Ten spyte van teen-propaganda seëvier die waarheid

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-04-09
Teks: 
Mattheus 28:11-15
Preek Inhoud: 

Preek: Mattheüs 28:11-15

 

Hoe is dit moontlik dat ‘n storie, wat totaal nie die waarheid is nie, so maklik versprei kan word?

Ons sien dit gebeur met betrekking tot die oorlog in Ukraïene.

As mens luister na die dinge wat Putin sê, dan wonder mens hoe op aarde die Russe dit kan glo.

Tog gebeur dit en miljoene Russen ondersteun Putin se oorlog in Ukraïene, of soos hy dit noem, sy spesiale militêre operasie.

Dit is egter al hoe duideliker dat die mense van Rusland nie veel anders hoor oor die media nie.

Enige ander verhaal word onderdruk.

Die media mag niks anders uitsaai nie.

Mense wat die straat opgaan om te betoog, kom in die gevangenis.

Selfs onlangs het ‘n klein meisie op laerskool ‘n tekening gemaak waaruit blyk dat die oorlog in Ukraïene nie reg is nie.

Die uiteinde was dat haar pa in hegtenis geneem is.

Hoe bang kan mense nie vir die waarheid wees nie!

Of anders gesê, as mense se belange op die spel staan, is hulle bereid om baie ver te gaan.

Dit is iets van alle tye.

Ons teks vir hierdie Paassondag bevat die grootste leuen van alle tye.

Die storie dat Jesus nie uit die graf opgestaan het nie.

 

Tema: Ten spyte van teen-propaganda seëvier die waarheid

 

Jesus is gekruisig op Golgota, ‘n heuwel net buite Jerusalem.

En, soos gebruiklik, was die grafte ook buite die stadsmure geleë.

Daar, in die graf van Josef van Arimathea, het op Paassondag die groot wonder plaasgevind.

‘n Paar mense was daarvan getuie, kort nadat dit gebeur het.

In hierdie hoofstuk lees ons van Maria Magdalena en die ander Maria.

Hulle het al vroeg, voor sonsopkoms, die stad verlaat om na die graf te gaan.

Daar aangekom vind hulle ‘n engel wat aan hulle die blye nuus vertel.

Maar daar was nog ooggetuies van dit wat gebeur het.

Die wagte.

Selfs nog voordat die vroue aangekom het, was hulle al daar.

Hulle was daar die oomblik toe die engel die steen voor die graf wegrol.

Mattheüs skryf, hulle het gebewe en soos dooies geword.

Ons kan aanneem dat hulle gesien het hoe Jesus uit die graf kom.

 

Daarna het die engel aan die vroue die opdrag gegee om so vinnig moontlik terug te gaan na Jerusalem om die groot nuus aan die dissipels te bring.

So het dit gebeur dat, op daardie vroeë Sondagoggend, verskillende groepe terughardloop het na die stad.

Die een groep, die vroue.

En die ander groep, die soldate.

Hulle was mans, hulle was vinniger as die vroue.

Terwyl die vroue op weg was, kom die soldate al in die stad aan en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het.

Per slot van rekening, die owerpriesters en Fariseërs was hulle opdraggewers.

Hulle het Pilatus so ver gekry om toestemming te gee vir ‘n wag (Matt 27:65).

Hulle het toe gereël dat daar wagte kom, en die graf verseël in hulle teenwoordigheid.

Hulle, die soldate, moes die seëls van die owerpriesters bewaak.

Hierdie soldate kom dus eerste in die stad aan.

En hulle vertel, staan daar eksplisiet, ALLES wat gebeur het.

Hulle hou niks terug nie.

 

Dadelik het die owerpriesters, toe hulle dit hoor, vergader.

Saam met die ouderlinge het hulle raad gehou, staan daar.

Nou, om so vroeg op Sondagoggend te vergader, beteken dat hulle die saak baie ernstig opgeneem het.

Dit was nie die normale vergadertyd vir die Joodse Raad nie.

In aller yl moes almal opgetrommel word uit hulle huise.

Hulle was onder die indruk dat hulle hierdie verleier van die volk klaar uitgesorteer het.

‘n Onaangename verrassing, toe hulle op die vroeë Sondagmôre alweer met Hom lastig geval word.

En na die vergadering, daar staan nie hoe lank die vergadering geduur het nie, was die uitkoms van die vergadering eenparig.

En vir Jode, wat nie gewoond was om maklik geld uit te deel nie, was die uitslag nogal opmerklik.

Want daar staan dat hulle die soldate baie geld gegee het.

Genoeg dat hulle bereid was om hierdie leuen te vertel.

Genoeg selfs dat hulle hulle lewe gewaag het.

Want die straf op die ontsnapping van ‘n gevangene was nie mild nie.

‘n Soldaat is swaar daarvoor gestraf.

Ja, die owerpriesters het hulle die versekering gegee dat hulle nie bekommerd hoef te wees nie, dat hulle die goewerneur tevrede sou stel.

Maar nog steeds, die Romeine en Jode was nie altyd op goeie voet met mekaar nie.

Sou hierdie Romeinse soldate die Joodse owerpriesters kon vertrou?

Wel, die baie groot bedrag geld was skynbaar voldoende om die kans te waag.

 

Dus, in pleks van gewoon die waarheid te vertel, was hulle bereid om ‘n leuen te versprei.

Wat sou die konsekwensie gewees het as die soldate wel die waarheid vertel het?

Wel, ons weet hoe Pilatus oor Jesus gedink het.

Pilatus was daarvan oortuig dat Jesus onskuldig was.

En Pilatus se vrou het hom ook gewaarsku drie dae gelede, die einste oomblik toe Pilatus op die regbank gesit het om Jesus te oordeel:

Sy vrou het gewaarsku: “Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vandag in ‘n droom baie gely om sy ontwil.” (Matt 27:19)

Daar kom by dat Pilatus glad nie van die Jode gehou het nie.

Maar omdat hulle hom onder druk geplaas het, het hy uiteindelik ingegee, toestemming gegee dat Jesus gekruisig word.

 

Maar, sê nou maar die soldate het die nuus van die opstanding aan Pilatus vertel.

Beslis sou Pilatus hulle meer geglo het as die owerpriesters.

Op sy minste sou hy dit gebruik het om die Jode in ‘n hoek te dryf, vir hulle te sê:

Sien julle nou, ek het mos gesê dat Hy onskuldig is!

Julle het my gewaarsku dat Jesus skynbaar sou gesê het: “Oor drie dae staan ek op.” (Matt 27:63)

Juis daarom wou julle soldate by my hê om wag te hou.

Julle het Hom ‘n verleier genoem.

Maar sien julle nou, julle was verkeerd!

Gemeente, ongetwyfeld sou Pilatus hierdie kans uitgebuit het om die owerpriesters en Fariseërs te verkleineer.

 

Dit het dus alles op die spel gestaan.

Na alles wat gebeur het, het hulle reputasie op die spel gestaan.

Dit het die owerpriesters goed besef.

Daarom was hulle bereid om baie geld daarteenaan te gooi.

Dit, in plaas van hierdie laaste kans wat hulle van hulle Verbondsgod ontvang het.

Maar uit die omkopery blyk dat die leiers hulle harte verhard het.

Dink net, hulle, hierdie owerpriesters en Fariseërs, was die eerstes in Jerusalem om die berig te hoor!

Selfs nog voordat die goeie nuus die dissipels bereik het.

Nóg ‘n keer reik die hemelse Vader na hulle uit, sy uitgestoke hand:

Kom, draai om, bekeer julle, daar is nou nog kans.

‘n Tragedie kan nou nog afgewend word!

As julle nou die waarheid erken, sal dit tot heil van die hele volk wees!

As julle nou die leiding neem, dink net hoeveel Jode sal danksy julle getuienis vir Jesus as die Messias erken!

So is hierdie onverdagte getuienis van die Romeinse soldate ‘n oproep aan die Joodse Raad tot boete en berou.

Genade alleen, dat die opgestane Christus sorg dat hulle wat Hom veroordeel het, eerste die berig ontvang.

 

En dit is, in kort, gemeente, hoe daar twee verhale die wêreld ingegaan het.

Twee groepe het in die vroeë Sondagure van die graf na die stad gehardloop.

Beide met dieselfde boodskap.

Maar na die gekonkel in die stad, het daar ook twee verhale die wêreld ingegaan.

En daardie twee verhale gaan vandag nog steeds deur die wêreld.

Daar is die blye Evangelie, die waarheid.

En dan is daar die leuen wat na die waarheid ontstaan het.

Die waarheid is altyd eerste, die leuen altyd tweede.

En, dit mag ons vandag, 2000 jaar later getuig, dis net die waarheid wat die eindstreep haal.

Die leuen kan die waarheid nie inhaal nie.

Daar is ‘n spreekwoord in Nederlands: Al is de leugen nog zo snel, de waarheid achterhaald haar wel.

Dit mag ons vandag, op Paasfees, dankbaar beaam.

Die waarheid seëvier al vir 2000 jaar lank!

 

Ons teks sluit af met die mededeling: “hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe”.

Hiermee word bedoel die dag waarop Mattheüs hierdie woorde in sy Evangelie geskryf het.

Die presiese datum is nie bekend nie.

Waarskynlik êrens in die eerste twee dekades na Christus se hemelvaart.

Mattheüs was ‘n ooggetuie.

Dinge wat hy opgeskryf het, veral oor Jesus se geboorte, is so spesifiek dat hy met Maria en Josef, Jesus se aardse ouers, moes gepraat het.

As Maria om en by twintig jaar oud was toe sy Jesus gekry het, dan was sy in haar middel vyftigs by Jesus se kruisiging.

Voeg daar twee dekades by, dan was Maria al in haar mid sewentigs.

Dit is ‘n hoë ouderdom vir daardie tyd, mense het toe gemiddeld minder lank gelewe as vandag.

In elk geval, twintig jaar na Christus se opstanding is hierdie leuen dus nog steeds onder die Jode versprei.

Die kerkvader Justinus skryf dat die Joodse Raad selfs afgevaardigdes uitgestuur het oor die hele bewoonde wêreld, om orals waar Jode woonagtig was in die Diaspora, hulle te waarsku teen die ‘storie’ van ‘n Jesus wat uit die graf opgestaan het.

Hulle moes op hulle hoede wees vir sy dissipels wat Hom verkondig, dat Hy die Messias sou wees, en dat Hy na die hemel opgevaar het.

Dink aan hoe Paulus in Klein Asië en tot in Italië die sinagoges besoek en Christus verkondig het.

Wel, die Joodse Raad het daarvoor gesorg dat die Joodse gemeenskappe reg oor die bewoondewêreld nie verder lastig geval sou word deur mense soos Paulus nie.

 

Gemeente, dit is verharding by uitstek!

Om soveel moeite te doen om ‘n teen-propagandaveldtog van stapel te stuur!

Dit is sonde teen die Heilige Gees, om willens en wetens die waarheid te verwerp en te onderdruk.

En om dan ook nog ander daarin mee te sleur!

Want deur die Joodse Raad se optrede het hulle nie net self die Messias verwerp en gelaster nie, maar ook veroorsaak dat talle uit die Joodse volk dit doen!

Maar dit het Christus nie ontkant gevang nie.

Hy het reeds geprofeteer:

“Tot 'n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.” (Joh 9:39)

Al was die owerpriesters en Fariseërs die eerste om te hoor wat die soldate as ooggetuies gesien het, wou hulle dit nie sien nie.

So het die verduistering oor hulle gekom waaroor Jesaja al geprofeteer het: “Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.” (Matt 13:14 – Jes 6:9-10)

 

En ons kan vandag, 2023, sê, dat tot vandag toe ‘n groot deel van die Jode hulleself nog steeds verhard, en nog steeds die leuen glo.

Daarom moet die kerk nie moeg raak om vir die Jode te bid nie.

Dit is iets wat ons veels te min doen.

Aan die een kant staan hulle so naby aan ons.

Hulle het ook die Ou Testament.

Danksy daardie eerste deel van God se Woord is hulle lewensstyl so dieselfde as ons s’n.

Maar tog gaan die weë uiteen as die Naam Jesus Christus ter sprake kom.

Kom ons hou aan bid dat hulle die Messias wat God reeds vir sy volk gestuur het, sal erken en aanvaar.

Mattheüs was self ‘n Jood, hy veroordeel nie alle Jode nie.

Hy skryf wel dat hierdie leuenstorie aanhou versprei is onder die Jode, tot die dag wat hy sy Evangelie geskryf het.

In Romeine 11 lees ons hoe verdrietig die apostel Paulus – ook ‘n Jood – was dat die grootste deel van die Joodse volk hulle verhard het, en nie die Messias erken het nie.

Maar in daardie selfde hoofstuk skryf hy ook: “dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het” (Rom 11:25).

Uitleggers diskussieer tot op vandag wat hy presies daarmee bedoel het.

Die dankbare feit is wel dat sowel toe, en daarna tot op vandag, en in die toekoms, die deure altyd sal oopstaan vir die Jode om na hulle Verbondsgod terug te keer, en om die Messias wat Hy gestuur het, te erken.

Tot op die laaste dag, as die volheid van die heidene in die hemelse heerlikheid ingegaan het, tot op daardie dag staan die deure ook wyd oop vir die Jode, omdat – soos Paulus skryf – die verharding net te dele oor Israel gekom het.

Gelukkig nie oor heel die volk Israel nie!

Paulus gebruik die woord Israel hier afwisselend – die een oomblik vir die ou verbondsvolk, die ander oomblik vir die verbondsvolk van die nuwe bedeling.

En hierdie Israel, oftewel God se volk van die nuwe verbond bestaan nie net uit Jode nie, maar ook nie – beklemtoon Paulus – net uit heidene nie.

Die hele Israel van die nuwe verbond bestaan ook uit tallose Jode.

 

Ja mag talle van hulle oë verlig word, om te kan onderskei tussen waarheid en leuen.

Want die leuen in hierdie geskiedenis is so ooglopend!

Wie iemand anders begin omkoop ... dit is mos so duidelik!

Wie vir leuens begin betaal, is bang vir die waarheid.

Ook dit is iets van alle tye.

Ook vandag word swyggeld betaal.

Tans is oud-president Donald Trump in die hof omdat hy skynbaar swyggeld betaal het, omdat daardie spesifieke waarheid die pad na sy presidentskap sou benadeel het.

Putin, Trump, die owerpriesters en Fariseërs, die Joodse Raad, gewone mense, elke mens se sondige geaardheid veroorsaak dat ons geneig is om die waarheid te onderdruk, kos wat dit kos.

 

Gemeente, die leuen oortuig slegs hulle wat die leuen wil glo.

Putin se aanhangers, Trump se aanhangers.

En destyds so baie Jode.

Want dat dit ‘n leuen was, was so ooglopend!

As die soldate regtig geslaap het, hoe kon hulle weet dat die dissipels in die nag gekom en die liggaam gesteel het, sonder dat hulle dit agtergekom het?

Dit maak mos nie sin nie?

Wie kan iets sien as hy slaap?

Enige onafhanklike regter sal direk hierdie argument van die tafel vee.

 

En wat net so verdag is, is die feit dat die owerpriesters en Fariseërs die dissipels van grafroof beskuldig het, maar vervolgens is hulle nie wetlik vervolg nie.

Dit is mos ook inkonsekwent.

Duidelik wou hulle die storie net so gou moontlik in die doofpot stop.

 

Broer, suster, vroeg of laat gaan jy gekonfronteer word met een of ander storie, ook wel genoem ‘n sameswering, ‘n komplotteorie, in Engels: ‘n conspiracy theory.

Die dag gaan kom dat juis hierdie storie vir jou en jou omstandighede beter gaan pas as die waarheid.

Watter pad gaan jy kies om te loop?

Ons leef in ‘n land waarin leuens, sogenaamde wit leuentjies, wydverbreid is.

Amper almal doen dit.

Neem ons hierdie wêreldgelykvormigheid oor?

En onthou, wie trou is in die klein dingetjies, sal ook die krag ontvang om trou te wees as dit by groot dinge kom.

Wie ontrou is in klein dingetjies, wie ‘klein’ leuentjies vertel, kan maar verwag dat hy een of ander tyd ook ‘n ‘groot’ leuen gaan vertel.

As jy ‘n gewoonte daarvan maak om wit leuentjies te vertel, werk dit eroderend, en dit kan selfs daartoe lei dat jy jou Messias gaan verloën!

Uiteindelik gaan dit oor die vraag: Draai jou lewe om jou eie belange, of leef jy tot eer van God?

Soek jy sy koninkryk?

Is jy bereid, met die oog daarop, om vir die waarheid te staan?

 

Vir die apostels het ‘n pragtige tyd voorgelê, maar ook ‘n moeilike tyd.

Om van die waarheid te getuig, om vir die waarheid op te staan, sou hulle by tye duur te staan kom.

Maar deur die geskenk van die Heilige Gees, wat Christus uit die hemel vir hulle gestuur het, het hulle krag ontvang om dit te doen.

So het die Nuwe Testament tot stand gekom, die apostoliese geskrifte.

En so is die waarheid van Christus se opstanding verbrei oor die hele wêreld, nie net oor die bewoonde wêreld nie, maar tot aan die uithoeke van die aarde, tot aan die uiterste van die aarde, soos Jesus in Handelinge 1:8 sê.

Ja tot aan die mees afgeleë strande en eilande.

Ons vier vandag die fees van die opstanding, die waarheid, dat Christus leef, vir ewig, en ons ook saam met Hom!

Ons sien uit na die dag as Hy weerkom, die dag waarop alle teen-propaganda, alle leuens van die aardbodem sal verdwyn.

Dit sal verdamp soos mis voor die son by Christus se verskyning.

Dan sal die waarheid die aarde sal bedek soos die waters die bodem van die see.

Mag daardie dag vinnig kom!

Maranata, kom gou, opgestane Here Jesus Christus!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Mattheüs 28

Teks: Mattheüs 28:11-15

Tema: Ten spyte van teen-propaganda seëvier die waarheid

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Hoe is dit moontlik dat leuens lank kan oorleef?
  2. Wie in Jerusalem het die opstandingsnuus eerste gehoor?
  3. Waaruit sien ons dat die owerpriesters en Fariseërs hulle blywend verhard het? Hoe het hulle teen die Heilige Gees gesondig?
  4. Noem twee dinge waaruit blyk hoe ongeloofwaardig die Joodse Raad se leuen was.
  5. Ken jy iemand wat nie in die opstanding glo nie? Wat kan jy doen om hom of haar oor te haal?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 68:1

Wet

Ps 68:9

Skriflesing: Mattheüs 28

Sb 10:1-6

Teks: Mattheüs 28:11-15

Preek

Ps 138:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 118:11,12,14

Seën