God is die skrywer van die Toekoms en Hy bring dit tot ’n einde.

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-11-04
Teks: 
Daniël 11: 2 - 45
Preek Inhoud: 

Vandag kom ons by nog ’n uitdagende hoofstuk in Daniël.  Dit is die profesie oor die Siriese oorloë wat in soveel detail beskryf is dat baie predikante hierdie gedeelte dikwels oorslaan, om die gemeente nog ’n geskiedenisles te spaar.  Dit is ook ’n profesie wat só histories akkuraat geskryf is dat mense meen dit is onmoontlik dat dit voor die gebeure geskryf is.  Die enigste probleem is dat ons onbetwisbare bewyse het dat dit wel die geval was.  Die Griekse Bybel van die Ou Testament dateer tot ten minste 300 voor Christus en dit sluit die boek Daniël in, wat 150 jaar voor party van die gebeure dateer.  Vandag is dit steeds een van die mees gedetailleerde en akkurate verslae van daardie rowwe tyd tussen 500 v.C. en 100 v.C.

Soos een skrywer dit stel:  “Die profesie is in feite meer volmaak as enige geskiedenis, en dis so wonderbaarlik akkuraat, nie net tot die tyd van Antiogus Epifanus nie, maar ook in die tyd daarna, sodat ons kan saamvat: ‘Niemand kan tyd voorspel nie, behalwe die een wat tyd in sy mag het’.”

Dit is die oproep tot getrouheid in moeilike tye, om te glo dat God elke vredesverdrag, elke oorlog, elke bom, elke vervolging, elke oorwinning en nederlaag lei.  Hy lei elke daling en styging in die ekonomie.  Die swak Rand, die opkoms van Sjina, die val van Europa.  Hy lei die beweging van die Russiese troepe in die Krim, en die bendelede op die Kaapse Vlakte.  God werk te midde van moeilikheid, pyn, en hartseer in die kerk en in die land, sodat, soos vers 35 sê: “En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde.”  Niks is toevallig nie.  Niks is betekenisloos in Christus nie.  Die uitkoms van die geskiedenis is in die troonsaal van die hemel bepaal.  Onthou dat dit alles in die konteks staan van hoofstuk 10 – dit handel hier oor die stryd van Oorwinning en die lyding van God se kinders onder die mag van die bose.  Maar ook hulle bewaring onder die mag van God.

God is die skrywer van die Toekoms en Hy bring dit tot ’n einde.

  1. Die volgende 400 jaar... en verder

    1. Die Noorde en die Suide
    2. Die veragtelike persoon
    3. En verder
  2. Wat die geskiedenis ons leer

 

Die volgende 400 jaar... en verder:

Die Noorde en die Suide

In vers 2 lees ons: En nou sal ek jou die waarheid te kenne gee.  Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland.”  Dit gaan oor die res van die Persiese Konings wat eindig by Xerxes, wat deur al sy rykdom ongelooflike groot leërs versamel het.  ’n Antieke historikus skat dat daar omtrent 1 miljoen was, met 10 000 elite troepe, wat die Onoorwinlikes genoem is.  Die koninkryke van hierdie wêreld hou daarvan om te dink dat hulle onoorwinlik is in die grootte van hulle krag, maar, soos ons sal sien in die res van die visioen tot in hoofstuk 12, daar is net een Koninkryk wat onoorwinlik is.  Slegs een sal vir ewig bly bestaan.  Slegs een volk sal vir eiwg bly bestaan.   

In elk geval, die Perse en Xerxes was deeglik verslaan deur Alexander, van wie ons lees in vers 3: Dan sal ’n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil.”

Maar sy koninkryk is deur die wind weggewaai, want vers 4 vertel hoedat die hele ryk na die vier windstreke van die hemel verdeel is en dit word nie eers aan sy kinders gegee nie. Ag, hoe leeg en verganklik is al die mag en rykdom van die wêreld!  Vandag is dit hier en môre verdwyn dit weer.  Kyk na die hoeveelheid aandag wat Alexander die Grote kry.  Geskiedenisboeke staan volgeskryf oor hierdie man, maar hy kry in hierdie hoofstuk net 1 vers.

Die geskiedenis gaan oor dit wat in God se huis, in sy land en onder sy volk gebeur.  Alexander maak slegs ’n deel uit van God se verhaal, nie eens ’n groot deel nie.  Wat ons as groot en wonderlik beskou, is nie altyd so groot en wonderlik in God se oë nie.  En dit wat ons as onbelangrik beskou, is dikwels belangriker as wat ons dink.

In verse 4-20 volg ons twee van die vier koninkryke wat voortgekom het uit Alexander se ryk.  Hierdie koninkryke word die Noorde en die Suide genoem.  Noord en suid van wat?  Noord en suid van God se pragtige land; die plek waar sy heerlikheid woon.  Die eintlike name van hierdie koninkryke was die Seleukiede en die Ptolemeërs, wat die name was van die eerste heersers, asook dié van baie van die seuns, soos ons later sal sien.

Dit is die tyd van die 5 Siriese oorloë, soos wat die geskiedkundiges dit noem, en dit is een van die min kere waar Wikipedia en die Bybel amper perfek ooreenstem.  Gewoonlik sal ek Wikipedia nie aanbeveel nie, maar jy kan wel daar gaan lees oor hierdie oorloë en jy sal sien hoe dit ooreenstem met dit wat Daniël voorspel het sal gebeur.

Ons begin in vers 5.  Wat gebeur het is dat Egipte en Noord-Afrika aan Ptolemeus I gegee is nadat Alexander gesterf het.  Een van sy generaals, Seleucus I, het Sirië verower en het daar begin regeer.  Dus, nou was daar die Ptolemeërs in die suide, in Egipte, en die Seleukiede in die noorde, in Sirië.  Hierdie twee manne was vriende en daar was vrede tussen hulle.

Hulle het gesterf en hulle seuns het konings geword, Ptolemeus II in die suide en Antiogus II in die noorde (hulle het waarskynlik nie babanaamboeke gehad in daardie dae nie).  Hulle het ook ’n verdrag gesluit.  En, soos enige deeglike verdrag tussen twee regeerders, het dit ’n huwelik ingesluit.  Ptolemeus II het sy dogter, Bernice, na Antiogus gestuur om met hom te trou.  Die probleem was dat Antiogus reeds getroud was met Laodice.  Maar dit laat hom nie twee keer dink nie.  Hy skei gewoon van sy eerste vrou en neem dan die nuwe vrou van die verdrag, Bernice, as sy vrou.

Maar Ptolemeus II, Bernice se pa, sterf en sy seun, die broer van Bernice, word koning van Egipte.  Die man in die noorde, Antiogus, besluit dan om van Bernice te skei en met Laodice te hertrou.  Laodice is nie té gelukkig hiermee nie, en sy vermoor Bernice en Bernice se seun en vergiftig haar man.  Dit is waaroor vers 6b gaan.  Dan stel sy haar eie seun, Seleucus Callinicus II, aan as koning in 246 v.C.  Soos ons lees in vers 7a: “Dan sal een uit die spruite van haar wortels in sy plek oprys.”

Nou het ons dus Seleucus Callinicus II, seun van Laodice, bo in die noorde, en Ptolemeus III, broer van die oorlede vrou van die verdrag, Bernice, wat in die suide regeer.  Jy kan jou indink dat hy ook nie té gelukkig is daarmee nie dat van sy suster geskei is en dat sy toe vermoor is.  Hy kry toe sy leër bymekaar en is baie suksesvol, soos in vers 8a staan.  Die geskiedenis vertel vir ons dat hy 40 000 talente silwer, 2 500 afgodsbeelde en ’n hele klomp ander goed saamgeneem het.  In 240 v.C. probeer Callinicus ’n teenaanval loods, soos ons lees in vers 9, maar dit was nie suksesvol nie.

Hierdie gegewens is akkuraat!  En dit maak dit opwindend.  Maar wat ons moet onthou is dat, te midde van dit alles, het ons die klein Israel.

In vers 10 lees ons van ’n nuwe koning in die noorde, genaamd Antiogus III of die Grote, en in die suide regeer Ptolemeus IV of Ptolemeus Eugerates.  Die suide is soort van aan bewind; hulle beheer Sirië saam met Israel. Hy het die bron van mag.  Maar Antiogus besluit om hom aan te val en kom met ’n groot leër daar aan.  70 000 manne, 5 000 ruiters, en 73 olifante.  En hy kom tot in Sirië en Israel.

Dan lees ons in vers 11 dat die koning van die suide tot woede gedryf is.  Sou u nie ook nie?  As iemand by jou grens aankom met 75 000 manne?  Wat doen hy? Wel, vers 11 sê dat hy ’n groot leër bymekaar maak. 62 000 voetsoldate, 6 000 kavallerie, en 103 olifante.  Dan val hulle aan.  En ‘n mens kan maar sê die suide was baie effektief in die geveg.  Die noorde het 10 000 voetsoldate, 300 ruiters en 5 olifante verloor. Maar ons weet dat dit die noorde nie juis verswak het nie; dit het hom net nog kwater gemaak.  Soos ons sal sien in vers 13.

Na afloop van hierdie oorwinning het hy vir ’n tyd lank die Jode vervolg in Alexandrië, soos ons in vers 12 lees.  Daar word gesê dat dit alles begin het toe hy Jerusalem besoek het en probeer het om die tempel binne te gaan.  ’n Wonderwerk het gebeur en hy is hardhandig by die tempel uitgegooi.  Hy het toe teruggekeer na Egipte en ’n wrok gehou teen die Jode wat daar gebly het.  Hy het hulle geforseer om die Egiptiese gode te aanbid en, indien hulle geweier het, het hy hulle gemartel.  Die storie loop dat hy later berou getoon het nadat ’n priester, genaamd Eleasar, vir hom gebid het.

Dan lees ons in vers 13 weer van Antiogus III of die Grote, waar hy ’n veel groter leër bymekaar gemaak het. En dit is presies wat 13 jaar later gebeur het nadat die eerste leër oorwin is.  In vers 14 lees ons dat baie mense ook vanuit Judea en Sirië by hom aangesluit het, want hulle het moeg geraak vir die regering van Ptolemeus en het waarskynlik gehoop op onafhanklikheid.

Hulle was rebelse revolusionêres wat onafhanklikheid wou gehad het, maar, soos vers 14 sê, hulle was onsuksesvol in hulle doelwit om onafhanklikheid te verkry.  God het ander planne gehad.  Hulle sou slegs een heerser ruil vir ’n ander een.

In elk geval, hierdie man, Antiogus die Grote, kom af en hy wen.  Hy neem die hele Sirië en Israel in sy besit, en Ptolemeus IV word na Egipte gestuur.  Die stad in vers 15 is waarskynlik Sidon, waarheen die suidelike generaal ook gegaan het om terug te val.  Dit is weer eens verbasend om te sien hoe dit perfek pas.  En, soos hy sê in vers 16: “Hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land.”  Die land van God is onder ’n nuwe  bestuur. ’n Bestuur wat niks beter as die eerste is nie.

Dan besluit hy (vers 17) om sy mag te versterk en hy vorm ’n verbond met die koning van die suide.  Dis perfek, want Ptolemeus IV het gesterf en die troon is oopgelaat vir sy baie jong seun, Ptolemeus V.  Hy vermoed dat hierdie seun maklik gemanipuleer sal word, dus sluit hy ’n verdrag en gee vir hom sy dogter om mee te trou in die hoop dat sy die koninkryk aan hom sal oorgee.  Dit was die legendariese vrou van groot skoonheid genaamd Kleopatra.

Om ‘n lang storie kort te maak:  Die Bybel is weer eens korrek in sy voorspellings, soos in vers 17b staan: “Maar dit sal nie tot stand kom nie, en daar sal niks vir hom wees nie.”  Kleopatra het gehou van die mag wat sy gekry het deur die huwelik met die koningskind, en het saam met haar man, Ptolemeus V,  teen haar pa opgestaan.  Maar alles was ‘n groot mislukking.

En in plaas daarvan om Egipte aan te val, haal hy sy woede uit op die kuslande of die Griekse eilande, wat deel van Rome was.  Ongelukkig vir hom was Rome die verkeerde mense om mee te mors.  Soos vers 18b noem: “Maar ’n aanvoerder sal aan sy gesmaad ’n einde maak, ja, hy sal sy gesmaad op homself laat terugval.”  Die aanvoerder in vers 18 is waarskynlik Scipion, die Romeinse aanvoerder, wat ook vir Hannibal oorwin het.

Vers 19 sê: “Dan sal hy sy gesig wend na die vestings van sy land, maar hy sal struikel en val en nie meer gevind word nie.”  Weet u wat gebeur het?  Hy was so benoud nadat hy sy dogter en sy eer verloor het dat hy homself humeurig opgeruk het en huis toe gegaan het, waar hy die tempel van sy eie god (die tempel van Jupiter) geplunder het, sodat hy die Romeine kon terugbetaal vir wat hulle gedoen het.  Sy eie mense het so kwaad geword dat hulle hom vermoor het.  Die Bybel is alweer reg.

In vers 20 lees ons van sy seun, Seleucus IV, wat “’n geldinsamelaar deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek”.  Hulle moes elke jaar 1 000 talente aan Rome betaal as gevolg van sy pa se verliese.  Om dit te doen, beveel hy een van sy bevelvoerders om die tempel in Jerusalem te plunder.  Maar hy word vergiftig.  En dit stem ooreen met vers 20.

Het ek genoem dat ek hou van die waarheid van hierdie boek?  Die Bybel is vol met detail.  Ek hoop u is net so opgewonde soos ek oor die feit dat alles so met mekaar ooreenstem. 

 

Die veragtelike persoon

En nou fokus die Bybel nog meer op die persoon wat ons nou reeds ontmoet het, naamlik Antiogus Epifanus. Hy word in vers 21 “’n veragtelike” genoem.  Hoe sal u daarvan hou as u so voorgestel word – “’n onedele, veragtelike, bose persoon?”  Maar die Bybel beskryf die mense gewoon soos hulle was.  God sal nie die verkeerde, die verdrukking, die bose toesmeer nie.

Hierdie man gaan sit op die troon terwyl die ware erfgenaam ’n gevangene in Rome is.  Hy het geen reg gehad om die troon te bestyg nie, maar hy het dit oorgeneem deur misleiding, vleiery en omkopery.  Hy kom binne deur vrede en vriendskap voor te gee.  Hy kom in die plekke waar daar mag en rykdom is, soos ons lees in vers 24, en hy verkry mag deur vriendskappe te smee.  En dan, as hy die mag het, regeer hy met ’n ystervuis.

Hy oorwin ook die grootste gedeelte van Egipte, soos ons lees in vers 25.  Nie omdat die Egiptenare swak was nie, maar omdat die Egiptiese koning se eie raadgewers teen hom gedraai het, soos ons lees in vers 26.  Hy het daarheen gegaan om ’n huweliksfees by te woon en, terwyl hy daar was, het hy die koning se amptenare omgekoop om sy kant te kies.  Ptolemeus probeer terugveg, maar tevergeefs.  Uiteindelik sluit hulle ’n verdrag (eintlik lieg hulle vir mekaar.)  Dan word hierdie veragtelike man, Antiogus Epifanus, gedwing om terug te gaan om ‘n Joodse opstand uit te sorteer.   

Soos vers 28 sê, hy het opgetrek teen Jerusalem nadat hy van die ontmoeting in Egipte teruggekom het.  Hy het opgetrek teen Jerusalem en die stad geplunder, die mense wreed vermoor en verskriklike lyding veroorsaak.

Dan kom ons by vers 29 en 30.  Hy probeer weer dieselfde truuks deur die suide aan te val.  Hierdie keer het die koning van die suide genoeg gehad en hy laat die Romeine roep vir hulp.  Die Romeine stuur ’n afvaardiging van die senaat.  Hulle het die Egipte se graan nodig.  Dus, hulle kom.

Hulle kom na Antiogus en ontmoet hom op die slagveld voor al sy bevelvoerders.  En sê vir hom om huis toe te gaan.  En as u nou enigiets van hierdie man geweet het, sou dit beslis wees dat hy nie daarvan gehou het om verneder te word nie.  Hy het dus vir meer tyd gevra en sou die volgende dag terugkom.  Maar die senator het ’n stok opgetel en voor almal ‘n streep in die sand getrek en gesê:  As jy hieroor trap, dan sal dit ’n verklaring van oorlog wees.  Wel, Antiogus het geweet hy sou nie kon wen nie, dus is hy voor almal verneder en het na Jerusakem teruggekeer.  Daar haal hy sy vernedering en frustrasie op almal uit.  Dit is die drie-en- ’n-half jaar se skrikbewind waarvan ons hoor in hoofstuk 8; dis ‘n soortgelyke verhaal hier in verse 33-35.

Dit was ’n aaklige tyd.  Hulle het die vroue wat hulle kinders laat besny het, vermoor, asook hulle families en die mense wat hulle besny het; hulle het die kinders aan hulle moeders se nekke laat hang.  Maar baie in Israel het sterk gestaan en was vasbeslote in hulle harte om nie onrein voedsel te eet nie.  Hulle het gekies om te sterf eerder as om vervuil te word deur voedsel of deur die ontheiliging van die heilige verbond; en hulle het ook gesterf.  En ’n verskriklike groot toorn het oor Israel gekom. Geliefde gemeente, dit is ’n sterk oproep vir God se gemeente om getrou te bly.  Daniël sien heelwat duistere dinge, maar hier te midde van die duisternis is daar lig!

’n Getroue oorblyfsel.  ’n Tema wat deur die hele Ou Testament loop.  Die geloof wat vashou aan die beloftes, ongeag die omstandighede.  Want hulle weet dat, wat ook al gebeur, God sal getrou bly. En dit is hierdeur dat die mense gesuiwer word.

 

En verder

En dan kom ons uiteindelik by vers 36 tot en met die einde.  Dit is waar dit lastig raak, want die taal verander nie, maar dit lyk asof hier gepraat word oor iemand anders as Antiogus Epifanus.  Soos die bekende kommentator Matthew Henry sê: “Die res van hierdie profesie is baie moeilik, en kommentators verskil baie hieroor.  Vanaf Antiogus lyk dit asof die verslag nou skuif na die antichris.”

Hier sien ons hoedat die man verder wys as net homself, in ’n sekere sin verwys hy na die antichris van elke era, maar ook na ’n spesifieke persoon.  Want dit sou vreemd wees as die hele hoofstuk so spesifiek is, maar die laaste gedeelte nie.  Sommiges dink dat dit die Romeinse keisers kan wees, ander dink dat dit iemand is wat nog moet kom, omdat hoofstuk 12 ons na die tweede koms van Christus neem!

Hier rek God die geskiedenis tot by Christus en verder.  Waardeur Hy sê dat Hy die Skrywer van alle dinge is! Selfs hierdie man wat ongehoorde dinge teen die God van alle gode sê en homself verhoog bo alle dinge! Selfs hierdie man, alhoewel hy vir ’n tydjie suksesvol was, sal tot ’n einde kom.  Jy moet glo – juis ook in die donker tye.

Want hier het ons ’n man wat homself bo alle dinge verhef!  Hy sê selfs ongehoorde dinge teen die God van alle gode!  En raai wat?!  Hy sal vir ’n tyd daarmee wegkom!  Dit is skokkend...  maar dit sal net vir ’n tyd wees.  Want, net soos in elke ander hoofstuk in Daniël, sal ook hierdie man tot ’n einde kom – met niemand wat hom help nie.  Wat ook al hy is, waar ook al hy is, hierdie satanistiese man sal tot ’n einde kom.  Of hy nou in die verlede is en of hy nog sal kom.  Dit sal eindig.  Satan sal uiteindelik in die put gegooi word. Dit is dieselfde tema as in Openbaring.

Laastens, wat doen ons met al hierdie inligting?  Wat nou?  Hoekom op dees aarde het ek nou vir julle die geskiedenis van daardie antieke wêreld gegee?  Watter goeie dinge sal hierdie week daaruit voortvloei?

 

Net enkele lesse:

Eerstens, maak gereed vir oorlog...  die geskiedenis gaan oor die grootste stryd van almal.  Die geskiedenis draai om die kerk.  Dit fokus op hierdie koninkryke.  Hoekom?  Want God gee om vir sy kerk, sy land, sy Koninkryk.  En hierdie konings en koninkryke het God se Koninkryk probeer vertrap.

Tweedens, vir ons God is die toekoms soos die verlede.  Dit behoort aan Hom.  En Hy het dit aan sy volk bekendgemaak, sodat hulle mag weet dat Hy ten volle in beheer is.  En daardie kennis lei tot getrouheid. Dit is asof hierdie hoofstuk uitroep na sy kinders van elke eeu!  SIEN JY DIT?!  EK WEET PRESIES wat sal gebeur!  Ek is Soewerein.  Ons kan terugkyk en sê: SJOE!  Hoe groot is ons God!  Ons hoef nie te vrees vir die toekoms nie.  Ons hoef nie ons eie bestemming te skep nie. Ons moet getrou wees, en vertrou.

Derdens, Hy sal sy volk nie verlaat nie.  Selfs in die moeilikste tye.  Dit is juis wanneer sy volk verdruk word en wanneer die duisternis op sy donkerste is dat sy volk se lig die helderste skyn.  Ons sien dit in Europa en Noord-Amerika, en ook hier.  Die ware kinders van God word skielik openbaar in ’n post-Christelike wêreld waar mense nie kerk toe gaan omdat dit goed lyk of dalk vir sosiale voordele nie.  Baie mense spring op die trein van Christenskap, maar wanneer die kultuur verander, spring hulle net so vinnig weer af.  Wanneer kultuur teen die kerk draai, mag die ware kinders van God soos sterre skyn.

Laastens, daar is drie maniere waarop jy na die geskiedenis kan kyk.  Beheer: beheer oor omstandighede, beheer oor jou eie lot, jou werk – deur hard te werk om seker te kan wees van ’n perfekte beroep, ’n perfekte huweliksmaat, ’n perfekte huis.  As ons op hierdie manier na die geskiedenis kyk, sal ons vol kommer en woede wees elke keer wanneer die lewensomstandighede nie is soos wat jy dit verwag het nie.  Of miskien is jy die passiewe fatalis, wat glad nie gedrewe is nie, en toelaat dat die toekoms jou vorm.  Dit lei tot sinisme of apatie as jy besef dat jy nie die omstandighede kan beheer nie.

Maar hier, in hierdie hoofstuk, word ons gewys op ’n derde manier.  Die pad van geloof en vertroue – ’n aktiewe geloof dat God die geskiedenis bestuur, ter wille van sy kerk. 

Dat hierdie stryd in oorwinning sal eindig.

Amen.