Christus het opgevaar na die hemel tot voordeel van syne

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-04-03
Teks: 
Heidelbergse Kategismus - Sondag 18
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Ons belydenis aangaande ons Here Jesus Christus se hemelvaart is op grond van God se openbaring in die Skrif. Christus het as God en mens opgevaar na die hemel tot voordeel van sy kerk. Dit doen anders as by Rome reg aan die twee nature van Jesus Christus, sy goddelike en menslike natuur.

Ons belydenis van Christus is nie gebaseer op een besondere Skrifgedeelte nie, maar op ‘n aantal teksgedeeltes. Ons deurdink wat God in verskillende teksgedeeltes geopenbaar het aangaande Christus se hemelvaart in terme van ‘n heilshistoriese gebeurtenis. Dit doen reg aan die eenheid en voortgang van God se heilswerk van die begin tot die einde. Dit doen reg aan die voortgang van die werk van Christus vanaf sy opstanding tot sy wederkoms.

So bely is die hemelvaart van Christus ook nie maar net ‘n historiese feit nie, van wat Hy eenmaal gedoen het en wat eenmaal gebeur het, maar is Hy persoonlik in die wereld en met die wereld en in ons lewens en met ons besig, lei Hy alles, lei Hy ons na die laaste dag toe.

Ons belydenis begelei ons om ons Drie-enige God helder te sien in sy weg en werk van Christus se hemelvaart sodat ons Christus op ‘n persoonlike wyse, van naby kan aanbid en vrye toegang het tot ons hemelse Vader.

Ons tema:

Christus het opgevaar na die hemel tot voordeel van syne
    Christus het werklik opgevaar in die hemel
    Christus is met sy mensheid in die hemel, en met sy godheid in die hemel en op aarde
    Die omvang van die voordeel van Christus se hemelvaart

Christus het werklik na die hemel opgevaar

Ons glo en bely dit op grond van die oog- en oorgetuienis van die dissipels.

Christus het voor die oë van sy dissipels opgevaar, liggaamlik.

Maar hulle en ons moet glo dat Hy opgevaar het na die hemel. Want Hy is in ‘n wolk van hulle weggeneem.

Daarom was daar vir hulle versekering van die twee engele toe Jesus in ‘n wolk op die Olyfberg weggeneem is, om hulle en ons geloof te versterk, Handelinge 1:10, 11: Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

Hulle moes glo op grond van hierdie Woord dat Jesus verhoog is tot by sy Vader. En dat Hy in heerlikheid by sy Vader is en aan sy regterhand vanwaar Hy alles regeer, Efésiërs 1:20,21. En dat Hy in heerlikheid sal terugkeer net soos wat Hy weggevaar het in die wolk.

Jesus Christus het in sy onderrig aan sy dissipels voor sy hemelvaart hulle belowe: Ek gaan om vir julle plek voor te berei, Johannes 14:2.

Sy hemelvaart mag ons sê, is die groot keerpunt in die geskiedenis van hemel en aarde. ‘n Heilshistoriese keerpunt wat die wêreldgeskiedenis en die kerkgeskiedenis stuur. In Christus word alles in hemel en op aarde, die hele skepping verenig, Efésiërs 1:10. So ook Kolossense 1:20. God versoen alles met Hom.

Ons lees Christus se hemelvaart begin die dag van sy opstanding.  Aan Maria Magdalena het Hy na sy opstanding gesê: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God. 

Hy was vanaf sy opstanding nog 40 dae op aarde. Waarin Hy aan sy dissipels verskyn het. Hy het Homself openbaar aan hulle as sy oog en oor getuies sodat hulle oortuig kon wees van sy opstanding. Daarmee saam het Hy hulle geleer aangaande die Koninkryk van God, Handelinge. 1:3. Hy het aan hulle verskyn in terme van die vervulling van die Skrifte, nou as oorwinnaar oor satan, sonde, dood, as die erfgenaam van lewe wat die Vader gee. Hy het opgestaan, God het Hom laat opstaan uit die dood, Hy moet gaan om sy hemeltroon te bestyg.

Die geskiedenis van hemel en aarde is verbind. God het dit so geskep. Die Here se woonplek en die woonplek van die mens, van die begin af was daar afstand. Met die belofte van die ewige lewe aan God se kinders word die afstand tussen hemel en aarde weggeneem.

Jesus Christus is die tweede Adam wat die sonde deur die gehoorsaamheid aan sy Vader weggeneem het, satan oorwin het. Hy is middelaar, bedienaar van God se verbondsbeloftes.

Dit het Hy gedoen deur sy lyding en kruis.

Hierdie Seun van die Mens het die ewige lewe ontvang. Daarom het Hy liggaamlik opgevaar en word Hy opgeneem in die hemel. So word Jesus ons voorloper, mens van vlees en bloed wat eerste na sy dood die hemel binnegegaan het. Hy is daar vir ons voordeel. Johannes 16:7, Efésiërs 2:6,7 Ons is saam met Hom opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. 

Daarom is daar nie meer ‘n verhindering vir ons na God toe nie. En nou gaan dit vir ons oor ons lewe nou, vandag op aarde. Ons sonde is reeds deur Christus versoen, ons verhouding met God volkome herstel. Ons mag nou lewe vanuit die wete dat Christus vandag en elke dag ons Voorspraak by God is.

Christus is met sy mensheid in die hemel en met sy godheid in die hemel en op aarde

Christus is wat sy menslike natuur betref in die hemel, wat sy Godheid betref is Hy in die hemel en ook op die aarde en gaan Hy nooit van ons weg nie. Hy werk in die hemel vir die aarde. Maar Hy werk nou op die aarde vanuit sy godheid deur sy Gees en met sy Woord. Dit is so omdat sy godheid en mensheid nie van mekaar geskei is nie.

So is die opgevaarde Jesus Christus by ons en word reggedoen aan die eer wat Hom toekom.

Die Roomse kerk het egter ‘n verdraaide beskouing van Christus se twee nature. Die brood van die nagmaal of by Rome die mis, verander vir hulle in die ware liggaam van Christus en die wyn in sy ware bloed. So kom Hy so naby dat sy liggam geeet en sy bloed gedrink word.

Die Lutherane weer leer dat die Here liggaamlik teenwoordig is in die gemeente onder die tekens van brood en wyn. Die brood en wyn verander nie, maar die Here is wel liggaamlik aanwesig. Maar dit sou beteken dat die Heiland by sy hemelvaart in die hemel maar ook op aarde liggaamlik teenwoordig moet wees. Ook by hulle kom die Heer baie naby die gelowiges want hy is liggaamlik, peroonlik op aarde.

Maar teenoor hierdie dwalings stel die gereformeerde belydenis dat die Here Jesus Christus liggaamlik in die hemel is, dit beteken dat Hy liggaamlik slegs in die hemel is. Hy het opgevaar na die hemel en dit was in sy regte menslike liggaam. Hy het liggaamlik van die aarde opgevaar. Hy is nie liggaamlik in die hemel en ook op die aarde nie. Hy is liggaamlik alleen in die hemel. Maar die Roomse en Lutherse kerkgemeenskappe het dit ontken in terme van hulle mis en nagmaal. Indien hy liggaamlik op aarde was sou dit tog beteken dat Hy nie liggaamlik in die hemel is nie. Volgens Rome verander die brood en die wyn in die liggaam en bloed van die Here Christus. Maar wat is daar voor hulle oë? Dit is die brood en die wyn. Vir die Lutherane is die Here Christus teenwoordig liggaamlik, maar jy kan hom nie sien nie, jy kan nie sy teenwoordigheid bewys nie, soos Maria Magdalena sy voete gryp nie, jy kan nie sy stem hoor soos die dissipels nie. Wat voor die gemeente se oë is, waaraan hulle kan raak en van kan eet, is die gewone brood en wyn.

Gereformeerdes bely op grond van die Skrif dat volgens sy goddelikheid , majesteit, genade en Gees is Christus nooit afwesig van ons nie. Maar met sy menslike liggaam is Hy in die hemel.

En dit is ons tot troos. Die Seun van die Mens het die aarde verlaat en werklik na die hemel opgevaar. Van die vernedering na die verhoging op God se troon in die hemel. 
Hy het sy dissipels vroeer meegedeel dat hy nie met hulle onbepaald sal wees nie. Hy het, toe die vrou sy voete gesalf het, aan hulle verduidelik dat hulle altyd die armes by hulle sal hê, maar nie vir hom nie. Dit sal wel tot hulle voordeel wees, want gemeente luister goed: Hy sal sy Gees as Voorspraak vir hulle na hulle toe stuur.

Die bruid, Christus se kerk, verlang sterk na die dag wanneer hy in sy liggaamlike heerlikheid na sy bruid toe kom. Die Gees en die Bruid sê: Kom Here Jesus. Dit trek ons na die toekoms met Hom.

Maar ons het vandag reeds gemeenskap met Hom en mag deel in al die skatte wat Hy vir ons verkry het. Christus het in menslike liggaamlik die hemel ingegaan en bewys dat sy offer voldoende was sodat God die mense met Homself versoen. Ongehoorsame, opstandige kinders mag nou as vrug daarvan dat Jesus Christus die menslike natuur aangeneem het, en as mens vir die mense se sonde gely het, weer in die huis van hulle hemelse Vader kom.

Dat aan Jesus Christus gegee is om uit die graf op te staan, terug te keer uit die dood, is belangrik en goddelike seël op sy vleeswording en kruisoffer. Hy kon die huis van sy Vader binnegaan. Om oor alles in hemel en op aarde te wees. 

Dit is tot voordeel van Hom. 

Maar dit is ook tot voordeel van ons, sy kerk. Ons bly nie wees agter nie.
Want toe hy die hemel binnegegaan het, het ons plek in die hemel saam met Hom ontvang, nou mag ons altyd in die teenwoordigheid van God lewe. Van Hom kan ons nie geskei word nie, selfs nie deur die dood nie. Want alhoewel Hy na die Vader gegaan het, is sover sy goddelikheid aangaan, en sy majesteit, sy genade en Gees, is Hy altyd by ons.

Die dissipels was in sekere sin bevoorreg.  Hy was so lank met hulle en het hulle self onderrig. Maar Hy is net so naby aan ons deur sy Gees en Woord. 

Nou mag ons bid en uitsien na sy terugkeer en verskyning as die Hoof van alle dinge. Hy is met ons, altyd na sy godheid. Tot die einde van die wereld.

Hy kom terug aarde toe wanneer die geskiedenis in God se raad sy doel bereik het, wanneer die einde van die tyd daar is, die aarde sy vervulling bereik het, wanneeer die getal van die kerk en die uitverkorenes vol is. Dan sal Jesus Christus in sy heerlike verskyning deur almal gesien word.

Ons Saligmaker is ware mens, ons hoëpriester wat deur die hemele deurgegaan het. Hy is in elke opsig soos sy broers. Hy is nie ‘n vreemdeling nie. Hy is in elke opsig soos ons versoek. Hy het met ons swakhede medelye. Maar Hy is sonder sonde. Hy vertroos ons.

Hy is wel bo ons. Hy staan in sy ontferming en barmhartigheid ook teenoor ons. Daarom kan Hy ons help. Hy is ons Here en ons God. Hy is Jesus die Seun van God. Maar toe die seun van God, ware mens geword het, gebore uit die maagd Maria, het hy gekom op ons vlak, het Hy gekom in ons geskiedenis, gebuig onder God se gesag soos ons in gehoorsaamheid aan sy Vader.

Hy het nie ons geskiedenis verlaat toe Hy opgevaar het nie. Na sy menslike natuur is Hy nie meer met ons op aarde nie. Maar tog bly Hy ‘n ware mens. Hy het nie ‘n vreemdeling geword nie. Hy ken ons nood. Hy het steeds medelye met ons.

Met sy godheid, majesteit, genade en Gees is Hy altyd by ons. Hy is en bly wat Hy altyd was, ware en ewige God. Hy is Middelaar van God se nuwe verbond met ons. Hy lei ons persoonlike geskiedenis. Hy lei die kerkgeskiedenis. Hy lei die wêreldgeskiedenis ter wille van sy weg met sy kerk. Ons geskiedenis is gegrond op sy geskiedenis met ons.

Dit kom van Christus se oorwinningstog met die evangelie. Van Jerusalem na Rome en verder. Lees Handelinge hiervoor. Elke Sondag kom Christus se vergaderde kerk bymekaar met perspektief op die ewige lewe met Hom.

Hy laat sy kinders volhard in die geloof. Selfs in versoeking en beproewing. Hulle het krag en vrede op grond van die versoening deur Jesus Christus.

Die omvang van die voordeel van Christus se hemelvaart

Jesus Christus is in die hemel ons voorspraak. Hoe groot is God se liefde en omvattende sorg.

Hy pleit vir ons, vir my en jou by sy Vader en ons Vader op grond van ons geloof in Hom. 

Hy doen die werk van ‘n advokaat of Voorspraak. Hy doen ‘n goeie woord vir ons. Dit is nie maar ‘n goeie woord uit hoflikheid nie. Op aarde kan die saak nog enige kant toe gaan. Maar sy woord in die hemel lei tot ons onskuldig bevinding.

Wanneer Christus vir ons pleit het Hy reg om deur sy Vader aangehoor te word. Op grond van wat Hy is en wat Hy verdien het. Deur sy lyding en sterwe, sy neerdaling na die hel, sy opstanding en hemelvaart staan Hy met sy geregtigheid en heiligheid en volharding vir ons in. Deur die geloof is Hy ons geregtigheid en heiligheid en volharding voor God. 1 Johannes 2:1,2  My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. 

Wanneer ek tot die Vader bid in Christus se naam, gee Christus dit as versoek deur wat nooit deur Vader geweier sal word nie. Ek bid om vergewing van sonde. Dan wil die Here ter wille van Christus se werk nie langer toornig bly nie. Christus se saak staan vas: Vader U het U toorn teen die mense se sonde teen My gestil. U kan daarom nie langer U kind dit toereken nie. Neem sy skuldbelydenis in genade aan. Want ek het sy skuld betaal.

Voel ek van God verlate, bid ek moontlik met groot moeite. Maar ek mag weet God laat my nooit alleen nie. Want Jesus Christus gee my hulpgeroep en versugting aan Vader deur: Vader bly by U kind. Verlaat Hom nie. U het My verlaat sodat hy nooit deur U verlaat sal word nie.

Christus gaan my voor om te bid dat Vader my bewaar in die geloof in sy Naam, wat Christus self op aarde verkondig het, Johannes 17. Sodat Vader verheerlik word deur my.

Vader wys ter wille van Christus, ons Advokaat of Voorspraak, ons gebede nooit af nie.

Christus, ons Voorspraak het ‘n heerlike plek in die hemel. Satan die aanklaer van God se kinders is uit die hemel gewerp. Openbaring 12. In Christus en sy werk vir ons in die hemel, is ons geborge. Christus weet soos niemand anders wat die beste vir ons is. Met ons moeites, ons siektes, ons swakhede, ons worstelinge, ons versoekings. Ons menslike natuur in die hemel in Christus is ‘n betroubare waarborg dat Hy ons na Hom toe sal neem

Maar Hy is ook nie net vir my of vir sommige ‘n voorspraak nie, Hy is dit vir sy kerk wanneer die gemeente bid om vergifnis van sonde.

Heerlik is die gebed wat Jesus gebid het in Johannes 17:24: Ek wil dat waar Ek is die gelowiges ook sal wees. Christus wil dat ons by Hom sal wees. Dit is sy verlange. Hy sien daarheen uit. In Christus het ons ons vlees in die hemel tot onderpand, tot waarborg dat Hy as Hoof, ons sy lede ook na Hom toe sal neem.

Die Here het ons vlees meegeneem. Dit is nie iets minderwaardigs nie. Ons liggaam en alles wat met die liggaamlike verband hou is nie minderwaardig nie. Christus keer as egte mens na die hemel terug. Hy hoef dit nie af te lê nie. Die sonde en die sondige natuur is minderwaardig. Maar ons moenie ons liggaam en die liggaamlike dinge minderwaardig ag nie.

Christus het nie sy liggaam op aarde agtergelaat nie. Hy het die sonde en die oordeel en die dood agtergelaat. Ons mag ons lewe in die liggaam voluit lewe. Maar dan altyd as mense wat nie meer onder heerskappy van die sonde staan nie, maar onder heerskappy van Christus.

Hierdie lewe in die liggaam is nie alles nie. God en sy Seun is alles. Want omdat Christus ons vlees meeneem na die hemel sal ons ook kom waar Hy is. Ons kan dit moeilik indink. Daar is die broosheid van die liggaam, die aftakeling in siekwees en ouderdom. Ons is swak. 

Maar Jesus se gebed was: Vader Ek wil dat waar ek is, ook hulle sal wees. Hy sien uit daarna. Hy wil ons by Hom hê. Hy wil dat ons in sy heerlikheid deel.

Christus laat ons nog op aarde leef en werk. Daar is veel vernedering, moeite, die gebrokenheid van die lewe. Ons sien uit, Christus sien ook uit dat ons in die hemel met Hom sal wees. Ons is verseker dat dit sover sal kom. Omdat Christus dit vir ons verdien het.

Die liggaam van Christus is ons onderpand. Dit is bewys of waarborg van wat vir seker sal plaasvind. Hy gee Homself as onderpand in die hemel aan ons: dus Hy gee Homself as waarborg dat Hy in sy trou aan syne sal dink. Hulle sal sekerlik deel in sy heerlikheid.

Maar Christus doen nog veel meer. Hy stuur ook sy Heilige Gees as waarborg na ons toe.

Christus is nie net ons waarborg in die hemel nie. Hy gee ook sy Gees as waarborg aan ons. Hy stuur sy Gees. En deur die krag van die Gees soek ons na wat bo is. Kolossense 3. Dit is nie wêreldmyding nie. Veragting van die liggaamlike en materiële nie. Hy het nie gebid dat sy Vader ons uit die wêreld wegneem nie, 17:15.

Voorlopig hou die Vader ons hier. In ons werk. In ons gesin. Met alle vreugdes en moeites. Jesus bid in dit alles sy Vader om bewaring van die gevare wat ons bedreig.

Ter wille van die bewaring kry ons as waarborg Sy Gees. Die Heilige Gees werk die geloof in ons. Hy hou die geloof in stand en bewaar ons daarin. Hy laat ons soek wat daarbo is.

Die waarborg, die geloof wat die Gees skenk maak dit moontlik dat ons die dinge wat daarbo is, soek en die saligheid ontvang. Sodat ons Christus soek. Want van Hom ontvang ons alles in sy Woord deur die Heilige Gees.

So verval die teenstelling en afstand tussen hemel en aarde steeds. So geskied die wil van die Vader op die aarde soos in die hemel.

Elke opregte gebed in Jesus naam word verhoor. Daarin kom die Heilige Gees ons te hulp. Die gawe van die Heilige Gees is ‘n waarborg. Die een waarborg is ons vlees wat Christus liggaamlik meeneem na die hemel. Die ander waarborg is die Heilige Gees (wat die Gees van Christus is). Gemeente, ons mag daarom getroos lewe en sterwe, altyd verlangend om met Hom te leef en vir Hom te leef, altyd verlangend na Christus se weerkoms. Ons is nie wees agtergelaat deur God nie. Ons blydskap as kinders van Vader se huis, deur Jesus Christus se beloftes aan ons, is groot, reeds vandag.

Amen

Liturgie: 

Votum:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet:
Gemeente genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen
Psalm 97:1,4

Wet
Psalm 36:2

Gebed

Skriflesing:
   Johannes 14:1-7
   Johannes 16
   Hebreërs 4:14-16

Skrifberyming 11: 1-6

Heidelbergse Kategismus Sondag 18

Preek

Amenlied:
Psalm 47:1,2,3

Gebed

Kollekte

Psalm 47:4

Seën:
   Die Here sal julle seën en julle behoed
   Die Here sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees
   Die Here sal sy aangesig oor julle verhef en aan julle vrede gee.
Sing Amen