Christus leer ons die sesde bede bid, want Christus ken die duiwel en Christus ken ons

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-01-15
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 52 v/a 127
Preek Inhoud: 

Ons kyk vanaand na die sesde bede.

In die laaste drie bedes, 4, 5 en 6, is die fokus op ons behoeftes.

En om eerlik te wees, waar alle mense sal saamstem dat die vierde bede – gee ons vandag ons daaglikse brood – ‘n onmisbare basiese behoefte is, sal baie mense nie werklik insien dat die sesde bede net so ‘n onmisbare daaglikse behoefte is nie: Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Bose word hier met ‘n hoofletter gespel, verwysend na die owerste van alle kwaad, naamlik die Satan.

 

In ons tyd ontken baie mense die bestaan van die Satan, asook die bestaan van duiwels, ook wel genoem demone of bose geeste.

Onder invloed van atheïsme en sekularisasie meen mense nie net dat daar geen God is nie, maar ook dat die duiwel nie bestaan nie.

Hierdie idees is egter nie uniek aan ons tyd nie.

Ook al in die Bybelse tyd was daar hulle wat die bestaan van geeste, hetsy goed of kwaad, ontken het.

In Handelinge 23:8 lees ons: “Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie”.

 

In die volmaakte gebed, die Onse Vader, leer Christus ons dat dit net so ‘n onmisbare behoefte vir ons is as ons daaglikse brood dat ons moet bid:

Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons elke dag van die Bose.

Want die Bose bestaan beslis!

 

Tema: Christus leer ons die sesde bede bid, want:

1       Christus ken die duiwel

2       Christus ken ons

 

1       Christus ken die duiwel

Gemeente, ‘n preek oor die duiwel, is dit wel Bybels?

Feit is dat die duiwel ‘n baie bekende persoon in die Bybel is.

Sy naam, duiwel, staan 115 keer in die Bybel, en sy ander naam, Satan, 55 keer.

Dit teenoor byvoorbeeld Migael, die owerste oor die engele, wie se naam nie eers 10 keer in die Bybel voorkom nie.

Duidelik wil die Here in sy Woord hê dat ons die duiwel goed sal ken, dat ons met hom moet rekening hou in ons lewens, dat ons nie sal leef asof hy nie bestaan nie.

Ons ontmoet die duiwel al die eerste keer byna aan die begin van die Bybel.

Daar waar hy homself vermom as ‘n slang, maar reeds direk sy ware kleure wys.

Net soos sy eie val veroorsaak is deur die feit dat hy ontevrede was met sy posisie, so probeer hy nou die eerste mense, Adam en Eva, ontevrede maak.

En hy gebruik daarvoor dieselfde swak plek: verlange na selfbeheer, verlange na mag.

En hy slaag daarin.

Die Satan en sy engele se val word gevolg deur die mensheid se sondeval.

Na die so roemryke hoogtepunt van die skepping waarmee die Bybel begin, sak dit ineens na ‘n enorme dieptepunt, reeds in die derde hoofstuk van Genesis.

 

Nou is die opstand en val van die Satan en sy engele nie iets waaroor ons in Genesis lees nie.

Tog is dit iets wat ‘n realiteit is vanaf byna die begin van die geskiedenis.

Genesis gaan volledig daarvan uit.

En in die hele Skrif word gewaarsku teen die aartsvyand van God, en dat daar ‘n geestelike stryd woed en dat dit ‘n bittere werklikheid is.

Die sogenaamde proefgebod van Genesis 3 gaan daarvan uit dat daar ‘n werklikheid van kwaad, van opstand van God aanwesig is, en direk word Adam en Eva daarteen gewaarsku.

God ken die duiwel uit en uit.

En waarna ons nounou in die tweede punt gaan kyk, Adam en Eva sou nie daarteen gewaarsku gewees het as God hulle nie ook deur en deur geken het, en geweet het dat hulle in beginsel ook daarvoor vatbaar was nie.

 

Dus die realiteit van die Satan en sy opstandige aanhang is iets wat baie aanwesig in die Bybel is.

Daarsonder kan ons die Bybel nie verstaan nie.

As jy dit ontken, maak die Bybel, die heilsgeskiedenis, ja selfs Christus se menswording en lyde en sterwe nie meer sin nie.

 

Maar, al is die Bybel dus deurtrek van hierdie realiteit, tog lees ons in die Bybel weinig detail oor wat presies met die Satan gebeur het in daardie begindae van die skepping, en wanneer dit presies gebeur het, en wat hy gedoen het.

Die gedeelte wat ons gelees het, Judas 1, is ‘n uitsondering wat dit betref, al word ook daar net kortliks na die opstand en val van die engele verwys.

“Die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar” (Judas 1:6).

 

Nou om te verstaan wat hier presies geskryf staan, moet ons kortliks na die konteks kyk.

Aanleiding hoekom Judas sy brief geskryf het, was naamlik om die gelowiges te waarsku teen hulle wat afvallig van die geloof geword het en ‘n gevaarlike invloed in die gemeente begin uitoefen het.

Met geloof word hier die leer bedoel, die heilsfeite oor ons Here Jesus Christus, maar tweedens ook die praktiese uitwerking daarvan in ‘n Godvresende leefstyl.

Hulle twyfels oor die heilsfeite, neem byvoorbeeld die vraag wat in die eerste gemeentes opgekom het of Christus wel werklik uit die dood opgestaan het; of byvoorbeeld die vraag of Christus ooit weer gaan terugkom – twyfels hieroor het daartoe gelei dat sommige gemeentelede wêrelds begin leef het, losbandig.

Hulle het ‘n traak-my-nie-agtige houding begin aanneem.

Ons lewe soos ons wil, ons kan mos altyd vergewing vra.

En wie sê in elk geval of Christus gaan terugkom, en of daar ooit ‘n oordeelsdag gaan kom?

 

Hierdie tipe mense, en ook die gemeente as geheel, vermaan Judas baie ernstig in sy brief.

Moenie leef asof God nooit sal straf nie!

Want, en dan haal Judas drie feite uit die verlede aan, kyk hoe het God in die verlede wel gestraf!

Eerste voorbeeld: God het sy volk uit Egipte bevry, maar hulle wat ongelowig was, het nie die beloofde land binnegegaan nie.

God het hulle omgebring.

Dink ook aan die verskriklike straf wat Sodom en Gomorra getref het.

En, skryf Judas, selfs die engele het hulle welverdiende straf van God ontvang!

 

Hier word uiteraard verwys na die ontroue engele.

Hulle het hulle eie beginsel nie bewaar nie.

Mens kan hier beter vertaal: Hulle het hulle oorspronklike posisie nie bewaar nie, of soos die 2020-vertaling, nie aan hulle eie magsgebied gehou nie.

Hulle het die verhewe posisie waarin hulle deur God geskep is, verag en moedswillig verwerp.

Hulle het gekies om hul eie woning verlaat.

In hulle hemelse woonplek waar hulle oorspronklik tuis was, het hulle nie meer belanggestel nie.

Hulle het uitbreiding van hulle mag en magsgebied gesoek, soos die aarde, om daar die mense onder hulle mag te kry.

So het hulle aan hulle eie oorsprong en hulle eie posisie ontrou geword.

Hulle het in opstand gekom, rebellie gepleeg.

Die aan hulle toegekende posisie was benede hulle stand.

Nie tevrede met hulle reeds hoë status wou hulle nog meer hê.

Hulle wou onder hulle Skepper uitkom, ‘n heerskappy van hulle eie uitoefen.

En so het hulle besluit om nie by God in die hemel te bly nie, maar het brutaal hulle tuiste verlaat.

Dit het dus vir die opstandige engele gegeld, en dan by uitstek vir Satan, hulle aanvoerder.

 

Soos ek gesê het, gemeente, die Bybel vertel ons nie eintlik iets oor die oorsprong van die Satan nie, behalwe soos byvoorbeeld hierdie algemene verwysing, terwyl dit hier ook nie die hoofonderwerp van die hoofstuk is nie.

Tog word hier uitgegaan van die harde werklikheid van die engele-opstand.

Wanneer dit presies gebeur het, staan daar nie.

Maar waar dit vir Judas oor gaan, is dat mense moet besef dat hierdie opstand nie ongestraf gebly het nie.

Hulle het reeds straf ontvang, en boonop word hulle bewaar vir ‘n nog groter oordeel.

Hierdie engele is geboei, geniet nie meer die hemelse lig nie, maar is met ewige boeie aan die buitenste duisternis vasgebind.

Ewige boeie, dit wil sê hulle is totaal gebonde in dit wat hulle kan doen.

Hulle wou onder God uitkom, maar steeds kan hulle sonder sy wil nie roer of beweeg nie, niks op aarde gedaan kry sonder dat Hy hulle die ruimte gee nie.

Hulle mis nou alle vryheid, hulle ken geen blydskap meer nie, hulle het geen hoop meer op verandering ten goede nie.

Hulle moet voortbestaan met die verskriklike en duistere vooruitsig van ‘n nog groter oordeel wat op hulle wag.

Hulle kan nie meer daaraan ontkom nie.

Hulle word sorgvuldig bewaar in afwagting van die groot eindoordeel.

 

So kom hoogmoed tot ‘n val.

En onder hulle invloed, Satan in besonder, is die mensheid tot sonde verlei en God se goeie skepping ernstig beskadig.

 

Die punt wat Judas hier maak is dat selfs engele nie ongestraf hulle eie gang kan gaan nie.

Dus, al lyk dit of hierdie goddelose losbandige mense ongesteurd en ongestraf hulle gang kan gaan, in werklikheid is hulle vonnis, net soos by die afvallige engele, reeds gevel.

Hulle is lankal reeds vir die oordeel opgeskryf.

Dus, moenie jou oë toeknyp vir die werklikheid nie.

Van uitstel kom nie afstel nie.

Die werklikheid is dat daar ’n eindoordeel sal wees.

Laat jou onderrig deur die voorbeelde uit die verlede.

Moenie blind wees vir dit wat in die verlede gebeur het nie.

Leer jou lesse daaruit!

 

Gemeente, die eerste punt is dat Christus die duiwel en sy bose magte ken.

Juis daarom leer Hy ons die sesde bede.

Dit is vir ons ‘n daaglikse behoefte dat ons verlos word van die Bose.

Want die duiwel is daar.

Die bose magte, die afvallige engele, ook wel in die Bybel demone of bose geeste genoem, is daar.

Die aarde is nie ‘n neutrale gebied nie.

Daar woed ‘n geestelike stryd.

Die magte van die kwaad probeer doelgerig soveel moontlik mense onder hulle beheer kry.

Daar word na twee kante toe aan jou getrek.

Die duiwel is en bly ‘n doodsvyand.

En daar is nog ‘n wêreld wat soos slawe agter hom aanloop.

En daardie wêreld is ook vir jou ‘n doodsvyand.

Dit is van lewensbelang dat jy op daaglikse basis bid dat jy nie in versoeking gelei word nie.

 

En, broers en susters, kan ons nie elkeen dit beaam nie?

Dink maar aan jou eie stryd teen sondes in jou lewe.

As jy vir een dag jou waaksaamheid verslap, as jy vir een dag moed opgee en toegee aan die oënskynlike soetheid van die sonde, dan word jy ook dadelik saamgesuig.

Dis nie dat, as jy jou wapens vir ‘n rukkie neerlê, jou doodsvyande dit moontlik nie sal raaksien, omdat hulle elders besig is nie.

Die duiwel is soos ‘n hyena, hy hou jou die heeltyd dop, hy sal ure en ure sit en wag, totdat jy te moeg raak om wakker te bly.

En sodra jy in slaap val, sal hy sy kans vat.

Jy kan nie jou waaksaamheid vir ‘n oomblik verminder nie.

Daarom die absolute noodsaak van hierdie bede, elke dag:

Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Broers en susters, bly bewus van die Satan.

Tuis, in jou gesin, in jou huwelik, op jou werk, op skool, in die winkel, op vakansie, op die pad, in die sosiale media, op internet, ja selfs in die kerk, waar jy ook is, waarmee jy ook besig is, bly bewus van die Satan en sy duistere ryk.

Christus ken die Satan, beter as ons almal.

Hy weet jy dat jy hom nie gou kan onderskat nie.

 

Dit bring ons by die tweede punt, want Christus ken nie net die Satan nie, Hy ken ons ook deur en deur.

 

(Tema: Christus leer ons die sesde bede bid, want:

1       Christus ken die duiwel

2       Christus ken ons)

 

2       Christus ken ons

In Sondag 52 bely die kerk:

“Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie.”

Dit is ‘n eerlike belydenis, ‘n besef waartoe die Heilige Gees deur sy Woord ons gebring het.

Want uit onsself sou ons baie meer optimisties oor onsself gewees het.

Net soos Adam en Eva was.

Uit onsself onderskat ons totaal ons doodsvyande, die Satan asook die sondige wêreld.

En dit is presies die rede hoekom ons vir onsself ook ‘n doodsvyand is – die derde doodsvyand soos v/a 127 tereg sê.

Dit is die kern van ons eie sondige natuur, dat ons onsself oorskat, dat ons te veel van onsself dink, en daarom dat ons ons nie wil laat voorskryf deur ander nie, nie eers deur God nie.

En juis daardie meerderwaardigheidsgevoel maak ons swak, baie kwetsbaar.

 

Laat ek ‘n voorbeeld noem, ter vergelyking.

Vir jong bestuurders is die motorversekering die duurste.

Ons ken al te goed die houding van seuns, jongmanne, wat dink hulle kan so goed motor bestuur.

Tog is dit hulle wat die meeste ongelukke maak, en die versekeringsmaatskappye weet dit.

Hulle bravade, hulle selfversekerdheid is juis hulle swakheid.

En soos versekeringsmaatskappye vir seuns, jongmanne ken, want feite lieg nie, so ken Christus elkeen van ons deur en deur.

 

Dit is nie toevallig dat Hy die sesde bede toegevoeg het nie, want Hy ken ons so goed.

Hy weet dat ons dit net so nodig het as ons daaglikse brood.

En dit geld ook vir gelowiges.

Soos Paulus skryf, die gees mag gewillig wees, maar die vlees is swak.

Ons eie sondige natuur hou nie op om ons aan te val nie.

Dit is ‘n stelling om oor na te dink.

Maar inderdaad, jy is jou eie vyand.

Hoe dikwels sien ons nie dat iemand vir homself ‘n gat grawe nie.

Soms besef hy dit nie eers nie.

Soms het die besef wel deurgedring, maar kan hy nie meer uit eie krag ophou en uit die gat kom nie.

En daarom moet elke dag die gebed uit ons hart opstyg:

O Here, wil U tog deur die krag van u Heilige Gees ons staande hou en versterk.

Wil U daarvoor sorg dat ons in hierdie geestelike stryd nie beswyk nie.

 

Christus ken ons deur en deur.

Die sesde bede is ‘n geskenk van Hom.

‘n Absoluut noodsaaklike lewensbehoefte, net soos daaglikse brood.

Niemand van ons gaan oorslaan om ‘n dag nie te eet nie.

Slaan, ter wille van jou eie veiligheid, hierdie bede ook geen dag oor nie.

Bid elke dag die Onse Vader.

En laat hierdie bede ook klink in jou ander gebede, geformuleer in jou eie woorde.

 

En gelukkig is hierdie stryd teen ons doodsvyande nie uitsigloos nie.

V/a 127 eindig met die opmerking: “totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.”

Al stry ons tans nog, in Christus is ons reeds oorwinnaars.

Christus het vir ons oorwin wat ons nooit self kan oorwin nie.

En dit is die belofte van die Evangelie, daar kom ‘n dag waarop die stryd verby sal wees.

Nie nou al nie, moenie dat die Satan jou nou geestelik aan die slaap maak, asof dit nou al vrede is nie.

Maar die belofte staan wel vas, die dag kom waarop ons die oorwinning volkome gaan behaal.

Hierdie laaste sin van v/a 127 is noukeurig geformuleer.

Daar staan nie dat ons kan uitsien na die dag waarop ons eindelik die oorwinning gaan behaal nie.

Nee, want ons het reeds die oorwinning behaal, in Christus!

Al wat nog uitstaande is, is om die oorwinning volkome te behaal.

Die oorwinning kom in etappes.

Die beslissende oorwinning is reeds daar.

Dis soos wanneer in ‘n sokkerwedstryd ‘n span reeds 10 – 0 voor is, en daar is net nog 1 minuut se speeltyd oor.

Almal weet reeds wie gewen het.

Die span se naam word alreeds in die beker gegraveer.

Of dink aan vanoggend se preek.

Na daardie nag waarin die Midianiete begin vlug en selfs op mekaar losgebrand het, het almal reeds geweet wie gewen het.

Al wat nog oorgebly het, was om die vyand te agtervolg en tot ver buite die beloofde land te verdryf.

So sien ons uit na die dag waarop die stryd finaal verby gaan wees.

In hierdie laaste minute, of die laaste dae soos die Bybel dit noem, moet ons steeds waaksaam bly, steeds die sesde bede bid, maar vanuit die blye besef dat die oorwinning reeds behaal is, dat dinge nie meer verkeerd kan gaan vir hulle wat in Christus bly nie.

 

Christus is ons aanvoerder.

Hy ken die vyand as geen ander.

Hy ken ons deur en deur.

Hy skenk ons die wapen van die sesde bede.

Dus is ons by Hom werklik veilig.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 41:1,2,4,5

Gebed

Skriflesing: Judas 1

Sb 12:1-4

Teks: Onse Vader 6e bede (Heidelbergse Kategismus Sondag 52 v/a 127)

Preek

Ps 107:1,20,21

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 28:3,4

Kollekte

Ps 116:4-7

Seën