Die HERE begin sy verlossing deur ‘n onwillige nasireër

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-08-28
Teks: 
Rigters 13:5b
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 13:5b

 

Die Rigtertyd was ‘n tyd waarin God se volk keer op keer afvallig geword het.

Die geskiedenis van Simson begin ook met hierdie konstatering:

“En toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd is in die oë van die HERE ...” (Rigt 13:1)

In sy verbondstrou het Hy sy volk egter nie afgeskryf nie, al mog dit op eerste oogopslag so lyk.

Die skrywer van Rigters maak vir ons duidelik dat die feit dat die Filistyne die oorhand oor hulle gehad het, dat dit van die HERE af gekom het:

“die HERE het hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank.” (vers 1)

Uit die konteks van die hele boek weet ons dat dit hier nie gaan oor ‘n wrede God nie, maar oor ons Verbondsgod, wat ook met hierdie beproewing sy volk se uiteindelike verlossing op die oog gehad het.

In elk geval, dit is die historiese konteks waarin Simson gebore is.

Die HERE laat nie net die Filistyne toe om sy volk te teister nie.

Hy besluit ook wanneer dit genoeg was.

En daarvoor laat hy ‘n kind gebore word uit ‘n onvrugbare egpaar, Simson.

 

Tema: Die HERE begin sy verlossing deur ‘n onwillige nasireër

 

Die HERE het sy Engel gestuur om dit aan Manoag en sy vrou aan te kondig.

Uit sy instruksies word duidelik dat die HERE ‘n spesiale plan met hierdie seun gehad het.

Hy moes ‘n nasireër word.

Wat was dit?

Daarmee word bedoel iemand wat bestem was vir ‘n spesifieke taak, geheilig – in Bybelse taalgebruik – wat wil sê afgesonder om ‘n spesifieke opdrag te vervul.

In die HERE se wet, Numeri 6, lees ons meer oor wat dit was om nasireër te wees.

Enige persoon, ‘n man of vrou, kon ‘n nasireër word.

Dit kon gebeur dat iemand in spesiale omstandighede ‘n gelofte vir die HERE afgelê het, om hom- of haarself vir ‘n spesifieke periode vir ‘n spesifieke taak spesiaal aan die HERE te wy.

In daardie periode het die wet van die nasireërskap dan vir hom of haar gegeld.

Daar was bepaalde instruksies wat ‘n persoon in hierdie periode van nasireërskap moes nakom.

Byvoorbeeld:

Hy mog nie sy hare afsny nie.

Hy mog nie wyn gebruik nie.

Hy mog nie raak aan iets wat dood was nie.

Hierdie bepalings het geduur vir die periode solank sy nasireërskap gegeld het.

 

Nou in Simson se geval was dit nie so dat hy self gekies het om vir ‘n periode van sy lewe ‘n nasireër te wees nie.

God het hom daarvoor uitgekies, al voor sy geboorte.

Hy het hom afgesonder met ‘n spesiale opdrag, en hom ook daarvoor toegerus, naamlik om hom ongelooflik sterk te maak, met die doel om die volk van die Filistyne te bevry.

As nasireër sou hy in diens van hierdie opdrag staan.

So het sy ouers hom dan ook opgevoed, as ‘n nasireër.

Hulle het aan hom vertel wat God se doel was met sy lewe:

Simson, ons was onvrugbaar, en dit was ‘n wonder dat jy toe gebore is.

Die Engel van die HERE het dit aan ons meegedeel.

Nie net dat jy sou kom nie, maar ook wat jou lewensdoel sou wees.

Dit was die Engel se woorde, ons onthou dit nog goed:

“Want kyk, jy sal swanger word en ‘n seun baar, en geen skeermes mag op sy hoof kom nie; want die seun sal van die moederskoot af ‘n nasireër van God wees, en hy sal Israel begin verlos uit die hand van die Filistyne.” (Rigt 13:5)

Manoag en sy vrou het hom toe opgevoed, gehoorsaam en in ooreenstemming met die Engel se opdrag.

Sy hare is nie gesny nie, en hy het nie gedrink nie.

En toe hy groot word, lees ons, het die Gees van die HERE op hom gekom en hom begin aanvuur.

Die Gees het hom, sonder dat hy dit miskien self elke keer besef het, begin aanvuur om dit te begin doen waarvoor God hom bestem het.

 

Dat die Gees hom gedryf het, wil egter nie sê dat hy self so Godvresend was en so nougeset volgens God se gebooie geleef het nie.

Hy het eerder sy eie kop gevolg.

Hy het ‘n Filistynste meisie gesien en halsoorkop op haar verlief geraak.

Hy het sy ouers onder druk geplaas om haar as vrou vir hom te neem.

Onthou, in daardie tyd het die ouers ‘n belangrike rol gespeel in hulle kinders se huwelikskeuse.

Sy pa en ma het hom nog gewaarsku: Hoekom loop soek jy vir jou ‘n vrou by die onbesnedenes?

Is daar nie in God se volk een vrou wat jou geval nie?

Maar Simson was hardkoppig, meer gedryf deur sy hormone as deur die wil van die HERE.

Brutaal het hy sy pa beveel: Neem haar vir my, want sy geval my (vers 3).

 

Opvallend wat die Rigterskrywer dan skryf.

Hy keur nie hierdie gedrag van Simson goed nie.

Dit was heeltemal korrek dat die ouers beswaar gemaak het.

Maar, geïnspireer deur die Gees, besef die skrywer dat hierdie verloop van sake tog van die HERE af gekom het.

Die HERE het as ‘t ware die slagveld voorberei waarop die Filistyne hulle eerste nederlaag sou ly.

 

Ons lees dan hoe die huweliksfees in ‘n nagmerrie ontaard het.

Geen wonder nie, dit was ‘n fees tussen mense wat normaalweg mekaar se vyande was.

Die Filistyne was in hulle eer gekrenk, omdat hulle nie Simson se raaisel kon oplos nie.

Vinnig het die vreugde omgeslaan in wantroue.

Hierdie Simson wil ons net beroof.

Hulle het nog genoeg greep op sy bruid gehad, dat hulle haar kon manipuleer.

En onder die bedreiging dat sy en haar vader se huis verbrand sou word, het hulle haar sover gekry om die raaisel uit haar man te trek.

Toe blyk wat gebeur het, was Simson woedend.

As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle dit nooit geraai het nie.

 

En dan lees ons dat die Gees van die HERE oor Simson vaardig geword het.

Wat word hiermee bedoel?

Die 2020-vertaling vertaal: die Gees het van hom besit geneem.

Duidelik is dat dit wat hy nou gaan doen het, dat dit was wat die HERE wou hê hy moes doen.

Na veertig jaar teistering was die maat vir die HERE vol, en het Hy dit so gelei dat die Filistyne van hieraf begin les opsê het.

Simson het afgegaan na Askelon, in sy brute krag dertig man doodgeslaan, hulle klere en besittings gevat en daarmee dit wat hy beloof het in verband met die raaisel, gegee.

Simson was woedend, hy het net daar en dan weggeloop terug na sy ouers se huis.

En, lees ons, sy vriend – ons sou vandag sê sy ‘best man’, het die bruid gekry.

Inderdaad ‘n huweliksfees wat in ‘n nagmerrie ontaard het.

 

En ook nie verwonderlik nie.

Wat kan jy verwag, as twee mense wil trou uit twee gemeenskappe wat mekaar sy vyande is.

Verliefdheid is nie genoeg vir ‘n geslaagde huwelik nie.

Hierdie huwelik het nie eers twee weke gehou nie.

Simson se eie skuld, kan mens tereg sê.

In die lig van God se wet, en veral as nasireër, moes hy beter geweet het.

Hy kon geweet het dat daar nie ‘n seën op so ‘n verbindtenis kon rus nie.

 

Maar gemeente, sonder om Simson se gedrag enigsins goed te praat, is die Heilige Gees se boodskap met hierdie geskiedenis dat God, ten spyte van sy eie kinders se afvalligheid, tog trou bly.

Met hierdie episode het die ty gekeer, het God ‘n begin gemaak om sy volk van die Filistynse onderdrukking te bevry.

Hierdie dertig man wat Simson doodgeslaan het, was ‘n voorbode vir wat sou volg.

Hierdie syfers sou later net eskaleer, tot op sy laaste lewensdag, toe hy op een dag nog meer Filistyne gedood het as tydens die res van sy lewe.

En nog belangriker, op daardie laaste dag van sy lewe het hy die afgod Dagon en sy tempel te pletter gegooi.

Vir Israel was dit die vernaamste teken: Die HERE troon oor die afgode!

Moenie die afgode vrees nie!

Volg Hom!

 

So het die Gees van die HERE oor Simson vaardig geword.

Dit was wat sy twintig jaar van rigterskap gekenmerk het.

Dat die Gees deur ‘n sondige mens gewerk het.

Sy lewensdoel was om die Filistyne terug te dring, maar veral ook om die almag van Israel se God weer te laat sien aan ‘n afvallige volk.

 

En so sien ons die HERE se genade in hierdie geskiedenis.

Nòg Simson, nòg die volk het verdien om bevry te word van die Filistyne.

Simson het selfs gevry na die Filistyne.

Tog was die HERE genadig.

In ‘n donker tyd het daar ineens lig gekom.

Die HERE het die lot van sy volk begin wend ten goede.

 

Simson was ‘n onvolmaakte nasireër.

Sterker nog, hyself wou glad nie eers ‘n nasireër wees nie.

In hierdie hele geskiedenis lees ons nêrens dat hy vrywillig sy lewensdoel omarm het nie.

Soos ek eerder verwys het na die vereistes vir ‘n nasireër volgens die HERE se wet in Numeri 6, wel, feit is dat Simson hom nie daaraan gesteur het nie.

In hierdie geskiedenis lees ons byvoorbeeld dat hy wyn gedrink het (Rigt 14:10 – die woord maaltyd in die Hebreeus het die drink van wyn geïmpliseer).

Ons lees ook hoe hy aan ‘n karkas gevat het – dink aan die dooie leeu (Rigt 14:8-9) en die vars eselskakebeen (Rigt 15:15) – dinge wat hy as nasireër nie veronderstel was om te doen nie.

En, soos later sou blyk, was hy ook daarvoor verantwoordelik dat sy hare afgesny is.

Dus om saam te vat, alhoewel Simson voorbestem was om nasireër te wees, wou hy dit self nie wees nie.

Dit het hom niks getraak nie.

God het hom daarvoor uitgekies, maar hy het nie saamgestem nie.

Hy wou sy eie lewe lei.

Soos genoem, die uiterlike tekens van ‘n nasireër, daarmee was hy nie ernstig nie.

 

Tog het God met ‘n krom stok ‘n regte hou geslaan.

Soos die tema sê: Die HERE begin sy verlossing deur ‘n onwillige nasireër.

Simson was ‘n flou afskaduwing van die Nasireër wat God eeue later sou stuur.

Jesus Christus.

Hy was ook deur God daartoe voorbestem.

Maar Hy het nie daarteen geskop nie, Hy het sy lewensdoel gehoorsaam en vrywillig omarm.

En in teenstelling tot Simson, was Hy sonder sonde.

Deur Hom sou God verlossing bring, nie net tydelik uit die greep van die Filistyne nie, maar finaal uit die greep van Satan.

 

Gemeente, dit is nie maklik om die geskiedenis van Simson op vandag toe te pas nie.

Tog is daar een voordeel in Simson se geval.

‘n Prediker sal nie gou Simson as morele voorbeeld aan sy gemeente voorhou nie.

By Bybelfigure soos Josua of Samuel of Dawid kan mens jou voorstel dat hulle as morele voorbeelde vir vandag gebruik kan word.

Wees net so gelowig as Josua!

Wees net so dapper as Dawid!

Wees net so gehoorsaam as Samuel!

Maar gemeente, so ‘n toepassing is nie korrek nie.

Want die Skrif leer ons nie om mense na te volg nie, ook die allerheiligstes se lewens is met sonde bevlek.

Maar goed, in Simson se geval is dit dus eenvoudig wat dit betref.

‘n Prediker sal nie sommer sy gemeente oproep om soos Simson te lewe nie.

Want dit is nie goed om ‘n ongelowige meisie as vrou te neem nie.

Dit is nie goed om prostitute te besoek nie.

Dit is nie goed om jou humeur te verloor as jy ‘n weddenskap verloor nie.

 

So ja, ‘n morele voorbeeld was Simson inderdaad nie.

Oor die algemeen was Simson se lewe verre van onbesproke.

En hoewel hy een van die rigters was, staan daar nêrens ‘n voorbeeld in die Bybel dat hy reggespreek het nie.

In dit wat oor hom geskryf is, kom hy ook nie werklik oor as ‘n wyse man nie.

Hy was iemand wat lief was vir mooi vroue, nie daardie versoeking kon weerstaan nie.

Hy was iemand wat humeurig was, wat wraak geneem het op die vyande.

Al was hy ‘n nasireër met ongekende krag, was hy terselfdertyd ‘n swakkeling.

Hy was sowel heilig as sondig.

Tog maak die Skrif duidelik dat God hierdie sondige man gebruik het om Israel van die Filistyne te bevry.

 

Toe ek nagedink het oor hoe om hierdie geskiedenis op vandag toe te pas, het my gedagtes gekom op ‘n persoon soos Donald Trump.

Ook so ‘n tipe figuur wat nie ‘n man van een vrou is nie, iemand wat humeurig is, wispelturig, impulsief, in elk geval nie ‘n wyse leier van die volk nie.

Godsdienstig ook nie standvastig nie.

Mens kry die indruk dat hy godsdiens veral gebruik om stemme te werf.

Tog was hy ook ‘n instrument in God se hand.

God het dit so gelei dat in sy regeringstyd drie nuwe hoofregters in Amerika aangestel kon word, wat Christene is.

En hulle het op hulle beurt daardie posisie gebruik om die verskriklike wet uit die jare sewentig op te hef, naamlik dat dit elke vrou se grondwetlike reg is om aborsie te pleeg.

Hierdie onlangse hooggeregshofuitspraak baan nou die weg vir individuele state om aborsie uit hulle gebiede te verban.

Natuurlik is ons bede dat hiermee ‘n proses van kentering op gang mag kom, sodat steeds meer mense en steeds meer state mag begin insien hoe afskuwelik aborsie is.

Trump was self vroeër nie gekant teen aborsie nie, maar waarskynlik uit politieke motiewe het hy sy standpunt verander.

Maar Trump, hoewel sondig en hoewel hy uit eie belang gehandel het, was tog ‘n instrument in God se hand.

En so word Simson ook beskryf in God se Woord.

Die feit dat hy die Filistyne verslaan het, was nou nie in die eerste plek om iets vir God te doen nie, maar was uit wraak omdat hulle met sy kalf geploeg het.

En die sondige dinge wat hy daarna gedoen het, pleit nou ook nie eintlik vir ‘n onbesproke karakter nie.

 

Maar desnieteenstaande Simson se oënskynlik oppervlakkige geloof, en by tye verkeerde motiewe, mag ons leer uit hierdie geskiedenis dat God in beheer bly, en dat Hy sy kinders nie vergeet nie.

Die Rigtertyd was ‘n dieptepunt vir die Ou Testamentiese kerk.

En al het die HERE strawwe oor sy volk gebring – dink aan die onderdrukking deur die Filistyne – tog het Hy sy volk nie verdelg nie.

Toe hulle in hulle nood na Hom geskreeu het, was Hy vinnig om te help.

Simson, hoewel ‘n onwillige nasireër, was wel ‘n instrument in sy hand.

Hy het vir Simson die krag gegee om die bekke van leeus toe te stop, soos ons in Hebreërs 11 kan lees (Hebr 11:32-34).

 

Vandag beweeg die kerk, veral in die Westerse wêreld, al meer na ‘n dieptepunt.

Selfs onchristelike lande, dink aan China en Japan, skud hulle koppe oor die losbandigheid van die Weste.

Selfs wat vir die heidenvolke aanstootgewend is, word in die Weste gewoon gevind.

Dink aan die hedendaagse verheerliking van homoseksualiteit in Westerse lande.

Daarom moet ons bid, net soos die gelowiges van die Ou Testament:

HERE, gryp tog in.

Wil U ‘n keerpunt bring in hierdie neerwaartse spiraal van sekularisasie, ontkerkliking, losbandigheid, hedonisme.

En wil u ons, u kinders, daarvoor bewaar.

Dat ons wel die nugtere Bybelse perspektief op dinge sal bly vashou.

Dat ons ons nie sal laat intimideer deur die afgode, of dit nou Dagon is of die moderne afgode van vandag nie.

In Christus Jesus het  God ons ‘n gewillige Nasireër geskenk.

Laat ons agter Hom aangaan om die goeie stryd te stry.

In Hom is die verlossing alreeds verseker!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Rigters 13-14

Teks: Rigters 13:5b

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Noem ‘n paar vereistes waaraan ‘n Nasireër homself moes hou.
  2. Hoe het Simson homself gedra teenoor sy ouers?
  3. Hoe het Simson self teenoor sy nasireërskap gestaan?
  4. Noem voorbeelde hoe hy die bepalings ten opsigte van die nasireërskap oortree het.
  5. Noem die ooreenkomste en verskille tussen Simson en die Here Jesus Christus se nasireërskap.
  6. Wat wil die Heilige Gees ons leer met die geskiedenis van Simson?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 3:1,2

Wet

Ps 94:11,12

Gebed

Skriflesing: Rigters 13-14

Ps 76:3-6

Teks: Rigters 13:5b

Preek

Ps 35:1,4

Gebed

Kollekte

Ps 75:2,4,5,6

Seën