Neem my goud en silwer, Heer

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-10-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 42
Preek Inhoud: 

In vanaand se preek wil ek veral fokus op die positiewe kant van die 8ste gebod.

V/a 111 handel veral daaroor.

In Christus het vir ons vergifnis, verlossing, bevryding, gebring.

In Christus mag ons nou uit dankbaarheid lewe, ‘n pragtige lewe lei.

Met sy gebooie leer Christus ons hoe so ‘n lewe mag lyk.

En deur sy Heilige Gees mag ons ‘n begin maak met so ‘n toegewyde lewe.

Soos ons sing in die bekende gesang:

“Neem my lewe , laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer, laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig!” (Ges 190:1)

 

Tema: Neem my goud en silwer, Heer

1 Die goue reël van Christus

2 Daaglikse arbeid in diens van Christus

 

1 Die goue reël van Christus

Ek begin kortliks met v/a 110, oor wat God in die 8ste gebod verbied.

Dit is opvallend hoeveel dinge daar genoem word.

Dit is verbasend hoeveel skelm maniere die mensheid uitgedink het om in die hande te kry wat nie aan hom behoort nie, van gewapende roof tot maniere wat die skyn van reg het, ook wel genoem wit-boordjie misdaad.

Al hierdie maniere ontleen die Kategismus uiteraard aan die Skrif.

Die Bybel is nie wêreldvreemd nie.

Die diepe val van die mens in sonde kom duidelik na vore in die manier hoe hy met geld en goed omgaan.

Die Bybel is vol van voorbeelde.

En ook vandag staan wetboeke vol bepalings om te voorkom dat die 8ste gebod oortree word.

En geen enkele stelsel op aarde, of dit kapitalisme of kommunisme is, sosialisme, kollektiwisme, nasionalisme of indiwidualisme, geen stelsel kan voorkom dat mense op een of ander manier steel nie.

Daardie geneigheid sal daar wees solank die erfsonde nog ‘n invloed het, solank die mense nog van nature geneig is om God en sy naaste te haat.

 

Maar danksy Christus en die lewendmakende werking van sy Gees in ons lewens, begin daar tog iets te verander.

V/a 111 wys dit uit.

Die eerste sin is gebaseer op die goue reël van Jesus, Mattheüs 7:12:

“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.”

Mens hoor hierdie spreuk ook soms in ‘n ander weergawe:

Wat jy nie wil hê ander aan jou moet doen nie, moet jy ook nie aan ‘n ander doen nie.

Niemand van ons wil deur ‘n ander doodgeslaan word nie.

Dus doen jy dit ook nie met jou naaste nie.

Maar dit is nog ‘n stap verder om jou naaste ook lief te hê.

Want dit wil jy ook graag, dat ander jou liefhet.

Niemand van ons is volmaak nie.

Elkeen van ons het iets in ons karakter, of in ons optrede, of dalk in ons uiterlik, wat vir ander irriterend is.

En dan praat ons nog nie eers oor ons diepste ellende nie.

Maar Christus gebied ons, heel positief, dat ons ons naaste sal liefhê!

 

Daar is mense wat beweer dat mens hiermee uiteindelik vasloop.

As jy net die heeltyd liefhet, gaan ander oor jou heenloop.

Ons lewe nou eenmaal in ‘n gebroke en onvolmaakte, ja in ‘n harde wêreld, en daarmee moet mens mos rekening hou.

Ons lewe nie in ‘n gesonde situasie, waar almal geestelik gesonde mense is, wat ook hulleself liefhet nie.

Die mooiste voorbeeld van iemand wat homself moet liefhê en dus ook sy naaste, bly ‘n ma wat haar baba borsvoed.

‘n Ma wat nie goed vir haarself sorg nie, wat nie goed eet nie, wat nie vir haarself rus gun nie, sorg daardeur ook nie goed vir haar baba nie.

Dit is dus die goue reël van ons Heiland, die positiewe kant van die 8ste gebod:

Sorg goed vir jouself, sodat jy vir ander ook iets kan beteken.

Waar dit gebeur, daar heers harmonie.

En inderdaad, dit is die opwaartse spiraal, orals waar die Evangelie gebring word en mense daaruit begin te lewe, dat mense hulleself leef sien as waardevol, geskape en gered deur God Drieënig.

En van daaruit ook naaste soos hulleself begin liefkry.

 

Hierdie beginsel lê aan die basis van die saamleef van mense, dat ‘n mens vir jouself goed moet sorg, en van daaruit ook vir ander.

Mens kan dit toepas op byna alle gebied.

Ook byvoorbeeld op ekonomiese gebied.

Die Bybel gaan byvoorbeeld daarvan uit dat dit iemand se reg is om rente te vra, om wins te maak.

Dit is nie sondig om vir jouself te sorg nie.

Dit is die normale gang van sake in God se skepping.

Rente en wins is goed.

Hoewel, ook rente en wins is onderhewig aan hierdie basisbeginsel, die goue reël.

In Levitikus 25 verbied God om rente te eis onder bepaalde omstandighede.

Eerstens verbied die HERE ongebreidelde woekerrente.

Dat jy misbruik maak van iemand wat in nood is, iemand wat direk geld nodig het.

Jy sal nie wil hê iemand moet dit aan jou doen nie, so doen jy dit ook nie aan ‘n ander nie.

Dink aan die sogenaamde ‘loan sharks’ in ons land.

So word iemand se noodsituasie waarin hy tereggekom het, uitgebuit.

Soms kan dit sy eie skuld gewees het, ander kere ontstaan ‘n noodsituasie buite iemand se beheer.

Maar vir God is woekerrente ‘n gruwel.

En tweedens, as iemand gebrek aan kos en klere het, direkte lewensbehoeftes dus, mag so iemand ook nie gehelp word slegs onder voorwaarde van rente nie.

So lê die goue reël aan die basis van ‘n gesonde samelewing, ook ‘n gesonde finansiële bestel, soos God dit vereis in sy skepping.

 

Ja op basis van die goue reël ontstaan ‘n florerende samelewing.

Want die mees basiese bousteen vir ‘n goeie ekonomie is vertroue.

Op basis van die goue reël kan banke en geldskieters lenings verstrek met rente, en kan besighede aandele verkoop, en kan mense hulle geld na die bank bring, ensovoorts.

Dit alles gebeur op basis van vertroue.

Maar wie die goue reël aan die kant skuif, rig nie net ander nie, maar ook homself te gronde.

Dit is dus die eerste vraag wat ons in al ons handel moet stel:

Word die goue reël nagekom of nie?

Dit geld vir hoe ons ons werknemers betaal, ons bediendes.

Dit geld vir hoe ons dinge verkoop, huise of motors.

As ons weet van ‘n defek, maar die motor verkoop asof niks verkeerd is nie ... sou ons wou hê dat ander dit met ons doen?

Die goue reël geld ook vir ons etiese uitgangspunte rondom die koop en verkoop van aandele.

Byvoorbeeld die verkoop van aandele met voorkennis ...

Soek ons die welsyn nie net van onsself nie, maar ook van ander?

Soek ons die welsyn van besighede, of benader ons dit slegs as ‘n melkkoei?

Oor koeie gepraat, probeer ons soveel moontlik produksie uit ons diere te kry, sonder om hulle welsyn in ag te neem?

As jy werkgewer is, sorg jy vir goeie arbeidsomstandighede?

Steeds weer kom die goue reël terug.

As gelowiges behoort ons hierin die voortou te neem.

Dat ek, waar ek kan en mag, die welsyn, die belange van my naaste bevorder en hom so behandel soos ek behandel wil word.

 

Waar ek kan en mag, skryf die Kategismus.

Dus nie op ongeoorloofde maniere nie.

In hierdie verband moet ons die vraag vra:

Wie is my naaste?

Wel, dit is elke mens wat God op jou weg plaas.

Dink aan die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

Op hierdie punt moet ons, veral as kerklidmate, nie die goue reël verbaster nie.

Ons mag nie mekaar ‘n hand bo die hoof hou nie.

Laat ons eerlik wees, dit is baie sleg vir ‘n kerk se reputasie.

Dit kerk is nie ‘n ‘klub’ wat net na hulle eie belange omsien nie.

Elke arbeider is sy loon werd, of dit ‘n medegelowige is of nie.

En ‘n goeie arbeider wat die ekstra myl stap, kerklid of nie, so iemand is dubbel en dwars sy loon werd, of soos dit deesade gebeur, ‘n ekstra bonus te kry.

Nepotisme, wat beteken dat jy jou eie familie op ongeoorloofde wyse bevoordeel, dit mag ook nie in die kerkfamilie voorkom nie.

En ons mag ook nie medegemeentelede onder druk plaas om so op te tree nie.

Soos die broeder wat vir sy medebroeder werk moes verrig.

Maar toe na afloop blyk dat hy minder gedoen het as wat afgespreek is en ook meer vra as wat afgespreek was, en toe hy daarop gewys is, het hy homself vererg en gesê dat medegemeentelede nie so hard op mekaar mag wees nie.

Hierdie broeder het hulle onderlinge verbondenheid misbruik om dit wat krom was, reg te praat.

En as ‘n familielid of mede-gemeentelid in probleme kom, dalk deur werkloosheid of bankrotskap, dan help ons uiteraad, dit is ons plig.

Maar ook nie op ‘n ongeoorloofde manier nie.

In alle opsigte maak ons as gelowiges erns met Christus se oproep.

Dink aan Mattheüs 5:46: “Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie?

En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie?”

Die goue reël is die omgekeerde van vriendjiespolitiek.

Uit sy Bergrede is so duidelik soos daglig dat die goue reël nie net vir familie en vriende geld nie.

Kom ons wees as gelowiges die eerstes om so te lewe.

Juis dan is ons ‘n lig in ‘n oneerlike en selfsugtige wêreld.

 

(Tema: Die goue reël van Christus in praktyk

1 Die goue reël van Christus)

 

2 Daaglikse arbeid in diens van Christus

Ons kyk nou veral na die tweede sin van v/a 111.

Dat ek my arbeid trou verrig, soseer dat ek ook die behoeftiges in hulle nood kan help.

Die mooiste voorbeeld hiervan in die Bybel is waarskynlik Spreuke 31.

‘n Loflied op die vlytige huisvrou.

Nou die woord huisvrou staan nie in hierdie hoofstuk nie, daar staan: ‘n deugsame vrou (Spr 31:10).

Die 2020-Bybelvertaling vertaal: ‘n knap vrou.

Die Engelse ESV vertaal: an excellent wife.

Die Hebreeuse woord beteken iets soos: lewenskragtig, geskik, gekwalifiseerd.

Miskien is die beste Afrikaanse vertaling maar gewoon: raakvat.

In elk geval, wat hier bedoel word, word wel duidelik uit die res van die hoofstuk.

 

Sy het verstandig handel gedryf.

Van oraloor het sy haar produkte gekry, verstandig haar inkope gedoen, geweet waar sy wat moes koop.

Sy staan op as dit nog nag is.

Sy voorsien voedel vir haar huisgesin.

Haar werknemers kry hulle eerlike deel.

Sy is nie impulsief nie, maar dink goed na oor as sy ‘n groot uitgawe moet maak.

En dan doen sy dit ook, sy koop ‘n stuk grond.

Sy plant ‘n wingerd.

Sy steek haar hande uit haar moue.

En die wins bly nie uit nie.

Snags gaan haar lamp nie dood weens gebrek aan brandstof nie.

Sy sorg nie net vir haar eie huis nie, sy het ook aandag vir die behoeftiges.

Sy steek haar hande uit na die wat magteloos is.

Sy is nie bang vir die ysige koue as dit sneeu nie, haar huisgesin dra skarlaken stof.

Sy hou toesig op die gang van haar huishouding.

Die brood van luiheid eet sy nie.

En so gaan hierdie hoofstuk verder.

‘n Pragtige voorbeeld van wat die Kategismus sê:

Dat ek my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help.

 

Daar is nog veel meer voorbeelde in die Bybel.

Dink aan Boas, ‘n ryk man, maar wat dit ook ‘n eer gevind het om die behoeftiges te help, wat byvoorbeeld die rande van sy koringvelde nie geoes het nie.

 

En dan vind ons in die Bybel ook voorbeelde van mense wat nie so ryk was nie, maar wat wel met dieselfde ingesteldheid deur die lewe gegaan het.

Dink aan die gedeelte wat ons gelees het oor die bydrae van die arm weduwee.

Ons kom nounou hierop terug.

Dink ook aan die apostel Petrus wat waarskynlik nie baie ryk was nie, maar wel oog gehad het vir die bedelaars.

Hy het die verlamde man by die ingang van die tempel nie oor die hoof gesien nie.

Die verlamde het van Petrus wel geen geldstuk gekry nie, maar is wel deur hom genees.

Petrus het vir hom gegee wat hy nodig gehad het.

Geld is nie altyd die beste hulp vir hulle wat arm en in nood is nie.

Petrus volg hier in die voetspore van sy Heiland.

Hy het nou geen tyd meer gehad om as visserman geld te verdien nie.

Hy het sy lewe nou gewy aan die verkondiging van die Evangelie.

Finansieel was dit waarskynlik minder rooskleurig as in die verlede.

Nie dat hy brandarm was en honger gely het nie.

Want ook toe al het gegeld wat Paulus later sou skryf oor predikers van die Evangelie, dat hulle sonder finansiële sorge van die Evangelie moet kan leef.

So het Petrus gearbei, net soos sy Heialnd.

Daagliks het hy lang ure gemaak, uit liefde vir sy taak.

En aan die behoeftige het hy gegee wat hy ontvang het.

Was dit geen geld, dan was dit tyd en sorg, selfs genesing in Jesus se naam!

 

Nou hier in Suid-Afrika is daar ‘n menigte arm mense, bedelaars op die strate, noem maar op.

Hulle soek die liefste geld.

Tog het al soveel keer geblyk dat geld gee nie die oplossing is nie.

So dikwels gaan dit direk na dwelms of drank.

Die behoeftiges in hulle nood help, soos die Kategismus sê, is dus ‘n omvattende begrip.

Dat ons daarop fokus om ‘n langtermyn verbetering te bewerkstellig.

Om, byvoorbeeld in samewerking met die diakens, gifte te skenk aan instansies wat werklik strukturele hulp kan bied.

Hulp aan armes, siekes, weeskinders en weduwees, gestremdes, noem maar op.

Dikwels ontvang die kerk briewe met hulpaanvrae deur verskillende instansies.

Dit is onmoontlik om almal te ondersteun.

Maar op grond van hierdie sinnetjie uit die Kategismus, wat aan die Skrif ontleen is, doen ons van harte dit wat in ons vermoë is.

In die bestaan van ‘n kerk, en in die lewe van ‘n Christen, is die belangstelling in en hulp aan die behoeftige is wesenlike onderdeel.

Jy is ‘n Christen, volgeling van Christus, nie net in die wat jy dogmaties glo nie, maar ook in hoe jy lewe.

As jou Christen-wees nie sigbaar is in jou geldbesteding nie, is jy lou.

Dat ek my arbeid getrou doen, sodat ek ook die behoeftiges in hulle nood kan help.

Wie alles in die Bybel glo, maar hierdie nalaat, is ‘n halwe Christen.

Erger nog, soos daar in 1 Johannes staan: “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” (1 Joh 3:17)

Daarom is die hulp aan die behoeftige ‘n vaste onderdeel van ons begroting.

Selfs as jy geen geld het nie, kan jy jou tyd skenk.

En selfs as jy vir ‘n periode van die diakonie moet leef, bly die hulp aan die behoeftige ‘n deel van jou begroting.

Laat daardie bereidheid altyd daar wees, al blyk dit net uit die spreekwoordelike penning van die arm weduwee.

 

Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi (Mark 12:41).

Die skatkis, mens kan dit dalk beter vertaal met die offergawekis, was in daardie dae ‘n oop kis.

Mens kon sien wat die mense ingooi.

Daar was rykes wat baie ingegooi het.

Maar daar was ook ‘n arm weduwee wat net twee geldstukkies ingegooi het.

Dit was baie min.

Tog het Jesus sy dissipels nader geroep en gesê:

Voorwaar, hierdie arm weduwee het die meeste van almal in die offergawekis gegooi!

Want almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het ten spyte van haar behoeftigheid alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.

 

Ook in die kerk kan ons geneig wees om die ryk mense belangriker te ag, meer na hulle te luister.

Maar met hierdie geskiedenis maak Jesus baie duidelik dat dit in sy kerk nie die geval behoort te wees nie.

As in die wêreld almal baie waarde heg aan elke tweet van Elon Musk, maar nie omgee oor wat ‘n arm weduwee te sê het nie ... in die kerk mag dit nie so wees nie.

 

Gemeente, genoeg padkos vir die komende week, hoe ons uit dankbaarheid die 8ste gebod in ons lewe ‘n plek mag gee.

Of ons ryk is of minder bedeeld.

Ons mag volg in die voetspore van Boas, en die raakvat vrou van Spreuke 31, en in die voetspore van Petrus, en in die voetspore van die arm weduwee by die offergawekis.

Maar boweal in die voetspore van Jesus Christus.

Aan Hom behoort alle dinge in hemel en op aarde, in die hede, verlede en tot in ewigheid.

 

“Neem my lewe , laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer ...”

“Neem my goud en silwer, Heer, niks noem ek my eie meer ...”

Ja, “laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig!” (Ges 190:1,4)

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Spreuke 31:10-31; Mattheüs 5:43-48 & 7:12 & Markus 12:41-44

Teks: Nav 8ste gebod (Heidelbergse Kategismus Sondag 42)

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoe lê die goue reël van Christus aan die basis van ‘n gesonde finansiële samelewing?
  2. Was die vrou van Spreuke 31 ‘n huisvrou in die hedendaagse sin van die woord?
  3. Wat is die verband tussen die sorg vir arm mense en die 8ste gebod?
  4. Noem ‘n Bybelteks waaruit blyk dat die sorg vir die armes ‘n integrale onderdeel van ‘n gelowige se lewe is.
  5. In watter opsig was die twee geldstukkies van die arm weduwee meer werd as die groot bedrae wat die ryk mense in die offergawekis gegooi het?
  6. Wat het die trou verrig van jou daaglikse arbeid met die 8ste gebod te make?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 34:1

Gebed

Skriflesing: Spreuke 31:10-31

Ps 65:6,7

Skriflesing: Mattheüs 5:43-48 & 7:12 & Markus 12:41-44

Ps 15:1,5

Teks: 8e gebod (nav Heidelbergse Kategismus Sondag 42)

Preek

Ps 112:1,3,4,5,6,7,9,10

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 146:5,7

Kollekte

Ps 127:1,2

Seën