Die driedubbele roep om hulp te midde van terminale siekte

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-02-26
Teks: 
Psalm 38:22-23
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 38:22-23

 

Psalm 38 is een van die donkerste Psalms in die Psalmboek.

Dit begin donker., en dit eindig radeloos met ‘n angskreet.

Nou behandel ons hierdie jaar die tema: Ons LIG in ‘n donker wêreld.

Mens sou verwag dat Psalm 38 daarom een van die laaste Bybelgedeeltes is om te behandel.

Een van die donkerste liedere in die Skrif ...

Tog het ek hierdie Psalm gekies as teks vir vandag, en dit ook in verband met ons jaartema.

Want glo dit of nie, hierdie Psalm het ‘n boodskap juis in tye van beproewing.

Hierdie Psalm wys ons op die ware LIG, die enigste LIG waaraan ons kan vashou in die donkerste van donker tye.

Kom ons luister na hoe die Evangelie, die Blye Boodskap tot ons kom, selfs en juis uit hierdie donker Psalm.

 

Tema: Die driedubbele roep om hulp te midde van terminale siekte

 

Psalm 38 is ‘n gebed gebid deur ‘n siek persoon.

Dawid ervaar in sy siekte God se toorn, sy straf, sy kastyding, sy pyle wat hom tref.

Wanneer hy hierdie psalm geskryf het, staan nie daar nie.

Opvallend is dat hy nêrens in hierdie Psalm eksplisiet vra vir genesing nie.

Hoe hy sy siekte beskryf, klink dit of hy terminaal was, op sy sterfbed.

Dink aan die volgende uitsprake:

Hy is byna doof en blind.

Kommunikasie met die mense rondom hom word al hoe moeiliker.

Hy is kragteloos, hulpeloos.

‘n Sterwende wat so verswak het dat hy nie eers meer kan verduidelik hoe mense kan help, hoe hulle dit vir hom gemaklik kan maak dat hy die minste pyn het nie.

My wonde stink, kerm Dawid.

Daar is geen gesonde plek aan my liggaam nie.

Selfs my vriende staan opsy vir my kwaal.

Al is hulle by my, al kom hulle lojaal op besoek, tog sien Dawid dat sy siekte hulle skrikkerig, afstandelik maak.

Hulle kom nie meer naby nie, gee nie meer ‘n drukkie nie.

 

Dawid verwoord hier wat elkeen van ons se voorland is.

By die een is die siekbed wat tot die sterwe lei wel anders as by die ander.

Dikwels het ek al gehoor dat dit mense se wens is dat hulle net in hulle slaap wil sterf, en dit op hulle eie bed, dat hulle niks wil agterkom nie, dat daar nie ‘n lydensweg is nie.

Dit is iets wat niemand van ons kan voorspel, hoe ons te sterwe gaan kom nie.

Vandag se mense dink dat hulle alles kan reël.

En so wil hulle ook die manier waarop hulle gaan sterf reël.

Dit gaan sover dat hulle ‘n verklaring onderteken dat hulle ‘n sogenaamde ‘genadedood’ verkies, as hulle aan ‘n uitsiglose siekte ly.

Eintlik ‘n snaakse begrip – ‘genadedood’.

Want mens kan eerder in Psalm 38 se geval van ‘n genadedood spreek.

Hoe bedoel ek dit?

Wel, juis deur sy stinkende wonde, juis deur sy lyde, vlug Dawid na God toe.

Smeek hy om genade.

Besef hy hoe nodig Hy die Here sy genade het.

“Maak tot gou om my te help, Here, my heil!” (vers 23)

Iemand wat die wêreldse vorm van genadedood verkies, verlang nie na die Here nie, smeek Hom ook nie om genade nie.

So iemand wil net weg wees, bevry wees van aardse lyding.

So iemand besef nie dat God se stem ook tot ons kom in lyding nie.

Nie dat die lyde sy skuld is nie, dit sien ons ook baie goed in hierdie Psalm.

David bely sy skuld.

Hy lê ‘n duidelike verband tussen sy lyde en sy eie skuld.

Vers 5: “Want my ongeregtighede gaan oor my hoof”.

Vers 19: “Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde”.

God se stem klink tot ons in tye van voorspoed, as Hy ons seën op aarde.

Maar God se stem klink nog indringender tot ons in tye van lyde.

En so ervaar Dawid dit baie konkreet.

 

Iemand wat die wêreldse vorm van genadedood kies, wil nie na God se stem in lyding luister nie.

Wil nie nadink oor sy eie sonde en ellende en doemwaardigheid as gevolg daarvan nie.

So iemand leef met die groot misverstand dat daar na die sterwe niks is nie.

Net ‘n ‘rest in peace’.

Dit in teenstelling tot wat die Skrif ons openbaar, die werklikheid van hemel of hel na die dood.

In die lig van daardie werklikheid maak dit sin om ook in lyde na God se stem te luister.

En juis dan nog intenser na sy genade, vergewing, ontferming te verlang.

En des te meer te besef dat die lyde die mens se eie skuld is.

In lyde ervaar ons pynlik die gevolge van die mensheid se selfgekose weg, sonder God.

En al kan elke siekte nie aan ‘n konkrete sonde gekoppel word nie, bly dit die bittere werklikheid dat alle siekte en lyde op aarde wel die gevolg van die mens se sondeval is.

Dit maak ons nederig, juis ook op ons sterfbed.

Dawid begin sy Psalm skuldbewus:

“O HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie.” (vers 2)

Dat hy siek en sterwende is, het te make met dinge wat in sy lewe nie reggeloop het nie.

Dinge waarvoor hy nie net ander kan blameer nie.

Hy ervaar sy sondes as ‘n pak wat vir hom te swaar geword het (vers 5).

Sy sondeskuld oorweldig hom, soos water styg dit bo sy kop uit (vers 5).

As die HERE gaan redes soek in ons lewe om ons te straf, sal Hy meer as genoeg vind.

Ons wys nie met die vinger na God nie.

Ons steek ons hande wel na Hom uit.

Kom help my, tog gou!

Hoor die roepstem van ‘n lyder, o Bevryder!

Kom verlos my uit dit waarin ek, saam met alle mense, myself begewe het.

 

Iemand wat die wêreldse ‘genadedood’ verkies, vlug nie net vir die lyde nie, maar ook vir God.

Iets wat ‘n illusie is, want daar is niemand wat nie voor God sal verskyn nie.

Nou wil ek nie die lyding van ‘n sterwende onderskat nie.

In die verlede het gelowiges wat ongeneeslik siek is, al vir my gesê:

Ek verstaan hoekom mense verkies om ‘n ‘genadedood’ te laat uitvoer.

Op ‘n manier verlang ek ook daarna.

In die sin kan ons identifiseer met ander wat tot so iets gedryf word.

Laat ons dan ook juis vir sulke mense bid.

Nee, ons wil nie dat hulle ‘n ‘genadedood’ laat uitvoer nie.

Maar dit wil nie sê dat ons die lyde verheerlik nie.

Ons wens hulle, net soos onsself, ‘n rustige sterwe toe.

Maar waar dit oor gaan, is dat ons dit in God se hande laat.

Hy is ons Skepper, ons liggaam behoort aan Hom, al is ons liggaam so toegetakel deur siekte.

 

Daar is al wetenskaplike ondersoek gedoen na hoekom mense verkies om ‘n ‘genadedood’ te laat uitvoer.

En wat verbasend is, is dat by baie van hulle die angs vir fisiese pyn dikwels nie die ergste is nie.

Waar hulle veral teen opsien, is as hulle alleen sal moet ly.

Daar is ook al navorsing gedoen, en dit blyk dat iemand wie se hand vasgehou word, terwyl hy erge pyn ly, dat daardie persoon die pyn as minder erg ervaar as iemand wat alleen moet ly.

Die liefdevolle aanwesigheid van mense om jou heen verhoog die pyndrumpel.

 

In Psalm 38 sien mens ook iets daarvan.

Ja, Dawid kreun van die liggaamlike pyn.

Maar terselfdertyd sien ons dat dit vir hom net so pynlik is, indien nie meer nie, dat hy alleen moet ly, dat mense hulle hande van hom aftrek.

Pleks van sy hand vashou, of hom ‘n drukkie gee, lees ons:

“Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan.” (vers 12)

Ons weet dat dinge nie in orde was in Dawid se gesin nie.

Daar was wantroue, daar was haat en nyd in sy gesin.

Broers wat mekaar wou doodmaak, wat selfs hulle pa wou doodmaak.

Gebroke verhoudings maak die lyde soveel erger.

Hoe pynlik is dit nie as daar verwydering ontstaan het binne ‘n familie, soseer selfs dat ‘n kind nie meer belangstel, nie meer medelye toon, as sy ouer ly nie.

Ja Dawid het ook vyande gehad, binne en buite sy familie.

En hy besef dat sy vyande dit eintlik nie erg vind dat hy siek is en so ly nie.

Selfs dat sy vyande daarna uitsien dat hy te sterwe kom.

Hulle is agterbaks, hulle sal bly wees oor sy val (vers 17).

Hulle soek sy lewe, hulle is uit op sy ondergang (vers 13).

Dawid se dodelike siekte kom hulle eintlik goed uit.

Nou hoef hulle hom nie meer dood te maak nie, nou word dit vir hulle gedoen.

Verstaan u dat hierdie situasie vir Dawid nog pynliker kon gewees het as die liggaamlike lyding?

Om in eensaamheid te sterf is bitter erg.

 

Geliefde gemeente, ons Jesus Christus het, soos ons weet, verskriklike liggaamlike pyn op sy lydensweg en veral aan die kruis ervaar.

Maar ons weet ook, en dit was soveel erger, dat Hy in totale eensaamheid gesterf het.

Sy vyande was ontelbaar.

Heel sy eie volk het die rug op Hom gedraai en Hom in die steek gelaat.

Hulle het verkies dat Barabbas, ‘n misdadiger, losgelaat word, eerder as hulle Messias.

Aan ‘n kruis is Hy opgehang, tussen hemel en aarde.

Al sy bekendes het ver weg gestaan – lees ons in Lukas 23:49.

Sy ma kon nie sy hand vashou nie.

En die allerergste, sy hemelse Vader het Hom losgelaat, oorgegee aan die buitenste duisternis.

Totale Godverlatenheid moes Hy ervaar.

 

So is Dawid se lyde in Psalm 38 ‘n voorafskaduwing van Christus se lyde.

Psalm 38 eindig met ‘n hulpkreet, ‘n driedubbele hulpkreet.

Hierdie keer lyk dit nie of Dawid, soos in ander van sy Psalms, rus vind nie.

Maar in sy lyde steek hy sy hande uit na sy troue Verbondsgod.

Hy roep na Hom op sy verbondsnaam: HERE, Jahweh.

“Verlaat my nie, o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!

Maak tog gou om my te help, Here, my heil!” (vers 22-23)

‘n Driedubbele noodkreet in ons teks.

 

So sterf vandag ook nie elkeen in vrede en gemoedsrus nie.

Maar danksy Christus se plaasvervangende lyde, dat Hy deur sy Vader verlaat is, weet ons dat in ons sterwe ons hemelse Vader met ons sal wees.

Dat ons nooit meer deur God verlaat sal word nie.

Ons sien daarteen op, maar onder ons wisselende emosies is die rotsvaste vertroue dat ek die eiendom van die opgestane Christus is, en dat Hy hulle wat syne is sal oppas.

Ook as daar lyde kom.

Dikwels sien mens dat lyde ‘n mens voorberei op die sterwe.

Dit stroop jou van alles trots.

En die aftakeling van jou liggaam laat jou besef dat jy moet loslaat wat agter jou lê en jou blik moet rig op wat vir jou wag.

En dit mag ‘n hoopvolle verwagting wees.

Want Hy dra ons deur die dood heen en neem ons op in sy hemelse heerlikheid, waar Christus vir ons ‘n woning voorberei het.

 

Gemeente, dit is opmerklik dat Psalm 38 ‘n plek in die Bybel gekry het.

Dit is een van die min liedere wat nie troosvol eindig nie, maar met ‘n benoude roep om hulp.

Waarskynlik het Dawid nie eers besef dat hierdie wanhopige gebed van hom ‘n plek in die Bybel gaan kry nie.

Tog het die Heilige Gees dit ‘n plek in die Bybel gegee.

Want hoe desperaat hierdie lied ook is, dit het ‘n boodskap.

Dit is troosvol om te weet dat jy mag roep tot God in jou moeilikste oomblikke.

Dit leer ons om in sulke omstandighede nie met ons vinger na Hom te wys nie.

Per slot van rekening, dit sal ons lyde net erger maak.

Want feit bly, ook al staan ons bekendes ver weg, God bly naby.

Steeds kan jy tot Hom bid.

En, leer die Psalm ons, op ons sterfbed pas ook verootmoediging, dat ons skuldbewus is.

Nie om onsself depressief te maak nie.

Maar ons besef dat ons lyde nie God se skuld is nie.

Maar wel kan ons sonder skroom na Hom gaan, en sy bystand afsmeek.

Soos Dawid aan die einde van die Psalm, in ons teks, met soveel klem ‘n beroep doen op God:

‘n Driedubbele kreet:

Verlaat my nie!

Wees nie ver van my af nie!

Maak tog gou!

‘n Intensie verlange klink hierin deur na God.

So kan ons vra dat God ons tog gou sal kom haal.

 

As gemeente behandel ons hierdie jaar die tema: Ons lig in ‘n donker wêreld ...

Dit mag teenstrydig klink, maar hierdie Psalm en die gebruik daarvan, daarmee straal ons ook ‘n lig uit.

Ons neem ons toevlug tot Hom, die enigste Een wat beskik oor lewe en dood.

Al dink mense hulle kan beskik oor die dood, deur dit self in hande te neem, hulle sal nie aan God ontkom nie.

Al wil mense op hulle sterfbed nie aan hulle skuld dink en dit bely nie, hulle sal nie kan voorkom dat hulle voor God se regterstoel sal verskyn nie.

Ons LIG in ‘n donker wêreld is Jesus Christus.

Hy is ons LIG ook op ons sterfbed.

Hy het gesorg dat ons sonder vrees voor God se regterstoel kan verskyn.

Dat ons, as ons begin besef dat ons tyd naderkom, selfs verlang na die hemelse heerlikheid.

 

Verder leer hierdie Psalm dat gelowiges nie noodwendig sterker is as ongelowiges nie.

En dit hoef ons nie vir die wêreld weg te steek nie.

Dis nie so dat gelowiges op hulle sterfbed heroïes is nie.

Hulle ly net soveel, en hulle kan net soveel angste hê.

Die dood bly ons laaste vyand, oor vir gelowiges.

Ons geloof is nie ‘n voorspoedsgodsdiens nie.

Die Bybel is duidelik dat daar vir ‘n gelowige ook die dal van doodskaduwee wag, waardeur hy sal moet gaan.

Daar kom ‘n tyd dat mens kan begin besef, nou is dit net afdraende pad.

Miskien het die tyd nou gekom om nie meer net te bid vir genesing nie, maar vir krag as ek hierdie donker dal betree, en ook vir ‘n spoedige verlossing.

 

Daar is Christene wat sterf met volledige gemoedsrus.

Dit is Christus se werk in hulle, ‘n pragtige getuienis van sy LIG in hulle lewens.

Maar daar is ook gelowiges wie se sterwe nie so vreedsaam is nie.

Soos byvoorbeeld hier in Psalm 38.

Maar die hemelse Vader sal hulle nie verwerp nie.

Net die feit dat hulle tot Hom roep om hulp – “Verlaat my nie , o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!”, net daardie feit dat hulle roep tot God, dit getuig ook van Christus se werk in hulle lewe.

Hulle draai nie op hulle sterfbed hulle rug op God nie.

Hulle draai na Hom toe, steek hulle hande wanhopig na Hom uit.

Tydens terminale siekte klink die driedubbele roep om hulp.

Ook dit is Christus se werk in hulle.

Psalm 38 begin met die klag oor God se neerdrukkende, sy kastydende hand.

Maar die Psalm eindig met die verlange na God se bevrydende hand.

Ja dieselfde hand van God het, danksy Christus, ‘n reddende hand geword.

Na daardie hand mag ons verlang.

Ons hoef nie meer vir daardie hand bang te wees nie, maar juis daaruit verlossing verwag, soos Dawid hier aan die einde van sy Psalm.

Met sy hand sal die hemelse Vader sonder twyfel sy kind in sy hemelse heerlikheid opneem.

Ons vlug na Hom, noudat dit nie meer help om aan iets anders te probeer vasklou nie.

Alle ander aardse hulp het nou strooihalmpies geword.

Ja die roep tot God om jou nie te verlaat nie, om nie ver van jou af te wees nie, dit is ‘n geloofsroep.

So getuig Psalm 38 nie van Godverlatenheid nie, maar juis van iemand wat baie naby God is.

Moenie vir God wegvlug nie.

Laat hierdie lied vir jou gemoedsrus gee, veral as jy merk dat die afdraene pad na die dal van doodskaduwee nie meer op sal buig nie.

Sy bevrydende hand is daar.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Psalm 38

Teks: Psalm 38:22-23

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Hoe beskryf Psalm 38 Dawid se siekte?
  2. Hoekom is ‘n skuldbelydenis gepas op ‘n mens se sterfbed?
  3. Wat maak Dawid se lyde die ergste?
  4. Wat was die ergste in Christus se lyde en sterwe?
  5. Watter troos is daar in hierdie Psalm vir ons eie sterwe?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 61:1-3

Wet

Ps 38:1-5

Gebed

Skriflesing: Psalm 38

Ps 38:6-10

Teks: Psalm 38:22-23

Preek

Ps 38:13-17

Gebed

Kollekte

Ps 102:1,8,12

Seën