Wie die HERE vrees, is barmhartig

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-07-24
Teks: 
Levitikus 19:14
Preek Inhoud: 

Preek: Levitikus 19:14

 

Die filosoof Friedrich Nietzsche het die Christendom die geloof van ‘loosers’ genoem, omdat Christene vir die swakkes opkom, pleks van die sterkes te bevoordeel.

Hy was self ‘n ewolusionis, wat geglo het in die ‘survival of the fittest’.

Ons hedendaagse samelewing is ‘n mengsel van Christelike norme, byvoorbeeld om die swakkes te beskerm; maar ook is daar die invloed van die ewolusionisme, wat mense oproep om die sterkste te wees ten koste van ander – ‘survival of the fittest’.

Daar is aan die een kant baie inisiatiewe om gestremde mense te help, verskillende organisasies wat hulle belange op die hart dra.

Maar aan die ander kant is dit ook algemeen in ons samelewing om van van gestremde mense ontslae te raak, dink aan die wydverbreide gewoonte om gestremde babas te aborteer.

Ons teks klink op eerste gesig dalk te wreed om waar te wees.

Wie vloek nou ‘n dowe?

Wie lê nou ‘n struikelblok in die weg van ‘n blinde?

Tog ken God die mens se verdorwe hart.

Hy weet waartoe die mens in staat is, selfs sy volk aan wie Hy hierdie wette gegee het.

 

Tema: Wie die HERE vrees, is barmhartig

 

Een van die belangrikste uitgangspunte van die HERE se wet, is die beskerming van die swakke.

Daarin was God se Torah uniek in daardie tyd, onder al die heidenvolke en hulle samelewings.

Geen wetboek was so regverdig en eerlik nie, juis ook ter beskerming van die swakkeres.

En vandag staan dit nog steeds soos ‘n paal bo water.

Samelewings wat in die verlede diepgaand beïnvloed is deur die Bybel, se regstelsels is veel eerliker as van ander lande, met name ook wat die beskerming met die swakkes betref.

En dit gaan terug op Skrifgedeeltes soos ons teks:

“Jy mag ‘n dowe nie vloek nie en voor die blinde geen struikelblok lê nie; maar jy moet jou God vrees. Ek is die HERE.”

‘n Dowe is gehoorgestremd, ‘n blinde is gesiggestremd.

Daar is nog baie ander gestremdhede.

Ook in ons gemeente is daar gestremde lidmate.

Daar is hulle wat ‘n gestremdheid van hulle geboorte af het.

Daar is hulle wat dit later gekry het, byvoorbeeld deur ‘n ongeluk.

Verder geld vir alle mense dat die ouderdom gestremdhede sal bring.

In kort, gestremdhede is onderdeel van die alledaagse lewe.

En in God se Woord vind ons daarom ook wyse bepalings hoe om dit te hanteer.

Hierdie mense mag jy nie verkleineer, uitbuit, bespot of aan die kant skuif, en nog veel minder van hulle ontslae raak nie.

 

Wat in Levitikus die uitgangspunt is, is die tweede deel van vers 14: “jy moet jou God vrees. Ek is die HERE.”

Kyk, vir ‘n sterk gesonde mens sal jy vrees, jy sal bang wees om sommer vir ‘n gespierde man te vloek of ‘n struikelblok in sy pad te lê.

Want hy sal hoor as jy hom vloek, of hy sal sien dat jy ‘n struikelblok in sy pad lê, en jy sal dit ontgeld, om hy sterker is as jy.

Maar ‘n dowe gaan nie hoor dat jy hom vloek nie, en ‘n blinde gaan nie weet daar is ‘n struikelblok nie, totdat hy daaroor val.

En hulle gaan nie weet dat jy dit gedoen het nie.

Hoekom sou jy dan vir hulle bang wees?

Dit is soveel makliker om by ‘n blinde te steel of oor ‘n dowe te skinder.

Maar, sê die HERE, Ek sien en hoor wel alles!

Ek is die HERE.

Al vrees jy nie vir ‘n dowe of blinde nie, jy moet My vrees!

Dit is dus die uitgangspunt.

Die HERE beskerm die swakke.

Ons kom die wette na, ook die tweede tafel daarvan, juis vir die HERE.

En juis die swakkes word beskerm.

Die oues van dae, wat so maklik uitgebuit kan word.

Of dink aan die vreemdelinge, buitelanders.

Nie vir niks is die vierde gebod so eksplisiet: ook jou dienskneg en jou diensmaagd, selfs die vreemdeling moet kan rus net soos jy.

En dink net hoe afhanklik ‘n werknemer van sy baas kan voel.

Maar juis sy kwesbare posisie word ook deur God beskerm.

Sien die vers voor die teks: “Die dagloner se loon mag by jou nie tot die môre toe bly nie.”

En die vers na die teks: “Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel.”

Gelyke behandeling voor die reg, dit is uit en uit ‘n Bybelse beginsel.

En as dit die geval is in ‘n land, dat ryk en arm, belangrik en onbelangrik, gelyk behandel word voor die reg, is dit dikwels ‘n nalatenskap van die Christelike moraal.

 

Nou behandel ons tans die jaartema onderrig en laat onderrig.

Elke ouer en elke onderwyser sal kan vertel dat geen kind dieselfde is nie.

Elke kind is uniek.

Elke kind het unieke gawes van sy Skepper ontvang.

Daar is nie net een soort intelligensie nie.

Kinders kan nie net gemeet word volgens hoë of lae IK nie.

Daar is byvoorbeeld ook sosiale intelligensie.

Ander kinders is nie teoreties slim nie, maar het geweldige tegniese insig.

Daar is hulle wat baie goed met stress kan omgaan, daar is hulle wat glad nie kan nie.

Daar is hulle wat baie vinnig kan hardloop, daar is ander met baie fyn motoriek.

 

Nou is die uitgangspunt van ‘n Bybelse opvoeding, en van Gereformeerde onderrig, dat elke kind opgevoed moet word om sy lewenstaak te kan vervul wat die Skepper vir hom of haar bepaal het.

Daardie lewenstaak moet geïdentifiseer word, en ‘n kind moet daarvoor gevorm en voorberei word.

Daar is geen kind wat nie ‘n doel in die lewe van sy Skepper ontvang nie.

Daarom, in teenstelling tot wat die wêreld dink, bestaan daar nie ongewensde kinders nie.

In die opvoeding het kinders verskillende behoeftes.

En dit kom dikwels veral na vore by gestremde kinders.

In hierdie verband gee ons teks vir ons die grondliggende beginsel.

Swakker mense mag nie agtergestel word nie.

Dit is net so ‘n belangrike opdrag om hulle te onderrig en te laat onderrig.

Hulle is ook gedoop, hulle is ook in die verbond opgeneem.

En ook van hulle verwag die HERE, as hulle opgegroei het, dat hulle, op hulle begripsvlak, hulle geloof sal bely.

As gemeente van Christus het ons hierin ‘n taak ontvang.

 

Dat daar by gestremde kinders meer uitdagings is, is dikwels die geval.

‘n Gemeenskap wat egter in diens wil staan van die HERE, sal daardie uitdagings aanpak, vanuit die besef dat die ‘gesondes’ niks belangriker voor God is as die ‘gestremdes’ nie.

‘n Gemeenskap wat veral deur ekonomiese motiewe gedryf word, sal ‘gestremdes’ as ‘n las ervaar.

Maar met sy wet druk God dit sy volk op die hart: So mag julle nooit dink nie!

So mag dit in julle gemeenskap nooit word nie!

Ons het ook uit Deuteronomium 27 gelees, en daar klink ernstige woorde:

“Vervloek is hy wat ‘n blinde op die dwaalweg lei”!

“Vervloek is hy wat die reg van die vreemdeling, wees en weduwee verdraai”!

Duidelik is dit vir die HERE ‘n baie ernstige saak!

En die volk mog dit nie net aanhoor, maar in hulle hart dink: ons sal sien, nie.

Nee, soos daar staan: Die hele volk moes sê: Amen.

Amen is as ‘t ware ‘n eed aflê voor die HERE.

Dit is waar en seker, ons sal dit doen.

Ons sal ons naaste liefhê  soos onsself, ook ons gestremde naaste.

En as ons dit nie doen nie, besef ons dat ons ‘n swaar straf van Godsweë te wagte staan.

Ja (vers 26): “Vervloek is hy wat die woorde van hierdie wet nie hou om dit te doen nie.”

 

Nou is dit wel ‘n feit dat die omsien na ‘n gestremde inderdaad ‘n groot las kan wees, vir ouers, vir gesinne, vir onderwysers, maar dit sal Godvresende ouers en onderwysers nie verhinder om dit wel te doen nie.

Hulle mag dieselfde onvoorwaardelike liefde aan hulle bewys as wat God aan hulle bewys.

En die geloofsgemeenskap word opgeroep om juis sulke ouers en gesinne te ondersteun.

Met verloop van tyd mag ons dikwels ervaar tot watter groot seën gestremdes kan wees vir hulle omgewing.

Sonder hulle sou die wêreld beslis nie ‘n beter plek gewees het nie, inteendeel.

 

Maar, gemeente, al hierdie dinge wat ek noem, is nie vanselfsprekend in ‘n gebroke en sondige wêreld nie.

Om so te dink oor gestremde mense, vereis dat ons vernuwe word in ons wyse van denke.

Ons moet ons denke reformeer ooreenkomstig die Woord van die Here.

Ons moet agter Christus aangaan, en barmhartig wees soos Hy barmhartig is.

En as die Woord ons leer dat elke lewe ‘n gawe van God is, moet ons elke lewe met respek behandel.

 

En as dit gebeur, beloof die HERE dat Hy so ‘n gemeenskap sal seën, en hulle sal ervaar dat gestremdes juis ook vir hulle tot ‘n seën sal wees.

Die spreekwoord lui: Wie bereid is om te gee, sal dubbel terugontvang.

Kom ons vertrou die HERE dat dit ook sal gebeur in die tyd en opoffering wat ons insit ter wille van ons gestremde naaste.

Voor die blinde sal ons nie ‘n struikelbolk lê nie, ons sal juis die struikelblokke wat hy in sy lewe gaan teëkom, uit die pad rol.

Soos Job oor sy eie lewe gesê het, Job 29: “Oë was ek vir die blinde, en voete vir die lamme was ek. ‘n Vader was ek vir die behoeftiges; en die regsaak van hom wat ek nie geken het nie, het ek ondersoek.” (Job 29:15-16)

Die dowe sal ons nie vloek nie, ons sal hom juis help om net so ‘n goeie skoolopvoeding te kry as die ander kinders, en ons sal ‘n plan maak dat, al kan hulle nie die prediking hoor nie, dat die Woordbediening ook tot hulle kom.

Ons sal dit doen asof ons dit vir die HERE doen, nie met ‘n meerderwaardige houding nie, maar met die besef dat ons ook, ja elke mens, in God se oë gestremd is.

So het koning Dawid vir Jonatan se seun Mefiboset gesorg, wat lam was aan altwee sy voete (2 Sam 9).

Dawid het aan hom barmhartigheid bewys.

Sy hele lewe lank mog hy aan die koning se tafel eet, net soos Dawid – dink aan Psalm 23 – aan die HERE se tafel mog eet sy hele lewe lank: U berei die tafel voor my ... en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.” (Ps 23:5-6)

 

 

Sedert die sondeval is geen mens meer volmaak nie.

Niemand van ons is uit onsself meer beelddraers van God nie.

Ons almal sien uit na die dag van die herskepping, die vernuwing van ons liggaam en siel.

En in hierdie lewe mag ons deur die werking van die Heilige Gees ervaar dat ons uit genade weer sy beelddraers mag word.

En daarin is gesonde mense nie beter as mense met gestremdhede nie.

God sien die hart aan, Hy kyk nie eerstens na die gestremdheid nie.

Christus vernuwe deur sy Gees ‘gesondes’ en ‘gestremdes’ na sy beeld, almal het dit ewe nodig.

En saam sien ons uit na die nuwe herskape aarde, na ‘n nuwe mensheid, wedergebore.

Hoe ons dan sal lyk, hoe ons sal wees, daarvan kan ons onsself tans maar net ‘n baie beperkte voorstelling maak.

Alles in hierdie lewe is deur sonde en siekte en gebrekkigheid aangetas.

In God se oë is almal van ons blind, doof, en noem maar op.

Ons mag egter uitsien na ‘n heerlikheid wat in hierdie wêreld geen oog gesien het, geen oor gehoor het, en wat in geen mensehart opgekom het nie.

 

In 2 Korinthiërs 12:9 skryf Paulus:

“Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”

Paulus skryf dit in verband met wat hy ’n doring in sy vlees noem.

Waarop hy met hierdie uitdrukking presies sinspeel, weet ons nie.

Daar is uitleggers wat meen dat hy ‘n gesigsgebrek gehad het.

Maar dit kan nie met sekerheid vasgestel word nie.

Feit is wel, en daarop wys hy ons hier in opdrag van die Gees, dat ons eie swakhede deur God gebruik kan word om ons te oortuig hoeveel ons Christus se genade nodig het.

Ons swakhede en gebreke is nie God se skuld nie, dis ‘n gevolg van die sondeval, die algemene ellende en sterflikheid wat in die wêreld gekom het.

Ons wens dat dit ons soveel moontlik bespaar word, al die gevolge van die sonde, maar die Here gee in hierdie lewe geen waarborg van ‘n volmaakte lewe nie.

Paulus skryf dat hy die Here drie maal gebid het dat hierdie beproewing, hierdie doring in die vlees, van hom weggeneem sou word, maar dat die Here se antwoord was:

“My genade is vir jou genoeg”.

 

So het alles wat in hierdie lewe met ons gebeur, ‘n doel, soos ons met Sondag 10 bely, dat selfs droogte, onvrugbare jare, siekte, armoede ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

God is nie die oorsaak van die ellende nie.

Maar in sy wyse maar onbegryplike raad gebruik Hy wel die ellende op aarde om sy kinders nader na Hom toe te trek.

 

Ons het ook die geskiedenis van die blindgebore man gelees (Joh 9).

In hierdie gedeelte openbaar die Here Jesus waarom hy blind gebore is.

Uit menslike oogpunt is dit eintlik skokkend.

As mens uitgaan van die lewensmotto ‘One life, live it’, dan sal mens moet konkludeer dat al daardie jare wat hy blind was, gemorsde jare was.

Maar as ons lewensmotto is ‘Eternal life, live it’, dan maak hierdie geskiedenis sin.

Die feit dat God toegelaat het dat hy blind gebore moes word, was eerstens om sy Seun wat Hy na die aarde gestuur het, te verheerlik.

En tweedens het dit bygedra tot hierdie man se saligheid, tot die feit dat hy deur geloof in Jesus Christus erfgenaam sou word van die ewige lewe, dat deur Christus se almag nie net sy liggaamlike blindheid, maar ook sy geestelike blindheid weggeneem sou word.

 

Hierdie geskiedenis gee ons moed, veral in moeilike lewensomstandighede.

Dit leer ons om in alle teëspoed geduldig te wees – Sondag 10.

Dit leer ons vertrou dat sonder die wil van my getroue God en Vader geen skepsel kan roer of beweeg nie, ja dat selfs die Satan geboei is met kettings.

As ek self gestremd is, of as ‘n familielid van my ‘n gestremdheid het, dan weet ek verseker dat my of sy of haar lewe ook deur die hemelse Vader gelei word, en dat Hy sal sorg dat selfs my gestremdheid onderdeel is van die lewenspad wat lei na die ewige saligheid.

En daardie pad is inderdaad nie die breë weg nie, maar die smal weg agter Christus aan.

 

Wie die HERE vrees, is barmhartig, ook na die swakke, die gestremde in die samelewing.

Dit is waartoe ons teks oproep.

Christus se voorbeeld op aarde het hierdie teks volmaak vervul.

Hy het in die wêreld gekom om te dien en het Hom ontferm oor baie wat in nood verkeer het.

En so roep Hy ons ook op om barmhartig te wees:

“Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” (Joh 13:15)

So werk sy Gees ook in hierdie erediens, deur die bediening van sy Woord, in ons, om ons steeds meer barmhartige mense te maak.

Om die hart van klip te verwyder, en ons ‘n hart van vlees te gee.

In Christus se gemeente laat ons ons nie lei deur die motto ‘survival of the fittest’ nie.

Maar wie die HERE vrees, is barmhartig.

In Christus se gemeente oorleef die swakkes en gestremdes ook, meer nog, in sy gemeente mag hulle selfs te midde van alle gebrokenheid floreer.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Levitikus 19:1-2, 9-15 & Deuteronomium 27:18-19 & Johannes 9

Teks: Levitikus 19:14

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. In watter opsig reflekteer ons samelewing Christelike sowel as ewolusionistiese waardes?
  2. In watter opsig blink God se wette (sy Torah) veral uit wat betref regverdigheid?
  3. Hoekom word gestremde mense in hierdie wêreld so maklik agtergestel?
  4. Die oorsaak van gebreke en gestremdhede lê nie by God nie. Tog kan Hy dit gebruik. Hoe werk dit?
  5. Waarom was die man van Johannes 9, volgens Jesus, blind gebore?
  6. Hoe reik jy uit na jou gestremde naaste?

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 139:1,6

Wet

Ps 94:4-6

Gebed

Skriflesing: Levitikus 19:1-2, 9-15 & Deuteronomium 27:18-19

Ps 103:2

Skriflesing: Johannes 9

Ps 139:7,8

Teks: Levitikus 19:14

Preek

Ps 30:2,3,5

Gebed

Kollekte

Ps 146:4-6

Seën