Ontspanne lewe in die verwagting van die ewige lewe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-02-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 22
Preek Inhoud: 

As ‘n nuwe jaar begin, wonder mens wat sal gebeur, ook as gemeente.

Sal daar hierdie nuwe jaar iemand sterf?

Sal daar nuwe babas gebore word?

Ons is nou een maand in die nuwe jaar, en aan die begin van die tweede is ‘n gemeentelid van ons oorlede.

As iemand te sterwe kom, is dit normaal vir elkeen van ons om na te dink wanneer dit met jouself ook gaan gebeur.

Al dink mens liewer nie daaraan nie, die sterwe van ‘n ander dring hierdie gedagte aan jou op.

Tog kan ons hieroor nadink met die besef heeltyd op die agtergrond dat daar hoop is.

Soos ons lees in 1 Thessalonisense 4:13: ons hoef nie te treur soos die ander wat geen hoop het nie.

 

Tema: Ontspanne lewe in die verwagting van die ewige lewe

Ons het die verwagting van die ewige lewe, nie net vir die siel nie, maar ook vir die liggaam.

Jou oorlede liggaam sal weer opstaan.

Jou longe sal weer asemhaal, en jou hart sal weer klop, en in jou brein sal daar weer aktiwiteit waarneembaar wees, jou vel sal weer warm word, en alle siektes wat jy gehad het, of dit kanker was of beroertes of wat ook al, sal weg wees.

Gebreke soos kunsheupe of kunsknieë sal vervang wees met die gesonde een, getrekte tande sal weer in jou mond wees, en so kan mens aangaan.

Littekens wat jy aan ongelukke of operasies oorgehou het, sal weg wees.

Jou ou liggaam sal met nuwe glans opstaan.

‘n Liggaam vol energie en lewenslus.

 

Die Bybel is hieroor baie baie duidelik.

Dit geld vir elke mens wat in Jesus glo.

1 Thessalonisense 4:14: “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring”, ja die wat “in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” (vers 16).

Dit geld vir alle gelowiges wat deur die eeue al gesterf het, ook vir hulle wie se stoflike oorskot al heeltemal vergaan het.

Nie so lank gelede nie is daar naby Jerusalm ‘n klipkissie opgegrawe waarop uitgekap was:

Jakobus, seun van Josef, broer van Jesus.

‘n Baie opmerklike fonds!

Nie soseer die klipkissie nie, maar wel die name daarop.

Klipkissies was vroeër algemeen.

Vroeër is mense naamlik eers in ‘n graftombe, ‘n grot, begrawe.

Maar as na jare net die skelet oorgely het, is die skelet in ‘n klipkissie gebêre.

Dit was ‘n algemene gebruik, en ook om daarop te graveer wie se beendere daarin is.

In hierdie geval is besonder dat daarop gestaan het, nie net die naam van die persoon en wie se seun Jakobus was nie, maar ook wie sy broer was.

Dit was nie gebruiklik om dit te doen nie.

Tog was daar by Jakobus ‘n besondere rede om dit wel te doen.

Uit hierdie enkele woorde spreek die hoop waarmee Jakobus gesterf het en begrawe is.

‘n Hoop op sy oudste Broer, wat Hy ook as sy Heiland en Saligmaker mog leer ken het – dink aan die brief wat daar van Jakobus in die Bybel staan.

Soos Jesus gesterwe en weer opgestaan het, so het Jakobus seker geglo sou ook met hom gebeur.

Die klipkissie is nou leeg, sy beendere het waarskynlik al heeltemal vergaan.

Tog sal Jakobus op die laaste dag liggaamlik opstaan, met sy liggaam.

En net so met almal wat hulle hoop op Jakobus se oudste Broer gestel het.

Jesaja skryf: “U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon!” (Jes 26:19)

Die Bybel is hieroor baie duidelik.

As mens vandag op ‘n begrafplaas verby grafte loop, en daar staan Bybeltekste op die grafstene, versterk dit mens in jou geloof.

Net so ‘n getuienis het van Jakobus se klipkissie uitgegaan, selfs lank nadat hy gesterf het.

 

Vandag, tweeduisend jaar na Christus se opstanding, leef ons nog met dieselfde sekerheid.

“Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou”, bely Job (Job 19:25-27).

Job was iemand wat geweet het wat ‘n verminkte liggaam was.

Hy was dodelik siek, sy liggaam was vol swere van melaatsheid.

 

Waarom moet gelowiges eintlik nog deur so ‘n diep dal gaan?

Hoekom moet ons nog sterf?

Hoekom is die sterwensproses dikwels so moeilik?

Gemeente, laat ek voorop stel dat ons nie ‘n antwoord, ‘n verklaring, kry vir al ons vrae nie.

Juis die boek Job waarsku om nie te gou te beskuldig nie.

Elifas, Bildad en Sofar het geen idee gehad wat eintlik gaande was nie.

Dit maak ons versigtig as ons oor lyde en sterwe praat.

Uit die boek Job leer ons dat die Satan die aanstigter was van alle lyde in die wêreld.

Hy is die skuldige.

Terselfdertyd leer die boek Job dat God ook die lyde gebruik om ‘n goeie doel te dien.

Iemand het ‘n keer gesê.

Lyde is God se megafoon vir ‘n dowe wêreld.

Dikwels begin ons as mense eers oor belangrikse sake nadink, as ons met teëspoed gekonfronteerd word.

Deur die teëspoed moet God mense soms wakker skud.

Skynbaar bring lyde mense tot besinning.

En dan nie net lyde wat jy self ervaar nie, maar ook as dit ander mense tref.

Iemand wat vir jou dierbaar is, se swaarkry kan vir ‘n mens net so erg wees as wat jy dit self deurmaak.

Feit is, lyde verander ons visie op die lewe dramaties.

Jy kan daarna nie meer wees wie jy was, sorgeloos en onverskrokke nie.

Die Bybel wys ons daarop dat sowel die duiwel as God betrokke is in die lyde.

Deur die sondeval het die mensheid bondgenoot van die duiwel geword.

En omdat die mensdom in Satan se opstand gedeel het, deel hulle nou ook in die straf.

Maar terselfdertyd laat God ons nie los in lyde nie, dit is juis sy megafoon.

Waar Hy in voorspoed met ons praat, skreeu Hy in teëspoed.

Dit nie om ons te verwyt nie, maar soos ‘n ouer wat sy kind van gevaar af wegroep.

Pasop! sal ‘n ouer skreeu.

So roep die Here ons terug juis ook deur swaarkry.

As ons dit besef, dan kan ons juis naby God voel te midde van lyde.

Ja ontspanne te wees, dinge oorgee, omdat ons weet dat voorspoed en teëspoed, gesondheid en siekte uit sy Vaderhand kom.

 

Sondag 22 gebruik nie die woord ontspanne nie, maar troos.

Getroos ly, en ook getroos iemand anders wat ly bystaan.

Jy kan ontspanne wees, omdat jy reeds die begin van die ewige vreugde in jou hart voel.

Daarheen is ons onderweg, al gaan dit deur ‘n dal van doodskaduwee.

Na hierdie lewe wag ‘n heerlikheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor, en in geen mensehart opgekom het nie.

Dit mag ons aan mekaar vertel.

Vertel vir hulle wat naby hulle sterwe is, maar ook aan hulle wat nog volop in die lewe staan en vir die bejaardes en siekes moet sorg.

Ons sorg word naamlik gedoen in hierdie konteks, dat iemand voorberei word op die ewige lewe.

In die gemeente is die diakens hulle wat leiding gee in die onderlinge sorg.

Hierdie diens van barmhartigheid vloei voort uit die liefde van Christus.

In die die gemeente van Christus mag niemand ongetroos lewe onder die druk van siekte, ouderdom, eensaamheid of armoede nie.

Dit is die taak van die diakens om te sorg vir die goeie voortgang van hierdie diensbetoon in die gemeente.

Nie dat hulle dit alleen doen nie.

Hulle neem leiding, hulle moedig en spoor aan.

En so sorg die hele gemeente vir mekaar en vir die wat God op ons pad plaas.

Ons deel reeds in die skat van die ewige lewe, ons voel die begin daarvan reeds in hierdie lewe.

Alles doen ons met daardie perspektief voor oë.

 

Die hervormer Marten Luther het ‘n boekie geskryf oor hoe om goed te sterwe.

Die woord wat hy gebruik het was: euthenasie, euthanasia.

Dit is oorspronklik ‘n Griekse woord en beteken letter: ‘n goeie dood.

‘n Goeie dood sterwe.

Die kuns om goed te sterwe.

Deesdae word hierdie woord vir presies die omgekeerde gebruik.

Deesdae word dit gebruik vir mense wat glad nie die kuns ken om goed te sterf nie.

Mense wat hulle ore toedruk om nie God se megafoon te hoor nie.

Hulle kan die dood nie in die oë kyk nie, omdat die angsaanjaende angel van die dood vir hulle nog nie verwyder is deur Christus nie.

Soos Paulus skryf in 1 Korinthiërs 15: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.” (vers 55-57)

 

Luther het dus ‘n boekie geskryf oor die kuns om goed te kan sterwe.

Wat hou dit in?

Dit hou in dat jy gehoor gee aan God se roepstem, dat jy waarneem en erken dat die einde van jou lewe nader kom.

Miskien deur ‘n siekbed, miskien deur ouderdom, dalk deur lyde, op welke wyse ook.

Dit hou in dat jy voorbereid is op die sterwe, deur jouself daarin te begin oefen om dinge los te laat.

Dit hou in dat jy skoonskip maak, in die sin dat jy vergifnis vra vir jou sondes, by God, en indien dit nog uitstaande is, by jou naaste; of dat jy vergifnis skenk.

Dit hou in om na te dink oor wat Christus se beloftes inhou, en dat dit binnekort vir jou sover sal wees om dit te aanskou.

Dat jy dan al die reste van die ou sondige mens wat nog in jou oorgebly het, agter jou laat, die dinge wat nie die onverganklikheid kan beërf nie.

Ja dit hou in dat jy daarna verlang om die sonde, gebrokenheid, alle ellende en verdriet vergoed agter jou te laat en uit te sien na die oomblik as jy by jou sterwe dadelik tot Christus in die hemelse heerlikheid opgeneem sal word.

‘n Goeie dood sterf beteken ook dat jy dit vir hulle wat agterbly makliker maak om verder te gaan met die lewe.

Dat hulle, aangesteek deur jou vertroue, ook in vertroue op Christus verder gaan as jy nie meer daar is nie.

In vertroue op Hom wat gesê het:

“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh 11:25).

 

Broer, suster, glo jy dit?

Gee jy jouself oor aan Christus in geloof?

Laat ons net soos Maria en Martha en Thomas bely:

Ja Here, ek glo!

U is my Here en my God!

 

Nogmaals, die Bybel is baie duidelik oor die ewige lewe.

As ons die boodskap soos saamgevat in Sondag 22 ongeloofwaardig vind, te mooi vir woorde, dan lê dit nie aan die Bybel nie.

Die Bybel is duidelik.

Gemeente, aanvaar dit in geloof.

Skryf die woorde daarvan in jou hart.

Doen moeite om daaroor na te dink, sodat dit in hart, in jou lewe deurdring.

“hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.” (1 Kor 15:53)

En wanneer dit gebeur het, “sal vervul word die woord wat geskrywe is [Jes 25:8]: Die dood is verslind in die oorwinning.” (1 Kor 15:54)

So deel die Bybel hierdie feite mee op talle bladsye.

Sien ook Filippense 3: Die Here Jesus Christus sal ons vernederde liggaam van gedaante verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (vers 21).

En ook 1 Johannes 3: “maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees” (vers 2).

En Lukas 23: “En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (vers 43)

Die moordenaar aan die kruis ontvang genade.

En so mag ons, wat uit onsself net sulke groot sondaars is, genade ontvang om dadelik met ons sterwe by Hom in die hemelse paradyslike heerlikheid te wees.

En 2 Korinthiërs 5: “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word, as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie.” (vers 1-3)

Hier hoor ons die oproep om onsself met Christus te beklee.

Ons eie klere, ons eie werke, is nie aanvaarbaar, dit sal ons naak voor God laat staan.

Maar Christus beklee ons met feesklere, waarmee ons sonder skaamte die hemelse bruilofsaal kan ingaan.

 

En dan nog ‘n laaste Bybelteks, al is daar veel meer:

“En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf – salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.” (Openb 14:13)

Gemeente, oud en jonk, skryf hierdie Bybelwoorde in jou hart.

So maak jy ‘n begin met ‘n goeie dood.

Ontspanne mag ons ons laaste dag tegemoet gaan.

Ja ons lewe ontspanne, getroos, want ons verwag die ewige lewe.

En gemeente, deel hierdie Bybelverse met ander, sit dit op jou status, op jou yskas, ensovoorts.

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” – Filippense 1:21.

Deel hierdie Bybelverse met mense wat naby aan die dood gekom het, en ook met hulle wat dink dit gaan nog eeue deur voordat hulle gaan sterf.

Getuig van wat Christus vir jou gedoen het:

“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Rom 8:38-39)

Ook geen toekomende dinge nie, staan daar.

Dus ook nie as jy vroeër of later op jou sterfbed lê, en laat ons eerlik wees, elkeen van ons sien daarteen op.

Maar nietemin, ook daardie toekomende sterfdag gaan my nie kan skei van Christus Jesus en God se liefde nie.

Versekerd en ontspanne, so kan ons die toekoms tegemoet gaan.

Ons ervaar nou al die begin van die ewige vreugde.

Ons weet verseker, op grond van God se Woord, dat nog veel meer gaan kom.

“dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus, wat U gestuur het.” (Joh 17:3)

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 2 Korinthiërs 5:1-10; 1 Thessalonisense 4:13-18

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 22

Hier is ‘n paar vrae om te help om die preek te laat insink, verder daaruit te leer en ook toe te pas.

  1. Wat beteken dit dat gelowiges in die hemel oorklee gaan word (2 Kor 5:1-3)?
  2. Wat is die oorspronklike betekenis van die woord ‘euthanasia’?
  3. Noem enkele dinge wat pas by ‘n gelowige, ter voorbereiding op ‘n goeie dood.
  4. Wanneer het jy die eerste keer in jou lewe ‘n sterfgeval meegemaak? Hoe het jy dit ervaar?
  5. Watter Bybelteks sal jy eendag op jou graf wil hê?

 

Liturgie: 

Votum
Seën
Ps 16:1
Wet
Ps 119:7,10
Gebed
Skriflesing: 2 Korinthiërs 5:1-10
Ps 63:1,2
Skriflesing: 1 Thessalonisense 4:13-18
Ps 63:3,4
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 22
Preek
Ps 16:4,5
Gebed
Kollekte
Sb 36:1-5
Seën