Die Onskuldige word veroordeel sodat die skuldiges vrygespreek kan word

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2023-04-07
Teks: 
Lukas 23:1 - 25
Verwysing: 
Goeie Vrydag
Preek Inhoud: 

Jesus lok reaksie by mense uit.  Hy het dit toe gedoen, en Hy doen dit nou.   Mense is nie neutraal oor Jesus nie.  Daar is iets aan sy eksklusiewe aansprake, oor sy mag, oor sy aanspraak op gesag, wat ons ongemaklik maak.  Dit was waarvoor Hy uiteindelik gekruisig is.

As Jesus verkeerd is, moet Hy tog eenvoudig afgedank word en soos al ander valse profete van die geskiedenis beskou word.  Maar daar is iets omtrent Hom wat die beste en die slegste in mense na vore bring.  Dit is vandag waar, en dit was toe waar.  Jy sien, die godsdienstige leiers en die politieke leiers het ander valse profete sien kom en gaan, en daar was niks besonders aan hulle nie, maar daar is iets omtrent die man in vandag se verhaal wat 'n intense reaksie na vore bring.

Die politieke magte was magteloos om sy dood te keer.  Elkeen van Rome se politieke leiers wat so gewoond daaraan was om hul sin te kry, is ontmasker as magteloos om God se planne te keer.  Sy vriende het Hom verlaat.  Uiteindelik is daar net Een wat die ware en getroue getuie in die verhaal is.  Die godsdienstige elite het Hom gehaat.  Hy het die skynheilige masker afgetrek en gewys dat die kerk in sy tyd 'n witgekalkte graf was.  Hulle het 'n skyn van godsaligheid, maar die krag daarvan ontbreek.  Die skares tree op soos wat hulle gewoonlik doen, hulle het met een stem uitgeroep: Kruisig Hom!

Die Regverdige vir die onregverdiges.  Die onskuldige vir die veroordeeldes.  Die reine vir die onreines.  Hy wat skoon is vir hulle wat vuil is.  Die hemel se beste vir die hel se slegste.  Jesus vir my.  Dit is die verhaal van Lukas.  Dit is die verhaal van die vleeswording.  Dit is die verhaal van ons verlossing.

Die ergste misdadigers word vrygelaat in ruil vir volmaaktheid.  Die gebeure is so menslik, tog is daar, by die lees van die verhaal, iets wat jou laat besef die man oor wie dit alles gaan, is in volle beheer en is alles behalwe bloot menslik.  Hier het ons die Here van almal wat sy lewe vir almal aflê.  Die oorwinnende Leeu wat die lydende Dienskneg word, die Lam sonder gebrek wat vir die sondes van die wêreld gegee is.

Ons lees: “En die hele menigte van hulle het opgestaan en Hom na Pilatus gelei.”  Die hele menigte.  Dit was die godsdienstige elite in sy geheel.  Die wat geroep is om Israel as herder te versorg, was besig om die Lam ter slagting te bring.  Met leuens.  Valse beskuldigings.  Die vader van leuens was besig op daardie noodlottige oggend, en sy kinders het sy leiding gevolg: “Ons het gevind dat hierdie man die volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy sê dat Hy self Christus, die Koning, is.”  Hulle wou die wêreld oortuig dat 'n onskuldige man goddeloos was en as 'n misdadiger moes sterf.  Hierdie mense het geweet Pilatus wou een ding hê: mag.  En as dit bedreig word, sou hy doen wat hulle wou.

Dit is 'n meesterklas in misleiding, manipulasie en leuens.  Hulle sê: “Ons het gevind dat hierdie man die volk verlei.”  Hy het die volk nooit verlei nie; hulle was reeds pervers.  Hulle sê Hy het die mense “verbied om belasting te betaal”, terwyl hy in werklikheid beveel het dat belasting betaal moet word.  Hulle sê dat Hy Homself “Christus, die Koning” genoem het.  En inderdaad, dit was vir hierdie waarheid dat Jesus sou sterf.

Basies sê hulle: "Pilatus, as jy aan die bewind wil bly, moet jy van hierdie man ontslae raak."  En dit was nie asof Pilatus 'n goeie man was nie.  Trouens, Philo, die eertydse Joodse geleerde van Alexandrië, het Pilatus as volg beskryf: “Sy korrupsie, sy dade van brutaliteit, sy verkragtings, sy gewoonte om mense te beledig, sy wreedheid, sy voortdurende moorde op mense wat onbeproef en onveroordeeld is, en sy eindelose onnodige en erge onmenslikheid...”

Pilatus en Jesus kon nie groter teenoorgesteldes gewees het nie.  Albei het mag verteenwoordig. Maar die een wat magtig gelyk het vanuit 'n wêreldse perspektief, is gemaak om magteloos te wees, en aan die magtelose is alle mag gegee.  Dit is die pad van die kruis.  Die laastes word eerste.  Die eerstes laaste.  Pilatus het probeer om aan bewind te bly deur onreg en die veroordeling van die onskuldiges.  Jesus sou krag en gesag ontvang deur onskuldig te bly terwyl Hy veroordeel word.

Pilatus, wat so listig soos 'n slang was, het dwardeur die Jode gekyk en gesien wat hulle besig was om te doen. En hy kon sien dat hierdie man nie 'n gevaar vir sy mag was nie.  Hy lyk op hierdie stadium waarskynlik nie baie koninklik nie nadat hy geblinddoek, gespot en geslaan is.  Pilatus vra vir Hom: “Is U die Koning van die Jode?”  Die woord "U" word beklemtoon, amper asof hy wil sê: “JY!?  Die Koning van die Jode?”  Sy antwoord? “U sê dit.”

Jesus antwoord nooit direk nie.  Tydens ‘n verhoor vir sy lewe sou die verwagte reaksie van Jesus óf welsprekende selfverdediging óf verkondigings van Messiaanse sending gewees het, maar Jesus het weer eens dinge verander deur 'n ander weg te kies.  Hy het geweier om vir hulle die tou te gee wat hulle gesoek het om Hom op te hang.  Jesus het hulle gedwing om rekenskap van hul eie dade te gee.  Hy het ‘n ou profesie vervul: “... soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja, Hy het hy sy mond nie oopgemaak nie.  Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem...” (Jes. 53:7b-8a).

Pilatus sien egter wat die godsdiensleiers weier om te sien – die een wat daar staan is die enigste onskuldige een.  Hy gaan buitentoe na die owerpriester en die skare en sê: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”  Daar is bloed en skuld orals, maar hier is die mens wat deur 'n baie bose man onskuldig verklaar word.

Maar by die aanhoor van hierdie uitspraak word die skare meer dreigend.  Meer opgewerk.  Sonde, duisternis en die magte van hierdie huidige bose eeu kan nie heiligheid verdra nie.  Natuurlike mense kan nie sy teenwoordigheid verdra nie.  Hierdie man moes sterf, en onskuld gaan nie in die pad staan nie.

En onthou dit was nie een of ander bende of 'n gepeupel nie, dit was die hoëpriester, die owerpriesters en die regering.  Die kruis openbaar dat die stelsels van die wêreld korrup is – opperste mag, en onderdrukking in plaas van geregtigheid en waarheid.  Deur Jesus te veroordeel het hy homself veroordeel.  Dit toon dat hulle van die begin af nooit omgegee het vir geregtigheid nie.  Pilatus, die owerpriester en al die ander ontbloot hul mag vir wat dit is, gebou op 'n fondament van leuens en korrupsie.  Hulle stel nie belang in die waarheid nie.  Hulle stel nie belang in die onskuldige nie.  Hulle stel daarin belang om hulself te beskerm.

Al hoe meer sien ons die openbaring van die absolute verdorwenheid van die mensdom.  En die absolute skitterende onskuld en geregtigheid van Jesus.

Die mense reageer met die beskuldiging: “Hy maak die volk oproerig met sy leer die hele Judéa deur, vandat Hy in Galiléa begin het tot hiertoe.”  Toe hy die woord “Galiléa” hoor, gryp Pilatus die geleentheid aan om die verantwoordelikheid te verskuif en Hom na 'n ander jurisdiksie te stuur.  Jy kan amper sien hoe hy daardie oggend aan 'n lekker ontbyt sit en eet en dink aan hoe hy hierdie verantwoordelikheid ontduik.  Min het hy geweet dat God nie klaar was om hom te gebruik nie, en dat dit sy naam sou wees wat vir ewig in die kerk se belydenisskrifte geskryf sou staan ... gekruisig onder Pontius Pilatus.

Liewe gemeente, wanneer jy met Jesus gekonfronteer word – jy kan Hom probeer vermy, jy kan probeer om vir Hom weg te kruip, jy kan Hom veroordeel en haat, maar uiteindelik sal jy Hom nie kan vermy nie.  Soos wat Hy voor die regters van hierdie aarde gestaan het en geen woord gespreek het nie, so sal almal wat nie in Hom glo nie, ook eendag voor Hom staan sonder 'n woord om hulself te verdedig.  Ons kan Jesus nie vermy nie.  Jy sal Hom in die gesig staar.  Doen dit óf nou – bring jou sonde om in Hom geoordeel te word, óf bring jou sonde op die laaste dag om deur Hom geoordeel te word.

Toe Jesus by Herodes kom, kon Hy die opgewondenheid op sy gesig sien.  Herodes wou Jesus al 'n geruime tyd sien.  Hy het so baie gehoor, veral van daardie wonderwerke, en hy wou self een sien.  Dus het Herodes Hom 'n tyd lank probeer uitvra, nie om nie by die waarheid uit te kom nie, maar om by 'n wonderwerk uit te kom.

Maar die stilte van Jesus heers.  Soos 'n lam wat stom is voor sy skeerders, so het Hy sy mond nie oopgemaak nie.  Hy wat blinde bedelaars geantwoord het toe hulle om genade geroep het, swyg vir 'n prins wat net probeer om sy eie oneerbiedige nuuskierigheid te bevredig.  Kyk na die sondelose, vlekkelose Lam van God, wat die sondes van die wêreld wegneem.

Terwyl dit alles gebeur, kan die hoëpriester en skrifgeleerdes nie ophou om hom heftig te beskuldig nie.  Nie net beskuldigend nie. Maar hulle beskuldig met haat – giftige haat.  Jy kan die woede in hul gesigte sien.  Jy kan die volslae minagting vir Hom sien. Dit is die minagting van die wêreld wat net mag, invloed, geld en roem ken, en niks weet van die weg van die Lam nie – die weg van sagmoedigheid.  Die weg van heiligheid.

Selfs Herodes se opgewondenheid verander in minagting terwyl hulle Hom bespot en verag het.  En dan lees ons in vers 12: "En Herodes en Pilatus het op daardie dag vriende geword, want hulle was vantevore in vyandskap met mekaar."  As daar iets is wat die vyande van God sal verenig, is dit die heerskappy van Christus: “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?  Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde” (Ps. 2:1-2).  Inderdaad, ou profesieë was besig om in vervulling te gaan.  Herodes word Pilatus se vriend, aangesien hulle saam die onskuldiges veroordeel.

Pilatus kon hulle dalk by die ontbyttafel sien aankom.  Dink aan maniere waarop hy hieruit kan kom.  Pilatus roep daardie oggend weer die hof bymekaar en sê vir hulle: "Julle het ‘hierdie man’ na my gebring as een wat die volk afvallig maak.”  Let op dat Pilatus Hom nooit by die naam noem nie. Hy noem hom minagtend: "hierdie man".

Let nietemin op die volledige onskuld wat hy verklaar.  Dit is merkwaardig, veral as in ag geneem word van wie se lippe dit kom. “En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie; ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie.”  Let op: "... geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie”.  Herodes ook nie.  NIKS wat die dood verdien nie.  As 'n man ooit onskuldig was, was dit Hy!

Jy wonder hoekom Pilatus selfs eers daaraan gedink het dat hy Jesus moet straf.  Ongetwyfeld omdat diegene in die politiek geneig is om mense tevrede te stel.

Maar sy skare was nie so gou tevrede nie!  “Weg met hierdie man!”, het hulle geskree.  Kan jy hulle hoor roep?  Weg met hierdie man!  Hier staan jou Verlosser en jou God!  Die Priester en die Offer. Die Profeet en die Woord.  Die regverdige Koning, en die Een deur wie geregtigheid geskied.  Geslaan deur God, en verdruk.  Op die punt om verbrysel, deurboor te word (Jesaja 53:4b-5).  Hy is die Seun van God – God wat vlees geword het – wat voor die godsdienstige en politieke heersers van sy tyd staan, en hulle skree: Weg met hierdie man.

“Gee ons Barábbas!” skree hulle!  Enige iemand behalwe Jesus!  ’n Moordenaar en oproerige – maar nie Jesus nie.  Sien jy die diepte van die verdorwenheid?!  En dit is hulle wat hulself regverdiges in Israel noem. En dit is so maklik om op 'n afstand te staan.  Maar wat hier plaasvind, is die verhaal van die mensdom.  Almal teen God.  Sonde in teenstelling met heiligheid.  Duisternis wat die lig nie kan verdra nie.

Hy is die Lam wat geslag moes word vir die sondes van die wêreld.  Die Regverdige vir die onregverdiges.  Hy moes die dood sterf wat Barábbas verdien het.  Die dood wat ek verdien het, die dood wat jy verdien het.  As ons terugkyk na hierdie noodlottige dag kan ons sien hoe hierdie man drie keer in die bestek van net sewe verse onskuldig verklaar word (v. 15-22).

Die hele tyd is Jesus in volle beheer.  Pilatus verloor alle beheer.  Hierdie man wat gedink het hy het sy eie lot uitgestippel, was onderworpe aan God se voorbestemde plan.

Hy probeer hulle weer aanspreek, hy begeer om Jesus vry te laat – maar op hierdie stadium hou hulle aan om in 'n waansin te skree: "KRUISIG HOM!  KRUISIG HOM!”  Hier is die diepte van die sonde!  Raak ontslae van God!  Raak ontslae van gesag!  Almal doen wat reg is in hul eie oë.

Pilatus – 'n diktator – was hulpeloos.  Die wil van God moes geskied.  Jesaja maak dit duidelik dat dit sy wil was.  "Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel...” (Jes. 53:10a).  Soos Petrus in die eerste opgetekende preek na die opstanding sê: "Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is” (Hand. 2:23a).

En tog was hulle nie onskuldig nie.  Nee, nie een van hulle nie, hulle doen almal tekort aan die eer van God. Want Petrus gaan voort: "... het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring” (Hand. 2:23b)."  Hulle het die mensdom gewys soos wat dit was.  Boos.  Goddeloos.  Opstandig.  Vol leuens.  Bedrog.  Moord.  Wetteloos.

Die magte van die duisternis is besig om bymekaar te kom.  Hulle is besig om die Here van Heerlikheid te nader.  Terwyl Hy wag om hulle van al hul mag te ontneem, terwyl Hy die angel van die dood op Hom neem.  Een laaste keer sê Pilatus: “Watter kwaad het Hy dan gedoen?  Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien nie.  Ek sal Hom dan kasty en loslaat.”  Let weer op die omvattendheid van die onskuld!  Watter kwaad het Hy dan gedoen?!  En tog word die emosie in die lig van hierdie verklaring feller, die stemme harder, die woede erger!

Pilatus erken uiteindelik dat hy magteloos is in die lig van die wil van die skare en uiteindelik die wil van God, en gee Jesus aan hulle oor, sodat Barábbas vrygelaat kan word.

Die teks sê hy besluit “dat aan hulle eis voldoen moet word.   En hy het die een vir hulle losgelaat ... wat hulle geëis het.  Maar Jesus het hy aan hulle wil oorgelewer."  Hulle vra vir Barábbas.  Die ironie is groot.  Hy besluit om hul versoek toe te staan, asof hy werklik aan bewind was.  En dan ook die ironie van 'n misdadiger wat vrygelaat word.

Hoekom?  Want uiteindelik het ons meer in gemeen met hom as met Jesus.  Dit is ons!  Ons is die gevangene.  Ons is die moordenaar.  Ons is die rebelse een.  Behalwe dat ons nie net deelgeneem het aan 'n rebellie teen Rome nie, maar teen die Koning van die koninkryk van die hemele.  Dit is vir rebelle dat Jesus gekom het.  Dit was vir vyande dat Hy gesterf het.  Sodat ons deur sy dood met Hom versoen kan word.

Dit is interessant dat daar staan: "Maar Jesus het hy aan hulle wil oorgelewer."  Wat was hulle wil? – om Jesus Christus – hulle Messias – te kruisig!  Om verraad teen God te pleeg.  Maar in daardie verraderlike daad sou die bloed vloei wat uiteindelik ontelbares sou red.  Dit was nie hulle wil nie, maar uiteindelik was dit die wil van God.  Vader, Seun en Heilige Gees, sodat ons in Christus versoen kan word.  Sodat ons vrygemaak kan word.  Sodat ons die lewe kan hê!  Soos Petrus preek: “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring.”

En waarom?  Sodat die evangelie uiteindelik uitgebrei kan word na hel-gebonde sondaars: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”  Hierdie evangelie is vandag vir julle!  Wend julle tot Hom en word gered.

En kan dit wees dat ek moet wen

'n Belangstelling in die Verlosser se bloed

Het Hy gesterf vir my, wat Sy pyn veroorsaak het

Vir my, wie het Hom tot die dood agtervolg?

Wonderlike liefde!  Hoe kan dit wees

Dat U, my Heer, vir my moet sterf?

Wonderlike liefde!  Hoe kan dit wees

Dat U, my Heer, vir my moet sterf?

 

Amen.