Wy jouself toe, met liggaam en siel, aan die HERE en sy kerk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-03-19
Teks: 
Levitikus 19:28
Preek Inhoud: 

Preek: Levitikus 19:28

 

Ons LIG in ‘n donker wêreld.

Dit is die tema hierdie jaar.

Ons lewe in ‘n wêreld wat steeds verder wegdwaal van die HERE en sy Woord.

Waar in die verlede kerkmense wêreldse modes en gewoontes kon oorneem sonder dat dit te veel teen die Bybel indruis, raak dit al hoe minder vanselfsprekend.

As Christene moet ons ‘n bewuste keuse maak, watter klere ons aantrek.

Lank nie alles wat in die winkels hang, is vir ons as gelowiges aanvaarbaar nie.

As Christene moet ons ‘n bewuste keuse maak wat ons kyk.

Ons kan nie maar net die televisie aansit nie.

As Christene moet ons baie bewus ons selfone gebruik.

Ons kan nie net dit wat homself aanbied konsumeer nie, laat staan dat ons ‘n selfoon vir klein kinders gee om daarop te kyk wat hulle wil.

As Christene volg ons nie die trend van eers saamwoon voor ons trou, en seksuele omgang voor die huwelik nie.

As Christene eksperimenteer ons nie met verslawende middels nie, nog meer in die lig van watter verwoesting dit in ons land aanrig.

En ook in ons teks vandag vind ons ‘n oproep om anders as die wêreld te wees.

Ja, God se verbondsvolk moes destyds ook geheel anders wees as die omliggende nasies.

Dit is ‘n rooi draad deur die hele Bybel.

Dink aan wat Paulus skryf in Efesiërs 4:20:

“Maar julle het Christus nie so leer ken nie ...”

Paulus roep die gelowiges op om nie meer te wandel soos die heidene nie (vers 17).

Hulle moet nie meer die wêreld volg nie, maar Christus.

En dit sal hulle geheel anders maak.

Julle geheel anders, want julle het Christus leer ken!

 

Basies dieselfde oproep vind ons in ons teks vandag.

Ons teks gaan vandag oor ‘n onderwerp wat deesdae nogal aktueel is.

Julle mag geen ingeprikte tekening op julle liggaam aanbring nie.

In die 2020-vertaling staan dit nog duideliker: “julle mag julle nie tatoeëer nie”.

 

Nou, soos u weet, tatoeëring is deesdae ‘n baie wydverbreide gewoonte.

Vroeër was dit vir ons gevoel slegs by obskure mense, of sokkerspelers ver weg.

Deesdae het elke derde mens ‘n tatoeëermerk.

As mens die woord op internet intik, vind jy ‘n elle lange lys aan advertensies.

Ook het ek op ‘n webwerf met objektiewe inligting  oor tatoeëermerke inligting gevind oor die risiko’s wat daaraan verbonde is; en die littekens wat oorbly; watter tegnieke daar toegepas moet word om dit enigsins te verwyder, ‘n soort bestraling.

Kortom, tattoeëring is nog net so bekend soos eeue gelede, toe die volk Israel op die punt gestaan het om die land Kanaän binne te trek.

En net soos vroeër, is vandag ook ‘n hele wêreld aan simboliek en assosiasies daaraan verbonde.

Iemand laat homself nie sommer net tatoeëer nie.

Iemand het altyd ‘n bedoeling daarmee.

 

Tema: Wy jouself toe, met liggaam en siel, aan die HERE en sy kerk

 

Ons het onder andere Levitikus 19 gelees.

Hierdie hoofstuk handel oor ons lewensheiliging.

Dit is die tema van hierdie hoofstuk.

Die HERE roep sy volk op: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.

Heilig beteken hier nie sondeloos nie, geen mens kan sondeloos wees nie.

Maar heilig beteken toegewyd aan die HERE.

En daarom afgesonder van dit wat vir die HERE verkeerd, onaanvaarbaar is.

God het sy volk immers bevry uit hulle slawebestaan in Egipte.

En nou, op pad na die beloofde land, maak Hy aan hulle bekend hoe hulle nuwe lewe as bevryde mense in die beloofde land behoort te lyk.

 

Verskillende onderwerpe kom aan die orde in hierdie hoofstuk:

  • gehoorsaamheid aan jou ouers;
  • die vier van die rusdag;
  • afgodeverering;
  • beeldeverering;
  • barmhartigheid betoon teenoor minder gegoede mense – byvoorbeeld by die oes mag hulle die rand van hulle veld nie heeltemal afoes nie, en ook in die wingerd moet hulle iets agterlaat vir die armes en vreemdelinge;
  • nie steel nie;
  • nie lieg nie;
  • nie vals sweer nie;
  • jou naaste nie afpers nie;
  • eerlik en betyds jou werknemers uitbetaal;
  • selfs ‘n dowe mens mag jy nie vloek nie, en ook mag jy nie ‘n struikelblok voor ‘n blinde lê nie;
  • regverdige regspraak, jy mag nie die rykes voortrek nie;
  • jy mag nie as ‘n lasteraar deur die lewe gaan nie;
  • jy mag nie iemand anders se lewe aantas nie;
  • jy mag nie jou naaste in jou hart haat nie, maar julle moet mekaar openlik teregwys;
  • jy moet jou naaste liefhê soos jouself;

‘n Lang lys voorskrifte, waarmee die HERE sy volk by die vryheid wil bewaar wat Hy aan hulle gegee het.

En die refrein deur die hele hoofstuk is: Ek is die HERE.

Dit begin reeds eksplisiet aan die begin van hoofstuk 19: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.

Julle hoort by My.

 

Hierdie refrein vind ons ook in ons teks.

Ek is die HERE, julle God.

Julle hoort by My.

Hoofstuk 19 is in sy geheel ‘n waarskuwing teen ‘n heidense lewenswyse.

God se volk was oppad na ‘n heidense land toe.

Die HERE berei hulle daarop voor.

Hulle sal hulle unieke posisie moet bewaar.

Hulle sal nie in die nuwe land gewoontes klakkeloos kan oorneem nie, maar hulle sal hulle op die HERE moet bly rig.

Hulle sal na sy instruksies moet luister.

Slegs dan sal hulle ‘n goeie lewe kry.

 

Dit geld ook vir ons teks.

Bo-aan verse 26-28 sou mens die opskrif kon plaas:

Geen heidense angs vir die dood nie.

In hierdie verse vind ons ‘n aantal instruksies wat almal te make het met angs vir die dood.

Dit gaan oor die volgende gebruike:

  • bloed eet;
  • deelneem aan waarsêery en towery;
  • die rand van die hare op jou kop afsny;
  • die rand van jou baard afskeer;
  • insnydings vir ‘n dooie in jou liggaam maak;
  • tatoeëer oftewel ingeprikte tekeninge in jou vel aanbring.

 

Hierdie was in daardie tyd algemeen voorkomende rougebruike.

Om die hare op jou kop of van jou baard weg te skeer, was bedoel om dit aan die afgode te offer, ter wille van die dooies.

Dit het ook vir tatoeëring gegeld.

Die woord wat hier gebruik word kan òf dui op tatoeëring, òf op die beskilder van jou liggaam.

Dit het alles onderdeel gevorm van die seremonies en rituele by ‘n sterfgeval.

Hierdeur het mense die gode tevrede probeer stel.

Hierdeur het hulle probeer om hulleself veilig te stel.

Met ‘n tatoeëermerk op jou lyf was jy beskerm teen die bose geeste.

So sou hulle jou nie so gou kom haal om jou saam te vat na die doderyk nie.

Dit was dus ‘n soort afweermeganisme teen bose geeste.

 

Maar die HERE is baie nugter.

Luister, my kinders, dit werk nie so nie.

Daar is maar Een wat oor lewe en dood beskik, en dit is Ek!

Julle hoef nie vir die bose geeste bang te wees nie.

Ook nie vir al die afgode nie.

‘n Tatoeëermerk bied jou geen beskerming nie, juis die omgekeerde.

Jy maak daarmee jou liggaam stukkend.

Jy begeef jou daarmee in geselskap wat jou van My en my volk af wegtrek.

Julle is my kinders.

Ek ken elkeen van julle by name.

Ek beskerm soos geen ander.

Ek het julle uit die slawerny in Egipte verlos, nie om julle in ‘n nuwe soort slawerny in Kanaän te bring nie.

Ek bevry julle, selfs uit die dood!

 

Gemeente, God se plan was toe al gereed.

Om deur die eeue heen te werk na die volkome oorwinning op die dood deur ons Here Jesus Christus.

Daarom hoef sy kinders, uit angs vir die dood, hulleself nie toe te takel soos die heidene met hulle liggame gedoen het nie.

Dit het algemeen voorgekom dat hulle by ‘n sterfgeval insnydings in hulle eie liggaam gemaak het.

Dit was natuurlik pynlik, en die bedoeling was juis om die verdriet te vergroot.

‘n Gewoonte wat – as mens die profete in die Ou Testament lees – ook by God se volk van tyd tot tyd ingang gevind het.

Gekombineer met die feit dat daar dan bloed gevloei het uit so ‘n wond, wat ook as ‘n offer beskou is.

Deur so ‘n offer te bring kon jy daarvoor sorg dat die demoniese magte ‘n dooie persoon nie verder sou kwel nie.

 

Nie net in die Ou Testament nie, maar ook in die tye van die Nuwe Testament weet ons dat tatoeëermerke by die heidene gebruiklik was.

By die Grieke en Romeine.

Vereerders van verskillende gode het merktekens aangebring op een of ander liggaamsdeel.

Die vereerders van die god Dionysius het byvoorbeeld ‘n tattoe van ‘n klimopblaar, ‘n ivy-blaar, gehad.

En as ons in die boek Openbaring lees oor die merkteken van die bees, op hulle regterhand en voorkoppe (Openb 13:16), dan bedoel Johannes ook soiets – ‘n tatoeëermerk of ‘n brandmerk.

 

Daarteenoor staan dat God se kinders op hulle voorhoofde ‘n onsigbare teken van God ontvang het, waarop die naam van die Drieënige God gegrif staan.

Ons mag hier aan die doop dink.

Jy is van My, sê God.

Ek sal vir jou sorg.

En niemand ruk jou uit my hand nie!

 

In die Nuwe Testament – toe Jesus werklik gekom het en die dood oorwin het – skryf Paulus in dieselfde strekking, as hy die ex-heidense Christene oproep om nie op ‘n tipies heidense wyse bedroef te wees oor hulle oorlede geliefdes nie.

Want die heidene het geen hoop nie.

Maar hulle het in Christus die vaste hoop ontvang op die ewige lewe (1 Thess 4:13; 2 Thess 2:1).

 

In die verse wat volg op ons teks proe mens ook nog die heidense angs vir die dood.

Selfs so dat – sien vers 29 – mense hulle eie dogter aan hoerery oorgegee het.

Daar word hier verwys na die heidense gewoonte dat ‘n pa sy dogter afgestaan het om in ‘n afgodstempel ‘n prostituut te word.

Dit was ‘n algemene gebruik in daardie tyd.

Dit is as ‘n soort offer beskou.

Die gode het naamlik die mense se vrugbaarheid beheer, so is daar geglo.

Vrugbaarheid was noodsaaklik om te lewe.

En die omgekeerde was die dood.

Met hierdie soort offers moes die mense aan die gode vir hulle eie vrugbaarheid betaal – bedoelende dat hulle goeie oeste op die land sou kry, en ook ‘n nageslag.

So was die heidense denkwyse.

Maar die Here sê: Jullie hoef geen angs vir die dood te hê nie.

En die lewe en vrugbaarheid kry julle gratis van My!

 

Gemeente, hooplik is dit nou bietjie duideliker in watter konteks die aanbring van tatoeëermerke destyds onder die heidene plaasgevind het.

Te midde van daardie ontaarde samelewing waarheen hulle oppad was in die beloofde land, roep die HERE sy kinders op om geheel anders te wees.

Want hulle het Hom leer ken, wat hulle bevry het, en hulle by hulle vryheid wil bewaar!

 

As ons nou terugkom na die hede, dan moet ons die vraag vra: Wat nou van vandag?

Wel of geen tattoes?

In ons teks vind ons ‘n duidelike verbod.

Maar, dit staan in die Ou Testament.

Is dit dan nog vir ons relevant?

Gemeente, die feit dat iets in die Ou Testament staan, wil nie sê dat dit ouderwets is nie.

Ook die 10 gebooie staan in die Ou Testament.

En al die gedetailleerde gebooie in Levitikus is slegs praktiese uitwerkings van die 10 gebooie.

Dit geld ook vir ons teks.

 

Ja maar, daar is mos ook ander instruksies in die Ou Testament wat ons nie meer nakom vandag nie?

Byvoorbeeld waaroor ons enkele verse eerder gelees het: Julle mag nie vleis eet met die bloed nog daarin nie (vers 26).

Dit word wel vandag soms gedoen.

Wat is dan die verskil tussen wat nie mag nie en wat wel mag?

 

Gemeente, dit is belangrik dat ons al hierdie instruksies terugherlei na die 10 gebooie.

En dan die vraag vra: Waaroor gaan dit eintlik?

Wat is die agterliggende rede hoekom die HERE op iets ‘n verbod plaas?

Neem byvoorbeeld die verbod op bloed.

Hoekom eintlik?

Dit was vanweë die simboliek rondom bloed in daardie dae.

Mense het geglo dat die lewe van ‘n mens of ‘n dier in die bloed was.

As jy bloed gedrink het, het jy ‘n ander se lewe in jou opgeneem.

Waardeur jou lewe, so’t hulle geglo, sterker geword het.

Al hierdie bygeloof was nie net niks nie.

Daar was assosiasies, konnotasies aan verbonde.

Die HERE het besef dat daar ‘n risiko was dat sy volk ongemerk ook so begin dink, soos die heidense volke in Kanaän.

Waardeur hulle dan nie meer hulle Verbondsgod as die enigste bron van lewe sou beskou nie.

Waardeur hulle sou kon begin dink dat hulle self die lewe beheer.

 

Dit het ook gegeld oor so ‘n instruksie wat ons in vers 19 gelees het:

Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie.

Ook agter hierdie gewoonte het in daardie tyd ‘n wêreld vol bygeloof geskuil.

Dit was gebruike wat voortgekom het uit die afgodediens.

Gebruike waardeur die mense wou sigbaar maak dat hulle die afgode vereer.

Dis hoekom die HERE dit vir sy volk verbied het.

 

Nou weer eens die vraag: wel of geen tattoes vandag?

Gemeente, ons het in ons teks gesien dat in daardie tyd en kultuur tatoeëermerke ten doel gehad het om te dien as ‘n afweermeganisme teen bose geeste.

En om te dien as ‘n soort offer of vergoeding, ‘n soort versekering, waardeur jy kon boet vir ‘n oorledene of waardeur jy kon betaal om sodoende self langer te kon bly lewe.

Met daardie tatoeëring het jy aangedui dat jy deel was van die groep, die gemeenskap, wat so oor lewe en dood gedink het.

God se verbod op tattoes in daardie tyd het dus in die eerste plek in die konteks gestaan van sy verbod op afgodery.

God wou dat sy volk sou besef dat Hy die enigste bron van lewe is, dat Hy lewe en dood beheer.

In die tweede plek was die verbod op tattoes omdat Hy wou hê dat sy volk geheel anders sou wees.

Ander klere dra, anders offer, anders hulle lande besaai, anders hulle lande oes, en ook anders deur nie merke op hulle liggame aan te bring nie.

Dit alles ten doel om sy volk by hulle vryheid te bewaar, om hulle welstand, hulle gesondheid, geestelik en liggaamlik te beskerm.

 

As ons nou al hierdie redes agter God se destydse verbod op tattoes terugherlei na die 10 gebooie, dan kom verskeie gebooie aan die orde.

Die eerste gebod: jy mag geen ander gode dien nie, en die tweede gebod: Jy mag God nie op eiewillige wyse dien nie.

Ook vandag sien ons dat die kultuur van tattoeëring gedryf word deur groepe in die samelewing – dink aan Hollywood, dink aan sportsterre – wat God nie dien nie.

Maar hulle eie roem staan in die middelpunt van hulle lewe.

Moet ons hierdie wêreldse rolmodelle se gewoontes klakkeloos oorneem, veral as dit voortkom uit ‘n lewe wat geen rekening hou met God se Woord nie?

Ons samelewing is besig om weg te dryf van God en sy Woord.

Dit sekulariseer.

As mens kyk na hulle wat baie invloedryk is in die Westerse kultuur, dink aan Hollywood en hulle wat Oscars wen, sien mens duidelik ‘n terugkeer na die heidendom.

Ek noem dit, want tatoeëring is nie ‘n modegier wat op homself staan nie.

Dit is deel van hierdie tendens van sekularisering, terugkeer na ‘n heidense lewe, ‘n lewe sonder God en sy gebod, ‘n nuwe soort lewe, wat bewus wegbeweeg van die Bybelse normaal.

Daar kan so baie voorbeelde genoem word: geslagtelikheid, seksualiteit, visie op aborsie en euthenasie, visie op die rusdag, gebruik van God se Naam, ensovoorts ensovoorts.

Die Westerse samelewing het onchristelik geword en soms selfs antichristelik.

Die nuwe gewoonte van tatoeëring pas in hierdie konteks.

 

Gemeente, julle behoort aan Christus.

Jou liggaam behoort nie aan jouself nie.

Jy is sy eiendom.

 

Maar soos dit altyd gebeur, vorm daar ‘n grys gebied tussen die kerk en die wêreld.

Daar is mense wat wêreldse gewoontes oorneem, maar ‘n Christelike sousie daaroorheen gooi.

Daar is mense wat sê:

Ja maar ek wil wys dat ek ‘n Christen is deur byvoorbeeld ‘n kruis op my arm te tatoeëer.

Ook hierdie motief sluit aan by die belangrikste rede hoekom mense deesdae tatoeëer.

Hulle wil deel wees van ‘n groep.

Groepsdruk.

Hulle wil assosieer met rolmodelle.

As almal dit doen, wil hulle dit ook doen.

En as dit dalk nie Holleywoodsterre is nie, dan is dit die oppervlakkige naamchristene waaroor ons in Huisgenoot en soortgelyke lees.

Rugbyspelers, sangers, modelle en dies meer.

Miskien nie ‘n ivy-blaar nie, maar ‘n kruis.

 

Broers en susters, die belangrikste vraag is daarom:

Vra jouself af: by welke groep hoort jy?

By watter groep wil jy behoort?

In hierdie hoofstuk vind ons die refrein:

Ek is die HERE, julle God.

Wees heilig, want Ek is heilig.

Julle hoort by My, sê die HERE.

Julle het my teken ontvang.

 

En vir die nuwe verbond lees ons nêrens dat iets in hierdie opsig verander het nie.

Die apostels het hulleself nie laat tatoeëer nie, selfs nie met Christelike simbole nie.

Hulle het die gelowiges nie opgeroep om dit te doen nie.

Ook nie om name van vriende of familielede of dalk martelare aan te bring nie.

Daar is slegs een teken nodig om aan te sluit by die groep, die gemeenskap van Christus.

Dit is die doop.

Dit bepaal jou lewe.

Dit gee jou identiteit.

Dit is ‘n onsigbare teken.

Maar in jou woorde en dade, in jou klere, in jou beroep, in jou eerlikheid, in jou dankbaarheid, word dit sigbaar.

Jy hoort duidelik by die kerk, die groep van die Here Jesus Christus.

 

Dus, as ons aan Christus behoort, kan ons nie klakkeloos met modes in die samelewing saamwaai nie.

Jy moet jouself telkens afvra, in die lig van die Bybel, wat die wil van die Here is.

Jy word opgeroep om jouself toe te wy, met liggaam en siel, aan die HERE en sy groep.

My liggaam behoort aan die Here.

Dit is ‘n pragtige geskenk.

Nie net aan die buitekant, hoe jy lyk, die feit dat elke mens uniek is nie; maar ook aan die binnekant.

Hoe jou liggaam funksioneer, met alle organe.

‘n Asemrowende kunswerk.

Dit is die werk van God se hande!

Hy wil hê dat jy suinig daarop is.

Dit goed oppas.

Hy wil veral hê dat jy besef hoe gelukkig jy is dat jy aan sy Seun Christus behoort.

Jy het sy teken op jou liggaam.

Die onsigbare teken van die doop, wat sigbaar word deur jou manier van lewe, jou woorde en dade.

As jy die doop as teken en seël het, dan kan daar nie nog ‘n teken of tatoeëermerk of wat ook al bykom nie.

Want jy behoort reeds aan die HERE en sy groep.

Dit is die beste groep om by te behoort.

 

Nou is daar mense wat tatoeëring laat aanbring het voordat hulle by die kerk aangesluit het.

En soos ons weet is dit baie moeilik en duur om dit te laat verwyder.

Laat ons sulke mense nie veroordeel nie, maar in liefde na hulle uitreik.

Daar is kerke wat mense help, byvoorbeeld finansieel, om hulle tatoeëring te laat verwyder, ook omdat dit ‘n gesondheidsrisiko op lang termyn kan inhou.

 

Om af te sluit, God se wil in die Bybel bestaan nie net uit dinge wat verbied word nie.

God se wil in die Bybel is veral daarop gemik dat jy gelukkig is.

Dat jy beskerm word teen alle vorme van slawerny en verslawing.

God is goed en sy wil is goed.

Ook sy wil soos dit tot ons kom in ons teks.

Ons lewe in ‘n ander tyd en kultuur as toe.

Maar, soos ons gesien het, het hierdie teks tog ‘n boodskap vir vandag.

En kan ons ook uit hierdie teks die wil van ons goeie God leer ken.

In Jesus Christus kry hierdie vers nog veel meer diepgang.

In Jesus sien en proe ons hoe diep God se liefde vir ons gaan.

Hoe ver Hy gegaan het om jou en my van die magte van die duiwel en die dood te bevry.

Hou vas aan Christus, moenie met elke modegier saamwaai nie.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Levitikus 19; 1 Korinthiërs 6:12-20; Efesiërs 4:17-24

Teks: Levitikus 19:28

Tema: Wy jouself toe, met liggaam en siel, aan die HERE en sy kerk

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat is die hooftema van Levitikus 19?
  2. Wat was die doel hoekom die heidene in Kanaän destyds tatoeëermerke laat aanbring het?
  3. Watter teken het ons as Christene op ons liggaam ontvang?
  4. Hou tatoeëring ‘n gesondheidsrisiko in?
  5. Hoe kan ons nuwe lidmate wat in die verlede tatoeëring laat aanbring het, laat tuisvoel in die kerk?

 

 

 

Liturgie: 

Votum
Seën
Ps 86:5
Wet
Ps 86:6
Skriflesing: Levitikus 19
Ps 77:7
Skriflesing: 1 Korinthiërs 6:12-20; Efesiërs 4:17-24
Ps 106:2,8,16,18
Teks: Levitikus 19:28
Preek
Sb 42:3-5
Gebed
Kollekte
Sb 43:5,6
Seën