die ballinge.  Ons het oor die belangrikheid van plek gepraat, maar dinge is net so belangrik.  Ons sal dit in die boek sien.  Hoe hierdie items soms gebruik is om God te verheerlik, en soms om Hom te laster.

Weer eens, die gehegtheid aan die verlede gee hoop vir die toekoms.  Ons raak maklik geheg aan dinge, want ons is gemaak vir die skepping.  Dinge soos ’n familiefoto of ouma se porseleinstelletjie kan vir ’n persoon baie meer werd wees as hulle massiewe TV-skerm.  Hoekom?  Nie weens sy waarde nie, selfs al is dit baie waardevol, maar omdat dit al vir baie geslagte in die familie is.  Vir ander is daardie porseleinstelletjie net ’n gewone item, en vir iemand anders is daardie foto nutteloos.  Maar vir jou is dit van onskatbare waarde.  Hoekom?  Want dit is ’n deel van jou.  Dit is jou geskiedenis wat deur daardie voorwerpe spreek.  Dit is wat daardie meubels was.  Vir die omliggende nasies was dit net gewone borde, bekers, kandelare, maar vir die volk van God was dit items wat deur God eenkant gesit is om heilig te wees.  Toegewy aan die Here deur al die geslagte heen.  Ons lees dat hulle na Babel geneem word, en ons lees dat Belsasar dit misbruik het, en dat dit uiteindelik teruggeneem word.

In hierdie gedeelte sien ons ook ’n paar groot voorwerpe soos die brons see, wat deur twaalf beeste regop gehou is, wat waarskynlik die twaalf stamme verteenwoordig.  Dit is die laaste voorwerp wat gesien word voordat ’n mens die tempel ingaan.  Voordat ’n mens in God se teenwoordigheid kom, moet jy gereinig word.  Die hoofstuk bestee nogal tyd daaraan om dit te verduidelik.  Asof dit wil sê: Israel, jy het reiniging nodig voordat jy in my teenwoordigheid kan wees!  Jy moet gewas word!  Jy is vuil!

Toe Christus gesterf het, is sy volk vir eens en vir altyd gereinig deur sy bloed aan die kruis.  Ons het nie meer ’n rituele reiniging met water nodig om voor God te verskyn nie, want Christus het “reiniging vir ons sondes bewerk”.  Nou kan ons “met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan” (Hebreërs 4:16), met die wete dat ons aanvaarbaar is voor Hom omdat ons geestelik skoon is.  En in plaas van ’n see, vloei daar ’n rivier uit die stad, wat die lewe in die Gees simboliseer, wat na die aarde kom vanuit Christus se werk.

Ons lees ook van die kandelaar wat die hele tempel heerlik verlig het, veral as jy dink aan die lig wat die goud gereflekteer het.  Maar daar was een plek waar die lig nie geskyn het nie.  Wat in totale duisternis gehul was.  Dit was die Allerheiligste.  Met deure en ’n dik voorhangsel wat die weg daarheen keer.  Slegs een keer in ’n jaar het die lig van die kandelaar daar geskyn.  Maar nou?!  Nou mag ons in die teenwoordigheid van God kom.  Die weg is geopen, en sy lig reflekteer glorieryk deur die kerk, die tempel van God!  Die Heilige Gees self reflekteer daardie lig in ons!  En soos wat ons Syne aanskou, so begin ons gesigte ook verander van heerlikheid tot heerlikheid.

Laastens kyk ons na die tafel met die brode, wat die volk daaraan herinner het dat God die Voorsiener en Onderhouer van almal is.  Hier, op hierdie oomblik, word die brood nog steeds vir ons aangebied.  Die brood van die lewe.  Sal jy eet en versadig word?  Dit is die enigste voedsel wat tot in ewigheid behoue bly.

O geliefde gemeente, sien julle dat daardie hele tempel, met ander woord met alles daarin, hulle moes herinner aan wie God was?  Dit herinner ons aan wie God is vir ons!  Hoe belangrik is dit nie vir hierdie volk wat terneergedruk, verslaan en klein gevoel het, om dit te onthou nie!   Salomo was ’n koning met wysheid bedeeld, wat God oor sy volk aangestel het en wat sy regeertyd gebruik het om die tempel te bou.  Dit is presies die beeld van wat die groot Seun van Dawid doen.  Hy is die wysheid van God, wat die Vader oor alle dinge aangestel het.  En waarmee is Hy besig?  Om sy tempel te bou.  Klip vir klip.  Steen vir steen.  Sondag na Sondag.  Totdat dit voltooi is, en dan sal Hy self daar woon vir ewig!  Dit is wat ons volgende week sal sien.

Amen.