Bedoel vir die Huwelik

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2020-05-17
Teks: 
Mattheus 5: 31 - 32
Verwysing: 
Bergpredikasie
Preek Inhoud: 

Liewe gemeente van Jesus Christus,

Volgens die Bloomberg News het personeellede in die stad Hunan, Sjina, nie eens tyd gehad om water te drink nie, as gevolg van die hoeveelheid paartjies wat in die tou gestaan het om aansoek te doen vir egskeiding.  Dit volgens ‘n verslag middel Maart op die stadsregering se webwerf.

In Nieu-Seeland het ‘n prokureur gesê:  “Daargaan ‘n toename wees in paartjies wat wil skei omdat hulle soveel tyd saam deurgebring het…  Die enigste ander tyd waar mense soveel tyd saam deurbring, is met Kersfees of gedurende vakansies, wanneer ons altyd ‘n styging in egskeidingsyfers sien.  Januarie is ‘n goeie tyd vir egskeidingsprokureurs.”

En in Suid-Afrika vier net ongeveer ses uit tien huwelike hul tiende huweliksherdenking.  Egskeidingsprokureurs sê dat daar sedert die inperking ‘n styging in egskeidings was.  Soos een prokureur dit stel:  “Tot dusver het die hoogtepunt ons nog nie bereik nie…  Daar is egter ‘n konstante toename in egskeidingsgetalle as gevolg van die verslegtende ekonomiese klimaat in ons land.  As die geld verdwyn, verdwyn die liefde, of raak dit ten minste baie skaarser.”

En jy?  Hoe gaan dit met jou huwelik?  Vandag?  Ervaar jy dat jou huweliksmaat jou liewer maak vir Jesus? Praat julle oor hoe julle kan groei?  Vra julle waar julle teenoor mekaar sondig?  Vra julle die Gees om julle te oortuig?  Het julle iemand as ‘n paartjie gevind vir wie julle vertrou om saam met julle te stap?  Moenie dink dat julle huwelik naby is aan wat dit moet wees nie.  Deur die genade van God kan dit wees wat dit is, maar die ruimte vir groei in Christus is groot!  Dit is my gebed dat ons in hierdie tyd nader aan Hom groei en nie nader aan egskeiding nie.

Maar eers ‘n paar dinge:

Eerstens, aan die ongetroudes, moenie vir een oomblik dink dat jy nou kan afskakel en dink dat hierdie preek geen toepassing op jou lewe het nie.  Moet dus asseblief nie afskakel voor die Amen nie.  Hierdie boodskap is net so goed vir jou as vir die getroudes in ons midde, want die huwelik gaan nie oor die huwelik nie.  Die huwelik is nie die uiteindelike doel nie.  Nee, die huwelik gaan oor ‘n beeld waarvan ek en jy almal deel is!  Jy is gebore uit die eerste huwelik in Genesis 1 en 2 en as jy in Jesus Christus glo, sal jy ten volle aan die tweede een deelneem.  

Die Skrif begin en eindig met ‘n huwelik.  Die huwelik in die begin was een van gebrokenheid gevul met sonde.  Die huwelik aan die einde is een van skoonheid, reinheid, getrouheid en liefde.  En ons is almal deel van hierdie huweliksverhaal.  Dit gaan oor ‘n bruidegom wat sy bruid agtervolg.  Dit is die verhaal van ‘n bruid en bruidegom op hulle troudag by die see van glas.

Tweedens,  ons ken almal iemand wat geskei is.  Miskien is hulle ‘n familielid, of ‘n vriend, ‘n kerklid. Hierdie boodskap is nie net vir hulle nie; hou op om daaroor te dink hoe hulle dit sal hoor, en hoor dit self.  Ek praat met jou.  Jou lewe in Christus, en hoe dit jou huwelik inlig.

Derdens en laastens,  aan diegene wat geskei is of diepe pyn ervaar.  Hartseer.  Eensaamheid.  Berou.  Ek wil hê dat julle moet weet dat daar ‘n huwelik is wat waar is, wat getrou is, wat op die laaste dag voltrek sal word.  Ek wil hê dat julle moet weet dat daar in Hom vergifnis is vir al die kwaad en sonde wat al ooit gedoen is.  Die oproep tot jou is dieselfde as vir ons almal vandag:  Verneder jouself voor die Here, bekeer jou en draai terug na Hom.  Vind jou toevlug in Hom.  Daar is ook vergifnis hier.  Ek wil hê dat julle moet weet dat julle in Hom veiligheid kan vind.  Jy kan altyd na Jesus vlug.  Jesus is sterk en vriendelik.

Bedoel vir die Huwelik:

  1. Huwelikswette vir ‘n sondige wêreld

  2. Jesus se standaard

  3. Wys op die perfekte huwelik

Huwelikswette vir ‘n sondige wêreld

Daar is ‘n aantal redes waarom egskeidings aan die toeneem is.  Elke laaste een van hulle hou verband met sonde.  Baie daarvan is omdat ons gewoond geraak het aan die kulturele idee van liefde.  Gevorm deur ons rolprente, liedjies, TV en beroemdheidskultuur.  Wat niks anders is nie as ‘n egosentriese selfsugtigheid.  Daardie verhouding gaan alles oor jou en om jou gelukkig te maak.  Dat God jou geluk bo alles wil hê.  Dat die huwelik daar is vir geluk.  Dit is ‘n leuen.

Ja, dit is waar dat ‘n Goddelike huwelik tot geluk sal lei.  Maar net as dit nie die hoofdoel is nie.  Die hoofdoel is God en sy heiligheid.  God het die huwelik gemaak vir heiligheid.  Heiligheid lei tot geluk en bloei van die mens. 

Die huwelik is nie bedoel om aan jou te vertel hoe goed jy is nie, maar om jou meer en meer te wys waar jy aan jouself kan sterf en met Christus opgewek kan word.  Sodat jou huweliksmaat meer en meer lief word vir Jesus wanneer hy jou sien.

Maklike egskeiding is nie uniek tot ons tyd nie.  In werklikheid was die godsdiensleiers in die dae van Jesus berug hiervoor.  Ek vermoed dat hulle ‘n bietjie ongemaklik gevoel het tydens hierdie preek, maar miskien veral tydens hierdie gedeelte, terwyl hulle daar gestaan het met hul tweede, derde, vierde of vyfde vrou.

Luister na wat Hy sê:  “Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar 'n skeibrief gee.”  Hy dink waarskynlik aan die wet van Moses in Deuteronomium 24:1-4, “As 'n man 'n vrou neem, en as sy dan geen guns in sy oë vind nie, omdat hy iets skandeliks aan haar ontdek het, en hy haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur...”

Daar is ‘n skool van rabbi’s wat dit saamgeneem en daarmee op hol gegaan het.  Jy kan hulle dalk die liberales noem.  Dit is die Hillel-skool genoem.  Dit was ‘n oop skandaal gedurende daardie tyd dat die godsdienstige leiers bekend was vir egskeidings.  Die beroemde Rabbi Akiba het gesê dat ‘n man van sy vrou mag skei selfs as hy iemand mooier raakgeloop het.  Hoe modern.  Hoe boos.

Maar sien, Moses het nie egskeiding beveel nie, hy het dit toegelaat.  Ons leef in ‘n sondige wêreld, en tragiese ongelukke gebeur.  ‘n Motor is bedoel om op die pad te ry en nie ongelukke te maak nie, maar dit beteken nie dat die regering nie wette het vir wanneer dit wel gebeur nie.

Die wet in Deuteronomium was ‘n reaksie op menslike mislukking.  ‘n Poging om orde te bring in ‘n reeds gebroke situasie veroorsaak deur die sonde.  Egskeiding moes gewettig word en is nog steeds, maar egskeiding kan nie ‘n hoër etiese status hê as die mindere euwel nie.

Jy sien, hierdie wetgewing waarop die fariseërs in Moses vasgevang is, begin vanuit die perspektief van menslike sondigheid, nie vanuit God se heiligheid nie.  Jesus, in hierdie preek, begin van die teenoorgestelde kant.  Dit is ‘n massiewe hoë, onmoontlike balk vir die mens om te bereik.  In Matthéüs 19, nadat Jesus oor die huwelik geleer het, sê die dissipels: “As die saak van ‘n man met ‘n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie.”  En Jesus sê nie:  O nee, die huwelik is so mooi, jy kan romantiese wandelings maak, dit is salig en romanties, en al die ander leuens wat ‘n mens in die gemiddelde romantiese rolprent kry nie.  Nee, Hy begin praat oor enkellopend wees!

Wat ons doen wanneer ons trou, is meer as om te sê: ek is lief vir jou.  In werklikheid gaan dit minder oor wat ons doen en meer oor wat God doen!  Soos Jesus self sê:  “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (Matt. 19:6)  Die huwelik is meer as ‘n gevoel.  Dit is selfs meer as die beloftes wat jy maak.  Die fondament van die huwelik is GOD wat julle een maak.

Die huwelik in ‘n gebroke wêreld

Maar by dit alles is dit nie te sê dat egskeiding nie kan plaasvind nie. Dit kan en dit gebeur in ‘n sondige wêreld.  Dit is dus nie wat nie kan gebeur nie; Jesus self gee hier ‘n uitsondering, maar wat nie moet gebeur nie.

“Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg.”  Of, met ander woorde, stigmatiseer haar as ‘n egbreekster.  In daardie dae, as jy ‘n geskeide vrou was , is jy gestigmatiseer en op die rand van die samelewing geplaas, en baie moes selfs tot prostitusie oorgaan.  Dit is deesdae nie veel anders nie, want selfs in die kerk word ‘n geskeide vrou tragies gestigmatiseer, selfs meer, durf ek sê, as die mans.  Dit is verkeerd in doe oë van God.

“En elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.”  1 Korintiërs 7:10-11 sê dat “die vrou nie van die man moet skei nie; en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen.” Die Bybel gee ruimte vir egskeiding as die mindere van twee euwels.

Beteken dit dat egbreuk die enigste rede vir egskeiding is?  Nee.  1 Korintiërs gee ‘n ander rede.  Maar die punt hier is dat slegs as die egskeiding weens seksuele sonde was, kan die persoon weer trou.

As daar ‘n egskeiding is op grond van owerspel, mag jy weer trou, maar om enige ander rede moet jy ongetroud bly.  Hoekom?  Want God is in staat om enige huwelik weer te herstel.  Om weer te trou is om die deur toe te maak vir versoening en in God se oë owerspel – ontrouheid aan die verbond wat jy gesluit het.

Volgens Genesis is seksuele getrouheid die hart van die eenwording.  Die heiligheid van die seksuele eenwording is hier op die voorpunt.  Daar is iets diepgaande daaraan dat die twee een vlees word.

Adam sê:  “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.” (Gen. 2:23)  Met ander woorde, die vrou was vroeër deel van die man en in die huwelik word daardie oorspronklike eenheid herstel.  Om dit te breek, sou wees soos om ‘n enkele liggaam te skeur.  Dit is God wat die pleisterwerk gedoen het; dit is nie ‘n menslike uitvinding nie.  Dit is E-Harmonie op sy beste, waar die E staan vir Elohim, die Hebreeuse woord vir God.

Wys op die perfekte huwelik

“Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef.  En hulle sal een vlees wees.  En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.” (Gen. 2:24-25)  Ware liefde.  Saligheid.  Nooit skaamte nie, nooit vrees vir verwerping nie.  Nooit veroordeling nie.  Dit is hoe die huwelik moes wees.  Dit is hoe dit tussen die kerk en Jesus sal wees!  Hy het ons liefgehad toe ons Hom gehaat het, en sy vyande was.  Hy het ons nou lief met al ons gebrokenheid, sonde en skaamte.  En Hy bedek dit.  En Hy sal ons perfek liefhê.  O, dat ons mekaar so sal begin liefhê.

Adam en Eva het God se heerlikheid in skaamte verander.  Soos Genesis sê, hulle was naak en skaam.  Die tweede Adam ontdoen die sondeval en verander ons skaamte in heerlikheid.  En daarom kan Hy hierdie “nuwe gebooie” gee, wat eintlik sy wil vir ons lewens was vanaf die begin.

Jesus stel ‘n uitdaging aan die aanvaarde norm, en Hy sê dat mislukking in die huwelik nie die norm is nie. Want die huwelik is profeties van die laaste huwelik tussen God en sy kerk.  Van julle klop julself op die skouer.  Ek het nie geskei nie.  Dit is goed, maar die huwelik is baie meer as om net iets te verhoed.  As om nie iets te doen nie.  Dit is ‘n beeld van die evangelie.  Dit is ‘n absolute, ewige, selfopofferende verbondsliefde.  Letterlik sterf aan jouself.

Dus, Jesus spreek sterk woorde hier omdat Hy omgee vir ons, wie ons is, en hoe ons as dissipels in die Koninkryk leef.  Hy wil hê dat ons moet weet en wys hoeveel Hy omgee.

Slegs in Hom is daar sekerheid., in Hom is daar die vermoë om lief te hê volgens die verbond, selfs wanneer die gevoel gedreineer is, of wanneer die ander persoon glad nie die lieflike sjarmante man of vrou is met wie jy getroud het nie.

Christus het gely vir ‘n bruid wat weer en weer en weer van Hom weggeloop het agter ander gode aan.  En Hy het haar teruggeneem.  ‘n Bruid wat voortdurend weggelok is en weggeloop het.  Maar Hy roep haar, Hy trek haar terug.  Hy agtervolg haar.  Hy het dit teen die grootste prys vir Homself gedoen.  Die dood.  Hy het daar gehang vir die liefde.  Nie daardie wonderlike gevoel nie, maar ‘n heilige liefde.

Die huwelik sal moeilik wees.  Dit sal ‘n kruis wees.  Maar dit is ‘n beeld van die komende Koninkryk.  Van Christus die Bruidegom wat sy bruid agtervolg.  Huwelike wys ons op die toekomende huwelik, en diegene wat enkellopend is, leef die toekoms in die hede asof hulle reeds met Christus getroud is.  Daarom sal daar geen huwelik in die hemel wees nie.  Ons het nie die beeld nodig nie, ons sal die ware ding ervaar.

Jesus maak alle dinge nuut.  En deur ons terug te wys op die oorspronklike doel van die huwelik, wys hy ons ook op die uiteindelike doel.  As hulle maar net Genesis 2 gehoorsaam het, sou Deuteronomium nie nodig gewees het nie.  En dit is hoekom dit so belangrik is om dit te lees deur die oë van die Man wat praat, wat gekom het om die paradys te herwin!  Om te sterf, sodat ons in Hom kan lewe as die tweede Adam wat die hele lewe, selfs die huwelik,  sou herstel tot die oorspronklike doel!

Ons begin nie in Deuteronomium, soos die mense in Jesus se tyd, nie; ons begin met God se bedoeling.  Nie met sonde nie, maar met heiligheid.  Diegene wat in Gensis1-2 begin, sal enige skeiding van wat God vir altyd saamgevoeg het, as ‘n euwel sien.  Omstandighede kan bewys dat dit die mindere euwel is, maar dit maak dit nie ‘n mindere skending van wat God bedoel het nie.  Hy sê dit is nie waarvoor julle geskape is nie.

Ten slotte:  Vir diegene in gebroke huwelike of wat geskei is,mag hierdie woorde dalk moeilik wees om te hoor.  Want hul ervaring is allesbehalwe mooi.  Maar die rede waarom dit moeilik is om te hoor, is nie omdat hulle nie glo dat die huwelik mooi kan wees nie, maar omdat hulle verlang na ‘n pragtige huwelik!  Want ek en jy verlang daarna dat dit waar is, maar het dit nie so ervaar nie.  Liewe vriend, liewe broer of suster, ek is hier om jou te vertel dit kan nog steeds waar wees vir jou.  Hierdie huwelik is waarvoor jy bedoel is.  Hierdie woorde is waar vir almal hier, getroud of enkellopend!  Want God het die huwelik van alle huwelike beplan vir almal wat in Hom glo.  Vir diegene wat berou het oor hul sondes, ook hul sonde teen God se Woord hier.  In Jesus Christus word die weg geopen!

Liewe gemeente, as jy sukkel en hopeloos voel, moenie wanhoop nie, maar soek hulp!  Moenie tot die laaste oomblik wag nie, anders het jy dalk al besluit op egskeiding.  Almal van ons moet ten minste een ander persoon in hul lewe met wie jy dinge deel en saam bid.  Ons moet mekaar aanspreeklik hou.  Ons het gemeenskap nodig.  Ware familie.  En ʼn ware familie sukkel saam.  Bely saam.  Groei saam.

Ook hier is daar hoop.  God soek na die gebrokenes, die behoeftiges, die egbreker, die sondaar.  God agtervolg vir jou en vir my.  Dit is wat ons is, as ons eerlik is met onsself.  Laat ons nie oordeel oor ander wat veral op hierdie gebied geval het nie, asof ons enigsins beter is nie.  Laat ons saam met hulle stap na die kruis van ons Here, en daar sy liefdevolle woorde hoor.  Jy kan altyd na Jesus vlug.  Jesus, sterk en vriendelik.  Die perfekte Bruidegom wat ons voorberei op die perfekte huwelik!

Amen.