DV, die kuns om Christelik te lewe

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-12-31
Teks: 
Jakobus 4:13-17
Verwysing: 
Jakobus-reeks #8
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente(s) van ons Here, Jesus Christus,

Die apostel Paulus – pionier onder die heidenvolke vir die Messias van Israel! Nou, om hierdie pionierswerk te kon verrig, moes Paulus dikwels en ver reis, kruis en dwars deur die uitgestrekte Romeinse Ryk. In die boek Handelinge word ten minste drie van sy sendingsreise vir ons beskrywe, maar uit Paulus se briewe kry ons die indruk dat daar meer moes gewees het. Reise – nie wekelank of maandelank nie, maar jarelange reise. Per skip oor die Middelandse See, of te voet langs die paaie-netwerk van die Romeinse Ryk. Reise met baie logistiek, reise wat beplanning geverg het – watter stad besoek ons hierna? Waar slaap ons vanaand? Waar gaan ons weer tente maak om inkomste te kry? Watter rigting slaan ons volgende in? Neem ons ‘n skip of gaan ons te voet? Alles in diens van Koning Jesus! En tog... ten spyte van sy hoë roeping as apostel onder die heidene, het Paulus altyd sy reisplanne aan die wil van God onderwerp.  

Wanneer hy in Handelinge 18 Efese verlaat, dan sê hy in vers 21: “Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil.” In Romeine 1:10 bid Paulus dat hy “nou eindelik ‘n goeie geleentheid sal vind deur die wil van God” om die gemeente in Rome te besoek. Aan die Korinthiërs skryf hy dat hy gou na hulle sal kom “as die Here wil” (1 Kor. 4:19) en dat hy dan ‘n tyd lank by hulle sal bly “as die Here dit toelaat” (1 Kor. 16:7). En in Filippense 2:24 vertrou Paulus “in die Here” dat hy spoedig na die gemeente in Filippi sal kom. Paulus maak dus sy planne – dit kan ook nie anders met so ‘n groot sendingsprojek nie! – maar hy onderwerp daardie planne keer op keer aan die wil van God. En maar goed ook, want soms het die planne anders verloop: in Handelinge 16 word Paulus deur die Gees verhinder in sy planne om na Asië te gaan (vers 6), en wanneer hy vervolgens rigting Bithinië wil gaan, laat die Gees dit ook nie toe nie (vers 7).

Die apostel Paulus – pionier onder die heidenvolke vir die Messias van Israel. Maar altyd ás en sóós die Here wil. Deo Volente, DV! Vir Paulus was dít nie maar net ‘n geykte uitdrukking nie; nee, vir hom was dit ‘n daaglikse werklikheid in diens van Koning Jesus. En Jakobus leer vir ons dat, waar ons vanaand die nuwejaar ingaan, dit ook ons werklikheid behoort te wees.

Tema: DV, die kuns om Christelik te lewe!

  1. Ons moet hierdie kuns leer
  2. Dit begin by ‘n Godsbesef
  3. Ons moet hierdie kuns oefen
  4. Dit lei tot regte prioriteite

 

1. Nou, gemeente, hoe anders was dit met die handelaars, oor wie Jakobus in ons teks skryf, as met Paulus. Hulle moes, net soos Paulus, ook op reis gaan. Hierdie lidmate van die gemeente was immers handelaars – en nie sommer kleinhandelaars nie, nee, hulle was groot en welgestelde ondernemers (hoewel, soos ons môreoggend sal sien, hulle in die minderheid was). Hulle moes op reis gaan vir hulle internasionale handelsbedrywe. Hulle moes beplan: wanneer, waarheen, hoe lank, waarvoor (sien Jak. 4:13). Maar volgens Jakobus het daar iets geskort aan hulle beplanning. Hulle was Christelike handelaars, maar op een of ander manier het hulle nie daarin kon slaag om hulle handelsplanne met hulle Christenskap te verbind nie. Dié twee het los van mekaar gestaan.

Nou, broers en susters, wie van ons doen nie, net soos Paulus en hierdie handelaars, beplanning nie? Dalk nie vir ‘n sendingsreis of ‘n sakereis nie, maar wie van ons beplan nie vir die jaar wat voorlê nie? Die meeste van ons doen een of ander vorm van beplanning. As jy jou eie besigheid het, het jy waarskynlik al begin beplan vir nuwe tenders, beter produkte, of moontlik ‘n uitbreiding van die besigheid? Dalk beplan jy vir jou matriekjaar – rekordeksamen, eindeksamen, inskrywing vir universiteit? Miskien is jy deel van ‘n kommissie in die gemeente, en moes julle al nadink wat julle in 2023 wil doen – ek weet dat die kerkraad alreeds met beplanning begin het, en ek weet dat die preekrooster al tot omtrent die middel van die jaar uitgewerk is. Of dalk het jy al begin beplan aan jou vakansies vir 2023? Net soos alle ander mense, net soos alle ander besighede en organisasies, maak ons ons planne vir die nuwe jaar.

 

O ja, net soos alle ander mense? Beplan jy en ek net soos alle ander mense, of het ons Christenskap nog iets met hierdie beplanning te make? “Natuurlik het my Christenskap te make met my planne vir die nuwe jaar”, sal jy sê. Immers, ons het sopas uit Jakobus 4 gelees: van planne maak, van ambisies hê, en hoe Jakobus hierdie planne en ambisies grondig relativeer – omdat ons nie weet wat God se wil met ons lewens is nie. En ons sal in beginsel hartlik hiermee saamstem – natuurlik het my geloof met my planne te make. Maar hoe presies? Hoe gaan ons Christelik die toekoms in?

Gemeente, die kuns van die Christelike lewe is iets wat ons moet leer. Kyk maar net na die Christene aan wie Jakobus sy brief skryf. Hy skryf aan mense wat as gevolg van hulle geloof vervolg is en moes vlug, ‘n nuwe heenkome moes vind, ‘n nuwe bestaan moes probeer opbou. Kyk hoe baie was hulle bereid om op te offer vir die Here en vir die geloof in Jesus Christus. Dit was mos nou mense met ‘n lewende geloof!? Dit was mos mense wat weet wat Christenskap beteken!? Ja. En tog moet Jakobus hulle waarsku vir arrogansie, vir hoogmoed – in verse 11 en 12 waarsku hy vir arrogansie in die omgang met mekaar: “Die wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie ‘n dader van die wet nie, maar ‘n regter.” Arrogansie – jy stel jouself bo die wet in jou oordeel oor ander. En nou, in verse 13-17, waarsku Jakobus vir arrogansie in die maak van toekomsplanne.

Vir seker, Jakobus se lesers is kinders van die Here, maar ook kinders van die Here moet nog baie leer. In die praktyk van die daaglikse lewe kan kinders van die Here arrogant en hoogmoedig word, ook al bely hulle in teorie ‘n diepe godsvertroue. Die kuns van die Christelike lewe moet ‘n mens leer. En dit gaan nie maar net daaroor dat ons die afkorting DV in ons spraakgebruik leer invoeg nie. Nee, dit gaan baie dieper. Dit gaan oor die vraag: wat beteken dit om as Christen die toekoms in te gaan? Wat beteken dit om, gevul met Christus en gelei deur sy Gees, elke nuwe dag aan te pak – in jou omgang met ander, met jou werk, met jou eie moontlikhede en beperkings? Die kuns van die Christelike lewe moet ‘n mens leer.

En dit begin met Godsbesef – dis ons tweede gedagte.

 

2. Godsbesef – dit is hoe ‘n mens kan saamvat wat Jakobus vervolgens in vers 14 aan sy lesers voorhou: “Jy met al jou planne, jou dagboek, jou idees. Jy weet nie eens of jy môre gaan lewe nie! Jy is maar net ‘n damp, ‘n miswolkie – dit verskyn vir ‘n oomblik, maar as jy weer kyk, is dit weg. Jy het nie mag oor jou lewe nie, jy is nie in ‘n posisie om waarborge bied nie. Besef jy eintlik jou eie kleinheid? Jou verganklikheid? Besef jy dat daar ‘n God is wat oor jou lewe beskik?”

Pragtig hoe Jakobus, sonder om doekies om te draai, eenvoudig benoem wat almal – alle mense – ten diepste weet. Baie nugter skuif hy die kwesbaarheid van die lewe tot in die middel van die gesprek – dis die olifant in die vertrek: jy weet nie eens of jy môre gaan lewe nie! Maar dis mos nie eintlik wat ons wil hoor nie? Ja, wanneer ‘n mens oud en bejaard geword het, dan weet jy: ek lewe by die dag. Dan weet jy dat die lewe nie vanselfsprekend is nie. Jy het immers al so baie mense om jou heen sien sterf. Maar as jy jonk en sterk en in die fleur van jou lewe is, as jy op die top van jou loopbaan is, dan wil jy mos nie die hele tyd by jou eie kwesbaarheid bepaal word nie? Natuurlik weet jy dat die lewe kwesbaar is; natuurlik weet jy dat ongelukke sommer vinnig gebeur. Jy kan skielik in ‘n motor-ongeluk kom; jy kan sommer baie maklik so ‘n virus opdoen. Kyk maar net na die nuus van die laaste dae: 34 sterf in Boksburg-tragedie, baba sterf in gru-ongeluk, jong seun verdrink in die see. Dis maar net ‘n paar dinge van die laaste dae, net hier in Suid-Afrika. Ons weet dit, ons lees die nuus. Maar ons kan mos nie die hele tyd by die risiko’s van die lewe bly stilstaan nie? Dan het jy mos nie meer ‘n lewe nie?

Gemeente, dit is nie Jakobus se doel om ons voortdurend oor die risiko’s van die lewe bekommerd te laat wees nie; hy wil nie hê dat ons die hele tyd bang is vir ‘n donker en onbekende toekoms nie. Nee, Jakobus se doel is om ons met Gód die toekoms te laat ingaan – dís die kuns van die Christelike lewe. Want Gód se wil gaan bo al ons planne uit, dit oorstyg al ons moontlikhede. Om Christelik te lewe, begin daarom met Godsbesef: bo alles wat ek kan uitdink, beplan of uitvoer, is daar ‘n God in die hemel. Hy is die Skepper en die Bestuurder van alles in hierdie wêreld. Hy is in Christus my Vader. En in sy Vaderhande lê my lewe – my liggaam en my siel. Of soos ons in Sondag 10 van die Kategismus bely: Lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede – dit alles kom my uit sy Vaderhand toe. Ek lewe onder ‘n oop hemel. Daar is Een wat bo alles staan, en ek lewe onder sy bestuur. Heerlik – om dít te weet! Om Christelik te lewe, begin met Godsbesef.

En dit moet geoefen word - dit is ons volgende gedagte.

 

3. Hierdie Godsbesef, waaroor ons sopas gepraat het, is iets waaroor ons redelik maklik kan saampraat wanneer iemand ons daarna vra – byvoorbeeld wanneer die ouderling tydens huisbesoek daaroor uitvra. Dis iets waarmee ons redelik maklik kan instem wanneer dit, soos nou, in ‘n preek na vore kom. Maar dan kan dit natuurlik redelik teoreties bly. Dit gaan uiteindelik daaroor dat ons werklik vanuit hierdie Godsbesef sal léwe, en dat jy jouself vir jou hele toekoms aan God sal toevertrou. En dít, sê Jakobus, moet ‘n mens oefen! Oefen, deur dit te benoem. Nie net wanneer jy daarna gevra word by ‘n huisbesoek nie, maar ook wanneer jy vir ander vertel van jou planne en jou toekoms. Oefen, deur dit te benoem wanneer jy tot die Here bid.

Die kuns om Christelike te lewe, moet geoefen word. En Jakobus help ons daarby wanneer hy in vers 15 skryf: “In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” Jakobus sê eintlik dat ons ons arrogansie moet laat vaar – want, vers 16, “nou roem julle in jul grootpratery; al sulke roem is verkeerd.” Jakobus wil hê dat ons effens meer beskeie oor ons lewens moet praat. “As die Here wil, sal ek môre by jou kom kuier.” “By lewe en welsyn sal ek volgende jaar met my studies begin.” “DV gaan ek hierdie jaar ‘n besoek aan familie in Nederland bring.” Sê dit maar, bou hierdie beskeidenheid maar gerus in jou spraakgebruik in.

 

Maar word dit dan nie al te maklik ‘n formule nie, ‘n geykte uitdrukking? Moet ons dit regtig by elke afspraak en elke toekomsplan gebruik? Ek het dieselfde ook al gedink wanneer ek op Sondae die afkondigings voor die diens lees. In een stel afkondigings kry jy dan: Die kerkraad vergader, as die Here wil, Dinsdagaand; die mannevereniging se vergaderings begin, as die Here wil, weer Donderdagaand; die kooroefeninge begin DV weer Maandagaand. Kan ons dit nie maar net een keer aan die begin sê nie? Moet ‘n mens dit elke keer herhaal? Nee, dit is geen wet nie, en dit is ook geen (magiese) formule nie. En tog, so leer Jakobus ons, is dit goed om dit bewustelik te gebruik: Deo Volente, DV, as die Here wil. Maar dan moet ons baie goed verstaan wat ons daarmee onder woorde wil bring...

Die Moslems ken naamlik ‘n soortgelyke uitdrukking as die Christelike Deo Volente: hulle noem dit inshallah. ‘n Mens hoor dit dikwels by Moslems. Ja, op een of ander manier het Jakobus se beginsel ook in die Koran beland. En tog is daar ‘n groot verskil, ‘n wesenlike verskil, tussen die Christen se Deo Volente en die Moslem se inshallah. Want Moslems gebruik dit op ‘n fatalistiese manier – wat Allah besluit, dit gebeur; jy kan niks anders doen nie as om jouself daaraan te onderwerp. Inshallah spreek dus van onsekerheid en onderwerping – ek is op ‘n manier uitgelewer aan Allah. Maar vir Christene is dit anders – DV, Deo Volente, as die Here wil, dit is ‘n uitspraak van vertroue. Dit beteken om jouself aan God se wil toe te vertrou. Dit beteken dat jy net saam met Hom die toekoms wil ingaan, omdat jy weet dat Hy die beste vir jou soek. Omdat jy weet dat hy die draaiboek van die geskiedenis in sy hande hou en sy heilsplan in Christus onherroeplik tot uitvoering bring. Hy bring die groot lyne bymekaar in sy ewige Koninkryk, en Hy verbind die lyne van jou en my lewe aan daardie ewige toekoms.

 

Nou, hierdie Godsvertroue moet ons oefen, broers en susters. Ons lewe immers in ‘n wêreld waar die meeste mense reken dat hulle God nie nodig het nie; vir die meeste mense is die lewe maakbaar, as jy maar net genoeg geld en mag het. En so maklik begin hierdie mentaliteit ook deel van ons denke word. So maklik noem ons slegs óns planne, maar nie die Here se Naam nie. So maklik fokus jy slegs op jou aktiwiteite en verantwoordelikhede vir die week, maar vra jy nie meer sy hulp daarin nie. Maar as jy verstaan wat Jakobus bedoel, sal jy steeds weer jou hande vou. Dan erken jy jou eie swakheid en kwesbaarheid, ook al is jy ook hoe sterk en gesond. Dan bely jy jou afhanklikheid, ook wanneer jy sonder probleme selfstandig kan funksioneer. Dan vra jy dat die Here jou die lewe sal gee om jou planne te kan uitvoer, ook al het jy ál hierdie planne reeds in werking begin sit. Dan vertrou jy jouself aan Hom toe. Dit is wat dit beteken om die Christelike lewe in te oefen. Teen die risiko van arrogansie en hoogmoed in, noem jy die Naam van die Here – sowel in die openbaar as in jou binnekamer.

En daardeur leer jy om die regte prioriteite te stel – dit is ons laaste gedagte.

 

4. “As die Here wil” – broers en susters, verstaan u hoeveel ruimte hierdie geloofsuitspraak aan ons gee? Dis waar, as kinders van God kry ons ‘n verantwoordelikheid; ons moet planne maak, ons moet nadink oor die toekoms. Geen twyfel daaroor nie. Maar as jy daarby voortdurend voor oë hou dat die dinge uiteindelik altyd gaan soos die Here wil – en nie noodwendig soos wat ek dit beplan het nie – dan kom daar ruimte om gehoor te gee aan Jakobus se laaste oproep om goed te doen (vers 17). Met die eerste oogopslag wonder jy wat Jakobus presies bedoel met hierdie vers – dit lyk asof hierdie vers nie lekker inpas nie. Maar as jy dit in die konteks van die hele paragraaf lees, dan begin jy verstaan. Dan begin jy verstaan dat DV, “as die Here wil”, aan jou die ruimte bied om goed te doen. Hoekom?  

Kyk, as jou planne die alfa en die omega is, as jou planne allesbepalend is, ja, dan moet die dinge natuurlik gaan soos wat jy beplan het. En as dit nie gaan soos wat jy beplan het nie, dan moet jy alles op alles sit om dit wel volgens jou beplanning te laat verloop. Dan word jou beplanning allesbepalend, en jy moet sorg dat dinge verloop soos wat jy dit beplan het. Maar by al ons groot planne en beplanning, sneuwel dan die aandag vir die eenvoudige, die menslike, die goeie... Jy is dan so gedrewe deur alles wat moet gebeur, dat jy nie meer let op hóé jy dinge doen en hoe jy omgaan met die mense wat oor jou pad kom nie. So besig met planne vir jou besigheid, dat jy jou vrou en kinders verwaarloos. So in beslag geneem deur planne by die skool en by die werk, dat daar nie meer ruimte is om ‘n siek vriend of vriendin te besoek nie. So besig om jou planne of ander se planne vir jou te realiseer, dat jy omgekrap is wanneer iemand jou aandag vra. So intensief besig met al jou verantwoordelikhede dat jy nie meer die krag het om Bybel te lees en Sondae kerktoe te gaan nie.

 

Maar DV, “as die Here wil”, leer vir ons: ja, ek moet beplan, ja, ek moet vooruit dink, maar uiteindelik gebeur dit wat God wil: “Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan” (Spr. 19:21). Wat God wil, gebeur! Wonderlik, want dan kom daar ruimte! Ek kan my planne in die hande van die Here laat, en ek kry ruimte om die goeie te doen. Ek het beplan, ek het nagedink oor die toekoms, maar nou mag ek my planne verder by die betroubare God laat. En my hande word vry om te sorg vir die mense wat oor my pad kom; ek kan eerlik en betroubaar in my werk wees, ook al werk dinge nie noodwendig uit soos wat ek dit beplan het nie; ek kan vriendelik en geduldig wees met die mense om my heen; ek kan diensbaar en heilig met God en my naaste lewe, ook wanneer dit gaan oor my ure en my rande. So kom daar ruimte vir die regte prioriteite, want God se wil sal geskied.

DV, dit is die kuns van die Christelike lewe, ook in die nuwe jaar: soekend na God se wil, biddend om God se hulp, vertrouend op God se seën, genietend van God se aanwesigheid. Maak jou planne, besluit op jou nuwejaarsvoornemens, maar doen dit saam met jou God. Elke oggend in jou gebed. En gaan dan, en doen wat goed is!

Amen

Liturgie: 

Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 74:11, 12, 15, 16

Gebed

Sing Skr. 22:6-8

Lees & teks: Jakobus 4:13-17

Sing Ps. 39:3-5

Preek

Geloofsbelydenis (HK, Sondag 10)

Sing Ps. 103:7-9

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 89:10, 14, 17

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.