Jesus bemagtig ons om ons woord te hou

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2020-06-07
Teks: 
Mattheus 5: 33 - 37
Verwysing: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

’n Onlangse studie het bevind dat slegs 22% van Amerikaanse volwassenes glo dat daar selfs iets soos absolute morele waarheid is. Dit is egter verbasend dat daar onder Christene, wat gereelde kerkgangers is, net 32% van volwassenes en net 9% van tieners gesê het dat hulle glo dat morele waarheid onveranderlik of absoluut is.  Nou weet ek dat elke statistiek verdraai kan word.

Ek kry die gevoel dat Suid-Afrika nie ver agter is nie.  Ons wonder waarom dit vir mense so moeilik is om mekaar die waarheid te vertel.  Wel, blykbaar kan die meeste mense in die eerste plek nie eers identifiseer wat die waarheid is nie!

Dit is geen verrassing nie dat ‘vals nuus’ ‘n woord is in ons samelewing.  In ander tye sou dit ‘n oksimoron gewees het.  daar sou gesê word dat nuus eg is, of dat dit nie nuus is nie.  Maar ons virtuele wêreld help ons om die waarheid te verdraai, om dit te oordryf of om dit weg te steek – met ernstige gevolge.  Neem ’n segment hier, ’n video-snit daar.  Voeg daarby ‘n bietjie epiese musiek, ‘n paar donker wolke op die agtergrond, ‘n bietjie dialoog, en jy het iemand in die duiwel verander.  Dit lyk of die samelewing minder omgee oor integriteit en meer oor roem.  Dit gaan nie meer daaroor om outentiek te wees nie, maar om outentiek te lyk.  Dit is belangriker om jou standpunt beter te laat lyk as om die waarheid te praat.

Die woorde wat ons bestudeer is gespreek deur die Een wat Homself verklaar het as die Weg, die Waarheid en die Lewe (Johannes 14:6) – die Een wie se Woord WAARHEID IS (Psalm 119:160).  En Hy stel aan ons ’n standaard van waarheid wat oneindig hoër as die standaard van mense is.

Jesus bemagtig ons om ons woord te hou:

1.Hou jou woord

2.Toepassings

 

Hou jou woord

“Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou.  Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning; ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie.”

Voordat ons wegval, kom ons maak eers seker dat ons verstaan wat Jesus hier sê, en nie sê nie.  Hy sê nie dat jy nooit ’n eed mag aflê nie.  Die Bybel is vol hiervan.  Selfs God lê in Hebreërs ’n eed af.  Nee, Hy praat hier oor eerlikheid.  Hy sê dat God altyd ons getuie is.  Die God van Waarheid, die God van die verbond.  As Hy jou Vader is, dan sal jy soos Hy lyk en soos Hy optree.  Dit beteken wat jy sê, is reg.  Die Gees van Jesus woon in jou.  Dus, soos Petrus sê: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God” (1 Petr. 4:11).   Wanneer ons ’n eed aflê, is dit nie om ons te dwing om die waarheid te praat nie, maar ter wille van die ander.  Dit is ook waarom God ’n eed aflê: nie omdat Hy nodig gehad het om Homself verantwoordelik te hou nie, maar sodat ons Hom verantwoordelik kan hou.

As die enigste rede waarom jy ’n eed aflê, is om eerlik te wees, dan spot jy met God en kan jy net so wel glad nie sweer nie.  As jy sweer, sweer by God en niks anders nie, anders maak jy ’n afgod daarvan.  Moenie by enige iets anders sweer nie, want niks anders ken jou hart nie.  God alleen ken jou hart.  Soos Levitikus 19:12 sê: “En julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie.  Ek is die HERE.” As jy werklik verantwoordbaar gehou wil word, beroep jou op die Here.

Jy sien, die fariseërs het op so ’n manier gepraat dat hulle die volle waarheid effens kon wegsteek.  Ons wêreld doen iets soortgelyks wanneer ons goed sê soos: “Ek belowe.  Eerlikwaar.  Ek lieg nie.  Ernstig.  Ek maak nie ‘n grap nie.”  Wanneer mense sulke dinge sê, dan raak ek bekommerd. Dit laat my dink dat dit miskien beteken dat jy oor alle ander dinge gelieg het…

Dit kan vir mense belangriker wees om geglo te word as om die waarheid te praat.  Meer nog, hulle is meer geïnteresseerd daarin om geglo te word as om godvresend te wees!  Dit gaan hier oor karakter. As dit vir jou belangriker is om geglo te word, eerder as om eerlik te wees, dan het ons ’n probleem.

Jesus sê: “Sweer hoegenaamd nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning; […] Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee.”  Ons Here wys duidelik uit dat God alleen soewerein is oor alle dinge – die hemel, die aarde, Jerusalem, en jy – jy is nie oor enige iets soewerein nie, nie eers oor jou eie hare nie.  Dit maak nie saak waarop jy sweer nie, ek en jy en elke ander skepsel moet aan God rekenskap lewer, en jy is verantwoordelik teenoor Hom, of jy sweer of nie.  Elke keer wanneer jy jou mond oopmaak, is jy verantwoordelik teenoor Hom.  Vir elke liewe woord wat uit jou mond kom.  Ja. Elke woord.

Hy sê dat dit beter is om glad nie te sweer nie, sou jy dit gebruik om aanspreeklikheid te vermy.  Moenie jouself om die bos lei nie, God kan nie bespot word nie.  Hy kan regdeur jou sien.  As jy dink dat jy die waarheid so bietjie kan verdraai deur te sweer, dan kom dit van die duiwel af.  Dit geld vir die geestelike leiers en hul skynheiligheid.  Jesus is teen skynheiligheid, in watter vorm ook al.  En Hy is vir opregtheid en deursigtigheid en eerlikheid en verantwoordelikheid, in al sy vorms.

Dit lyk asof Jakobus die woorde van ons Here in sy brief herhaal wanneer Hy sê: “Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ’n oordeel val nie.” (Jakobus 5:12)

Die punt van hierdie gedeelte is integriteit.  Christene moet bowenal mans en vrouens van hul woord wees. As jy in Christus is en op Hom vertrou en Hom op sy woord neem, hoe kan jy dan nie 'n man van jou woord wees nie?  Wat jy sê, moet jy doen.  Jou woorde moet ooreenstem met jou dade.  Dit is die punt van die bergpredikasie.  Dit gaan daaroor dat mense “Here, Here” sê nie, maar dat hulle die wil van die Vader in die hemel doen.

As ’n dissipel van Christus word jy gedefinieer op grond van hoe jou woorde ooreenstem met jou dade.  Een van die eerste dokumente van die vroeë kerk, die Didache, sê: “Jy mag nie meineed pleeg nie, jy mag nie vals getuig nie, jy mag nie kwaad spreek nie, jy mag nie ’n wrok koester nie, jy mag nie ‘n tweegesig wees of uit twee monde spreek nie; want die dubbeltong is ‘n strik van die dood.  Jou woorde mag nie vals of leeg wees nie, dit moet deur dade volbring word.”  Ek hou van die laaste sin: “Jou woorde mag nie vals of leeg wees nie, dit moet deur dade volbring word.”

Hoe lyk dit dus vir ons in die praktyk?  Wel, ‘n paar dinge:

Toepassings

Eerstens, sosiale media. Ek weet dat ek al voorheen hieroor gepraat het, maar dit is belangrik.  Moenie nuus plaas voordat jy nie seker is dat twee of drie ander bronne dit kan bevestig nie.  Dit is ‘n basiese Bybelse beginsel.  In vandag se tyd lyk dit na ’n baie hoë standaard.  Dit was vir Jesus baie belangrik dat ’n mens nooit ’n halwe waarheid moet vertel nie. En ek dink nie dat Jesus die helfte van dit wat ons vandag deel, sou gedeel het nie.  Wag totdat meer as een nuusagentskap verslag daaroor lewer, of wanneer meer as een bron dit bevestig.  Dit is een manier om ’n ja-en-nee-Christen op sosiale media te wees.  Alle statistiek kan gebruik word om ’n spesifieke siening uit te wys.  Wees versigtig.  Ek sê nie dat jy alles moet betwyfel nie, maar maak seker oor alles.  Doen jou huiswerk.  Mense sal jou daarvoor respekteer.

Sosiale media is ook berug daarvoor dat mense lieg oor wie hulle werklik is.  ’n Gewilde sekulêre tydskrif, Psychology Today (‘Sielkunde Vandag’), het ’n artikel geplaas met die titel: Honesty and Lying on Social Media (‘Eerlikheid en Leuens op Sosiale Media’).  Dit sê onder andere die volgende: “Die waarheid is dat mense geneig is om op hierdie platforms te lieg.  Waaroor?  Mense lieg in die eerste plek oor hulle lewens, en dit is gewoonlik ’n poging om hulself aantrekliker te maak of in ’n meer positiewe lig te stel.”

’n Voorbeeld:  in ‘n  studie het slegs 18% van mans en 19% van vrouens erken dat hulle Facebook-bladsy volledig en akkuraat weerspieël wie hulle werklik is.  Die deelnemers het meestal gesê dat hulle slegs “nie-vervelige” aspekte van hul lewens deel (32%) en dat hulle nie werklik so “aktief” is soos wat hul sosiale media-profiele dit laat lyk nie (14%).

Dink net hoe verskil ons aanlyn-lewens van die sosiale media-rekening van Israel, of die dissipels in die Bybel.  Hulle vertel die hele verhaal van die menslike ervaring, en dit gee eer aan God – want dit is wat Jesus gekom het om te bewerkstellig.  Hy het nie gekom om die regverdiges te red nie, daardie mense wat voorgee dat hulle alles onder beheer het.  Maar Hy het gekom om sondaars te red.  Gebroke, seergemaakte sondaars.

Hierdie artikel word afgesluit met die stelling: “vertroue is noodsaaklik vir enige samelewing.  ‘n Samelewing kan eenvoudig nie funksioneer as niemand mekaar vertrou nie.  En dit is wat begin gebeur.  Die samelewing is besig om uitmekaar te val omdat die leuen so alledaags is. ”

Ons almal weet dat die werklikheid vol is van hartverskeurende worstelinge wat nooit geplaas word nie.  Die werklikheid is dat jy nie altyd vakansie hou, gaan uiteet en so maklik die perfekte kinders opvoed nie. Dit is net nie waar nie, so moenie dit laat klink asof dit waar is nie.  Laat jou ja ja wees en jou nee nee.  Enige iets meer as dit is uit die bose.

Tweedens, wees versigtig vir die persoon wat altyd vriendelik is en jou oorlaai met komplimente.  Dit is ’n duiwelse wapen wat werk deur jou ego te voed net om jou af te breek of jou vir sy eie doel te gebruik. Satan het dit met Adam en Eva gedoen, hy het hulle gevlei.  Hy het dit weer probeer met die Here Jesus in die woestyn, en hy gaan nie ophou om ook jou ego te streel nie.  Pasop.  Psalm 12:3-4 sê: “... met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.  Mag die HERE al die vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat”; en Spreuke 26:28 sê: “ ’n Valse tong haat die wat hy verbrysel het, en ’n gladde mond bewerk ondergang.”

’n Vleiende persoon bedoel niks met sy woorde nie, hy wil net iets van jou hê.  Hy sal jou vernietig.  Elkeen van ons het meer mense nodig wat ons bemoedig en mense wat ons op ‘n goddelike manier vermaan, as mense wat ons vlei en sinies kritiseer.

Nog ’n manier waarop ons die waarheid verdraai is deur te oordryf.  Julle ken die halwe waarheid oor die vis: ‘Ek het een gevang wat só groot was’, maar in werklikheid was dit baie kleiner.  Die werklikheid behoort aan God.  Dink jy regtig jy behoort dit wat God geskep het, te oordryf?  Satan het ook hierdie truuk in die paradys probeer: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome in die tuin nie?”

Hou jou woord, soos wat God syne vir jou hou.  Ja, selfs in die klein dingetjies hou Hy dit, soos om vir jou brood en water te gee.  Laat ons dieselfde doen en om vergifnis vra wanneer ons dit nie doen nie.  As ons ‘ja’ sê vir ’n ete-afspraak, ’n sakevergadering, ‘n saketransaksie of ’n koffie-afspraak met ’n vriend, dan is dit presies wat ons wil doen, en niks anders ’n natuurramp sal ons keer om dit te doen nie.  Ons het ‘ja’ gesê en ‘ja’ sal dit wees.

Dink vir ’n oomblik daaraan hoe dit ons lewens sal verander as ons kultuur so sou funksioneer.  Geen boodskappe meer soos: “Staan die afspraak vir môre-oggend nog?” nie.

Dit is moedig.  Want dit erken dat, sodra jy ‘ja’ gesê het, dat ander geleenthede, selfs beter geleenthede, oor jou pad kan kom.  Maar jy sal nie toelaat dat FOMO (Fear of Missing Out – “vrees om iets te mis”) jou beheer nie.  In plaas daarvan sal jy jou besluite neem en daarby hou met die moed van jou oortuigings en die moed om uit te leef dit wat vir jou belangrik is.  Jy sal weier om deurgaans bekommerd te wees dat ’n beter geleentheid oor jou pad kan kom.  Jy sal weier om altyd halfhartig te wees oor iets waarvan jy alreeds deel is.  Jy sal die vermoë hê om jouself heelhartig aan mense te gee, aan projekte en ander dinge, en jy sal daarvan hou.

Ook as jy kinders het, moet jou ‘ja’ ‘ja’ wees.  Dit het ’n groot impak op ons kinders, want hulle leer baie oor hoe God is deur na ons te kyk – en hulle hou ons beslis dop!  Wanneer jy vir jou kind ‘ja’ sê, kan hy dan reken op wat jy gesê het, of voel jou kind dat jy nie verantwoordbaar teenoor hom is nie omdat jy te maklik iets sê wat dalk nie so is nie?

Een van die mooiste ding in die menslike ervaring is ’n kind wat vir die eerste keer ‘nee’ van sy ma of pa aanvaar.  Dit is ’n kind wat ’n goeie voorsprong het om God se karakter te kan verstaan!

Ten slotte.  Daar was ’n toets in die Ou Testament om te kyk of ’n man werklik ’n profeet van God was, of nie.  Sou sy woorde op die grond val?  Iets wat op die grond val, is lig en leeg, dit dra nie gewig nie.  Dit trek nie ver nie – dit is by jou mond uit sonder om enige invloed op die omgewing te hê.  God se kinders is nie so nie.  Hulle is mense van waarheid, in Christus, wat die vergestalting van alle waarheid is.  Ons weet dat taal heilig is, dat gesprek ’n geskenk is en dat ons dit nie durf mors nie.  Ons durf dit nie van sy krag te ontneem deur sinneloos te babbel nie.  Dit is wat die wêreld doen.  Baie mans en vroue van baie woorde.  Min mans en vrou van dade.

So lank as wat Jesus se woorde nie gehoorsaam word nie, sal ons aanhou om kontrakte te vergroot, om fynskrif in te werk, en prokureurs sal meer en meer werk hê.  Hoe minder waaragtig ’n samelewing word, hoe meer prokureurs sal die samelewing hê.

Laat ons dus ’n kerk wees wat passievol is oor die waarheid.  In groot en klein sake.  As ons nie passievol oor die klein dinge is nie, dan kan ons preek oor die groot Christelike leerstellings totdat dit by ons ore uitkom, maar dit sal van hul krag ontneem wees.  Want mense kan ons dan nie eers glo as ons sê ons gaan kom koffie drink nie.  Ons sukkel almal hiermee.  Ek weet dat ek dit doen.  Kom ons bid.  Laat ons ons bekeer.  Dit is die Christelike lewe.  Oop, eerlike gebed en bekering.  Kom ons laat toe dat die Gees ons oortuig.  Ek weet dat Hy dit al met my gedoen het.  Laat ons begeer om in Christus te wees.  Ons sal nie waarheid in ons harte spreek as ons nie lief is vir die Een wat Waarheid is nie.

Alles wat Jesus in die Bergpredikasie sê, kom terug na die werklikheid dat God reguit in ons harte kyk.  Hy sien woede.  Hy sien begeerte.  Hy is die enigste leuenverklikker wat 100% akkuraat is!  Die geregtigheid wat van God kom, gee oneindig meer om oor wat God sien as wat die mens sien!  Mag God ‘n volk sien wat rein van hart is.  Hulle is die saliges wat God sal sien.

Amen.