Jesus word versoek om sy missie as die Seun van God te laat vaar, maar Hy hou vas aan die Woord

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-07-14
Teks: 
Mattheus 4: 1 - 11
Preek Inhoud: 

In sy doop het ons gesien dat Hy die Koning van Psalm 2 is, die Koning wat oor die nasies sal heers.  En ook die dienskneg van Jesaja 42.Jesus is dus bevestig as die Seun van God.  Nou is die vraag: wat doen Hy daarmee?  Gebruik Hy dit vir Homself, of gebruik Hy dit in diens van sy Vader?

Ons lees in v 1: “Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.”  Let op hoe dit geskryf staan – Jesus word deur die Gees gelei om die Satan te gaan konfronteer.  Die Satan kom nie na die mens toe soos in die tuin van Eden nie, nee.  Die mens kom na die Satan toe om hom te konfronteer.

Vir Jesus om die vloek ongedaan te maak, sou Hy moes slaag waar Adam misluk het.  Maar die omstandighede lyk hierdie keer heeltemal anders.  Adam en Eva is versoek in ‘n tuin waar hulle versorg was met genoeg om te eet.  Jesus het niks om te eet in die woestyn nie.  Adam en Eva was saam, tevrede en gelukkig.  Jesus was alleen en honger.

Maar daar is nog ‘n parallel wat eintlik baie duidelik is, met die volk Israel wat uit Egipte gehaal is na die woestyn om vir veertig jaar getoets te word, net soos wat Jesus nou getoets word.  Jesus se woorde kom dan ook almal uit Deuteronomium 6-8, en daardie gedeelte begin met seker die bekendste aanhaling uit die Ou Testament, die sg. Shema: “Hoor, Israel, die HERE onse God is 'n enige HERE.  Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” (Deut. 6:4-5)

Sal hy die Here sy God liefhê?  Sal hy die getroue Seun wees, die een wat sy volk uit slawerny sal lei?  Sal die nuwe Israel sterk wees waar die ou Israel gestruikel het?

Die kinders van God het daar ‘n paar lesse geleer: die mens leef nie van brood alleen nie, maar van God se Woord (8:3); moet God nie versoek nie (6:16); en aanbid net vir God (6:13).  In ons teks in die woestyn word nog ‘n Seun van God getoets, maar waar die seun Israel gedruip het, het die Seun Jesus geslaag.  Waar die eerste Adam misluk het, het die tweede Adam getriomfeer.

‘n Baie ou lied lui:

O loving wisdom of our God;
when all was sin and shame,
A second Adam to the fight,
and to the rescue came.

Oh, wisest love, that flesh and blood,
which did in Adam fail,
should fight again against the foe,
should fight and should prevail.

 

Jesus word versoek om sy missie as die Seun van God te laat vaar, maar Hy hou vas aan die Woord:

  1. Voed jouself
  2. Bewys jouself
  3. Kry wat jy wil hê

1. Voed jouself

Ons lees in v 2: “En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.”  Jesus is in die woestyn.  Hy is honger.  Herinner dit jou aan iemand?  Natuurlik – die Israeliete.  Hulle was ook in die woestyn, honger. 

Julle onthou wat gbeur het? Dit het nie baie goed gegaan nie.  As hulle maar een maaltyd gemis het, dan was hulle ontsteld. Jy sou dink hulle was ‘n klomp rykmanskinders!  Hulle dreig sommer vir God: “Gee ons iets om te drink of ons raak ontslae van Moses en gaan terug Egipte toe!”  Nogal ‘n toets vir ‘n ware Israeliet.

Jesus was alleen en honger.  ‘n Maklike prooi vir ‘n wilde dier.  Ons lees in v 3: “En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.”

Die versoeker, dit is sy naam; dit was sy naam van die begin af.  En hy was heel suksesvol met mense soos Adam, Dawid, Israel.  Nie met Josef, Job en Jesus nie. Maar een ding moet jy onthou: hy gee nooit moed op nie.  En die enigste ding wat hom kan stilmaak is die Woord van God self.  Natuurlik, want God self sal sy kop vermorsel.

Nou sê die versoeker: “As U die Seun van God is...”  Hierdie is belangrik om te verstaan, want dit is wat die Satan probeer doen.  Die Satan twyfel nie dat Jesus die Seun van God is nie.  Nee, hy bedoel dat Jesus dit tot sy eie voordeel moet gebruik. Hy sê Jesus moet sy Seunskap gebruik op ‘n manier wat nie ooreenstem met die wil van sy Vader nie.

Die Satan sê: “Gaan voort, eet gerus.  Jy is mos die Seun van God.  Kyk goed na jouself. Dit is baie belangrik.”  En jy kan jou indink hoe ‘n groot versoeking dit is.  Hoe maklik dink ons nie ons eie welsyn is belangriker as wat God van ons vra nie.  Maar Jesus se honger het dieselfde doel as Israel se honger: om te wys dat kos NIE alles is nie.  Dit is die rede vir Jesus se honger!  En as Hy nou sou eet, sou Hy daardeur wys dat sy prioriteite anders is as God s’n.

En die Satan probeer hom verlei om nie die pad van die lydende, gehoorsame dienskneg te neem nie.  Satan wil nie hê dat Hy die lydensweg na die kruis neem nie, maar die rykmansweg na ‘n gemaklike lewe.

En Jesus antwoord: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”  Jesus sê: nee, dit gaan nie oor my welsyn nie, maar dit gaan oor gehoorsaamheid aan God.  Dit is my brood.  Dit is my lewe.  Ek sou my Goddelike Seunskap misbruik as ek daardeur brood in die hande sou kry.  Dit sou ongehoorsaamheid aan God wees.

Eers nadat die volk hulle honger leer ken het, het God hulle gevoed.  En nie op hulle tyd nie, nee, op God se tyd.  Pyn en lyding, honger en swaarkry: dis dikwels middele wat God gebruik om ons te louter, om ons nader aan Hom te bring.

Let ook op dat die woorde uit die mond van die Here Jesus se brood is.  Elke enkele woord.  Nie net ‘n paar woorde nie.  Nie net die maklike woorde nie.  Nie net die woorde wat Hom gewild sou maak nie.  Ons Here Jesus het die Bybel gelees, om te lewe volgens elke ding wat God gesê het.  Hy het geweet: die Skrif is God se asem.  Hy het verstaan: die woorde wat Hy op daardie boekrol gelees het, kom uit die mond van God.

Voordat ons nou by die tweede versoeking kom, net ‘n paar praktiese gedagtes.

Ons moet besef dat ons nooit so swaar beproef sal word soos Jesus nie.  Ons is nie die Seun van God nie, ons vas nie vir veertig dae nie en dis onwaarskynlik dat die Satan jou so persoonlik probeer verlei.  Hierdie gebeure was nodig om Jesus se Seunskap te bevestig.  En dis ook die rede waarom Jesus saam met ons kan voel, want Hy was op elke denkbare manier ten swaarste beproef, maar het nooit daarby gesondig nie.  En daar is ook ‘n paar dinge wat ons hieruit kan leer.

Sien u ook dat die Satan Jesus op sy swakste kry, as Hy op sy kwesbaarste is?  Honger en alleen.  Dis juis die Satan se plan.  Vang hulle op hulle slegste: alleen en swak.  Die Satan weet presies wat hy doen.  Is dit nie dikwels so dat, as jy alleen is, dat jy die grootste verleiding voel tot sonde nie – luiheid, lusteloosheid, wellus?

Let verder ook op: die Satan probeer Jesus nie verlei tot blatante, duidelike sonde nie.  Hy is baie subtiel besig.  Hoe sterker die weerstand teen die sonde, hoe meer subtiel die verleiding.  En dis goed so, net nie op daardie oomblik nie, veral nie vir Jesus op daardie spesifieke tyd nie, want dit moes Hom aflei van sy uiteindelike missie.  Beproewing kan ‘n goeie ding wees, maar soms kan dit jou van koers af bring, en ook dan moet jy kan nee sê.

Die vraag wat ek en jy uiteindelik moet antwoord is: Wat is vir jou die belangrikste?  Jesus het geweet: om sy kinders met die brood van die lewe te voed, sou Hy moes ly, sou Hy Homself moes offer.  Wat ‘n ironie eintlik.  Jesus is honger, maar Hy voed duisende.  Hy verander nie klippe in brood nie, maar gee sy eie liggaam as brood.  Kom ons kyk nou na die tweede versoeking.

2. Bewys jouself

In v 5 is die tweede versoeking: “Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan, en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie.

Die duiwel neem Hom na die hoogste punt van die tempel, die top van die huis van God, sodat Hy van daar die hele heilige stad kan aanskou en hier bewys dat Hy die Seun van God is.  As U rêrig die Seun van God is, maak God se beloftes dan waar en vertrou.  God sal wel moet optree as U dit doen.

Sien u wat die Satan hier doen?  Die Satan probeer Jesus verlei nie om God te vertrou nie, maar om God uit te daag!  Een kommentator stel dit so mooi: Die mens kan die heer van God word en Hom dwing om op te tree op grond van sy geloof in Hom”. Maar dan dien God mos die Seun, en nie andersom nie.

Die duiwel gebruik selfs die Bybel hier.  of eerder: misbruik.  As jy ooit gewonder het: Satan ken die Bybel baie goed.  Maar hy sal daardie woorde wat lewe moet bring, gebruik om jou dood te maak.  Dis waar, as jy die Bybel verkeerd wil gebruik, kan jy ontsaglik baie skade daarmee aanrig.

Satan haal dus uit die Bybel aan, maar as hy maar enigsins op die konteks gelet het, sou hy gesien het die Psalm gaan daaroor God te vertrou, nie om God te toets nie.  Want dis die volgende reëls in die Psalm wat Satan aanhaal: “Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap."  Dis so ironies dat Satan geweet het dat hierdie Psalm juis gaan oor Jesus wat Satan die leeu, Satan die adder, sal vertrap!  Eers toe Hy hom daar in die woestyn oorwin, en later aan die kruis.

Jesus antwoord weer uit Deuteronomium 6:16, juis om te wys dat die versoeking ‘n toets is: “Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” (v 7)  Die duiwel wou Jesus versoek om daardie stem uit die hemel by sy doop te wantrou, om sy Vader se liefde te wantrou.  Asof Jesus sy Vader moet uitdaag om sy liefde te bewys pleks daarvan dat Hy net vertrou, asof sy Vader moet bewys dat Jesus hom kan vertrou voor Jesus Hom kan glo.

Om vir ‘n bewys, ‘n teken van Seunskap te vra was verkeerd, vir beide Jesus en Israel.  Om te vra vir bonatuurlike beskerming as bewys van God se sorg was verkeerd.  Die regte houding was vVertroue en gehoorsaamheid, soos ons lees in Deuteronomium 6:1. Jesus het nie nodig gehad om ‘n teken te gee dat Hy die Seun van God is om die Seun van God te wees nie!

Maar kom ons kyk nou na ‘n paar praktiese oorwegings.

So dikwels wil ons self ‘n teken hê, veral as ons swaarkry en ly. “Gee my net ‘n teken”, sal ons uitroep.  Maar Jesus was honger en alleen en Hy het nie ‘n teken nodig gehad om te weet die Vader het Hom lief nie.  Hy het geweet!  Geen toets nodig nie.

Vertrou jy so?  Jesus moes hierdie toets, hierdie versoeking deurmaak om Hom voor te berei op die lyding wat sou volg.  Jesus moes vertrou ten spyte van die omstandighede.  Hy sê nogal tot twee keer toe: “‘n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.”  Met ander woorde: die opstanding is die laaste en enigste teken wat ons nodig het.

Het jy bewys nodig dat God vir jou is?  Kyk na die opstanding – die enigste bewys wat jy ooit sal nodig hê.  Alle hoop dat hierdie lewe iets beteken lê opgesluit in die liggaamlike opstanding van Jesus Christus, die Seun van God.  Het jy versekering nodig dat God deur jou pyn, trane en lyding besig is met jou? – kyk na die opstanding.

Let ook op na die kontras tussen hoe Satan die Skrif gebruik en hoe Jesus dit gebruik.  Jesus sal nooit die Skrifte mekaar laat weerspreek nie.  Die versoeking kan groot wees om die Bybel tot jou eie voordeel te gebruik.  Dan haal jy sommer ‘n vers aan wat jou pas, sonder om die hele Skrif in berekening te bring.

Maar daar is net een Woord van God.  Die Bybel weerspreek homself nie.  God praat nie met twee monde nie.  Ons sal dalk een teks gebruik wat ons die beste pas, maar 'n ander teks in 'n ander situasie.  Maar Jesus sal nie een teks kies wat Hom die beste pas nie.  Hy leef volgens die hele Skrif.

Jesus vind in die Skrif oorvloedige rede om God te glo, om Hom te vertrou. Terwyl die Satan so besig is om Hom te versoek, weet Hy dat daar ‘n reuse verskil is tussen God vertrou en God versoek.  Die een verneder homself onder die Woord van God; die ander verneder die Woord onder ons begeertes.  Jesus wou nie groter wees as God se Woord nie, nee, altyd minder, altyd gehoorsaam aan God se Woord.  Hy het die Vader vertrou soos die Woord Hom geroep het om te doen.

3. Kry wat jy wil hê

Uiteindelik neem die duiwel Jesus na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke op aarde.  V 8 & 9: “Weer neem die duiwel Hom saam na 'n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.”

Dis mos waarvoor U gekom het?  Gesag oor alle nasies!  Dis mos wat U wil hê?  Wel, U mag alles hê, sonder die kruis, daardie aaklige, grusame kruis.  Buig net neer.  Neem die pad van die minste weerstand, en U is die Koning van die konings.  Neem die pad van wêreldse vrede, Jesus.

Maar let op wat die duiwel aan Hom wys: “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid”.  Let op wat hy Hom nie wys nie: die SONDE.  Die gebrokenheid.  Die haat.  Ja, dit was Jesus se doel om gesag oor alle nasies te hê, nie vir Homself nie, maar dat hulle HOM sou ken en aanbid.  Hy wil nie die Satan se koninkryk hê nie, hy wil die Satan se koninkryk oorwin.

Eendag sal Jesus op ‘n ander berg staan en verklaar dat Hy inderdaad gesag het oor alle nasies.  Nie net alle gesag op aarde nie, maar ook alle gesag in die hemel, wat Satan nie kon gee nie.  Satan gaan nie baie subtiel te werk nie.  Sy aanbod het die regte uiteindelike doel, maar ‘n totaal verkeerde pad daarheen.

Hierdie keer is die versoeking heel blatant.  Satan gee nie meer voor nie, hy sê reguit wat dit is wat hy eintlik wil hê: aanbidding.  Hy wil die middelpunt wees.  En dit is hierdie aanspraak van die duiwel op gesag wat Hy uiteindelik aan die einde van die evangelie van hom sal wegneem. Nie deur aanbidding van Satan nie, maar deur die verplettering van Satan deur sy eie dood en lyding.

Jesus antwoord: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (v 10)  Jesus haal Deuteronomium 6:13 aan; direk daarna volg die opdrag om nie agter ander gode aan te loop nie in Deuteronomium 6:14.  Drie keer haal Jesus die Skrif aan, drie keer is die Satan oorwin, en hierdie derde keer is die uitklophou.

Voor ek afsluit, net nog ‘n paar opmerkings.  Het dit jou opgeval dat Jesus elke keer die Skrif aanhaal?  Jesus ken sy Bybel, al van kleins af.  Dit was nie soos ‘n towerspreuk wat Hy gebruik het nie, of ‘n beroemde dominee wat Hy aanhaal nie.  Dit is die Woord van God!  Die Woord wat uiteindelik oor Hom gaan.  Die Woord wat kragtig en effektief is.

Wil jy groei in geestelik oorlogvoering?  Leer jou Bybel ken en gebruik dit.  Dit is tegelyk ‘n skild en ‘n swaard.  ‘n Skild teen die aanvalle van die duiwel en ‘n swaard om deur sy leuens te sny.

Satan soek Jesus se nederlaag, en hy sou die koninkryke van die wêreld daarvoor gee.  Hy wou Jesus gee wat hy self wou gehad het.  Dis miskien voor die hand liggend, maar besef goed dat Satan ons probeer versoek met dit wat ons graag wil hê.  Anders sou dit nie versoeking wees nie.  En vind hy ons waar ons op ons swakste is, val hy ons aan en maak ons dood.

‘n Voorbeeld:  Ons was seker al almal by ‘n partytjie in die somer waar daar baie soetgoed is en die bye rondvlieg.  By een so ‘n partytjie is daar toe so ‘n by wat op die kos gaan sit.  Iemand vat ‘n bottel gaskoeldrank en sit dit naby die by neer.  Jy sou verwag dat die by sou wegvlieg vir sy eie veiligheid, soos wat ‘n skoenlapper sou doen, maar nee. Sonder ‘n oomblik se huiwering vlieg die by na die bottel, gaan sit op die rand van die bek en klim binnetoe.  Onmiddellik draai iemand die doppie weer op.  Die by het die res van die middag daar in die bottel geniet, maar as ek reg onthou, het niemand hom weer vrygelaat nie.

Wat was die bedoeling daarvan om die by te lok?  Was die persoon besorg oor die by en wou hy gehad het dat die by die partytjie geniet?  Nee, natuurlik nie.  Hy wou die by vang, en hy het dit reggekry deur hom te versoek.

Hoekom sal Satan jou aanmoedig om van die lewe te geniet op ‘n manier wat God se perke oorskry?  Wat is sy bedoeling?  Sodat jy van die goeie wat God gee, mag geniet?  Nee!  Satan minag die mens.  Sy doel is om jou te vang en jou te beheer.  As jy die duiwel volg, dan loop jy reguit in ‘n lokval in.  Ons kan maar al te gou gemaklik raak oor versoekings, maar wees verseker dat Satan gereed staan om jou te vang as jy op jou swakste is.

En mag ons groei in ons Here Jesus Christus in sy gehoorsaamheid aan die Vader. Net soos Jesus heeltemal gefokus was op die Vader in hierdie gedeelte: sy ore gespits na God se mond (v 4), sy hoop gevestig op God se hart (v 7), sy diens gewy aan God se troon (v 10).

En dan eindig ons met v 11: “Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.”  Die duiwel is oorwin en verlaat die slagveld.  En Jesus word versorg.  Dis so mooi.  Weerstaan die duiwel, en jy sal sien hoe hy van jou wegvlug.  Ons mag staande bly in die krag van Christus se oorwinning.  Hy is 'n Verlosser wat versoeking oorwin het. Hy weet wat dit is. Julle almal sal hierdie week versoeking moet weerstaan.  Julle sal almal aangeval word. Selfs vanmiddag al. Jou Verlosser verstaan jou. Hy was in die versoeking. Gaan na Hom toe, Hy sal 'n uitweg gee.  Dit is omdat Hy staande kon bly dat ons staande kan bly. 

Die dag kom dat Jesus ons tuis bring.  Hy sal vir ons sorg as ons deur moeilike tye gaan in hierdie lewe.  Deur hierdie oorwinning weet ons dat Hy simpatie met ons het, en dat Hy die mag het om ons te verlos.

Amen