God openbaar Sy heerlikheid te midde van sy kerk in ballingskap

Predikant: 
dr John Smith
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2022-07-24
Teks: 
Esegiël 1
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Ons teks neem ons na ‘n laagtepunt in die geskiedenis van God se volk; na die dae van koning Nebukadnésar van Babel.  Daardie koning het die mense van Juda en Jerusalem in ballingskap weggevoer.  Julle onthou seker dat die ballingskap in twee fases plaasgevind het.  Die eerste fase vind ons in die gedeelte wat ons uit 2 Konings 24 gelees het.  Ons lees daar van die kort bewind van koning Jójagin.  Ná slegs drie maande op die troon het Jójagin homself aan die koning van Babel oorgegee en is hy in ballingskap weggevoer.  Nebukadnésar het ook enigiemand wat ‘n toekomstige bedreiging vir sy gesag kon inhou, saamgeneem: Jójagin se moeder, sy vrouens, sy hofdienaars en die magtiges van die land, die room van die oes.  Nebukadnésar het ook die beste van die leër geneem, 7 000 dapper manne, asook 1 000 ambagsmanne; hy het selfs die smede weggevoer!

Die res van die volk het in Jerusalem agtergebly, en Nebukadnésar het Sedekía as hulle koning aangestel.  En so het God se volk verdeeld geraak: die een deel was in Babel en die ander deel was in die land Juda.  Dit was die situasie aan die begin van die boek Eségiël.  Dit wys vir ons, broeders en susters, dat God se verlossingsplan nog lank nie afgehandel was nie.  God wil immers nie ‘n verdeelde kerk hê nie, maar een heilige katolieke kerk wat in aanbidding voor Sy troon staan.  God werk altyd om Sy kerk bymekaar te maak, en Hy doen dit deur menslike instrumente, deur mense, wat Hy tot die taak roep.  Op daardie laagtepunt in die geskiedenis van God se volk, toe die kerk in twee verdeel was, het God twee van die grootste profete van die Ou Testament geroep.  Die een moes onder God se volk in Jerusalem werk: dit was Jeremia.  Die ander een moes onder God se volk in Babel werk, en dit was Eségiël.

Vandag kyk ons na die roeping van die profeet Eségiël.  Ek mag die Woord van God aan julle verkondig onder die volgende tema:

 

God openbaar Sy heerlikheid te midde van sy kerk in ballingskap:

  1. aan erdekruike;
  2. met hemelse majesteit; en
  3. in ‘n reënboog van genade.

 

1. God openbaar Sy heerlikheid aan erdekruike.  Onder die ballinge wat na Babel weggevoer is, was ‘n jong man met die naam Eségiël.  Eségiël sê dat hy onder die ballinge was by die Kebarrivier, ‘n rivier in die land van Babel.  Ons teks begin met die woorde: “In die dertigste jaar”.  In die dertigste jaar van wat? sal jy dalk vra.  Maar die Bybel sê dit nie.  Dit was nie die 30ste jaar van Nebuknésar se regering nie.  Dit was ook nie die 30ste jaar van die ballingskap nie, want vers 2 sê vir ons dat dit net vyf jaar was sedert Jójagin gevange geneem is.  Die beste oplossing is eenvoudig dat dit die 30ste jaar van Eségiël se lewe was.

Nou hoekom sou Eségiël die feit dat hy 30 jaar oud was, wou opteken?  Let op dat vers 3 na Eségiël as die priester verwys.  Die 30ste jaar was naamlik ‘n baie spesiale jaar vir ‘n priester.  Die Bybel sê vir ons in Numeri dat ‘n priester die diens van die tabernakel sou betree wanneer hy die ouderdom van 30 bereik het.  Eségiël sê dus vir ons dat dit die jaar is dat hy ‘n priester sou geword het.  As hy nog in Jerusalem was, sou hy in die tempel begin dien het.  Maar hy is nie.  Hy is in ballingskap, al die afgelope vyf jaar.  Daar is geen tempel vir hom om in te dien, geen altaar waar hy kan offer nie.  Eségiël het sy eie bevestigingsdiens misgeloop.

Hoe moeilik moes dit nie vir hom gewees het nie.  Eségiël sou uitgesien het na ‘n lewe van diens voor die ark, die plek waar God tussen die gérubs gewoon het, die plek waar geslagte van sy voorvaders voor die HERE gedien het.  Eségiël was van geboorte af vir die priesterskap afgesonder; hy het van kleins af geweet wat hy sou word wanneer hy groot is.  En hier was hy nou, ‘n priester in ballingskap, met sy hele lewe leeg voor hom.  Nêrens om heen te gaan nie.  Maar ons moet nie net aan Eségiël dink nie; dink ook aan die res van die ballinge daar langs die Kebarrivier.  Hulle was ver van die tempel af, ver van die teenwoordigheid van God, ver die offers; daar was geen versoening meer vir hulle sondes nie, geen bediening van versoening nie, geen gemeenskap met die HERE meer nie.  Hier sou hulle inderdaad deur God verlate gevoel het.

Wanneer ons dit besef, broeders en susters, dan tref Eségiël se openingswoorde jou tussen die oë: “toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien.”  “het die woord van die HERE uitdruklik gekom tot Eségiël … in die land van die Chaldeërs … en die hand van die HERE was daar op hom.”

Maar onthou,dit is nie die eerste keer dat God in Babel gepraat het nie.  Lank gelede, in Genesis 12, het die woord van die HERE gekom tot Abram, wat in Ur van die Chaldeërs gewoon het.  Daar het die HERE vir Abram gesê: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.  En Ek sal jou ‘n groot nasie maak … en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”  Wat het van daardie seën geword?  Hier is die kinders van Abraham, weer terug in die land van die Chaldeërs, terug vanwaar hulle begin het.  Het God Sy beloftes aan Abram vergeet?

Nou ja, daarom kom die woord van die HERE tot Eségiël in die land van die Chaldeërs.  Dit kom in ‘n skouspelagtige visioen van die heerlikheid van God.  God stuur ‘n duidelike boodskap dat Hy nie te swak is om Sy beloftes na te kom nie.  Hy is nog nie klaar met Sy volk nie.  Hy sal Sy doelwitte bereik.  Hy sal Sy kerk bymekaarmaak.  Net wanneer dit lyk asof Babel gewen het, vertoon God Sy soewereiniteit.  Die een frase wat deur die hele boek Eségiël terugkom, is dit: “… sodat julle kan weet dat Ek die HERE is”.  Dit is God se boodskap aan Sy kerk in ballingskap.

God openbaar Sy heerlikheid in die ballingskap.  God doen dit dikwels in die Bybel.  Dink aan die gedeelte uit die boek Openbaring wat ons gelees het.  Daar was die apostel Johannes ook in ballingskap, op die eiland Patmos.  Johannes sien ‘n visioen baie soos dié van Eségiël 1: die hemele gaan oop en hy sien die vier lewende wesens; hy sien die troon van God en Hom wat daarop sit.  Maar let ook op dat beide visioene aan individue gegee word.  Johannes was alleen op die eiland Patmos.  En die visioen in ons teks het tot Eségiël alleen gekom.  Die res van God se volk het dit nie gesien nie.  Hulle moes eenvoudig glo wat Eségiël vir hulle gesê het; hulle moes vertrou dat hy ‘n ware profeet was wat deur God gestuur is en dat hy nie alles uit sy duin suig nie.  Hulle moes in geloof reageer op God se openbaring, net soos ons dit moet doen.  Die visioen wat Eségiël gesien het, het deur die eeue op ons afgekom, opgeteken in die Skrif.  Hoe kan ons seker wees dat Eségiël werklik die dinge gesien het wat in ons teks geskryf staan?  Ons het geen manier om dit na te gaan nie.  Daar is niemand wat vir ons hemel toe kan gaan om te sien of hierdie dinge werklikheid is nie.  God wil hê dat Sy kerk deur geloof moet lewe, nie deur aanskouing nie.  Maar God is ook bereid om vir jou geloof te gee: Hy werk dit in jou hart deur die verkondiging van die evangelie wat jy vandag hoor.

Dit is verleidelik om te sê dat Eségiël baie gelukkiger was as ons.  Hy is immers toegelaat om die heerlikheid van God met eie oë te sien.  Broeders en susters, dit ly geen twyfel nie dat Eségiël geseënd was.  Maar onthou wat die Here Jesus vir Thomas gesê het: “Salig is dié wat nie gesien het nie en tog gelo het.”  Hou ook in gedagte dat Eségiël nie ‘n maklike roeping sou hê nie.  Hoofstuk 2 vertel vir ons dat hy met ‘n opstandige volk moes praat wat nie wou glo nie.  Hy sou nie ‘n maklike lewe hê nie.  Maar sy bediening begin met ‘n skouspelagtige visioen van die Allerhoogste God.  Dit is asof God ‘n blywende indruk van Sy heerlikheid in sy geheue wou brand.  Maak nie saak watter probleem Eségiël in sy bediening ondervind nie, hy moet die grootheid van die God wat hy dien, onthou.

Vandag openbaar die HERE Homself nie meer in visioene nie.  God se selfopenbaring staan in die Skrif opgeteken.  Predikante wag nie op ‘n boodskap uit die hemel nie, maar hulle wy hul daaraan toe om die Bybel te bestudeer.  En tog is predikante ook dienaars van God.  En dit is goed vir predikante om oor die heerlikheid van God te preek.  Eségiël 1 herinner ons daaraan dat ons nie mense op die voorgrond moet plaas nie; hulle is slegs instrumente in die Here se hande; hulle is net erdekruike.  Die eer van God moet voorop en sentraal bly.  Soli Deo Gloria: aan God alleen kom die eer toe.

2. Ons kom by die tweede punt: God openbaar Sy heerlikheid met hemelse majesteit.  Ons kom nou by die visioen self.  Wat presies het Eségiël gesien?  Hy het ‘n stormwolk uit die noorde na hom toe sien kom.  Toe dit nader kom, sien hy dat dit nie ‘n gewone wolk was nie.  ‘n Vuur van weerligstrale het aanhoudend daaruit geblits, en ‘n glans was rondom die wolk.  Uit die wolk het vier vreemde wesens gekom.  Eségiël is so aangegryp deur die sien van hierdie wesens dat hy 19 verse daaraan wy om hulle te beskryf en homself dikwels herhaal; dit lyk amper asof hy oor sy woorde struikel.  Hy kan skaars die woorde vind om hulle te beskryf; hulle is eenvoudig bonatuurlik.  Hoe kan jy iets beskryf waarvoor daar nie woorde is nie?  Eségiël doen sy bes om die lewende wesens te beskryf deur hulle te vergelyk met dinge wat ons kan verstaan.

Hulle het die gestalte van ‘n mens gehad, en tog was hulle anders as ‘n mens, want elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad.  Hul voorkoms was soos gloeiende vuurkole, en wanneer hulle heen en weer gehardloop het, het hulle soos weerligstrale gelyk.  En wanneer hulle gevlieg het, het hul vlerke ‘n groot geruis gemaak, soos die geruis van baie waters, soos die stem van die Almagtige God, soos die gedreun van ‘n leër.  Met hul vier gesigte kon hulle gelyktydig in al vier rigtings kyk sonder om om te draai.  Elke lewende wese het van voor die gesig van ‘n mens gehad, aan die regterkant  die gesig van ‘n leeu, aan die linkerkant die gesig van ‘n bees en agter die gesig van ‘n arend.  Hulle het ook hande gehad soos dié van ‘n mens, ‘n bronskleur soos ‘n leeu, voetsole soos dié van ‘n kalf en vlerke soos ‘n arend.  Van alle kante gee hulle die indruk van rowwe krag: sterk soos ‘n bees, vinnig soos ‘n arend, wreed soos ‘n leeu, en met al die vindingrykheid van ‘n mens.  Dit is die vier lewende wesens.  Let op dat hulle wesens genoem word.  Wanneer ons aan wesens dink, dink ons dikwels aan die aardse diere wat God gemaak het: walvisse, olifante, bokke, miere, kameelperde.  Ons vergeet dat God ook skepsels gemaak het wat geskik is vir lewe in die hemel.  Jy sal hulle nie in ‘n biologie-handboek vind nie, maar hulle bestaan.

Wat is hierdie wesens dan?  Eségiël sien dieselfde wesens weer in hoofstuk 10, en daar noem hy hulle gérubs.  Ons weet wat is gérubs: hulle is mos engele.  Kunstenaars beeld engele uit as oulike kleuters met krulhare en harpe in hul hande.  Maar die lewende wesens in ons teks lyk glad nie so nie: hulle is vreesaanjaende diere wat ontsag en vrees inboesem.  Die eerste verwysing in die Bybel na gérubs vind ons in Genesis 3:24 : nadat Adam en Eva uit die tuin van Eden verdryf is, is gérubs met ‘n vlammende swaard daar geplaas om die toegang na die boom van die lewe te bewaak.  Hierdie gérubs was dus vreesaanjaende wesens: op geen manier kon Adam en Eva verby hulle sluip nie.  Hulle het selfs oë in die agterkop gehad.  En in die tabernakel is gérubs in die stof van die gordyn wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het, ingeweef.  Gérubs het gefunksioneer as ‘n waarskuwing vir sondaars, om weg te bly van die plek waar die heilige God was.  Hul funksie was baie dieselfde as ‘n waarskuwingsteken op ‘n elektriese transformator: Gevaar!  Bly Weg!  As Eségiël ‘n priester sou geword het, sou hy prentjies gesien het van gérubs wat in die tempelgordyn ingeweef en op die tempelmure uitgekerf was.  Maar nou, as profeet, word hy toegelaat om die werklikheid te sien.

Wat doen die gérubs van ons teks?  Vers 15 gee vir ons ‘n leidraad: langs elke skepsel was daar ‘n wiel – daar was dus vier wiele.  Maar let op dat daar geen asse tussen die wiele was nie.  Die beweging van die wiele hou verband met die beweging van die wesens.  Wanneer die wesens van rigting verander het, het die wiele saam met hulle van rigting verander.  Wanneer die wesens op of af gegaan het, het die wiele saam met hulle op of af gegaan.  En elke wiel het ‘n ander wiel binne-in gehad, sodat hulle op vier verskillende maniere kon draai.  Op hierdie manier kon hulle onmiddellik van rigting verander.  Wat moet ons aflei van hierdie vreemde kombinasie van gérubs en wiele?  Die Hebreeuse woord wat in ons teks vir wiele gebruik word, word ook soms in die Bybel vir die wiele van ‘n wa gebruik.  En daar is ‘n baie interessante gedeelte in 1 Kronieke 28:18, waar die gérubs die wa van die HERE genoem word.  Onthou julle wat ons gesing het in Psalm 18 vers 5?

‘n Gérub was sy oorlogswa.

Hy het gevlieg en aangesweef

– terwyl dit om Hom skud en beef –

op vleuels van die wind gedra.

Volgens Eségiël 1:22 was daar bokant die koppe van die lewende wesens iets soos ‘n uitspansel van suiwer kristal, as ‘t ware ‘n platform, en bokant daardie platform was daar ‘n troon.  Dit is asof die gérubs die troon van die Almagtige God vervoer.  Wat Eségiël in ons teks beskryf, is niks minder nie as die strydwa van die HERE, en God is in die bestuurdersitplek, broeders en susters – Hy is altyd.  Wie is in beheer?  Nie Nebukadnésar met al sy strydwaens nie, maar die Allerhoogste God, Hy hou die teuels van mag vas.  Hy is nie swak nie; Hy het nie sy volk in ballingskap vergeet nie.  Maar Hy ry met hemelse majesteit na Sy kerk in ballingskap om Eségiël te roep om ‘n profeet van die HERE te word.

Sien julle iets van die heerlikheid van die HERE, broeders en susters?  Dit is die heerlikheid waaroor ons gaan sing in Psalm 68 vers 2:

Hef tot Gods eer ‘n danklied aan;

verhoog, verhoog voor Hom die baan;

sing, al wat leef, sy ere!

Berei die weg, in Hom weer bly

wat deur die wye vlaktes ry:

sy Naam is HEER der Here!

Dit is die heerlikheid wat die ewige Seun van God met Sy hemelse Vader gedeel het voordat Hy in die wêreld gekom het.  Maar die Here Jesus het Sy heerlikheid opsy gesit en Homself verneder, soos ‘n dienskneg geword, laer as die engele geword, laer as die gérubs.  Tydens Sy aardse bediening het ons Here Jesus Christus een keer ‘n triomfantelike intog in Jerusalem gemaak, op ‘n esel gery, terwyl die skare Hosanna gesing en palmtakke in die lug geswaai het.  Maar by daardie geleentheid haal Matthéüs in sy evangelie Sagaria 9:9 aan: “Kyk, jou Koning kom na jou … nederig en Hy ry op ‘n esel…”.  Ons noem dit ‘n triomfantelike intog, maar dit was inderwaarheid ‘n vernedering vir ons Here Jesus Christus: Hy wat eens op die gérubs gery het, ry nou op ‘n esel.  Hy het Sy hemelse majesteit agtergelaat ter wille van ons, broeders en susters.  Hy het soos een van ons geword en die laagste plek ingeneem, die plek van ‘n slaaf, sodat Hy die dood van ‘n sondaar in ons plek kon sterf.

Maar nou het Hy triomfantelik teruggekeer na die heerlikheid wat Hy eens geniet het, aan die regterhand van die Vader, ver bo alle engele en gérubs, sodat in die Naam van Jesus elke knie sou buig in die hemel en op die aarde en onder die aarde.  Aan Hom behoort alle heerskappy en mag.  En Hy kom gou met die wolke, met magtige engele, met brandende vuur (2 Thess. 1:7-8), en met groot heerlikheid.  Lank gelede het alleen Eségiël die Here sien kom, maar op daardie dag in die toekoms sal elke oog Hom sien, en dié wat Hom verwerp het, sal met skrik voor Sy majesteit vlug en die berge aanroep om hulle te bedek.  Want niemand kan voor die heerlikheid van God staan nie.

 

3. Ons kom by die derde punt: God openbaar Sy heerlikheid in ‘n reënboog van genade.  Die Engelse lofsang Holy, holy, holy [Heilig, heilig, heilig] het die volgende reël: “the eye of sinful man Thy glory may not see” [“die oog van die sondige mens mag U heerlikheid nie sien nie”].  En tog is Eségiël toegelaat om die heerlikheid van die HERE te sien.  Dit staan in vers 28 van ons teks.  Hy het God self gesien, en tog het hy bly leef om daarvan te vertel.  Hoe is dit moontlik dat hy oorleef het?

 Let op dat Eségiël nie baie naby aan die troon van God was nie.  Hy gee ‘n beskrywing in besonderhede van die lewende wesens.  Hy het hulle goed bekyk.  Maar hy het nie nader aan God se troon gekom as wat hulle was nie.  Die vier lewende wesens staan tussen Eségiël en God.  God self is baie hoër, bo die uitspansel en hoog bo die troon.

Let ook op die eerste deel van vers 28.  Daar staan: “Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ‘n reëndag, so het die glans rondom gelyk.”  Daar was ‘n reënboog rondom God se troon.  Ons sien gereeld ‘n pragtige reënboog in die lug.  Dit herinner ons aan God se belofte aan Noag in Genesis 9 dat Hy nooit weer die wêreld met ‘n vloed sal vernietig nie.  Ons dink soms dat die reënboog in die lug verskyn sodat ons daarna kan kyk.  Maar dit is nie wat God in Genesis 9 sê nie.  Hy sê: “As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.”  God plaas die reënboog in die lug om Hom daaraan te herinner om genadig te wees.  En nou sê ons teks dat daar ‘n reënboog om God se troon is.  Dit maak nie saak hoe God kyk nie, Hy sien die reënboog; Hy sien alles deur ‘n reënboog.  Is dit nie wonderlik nie?  God kan nooit Sy beloftes van genade vergeet nie.  Dus, Eségiël sien God se heerlikheid, maar daardie heerlikheid word deur ‘n reënboog van genade gefiltreer.  En die reënboog is vandag nog daar, geliefdes.  Ons lees dit in Openbaring 4:3 : “… en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag.”  God vergeet nooit Sy genade nie.

En ons het nog meer genade in Jesus Christus Sy Seun.  Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die voorhangsel in die tempel van bo na onder in twee geskeur.  Daardie gordyn, met al die gérubs wat in sy stof ingeweef is, staan nie meer tussen God en Sy volk nie.  Die gérubs versper nie meer die toegang tot die paradys nie: die pad na die boom van die lewe is weer oop.  In Christus het ons toegang tot die troon van God, die Allerheiligste.  Hy het vir ons sondes betaal, en Hy sal aan Sy Vader ‘n kerk aanbied wat heilig en onberispelik is.  Hoe verskriklik sal dit wees vir diegene wat die Here Jesus verwerp en niks met Hom te doen wil hê nie.  Vir hulle is daar geen versoening, geen genade meer nie; vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God (Heb. 10).

Daar kom ‘n dag wanneer hierdie wêreld deur vuur vernietig sal word, en geen reënboog sal keer dat daardie dag kom nie.  Maar vir diegene wat op die Here hoop, is dit ‘n dag om na uit te sien, want ons sal God sien, net soos Eségiël.  Die God wat Sy kerk liefhet en vir haar sorg, die God wat Sy Seun gegee het om vir haar te sterf, die God wat ons van dag tot dag onderhou – ons sal Hom sien soos Hy is (1 Joh. 3:2).  O, met Sy gelykenis dan voor ons, hoe ryk en volop sal ons blydskap wees!

Amen.