Verwyder die broer

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2022-06-26
Teks: 
1 Korinthiërs 5:9-13
Preek Inhoud: 

Wat bind ons saam in hierdie gebou?  Wat het ons in gemeen?  Christus.  Reg?  Jesus Christus bind ons saam, ons is deel van sy liggaam.  Sy familie.  Ons noem mekaar broer en suster, omdat ons deur God die Vader aangeneem is deur God die Seun.  Is dit moontlik om te sê dat jy deel van die familie is, maar om nie so te lewe nie?  Paulus sê nee – omdat die Gees van die Vader en die Seun jou begin vorm na sy beeld.

Elke organisasie op aarde word deur iets saamgebind.  En elke klub of organisasie het ‘n manier om iemand te verwyder wat nie hou by die reëls wat dit saambind nie.  Dit is nie boos nie, dit is gesonde verstand.  Iemand wat nie van gholf hou nie, gaan nie deel van die gholfklub wees nie.  Iemand wat heiligheid minag, gaan nie deel wees van die liggaam van Christus nie.  Maar dit is baie meer as net ‘n klub – dit  is die koninkryk van die hemel se gestalte op aarde!  Dit is die tempel waar God self woon.  Dit is die liggaam van die lewende Here en Koning van die heelal.  Sy werk is nie net om ons van sonde te red nie, maar om te red tot heiligmaking.

Dit beteken nie dat jy sal ophou sondig nie.  Dit beteken wel dat jy nie sal ophou om jou sonde te bely nie, en dat jy sal wegdraai van die sonde af.  Jy sal sonde beveg; jy sal dit haat.  Vermy dit en vlug daarvan weg.

Ek vra weer: wat verenig ons?  Etnisiteit?  Geskiedenis?  Ekonomiese of sosiale klas?  Of Christus?  Hoe jy dié vraag beantwoord, het ‘n massiewe invloed op kerklike tug.  As jou diepste band in Christus gevind word, beteken dit dat, as ‘n persoon in sonde lewe, daardie band verbreek word, al is daar dinge wat julle nog in gemeen het, en as hy of sy nie bekeer nie, dan moet hy of sy verwyder word.

Daar is sekere Skrifgedeeltes wat moeilik is om aan te hoor.  Ons wil dit nie regtig hoor nie.  Liewer as om toe te gee dat dit moeilik is om dit aan te hoor, sê ons dat dit moeilik is om te interpreteer.  Vandag het ons so ‘n teks.

Verwyder die broer:

  1. Vermy die broer
  2. Reinig die slegte mens

Vermy die broer

‘n Geleerde sê: “Die doel van kerklike tug is nie om christene uit te sluit van die wêreld nie, maar om hulle posisie in die wêreld te bevestig.”  Dit is hoekom Paulus in verse 9 en 10 skryf: “Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie — dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan”.

Ons is geroep om deel te neem aan kultuur, musiek, kuns, wetenskap, argitektuur, ingenieurswese, die regte en opvoeding.  Wanneer ons dit doen, ontmoet ons mense wat nie glo nie.  In al hierdie dissiplines sal ons assosieer met seksueel losbandiges, gierigaards, bedrieërs en afgodedienaars.  Jy assosieer met hulle as medewerkers, kollegas, en vriende – maar nooit as broers en susters nie.  Nooit!  Dit is wat Paulus hier sê.

Wanneer iemand wat jy as broer of suster aanspreek volhard in onbelyde sonde – dit is wanneer jy nie met daardie persoon kan assosieer nie.  Vers 11: “Maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”

Onthou twee dinge voordat ons verder gaan:

1.            Laat ons dit duidelik stel: Christene sondig.  Ons almal sondig.  Maar ons haat dit, ons beveg dit, ons kruisig dit, ons maak dit dood.  Waarmee ons in hierdie hoofstuk te doen het, is ‘n persoon wat nie omgee oor sonde nie, wat hom nie bekeer nie.  Iemand wat sê: “Ek is ‘n Christen, maar ek slaap by my vriendin, en dit pla my nie.”  “Ek is ‘n Christen, maar ek is dronk, en dit pla my nie.”  1 Johannes 2 vers 4 sê: “Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.”

  1. Die kerk is daar om jou te beskerm.  En as jy verwyderd is van die kerk is jy in groot gevaar.  ‘n Bokkie  wat van sy trop afgedwaal het, is in groot gevaar om deur roofdiere gevang te word.  Of soos ‘n skaap tussen wolwe.  Dit is gevaarlik om geskei te wees van die gemeenskap van die kerk. Maar dit is net so gevaarlik om ‘n verlammende siekte onder die kudde toe te laat, wat almal aantas. Dit gaan nie net oor die persoon nie, maar ook oor die kerk.

Hierdie hele hoofstuk, maar veral die laaste deel, pas nie regtig in by ons 21ste eeuse gevoelens nie.  Dit lyk liefdeloos.  Die taal in hierdie hoofstuk is konfronterend: lewer hom oor aan Satan, reinig julle van die persoon, oordeel dié wat binne is, verwyder die slegte mens.  Waar is liefde en genade?  Is ons nie almal sondaars nie?  Hoe kan ons ander oordeel?

Dit klink nie net liefdeloos nie, maar dit lyk ook oneffektief.  Dit is dikwels die beskuldiging wat teen kerklike tug ingebring word: dit is so oneffektief, ons jaag mense weg.  En in elk geval, selfs as ons so iemand uit ons gemeenskap verwyder, wat keer hom om by ‘n ander kerk aan te sluit?  Daar is nie meer net een kerk, soos dit was in Korinte in die eerste eeu nie.  Nou gaan hulle maar net na ‘n ander kerk toe.

Kerkleiers hoor een of ander tyd hierdie beskuldiging: wat julle doen, is liefdeloos en oneffektief.  En die ampsdraers moet altyd eers in die spieël kyk om te sien of hierdie aanklagte waar is.  Maar uiteindelik is dit wat vir die wêreld liefdeloos en oneffektief lyk, nie hoe ons ons optrede beoordeel nie.  Kom ons kyk hoe Paulus die aantygings hanteer.

Eerstens is dit belangrik om daarop te let dat Paulus praat van iemand wat gekenmerk word en bekend is as “gierigaard” of “dronklap”.  Hy tree sondig op uit gewoonte, sistemies, onberoulik.  Hierdie persoon leef in twee teenstrydige wêrelde.

Paulus sê dat ons selfs nie met so ‘n persoon moet saam eet nie.  Die feit dat hy dit sê, sê vir ons dat hy hier waarskynlik aan ‘n private ete gedink het.  In die ou nabye Ooste was ‘n privaat maaltyd ‘n teken van ‘n intieme vorm van gemeenskap.  Wat beteken dit vir vandag?  Dit beteken om die verhouding wat jy voorheen met daardie persoon gehad het, te verbreek.  Dit beteken daar is ‘n fundamentele verkil tussen julle, wat dit soms ongemaklik maak om saam te kuier.  Julle weet julle hoort nie saam nie.

Nadat iemand geëkskommuniseer is, lyk die verhouding anders as toe hy ‘n broer was.  Die gemeenskappe in die vroeë kerk het mekaar liefgehad en het sterk op mekaar vertrou.  Hulle het gedurig maaltye gedeel.  Skielik het dit alles opgehou.  Stel jou dit voor.  Dit klink ongelooflik in ons ore.  Maar dit is moeilik om die uitleg te omseil.  Die Grieks is eenvoudig hier.  En dit is vol Ou-Testamentiese verwysings.  Dit herinner aan verwydering uit die gemeenskap weens onreinheid, soos in die geval van melaatsheid.

Hoe sou daardie persoon voel?  Alleen.  En hulle sou besef hoeveel hulle mis.  Paulus het eerder gesê dat die persoon aan Satan oorgelewer moet word en hier gee hy nou die praktiese uitwerking daarvan.  Die hel is die plek waar Satan regeer.  Laat hom die hel ervaar sodat hy niks liewer wil doen as om terug te keer nie.

Die vraag is dus: is dit liefdevol en effektief?

Ja en ja.

Ja, dit is liefdevol.  Wat ons dikwels kortkom, is nie net liefde vir die hoereerder nie, maar ook liefde vir Christus en sy kerk.  Ons aanvaar dat dit die beste is om die verhouding met die persoon oop te hou en toe te sien dat nie veel verander nie.  Dus, ons moedig hul Christen-vriende aan om kontak te behou sonder om hulle tereg te wys.   Nie slegs weerspreek dit wat Paulus gesê het nie, maar die destruktiewe, korrupte invloed wat so 'n persoon op ander kan hê, word misgekyk.  Om 'n 'broer of suster' wat in onbekeerde sonde bly lewe, te verwelkom en ander Christene aan te moedig om met hulle vriende te wees en met hulle te assosieer, is 'n naïewe en gevaarlike rigting om in te slaan, volgens Paulus.  5 vers 7: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.”  Paulus is nie net bekommerd oor die liefde vir die persoon nie, maar hy word gedryf deur sy liefde vir Christus, wat ook 'n liefde vir die liggaam van Christus insluit.

Dit bring ons by die vraag of dit oneffektief is.  As jy na die hele prentjie kyk: nee.  As net een persoon die hele liggaam kan bederf, dan moet die gemeenskap met daardie persoon ter wille van die liggaam verbreek word.  Om sonde te verwyder, is altyd effektief vir die behoud van die kerk.  Is dit altyd effektief om die siel te red?  Nee. Selfs Paulus erken dit as hy sê: "sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus" (1 Kor. 5: 5b).  Die ‘kan’ is in die konjunktiewe vorm, wat beteken dit is dus moontlik, maar nie definitief nie.

Omdat dit die mees liefdevolle en effektiewe optrede is, word die kerk geroep om 'n oordeel te vel en die onheil uit te dryf, die bose te reinig.

Reinig die slegte mens

Vers 12: "Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel?  Oordeel julle nie die wat binne is nie?"  Die Bybel sê: "oordeel begin by die huishouding van God".  Met kerklike tug begin God se oordeel reeds in 'n sekere sin in die kerk.  Hy het die sleutels van die koninkryk aan die kerk gegee om toesig te hou oor diegene in die kerk.  Die kerk het geen gesag oor diegene wat buite Christus lewe nie.  Dit is dikwels 'n probleem dat die kerk so besig is om die wêreld te veroordeel oor al sy sondes dat hy selde deeglik ondersoek doen en die sonde van binne uitroei.  Maar let op, Paulus is nie bekommerd oor die persoon buite die kerk nie – maar oor die persoon wat beweer dat hy 'n broeder of suster is.  Paulus verwag dat die wêreld van kwaad tot erger sal gaan.

Dit was dalk ook die probleem in die kerk van Korinthe.  Hulle het na die wêreld gekyk en voortdurend kommentaar gelewer oor die slegtheid daarbuite en daardeur hulself meerderwaardig geag.  Onthou een van die grootste probleme van die kerk was trots.  Paulus sê: hou op om die wêreld te oordeel.  As julle nie deur die Gees van God hernuwe is nie, kan julle God nie behaag nie. Julle is egter anders, en dit is tyd dat julle die verskil ernstig opneem.  Dit is diegene binne die kerk wat julle moet oordeel.  Soos hy sê: “Maar die wat buite is, oordeel God.”

Paulus gaan voort en sê: "Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit."  Hy gebruik sterk taal hier, met die Ou Testament as agtergrond.  Die frase wat Paulus hier gebruik, kom 'n paar keer in Deuteronomium voor in die Griekse Ou Testament: in 13:5; 17:7; 19:19; 21:21; 22:21,22,24; 24:7 (vgl. Rigt. 20:13).  In al hierdie gedeeltes word dieselfde woord gebruik, dikwels met verwysing na die doodstraf.

Paulus bou voort op die Ou Testament waar die volk van God sekere oortreders uit hul midde verwyder het as 'n gesamentlike verantwoordelikheid om nadere oordeel te voorkom en om die shalom – of vrede – in die gemeenskap voor God te bewaar.  Die wet is gegee vir die heiligheid van die volk, en in die Ou Testament was die primêre manier om met onbekeerde sondaars onder die volk van God af te reken, die doodstraf.  Die frase wat Paulus in 1 Korintiërs 5:13 gebruik, verwys in Ou-Testamentiese konteks na die dood.  Dit maak ook sin in hierdie konteks – hulle word oorgegee vanuit ‘n geestelike lewe in Christus na ‘n geestelike dood in die wêreld, van aan Christus behoort tot uitgelewer aan Satan.  Dit is 'n voorafskaduwing van wat sal gebeur as hulle hul nie bekeer nie.

Soos wat een teloloog gesê het: "Ekskommunikasie is dus 'n uiterlike of formele erkenning van 'n innerlike realiteit, naamlik die feit dat die ketter nie meer gerig is op die weg, die waarheid en die lewe nie."

Ter afsluiting nog die volgende:

1.               Ons moet heiligheid in Christus ernstig opneem. Dit is nie 'n klub nie – maar die kerk van die lewende God, die pilaar en fondament van die waarheid. Jaag jy Christus na in jou hele lewe? Is die oortuiging van die Heilige Gees joune?

2.      Daar moet ferm teen sonde opgetree word. Dit is die enigste manier hoe om 'n persoon lief te hê wat hom nie wil bekeer nie. As 'n twee-jarige kind weier om te luister en aanhou om iets te doen wat hy nie moet nie, ondanks herhaalde waarskuwings, sou dit dwaas wees om te sê: "Dit maak nie saak nie, ons hou in elk geval van jou". Nee! Jy sê: "Ek is lief vir jou, daarom gaan ek jou dissiplineer sodat jy kan leer om gehoorsaam te wees." 

3.               Dis is duidelike blatante sonde.  Ek hoop ons stem almal saam hieroor.  Die meeste gevalle is nie so duidelik nie.  Maar waar blatante sonde bevestig word, moet Christene liefdevol, maar ferm, ander Christene teregwys.  Maar in die meeste situasies moet ons baie stadig wees om te oordeel, en groot versigtigheid en beheersing aan die dag lê.  Ons sondige geaardheid wil gou oordeel.  Ons moet bedag wees op ons eie trots en Jesus se woorde moet in ons ore weerklink: "Wees stadig om te oordeel."

4.               Ons dink altyd aan die persoon wat kerklik gedissiplineer word en dit is reg.  Maar moenie vergeet dat kerklike tug daar is vir die beskerming van sy ander lidmate nie, as getuie van die kerk, ter wille van die naam van ons Here Jesus Christus.  Kerklike tug strek veel verder as die persoon self.

5.               Laat ons mekaar liefhê in Christus.  Laat ons ons sondes bely en saam die sonde beveg.  Skouer aan skouer.  Strydvaardig.  Vegtend.  Dag vir dag.  Sonde gaan nie dood deur dit weg te steek nie, maar slegs deur dit te bely.  Dus, as jy dink dat jy jou eie sonde kan hanteer, hou op daarmee.  Jy het die liggaam nodig.  Ons sal jou liefhê, oral waar daar nederigheid is om jou sondes te bely, ‘n begeerte om te bekeer, en 'n gewilligheid om daarteen te veg.  God sal dit seën.

Amen.