Die noodsaak van die Bybel vir die koms van die hemelse koninkryk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-12-04
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 48
Preek Inhoud: 

Ons is burgers van Suid-Afrika.

Tog is ons burgers van nog ‘n vaderland.

Ons primêre burgerskap is van die hemelse koninkryk.

Nou beteken die hemelse koninkryk nie net dat dit ‘n koninkryk in die hemel is nie.

Uit die Nuwe Testament word duidelik dat die aarde ook deel van daardie koninkryk is.

Hemelse koninkryk dui eerder daarop waar hierdie koninkryk vandaan sal kom.

Dit sal uit die hemel op aarde neerdaal.

Die hoofsetel, die troon, van hierdie koninkryk, is tans in die hemel.

En al is daardie koninkryk tans nog nie finaal gevestig op aarde nie, tog is ons as gelowiges al burgers daarvan.

En net soos ‘n land, as dit goed is, ‘n grondwet het, so is die Bybel die grondwet van die koninkryk van die hemel.

In die Bybel hoor ons die stem van die Koning.

Die Bybel het daarom baie te make met die bede laat u koninkryk kom.

 

Tema: Die noodsaak van die Bybel vir die koms van die hemelse koninkryk

1 Wat dit vir ons beteken

2 Wat dit vir die kerk beteken

3 Wat dit vir die duiwel en al God se teenstanders beteken

 

1 Wat dit vir ons beteken

Ons is dus burgers van twee koninkryke.

Ons behoort aan die koninkryk van God, wat vanaf die hemelse troon geregeer word.

Maar, soos ek genoem het, die koninkryk van God is veel meer as die hemel.

Die hele aarde, en die son en maan, sterre en planete is almal deel van sy koninkryk.

Hemel en aarde, heel die heelal val onder sy bewind.

Vroeër is daar gesê oor die Britse Imperium: The sun never sets over the British Empire, bedoelende dat daar Britse kolonies reg rondom die aardbol was.

Figuurlik was dit egter nie waar nie, wat die Britse Ryk het gekom en gegaan, en is nou nie meer nie.

Wel is dit waar oor die hemelse koninrkyk.

In God se ryk gaan die son nooit onder nie, ja die son self val onder sy bewind.

Die hemel is die plek waar die troon staan, die troonsaal, sy paleis, maar sy magsgebied ryk tot aan die verste skuilhoeke van die heelal.

 

Nou die vraag: Wat beteken dit om in te gaan in die koninkryk van die hemele?

Hierdie Bybelse uitdrukking wil nie sê dat jy dit eers ingaan as jy met jou sterwe na die hemel toe gaan nie.

Eerstens beteken dit dat jy die heerskappy van Christus aanvaar.

Dat Hy vanaf die hemelse troon oor jou lewe regeer, en alles oor jou lewe te sê het.

So is jy burger van die hemelse koninkryk.

 

En soos genoem, tans is die hele wêreld nog nie deel van die koninkryk nie.

Dis hoekom ons bid: Laat u koninkryk kom!

Maar wat wel so is, is dat orals waar ‘n kerk staan, sy koninkryk op aarde gestalte kry.

In dorpe en woonbuurte, in stede en tot in afgeleë oerwoude.

Dus, aan die een kant omvat sy koninkryk die hele aarde.

Aan die ander kant bid ons nog steeds: laat u koninkryk kom.

 

Ons bid dat hierdie feit erken word in ons eie lewe, maar ook oor die hele aarde.

Dat elke bewoner op aarde Christus se heerskappy erken.

Die feit dat God orals regeer, staan vas.

Maar of alle mense dit erken, staan nie vas nie.

En as ons eerlik is, daar is dae wat ons so leef asof ons ook nie burgers van daardie koninkryk is nie, of skaam is vir ons hemelse burgerskap.

Is dit so met jou, broer, suster?

Daarvoor bid ons.

God se koninkryk is al hier, maar in sekere sin is dit ook nog komende, in my en jou lewe, en in die wêreld.

Daar is nog ‘n sondige wêreld wat onder die dwinglandy, die slawerny van die Satan leef.

Maar dit sal in die toekoms blyk ‘n tydelike saak was.

Christus sorg daarvoor dat die volledige heerskappy van sy Vader in ere herstel sal word, meter vir meter, mens vir mens.

In die kerk raak dit reeds sigbaar.

Dis soos aan die einde van die winter, as dit nog bitter koud kan wees, maar die perskebome al hulle pienk en wit bloeisels kry.

So sien die wêreld die eerste tekens van die volmaakte ryk reeds op hierdie gebroke aarde.

Die kerk gehoorsaam die bevele van haar hemelse Heer.

Soos dit in die hemel werk, soos die engele gewillig sy bevele uitvoer, so word dit in die kerk ook steeds meer en meer.

 

Ja ons ontvang ons bevele uit die hemel, waar Christus op die troon sit.

En dit is hier waar die noodsaak van die Bybel inkom.

Deur die Bybel spreek God tot ons.

Daarom het ons respek vir die Bybel.

Ons besef hoe ‘n magtige instrument dit is.

As ons Bybellees, dan luister ons na die stem van die Koning.

Daarom is dit noodsaaklik dat ons daaglikse die Bybel oopmaak.

Die Kategismus skryf: regeer ons deur u Woord en Gees.

Die Woord is sy septer.

Deur die Woord kry ons respek vir sy heerskappy, en kry ons sig op sy koninkryk.

Deur die Woord werk die Gees bekering in ons lewens.

Soos Jesus aan Nikodemus gesê het in Johannes 3:

Jy sal die hemelse koninkryk nie kan sien nie, tensy jy opnuut gebore word.

So leer ons sy koninkryk sien, asook ons bevoorregte posisie as burgers daarvan.

Broers, susters, gaan jy so deur die lewe?

Dra jy die paspoort van hierdie koninkryk altyd saam met jou?

Voed jy jou kinders op, dat hulle ook daagliks na die stem van die Koning luister, soos dit in die Bybel tot ons kom?

Dit is wat die Woord vir ons beteken.

Dit is absolute noodsaak dat dit ons daaglikse kompas is.

So leef ons met Christus, as sy Woord in ons leef.

Die tweede bede bid ons dus eerstens vir onsself, dat sy koninkryk meer en meer sigbaar word in my lewe.

 

(Tema: Die noodsaak van die Bybel vir die koms van die hemelse koninkryk

1 Wat dit vir ons beteken)

 

2 Wat dit vir die kerk beteken

In die bestaan van die kerk word die hemelse koninkryk al op aarde sigbaar.

Vanuit die kerk klink Christus se Woord.

Daar word dit verkondig.

Nie net vir hulle wat kerk toe gaan nie, maar dit is ook die taak om Christus se Woord te laat klink in ‘n opstandige wêreld.

Nie dat dit outomaties bekering en verootmoediging sal bring nie.

Eie aan die opstandige mensheid is dat hulle nie daarna wil luister nie.

Behalwe vir die Woord, sorg Satan dat daar ook ander woorde, dwaalwoorde, klink.

En juis daarom beklemtoon die Kategismus dat ons ook die kerk in ons gebed aan God moet opdra:

Bewaar en vermeerder u kerk!

U kerk, die plek waar u stem gehoor word.

Uit onsself kan ons die kerk nie laat oorleef nie, maar U kan wel, U laat die kerk selfs groei en bloei.

 

Die kerk het ‘n taak om die Woord te laat klink.

Hierin kan ons die voorbeeld van ons Heiland volg.

Hoe het Hy die koninkryk van sy Vader op aarde gebring?

Ons het dit gelees: Hy het van stad tot stad getrek en van dorp tot dorp, om die Evangelie van die Koninkryk van God te verkondig.

Vol van die Gees het Hy deur die land getrek om die Blye Boodskap te bring.

En dit laat ons dink aan die gelykenis van die saaier.

Jesus het die Woord gesaai.

So moet ons vanuit die kerk die Woord saai.

So bou ons aan God se koninkryk.

Nie met die swaard nie, nie met dwang nie, maar deur die prediking van die Evangelie, dit is die swaard van die Gees.

Dus nogmaals: Hoe werk ons aan die uitbreiding van God se koninkryk?

Dit gebeur nie op die manier wat hier op aarde gebruiklik is nie – dink aan hoe Poetin probeer om sy koninkryk uit te brei.

Christus het ons voorgegaan in hoe dit moet.

Die hemelse koninkryk kry gestalte deur die verkondiging van die Evangelie.

Dit is die Woord wat vertroos, dit is die Woord wat beskerm teen die vyandige aanslae van Satan.

Dit is die Woord wat ook vlymskerp kan wees.

Jesus het Petrus verbied om met ‘n gewone swaard te veg.

Maar die swaard van die Gees het Jesus wel hanteer.

Dink aan hoe vlymskerp sy woorde teen die Fariseërs was:

Wee julle, leiers van die volk. Julle is witgepleisterde grafte (Matt 23:27-33). Addergeslag.

En dink ook aan Johannes die Doper: Julle het die Satan as Vader (Joh 8:44)!

Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom!

 

Die Fariseërs het ‘n aardse koninkryk verwag.

Hulle wou verlos word van die Romeine.

Maar Jesus, wat gekom het om van die sonde te verlos, het hulle daarom geantwoord:

Die koninkryk van God is al in julle midde (Luk 17)!

 

En die kerk, waarvan Christus die Hoof is, is soos die koninkryk tans aanwesig is op aarde.

Ook vandag moet gelowiges die wêreld daarop wys, net soos Jesus destyds aan die mense van sy tyd: God se koninkryk is in julle midde!

Bekeer julle!

Daar is geen verskoning dat julle nie geweet het nie.

Deur die kerk, deur die Woordbediening wat daarvan uitgaan, is die koninkryk in julle midde!

In die kerk staan die Woord sentraal.

Daarom bid ons: bewaar en vermeerder u kerk!

 

Die feit dat ons verteenwoordigers, burgers, van die koninkryk is, is nie ons prestasie nie.

Dit is die kragtige werk van die Gees.

Hy oorwin ons, sodat ons Christus en sy heerskappy erken.

Steeds meer doen ons dit as ons bid: Bewaar en vermeerder u kerk!

So het hierdie bede ook alles te make met sending en evangelisasie.

Gebruik ons, Here, sodat die oë van ongelowiges geopen word vir Christus se koningskap.

Ja, broer, suster, en ampsdraers, is jy gewillig?

Is jou lewe ‘n weerspieëling van die Woord?

Is jou mond vol van Christus se Woord?

Is ons kerk soos ons behoort te wees?

Leef ons die Woord, in ons eie huise, werksplekke, in ons eie lewens?

Dra ons as gemeente die Woord met krag uit?

 

(Tema: Die noodsaak van die Bybel vir die koms van die hemelse koninkryk

1 Wat dit vir ons beteken

2 Wat dit vir die kerk beteken)

 

3 Wat dit vir die duiwel en al God se teenstanders beteken

Met die tweede bede bid ons ook dat God die duiwel ver van ons af weg hou.

Van ons eie lewe, en ook van die kerk af weg.

Uit onsself is ons nie opgewasse teen die duiwel nie.

Mens onderskat so gou die mag van die kwaad.

Dis soos wanneer ‘n mens deur ‘n ongeneeslike siekte getref word, jy staan magteloos.

Juis daarom bid ons: laat u koninkryk kom!

Want die ryk van die Satan het nog ‘n houvas op hierdie wêreld, en selfs ons voel daagliks nog die aantrekkingskrag daarvan.

En net as jy staf vashou aan die woord, aan Christus, word jy nie meegesleur nie.

Sy Woord is ons houvas, sy beloftes is ons hoop vir die toekoms.

Daarom bid ons ook dat God alle kwaadwillige planne van die duiwel sal vernietig.

Planne wat teen sy Woord gesmee word.

 

In die tyd toe die Kategismus geskryf is, was dit so dat ‘n mens die doodstraf gekry het as hy met ‘n Bybel in sy besit betrap is.

In hierdie situasie het die noodkreet tot God gelink, of Hy hierdie verskriklike plan van die duiwel sal vernietig.

Dat Satan dit reggekry het, en dit deur in die kerk van daardie dae te infliltreer, dat selfs die kerk verbied het dat gewone mense die Bybel self mog lees.

So is God se ryke beloftes van hulle af weggevat.

Wat ‘n verskriklike, kwaadwillige, plan wat in daardie tyd teen die heilige Woord bedink is!

 

God sy dank is dit tans nie die geval nie.

En hoewel ons in die 21ste eeu leef, bly dit noodsaaklik om nog steeds tot God te bid: vernietig die kwaadwillige planne teen u Woord!

Want of dit met doodsdreigmente is, of dalk baie meer subtiel, Satan doen alles om te sorg dat die Bybel ‘n toe boek vir mense bly.

Deesdae het hy dit reggekry om by miljoene mense die persepsie te laat posvat dat die Bybel ‘n ou boek is, ouderwets, nie meer die moeite werd om te lees nie, nie meer relevant vir vandag nie.

As die Bybel vir mense ‘n geslote boek bly, en as God se Woord nie meer vanaf die kansels klink nie, dan verloor ons die sig op die koninkryk.

Dat word Christus, die Koning, vir ons iemand wat baie ver weg is, selfs iemand wat nie bestaan nie.

Dan leef ons sonder God, en dan, stadigaan, begin ons lewens hoe langer hoe meer ‘n hel word.

Dit sien ons in die wêreld om ons heen.

Die samelewing raak al hoe slegter, soos wat die Woord daaruit verdwyn.

En so kom nie die koninkryk nie, maar die hel in sig.

Dit is die werkwyse van die Satan, sy subtiele en soms nie so subtiele planne.

Maar laat ons aanhou bid: Vernietig sy kwaadwillige planne!

 

Broers en susters, burgers van die hemelse koninkryk, leef vanuit God se Woord.

Lees die Bybel, as gesinne saam aan tafel.

Ook as jy alleen is.

Praat daaroor.

Nie net om jou kennis te vergroot nie.

Maar ook om te vertroos as iemand verdrietig is.

En in dae van blydskap.

En om te vermaan, te waarsku, terug te trek na die regte pad.

En as jy angstig is, of depressief, of siek, of baie besig, of verlief, in watter omstandighede ook.

Die Bybel is die betroubare kompas wat jou deur alle waters heenloods.

Elke dag luister ons na die stem van ons Koning.

En laat ons ook elke dag sy stem laat hoor, in woord en daad, aan ‘n wêreld in nood, wat ‘n skip is wat besig is om tes ink.

Laat ons hulle dringend oproep: kom hierheen!

Kom in die kerk, die ark van die nuwe bedeling, noudat dit nog moontlik is!

Hier sal jy veilig wees teen die komende oordeel!

Soos Noag en sy gesin veilig was in die ark tydens die sondvloed, so sal almal wat na Christus te kerk vlug, veilig wees.

Kom, beërf saam met ons die hemelse koninkryk!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Mattheüs 3:1-3; 4:17; 5:19-20; 7:21; 9:35-38; 13:1-30

Teks: Tweede Bede van die Onse Vader (Heidelbergse Kategismus Sondag 48)

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Van watter land(e) en koninkryk(e) is jy ‘n burger?
  2. Wat beteken dit dat God se koninkryk ‘n hemelse koninkryk is?
  3. Is God se koninkryk al daar of moet dit nog kom?
  4. Hoe is die Bybel noodsaaklik vir die koms van die koninkryk?
  5. Wat is die funksie van die kerk in God se koninkryk?
  6. Wanneer beërf ‘n gelowige die koninkryk van die hemele?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 28:1-4

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 3:1-3; 4:17; 5:19-20; 7:21; 9:35-38; 13:1-30

Sb 16:1,8-10

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 48 (2e bede)

Preek

Ps 72:1,2,3

Bevestiging van diaken

Ps 134:4

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 72:4,5,6

Kollekte

Ps 145:7,8,10,11

Seën