Eerbiedige en dankbare berusting in God se besluit

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-04-16
Teks: 
Dordtse Leerreels 1,15
Preek Inhoud: 

Artikel 15 behandel die leer van die verwerping.
Dit klink nie werklik na ‘n geskikte onderwerp om op Nagmaalsondag te behandel nie.
Tog is hierdie leer ook deel van die Evangelie.
Dit is ‘n leer wat ‘n mens skugter en beskeie maak, maar terselfdertyd ook diep dankbaar.
En dan nie dankbaar op ‘n hoogmoedige wyse, omdat ons, ons wat vandag nagmaal gevier het, nie verwerp is nie.
Inteendeel!
Ons dankbaarheid rus in die besef dat God deur en deur regverdig is, en terselfdertyd deur en deur genadig.
En dat hierdie twee eienskappe van God, sy regverdigheid en sy barmhartigheid, nie in kompetisie met mekaar is nie, maar hand in hand gaan.

Kom ons luister vanaand na die Evangelie oor verkiesing en verwerping soos ons dit in die Skrif vind.

Tema: Eerbiedige en dankbare berusting in God se besluit
- Moenie God blameer nie
- Aanvaar dankbaar en berus eerbiedig

- Moenie God blameer nie
Die Dordtse Leerreëls is nie ‘n boek met filosofiese idees oor die predestinasie nie.
Eintlik is die Dordtse Leerreëls maar ‘n vervelige boek.
Dit bring niks nuwe gedagtes of insigte nie.
Al wat dit doen is om die Skrif te – soos mens in Engels sê – te ‘copy cat’, na te boots.
Die Skrif, sê artikel 15, verkondig die leer van die uitverkiesing baie duidelik aan ons.
Die Skrif swyg ook nie oor die skadukant van hierdie leer nie.
Dit is die feit dat daar ook mense is wat verlore gaan.
Die besluit van die verwerping is nie maklik om oor te praat nie.
Mens moet oppas om dit nie ongenuanseerd te verwoord nie.
Dit gebeur wel in die wêreld.
En dan lei dit maklik tot gevoelens van onbegrip en wrevel.
Daarom verwoord artikel 15 dit baie genuanseerd.
Dit gebruik doelbewus begrippe en segswyses soos dit in die Skrif staan.
‘n Essensiële punt is dat die besluit van die verwerping God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie.
Dit beklemtoon die Leerreëls veral.
Dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees.
As die Bybel uitdruklik sê dat God ‘n regverdige Regter is wat die sonde straf, hoe kan mens dan ook sê dat God die sonde in die wêreld gebring het?
Dis soos ‘n krimineel wat voor die regter in die hof verskyn, wat op die punt staan om hom weens moord te veroordeel word.
En dan, as die krimineel ‘n laaste kans kry om te praat, begin hy die regter aanval, asof dit die regter se skuld is dat hy ‘n moord gepleeg het.
Dit is irrasioneel as ‘n aangeklaagde dit sou doen.
Net so as die mensheid God aankla vir die sonde.
Wel is dit so, as iemand die doodstraf ontvang het, dit soms gebeur dat hy grasie verleen word.
Dan besluit die koning of president dat die doodstraf nie voltrek hoef te word nie.
Hiermee, gemeente, moet mens die uitverkiesing vergelyk.
Nadat die hele mensheid veroordeel is tot die ewige straf, besluit God tog om aan sommiges grasie te verleen.
Net soos by ‘n president, is dit God se volste reg om te besluit of Hy dit gaan doen en met wie Hy dit gaan doen.
En die wat nie grasie ontvang nie, hulle kan nie God daarvoor blameer nie.
Hulle kan net hulleself blameer.

In artikel 15 word, soos ek genoem het, versigtig die woorde gekies, baie genuanseerd.
Ons lees ‘n paar keer die woord “laat”.
God het besluit om hulle in die ellende te laat bly.
God het besluit om hulle aan hulleself oor te laat.
God het besluit om hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly.
Hierdie woord dui aan dat dit nie God was wat hulle in hulle ellende gestort het nie.
Hy laat hulle in ‘n toestand waarin hulle hulleself gestort het.

God het wel aktief besluit om hulle te straf.
Weer eens die vergelyking met ‘n aardse regter, wanneer ‘n regter aktief besluit – in die lig van al die bewysstukke – om ‘n krimineel die doodstraf te gee, dan maak sy aktiewe besluit die regter nog nie skuldig nie.
Dit is ‘n krom redenasie.
Dit is die regter se werk, sy taak, sy plig om dit te doen.
Net so, God se aktiewe besluit om opstandige mense te straf, maak hulle ondergang nie sy skuld nie.
En hulle wat begenadig is, hulle kan maar net nederig hulle hand op hulle mond sit, nie waag om iets te sê nie.
Want as dit aan hulleself gelê het, moes hulle ook deel daarvan wees, moes die straf ook aan hulle voltrek word.
So is ons vandag in hierdie erediens, in dit wat ek sê vanaf die preekstoel, en in dit wat u nou dink daar in die kerkbanke, baie versigtig, baie genuanseerd.
Moenie God blameer nie.
Ons kan maar net diep dankbaar wees dat ons nou onder die verkondiging van die Evangelie is – wat ‘n blyk is van God se genadige uitverkiesing.

(Tema: Eerbiedige en dankbare berusting in God se besluit
- Moenie God blameer nie)

- Aanvaar dankbaar en berus eerbiedig
Nou is die vergelyking met ‘n aardse regter baie nuttig, al is dit so dat geen enkele vergelyking ooit 100% identies is nie.
‘n Aardse regter weet nie vooraf watter kriminele deur hom veroordeel gaan word nie.
God is egter alwetend.
Dit is iets wat ons met ons menslike verstand nie kan verstaan nie.
Dat God, wat alles weet, nie besluit het om die kwaad vooraf te keer nie.
Sommige mense spekuleer, probeer bepaalde motiewe te vind, wat ‘n rol by God kon gespeel het.
Byvoorbeeld dat dit tot groter verheerliking van God is, as mense ook self kies om Hom te dien.
Dat Hy hulle daarom met ‘n vrye wil geskape het.
God het nie stokke en blokke, soos die Leerreëls sê, geskape nie.
Ons sou vandag sê: Hy het nie robotte geskape nie.
Maar al is sulke motiewe waar, ons kan nooit as mense die hele prentjie sien nie.
God se planne en sy oorwegings is te groot, dit is buite ons bereik.
Dit is daarom ook nie hoekom ons in God glo, omdat ons met ons beperkte verstand bepaalde aanneemlike verklarings of spekulasies uitgedink het nie.
Maar ons glo in God uit gehoorsaamheid, uit liefde vir Hom.
Dit is ons primêre motief om te glo.
‘n Kinderlike geloof.
Christus wys daarop as Hy sê: “Ek loof U, Vader, ... dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.” (Matt 11:25-26)

As iemand sou redeneer en vir jou sê:
Ja maar dit wat hier in die Leerreëls staan maak nie sin nie.
Dit is onlogies.
Dan kan ons hulle nie antwoord in die sin van: Nee, julle het my en die Leerreëls verkeerd verstaan.
Laat ek dit weer vir julle verduidelik ...
Die punt is, gemeente, ons kan dit nie verduidelik nie.
Ons kan maar net antwoord: Ek stem saam met jou, dit maak logies nie sin nie. 
Ek verstaan dit ook nie.
In Romeine 9, as dit gaan oor die uitverkiesing en verwerping, probeer Paulus ook nie te verduidelik nie. 
Al wat hy sê is: “o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Rom 9:20-21)
God het nie nodig om sy planne aan ons voor te lê vir goedkeuring nie.
Almal van ons, kerkmense en nie-kerkmense, het nou eenmaal te make met ‘n soewereine God.
Ons kan nie met Hom in debat gaan nie.
Ons kan nie logies met Hom redeneer nie.
En die verskil tussen ongelowig en gelowig is bloot: Aanvaar jy dit?
Aanvaar jy dat God soewerein is?
Buig jy voor Hom?
Laat jy dit aan Hom oor?
Weerstaan jy die gevoel dat jy dink dat God onregverdig is? – ‘n gedagte wat elke mens van nature het.
Die verskil tussen gelowig en ongelowig is nie dat die gelowige beter verstaan nie.
Laat dit duidelik wees!
Maar die een berus, die ander een nie.

As die nagmaal gevier word, word ‘n skeiding sigbaar.
Kerklede vier, nie-kerklede vier nie saam nie.
Kan ons dan die gevolgtrekking maak dat hulle wat nie vandag saamgevier het, dat hulle nie uitgekies is nie, dat God aan hulle verbygegaan het?
Nee.
Dit is God se verborge wil, en in hierdie lewe kry ons nie duidelikheid oor wie hel toe gaan nie.
God se geopenbaarde wil is egter dat tot die laaste dag van iemand se lewe hy die geleentheid het om tot bekering te kom.
Daarom bly ons oproep vanuit die kerk na die wat nog nie lid is nie: Kom hierheen!
Bekeer jou en glo die Evangelie!
Die deure na die feessaal staan nou nog oop.
Die nagmaal is inderdaad bedoel vir hulle wat reeds bekeer is, wat belydende kerklidmate is.
Maar die getal van hulle wat nagmaal vier is nog nie vol nie.
Daarom kan ons nooit spog met die feit dat ons uitverkies is en neerkyk op hulle wat nie deur God gekies is nie.
As dit ons blydskap is, dat ons spog daaroor, is dit verwerplik, dit is nie ‘n vrug van die Gees se werk nie.

Laat ons strewe daarom wees om hierdie getal groter te maak.
Dit is ons opdrag in die nuwe bedeling.
Wees my getuies in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde (Hand 1:8).
Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matt 28:19).
En dit is ook om die nagmaal te onderhou.
Dus, aan die een kant maak die nagmaal die onderskeid tussen gelowig en ongelowig sigbaar.
Aan die ander kant is daar nog tweerigting verkeer.
Sommiges verlaat die tafel en kom nie weer terug nie.
Dink byvoorbeeld aan Judas Iskariot.
Maar baie ander word toegevoeg.
Ons mag, ons moet uitgaan hierdie week, en die mense oproep:
Kom, kom luister na die Blye Boodskap.
Aanvaar dit in geloof.
En dan, kom vier nagmaal saam met ons!
Kom soek die Here terwyl Hy nog te vinde is.
Roep Hom aan terwyl Hy nog naby is – Jesaja 55:6.
Die goeie nuus is dat Hy nog naby is, deur die verkondiging van die Evangelie, en deur die nagmaal wat bedien word.
Hy is nog baie naby hier in Waverley, hier in Bergtuin, in Pretoria, in ons land, ja op alle kontinente.
Vandag klink sy Evangelie en die kerkdeure staan oop.

Nog een belangrike punt, gemeente.
Ook die leer van die verwerping, net soos die leer van die uitverkiesing, mag ons nie wanhopig of onverskillig maak nie.
Onverskillig sou wees as ons redeneer:
Ek is seker nie uitverkies nie, en ek moet nou maar daarby berus.
God se wil verander tog nie.
Broer, suster, dit is verkeerd om so te dink.
Want as die Evangelie jou bereik het, en as jy die begeerte het om gered te word, sien daarin God se genadige uitverkiesing ook vir jou.
Die begeerte om gered te word is sy werk in jou.
Die verworpenes toon geen enkele begeerte om gered te word nie, hulle stel nie belang nie.
‘n Verworpene wens nie dat hy hemel toe mag gaan nie, inteendeel.
Soos Paulus skryf in 1 Korinthiërs 1:18: Die woord van die kruis is ‘n dwaasheid vir die wat verlore gaan.
Ja, die duiwel probeer gelowiges wat die Evangelie hoor, wel depressief te maak, in hulle oor te fluister dat dit nie vir hulle bedoel is nie.
Weerstaan die duiwel, hervorm jou gedagtes.
As God met die Evangelie van sy Seun na jou kom, dan mag jy daarin sy verkiesende liefde sien!
As jy vermoeid en belas voel, dan mag jy na Hom kom.
Hy is sagmoedig, en jy sal rus vind vir jou siel.
Sy juk is sag en sy las is lig (Matt 11:29-30).

Die tema van hierdie preek is:
Eerbiedige en dankbare berusting in God se besluit.
Dit wat die Skrif ons openbaar oor sy verkiesing en verwerping lei ons inderdaad hiertoe.
Dit maak sin – nie logies nie.
Maar ons mag besef en aanvaar dat God heeltemaal regverdig is, en terselfdertyd heeltemal barmhartig.
Eerbiedig en dankbaar vir hierdie hemelse Regter, wat danksy sy Seun wat Hy gestuur het, ook my Redder geword het.

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Mattheüs 11:25-30 & 1 Korinthiërs 1:17-31

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,15

Tema: Eerbiedige en dankbare berusting in God se besluit

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Hoekom vind ons in paragraaf 15 ‘n paar keer die woord laat?
  2. Kan ‘n oortreder wat in die hof is, die regter mede-verantwoordelik hou vir sy oortreding?
  3. Hoe sal jy aan ‘n onkerklike God se besluit van verwerping verduidelik?
  4. Wat het die prediking met God se verkiesing te make?
  5. Watter onderskeid word aan die nagmaal sigbaar?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 18:1-4

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Nagmaalsviering

Lees: Mattheüs 11:25-30 & 1 Korinthiërs 1:17-31

Sing: Ps 18:13,14

Lofverheffing

Gebed

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,15

Preek

Sb 18:5-8

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 35:1,2

Kollekte

Ps 9:9-15

Seën