Die Evangelie toegepas op ‘n lewe van dissipelskap

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2020-06-21
Teks: 
Mattheus 5: 38 - 42
Verwysing: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

Tydens jou lewe word jy geraak deur die bose dade van ander.  Jy weet dat jy beledig is, mishandel is, in ‘n mate misbruik is.  Iemand het jou verneder voor vriende of familie.  Iemand het desondanks iets van jou vereis.

Die vraag is nie of jy al deur die kwaad geraak is nie, maar hoe jy die boosheid van die wêreld hanteer.  Die vraag hoe jy reageer op vernedering of geweld is nie nuut in ons sameleweing nie.  Ons het elkeen ons eie manier hoe ons op geweld of vernedering reageer.  Die nuus is deesdae vol sulke reaksies.  Daar is dié wat vreedsaam reageer, en daar is gewelddadige reaksies.

Hoe reageer jy?  Op die manier van die Koninkryk of die manier van die wêreld?  Die nuwe mens of die oue?  Vir jouself of vir ander?  Die instinktiewe reaksie van die ou mens, of van die wêreld, is om te reageer op gelyke manier, of om glad nie te reageer nie en ‘n koue skouer te gee, of om af te haak en die persoon uit jou kring te weer.  Die meeste van ons sal nie uit ons pad gaan om so ‘n persoon lief te hê nie.  Dit is eenvoudig nie hoe die wêreld werk nie, sou ons sê.  Daar sal oor jou geloop word.  Daar sal op jou getrap word.  Jy sal as ‘n vloermat gebruik word.  Ja, maar dit is hoe jy dit oorkom, deur die pad te loop wat Jesus geloop het.

Ja – kyk net na Jesus.  Hy is mishandel, daar is op Hom gespoeg.  Doodgemaak.  Maar daardeur is ons verander van haters tot liefdevolles, van rebelle tot volgelinge, van vyande tot familie.  Dit is die Evangelie. Om die veragtes lief te hê.  Om te sterf vir die vyand.  Om vir my en jou deur die hel te gaan.

Die Evangelie toegepas op ‘n lewe van dissipelskap:

  1. Oorkom die bose met die goeie
  2. Loop oor van dankbaarheid

 

Oorkom die bose met die goeie

“Julle het gehoor dat daar gesê is: oog vir oog en tand vir tand.”  Dit kom net so uit die boek van Moses.  ‘n Regering het hierdie wette nodig.  Ons verwag dit van die regering.  Daar moet regsreëls wees.  Die probleem is dat die Fariseërs dit van toepassing gemaak het op alles in die lewe.  Vir elke persoonlike aanval.  As jy dit aan my doen, dan doen ek dat aan jou.  Die regering dra die swaard om die bose te voorkom.  God gee wetlike voorskrifte as ‘n dam teen die rivier van geweld wat uit die mens se hart voortvloei.  Dit is nie jou taak nie.  Dit was nooit jou taak om die swaard te dra nie.  Jou wapen is die liefde van Christus.  Vir die kerk is die bediening van versoening gegee totdat ons Koning terugkom om die lewendes en die dooies met die swaard van sy mond te oordeel.

Hy sê: “Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie”.  Die “Ek” aan die begin beklemtoon dat dit Jesus self is wat praat.  God spreek. En die “Maar” wys ‘n teenstelling met die vorige sin.  Dit is wat julle gehoor het, maar dit is wat Ek vir julle sê.  En dit is nie net ‘n Nuwe-Testamentiese beginsel nie, want kyk hoe het Dawid teenoor Saul opgetree nadat hy sleg behandel is, of Jeremia, of die ander profete.  Hulle is mishandel, daar is op hulle gespoeg, hulle is doodgemaak.  Kyk hoe die Psalms bid dat God sal wraak neem.  Hoekom?  Want hulle het nie self wraak geneem nie.  Inderwaarheid, nie net neem jy nie wraak nie, maar jy het hulle lief.  En onthou hulle is slegte mense.  Daar is geen twyfel oor die onregverdigheid van die aanval nie.  Kwaad is regtig gedoen.  Hoe reageer ek en jy op iets gerings soos om gehinder te word in die verkeer?

“... maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.”  Dit gaan oor eer meer as oor liggaamlike verwonding.  En ‘n belediging van iemand se eer het gepaste betaling vereis, veral as jy ‘n leier was.  Hoe groter die eer van die leier, hoe groter die boete wat hulle moes betaal.  Maar Jesus sê hier vir sy dissipels dat hulle die belediging moet aanvaar sonder om te reageer.  En selfs om ook die ander wang aan te bied vir ‘n verdere, minder ernstige belediging.  Kyk, mense mag sê dat Jesus teen vergelding is.  Maar Hy gaan verder: selfs weerstand is verbode.  En daar word geen onderskeid gemaak tussen aktiewe en passiewe weerstand nie, gewelddadig en nie-gewelddadig, wettig of onwettig.  Daar is ook geen twyfel nie.  Jesus noem so ‘n persoon boos.  Jy sien dat die slegste mense hul eie liefhet.  Jy sal nie ‘n bendelid vind wat nie lief is vir dié wat hom liefhet nie.

Dit is die manier waarop Jesus, wat alle eer waardig is, en in die ware natuur van God is, “my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie” (Jesaja 50:6).  Eerder as “om die ander persoon terug te kry”, volg jy in die voetspore van jou Verlosser en ly onregverdig.  “Soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie (Jesaja 53:7).  Ons Here Jesus Christus het nie net sy wang nie, maar Homself geoffer.  Gaan jy bereid wees om belediging te verduur om die ander lief te hê? Om hul kwaad van sy krag te ontneem deur nie kwaad met kwaad te antwoord nie, maar deur liefde te toon?

Jesus sê hier in die evangelie dat jy kan kies om ‘n nuwe weg te bewandel.  As Christus in jou is, is dit wat jy sal doen.  Draai die ander wang.  Dit is soos iemand gesê het: “verander ‘n vloek in ‘n seën”.  Dit is wat gebeur het met elke klap op ons Verlosser se gesig: Hy het die kwaad van sy krag ontneem, en dit in seën verander vir almal wat in Hom glo.  Die kwaad is van sy krag ontneem met elke wond wat aan die Verlosser toegedien is.

En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry.  Hulle het nie net sy bo-kleed gevat nie, maar ook sy onderkleed.  En wat het Hy toe gedoen?  Hy het gesê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.  Om te eis dat iemand sy onderkleed moes prysgee, is in die Ou Testament verbied om humanitêre redes – Exodus 22:25-27 en Deuteronomium 12-13. Waarvoor ‘n slegte mens selfs nie durf vra nie, moet die dissipel vrylik aanbied.  Selfs ten koste van homself, met niks om hom warm te hou nie.  Dit herinner my aan Paulus wat aan die kerk in Korinthe vertel dat dit beter is om onbillik behandel en bedrieg te word as om ‘n regsaksie te begin.

En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.  In daardie tyd kon ‘n soldaat jou dwing om sy pak te dra.  Dit is normaalweg deur diere gedoen.  Die soldaat sou jou dier opeis om sy pak te dra.  Dit sê dus: as die soldaat jou soos ‘n dier behandel en vra dat jy een myl stap, stap twee myl saam met hom.  Wat!  Om dit vir enigiemand te doen, sou merkwaardig wees.  Selfs vir ‘n vreemdeling.  Maar om dit vir ‘n vyand te doen, sou ongehoord wees.  Dit was nie maar ‘n arm vreemdeling nie, maar ‘n besettende mag wat jou mishandel het.  As ‘n buitelandse weermag binnegeval het en jou gevra het om sy pak te dra, wat sou jy doen?  Dit dien tot teken dat ons nie net ons regte prysgee nie, maar dit berei ons voor vir die gebod om ons vyande lief te hê.

Jy sien, hierdie wêreld gaan alles oor my regte.  Dit is my reg kragtens die Grondwet.  Dit is my reg as burger.  En Jesus sê dat ons nie eens moet opstaan vir ons eie regte nie.  Dit is skokkend radikaal.  Drie van die vier voorbeelde wat Jesus gebruik, is regsbeginsels.  Om nie jou eer te beskerm nie en ander toe te laat om jou uit te buit.  Dit toon ‘n onselfsugtige welwillendheid wat slegs daaraan dink hoe ek die ander persoon die beste kan liefhê.  Dit is die enigste beperking in hierdie bepalings: liefde vir God en liefde vir ander.  Nie beskerming van eiebelang, of selfs eie eer nie.  Dit is nie ‘n swaarder wet nie; dit is ‘n nuwe lewenswyse.  Dit is die weg van Jesus.  In plaas van vergelding stel Hy nie-weerstand; in plaas van verdediging van wetlike regte stel Hy onberekenbare vrygewigheid; in plaas van besorgdheid oor jouself stel Hy besorgdheid oor ander.

Loop oor van dankbaarheid

Laastens is daar nie net ‘n reaksie van liefde in die aangesig van die kwaad nie, maar ‘n betoning van liefde wanneer dit gevra word.  Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.

Toe ek en my vrou eenkeer gaan stap het, sien ons ‘n paar mense, wat na die beeld van God geskape is, in vullisblikke grawe.  Hulle het eetbare goed uitgesoek, en ander dinge wat miskien nuttig kon wees.  Hoe sou jy gevoel het as jy daardie persoon was?  Hoe honger of desperaat moet jy wees?  Ons kan so gou op hierdie mense neersien, en kan so gou dink dat hulle minder is as ons.

Maar weet jy wat?  Dit is jy.  Dit is ek.  God het ons in die sonde-put van die wêreld gevind, soos die verlore seun wat varkkos geëet het.  Daardie persoon weerspieël jou.  Voordat Christus gekom het om vir jou en vir my te red, was ons desperaat.  Leeg sonder Jesus.  Op soek na afval in die slegste plekke.  Totdat ons by die Vader se huis gekom het.  Dit is almal van ons, en as ons dít besef, sal ons nie net op hulle neersien en jammer vir hulle voel nie, maar dan sal ons langs hulle staan en hulle help.  Ons moet weet dat ons is wat hulle is.  Ons moet dalk buitentoe gaan en hulle groet soos ‘n mens familie sou groet, en sê: “Hier is brood en water. Gee jy om as ek saam met jou bid?”  Moenie die een wat bedel, wegwys nie.  ‘n Christen stuur ‘n bedelaar nie weg nie, want God het hom nie weggewys nie.  Dit is ‘n eenvoudige geloofslogika as jy in Christus is.  Ons kom elke dag terug vir meer, en elke dag gee Hy oorvloedig, sodat ons in hierdie oorvloed die liefde van Christus kan uitstort in die lewens van almal wat ons ontmoet.

Dit is gewoon wie ons is.  Voortdurend en daagliks loop ons oor van dankbaarheid.

Ek sê weer, dit is nie nuwe, absolute reëls nie.  Maar almal, net soos die saligsprekings, daag ons uit tot onnatuurlike gedrag, al lyk dit in die oë van die wêreld belaglik.  Hoekom?  Omdat die wêreld sal sê:  “Wie sorg vir jou as jy dit nie self doen nie?  Jy kan nie toelaat dat die wêreld voordeel van jou trek nie.  Die lewe gaan oor jou.”

Maar die Christen sê:  Ek het Christus.  Hy is genoeg.  Net in Christus kan ons hierdie gesindheid hê.  Net in Hom sal ons hierdie houding hê: om altyd bereid te wees om die ekstra myl te stap, om ons eie gerief op te offer, te gee, selfs as dit seermaak.  Hierdie lewenswyse is basies die praktiese resultaat van die Evangelie wat in ons werk.  Dit wys ons die weg van Jesus.  Dit wys ons hoe om die boosheid in die wêreld te oorkom. Deur die weg van die kruis te volg.

Party van julle sal dink dat, as ek so optree, daar op my getrap sal word, oor my geloop sal word en ek misbruik sal word.  En ek sal platsak wees.  Ons begin dadelik verskonings uitdink.  Dit wys hoe baie ons nog van onsself hou. Ons wil so graag aan ons lewens vashou, eerder as om volkome die weg van die kruis te volg.  Is Jesus regtig vir jou alles die moeite werd?  Ek bedoel alles?

Luister na wat Paulus sê wat met sy lewe gbeur het nadat hy Christus ontmoet het.  Paulus verstaan dit as hy sê:  “Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond, en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.”  Uitvaagsels en vullis van die wêreld.  Dit is die dwaasheid van die kruis.  Die oorwinning van die liefde kom nie deur vir jouself op te staan nie, maar deur jou lewe af te lê.

Paulus praat hier spesifiek oor Christelike leierskap.  Dit is die teenoorgestelde van wêreldse leierskap.  Dit nooi jou uit om te ly eerder as om ‘n aura van krag uit te straal.  Dit word gedoen in swakheid sodat Christus se krag openbaar mag word.  

Is dit normaal?  Is dit wat jy sien?  Nee, dit is nie normaal nie, en dit is nie wat jy in die wêreld sien gebeur nie.  Want die wêreld ken Hom nie.  Maar jy ken Hom, geliefde!  Dit is die krag van Christus in ‘n Christen.  Dus, in plaas daarvan om dit af te maak as ‘n utopie, laat ons daaroor dink, daaroor praat, dit bespreek en leer hoe ons hierdie beginsels (nie reëls nie) in praktyk kan bring.  Dit is hoekom ons voor die grendeltyd klasse in dissipelskap begin aanbied het, en dit weer sal doen.  Ek moedig almal aan om hierdie klasse by te woon.  As ons getrou is aan Jesus, sal ons ‘n noodsaaklike nie-selfgesentreerde lewensbenadering hê – ‘n kruis-gesentreerde lewensbenadering.

Ten slotte wil ek dit byvoeg:  Ons doen dit uit liefde.  En soms vra die liefde dat ons sal opstaan.  Nie in die eerste plek vir onsself nie, maar ter wille van die ander.  Soms is geregtigheid die mees liefdevolle ding om te doen.  Wat ek bedoel is: as ‘n dronkaard geld vra om drank te koop, lyk die beste ding om te doen dalk om nie geld vir hom te gee nie.

Nee, die beste ding wat jy vir ‘n dronkaard kan doen, is om hom nie geld te gee nie, maar om klasse aan te beveel, ‘n gemeenskap waar hy moontlik kan verander.  Bied ‘n kamer aan as jy een het en as dit veilig is. Die mishandelde moenie voortgaan om ‘n slagoffer te wees nie, en te dink dat hy in liefde optree as die mishandelaar nie tot verantwoording geroep word nie.  Die beste manier om so iemand te laat verander, is om hom die gevolge van sy sonde te laat besef.

Jy doen dit omdat die liefde van Jesus jou motiveer, nie uit liefde vir jouself nie.  Want Jesus het reeds vir jou gesorg.  Om sonde aan die lig te bring, is liefde.  Om die liefde en genade en vergifnis van die Here Jesus Christus aan hulle te toon.  Uitgestal in sy werk.

Dit is waaroor dit alles gaan.  Om Hom te wys.  Sy liefde.  Sy offer.  Hy leef in jou.  Hoe meer Hy in jou leef, hoe meer sal jou lewe volgens syne gevorm word.  Kkruisgevormd.  Soos die Skrif sê, ons deel in sy lyding sodat ons ook in sy heerlikheid kan deel.  Laat ons Christus vir die wêreld wys, en die oorwinning van die goeie oor die bose.  Liefde oor haatlike selfgesentreerdheid.  Laat ons Jesus volg.  Veral nou met verdeeldheid, spanning, en vyande wat meer word.  Kom ons toon ware selfbeheersing, vriendelikheid, geduld en liefde.  Laat ons die tipe mense wees wat selfs die bo-kleed sal gee, die ekstra myl sal stap, wat nie opstaan vir ons eie eer nie, wat sal gee tot dit seermaak.  Dit is die lewe van ‘n dissipel.  Dit is die lewe van ‘n Christen wat net in Hom en vir Hom lewe.

Amen.