Die HERE bereik sy doel deur ‘n onwillige nasireër

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-09-11
Teks: 
Rigters 16:28-30
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 16:28-30

 

In Simson se lewe, soos ons ‘n kykie daarin kry vanuit die boek Rigters, vind daar karakterontwikkeling plaas.

As hy gebore word, het sy ouers groot verwagtings van sy toekoms.

Gehoorsaam aan die opdrag van die Engel van die HERE, voed hulle hom as ‘n nasireër op.

Egter, soos wat Simson groter word, blyk dat hy self nie baie ernstig oor sy nasireërskap was nie.

As jong volwassene volg hy net sy eie kop.

Hy maak ‘n leeu dood deur sy brute krag.

Maar na ‘n rukkie keer hy bewus na die karkas terug, en toe blyk dat bye daarin ‘n nes gemaak het, haal hy heuning daaruit.

Hy gee ook vir sy ouers, maar sê nie waarvandaan die heuning kom nie.

As nasireër mog hy naamlik nie aan iets wat dood was raak nie, sien die wette op nasireërskap in Numeri 6.

En as dit tog per ongeluk gebeur het, was daar voorskrifte hoe ‘n nasireër homself weer moes reinig.

Simson het egter nie per ongeluk nie, maar doelbewus na die karkas teruggegaan.

Dink ook aan die vars eselskakebeen wat hy opgetel het.

Ook lyk dit of hy as jongman nie werklik ‘n probleem daarmee gehad het om wyn te geniet nie (Rigt 14:10).

En wat nog erger was, die doel waarvoor die Engel van die HERE hom voorbestem het, naamlik om Israel van die Filistyne te verlos, dit het hom ook nie veel getraak nie.

Pleks van dat die Filistyne sy vyande was, het hy homself met hulle verswaer.

 

Tema: Die HERE bereik sy doel deur ‘n onwillige nasireër

 

Tog het die HERE die gebeurtenisse so gelei dat die Filistyne wel sy vyande geword het.

Hy het hom op sy eie bruilof vererg en ‘n klomp Filistyne doodgeslaan.

‘n Tyd later het hy hulle graan en wingerde en olyfbome aan die brand gesteek, soos ons gelees het, deur driehonderd jakkelse te vang en hulle met fakkels in die lande los te laat.

Toe was die gort gaar.

Nadat die Filistyne uit wraak sy skoonfamilie vermoor het, neem Simson weer wraak en slaan die Filistyne lendelam in ‘n groot slag.

Hier sien ons hoe Simson begin ontwikkel as ‘n effektiewe rigter, in lyn met dit waarvoor die Engel van die HERE hom bestem het.

Hy gaan bly in die rotskloof van Etam.

Op hierdie stadium was Simson veral ‘n enkelganger, en hy en die manne van Juda het mekaar nog nie vertrou nie.

God se volk wou eerder ‘n lae profiel handhaaf teenoor die Filistyne, hulle het nie geglo dat die HERE hulle deur hierdie rigter sou kon bevry nie.

Daarom het hulle verkies om Simson te boei en aan die Filistyne oor te lewer.

Simson was bang dat die manne van Juda self hom sou dood, so groot was die wantroue op daardie stadium.

Maar nee, hulle wou hom net geboei aan die Filistyne oorlewer.

So gesê, so gedaan.

Maar toe het die Gees van die HERE oor hom vaardig geword, hy kon die toue afruk asof dit vlas was wat vlamvat.

Die geskiedenis is bekend, hoe hy toe stoksiel alleen 1000 man met ‘n eselskakebeen doodgeslaan het.

Dit lyk of Simson nou floreer in sy rol as nasireër.

Hy begin ook besef dat die HERE se beskerming hom hiertoe in staat gestel het.

Toe hy baie dors raak, het hy erken dat die HERE hom hierdie groot oorwinning gegee het, en hy het hulp van Hom gevra.

God het hom verhoor en water voorsien vir Simson om weer op kragte te kom.

Duidelik sien ons karakterontwikkeling by Simson.

Is dit geloofsgroei?

 

Daar is egter ‘n uitdrukking wat Marten Luther vir ‘n kind van die Here gebruik het, wat soos volg lui:

Simul iustus et peccator.

Dit is Latyn vir: terselfdertyd regverdige en sondaar.

Dit wil sê: op dieselfde oomblik is daar die nuwe mens wat te danke is aan die feit dat die Gees in ons vaardig geword het, maar steeds is daar ook die ou mens in ons.

So sien ons hoe die ou mens weer in Simson die oorhand neem.

Mooi vroue was sy swakpunt.

Toe hy in Gasa ‘n prostituut sien, kon hy die versoeking nie weerstaan nie, en hy het by haar ingegaan.

Ons sien Simson hier op sy kwetsbaarste.

Nie net geestelik nie, maar ook liggaamlik.

Toe die mense van Gasa – dit was ‘n Filistynse stad – te hore kom dat Simson daar is, het hulle hom omsingel en die stadspoorte gesluit.

Simson het tot middernag by die prostituut gelê.

Dit was net genade dat die HERE hom nie verwerp het nie.

Die Gees het weer oor hom vaardig geword.

Hy kon die deur én deurposte van die stadspoort met grendel en al uitruk, op sy skouers sit en dra tot op die top van die berg.

Hierdie keer lees ons nie dat hy die HERE die eer gegee het vir sy ontsnapping nie.

Maar direk daarna vertel die Rigterskrywer dat Simson weer val vir mooi vroue.

Steeds had Simson nie soseer aptyd om met die Filistyne te veg nie, eerder vir hulle vroue.

Hier is dit die eerste keer wat die naam genoem word van die vrou.

Delila.

Meerdere nagte het hy by haar deurgebring.

Delila was nie ‘n Godvresende vrou nie.

Sy was ‘n heidin, sy was ‘n prostituut.

En sy was baie skelm.

Simson het homself weer moedswillig in gevaar begewe.

Duidelik was Delila nie aan Simson se kant nie.

Sy was lojaal aan haar eie mense, die Filistyne, en sy was veral lief vir geld, die groot bedrag wat hulle haar beloof het as sy sy krag kon uitvind.

Waar sy eerste vrou nog onwillig onder die druk toegegee het om Simson se geheime uit hom uit te trek, is Delila vanaf die begin kop in een mus met die Filistyne.

En baie geld is inderdaad aan haar belowe.

Elkeen van die Filistynse vorste beloof om aan haar 1100 sikkel silwer te gee.

Dit is 12,5 kg per vors.

Sê nou maar daar was tien vorste, sou dit meer as 100 kg silwer wees.

In vandag se terme, meer as ‘n miljoen rand.

‘n Astronomiese bedrag vir ‘n prostituut.

Sy het aanhou neul en hom gepers totdat hy so ongeduldig geraak het dat hy kon sterf.

En elke nag wat sy aangehou het, het sy nader aan die waarheid gekom.

Verliefdheid is blind, en as ‘n jongman homself oorgee aan verliefdheid op ‘n ongelowige vrou, verkeer hy in groot gevaar.

Simson het sy hele hart vir haar uitgestort.

Sy nasireërskap, die geheim agter sy groot krag, die feit dat sy hare nie afgeknip mog word nie.

Delila kon aan hom sien dat hy nou die waarheid praat, en hierdie vierde keer was een te veel vir Simson.

En, dit was ook te veel vir die HERE.

 

Nou wonder mens eintlik hoekom Simson die geheim vertel het?

Want dit moes vir Simson duidelik gewees het dat daardie vierde keer hy nie sou vrykom nie.

Hy het bewus ingegee, moed opgegee.

Wel, die teks gee vir ons die antwoord.

In feite drie redes.

Eerstens, hy het haar liefgehad.

Skynbaar was dit by Delila nie net wellus nie, maar ook liefde.

Tweedens, hy was siek en sat vir haar gesanik.

En derdens, en dit is die skokkendste, hy was moeg om ‘n nasireër te wees.

Hy was moeg gestry.

Hy wou soos die ander mense wees (vers 17).

Sy krag het vir hom ‘n las geword.

 

Gemeente, broer, suster, raak die feit dat jy ‘n gesalfde van Christus is, dat jy aan sy kerk behoort, soms vir jou ook ‘n las?

Verlang jy soms om daarvan bevry te word?

Is jy soms moeg gebaklei vir die goeie saak?

Wil jy soms net ‘n rukkie ‘gewoon’ wees, net soos die mense in die wêreld?

Geen sorge, geen verpligtinge, net die genot van die lewe?

Simson het nie meer kans gesien nie.

Die feit dat hy nasireër was, die feit dat hy besonder vir die HERE was, dit het vir hom ‘n las geword, hy wou daarvan ontslae raak.

Soos ek genoem het, hierdie vierde keer was dit ook een te veel vir die HERE.

Simson wat sy nasireërskap so weggooi, dit het die HERE diep gekrenk.

Soms besluit die HERE om sy genade vir ‘n tyd weg te neem van sy kinders hier op aarde, en Hy laat toe dat hulle die gevolge van hulle eie sondes moet proe.

En so beland Israel se rigter in die Filistyne se gevangenis.

Geen krag meer nie, en sy oë uitgesteek.

‘n Absolute nederlaag, nie net vir Simson nie, ook vir die HERE se volk.

Geen karakterontwikkeling nie, terugval tot ‘n dieptepunt.

As daar by ‘n gelowige sprake is van karakterontwikkeling, van geloofsgroei, is dit net genade.

Uit onsself sal ons net agteruit boer, soos Simson.

Simson se rigterskap was op ‘n dieptepunt.

Sy geloof was op ‘n dieptepunt.

Heel Israel was op ‘n dieptepunt.

 

Maar, die HERE se genade was taai.

Daar in die gevangenis het Hy hom nie vergeet nie.

Simson se hare het weer gegroei.

Simson wou nie meer nasireër wees nie, hy wou gewoon wees soos die ander mense.

Maar die HERE het steeds ander planne met sy lewe gehad.

En sy hare wat weer lank geword het, was die uitwendige teken daarvoor.

En in sy hart het die HERE weer die besef laat posvat dat hy nog die steeds die HERE se nasireër was.

En toe, na ‘n lang ruk, die Filistyne ‘n fees hou vir hulle god Dagon, in sy tempel, en hulle Simson as trofee wat hulle buitgemaak het op die vyand, laat haal, het hy besef dat dit nie toevallig kon wees nie.

En dan sien ons hoe Simson weer sy krag vind in die HERE.

Nie dikwels lees ons dat Simson die HERE aangeroep het nie, maar hierdie keer wel.

“Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek my oor een van my twee oë op die Filistyne kan wreek!”

Was dit die regte motief?

In elk geval, die HERE verhoor sy gebed.

Die Gees word weer oor hom vaardig.

Nog een keer gebruik Hy hom as rigter.

Sy laaste aanslag op die vyand was die grootste.

Duisende mense dood hy toe hy die pilare van die tempel omtrek.

En vir ‘n nog belangriker doel gebruik die HERE Simson se dood:

Hy verwoes die tempel van Dagon.

Die afgod waarin die Filistyne hulle krag gevind het.

Waar ons nêrens lees dat die Israeliete die oorhand gekry het oor die Filistyne tydens Simson se rigtertyd nie, kry die HERE nou reg wat hierdie onwillige nasireër nie kon regkry nie.

In een slag sterf die vorste van die Filistyne en nog duisende ander.

Hulle wat kort daarvoor nog gesing het:

Ons god Dagon het “ons vyand en die rinnerweerder van ons land ... in ons hand gegee”.

Hulle en hulle god word onder die puin begrawe.

Vir elke Israeliet was dit nou duidelik:

Waarlik die HERE, Jahweh, Hy is die lewende God, en Hy is ons God!

So bereik die HERE tog sy doel met ‘n onwillige nasireër.

 

Simson se lewe eindig op ‘n hoogtepunt.

Relatief gesproke, ‘n hoogtepunt.

Mens wonder net hoeveel meer hierdie rigter sou kon bereik het, as hy sy nasireërskap gewillig omarm het.

Tot hoeveel groter hoogtes dit sy lewe sou gelei het.

Helaas, hy was ‘n gebrekkige nasireër.

Die volk sou nog eeue moes wag voordat ‘n beter nasireër sy verskyning sou maak.

Maar God se Naam sy geloofd, in Christus Jesus het daardie Nasireër wel gekom.

Hy wat getrou was deur sy hele lewe heen, Hy wat sy roeping gewillig omhels het, Hy wat Homself nie daarteen verset het nie.

En alhoewel sy lewe oënskynlik ook op ‘n dieptepunt geëindig het, met sy dood aan die kruis, het drie dae later geblyk dat dit die grootste oorwinning van alle tye was.

Waar Simson saam met die afgod Dagon se afgodsbeeld onder die puin begrawe is, het Christus nie in die dood gebly nie, maar uit die graf opgestaan.

En met sy heerlike opstanding het Hy die koppe van alle afgode laat rol, meer nog, die meesterbrein agter alle afogde, Satan self, is oorwin en neergevel uit die hemel.

Ons roem in hierdie Rigter, hierdie Nasireër, Hy is ons Leidsman, Hy is ons Bevryder!

 

Maar hier in Rigters 17, eeue voor Jesus se koms, kom die lewe van ‘n omstrede rigter ten einde.

Iustus et peccator, geregverdig maar terselfdertyd sondaar.

En net soos Simson, was God se uitverkore volk ook.

Israel was uitverkies om ‘n heilige volk te wees.

Maar hoeveel het daarvan terreggekom?

Simson het agter vroue aangehoereer, Israel agter die afgode aan.

Toe Simson God daardie een keer te veel gekrenk het, het God toegelaat dat hy in sy vyand se hande beland.

Toe Israel hulle Verbondsgoed aanhou en aanhou krenk het, het God sy eie volk oorgegee in die hande van die vyande, in ballingskap.

Maar toe Simson in sy nood God aanroep, het Hy geluister.

En net so Israel in hulle nood.

 

So is Simson se lewe ‘n spieël van Israel se bestaan.

En gemeente, is dit nie ook waar van ons lewe nie?

Ons is geroep om ‘n heilige volk te wees, soos Petrus skryf:

“julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petr 2:9).

Net soos by Simson, het God ons ook uitgekies om die heilige oorlog te voer, om die afgode te ontmasker, om sy heerlikheid in hierdie wêreld te laat skyn.

Gemeente, omarm ons hierdie roeping?

Vind ons vreugde in die diens aan die HERE?

Of is ons halsstarrig, in die sin dat ons dikwels wens om gewoon te wees, en net van ‘n onbesorgde lewe te geniet soos wat die mense om ons heen in die wêreld doen?

Dien ons God omdat ons nou eenmaal moet as ‘n nasireër, of omdat ons die HERE regtig liefhet?

Feit is dat jy geroep is om geheilig te wees.

Maar blyk dit ook?

Daar is tye dat ons teruggly in sondige begeertes, sondige patrone, wanneer die ou mens in ons die oorhand neem.

Daar is tye wat ons die HERE regtig krenk.

So dikwels blyk daar nog so min van ons regverdiging in Christus.

Maar genadiglik is daar ook tye waar ons ervaar hoe God ons weer uit die moeras van ons eie sondigheid uitlig.

Ek wil dat u daarby stilstaan, in die nabetragting oor hierdie preek, en aan konkrete gebeurtenisse dink waar die HERE jou weer opgetrek het nadat jy afgegly het.

Verwag dit elke keer weer van Hom, ons Here Jesus Christus.

Hy is die volmaakte Nasireër, wat jou weer kan optrek en krag gee om jou nasireërskap te omarm en uit te leef.

Soos ons in Hebreërs 12 lees: Hou “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (vers 2).

Dit is nie altyd maklik om ‘n geheilgde te wees, toegewyd aan jou roeping om in diens van die HERE te lewe nie.

Ons bereik so dikwels nie wat ons veronderstel is om te bereik nie.

Ons kan selfs geïrriteerd raak met die feit dat God ons vir so ‘n tipe lewe uitgekies het.

Maar bly jou oog gefokus hou op die Leidsman en Voleinder van die geloof.

Hy sal jou gee wat jy nodig het om deur hierdie stormagtige lewe te kom, wat dalk vir ander ‘n gemaklike lewe is.

Maar wat vir hulle nie wag nie, wag wel vir jou: Die onverwelklike erekrans van die oorwinning (1 Kor 9:25).

‘n Erekrans was destyds van gevlegte blare en blomme gemaak.

Na ‘n paar dae het dit verwelk.

Maar die erekrans wat vir ons wag, is die ewige lewe, die ewige saligheid, wat nooit sal verwelk nie.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Rigters 15-16

Teks: Rigters 16:28-30

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoekom het Simson se houding teenoor die Filistyne nie by sy opdrag as rigter gepas nie?
  2. Wat beteken die uitdrukking: iustus et peccator? Hoe het dit vir Simson gegeld? Hoe geld dit vir jou?
  3. Waaruit kan ons aflei dat Simson moeg was om ‘n rigter te wees?
  4. Hoekom was Simson se laaste optrede as rigter so ‘n sukses?
  5. Hoe vergelyk Simson en Christus wat betref die uitoefening van hulle nasireërskap.
  6. Voel jy soms om jou amp in diens van Christus neer te lê? Hoekom?
  7. Wat word bedoel met die onverwelkike erekrans wat op ons wag?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 18:13,14

Wet

Ps 6:1,2

Gebed

Skriflesing: Rigters 15-16

Ps 18:15-17

Teks: Rigters 16:28-30

Preek

Ps 68:13,14,16

Gebed

Kollekte

Ps 45:3-6,16

Seën