Om Jesus te volg beteken om meer soos Hy te word

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2020-06-28
Teks: 
Mattheus 5: 43 - 48
Verwysing: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

As jy in Jesus is, dan sal jy eendag volmaak wees soos wat jou hemelse Vader volmaak is.  Maar daardie opdrag kom vandag reeds na jou toe.  En deur sy Heilige Gees roep Hy jou tot daardie lewe.  As daar een ding is wat ek besef het, is dit dat ons te dikwels onsself met die mense rondom ons vergelyk om te sien hoe die Christelike lewe lyk, eerder as om na God te kyk.  God is ons maatstaf, nie die allerheiligste lidmaat in die kerk nie.

Vandag gaan ons kortliks uitbrei oor ’n paar gedagtes van verlede week, en kyk na wat die opdrag “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is” beteken.  Jou Vader in die hemel stuur steeds reën en gee elke dag kos aan die slegste sondaars.  Aan diegene wat teen Hom rebelleer en Hom in woord en daad laster, gee Hy sy sorg en voorsiening.  Die evangelie van Jesus Christus word altyd deur liefde gedryf en gemotiveer.  Selfs in die ergste vervolging.  Selfs in die aangesig van die ergste vyand.

Om Jesus te volg beteken om meer soos Hy te word:

1.In liefde

2.In volmaaktheid

 

Wees lief vir jou vyande

Vers 43-44a sê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê...

Hier word die hoogtepunt uiteengesit in wat eintlik ’n oksimoron is.  Julle moet jul vyande liefhê.  Is ’n vyand nie juis iemand wat jy nie liefhet nie?  Is dit nie die definisie van ’n vyand nie?  En as jy hom liefhet, beteken dit dan nie dat hy nie meer jou vyand is nie?

Presies!  Dit is die pad wat die kruis vir ons oopgemaak het.  Hierdie hele preek dwing ons nader aan die kruis.  Deur sy dood word vyande familie.  Dit word nie aangebied as ’n stuk pragmatiese wysheid nie, maar as ’n weerspieëling van die karakter van God self.  Dit is ’n uitdaging om só as dissipel te lewe.  God is jou maatstaf, en nie die mense rondom jou nie.

Vers 44 gaan verder en sê: “en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is.”

Omtrent ’n jaar gelede is ’n Chinese predikant gevange geneem omdat hy aanhou preek het.  In ’n brief aan sy gemeente skryf hy die volgende:

As ek vir ’n lang of kort tyd gevange moet bly, as ek kan help om die vrees van die owerhede vir my geloof en my Verlosser te verminder, dan is ek baie bly om hulle op hierdie manier te help. Dié wat my nou toesluit, sal eendag deur engele toegesluit word.  Dié wat my my nou ondervra, sal uiteindelik deur Christus ondervra en geoordeel word.  Wanneer ek hieroor dink, vul die Here my met ’n natuurlike medelye en droefheid teenoor diegene wat probeer en besig is om my gevange te hou.  Bid dat die Here my sal gebruik, dat Hy my geduld en wysheid sal skenk, sodat ek die evangelie aan hulle kan gee.

Hy vra dat sy gemeente sal bid dat die Here hom sal gebruik om sy vyande lief te hê!  Hy weet dat dit in die besonder deur gebed gebeur.  Bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders van jul Vader in die hemel kan wees.  Wat doen die Seun vir sy vervolgers?  Hy bid vir hulle!  Want sien, hoe meer jy vir iemand bid, hoe moeiliker word dit om hulle te haat.  En hoe minder ons hulle haat, hoe meer wil ons vir hulle bid.  Begin dus vandag.  Ons het almal daardie mense in ons lewe van wie ons nie hou nie.  Of dit nou ons baas, kollega, onderwyser of medebroeder of -suster is.  Maak daardie persoon die onderwerp van jou gebede. Verbind jou daartoe om spesifiek vir daardie een te bid.

En dit gaan nie daaroor om net voor te gee om lief te hê nie.  Ek hou nie eintlik daarvan nie as mense sê: “Ek moet jou liefhê, maar ek hoef nie van jou te hou nie.”  Wat beteken dit nou eintlik?  Dat ons maar net kan voorgee, maar tegelykertyd bitter gedagtes in ons hart koester?  Dat liefde net ’n daad van die wil is en nie iets wat vanuit ’n getransformeerde hart voortvloei nie?  Dit is nie die manier waarop Jesus ons liefgehad het nie.  Dit is nie die hart van die Vader nie.  Ons was sy vyande en Hy het ons liefgehad. Weer eens, net sy liefde sal ons in staat stel om so te kan liefhê.  Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het.

Ek dink vir ons om dit regtig te verstaan, moet ons eers die volle gewig verstaan van wie ons vyand is.  Jesus vertel vir ons die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.  Eers stap ’n predikant verby. ’n Gerespekteerde man in sy gemeenskap.  Hy preek mooi, hy trek mooi aan, hy het ’n mooi gesin.  En mense hou van hom.  Hy sien ’n vreemdeling.  Maar hy het ’n besoek om af te lê.  Hy is besig.  Die man lyk in elk geval nie of hy sal oorleef nie.  En dit is immers ’n gevaarlike deel van die stad om te stop.  En hy stap verby.  Volgende stap ’n ouderling verby.  Hy was al ’n paar keer as ouderling verkies.  Pragtige eerbare gesin.  Goeie huwelik.  Hy sien die man en dink: Ek het ’n gesin om te versorg.  Die besigheid gaan ook nie vanself voortgaan nie.  En hy voort op sy pad.

Dan, vertel Jesus, stap daar ’n Samaritaan verby. Toe Hy daardie woord “Samaritaan” genoem het, kon jy die gespanne stilte onder die menigte voel.  Dit was een van die mees gehate groep mense.  Dit sou vergelykbaar wees daarmee as iemand sê dat die hoof van die buurt se terreur-organisasie verbyloop.  En hy sien hierdie man, terwyl sy eie lewe in gevaar is.  Hy is nie haastig nie.  Hy neem sy geld en energie en gee die man wat hy nodig het.  Wie was hierdie sterwende man se naaste?  Die Samaritaan.  Ek kan my voorstel hoe moeilik dit vir die godsdienstige leiers moes wees om selfs net daardie woord te uiter, toe Jesus hulle hierdie vraag gevra het.

Duidelik lees ons dit te maklik.  Net vir ingeval julle vergeet het: vyande is mense wat nie van jou hou nie.  Die Jode was baie goed daarin om vir hulle eie volk te sorg.  Maar die probleem is dat hulle veronderstel was om die lig te wees.  Hoe doen ons dit?  Het ons diegene lief wat nie ons gunste beantwoord nie?  Die Hervormer Johannes Calvyn, in die 16de-eeuse Genève, het na sy teenstanders of vyande verwys as “verskeurende wolwe”.  Hierdie wolwe was nie opgestopte kinderspeelgoed nie; hulle was leiers in die kerk, leiers in die politieke lewe van die gemeenskap, verstrengelde vyande met mag en die wil om dit teen hom te gebruik.

Jy sien, wanneer ons nie in die middel van ’n stryd is nie of oorlog voer teen die koninkryk van die duisternis nie, en al ons verhoudings nog behoue is, lyk hierdie opdrag doenbaar, miskien selfs maklik.  Om voor te gee dat jy jou vyande liefhet is soos om op jou eie opera in jou motor te sing.  Dit klink goed en lyk nie so moeilik nie.  Maar in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan leer Jesus hulle dat die naaste hulle vyand is.

Wie is dus jou naaste?  Dit sluit die persoon in wat met sy kanonne na jou gemik staan, wat jou wil verwoes en jou ondergang soek.  

Die Psalms is geskryf deur mense wat sulke vyande gehad het.  die ergste van alles is dat sommige van die Psalmiste se vyande eens vriende was, gesinslede, mense saam met wie hy aanbid het, sy medewerkers in die bediening (Psalm 55:12-14).  En Jesus sê vir ons dat ons hierdie vyande moet liefhê.

Kom ons wees eerlik wanneer ons na “vyande” verwys.  Dit is ’n onmoontlike opdrag, tensy jy die Gees van God het en uit Hom gebore is.  Moenie eers probeer nie.  Jy moet die liefde van Jesus verstaan en jou in daardie liefde verdiep om selfs net ’n begin te maak met hierdie opdrag.  Weer eens, dit gaan alles daaroor om na Christus te kyk!  Dit is ALGEHELE dissipelskap!

Vers 46 sê: “Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle?  Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie?”  Tollenaars: Hierdie mense was die mees gehate groep, en dikwels die korrupte deel van die samelewing.  Hulle word dikwels in dieselfde asem as prostitute en sondaars genoem.  As jy slegs die liefhet wat jou liefhet, is hierdie kerk net soos enige bende op die Kaapse Vlakte.  Dit is presies wat hulle doen.  Hulle het die ander bendelede lief; hulle het hul ma’s lief.  Maar die dissipels is nie dieselfde as die tollenaars of die bendes nie! Ek kan dink dat die geloofsleiers van daardie tyd nie daarvan gehou het om met tollenaars vergelyk te word nie.  Maar Hy sê: as jy soos hulle optree, dan is jy soos hulle.  As jy soos die wêreld optree, dan is jy soos die wêreld.

Hy gaan verder in vers 47: “En as julle net julle broeders groet, wat besonders doen julle dan?  Doen die tollenaars nie ook so nie?”  Die punt wat Jesus in hierdie verse maak, is dat almal die maklike ding kan doen om mense lief te hê wat hulle lief het.  Kuier saam met die mense waarvan jy hou.  Praat met die mense wat luister.  Ongelowiges doen dit.  Sê “hallo” en praat oor oppervlakkige dinge met die mense van wie hulle hou.  Die Christene is ’n nuwe gemeenskap, wat bestaan uit baie verskillende mense, persoonlikhede en karakters.  Ons groet mekaar, praat met mekaar en het mekaar lief.  Ons groei saam.  Ons ervaar meer van wie Christus is deur mekaar.  As jy net altyd die mense van wie jy hou, vriendelik groet, dan is jy nie werklik sout en lig nie.  Jy tree nie regtig op volgens en leef die hemelse lewe nie.  Die Gees-vervulde lewe.  Dan word jy een met die wêreld, en as die sout laf geword het, is dit net goed genoeg om buite gegooi te word.  Soos Hy sê, julle kan ook so buite gegooi word.

As jy die liefhet wat jou liefhet.  As jy die liefhet wat soos jy is, wat soos jy dink, wat soos jy optree, wat soos jy aanbid, wat dieselfde kulturele agtergrond as jy het, wat omgee oor dieselfde dinge as jy, wat dieselfde politieke standpunte inneem as jy.  Wat baat dit jou?

Die Christelike getuie staan uit wanneer hy sy vyande liefhet.  Wanneer ’n man die moordenaar van sy broer omhels en vergifnis aanbied.  Net soos wat verlede jaar in ‘n hofsaal gebeur het.  Toe ’n vrou wat seksueel misbruik is, vergifnis aan haar mishandelaar aangebied het, selfs terwyl sy getuig het om hom lewenslange tronkstraf te gee.  Net soos wat tweeduisend jaar gelede gebeur het.  Toe ’n man aan ’n kruis gehang het en sy Vader gevra het om sy moordenaars te vergewe.  Dit is wat al hierdie dinge moontlik gemaak het.  Sodat daar versoening kan wees.  Tussen God en die mens, en tussen mens en mens.  Hierdie liefde moes van bo kom.

Daarom is dit so belangrik om hierdie opdrag te gehoorsaam dat jy eerstens ’n dissipel is.  Want eers dan sal jy begin gehoorsaam wees.  Want dit is hoe Jesus jou liefhet, selfs nadat jy Hom as ’n vyand behandel het.  En steeds behandel...

Die beste van ons goeie werke wat aan hierdie kant van die heerlikheid gedoen word, is, soos Augustinus dit genoem het, bloot “pragtige sondes”.  Dit geld vir almal van ons.  Ons vyande weet nie die helfte van wat werklik in ons leef nie.  In die donker hoeke van ons harte is ons slegter as wat hulle dink.  Dit is nie net hulle wat vyande is nie.  Ons het gedoen wat hulle doen.  Elke flirtasie met die wêreld vereenselwig my as vyand van God (Jakobus 4:4).  Elke sonde is vyandskap teen God.  Wie van ons het nie langdurige vriendskappe met die wêreld nie?  Ons is die vyand.  Tog is ons geliefd.  En daardie liefde het ons van vyande tot vriende verander.  Van vreemdelinge tot familie.

Jesus, wat ons oproep om ons vyande lief te hê, het die uiterste hiervan gedoen toe Hy sy lewe vir my, sy vyand, afgelê het om die skuld van die sonde wat ek geskuld het, te betaal vir my kosmiese oortredings teen ’n heilige, heilige, heilige God.  

Wees volmaak

In Christus word die onmoontlike moontlik.  Totdat ons sien hoe onmoontlik dit is om hierdie lewe op ons eie te lewe, sal ons nie na Christus toe hardloop nie.  Ons sal nie voor Hom neerval en smeek om ons in staat te stel om dit te doen nie.  As ons nie in Christus is nie, sal ons vergruis word en in wanhoop wees. Slegs in Hom kan ons na Hom toe gaan vir vergifnis, ’n miljoen keer.  Slegs deur sy Gees is ons in staat hiertoe.  Want sien, dit gaan eerstens oor jou verhouding met Jesus.  As dit nie is nie, kan jy maar vergeet.

Ons het Hom nodig. Dit is nie verniet dat gebed sentraal staan in hierdie preek nie.

Luister net na sy finale opdrag in die gedeelte.  “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”  As dit verkeerd verstaan word, kan dit die mees ontstellende vers in die Bybel wees.  Ek kan nie eers tien minute van volmaaktheid volhou nie, laat staan nog ’n hele lewe wat volmaak is soos God self volmaak is.  Ons het ’n middelaar nodig het.  Ons het iemand nodig wat volmaak is.  Iemand wat vir ons kan instaan, wat namens ons optree vir ons ewige volmaaktheid.  Jesus self is ons geregtigheid, Hy wat die wil van sy Vader foutloos gehoorsaam het, en sy eie volmaakte geregtigheid vir my toereken.  En namate ons dit besef, word daardie geregtigheid meer en meer ’n deel van ons lewe deur die werking van die Gees.

Die Ou-Testamentiese profete het ’n tyd voorspel waarin daar ’n verandering onder God se volk sal wees.   Nie net sal sondes vergewe word nie, maar gehoorsaamheid aan God sal vanuit die hart opkom.  Tydens hierdie preek het Hy na die hart gekom.  Na die karakter van ’n persoon.  Wie is jy?  Soos wie streef jy om te wees?  Beter as die persoon langs jou?  Die karakter van die wet was om na God te wys.  Na sy volmaaktheid.

Hierdie verbintenis gaan oor ’n volkome toewyding aan ons Hemelse Vader.  Dit is waarom die woord “tedios” in hierdie teksvers gebruik word.  Dit is meer as net ’n morele vlekkeloosheid; dit gaan oor volledigheid, geestelike volwassenheid.  Dit gaan oor ’n totale en absolute trou aan God.  Matthéüs gebruik dieselfde woord weer in 19:21, wanneer Jesus praat met die ryk man, wat alle gebooie gehoorsaam het en wou weet wat hy nog moes doen om die ewige lewe te verkry.  Jesus sê vir hom: “As jy volmaak [tedios] wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes [...] en kom hier, volg My.”

Volg my.  Dit is wat die Seun sê vir almal wat aangenome seuns sal wees.  Volg my in die verkondiging van God.  Net soos dit in die Ou Testament was, toe Israel aan God afgesonder was om sy karakter en wie Hy is, te weerspieël, so dra die kerkgemeenskap steeds hierdie taak.  Hulle is God se uitverkore volk.  Dit beteken nie dat ongekwalifiseerde volmaaktheid aan hierdie kant van die ewigheid moontlik is nie.  Nee, Hy het ons geleer om ons geestelike bankrotskap te erken en om vergifnis te vra. Maar die volmaaktheid van die Vader, die doel van die wet, is wat alle dissipels van Jesus nastreef.

Hy som hierdie gedeelte op met hierdie een sin.  Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.  Die ware rigting van die wet berus nie net op sonde of toegewings wat voortspruit uit die hardheid van die hart of selfs die liefde vir die wet nie.  Nee, dit dui op die volmaaktheid van God wat in sy Seun Jesus gevind word.  Na wie se beeld elke ware Christen gevorm word.  Ons word hier gestel voor God om vir die wêreld en mekaar te wys wie God is.  Gebeur dit in ons lewens?

Voordat Christus se lewe, dood en opstanding nie myne is nie, kan ek nie my vyande meer liefhê as wat ek kan opweeg teen die volmaakte heiligheid van die Almagtige God nie.  Maar namate ek groei in die genade en die kennis van Christus en Hy voortgaan met sy werk van genade om my te heilig – en my vyande te gebruik om daarin te help – kan ek Hom meer en meer liefhê soos Hy my eerste liefgehad het toe ek nog sy vyand was.  Die God wat vyande soos ek in vriende en mede-erfgename verander, werk in my.  In Christus kan ek alles doen deur my ouer Broer wat my krag versterk, sodat ek selfs die verskeurende wolwe wat my omring, kan vergewe en liefhê.

Kom ons laat vaar alle hoop in ons eie pogings om ons vyande lief te hê of om na volmaaktheid te streef!  Kom ons val weer neer voor die kruis, bely ons sondes en vra dat sy volle krag in ons werk.  Laat ons vandag voortgaan in die almagtige krag van Christus, terwyl ons – wat self eens moedswillige vyande was – sy genade soek om ons in staat te stel om die onmoontlike te doen, naamlik: om ons vyande lief te hê.  En jaag sy volmaakte geregtigheid na.

Amen.