Die onderstebo koninkrykslewe van ‘n dissipel is moontlik gemaak deur die Meester

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-09-15
Teks: 
Mattheus 5: 1 - 4
Verwysing: 
Saligsprekings
Preek Inhoud: 

Die Koninkryk van die Hemele het na die aarde gekom in die persoon van Jesus, maar is dit nou vir jou 'n onderstebo koninkryk – ten minste, vanuit 'n wêreldse perspektief.  Die armes kry koninkryke as hul erfenis, die hongeres word versadig, die sagmoediges beërwe die aarde.

Die Bergpredikasie begin met die saligsprekinge – agt stellings wat begin met die woord “salig”.  Hierdie woord bevestig 'n toestand van seën wat reeds bestaan.  En dit beteken nie geseënd in ‘n Geestelike sin nie, maar wel in die sin van dat dit benydenswaardig is.  Elke saligspreking verklaar dat 'n groep mense wat gewoonlik as ellendig beskou word, eintlik geseënd is.  Diegene wat geseën word, hoef niks te doen om hierdie seën te verkry nie.  Jesus verklaar eenvoudig dat hulle reeds geseën is.  Dit is verklarings van God se genade.

Dit beskryf dissipels.  Hulle is arm, honger, huilende, mans; hulle word gehaat en vervolg. Tog word hierdie honger, geween en vervolging verander in 'n belofte wanneer daar vanuit die oë van die koninkryk van die hemele daarna gekyk word.

Dit het die weg gebaan vir 'n nuwe beeld van die wêreld, waar die hart suiwer is, waar opregtheid nie uitwendig is nie maar inwendig, waar gehoorsaamheid vloei uit liefde – nie uit vrees nie.

Dit verteenwoordig die ware en praktiese situasie van die gelowige in die wêreld.  Paulus vang dit goed vas wanneer hy sy eie lewe as Christus-volgeling in die wêreld beskryf in 2 Korintiërs 4:8-9: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”  Het jy al by tye so gevoel?  Ek het in 'n mate.  Natuurlik nie in die mate van Paulus nie, maar in 'n sekere mate kan ons identifiseer met hierdie woorde.

Of soos in 2 Korintiërs 6:8-10 staan: “deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig; as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie; as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.”  Hy beskou homself as die laaste van almal.  Onder die doodsvonnis, haweloos, verag, vervolg – en tog het hy eindelose vreugde.  Hy ervaar in werklikheid dit wat die saligsprekinge sê – die verbondenheid van die kruis en die opstanding.  Lyding en heerlikheid.  Die opstanding skyn deur in die verhaal van lyding en dood. En dit bring vreugde, en ‘n saligheid groter as dié van wat op die paaie van die wêreld wandel.

Die onderstebo koninkrykslewe van ‘n dissipel is moontlik gemaak deur die Meester:

1. Die lewe van Christelike dissipelskap in die lewe van Christus

2. Salig is die wat arm van gees is

3. Salig is die wat treur

 

Die lewe van Christelike dissipelskap in die lewe van Christus

Enigiemand wat hierdie saligsprekinge lees, sal gou besef dat hulle 'n biografie oor die lewe van die Verlosser aan ons voorhou.  Hy het geen plek gehad om sy kop neer te lê nie.  Met ander woorde, Hy is regtig arm.  Hy ween oor sy vriend Lasarus, hy weet wat dit is om te treur in die aangesig van die dood.  Hy sê: "Kom na my toe, want ek is sagmoedig en nederig van hart." (Matt. 11:29)   Met ander woorde: Ek is sagmoedig.

Ek weet ek het dit verlede week ook gesê, maar dit is belangrik genoeg om dit te herhaal, veral vir diegene wat nie hier was nie.

Wanneer ons dit lees, kan ons nooit hierdie woorde skei van die Man wat dit sê nie.  Deur dit te doen, sou ons ‘n pragtige moralistiese preek hou – maar ons sou nie die Evangelie of Christus of selfs die Christendom preek nie.  Jy sal dalk daarvan hou, maar dit sal jou net meer skuldig laat voel dat jy nie daaraan voldoen nie, of jou eie-geregtigheid, dat jy dit amper gemaak het.

Nee, hierdie preek gaan oor Jesus.

En hoe meer die dissipel homself in die diens aan Christus toewy, hoe meer konkreet en werklik word hierdie woorde.  Hoe duideliker sal jou lewe skyn met die lig van Christus.

Dit is werklik.  Aards.  Die lewe van die dissipel is ondergedompel in die gemeenskap met Christus, of soos Paulus sê (Gal 2:20): “… en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.  En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”  Dit gaan dus oor die daaglikse lewe in Christus.  Ons moet dit gedurende die hele preek in gedagte hou as ons dit reg wil verstaan.  Hierdie woorde bring die kruis en die opstanding in ons lewens.  Dit word ervaar in 'n geheimsinnige vreugde van iemand wat die antwoord op die raaisel van die lewe ken.

Met dit in gedagte, kom ons kyk na die eerste twee saligsprekinge en kyk of ons die Redder se lewe in ons eie lewe kan raaksien soos wat ons sy woorde in die werklikheid ervaar.

Salig is die wat arm van gees is

Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Salig is ‘n persoon wat deur God bevoordeel word.  In die Ou Testament was daar 'n tyd waarin rykdom ‘n seën van God beteken het, maar in die tyd van die Babiloniese ballingskap en onder die swaar belastingslas van die Perse en die Romeine, sou – volgens geskiedkundiges – 90% van die Jode teen die tyd van Jesus as arm beskou word.

Daarom was dit nie meer moontlik om die seining te handhaaf dat armoede 'n teken van 'n slegte lewe was nie. Daar was baie vromes wat in werklikheid arm was.  As ons deur die profete gaan, veral die latere profete, sien ‘n mens dan ook hoe hierdie tema ontwikkel.  Israel moes raaksien dat sy armoede presies dit is wat hulle nader aan God bring.  Die armes in hulle nederigheid is die naaste aan God se hart.

Dit is interessant dat die evangelies begin met verskeie mense wat in wese swak was.  Maria en Josef, Simeon en Anna, Sagaria en Elisabet, die herders van Betlehem.  En alhoewel Matthéüs praat van die armes van gees, sê Lukas eenvoudig salig is die “armes”.  Daar is iets aan armoede en onderdrukking wat die hart van God aanraak.  Dit gaan dus nie net oor geestelike armoede nie, maar daar is 'n element van die erkenning van materiële armoede.  Aan die een kant bring suiwer materiële armoede nie redding nie.  Aan die ander kant, as ons nie ons materiële armoede erken nie, is dit nie omdat die genade van God 'n simbool is daarvan dat ons geestelik arm is nie.  Die koninkryk van God gaan daaroor dat jy jou hande kan oopmaak om dit te ontvang wat nie aan jou behoort nie, omdat jy besef dat jou eie koninkryk materieel en geestelik bankrot is.

Dit is dus nie net materiële armoede waarvan gepraat word nie, anders sou keiser Juliaan die Afvallige reg gewees het toe hy heel ironies gesê het dat hy al die Christene se eiendom wil neem, sodat hulle arm kan wees en die hemel kan binnegaan.  Maar aan die ander kant, die rykes verwerp Jesus se onderrig oor armoede te maklik en verwar die opgaar van skatte met goeie rentmeesterskap.

Besit gaan alles oor diens.  En, soos een van die ou heiliges gesê het, ons kan “goed besit asof ons niks besit nie”.  Daar is die stryd tussen uiterste toewyding aan God en die noodsaaklikheid van lewe in die wêreld.  Ons moet met nederigheid die taak van ons beroep en die vereistes daarvan aanvaar, terwyl ons ons hele lewe rig op gemeenskap met die Verlosser, wat ter wille van ons arm geword het.  Materieel arm, sodat ons geestelik ryk kan wees.  Sy totale materiële nood, waar selfs sy kledingstukke verdeel is sodat Hy sterf met letterlik NIKS nie, het Hom in staat gestel om ons alles te gee – geestelik en materieel.  Maar ons ontvang dit slegs by erkenning van ons armoede.

Die eerste stap wat in hierdie koninkryk geneem word, is die besef dat ons sondaars is.  Geestelik bankrot.  Dat ons niks het nie – geen familiebande, respek in die gemeenskap, beroep, sogenaamde goeie werke of persoonlike heiligheid – wat waardevol genoeg is om God mee te prys nie.  Hierdie preek verstaan ook dat die dissipels ook maar mense is wat tekort doen aan die eer van God.  Ons is mense wat niks presteer het wat ons in die teenwoordigheid van God kan bring nie.  Ons kan nie die troonkamer van God binnestap asof ons sakevennote is nie, en maak geen aanspraak op enige belonging vir ons dade nie.  Dit is mense wat weet dat hul armoede nie net uitwendig is nie, maar dat dit 'n diep innerlike dimensie het.

“Geseënd is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”  Dit is die belofte waarmee die saligsprekinge begin en eindig.  En al die seëning tussenin is seëninge van die Koninkryk.  En die saligsprekinge self kan beskryf word as Koninkryksnorme.  As Jesus van die koninkryk van die hemele praat, verkondig Hy God en verklaar dat Hy die lewende God is, wat konkreet optree in die wêreld en in die geskiedenis.  Dit is die goeie nuus van die koninkryk van die hemele wat die wêreldgeskiedenis binnegedring het.  Dit is nie net goeie nuus wat hier belowe word nie, maar 'n verandering van die wêreld ten goede.

Die woord “goeie nuus” is eers as 'n reddende boodskap van die keiser gebruik.  Maar dit wat die Romeinse keisers, wat voorgee het dat hulle God is, beweer, kom regtig voor by hierdie person.  ‘n Boodskap wat nie net praatjies is nie, maar werklikheid.  Jesus is God, en daarom is die werklikheid teenwoordig in die wat volg as Hy praat.  Dit is nie net insiggewende toesprake nie, maar daadwerklik; dit is nie net die oordrag van inligting nie, maar dit behels ook optrede.

As Jesus God is, moet sy woorde werklikheid word. Dit is nie net 'n leersame toespraak nie, dit is 'n gebeurtenis.  Dinge gebeur. Want as God praat, word ons verander en beweeg tot die erkenning van hierdie Koninkryk in ons lewe.

En die goeie koninkryk van God is toegedraai in Jesus.  Die Koninkryk is 'n persoon.  Jesus lei mense daarnatoe om die oorweldigende feit te besef dat in Hom God self teenwoordig is onder die mense.  Dit is die uur en die oomblik waarin God in die geskiedenis optree as sy Here, as die lewende God.  En Hy self is die skat.  Alles wat die koninkryk is, kan in die Koning gevind word, en die Koning maak die koninkryk wat dit is.  Dus, wanneer Hy sê: “Julle sal die koninkryk van die hemele beërwe”, is die erfenis uiteindelik Hy self.  En met Hom alle dinge. Soos Paulus sê: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rom. 8:32)

Maar dit is nie net in Hom dat die koninkryk van die hemele naby kom nie, maar dit is ook deur Hom dat dit kom.  Hy sê: "Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom." (Luk. 11:20)  Hier is dit nie net in sy teenwoordigheid dat die koninkryk geleë is nie, maar in sy optrede deur die Heilige gees.

Dus, salig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.  Laat ons nou kyk na die tweede saligspreking.

Salig is die wat treur

“Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.”  Die tweede saligspreking vloei vanuit die eerste.  As jy jou eie armoede besef, sal daar getreur word – en as daar ‘n ware droefheid is, sal daar troos wees.  Ek sê ‘n ware droefheid, omdat daar 'n droefheid is wat goed is en een wat nie is nie.  ‘n Getreur, ‘n droefheid  oor sonde, oor die gebrokenheid in jouself, die kerk en ongeregtigheid in die wêreld.  Nie ‘n droefheid van verlore hoop nie, maar ‘n droefheid wat lei tot aksie.

Daar is 'n droefheid wat hoop verloor het, en wat wantrouig geword het teenoor liefde en waarheid, wat glo dat daar nie meer ruimte is om te hoop op liefde en waarheid in 'n wêreld gevul met haat en die leuens van die duisternis nie.  Hierdie droefheid is 'n tipe bitterheid wat van binne af vreet en wat 'n persoon van binne af vernietig.  Dit is nie hierdie droefheid waarvan Jesus praat nie.

Hy praat van ‘n droefheid wat ontstaan vanuit ‘n verpletterende ervaring met die waarheid, wat daartoe lei dat die hom bekeer en die bose weerstaan.  Hierdie droefheid genees, want dit leer 'n mens om weer lief te hê en weer te hoop.  Judas is moontlik 'n voorbeeld van die eerste soort droefheid – hy het homself opgehang.  Petrus van die tweede. Sy droefheid het tot herstel gelei.

Die goddelike oorblyfsel van Jesus die dag toe Hy huil vanweë die vernedering van Israel, is dat hulle verstaan dit kom van persoonlike en maatskaplike sonde.  Soos die Psalmdigter in 119:136 sê: “My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.”  Jesus sê dat dit onmoontlik is om geestelike bankrotskap te bely met 'n koue hart.  Dit breek ons hart, en ons huil.  Ons sien dat hierdie geween verskillende vorms aanneem in die Skrif.  Dit kan 'n globale asook ‘n persoonlike siening van sonde en ons deelname daaraan behels.  Daar is ook die geween van die wat onverskillig staan teenoor die Evangelie.

Op ‘n manier is droefheid oor die sonde ‘n manier om die heerskappy van die bose teë te werk deur die passiewe weerstand van lyding.  Deur droefheid stel ons ‘n grens vir die bose.  Die punt waar jy treur oor die kwaad en die sonde is die punt waar sy krag stop en herstel kan begin.  Slegs dan betree jy werklik die koninkryksruimte van genesing en herstel.

Ons sien hoe ons Verlosser huil in die aangesig van die kwaad, onderdrukking en dood.  Dink aan Hom waar Hy voor Jerusalem staan en sê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!  Kyk, julle huise word vir julle woes gelaat!  Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37)  Of by die graf van Lasarus waar hy ween in die aangesig van die duisternis.  Of toe hy in daardie tuin gebid het.  Laat hierdie beker verbygaan.  Daardie droefheid sal ewige troos en genesing tot gevolg hê.

Liewe gemeente, ons moet treur oor die sonde, individueel, in die gemeenskap en in die wêreld.  Hierdie droefheid weier om aan die kwaad te voldoen en kies eerder om daaronder te ly.  Dit is 'n manier om gedrag te weerstaan wanneer ‘n invidu gedwing word om dit te aanvaar, want: “almal doen dit”.  Die droefheid is die teken van 'n sagte hart en 'n sensitiewe gewete.  Diegene wat nie treur nie, het harde harte en is gewetenloos en sal nooit die koninkryk binnegaan nie.  Die wêreld kan nie hierdie soort weerstand verdra nie - hierdie soort droefheid.  Dit wil hê dat die gewete verdoof word en nie versag nie.  En die belofte is die hoop op troos.

Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.

Troos!  Troos, my volk.  Dit is Sy antwoord. Die kruis is die grondslag van die opstanding, soos wat droefheid die fondament van vertroosting is.  Net diegene wat treur, sal vertroos word.  Niemand anders nie. En uiteindelik vind die vertroosting hier plaas wanneer ons leef in die hoop en in die waarheid van die opstanding, te midde van die daaglikse werklikheid van 'n wêreld wat nie ooreenstem met die werklikheid vandit wat ons glo nie.  Dit lei daartoe dat ons treur – selfs terwyl ons vertroos word deur die werklikheid van Christus in ons.

Daar is troos by hierdie droefheid, want die God van alle vertroosting reageer op hierdie trane.  Dit is immers 'n biddende droefheid, waar lyding van die verlede en die hede opgelig word in die lig van God se teenwoordigheid en die betekenis van versoening deur sy goedheid gegee word.

Maar uiteindelik word die lyer wat teen die sonde stry, nie werklik getroos nie, en sy trane word nie heeltemal afgevee nie, totdat hy en die ander armes van gees nie meer bedreig word deur die moorddadige bose bedoelings van sonde, die duiwel en die wêreld nie.  Ons troos kan nie voltooi word voordat daar droefheid is nie.

Diegene wat beweer dat hulle al die vreugdes van die koninkryk ervaar, sonder trane, verstaan die aard van die koninkryk verkeerd.  In die woorde van die lofsang van Charles Wesley: “Hy praat en deur te luister na sy stem, sal die dooies nuwe lewe ontvang, die treurende gebroke harte juig, die nederige armes glo.”

Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.  Kom na My toe, almal wat arm is.  Voel jy vandag daardie armoede?  Is jy stukkend?  Voel jy dat jy niks het om te bied nie?  Kom na Hom toe, kom na Jesus – want aan jou behoort die Koninkryk.  En huil en treur saam met Hom – nie in hopeloosheid nie – maar omdat jy weet dat ons bedoel is om te lewe vir soveel meer.  Huil trane van transformasie.  Want alhoewel die geween dalk die hele nag sal aanhou, kom die vreugde in die oggend.  Want daar, in sy arms, is ewige troos en vrede.  Geliefde kind van God – die Koning van die Koninkryk van die hemele praat en bemoedig jou vandag sodat jy weet dat jou gevoel van armoede en jou trane goed is.  Dit is inderdaad nodig.  Ja, dit is die teenoorgestelde van wat die koninkryk van die wêreld sal sê.  Hulle aanvaar die rykes, hulle wil roem hê, hulle wil die mag hê.  Dit is nie wat ons soek in hierdie onderstebo koninkryk nie.  Want ons weet dat lyding die weg na heerlikheid is, trane is die rivier van seëninge.

Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.  Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.

Amen.