Die hand van die Here in die geboorte van Johannes

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-11-27
Teks: 
Lukas 1:57-66
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 1:56-66

 

Die geboorte van Johannes is die opmaat na die geboorte van die Messias.

Dit was ‘n gebeurtenis wat die hele land se aandag getrek het.

Almal het besef hier gebeur iets besonders.

Die hand van die Here is daarin opgemerk, soos daar in vers 66 staan.

Mense was in gespanne afwagting, want hulle het besef God is besig om hier iets te doen.

Dit het nege maande gelede begin.

In die berglande van Judea het Hy ‘n nuwe profeet vir sy volk opgewek.

‘n Profeet wat sou uitgroei tot iemand met die portuur van Elia, een van die grootste profete ooit.

Soos Jesus later self sou sê, Johannes was die grootste profeet van die Ou Testament.

 

Tema: Die hand van die Here in die geboorte van Johannes

 

Die priesterafdeling waartoe vader Sagaria behoort het, is hierdie keer aangewys om die priesterdiens te vervul.

En ook nie toevallig nie, moes Sagaria toe in die tempel ingaan om die reukoffer te bring.

Of Sagaria dit al ooit gedoen het, weet ons nie, maar die kans is groot dat dit die eerste keer in sy lewe was.

Sagaria was al baie oud en hy ontvang hier waarskynlik ‘n verhoring op sy baie gebede, dat hy ook ‘n keer deur die lot aangewys mog word om hierdie pragtige werk te doen.

 

Daar was nog ‘n gebed wat die Almagtige verhoor het, iets waarvoor hy en sy vrou Elisabet waarskynlik nog veel meer gebid het: dat hulle ‘n kind mog ontvang.

Maar iets waarvoor hulle waarskynlik – noudat hulle oud geword het – opgehou het om voor te bid.

Maar God het hulle gebede nie vergeet nie.

Hy het ‘n spesiale plan met hierdie ou mense gehad.

En daarom stuur Hy sy engel presies op hierdie oomblik na die tempel.

As daar een plek is waar mens wonders kan verwag, dan was dit by die tempel, die huis van God, daar waar alles aan Hom herinner het.

 

En so het dit gebeur.

Terwyl Sagaria besig is om die gewyde handelinge uit te voer, staan daar skielik ‘n engel voor hom.

En wat blyk?

Nadat die engel hom aangespreek het, doen Sagaria die laaste wat mens van ‘n priester sou verwag.

Hy wat daar was om die volk te verteenwoordig, hulle reukwerk en gebede voor God se aangesig te bring, hy van wie daar verwag kon word om vol te wees van geloof, hy spreek die engel van God teë!

Geen geloof, geen hoopvolle verwagting, maar ‘n skeptiese antwoord: “Waaraan sal ek dit weet? Want ek is ‘n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.” (Joh 1:18)

 

Gemeente, wie durf God teë te spreek?

En dit selfs in sy huis?

Wie durf sy Woord in twyfel te trek?

Sagaria was ‘n ampsdraer, en net soos vandag, kan mens van ‘n ampsdraer verwag om vooraan te staan in vertroue op die Here.

Ja juis ampsdraers moet ‘n kinderlike geloof hê.

Maar Sagaria trek die engel se woorde in twyfel.

Soiets doen mens nie.

Lê eerder jou hand op jou mond.

Maar omdat Sagaria dit nie gedoen het nie, moes die engel dit doen.

Hy lê hom die swye op.

“jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” (Luk 1:20)

 

Maar gemeente, wat so mooi is, is dat desondanks hierdie blyk van kleingeloof, die Here nie onkant gevang was nie.

Hy gebruik juis die situasie.

Want deur die feit dat Sagaria met stomheid geslaan is, kom daar nog meer aandag vir die wonder.

Toe Sagaria uiteindelik uit die tempel uitkom – die volk het al ongeduldig begin raak omdat dit so lank geduur het – blyk dat Sagaria nie die gebruiklike handeling kon verrig nie.

Hy kon die volk nie toespreek nie, hy kon hulle nie die seën oplê nie.

Nee, hy kon net beduie dat hy nie kon praat nie.

Nou was dit vir almal klaar soos daglig dat daar iets in die tempel moes gebeur het.

Iets wat die volk waarskynlik nie sou geglo het as Sagaria dit in sy eie woorde aan hulle vertel het nie.

Maar die feit dat hy nou met stomheid geslaan was, dit het die volk wel oortuig!

Ons lees: “hulle bemerk toe dat hy ‘n gesig in die tempel gesien het.” (Luk 1:22)

Gemeente, so werk ons God.

Alles span Hy uiteindelik in ten goede.

 

En toe, toe nege maande verby was en Elisabet ‘n gesonde seun baar, was hierdie bejaarde egpaar as ‘t ware ‘celebrities’ dwars deur die land.

‘n Hoogbejaarde vrou wat in verwagting geraak het.

En dat haar man as priester ‘n gesig in die tempel ontvang het, dat selfs ‘n engel aan hom verskyn het, sodat hy stomgeslaan uit die tempel gekom het.

En ja, dit was nie net ‘n droom wat Sagaria self opgemaak het nie, want nou het hulle inderdaad ‘n seun gekry.

Heel die volk was hoogs verbaas oor al die dinge wat met hulle gebeur het.

En so het die lewe van hierdie profeet op ‘n hoogtepunt begin.

 

Soos gesê, Johannes sou later ‘n baie groot profeet word.

Dit klink vir ons miskien onbegryplik, want eintlik lees mens maar min oor hom.

Maar Jesus het dit self oor sy voorloper gesê.

En as mens na ander geskiedenisbronne uit daardie dae kyk, word dit bevestig.

Die historikus Josefus skryf inderdaad dat Johannes die Doper ‘n baie invloedryke profeet was.

Maar gemeente, dit hoef ons nie te verbaas hoekom daar in die Byel eintlik maar min oor hom staan nie.

Want sy taak was om die voorloper van die Messias te wees.

Dit is wat hy inderdaad gedoen het.

Maar vanaf die oomblik toe Jesus op die toneel verskyn het, tree hierdie profeet na die agtergrond.

Soos Johannes self gesê het: Hy moet meer word, ek minder.

Ek is nie eers werd om sy skoenriem los te maak nie (Joh 1:27).

Gemeente, dit moet die lewensinstelling van elkeen van ons wees, en veral julle s’n, broeders ampsdraers.

Laat Hy, Jesus Christus, meer word, en ek minder.

In die ampswerk is dit jou taak om die mense by Christus te bring, nie om self gewild te probeer wees nie.

 

Om terug te kom by ons teks, die feit dat Johannes se geboorte soveel publisiteit getrek het, was al die begin van sy taak as voorloper, ook wel genoem herout.

‘n Herout was iemand wat vooruit geloop en hard geroep het om die koms van ‘n koning aan te kondig, sodat die mensd hulleself betyds kon voorberei.

En so trek sy wonderlike geboorte die aandag vir ‘n nog groter wonder wat aanstaande was, toe die Heilige Gees nuwe lewe geskep het in Maria, en nie net ‘n gewone baba nie, maar God se eie Seun.

 

Ons teks begin met die mededeling dat Elisabet ‘n seun in die wêreld gebring het.

Dan lees ons die reaksie van die bure en familie.

Hulle erken dit was ‘n wonder: “die Here het sy barmhartigheid oor haar groot gemaak” (vers 58).

Saam was almal uitermate bly.

Want hulle besef hierdie kind gaan ‘n seën wees, nie net vir sy ouers nie, maar vir die hele volk.

Hier gaan in vervulling wat die engel in die tempel aan Sagaria meegedeel het:

“baie sal oor sy geboorte bly wees” (Luk 1:14).

 

En dan vertel Lukas oor wat daar op die agtste dag gebeur het.

Dit was die dag van die besnydenis.

‘n Dag wat tradisioneel ‘n feesdag was vir ouers, familie en vriende.

Nie toevallig skryf Lukas oor hierdie dag nie.

Want op hierdie dag word dinge duidelik.

Lukas noem dat die gaste daarvan uitgegaan het dat die baba se naam Sagaria sou wees.

Die ou Sagaria het uiteindelik tog ‘n seun ontvang, ‘n seun wat sou sorg dat sy naam in Israel nie uitsterf nie.

Maar dan kom Elisabet tussenbeide.

Hierdie geboorte is nie net ‘n familie-aangeleentheid nie.

Nee! roep sy; “hy moet Johannes genoem word”.

 

Hoeso Johannes?

Die mense het vreemd opgekyk.

Hoe kom jy by so ‘n naam uit?

Almal het onmiddelik na sy pa gekyk.

Hy bepaal dit mos, nie die ma nie!

Maar ja, sy pa kon nie praat nie.

Tog blyk dat hy iets op die hart het.

Hy beduie dat hulle vir hom ‘n skryfbordjie moes bring.

Dit was in daardie dae ‘n hout plankie met was daarop gesmeer.

Daarin kon mens skryf.

En toe het hy duidelik geskryf: “Johannes is sy naam.”

Opvallend dat hy dit so uitgebreid opskryf.

Hy kon ook net die naam geskryf het.

Hieruit is duidelik dat dit ‘n voldonge feit was.

En dan gebeur daar nog ‘n wonder, want Sagaria begin skielik weer te praat.

Ons kan daarvan uitgaan dat Sagaria in alle detail vir die mense toe vertel het hoe die engel aan hom in die tempel verskyn het.

En dit wat op die skryfbordjie gestaan het, word nou ook vir die mense verstaanbaar.

Hierdie kind is gebore met ‘n unieke doel.

En daarom het die vader geen sê gehad in sy naamgewing nie.

Sy naam het reguit uit die hemel gekom.

Die vorige keer wat Lukas oor Sagaria geskryf het, was toe hy stomgeslaan is in die tempel en in die voorhof aanhoudend vir die mense probeer beduie het (Luk 1:22).

Nou, na nege maande, kom hy weer in beeld.

God sorg daarvoor dat die kleingelowige priester sy spraak terugkry.

Die gevolg: dubbele verbasing by die mense.

Die naamgewing, en ook omdat Sagaria se spraak skielik teruggekom het.

Hoekom open God juis nou sy mond?

Omdat hy wat as gevolg van ongeloof die swye opgelê is, nou in geloof die opdrag van die engel aanvaar en ook uitgevoer het.

Die kind kry sy regte naam.

En ook, noudat sy tong weer genees was, het hy in ‘n loflied uitgebars!

Nege maande lank het hy die tyd gehad om na te dink oor waarmee die Almagtige besig was.

Nege maande lank kon hy sy loflied voorberei!

Nege maande van stille maar groeiende verwondering.

En noudat hy weer kan praat, hoor ons geen verbittering, geen kwaadheid nie, slegs lof en dank!

Hy word vervul met die Heilige Gees wat hom aanspoor tot een van die mooiste lofliedere in die Nuwe Testament.

 

Hierdie loflied van Sagaria is eintlik ‘n toeligting op die naamgewing.

Geloof sy die Here, die God van Israel, omdat Hy aan sy volk barmhartigheid bewys het.

Want dit is wat die naam Johannes beteken.

Die HERE toon sy genade!

Hy sien om.

 

Gemeente, in ons teks is daar verskillende emosies.

Dit begin met vreugde, blydskap oor die geboorte van ‘n kind in ‘n bejaarde gesin.

Maar spoedig gaan dit oor in verbasing.

Verbasing by die hoor van sy naam.

En dan maak verbasing plek vir ontsag, of soos daar in vers 65 staan: “vrees”.

Noudat Sagaria se mond geopen is en hy die hoe en die wat verduidelik het, nou besef die mense wat hier besig was om plaas te vind.

En oor almal het vrees gekom.

Met ontsag en verwondering het dit gegons deur die berglande van Judea, soos die gebeure van mond tot mond gegaan het.

Nie net oor die buitengewone geboorte nie, maar oor alles wat Sagaria gesê het – vers 65: “oor al hierdie dinge”.

Die geboorte, maar ook die verskyning van die engel Gabriël, en die naam van die kind, en die hemelse opdrag wat die kind ontvang het, soos dit geblyk het uit sy naamgewing.

Die mense het hulleself afgevra: “Wat sal tog van hierdie kindjie word?” (vers 66)

Hierdie vraag is nie bedoel in die trant van: Ag siestog, arme kind met sulke bejaarde ouers ... Hoe lank sal hulle nog vir hom kan sorg ...? nie.

Nee, dit gaan hier oor die woorde van Sagaria, die spesiale doel wat vir hom in sy lewe voorgelê het.

Wat sal tog van hom word, aan wie so ‘n groot taak opgedra is!

Maar, staan daar, die hand van die Here was met hom.

Dit was die mense se gevolgtrekking.

Nie, ag jammer vir hierdie baba met sulke bejaarde ouers nie.

Maar, in die lig van alles wat gebeur het – die aankondiging in die tempel, pa wat stomgeslaan is, moeder wat as hoogbejaarde swanger word, kind wat ‘n onverwagte naam kry, die pa wat dan skielik weer begin praat, en dan veral dit wat hy vertel het.

Na al hierdie dinge was daar net een gevolgtrekking moontlik: Ja, inderdaad, die hand van die Here was met hom!

 

Die hand van die HERE ...

Dit is ‘n uitdrukking wat ons dikwels in die Bybel vind as dit gaan oor profete.

Dink aan 1 Konings 18: “die hand van die HERE was oor Elia” (vers 46).

En daar staan oor die profeet Esegiël: “die hand van die HERE was daar op hom” (Es 1:3).

Ja in die lyn van Elia en Esegiël staan daar nou ‘n nuwe profeet op.

Een waaroor daar al vanaf sy geboortedag gesê is: Die hand van die Here is met hom.

Eintlik geld dit vir elke profeet, ook vir elke ampsdraer vandag.

Al van voor jou geboorte af, broers wat vandag in die amp bevestig word, al van voor jou geboorte af, het die Here al planne met jou gehad, was sy hand al op jou.

En al was daar moontlik dae of tye in die verlede waartydens jy so gelewe het dat jy glad nie vir ‘n ampsdraer in aanmerking sou kon kom nie, tog het die Here dit so gelei dat jy nou vir hierdie taak geroep word.

God se unieke weg met Johannes die Doper het hom voorberei op sy unieke taak.

En daarop mag julle ook vertrou, dat God jou tot op hierdie dag voorberei het op die taak wat op jou wag.

Nie dat jy nou volleerd is nie.

Veral vir julle wat vir die eerste keer as ampsdraer bevestig word wag daar moontlik ‘n steil leerkurwe.

Daar lê ‘n groot taak voor die boeg, maar vertrou dat die HERE jou bekwaam sal maak, en gebruik die middels wat Hy skenk, maak staat op die ervare broeders rondom jou, ook hulle skenk die HERE aan jou.

 

En in die jong Johannes se lewe was daar ook baie dinge wat moes gebeur!

‘n Groot opdrag het op sy skouers gelê.

Voorloper, herout, aankondiger van die Koning se koms!

Maar die Here het hom gelei.

Die klein wonder van sy geboorte sou die weg baan vir die groot wonder, die groot verwagting van die Ou Testament wat op die punt was om in vervulling te gaan.

So sien ons in ons teks hoe God die mense se gedagtes lei.

Wyd en syd is dit bespreek.

Die Almagtige het die gemoedere in beweging gebring, die mense se sintuie wakker gemaak.

Ja Johannes, die herout, het met sy werk begin.

Of eerder, God het in Johannes se lewe begin, selfs al was hy nog nie daarvan bewus nie.

God is aktief.

Hy sorg vir ‘n herout, die een wat die koms van die koning aankondig.

So begin die volheid van die tyd.

Die eerste ontmoeting tussen die voorloper en die Messias het al plaasgevind.

Die groot ontmoeting sou nog ‘n klompie jare duur.

Maar in daardie tussenjare het die herout die mense se harte voorberei op daardie groot dag, toe hy uitgeroep het, toe Jesus na hom gekom het na die Jordaan:

“Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh 1:29)

 

Geliefdes, hierdie woorde klink tot vandag toe, ook vanaf hierdie kansel:

Kyk, die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem!

Hierdie woorde van Johannes rig ons aandag op die Seun van God.

Hierdie woorde roep ons op om boete te doen, ons te bekeer, ons sondes te erken en te bely, en voor die Lam te kniel met die bede dat Hy dit wegneem, en om vrugte te dra wat by die bekering pas (Luk 3:8).

So help Johannes se woorde dat ons onsself voorberei op die ontmoeting met die Messias.

In teenstelling tot die mense toe, ken ons die Messias se Naam, ons weet wat Hy op aarde gedoen het, dat Hy inderdaad as Lam van God versoening gebring het.

Ons leef nie net met Johannes se woorde nie, ons is soveel ryker!

Christus se eie Woord is die lig op ons lewenspad.

Sy eie Woord berei ons voor op die ontmoeting as Hy gaan terugkom.

Soos Johannes uitgesien het om Hom te ontmoet, al het hy hoe goed besef hy is nie eers werd om sy skoenriem los te maak nie, net so sien ons uit om Hom te ontmoet, al besef ons ook Hy is die Koning der Konings, die Almagtige, ja hoeveel minder werd is ons om sy skoenriem los te maak!

Tog weet ons dat Hy ons goedgesind is, en daarom, met vrees, maar ook met vertroue en blydskap, sien ons uit na sy wederkoms!

 

Broeders ampsdraers, doen julle werk in die besef dat julle voorlopers is van Jesus se wederkoms.

Julle mag julle ampswerk doen in ‘n gemeente met ‘n pragtige naam: Maranata.

Dit herinner julle aan sy wederkoms: Kom! Here Jesus!

Maak die mense se harte en lewens gereed vir sy wederkoms!

Sorg dat jou eie lamp brandende is, dat jou lewe vol is van die Heilige Gees en die Evangelie, sodat jy ook ander se lampe kan aansteek!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Lukas 1:1-25

Teks: Lukas 1:57-66

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoe het dit gekom dat Sagaria juis daardie dag in die tempel moes diensdoen?
  2. Hoekom is Sagaria met stomheid geslaan?
  3. Hoe het dit gekom dat die mense geglo het dat Sagaria werklik ‘n engel in die tempel gesien het?
  4. Wat was ‘n herout?
  5. Wanneer was die eerste ontmoeting tussen Johannes die Doper en Jesus?
  6. Wanneer was die groot ontmoeting tussen Johannes die Doper en Jesus?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 2:1

Wet

Ps 31:1,2,4

Gebed

Skriflesing: Lukas 1:1-25

Sb 2:4

Teks: Lukas 1:57-66

Preek

Ps 84:1-3

Bevestiging ouderling en diakens

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 84:5,6

Seën