Die finale beeld van die uiteindelike werklikheid

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-12-09
Teks: 
Daniël 12
Preek Inhoud: 

Vandag het ons gekom by Daniël 12 – die laaste hoofstuk; die laaste preek.  En wat ‘n reis was dit nie.  Ons is bemoedig in ons gebede en opgebou in ons daaglikse lewe terwyl ons geleer het hoe om in die wêreld te wees, maar nie van die wêreld nie.  Ons is herhaaldelik gewys op Christus – as die Een wat ‘n einde sal maak aan die finale ballingskap; as die Een na wie Daniël wys as ‘n persoon.  Ons het geleer hoe om te bid, wat dit beteken om tot bekering te kom en wat dit beteken dat God soewerein is.  Daniël het ons gedwing om terug te kyk na die heel eerste ballingskap uit die tuin van Eden en ons daarop gewys dat ons nie daarheen kan terugkeer nie. Ons moet verder gaan na die laaste ballingskap – die ballingskap van Jesus uit die Vader se teenwoordigheid.

Hy het die beeld van God se Groot Plan blootgelê, asook sy soewereiniteit, soos wat Hy die hele geskiedenis lei ter wille van sy volk.  Ons het begin met ‘n ballingskap uit die land en ons eindig met ‘n terugkeer.  Ons het begin met ‘n vertrek uit die land van die lewe, oppad na die doderyk, en ons eindig met ‘n terugkeer na die lewe.  Ons het begin deur te sê dat Israel in ballingskap was weens die vloek, en ons eindig met die vloek wat opgehef is.  Dit is ‘n boek wat verenig is in sy beeld van die koninkryk van God; ‘n beeld wat die kerk nooit uit die oog moet verloor nie, veral in tye van vervolging en moeite.

Ons geloof sal getoets en beproef word, maar God is getrou.  Sy heiliges sal triomfeer!  Die tye van verdrukking sal verkort word!  Die antichris sal oorwin word sodra hy die hoogtepunt van sy mag bereik.  Dit is die verhaal van die evangelie.  Die verhaal van die kruis.  Hy sal ‘n uitweg gee.  Hy sal die krag gee om te volhard, en Hy sal die tyd van vervolging kortknip ter wille van die kerk.

 

Die finale beeld van die uiteindelike werklikheid:

  1. Die hoop op heerlikheid
  2. Onbeantwoorde vrae

Die hoop op heerlikheid

Daniël 12:1 lees:  “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat daar ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie.”  Daardie tyd bring ons terug by hoofstuk 10 en 11, waar daardie bose persoon opgestaan het wat die opperste antichris uitbeeld, en teenoor hom het die beskermer van God se volk gekom toe hulle hom die meeste nodig gehad het, want daar sou ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nog nooit was nie.  In Mattheüs 24:21 word hierna verwys, wanneer Jesus die mense vertel van ‘n tyd van groot verdrukking soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie was nie.  Dit beteken dat Jesus asook Paulus se interpretasie van Daniël hier vir ons ‘n beeld wys van die voleinding van die tye.  Dit gaan oor die vervulling van al Daniël se gesigte; die vervulling van die tye!  Hy is besig om ons na die einde van die tye te druk.  Dit is gesentreer in Christus se eerste koms en word vervul met sy tweede koms.

Onthou, dit is alles steeds een gesig – ‘n gesig wat ek glo ons rig op die tweede koms van Christus.  Migael, die aartsengel van die Here, sal opstaan om sy volk in ‘n tyd van swaar benoudheid te beskerm.  Dit sal trouens die ergste ellende in die geskiedenis van die wêreld wees.  Wat gebeur egter met God se volk in benoudheid?  Wat gebeur met God se volk wanneer hul wêreld om hulle ineenstort?  Hulle reik uit, hulle roep uit en hulle hou vas aan die almagtige krag van hulle groot God.  Lyding kweek volharding, volharding kweek karakter en karakter kweek hoop, en hoop stel nie teleur nie.

Hoop is die produk van lyding – ‘n hoop wat nie teleurstel nie, want God se liefde is uitgestort.  Hierdie is nie ons tuiste nie.  Seker, ons kry hier spesiale voorsmakies van ons tuiste wanneer ons saam gemeenskap hou en van mekaar en God geniet.  Dit is egter nie ons tuiste nie.  Nee, ons sal eers tuis wees wanneer ons volledig dít word wat ons reeds nou in Christus is.  Wanneer hierdie wêreld losgemaak is van sonde!  Wanneer ons vry is! God is getrou.  Onthou, daar is niks wat ‘n kind van sy liefde kan skei nie.  Niks nie.  Nie eers die ergste teenspoed in die wêreld nie.  Ongeag hoe geslaan of gebroke God se kinders is, hulle hou vas aan die hoop op heerlikheid.

God sal nie een uit sy volk verlore laat gaan nie.  Selfs nie een nie.  Vers 1b sê: “maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.”  Elkeen wat in die boek van die lewe opgeskryf staan. Maar in dié tyd!  Elkeen.  Nie net party van ons nie, maar elkeen wie se naam in die boek van die lewe opgeskryf staan, sal gered word.  Nou is die volgende vraag altyd: “Hoe kan ek seker wees dat my naam in die boek van die lewe opgeskryf is?”

‘n Goeie vraag, maar laat my ‘n vraag vra:  Glo jy in jou eie krag?  Beskou jy jouself as goed?  Is jou geloof buite jouself in Jesus en hou jy aan Hom vas?  Reik jy uit na Hom wanneer jy bekommernisse het, of soek jy self ‘n uitweg?  Vertrou jy op God se getrouheid ongeag die omstandighede, soos wat Daniël en sy drie vriende gedoen het?  Hou jy vas aan Christus?!  Die Een wat tot die dood toe getrou was!  Die Getroue Getuie sal die regter wees!

Op daardie wonderlike, glorieryke maar ook vreesaanjaende dag sê Daniël: “Baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.”  Dit is wat sal gebeur.  Dit is die werklikheid.  Dit het beslis nog nie gebeur nie, anders sou ons al daarvan gehoor het.  Geliefde gemeente, dit kan niks anders wees nie as die laaste dag.  Daniël toon ons die ewigheid.  Openbaring hervat hierdie beeld in hoofstuk 20:11 en 12: “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.  En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen.”  Dit is niks anders nie as die oordeelstroon van God, voor wie elke mens wat ooit geleef het, sal moet verskyn.  Adam sal daar wees, saam met sy seun Kaïn; Daniël saam met Alexander die Grote, saam met Johannes Calvyn en Hitler.  Trump sal daar wees, so ook Ramaphosa, ek en jy.  

Hier kry Daniël se naam vervulling: my God is Regter.  Die Groot Regter maak sy boek oop en Hy veroordeel sommige, terwyl ander opgewek word tot nuwe lewe.  Geregtigheid sal uiteindelik geskied.  Wanneer God al die boosheid van die wêreld oordeel, sal alles wat met hierdie wêreld verkeerd is, ongedaan gemaak word. Sommiges sal opstaan tot die ewige lewe; ander tot skande en ewige versmading.  Lewe, omdat jy vasgehou het aan die woord van die lewe en getrou gebly het aan God, of skande en veragting weens al die dade wat op aarde in die geheim of in die openbaar gepleeg is terwyl die soewereine God geïgnoreer is.

Vers 3 gee ons ‘n verdere beeld van hoe die ewige lewe lyk.  En, sjoe, is dit nie ‘n pragtige beeld vir die kinders van God nie:  “die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.”  Aan die einde van elke hoofstuk en aan die einde van elke gesig in hierdie boek het ons gesien hoe die regverdige opgehef is en die bose verneder is.  Dit is die uiteindelike verheerliking!  Dit is waarvoor jy lewe!  Broeders en susters, ons sal skyn in die heerlikheid van God soos die helderheid van die hemel!  Die verstandiges sal glinster.  Hierdie boek wys ‘n man wat verstandig was. Om die Here te vrees is die begin van wysheid.  Die verstandige sal elke dag besluite neem op grond van wie hy weet sy God is.  Hy sal verstandig en wys lewe, enersyds in die wete dat God soewerein is en andersyds dat hy opgeroep word om getrou in die geloof te wees.  Dus nie ‘n fatalistiese God-is-in-elk-geval-soewerein nie.  En nie ‘n selfvoldane ek-moet-alles-op-my-eie-doen nie, maar wys.  Op hierdie manier sal die heerlikheid van ons God weerspieël word, soos sterre aan die hemel!  En daar is meer: “die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.”

Die wat baie tot regverdigheid lei”.  Hoe doen ons dit?  Deur wys te wees en ligte te wees, en vir mense te wys Christus is woord en daad.  Ons lei hulle tot regverdigheid; ons maak hulle nie regverdig nie.  Ons lei hulle daarheen, omdat regverdigheid in ‘n persoon gevind word – Jesus Christus.  Hý is ons regverdigheid en slegs in Hom kan ons regverdig wees.

Sjoe, wat ‘n skitterende beeld!  Maar nog ‘n keer in Daniël, amper soos ‘n deurlopende tema, sê God: die tyd het nog nie aangebreek nie.  God sê: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.”  Hy word beveel om die boek te verseël tot die tyd van die einde.  Die boek word hier verseël en eers met Jesus se wederkoms sal die boek se seël oopgebreek word, en dan sal die laaste hoofstuk van die geskiedenis geskryf word.  Die einde sal kom.  Daar is egter steeds vrae.  Hoe lank?  Wat sal die uiteinde wees?  Dit bring ons by die tweede punt.

Onbeantwoorde vrae

Regdeur hierdie boek het ons ‘n paar vrae gesien wat onbeantwoord gelaat is.  Ons ken nie die geskiedenis nie, maar God gee ons dit wat ons nodig het om op Hom te vertrou en aan Hom getrou te wees.

En ek, Daniël, het gesien, en kyk, daar het twee ander gestaan, die een duskant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier.”  Hy kyk dus op en sien voor hom twee ander (waarskynlik engelagtige wesens), een aan dieselfde kant van die rivier as waar hy is en een aan die ander kant.  Tussen hulle vloei ‘n groot rivier en bo die rivier is ‘n man geklee in linne, soos ons lees in vers 7a: “die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was”.

Een van die engelagtige wesens op die wal van die rivier vra vir die man bo die rivier:  “Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly?”  Nog ‘n miljoendollar-vraag, nie waar nie?  Hoe lank?  Dit is ook die vraag vir Daniël; ek kan my indink dat hy hierdie gesprek baie noukeurig volg, veral nadat hy gehoor het van die vreeslike benoudheid – hoe lank?  Dit is ook ons vraag – hoe lank?  Ons weet nie hoeveel langer ons nog kan aanhou nie.  Soms voel ons om op te gee, en ons gaan in trane op ons knieë en vra:  “Hoe lank?!  Ek glo; kom my ongeloof te hulp.  Hou my vas tot u beloftes vervul word!  Vervul u beloftes.”

Ons lees die man se antwoord, as ‘n mens dit so kan noem, in vers 7:  “Die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende:  ‘n Tyd, tye en ‘n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.”  Dit sal gebeur wanneer die mag van die Heilige Een verbreek is.  Wie is die mag van die heilige volk?  Wie is jou krag en toring?  Is dit nie Jesus Christus nie?  Wanneer is Hy gebreek?  Aan die kruis.  Die tyd, tye en ‘n halwe tyd verwys waarskynlik na drie-en-‘n-half jaar, maar dit kan ook verwys na die tyd wat Hy aan die kruis gehang het.

Dit is wanneer dit alles vervul is.  Nou is jou vraag dalk:  “Wag ‘n bietjie, dominee Johan, sê jy dat die opstanding reeds gebeur het en dat ek dit gemisgeloop het?”  ‘n Billike vraag, en ja, op ‘n manier het dit reeds gebeur.  Geliefdes, op ‘n manier glinster julle alreeds.  Deur geloof in Christus het jy met Christus opgestaan. Dit is ‘n spirituele werklikheid.  Julle is reeds die lig van die wêreld en julle skyn soos sterre in ‘n slegte en owerspelige geslag, soos Jakobus sê.  Christus se opstanding is ‘n waarborg van jou eie liggaamlike opstanding. Die nuwe skepping het die ou skepping betree, en Hy maak alle dinge nuut, een hart op ‘n slag.  En nee, dit het ook nog nie gebeur nie.  Daar is steeds ‘n dag waarop die finale oordeel sal plaasvind, maar vir die wat in Christus is, het daardie oordeel op ‘n manier reeds plaasgevind.  Soos ons graag sê: dit is die teologie van die reeds-maar-nog-nie. 

Dis geen wonder dat Daniël nie verstaan het nie, soos ons lees in vers 8:  “Ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge?”  Die eerste vraag was:  “Hoe lank?” En hy het gesê tot die mag van die heilige volk vernietig is.  Nou volg die tweede vraag:  “Wat is die uiteinde?”

Die antwoord, weer eens as ‘n mens dit so kan noem, volg in vers 9 en 10: “En hy het gesê:  Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.  Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.”

Daniël word weer ‘n keer beveel om die boek te verseël.  Waarom?  Omdat die woorde verseël is tot die tyd van die einde.  Wanneer daardie einde kom, sal dit vervul word.  En deur die vervulling van die woorde sal “baie gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel.”  Dit herinner ons weer aan die einde van Openbaring (22:10-11), waar daar staan:  “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.  Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.”

Sy antwoord aan Daniël word voortgesit in vers 11 en 12:  “en van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1 290 dae verloop.  Welgeluksalig is hy wat bly verwag en 1 335 dae bereik.”  Wat maak ons met hierdie antwoord?  Dit is ongeveer drie-en-‘n-half jaar.  Dit kan die prediking van Jesus Christus wees, en sy kruisiging en vervloeking.  Ek dink dit moet ‘n letterlike getal wees, omdat dit so presies is, maar dit het ook simboliese betekenis.  Byvoorbeeld, ek dink Jona was letterlik in die vis, maar dit was ook simbolies van Christus in die graf.  Dus, dit is ‘n spesifieke tyd wat aan God se volk gegee is.  Hoe dit ook al sy, dit is ‘n tyd wat kortgeknip word.  Dit sal nie die volheid van 7 bereik nie.  Dit maak sin in die lig van Mattheüs 24:22 waar Hy sê: “as daardie dae nie verkort was nie”.

Daar sal ‘n einde aan die benoudheid kom.  Die regverdige sal verheerlik word.  Een ding wat die boek Daniël telkens weer vir ons gewys het, is hierdie waarheid – verheerliking deur lyding.  Glorie deur vervolging.  Elke hoofstuk einding met die einde van die goddelose, die einde van vervolging en die verheerliking van die regverdige.  Selfs in hierdie laaste gesigte – hoewel dit by tye lyk of goddeloosheid en bose ryke die oorwinning behaal – is dit slegs tydelike instrumente vir die suiwering van God se volk.  ‘n Oorblyfsel sal behoue bly.  

Ek hou baie van vers 13:  “En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.”  Daniël, ook jy sal jou erfdeel ontvang.  Hy is uit sy erfdeel verban en nou beloof God aan hom die beste erfdeel.  God maak trotsaards klein.  God red sy volk.  God het ‘n plan.  Die dood sal oorwin word.  Die lewe is die erfdeel van die heiliges.

Onthou jy, in Daniël 1 het ons begin in Sínear – of die plek van Babel – in ballingskap. God se erfdeel is verwoes weens die sonde van sy volk.  Waar eindig ons?  “Jy sal weer opstaan aan die einde en jy sal kry wat vir jou as erfdeel bepaal is” (NLV).  Die heerskappy van sonde, boosheid en dood sal nie vir ewig aanhou nie.  Dit sal eindig.  Dit het in Christus geëindig, en ons verkondig met krag en mag die oorwinning van Jesus Christus aan die wêreld.  Die hoop op die oorwinning van die saad van die vrou.

Hierdie boek gaan oor God se uiteindelike oorwinning.  Nebukadnésar het almal beveel om die beeld te aanbid, maar God beveel almal om die beeld van die onsigbare God, Jesus, te aanbid.  Nebukadnésar gooi die regverdige in die vuuroond; God gooi die goddelose daarin.  God sal regverdige oordeel bring deur die goddelose te straf en die regverdige vry te spreek, en daardeur die geprofeteerde opstanding van die regverdige en die onregverdige in vervulling bring.  Geregtigheid sal geskied vir die kerk van Jesus Christus onder die kruis.

Jy sien, ryke kom op en gaan weer onder, maar God is getrou.  Ons sien dit in die heel laaste reël van die hoofstuk.  Daniël het gebly tot die eerste jaar van Kores.  Nebukadnésar het so hard probeer om hierdie man se identiteit uit te wis, maar Daniël – wat beteken “my God is Regter” – het gebly.  Hy het as jong seun van 14 jaar gekom en op 90 jaar gesterf.  Nebukadnésar se koninkryk het verdwyn; ander konings het gekom en gegaan. Daniël het gebly.  Dit is geskiedenis.  Dit is die belofte van die kerk in elke era.  Sion sal bly. 

Jy en ek, wat verenig is in Christus, sal bly.  Vir ewig. 

Hou hierdie week vas aan daardie belofte en, deur die krag van God, moenie ingee nie.

Amen.