Die Goeie Herder ken sy skape

Predikant: 
Jakob Mars
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-06-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus - Sondag 21
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

U het vanaand almal kerk toe gekom. 

So praat ons, nie waar nie? Ons gaan kerk toe. Die sang in die kerk was vanaand weer so mooi, die kerk het 'n uitreik gereël, of selfs, die kerk leer so en so.  

Maar wat beteken daardie woordjie “kerk”? Watse gedagtes of konsepte bring daardie woordjie in julle gedagtes na vore? Kinders, wat bedoel julle as julle “kerk” sê? 

Vanaand, in Sondag 21, bely ons “die heilige, algemene, Christelike kerk.”
Sondag 9-22, wat hierdie Sondag dus insluit, behandel elkeen van die artikels van die Apostoliese geloofsbelydenis, wat ons ook netnou weer saam gaan sing. 
Eers behandel die HK dit wat Glo oor God die Vader, dan die Seun, en dan die Heilige Gees. 
En dit is waar ons vanaand is. In Sondag 20 het ons bely dat die Heilige Gees, saam met die Vader en die Seun, God is, en dat Hy ook aan my gegee is sodat Hy my deur ’n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel laat kry. 
Hierdie weldade sluit in die heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergewing van sondes, die opstanding van die liggaam en die ewige lewe (Son 21-22). Dit alles is wonderlike gawes van God, deur Christus, wat die Heilige Gees, wie se uitstorting ons vandag ook vier, in ons lewens werk en waarmaak.

Dus ons het deel aan die heilige, algemene, Christelike kerk, deur die werk van die Gees. 
Maar wat, of liewers wie, is dit?
Die woord “kerk” self vind sy oorsprong terug in die Griekse woord kuriake (waarin u kurios – Meester/Here kan hoor). “Kerk” beteken dan iets soos “dit wat aan die Here behoort.” 
Dit word dan ook pragtig weerspieël in hoe die Bybel van die kerk praat. As ‘n gebou van lewende stene, ‘n liggaam, ‘n huisgesin, ‘n vergadering van gelowiges, en ‘n bruid. Christus as die hoeksteen. Christus as die hoof. Christus as die Bruidegom. 

Die kerk is dus ‘n vergadering mense wat aan Christus behoort. Hy vergader, beskerm en onderhou sy kerk, deur sy Gees en Woord, soos ons bely in die HK Sondag 21 VA 54, en soos die gelykenis van die Goeie Herder pragtig uitbeeld.
Met ‘n spesiale fokus op wat ons in VA 54 bely, kom die Woord van God vanaand na ons uit Joh 10 onder die volgende tema:

Die Goeie Herder ken sy skape.
1)     Hy vergader hulle
2)     Hy beskerm hulle
3)     Hy onderhou hulle

1)  Hy vergader hulle

In ons teks vanaand vertel ons Here Jesus die gelykenis van die Goeie herder. Die beeld van ‘n herder met sy skape was natuurlik ‘n baie bekende beeld in Israel. Dit was so bekend dat God self op verskeie plekke in sy Woord homself uitbeeld as die Groot Herder van Israel.

Die HERE is my herder,” Ps. 23:1
o Herder van Israel, hoor tog; U wat Josef soos skape lei, wat bo-oor die gérubs troon, verskyn in ligglans!” Ps 80:2
Soos 'n herder vir sy trop skape sorg op die dag as hy onder sy verspreide skape is, so sal Ek vir my skape sorg; en Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, op die dag van wolke en donkerheid.” Es 34:12

Wanner die Here dan die gelykenis vertel, roep dit ‘n baie bekende, alledaagse beeld in sy hoorders op wat ook ‘n dieper toepassing gehad het. Die gelykenis is ter selfde tyd eenvoudig en diep. Ons leer daaruit wie Christus is en wie ons as kerk is in verhouding tot hom, presies die aspekte wat ons in die HK bely. 

In die middelpunt van die gelykenis staan ‘n skaapstal. ‘n Skaapstal, in die eerste eeu, was meestal ‘n groterige kamp in die ope veld uit rowwe stene gebou, met ‘n enkele deur in. Die deur en die mure het in die nag gelyktydig die skape binnegehou, en gevaar uitgehou. As dit aand word het verskillende herders uit die veld gekom en hulle skape na die stal gebring om daar te oornag. Daar was dus dan meer as een trop skape in die stal. As al die skape in die stal was, het die deurwagter ingegaan, die deur agter hom gesluit, en tussen die skape die nag deurgebring. Wanneer die herder wees die volgende oggend daar aankom, dan herken die deurwagter sy stem en maak vir hom oop. Omdat die herder se trop skape sy stem ken luister hulle ook net na hom en volg hom by die stal uit om nog ‘n dag deur die herder gelei en versorg te word. Elke skaap na sy eie herder. Die gelykenis wat Jesus vertel is selfs nog meer persoonlik – die skape reageer nie bloot op die herder se unieke roep nie, maar die herder roep sy skape by naam, hy ken hulle individueel! Hier sien ons ‘n intieme verhouding. 
Daar was al ‘n eksperiment gedoen waar die skaapherder geblinddoek is, en nog stééds net deur te voel, te hoor, en te ruik, hy al sy skape individueel kon uitken. Daar is ‘n noue, hegte band tussen die skape en hulle herder. Hy ken hulle, en hulle ken hom. Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie (Vers 5).

Die groep Jode wat rondom Jesus gestaan en na die gelykenis geluister het (uit die konteks van die vorige hoofstuk weet ons het het ‘n klompie Fariseërs ingesluit), het dit egter nie verstaan nie, so lees ons in vers 6. Daarop verduidelik Jesus dan die gelykenis.  Ek is die goeie herder (vers 11). Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken (vers 14).

Hierdie woorde, Ek ken my eie en word deur my eie geken, staan in skerp kontras met die woorde van Johannes 1:(
(9) Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.
(10) Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.
(11) Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

Ja, Israel, ook die Fariseërs (!), moes Jesus se roepstem hoor, die roepstem van God self, dit herken, en rondom hom vergader. U mag dalk vra, hoe moes hulle Jesus se stem herken as die Groot Herder van Israel?
Vanuit die Skrifte. Die Skrifte wat hulle so goed geken het, het van Hom getuig! En tog het hulle Hom misgekyk. In Joh 5: 39&40 sê Jesus vir die Jode: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” Hier sien ons twee belangrike aspekte wat die kategismus duidelik na vore bring. Christus vergader sy kerk deur sy Woord en Gees. Omdat hy ons deur sy Woord vergader, moet ons ook besig wees met sy Woord. Sondae, en deur die week. Dit moet ons eerste prioriteit wees om na die stem van ons Herder te luister. En ter selfde tyd leer die teks dat ons al die Bybel kennis in die Wêreld kan hê en die punt mis. Natuurlik is Bybel kennis belangrik, ons moet besig wees met die Woord. Maar ons het die Gees, Hy wie die Woord geïnspireer het, nodig om die Woord reg te kan verstaan. Ons het die Gees nodig om vir ons ons sonde en ellende uit te wys, ons na Christus te rig, en ons met Hom te verenig. 

Bid Hom daarom, smeek hom, as u die Woord oopmaak, dat u Sy roepstem sal hoor en dat Hy u verstand sal verlig en wonderlike dinge aan u openbaar. Vra Hom, voor u kerk toe kom, dat u die eenheid in Christus en met u medegelowiges mag ervaar. Want die Goeie Herder vergader ons deur sy Woord en Gees. Hy versamel sy skape uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is. Hy ken sy skape persoonlik en by naam, en skape ken hom. Hy roep hulle, en hulle luister. Ja, hulle volg hom, want hulle herken sy stem vanuit die Woord. Deur Sy Woord en Gees het sy skape ‘n lewende verhouding met Hom.

Ons teks leer ons ook dat Christus nie alleen gekom om die verstrooide skape van Israel te roep en te versamel nie. Johannes het reeds vir ons ‘n voorsmakie van ‘n wyer blik gegee deur die geskiedenis van die Samaritaanse vrou in hoofstuk 4. Bietjie later, in hoofstuk 12, lees ons ook van Grieke wat gekom het om te aanbid en graag Jesus wou sien. Ook in sy hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 bid Jesus: “Ek bid nie vir hulle (sy dissipels) alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo ... sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
En hier in ons teks, vers 16, sê Jesus:
Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.
Daarom bely ons in Vraag en Antwoord 54 dat Christus uit die hele menslike geslag vir hom ‘n gemeente versamel. Hierdie algemene kerk is die vervulling van die belofte aan Abraham, dat alle nasies deur sy nageslag geseënd sal word, dit is die vervulling van Ps 87: “Ek wil Rahab en Babel vermeld onder hulle wat My ken; kyk, Filistéa en Tirus saam met Kus — hierdie een is daar gebore.” Dit is wat Johannes sien in Openbaring 7:9 – “... daar was 'n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale ...

Christus se kudde skape is ‘n gemengde kudde. Die kudde bestaan uit mense van alle tale, kulture, kleure en agtergronde. Verder, soos ons bely in VA54 word hierdie kudde versamel van die begin van die wêreld af tot die einde toe. Die kudde is versprei oor grense van tyd en afstand.
U wat hier sit. Van julle kom dalk uit ‘n Nederlandse agtergrond, en ander weer uit ‘n Afrikaanse. Sommige het dalk weer ‘n heel ander herkoms. Ons het ook broers en susters in Soshanguve, Mamelodi, en die Kaapse vlakte. Ons het broers en susters in Indië, China, en die hartjie van die Amasone. En Christus sê, “dit sal wees een kudde, een herder.” Soms is dit moeilik om te sien hoe dit kan wees. Dikwels lyk die verskille, menslik gesproke, onoorbrugbaar. En tog bely ons die heilige, algemene, Christelike kerk. Een gemengde kudde, afgesonder, geheilig, vir een Herder, gelei deur een Herder, Christus. Ja, die kudde is dalk gemeng uit alle nasies, stamme, volke en tale, maar tog is hulle verenig. Verenig in die eenheid van die ware Christelike geloof, soos ons bely in VA 54. En wanneer u in geloof aan Jesus Christus verbind is, word u ook onvermydelik verenig met die res van sy skape. 
Het u ‘n hart vir die res van Christus se kudde? Christus het, want hulle is syne.

2)  Hy beskerm hulle

Dit bring ons by die 2de punt. Die Goeie Herder vergader nie net sy skape nie, hy beskerm hulle ook.

Kinders, dalk het julle al tekenprentjies van skaapherders gesien. Watse indruk het julle van die werk van ‘n herder gekry? Dalk dat dit ‘n baie sagte en ontspannende werk is? Lang groen gras, oulike wit lammetjies wat rondhuppel... Dit is natuurlik nie so nie. Om ‘n herder te wees is ‘n baie moeilike, harde en uitputtende werk. Skape is kwesbare diere. Hulle moet konstant oorsien word dat hulle nie wegdwaal of deur ‘n roofdier aangeval word nie. Die ergste ding wat dan met ‘n skaap kan gebeur, is om ‘n herder te hê wat nie vir hulle lief is nie, nie omgee nie, of selfs uitbuit. So lees ons in Esegiël 34 van God se dispuut met die slegte herders van Israel. In plaas daarvan om die skape te laat wei, vat hulle daardie weiding vir hulleself. Hulle slag die skape, eet die vet, en maak klere van die wol. Hulle versterk nie die swakkes nie, genees nie die siekes nie, verbind nie die gewondes nie. Die skape wat wegdwaal gaan soek of haal hulle nie eens nie.  Hulle heers met hardheid en verstrooi die skape.
Dit het ek teen die herders(!), sê die HERE in Ese 34. “Ek sal my skape van hulle hand eis ... en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie.” Die Here is uitdruklik, dis MY skape, MY kudde wat julle so verwaarloos. Dis MY skape vir wie ek lief is, ja selfs die kleinste onder hulle.

In Johannes 9, die hoofstuk voor ons teks, het Jesus, op die Sabbat, ‘n man wat blind gebore was se oë met modder geopen. Hy was ook ‘n skaap in Israel. ‘n Swak, blinde skaap, maar nogtans ‘n geliefde skaap in God se kudde. 
Hierdie man is toe voor die Fariseërs gebring, en ‘n hele debat het ontwikkel omtrent Jesus.
Die Fariseërs, wat van beter moes weet en die stem van hulle Herder, hulle God, herken het, het volstrek gesê: ons is nie dissipels van hierdie man Jesus nie, ons is dissipels van Moses! Ons weet vanwaar hierdie man is nie.
Die man wat blind gebore was, wie se fisiese en geestelike oë geopen is, het aan die Fariseërs gesê:
(9 vers 30) Hierin is tog iets wonderliks dat julle nie weet van waar Hy is nie, en Hy het my oë geopen! (31) En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy. (32) Van ouds af is dit nie gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore mens geopen het nie. (33) As Hy nie van God was nie, sou Hy niks kan doen nie. (34) Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons? En hulle het hom uitgeban.

Hulle het hom verkleineer, sleg behandel, en hom uitgeban.

In hierdie konteks van slegte herders dan, hulle ongeloof in Jesus Christus as die beloofde Messias, hulle regering van die kerk deur intimidasie en wreedheid, hulle hardheid om die kleines te verban wat die Skrifte reg interpreteer en in Christus glo, in hierdie konteks sê Jesus in vers 10:

(10) Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
(11) Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
(12) Maar die huurling en hy wat nie 'n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar.
(13) En die huurling vlug, omdat hy 'n huurling is en niks vir die skape omgee nie.
(14) Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken
(15) Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.

Twee maal in hierdie gedeelte, en nog ‘n maal in vers 17 verwys Jesus daarna dat die Goeie Herder sy lewe aflê vir die skape. Dit is in teenstelling met die diewe wat net net kom om te slag en te verwoes en die huurlinge wat vlug vir gevaar omdat hulle nie vir die skape omgee nie. Jesus sê, “die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” In die konteks van die gelykenis self (‘n regte skaapherder met regte skape) bedoel Jesus dat ‘n goeie skaapherder bereid is om sy eie lewe in gevaar te stel ter wille van die skape, omdat hy lief is vir hulle. Dit sou geen skaapherder se intensie wees om dood te gaan as hy die wolf wegjaag nie, aangesien dit die skape net nog meer kwesbaar sou agterlaat. Maar ‘n goeie skaapherder stel sy eie lewe in gevaar vir die skape. Dink maar aan David (1 Sam 17): 
U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood.
‘n Goeie skaapherder bewys sy liefde deur sy bereidheid om sy lewe in gevaar te stel. Sy skape is in doodsgevaar! Hulle word aangeval van elke kant, hulle enigste hoop is in hulle goeie herder wat nie sal opgee nie, nie sal weghardloop nie, al beteken dit ook sy lewe. 

Met die gelykenis bedoel die Here ook natuurlik baie meer as dit. Daar is ‘n aspek in die gelykenis wat vorentoe kyk na sy eie dood aan die kruis. Jesus is nie slegs bereid om sy lewe in gevaar te stel nie, hy lê sy lewe af vir die skape. En dan nie as ‘n blote voorbeeld van volkome liefde nie, dit verseker ook, maar in die eerste plek as die reddende, lewend gewende aksie wat ons verlos van die bose. Deur sy dood is ons nie nou meer kwesbaar vir doodsgevaar (alleen agter gelaat) nie, maar is ons verlos van die sonde en die dood. En so bewaar Christus ook sy kerk wat hy versamel deur sy Gees en Woord.

Maar ook die bewaring van sy kerk geskied deur sy Gees en Woord. Die Woord word nie verniet die swaard van die Gees genoem nie. Om die aanvalle van die bose te kan weerstaan, moet God se kinders, sy skape, Hom volg en by Hom skuiling neem. Dus moet ons weet wie die bose is en wat sy slinkse planne is, sodat ons van hom kan wegvlug soos die skape van die vreemdeling wegvlug. Ons moet weet wie God is, ons moet hom reg ken, sodat ons in die bloed van die geslagte lam kan skuil. Dit alles leer ons slegs in die Woord van God, en daarom moet ons ook versadig word met sy Woord.

‘n Verdere aspek van Christus se bewaring van sy kerk vandag, net soos in die Bybel, doen hy deur onder-herders. Hierdie feit mag nooit afbreek doen daaraan dat Christus die enigste hoof en herder van hierdie kerk is nie. Christus is jou herder, hy is my herder, hy is die predikant se herder. Direk en persoonlik. Hy ken jou by naam. In jou doop het hy gesê, jy, so en so, jy is myne. Jy is deel van my volk, my kudde. Hy ken sy skape. Hierdie skaap neem altyd inisiatief in die gemeente. Hierdie een het ‘n seer poot en sukkel om te loop. Hierdie een is swak en moet gedra word. Hierdie een hou van dwaal en is amper deur ‘n leeu verslind. Hy ken sy kudde intiem. En daarom, deur sy Gees, om sy kudde te versorg en te bewaar stel hy ook onder-herders aan. Soos Paulus in Hand 20 sê as hy die ouderlinge van Efese toespreek:
(28) Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.
(29) Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.

Hierdie onder herders is nie waghonde nie. In baie gebiede in die wêreld loop die herder agter die skape en dryf hulle, meestal deur honde. Maar in die Israel het die herder voor die skape uitgeloop en hulle gelei. So lei Christus ook hierdie gemeente deur onder-herders. Hy dryf ons nie. Ons hoor sy stem, en hy neem ons na veiligheid. Die onder-herders het dus ‘n ongelooflike belangrike taak. Hulle moet skape na Christus lei, terwyl hulleself hom volg, die bose raaksien en skuiling neem by Christus. Hulle moet kan sê: “daardie is dwaalleer, bly weg! Daardie plant is giftig om te eet!” Hulle moet die skape liefhê soos Christus self sy skape lief het. Hulle moet hulself gee vir die amp. Geen wonder God sê dat leraars ‘n strenger oordeel sal ondergaan nie (Jak3:1). Laat ons daarom vir ons herders en leraars bid, gemeente, dat hulle hulle werk getrou en met vreugde mag doen. Hebreërs 13:17 sê, en die opdrag kry ons ook elke keer as ouderlinge bevestig word:
Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.

Laat ons ter selfde tyd ons herders nie blindelings volg nie. Hulle is ook sondige mense wat foute maak. Die Woord van God is en bly die standaard waaraan alles getoets moet word. In geduld en eerbied dan, laat ons deur die onder-herders die stem van ons Goeie Herder hoor, want dis Hom wat ons volg. Want by hom alleen vind ons beskerming.

3)  Hy onderhou hulle

So kom ons dan by die 3de punt van die preek.

Ons tema is: Die Goeie Herder ken sy skape. Hy vergader hulle uit alle nasies deur sy woord en Gees, Hy beskerm hulle en lê sy lewe af vir hulle, en laastens, hy onderhou hulle.

Die HK maak doelbewus ‘n onderskeid tussen beskerm en onderhou. Natuurlik is die twee konsepte baie nou aan mekaar verbonde. Deur een reddende aksie van die herder, beide beskerm en onderhou hy sy skape. Tog is daar ietwat van ‘n klem verskil. Waar albei woorde die welsyn van die skape in die oog het, is beskerming iets na buite, die afwering of uitdelging van gewaar. Onderhouding is weer iets na binne. Versorging, voorsiening van voedsel en ander behoeftes. Dis waarvan David sing in Psalm 23:
“na waters waar rus is, lei Hy my heen”
“Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil”
“U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”
“ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae”

U sou dalk agterkom toe ons die gelykenis gelees het, dat die Here homself nie slegs voorstel as die Goeie Herder nie. Hy is die Goeie Herder ja, maar hy is ook die deur (vers 9). 
Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.
En vers 10:
Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
Lewe en oorvloed. Mens kry die beeld van gesonde, vol, en tevrede, skape wat nie geterroriseer word deur skelms of wolwe nie, wat vrylik en in die veiligheid van hul herder in en uitgaan na die beste weiding. 

Sulke oorvloed is vir ons ook beskikbaar. Slegs deur die een deur, Jesus Christus, is daar oorvloed van genade, van vreugde, en van vrede. Meer selfs - daar is ook redding en lewe. Die Here sê in vers 28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” Daarom bely ons ook in VA 54 dat Christus ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, vergader, beskerm, en onderhou. Wanneer God, uit die menigte wegloop skape vir homself ‘n kudde bymekaarmaak en homself aan hulle verbind, dan beskerm en onderhou hy hulle ook tot die ewige lewe. En hierin mag ons ‘n diepe troos vind. As die Herder so lief vir ons is om vir ons sondes te sterf, sal hy dan nie ook vir ons gee wat ons nodig het om te volhard nie? As sy hande vir ons sondes deurboor is, hoe sal hy toelaat dat ons uit sy hand geruk word? Dit mag ons glo en aan vasklou: As ons met Christus verbonde is sal hy ons nooit los nie. Selfs nou dat hy in die hemel regeer het hy ons nie alleen gelos nie. Hy het sy Gees gestuur om in ons te woon en ’n lewende lid van sy gemeente te maak. Hy het ons sy Woord gegee daardeur om sy eie stem te hoor. Hy het ons opsigters gegee om on te versorg, en hy het ons vir mekaar gegee om na mekaar om te sien. Elke Sondag weer, verenig in sy Gees, kom praat hy met ons en voed ons deur sy Woord. Dis ook wat die sakramente is: die beloftes van evangelie, presies dit wat ons glo, tasbaar uitgebeeld om ons geloof in Hom te versterk. Hy het ons nie alleen gelaat nie. Soos u hier sit dou sy ryke seëninge op u neer.

Glo dit tog, liewe gemeente. Daar is immers slegs een deur vir die skape. Een deur na al hierdie ryke beloftes en seëninge. En dit is ‘n ware geloof, ‘n lewende verhouding met Christus self! Hy is ons herder, en hy ken sy skape. Dit alles is uwe as u, deur die krag van die Gees, dit met ‘n gelowige hart aanneem.

Amen

Liturgie: 

Teks: Sondag 21

Lees: Johannes 10: 1-30