Die verhaal van twee bome...

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2023-02-26
Teks: 
Genesis 2:9, 16, 17
Verwysing: 
Kinderbybel-preek #1
Preek Inhoud: 

Broers en susters (en dit sluit die seuns en dogters in),

Genesis 1-3 kom op een of ander manier in elke kinderbybel voor – ook in die een wat aan jou voorgelees is. En dalk sien jy tot vandag toe nog voor jou geestesoog die prentjies uit die kinderbybel wat jou pa en ma gebruik het om vir jou voor te lees – prentjies van die verskillende skeppingsdae, van daardie pragtige tuin (wat in die Griekse vertaling van die Ou Testament – die Septuagint – ‘paradys’ genoem word), prentjies van Adam en Eva (albei naak, maar met bedekking op strategiese plekke), prentjies van die slang en die appel (of was dit dalk ‘n ander vrug?), en prentjies van die sondeval en die uitbanning uit die tuin. Aangrypende verhale! Mooi prentjies!

Maar kinderbybels het ook nadele. Hulle sit prentjies in ons koppe wat moeilik is om weer daaruit te kry; prentjies wat nie noodwendig klop met die werklikheid nie. Byvoorbeeld die prentjie van die appel (wie sê dit was ‘n appel?)... Of van leeus en bokkies wat sonder gevaar bymekaar in die tuin rondloop – asof leeus in daardie ongeskonde begin nie bokkies gejag het nie... Is dit so? Of van Adam en Eva wat vegetariërs sou gewees het, want hoe is dit moontlik dat hulle voor die sondeval diere kon geslag het? Hoekom nie? Dit is die moeite werd om hierdie prentjies van tyd tot tyd te bevraagteken. Maar daar is nog ‘n ander (en groter) nadeel aan kinderbybels – en dit is dat die meeste van hulle geen lyne trek nie. Hulle bevat ‘n klomp pragtige verhale, maar selde word gewys hoe hierdie verhale saam deel vorm van die Groot Verhaal. En dit maak dat ons baie dikwels wel die verhale ken, maar nie meer die ‘V’erhaal nie! Ek wil met hierdie reeks oor die bekende ‘Bybelstories’ wys dat die los verhale eers hulle ware betekenis kry in die konteks van die Groot Verhaal. En ons begin vanmôre met:

Tema: die verhaal van twee bome...

Gemeente, ons praat dikwels van ‘die tuin van Eden’, nie waar nie? Asof Eden en die tuin dieselfde geografiese gebied beslaan het. Maar dinge is tog effens meer gekompliseerd. Want in Genesis 2:8 lees ons dat God ‘n tuin in Eden geplant het. Dit lyk dus asof Eden ‘n groter gebied was, waarbinne God ‘n kleiner gedeelte as tuin bestem het. Ons kan dit vir onsself amper soos konsentriese sirkels voorstel: die buitenste sirkel is die wêreld, daarbinne vind ons die land van Eden (en volgens vers 8 is dit in die Ooste [of meer presies: oostelik, vanuit die perspektief van die skrywer], en waarskynlik dat die name van die vier riviere in verse 10-14 vir ons wys dat dit êrens in die omgewing van die huidige Irak of Iran moes gewees het), en êrens binne daardie land van Eden vind ons dan die tuin. En dis hier, in die tuin, waar God aan die mens ‘n plek gee. In die tuin – hoe moet ons onsself dit voorstel? Gesien die betekenis van die woord ‘tuin’ in die Hebreeus én die woord ‘paradys’ in die Grieks, wil dit voorkom asof die tuin ‘n soort omslote ruimte was, ‘n afgegrensde hof – en dalk verbaas dit jou (want hoekom was dit in ‘n volmaakte wêreld nodig om die tuin af te grens?), maar dit stem heeltemal ooreen met een van die take wat God aan Adam gegee het, naamlik om die tuin te ‘bewaak’ (Gen. 2:15). Waarvan moes Adam die tuin bewaak? Wel, buite hierdie omslote, afgegrensde tuin was die veld, met daarin die diere van die veld – waaronder die wilde diere, ook die slang (Gen. 3:1: hier word die slang as een van die diere van die veld gereken). Afgrensing na buite was dus nie oorbodig nie. Binne-in die tuin, egter, was dit ‘n lushof! God het daarin allerhande bome laat uitspruit – begeerlik om te sien en goed om van te eet (Gen. 2:9). En reg in die middel van die tuin: die boom van die lewe en die boom van die kennis van goed en kwaad. Twee bome wat, vanweë die betekenis wat God aan hulle gegee het, die res van die geskiedenis sou bepaal.

Om mee te begin, was daar die boom van die lewe – ‘n egte, singtuiglik-waarneembare boom met egte, sintuiglik-waarneembare vrugte. Nou, die gedagte van ‘n lewensboom in die godsdiens is nie so uniek nie, ons vind dit in talle heidense mitologieë deur die geskiedenis heen – maar in al hierdie heidense mitologieë het die lewensboom altyd te make met die verkryging van biologiese onsterflikheid. Maar die Bybelse betekenis van lewe is baie dieper as net biologiese lewe. In die Bybel gaan lewe oor ware geestelike lewe in gemeenskap met God. En uiteraard sluit dit natuurlike, biologiese lewe nie uit nie, maar die fokus is op die gemeenskap met God – om met God te mag wandel in die tuin, in die aandwindjie (soos wat ons lees in Gen. 3:8). Op simboliese wyse – eintlik soos vandag se sakramente van die doop en die nagmaal – beeld hierdie boom dus ware lewe vir die mens uit. As die mens in geloof van die vrugte van hierdie boom sou eet – wat hy toegelaat was om te doen! – dan sou hy daardeur ware lewe en gemeenskap met die Here ontvang. En die eet van hierdie boom sou die mens uiteindelik bring tot sy ware eindbestemming, tot die stadium van volgroeide lewe, ewig met die Here.

Saam met die lewensboom het daar ook nog ‘n ander boom in die middel van die tuin gestaan (Gen. 3:3) – die boom van die kennis van goed en kwaad (eweneens ‘n egte, sintuiglik-waarneembare boom met egte, sintuiglik-waarneembare vrugte). En nou is dit opmerklik dat ons hierdie boom nêrens in die heidense mitologieë terugvind nie – die lewensboom baie dikwels, ja, maar die boom van kennis glad nie. Dit is so tipies – die heidense mens (en dit sluit onsself van nature in) wil wel die ewige lewe van die lewensboom hê, maar dan sonder die gehoorsaamheid van die kennisboom. Want dit is presies wat die boom van kennis simboliseer. ‘Kennis’ of ‘ken’ word hier gebruik in die sin van ‘keur’, of ‘bepaal’, of ‘beslis’, of ‘uitmaak’ wat goed en kwaad is. Wie bepaal, wie beslis, wie maak uit wat goed en kwaad is? Is dit God of is dit die mens? Deur die mens te verbied om van die kennisboom te eet, wil God hê dat die mens die beslissing van wat goed en wat kwaad is aan Hom moet oorlaat. Moenie self wil bepaal wat goed en kwaad is nie!, is sy boodskap. Hou daarom jou hande tuis! En wanneer die mens die keuse maak om wel self te bepaal wat goed en kwaad is (deur in Genesis 3 van die boom te eet), wanneer die mens die grens wat God gestel het oorsteek, dan is God se reaksie in Genesis 3:22: “Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.” Daarmee sê God eintlik: “Die mens het homself nou op dieselfde vlak as God geplaas deur self te bepaal wat goed en kwaad is; die mens het nou sy eie god geword.” En dit word die mens se dood.

Ons sien dus, broers en susters, dat hierdie twee bome in die middel van die tuin twee kante van dieselfde munstuk verteenwoordig. Hulle hoort bymekaar. Die vrugte van die lewensboom kan slegs geëet word wanneer die vrugte van die kennisboom nie geëet word nie; die ware lewe met die Here (soos gesimboliseer in die lewensboom) is slegs moontlik deur gehoorsaamheid aan Hom (soos gesimboliseer in die kennisboom). Lewensboom en kennisboom: ware lewe lê in nederige gehoorsaamheid aan God. Hy weet wat goed is, luister na Hom!

--------------------

Gemeente, ons ken die verhaal, ons weet wat gebeur het – hoe Adam en Eva in hoogmoed hulle eie kop gevolg het, self wou bepaal wat goed en kwaad is, hoe hulle vervolgens uit die tuin weggejaag is, en hoe God ten slotte cherubs met vlammende swaarde by die ingang van die tuin geplaas het om die boom van die lewe te bewaak. En hierdie hartseer gebeure, wat hom daar in die prille begin in die tuin van Eden afgespeel het, word vervolgens die verhaal van die mensdom regdeur die geskiedenis. Meer spesifiek nog: dit word die verhaal van die volk wat God vir Homself verkies het. Vir sy volk, net soos vir Adam en Eva, belowe die Here: lewe in oorvloed met Hom, lewe in oorvloed in die Beloofde Land – maar dan slegs in gehoorsaamheid aan Hom. En net soos wat Hy dit in die tuin laat uitbeeld het met die twee bome, so laat die Here dit ook in sy nuwe woonplek onder sy volk uitbeeld. Hy wil by sy volk woon in die Allerheiligste, eers van die tabernakel en later van die tempel. En dis waar, die toegang is nie meer so vrylik soos in die begin nie. Die cherubs met die vlammende swaarde wat, ná die sondeval, die tuin vir Adam en Eva toegemaak het (Gen. 3:24), vind ons weer terug op die voorhangsel wat die heilige van die allerheiligste afgeskei het. Daar is dus geen direkte toegang meer tot God nie.

Maar daar is meer as net die voorhangsel met die cherubs. Want voor die voorhangsel het die goue kandelaar gestaan. En gaan lees maar ‘n slag Exodus 25, waar die oprigting van die tabernakel deur God self beskryf word, dan sien jy dat hierdie kandelaar die vorm van ‘n boom gehad het – met ‘n stam, drie arms soos takke aan die een kant, drie arms soos takke aan die ander kant, en dan nog die kelkies in die vorm van amandelblomme aan die einde van elke stam. Hierdie nuwe boom van die lewe (hierdie kandelaar) het voor die voorhangsel ‘n plek kry as belofte, as uitnodiging aan Israel: kom vind die lewe by die Here! Maar wat het die volk so dikwels maar weer gedoen? Ag, hulle het telkens maar weer die verkeerde boom opgesoek, net soos Adam en Eva! Soos ‘n refrein klink dit deur die geskiedenis van die volk: hulle het vir hulle hoogtes gebou en klippilare en heilige boomstamme op elke hoë heuwel en onder elke groen boom (sien bv. 1 Kon. 14:23). Sien u, die Here bied steeds vir sy volk die lewensboom (die goue kandelaar), maar hulle kies telkens maar weer daarvoor om van die kennisboom te eet – om self te bepaal wat goed en kwaad is. En dit loop uiteindelik uit op die ballingskap – net soos die eerste mense word die volk uit hulle land verban.

-----------------------

Maar wanneer ons hierdie geskiedenis tot vervelens toe deurloop het en sien hoe die heilige boomstamme telkens maar weer die oorhand gekry het, telkens maar weer die brandende kandelaarboom in die tempel oorskadu het, en ons wanhopig kan wonder “watter boom sal uiteindelik seëvier?”, dan kom ons ten slotte by nog ‘n boom – die belangrikste boom in die geskiedenis, die boom wat uiteindelik die hele geskiedenis sou bepaal: die kruisboom! En met sy kruisiging aan hierdie boom maak Jesus Christus ongedaan wat Adam en Eva in die tuin van Eden gedoen het; deur sy gehoorsaamheid maak Jesus Christus die toegang na die paradys weer oop! En ons moet mooi verstaan wat by hierdie kruisboom gebeur, broers en susters – dink gou saam met my...

Die kennisboom in die tuin van Eden het net soos al die ander bome gelyk. Geen verskil nie! As jy verby hierdie boom sou gestap het, dan sou jy niks gesien het wat as’t ware uitroep: “Ek is lelik, moenie aan my raak nie.” Daar sou niks aan die vrugte te sien gewees het wat sê: “Ek is sleg, moenie my eet nie!” Daar was dus niks aan hierdie boom wat Adam sou laat dink het: “O, ek soek nie daardie boom nie!” Maar Adam was deur die Here geroep om te sê: “Daar is geen rede in die boom self waarom ek nie daarvan sou eet nie – die enigste rede hoekom ek nie daarvan eet nie, is omdat die Here vir my gesê het: ‘moenie aanraak nie!’ En daarom buig ek voor Hom en sê: ‘Ek vertrou U, Here’, hoewel alles in my sê: ‘Daardie boom lyk heerlik!’” Dis wat Adam moes gedoen het – maar hy het nie... En as gevolg daarvan staan die Here Jesus – baie eeue later, aan die ander uiteinde van die heilsgeskiedenis – ook voor ‘n boom, en alles aan daardie boom, in teenstelling tot die boom in die tuin van Eden, sê: “Jy wil my nie hê nie.” En nogtans sê die Vader vir Hom: “Dit is die boom waarvan Ek wil hê dat jy die vrugte moet eet. En jy moet dit eet eenvoudig omdat ek jou Vader is en Ek jou opdra om langs hierdie weg mense van hulle sondes te red.” En dis presies wat Jesus gedoen het – Hy het die vervloekte vrugte van Golgota se boom geëet. Vervloek, want (so lees ons eers in Deuteronomium 21 en later weer in Galasiërs 3) “vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.” Vervloek... en tog gehoorsaam! En daarom kan Paulus sê dat Jesus gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood van die kruis (Fil. 2:8).

Gemeente, die kruis op Golgota is die nuwe boom van die kennis van goed en kwaad. Jesus staan voor hierdie boom – en ons sien hoe Hy worstel. Ons sien Hom daar – nee, nie in die tuin van Eden nie, maar in die tuin van Getsemane. En Hy worstel: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem”, “Vader, net nie hierdie boom nie!” Maar dan kies Jesus daarvoor om nie self te bepaal wat goed en kwaad is nie, maar om dit oor te laat aan die wil van sy Vader: “Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk” (Luk. 22:42-43). Iemand het ‘n slag gesê: “Ek sal graag daardie engel wil ontmoet wat gekom het om my Heer te versterk!” Want so word hierdie boom, hierdie kruisboom van die kennis van goed en kwaad – dit word die nuwe lewensboom waardeur daar vir elkeen, wat van sy vrugte eet, ewige gemeenskap en lewe met die Vader is. Vir elkeen wat van die vrugte van die kruisboom eet, is daar ewige lewe. Deur Christus se volmaakte gehoorsaamheid!

--------------------

En só, in gemeenskap met die Vader deur Jesus Christus, leer ons ook weer om gehoorsaam te wees, broers en susters; leer ons weer om te doen wat Adam en Eva nagelaat het. En om daardie gehoorsaamheid vir ons konkreet te maak, kan ons maar net weer terugkeer na Genesis 1-3, kan ons onsself maar net beperk tot hierdie eerste hoofstukke. Hierdie drie hoofstukke bevat die boustene vir ons hele samelewing. Gehoorsaamheid hierin laat die samelewing floreer; ongehoorsaamheid hierin laat die samelewing uitmekaar val. Dink, byvoorbeeld, aan Genesis 1: die skepping van alle dinge (die waters, die vrugbare grond, die plante en bome, die son en die maan en die sterre, die voëls en die visse, die vee en wilde diere en kruipende diere), met daarby die opdrag aan die mens: “wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers daaroor” (Gen. 1:28). Wat beteken gehoorsaamheid aan hierdie opdrag? Wat beteken gehoorsaamheid hierin vir ons besluite rondom kinders kry (of nie kry nie)? Wat beteken gehoorsaamheid hierin vir natuurbewaring, vir wetgewing rondom jag en vissery, vir die onderhouding en versorging van ons eie tuine en die parke in ons omgewing en die reservaat hier teen die Magaliesberg? Wat beteken gehoorsaamheid hierin vir die beperking van ons persoonlike CO2-uitstoot? Dink verder aan Genesis 1:27: “man en vrou het Hy hulle geskape” – wat beteken gehoorsaamheid aan hierdie werklikheid vir ons kyk op seksualiteit en geslag? Wat beteken gehoorsaamheid aan hierdie gegewe vir hoe ons homoseksualiteit en die transgender-beweging beoordeel, wat beteken dit vir hoe ons ons besware kenbaar maak teen geslagsveranderende chirugie, hormoon-blokkers, en die ideologie wat daarmee saamgaan? Dink verder aan Genesis 2:18: “Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.” Wat beteken hierdie realiteit vir hoe ons kyk na die posisie van man en vrou in die huwelik, in die kerk en in die samelewing? Wat doen hierdie Goddelike posisiebepaling vir hoe ons dink oor die vrou in die amp? Dink aan Genesis 2:24: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees wees” – wat beteken hierdie Goddelike instelling vir ons huwelik, vir hoe ons mekaar behandel, vir hoeveel tyd ons saam spandeer, vir ons intimiteit as man en vrou met mekaar (en nie met iemand anders buite die huwelik nie)?

Gemeente, gaan lees weer hierdie eerste hoofstukke, en sien daarin die wysheid van die Here vir ‘n heilsame samelewing. Dit is hierdie wysheid van die Here wat die Spreukedigter eeue later ‘n lewensboom noem vir die wat dit aangryp (Spr. 3:18). Die Here se wysheid vir die lewe in die begin en die wysheid in Spreuke eeue later – dit is dieselfde wysheid. Dit is dieselfde lewensboom. En wie in geloof by daardie wysheid lewe, word sélf ‘n lewensboom: “die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe” (Spr. 11:30). Nie dat ons vanuit onsself ewige lewe aan ander kan gee nie, maar ons word weer die beeld van God, wat ons oorspronklik bedoel was om te wees. Ons word weer die spieël van God se liefde en genade en heerlikheid! So word die lewe weer heel, heilsaam; so word die lewe weer goed (binne die beperkings van hierdie aardse bestel).  

-------------------

Ja, binne die beperkings van hierdie aardse bestel... En dit ís beperk, kom ons wees eerlik. En daarom kan ons die preek nie hier afsluit nie; ons is nog nie heeltemal klaar met die lewensboom nie. Ons moet nog een tree vorentoe gee – en dit is die tree van die vooruitsig van wat kom. ‘n Vooruitsig wat die profeet Esegiël alreeds vir ons gee in hoofstuk 47 van sy profesie. ‘n Pragtige vergesig van herstel en genesing. Esegiël sien hoe water onder die drumpel van die tempeldeur begin uitstroom. ‘n Klein stroompie wat geleidelik aan groter en groter én dieper en dieper word. En oral waar hierdie stroom gaan (en dink hierby terug aan die rivier in die tuin) kom daar nuwe lewe. “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra...” (Es. 47:12). En dan sluit Esegiël hierdie vergesig af deur te herhaal: “uit die heiligdom stroom hierdie water” – dit kom van God af! God gaan die paradystoestand weer herstel.

En hierdie vergesig bring ons uiteindelik by die laaste Bybelboek, waar die Here Jesus – wat tussen die sewe goue kandelaars wandel! – vir die gemeente van Efese belowe: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is” (Op. 2:7). En dit word werklikheid in Johannes se gesig van die nuwe Jerusalem in hoofstuk 22. Daar kry ons weer die rivier, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam (want onthou, die lewe kom van God af!). En in die middel van die nuwe Jerusalem se hoofstraat en weerskante van die rivier vind ons dan “die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies” (Op. 22:2). Ja, so kom ons terug by Genesis 2 – nou nie meer in ‘n omgrensde tuin nie, maar in ‘n ommuurde stad (selfde konsep, maar oneindig groter). Die tuin het ‘n stad geword (deurdat die kinders van God deur die eeue hulle taak nagekom het, naamlik om te bewoon en te bewerk en te bewaak en te vermeerder). En steeds is die lewensboom daar – waarskynlik nie meer net een nie, maar ‘n menigte (net soos wat Esegiël reeds gesien het). Alle bome het nou lewensbome geword waarvan die uitverkorenes vrylik mag eet tot genesing. Die groot Heelmeester, die groot Geneesheer het die paradysvloek opgehef. Wat geen toordokter of kwaksalwer op aarde kan doen nie, dit gee die groot Herskepper aan sy kinders deur die werk van Jesus Christus aan die kruisboom.

Broers en susters, gaan daarom in geloof agter hierdie Christus aan. Eet van Hom, drink van Hom – elke keer wanneer ons nagmaal vier en wanneer die Woord bedien word. Laat Hom toe om te bepaal wat goed en kwaad is, volg Hom in gehoorsaamheid in elke aspek van jou lewe. En vind so, deur Hom, die weg terug na die paradys – die nuwe Jerusalem – waar die cherubs hulle swaarde sal ophef sodat jy kan ingaan, en kan geniet van die boom van die lewe. Daar mag jy die aangesig sien van God en van die Lam – dít is uiteindelik die ware lewe.

Amen

 

Liturgie: 

Votum & Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 29:3-5

  • Sing Skr. 26:1

Wetslesing

  • Sing Skr. 26:10-11

Gebed

Sing Ps. 104:4, 8, 10 en 11

Lees:    Genesis 2

Openbaring 22:1-5

Teks: Genesis 2:9, 16-17

Preek

Amenlied Skr. 30:1-4

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 1:2 & 8:5 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.