Die Seun van God, Jesus Christus, kom!

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-07-14
Teks: 
Mattheus 3: 11 - 17
Preek Inhoud: 

There's a man in yonder glory I have loved for many years,

He has cleared my guilty conscience and has banished all my fears.

He is coming in a moment in the twinkling of an eye,

And no time will be allotted for you to utter one good-bye.

No time to kiss the husband or embrace the loving wife,

If they are but united in the bonds of holy life.

Are you ready, Christian, ready, for shout and trump and voice?

Will His coming make you tremble or cause you to rejoice?

Are you walking, talking with Him daily, taking Him your care,

Do you live so close to heaven that a breath would waft you there? 

 

Die woord “Maranata” is ‘n Siriese uitdrukking wat beteken: “ons Here kom”.  In die vroeë kerk is dit as ‘n groet gebruik.  As gelowiges vergader of afskeid geneem het, het hulle nie “hallo” of “totsiens” gesê nie, maar “Maranata!”  As ons vandag ons oë ook so na bo sou rig, sou dit ‘n groot verandering in die kerk teweegbring.  O, as God se volk maar net 'n verdiepende bewustheid sou gehad het van die naderende terugkeer van die Verlosser!

Die liedskrywer Horatius Bonar het ons vermaan om “gereed te wees vir die laaste oomblik deur gereed te wees vir elke oomblik… om elke plig so na te kom dat, wanneer ook al Hy kom, Hy die huis in orde vind, wagtend op sy koms.”  Die basuin kan enige tyd klink.  Hoe belangrik is dit vir ons as Christene om “gepak en gereed” te wees. 

As jy vandag die huis verlaat, moenie “totsiens” sê nie, sê: “Maranata!”

 

Die Seun van God, Jesus Christus, kom!

  1. Hy kom na ‘n onwaardige volk
  2. Hy kom om die waardiges van die onwaardiges te skei
  3. Hy word gedoop as die Een wat waardig is

 

Hy kom na ‘n onwaardige volk

Johannes sê in vers 11: “Ek doop julle wel met water vir bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.  Hy sal julle doop met die Heilige Gees…”  Hy kom na ‘n onwaardige volk. 

Ons sien dit hier op twee maniere.  Die oproep tot bekering en die feit dat selfs Johannes onwaardig is om sy skoene aan te dra.

Ten eerste: hy sê dat hy hulle doop met water vir bekering.  Dit laat sien wie ons is.  Dit gaan nie oor verskonings nie, dit gaan oor ‘n nuwe lewenswyse.  Glo my, die meeste mense sal verskonings uitdink oor hoekom hulle doen wat hulle doen.  “Dis net wie ek is”, sal een sê.  Waarop ek sal antwoord:  “Ja, dit is wie jy is en die Bybel sê jy moet verander.”  “Ek kan nie help nie,” sê ‘n ander.  “Ja jy kan nie, daarom sê die Bybel dat jy God nodig het.”  Of iemand anders sal sê:  “Ek het dit gedoen, want ek is moeg en gespanne.” Maar van wanneer af lei spanning en moegheid daartoe dat jy sondig?  Jou reaksie tot daardie omstandighede is die sonde.  “Ek het gesondig, want daardie persoon het veroorsaak dat ek sondig.”  Nee, eintlik het jou eie sondige hart toegelaat dat daardie persoon jou tot sonde lei.  Daar is miljoene redes waarop ons die skuld vir ons sondes kan pak, solank ons ons nie hoef te bekeer nie.  Maar die Bybel is doodeerlik oor die toestand van die menslike hart!  Dit is dood.  Dit is donker.  Dit is verhard.  Dit is verdorwe.  Dit is bedrieglik.

En selfs die heiligste onder ons is so.  Die allerheiligste gelowiges is so.  Paulus het homself die mees verdorwe sondaar genoem.

Selfs Johannes, van wie Jesus sê dat hy groter is as al die Ou-Testamentiese profete, sê “ ... maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.  In die ou nabye Ooste was die aandra van sandale ‘n taak van die laagste slaaf.  Wat Johannes sê is dat hy nie eens waardig is die slaaf te wees van die Een wat na hom kom nie.  Hier is iemand wat sy eie onwaardigheid verstaan, en ook die Messias se grootheid en mag.  Hy is hierdie man onwaardig.  Hy verdien nie die Messias nie.

Dit is soos die ouer broer in die verhaal van die verlore seun, wat dink dat hy – aangesien hy sy vader gehoorsaam het – ‘n reg op die sy erfenis het.  Eerder as om te besef watter voorreg ons het.  Geliefde gemeente, ons is nie eens waardig om sy sandale aan te dra nie, maar tog het Hy gekom ons ons te dien! Watter nederigheid, watter prag!

Johannes sê: “Ek doop julle wel met water tot bekering ... Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”  Die water van die doop was ‘n teken van die afsterwe van ‘n ou lewe, en die koms van nuwe lewe.  Maar die Heilige Gees was nuwe lewe!  Johannes kon slegs die Teken gee, maar Jesus bring die werklikheid.

Vuur word dikwels ‘n suiweringsmiddel genome.  Die Bybel wys ons dat vuur alles wat boos is, wegbrand.  Dit is die reinigende vuur van die Gees wat louter en heilig maak, wat die vuilheid en die drek wegbrand, en ons rein maak.

Johannes sê, “Hy kom!  Ek is onwaardig om sy sandale aan te dra!  Ek kan slegs simboliese reiniging aanbied, Hy gee die Heilige Gees wat alleen lewe kan gee!” Dis nou tyd om te luister, om jul harte vir Hom voor te berei.

Johannes se prediking is dringend.  Hy kom!  En soos vers 10 sê: “Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome.”  God sal julle uitkap saam met die heidense nasies.  Saam met verlossing kom veroordeling.  Die een kom nie sonder die ander nie, geliefdes.  Dit is aan die kruis waar verlossing en veroordeling ontmoet. Die afwysing van verlossing gaan hand aan hand met veroordeling.  En dit is grotendeels gebaseer nie op belydenis nie, maar op hoe daardie belydenis uitgeleef word.  ‘n Ou historikus vertel dat Johannes se dissipels bekend gestaan het vir hul vroomheid, geregtigheid en integriteit.  Hierdie Man – die Een wat na Johannes gekom het – sal almal uitdaag om ‘n keuse te maak.  Bekeer jou en glo of staan veroordeel!  Want Hy kom om die waardiges van die onwaardiges te skei.  Dit bring ons by ons tweede punt.

 

Hy kom om die waardiges van die onwaardiges te skei

Hy self maak die onwaardiges waardig, deur geloof in Hom en bekering tot die lewe.  Soos ons lees in vers 12: “Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.”  ‘n Skop was gebruik om die koring te skei van die kaf en strooi.  Of die bruikbare dinge van die onbruikbare.  Of die egte van die onegte.  Hierdie Man alleen kon die uitwan-werk, die skei-werk, doen.  Want Hy alleen weet wat in ‘n mens leef.  Hy is die Regter oor wat werklik is en wat nie werklik is nie, en Hy kom om die twee te skei.  Later in die evangelie vertel Hy self die gelykenis van die skape en die bokke, en hoe Hy as die Regter hulle sou skei.

Johannes die Doper sê: “Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak”.  Volgens my verwys die dorsvloer hier na sy wêreld – die mense in die skepping.  Ons is sy dorsvloer, en sy Woord en Gees is die skop wat die koring van die kaf skei.  Selfs nou!

Die woord vir “skoonmaak” kan ook vertaal word as “heeltemal skoonmaak”, “deur en deur skoonmaak”, “suiwer”.  Hier verwys dit na die doel van God se oordeel, die totale verwydering van alle boosheid, sodat slegs ‘n gesuiwerde volk oorbly.  Sy dorsvloer, hierdie wêreld, sal eendag heeltemaal skoon wees.  Wat ‘n pragtige dag sal dit wees wanneer Hy kom in heerlikheid.  

Maar saam met hierdie verlossing kom oordeel.  Dit is die tema dwarsdeur Mattheüs.  ‘n Mens kan dit duidelik sien in hoofstuk 13, by die gelykenis van die onkruid, waar Hy sê: ”Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand”.  Met ander woorde, daar is geen uitkomkans nie.  Hulle is eers in bondels gebind en toe verbrand.  Maar van die koring word gesê: “bring die koring bymekaar in my skuur”.  In die verklaring hiervan sê Hy: “die Seun van die Mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi.  Daar sal geween wees en gekners van die tande.  Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.  Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.” (Matt. 13:41-43)

Ja, wie ore het om te hoor, laat hom hoor!  Word liewers gereinig met die louterende vuur van die Heilige Gees en skyn soos die son, as om vir ewig te brand in die vuur van die oordeel.  Beide is eintlik vure van oordeel.  Die een lei tot bekering en die ewige lewe, en die ander lei tot – soos dit hier genoem word – die onuitbluslike vuur.  Die vuur wat niemand kan blus nie, want dit is die vuur van God se toorn oor die sonde.

Die gevolge kon nie erger wees nie!  Vandag is die tyd van die oes!  Vandag is die dag van oordeel, soos die woord onder julle versprei word.  Laat elke hart voor Hom kom, en laat sy genade julle oorstroom.

Maar te midde van al hierdie oordeel-gelykenisse, van bome wat uitgekap word en kaf wat verbrand word, laat ons steeds die prag besef van die feit dat daar ook Koring is.  Koring wat geoes is!  Jesus sê die velde is ryp vir die Oes!  En dit is steeds die geval in hierdie dorp, in hierdie stad, in hierdie provinsie, in hierdie kontinent.  Laat ons, as die Kerk van Christus, werk om hierdie boodskap van ‘n twee-snydende swaard aan die nasies te bring.

Dit is ironies dat, net toe Johannes hierdie woorde spreek, Jesus self verskyn!  Wat ons bring by ons derde punt.

Hy word gedoop as die Enigste wat waardig is om die onwaardiges waardig te maak

Ons lees in vers 13:  “Toe het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word.”  Dit is geen wonder dat Johannes probeer om Hom te keer nie.  Die werklike rede waarom hy gedoop het, was om die mense se behoefte aan reiniging en nuwe lewe te wys.  Hulle wat na hom toe gekom het, was almal sondaars, maar Jesus was die Een wie se sandale hy nie waardig was om selfs aan te dra nie!  Hy het nie nodig gehad om gereinig te word nie.  Dit is nie Jesus wat gedoop moet word nie, maar Johannes!  Ons lees in vers 14: ”Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?”

Die voornaamwoorde word hier beklemtoon.  “Ek!” moet deur “U!” gedoop word en “kom U na MY?”  Ek het sopas aan die mense vertel dat ek selfs nie waardig is om u slaaf genoem te word nie.  En nou wil U hê dat ek U moet doop!  Het U gehoor wat ek gesê het?!  Ek vertel aan die mense om hulle te bekeer!  U het nie nodig om U te bekeer nie!  U hoef nie ‘n ou lewe af te sterf en in ‘n nuwe lewe te leef nie!

En Jesus antwoord in vers 15: “Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.”  Hy het gekom met die doel om gedoop te word – om Homself op hierdie manier gelyk te stel aan sondaars. Jesus was regverdig in alles wat Hy gedoen het, maar ook in sy eie person.  Hy is die Regverdige Een.  In sy doop sê Hy dit is ‘n doop nie van bekering nie, maar van geregtigheid.  As ons die water binnegaan, was dit ons; toe Hy ingaan was dit asof hy al daardie vuilheid wat afgewas is, op Homself, as die Regverdige Een, geneem het.  Hy het Homself aan ons gelykgestel.  Hy het ons sonde, ons vuilheid, op Hom geneem; al die vuilheid van almal wat in sy Naam gedoop sou word, sodat hulle regverdig kon word.

Hy is die ware Israel.  Nie soos die ou Israel wat deur die Rooi See getrek het en opstandig geraak het nie. Hier is die ware Israel, uit Egipte gelei deur die waters van die doop na die woestyn, waar hy alle geregtigheid vervul.  Hy was ter wille van ons gedoop.  Omdat Hy daarmee die onregverdiges, maar berouvolles, deur 'n nuwe en finale eksodus uit die land van slawerny lei.  Uit die sonde.  Deur die Regverdige Een sal baie as regverdig gereken word.

Daardie water was ook ‘n aanduiding van dood en nuwe lewe.  Laat ek dit illustreer met ‘n Ou-Testamentiese verhaal waaraan Mattheüs moontlik gedink het – alhoewel daar baie is  - die verhaal van die sondvloed in Genesis 6-9.  Die skepping vergaan onder die waters van Goddelike oordeel, en verrys weer vernuwe, ‘n geseënde herskepping bevestig deur ‘n duif en ‘n Goddelike Woord.  Noag lei ‘n oorblyfsel deur die vloed van toorn en na die nuwe skepping, as die hoof van ‘n nuwe mensdom – ‘n tweede Adam.

Jesus is ook bedek deur die waters van oordeel.  Hy klim op uit die rivier, die Vader wys sy blydskap en die Gees daal op Hom neer in die gedaante van ‘n duif – soos die duif van Noag – ‘n teken dat Jesus self die nuwe skepping is in Wie en deur Wie die hele kosmos herstel sal word.  In sy doop reproduseer Jesus die geskiedenis van die wêreld.

En soos Noag in die ark sy gesin deur die storm van God se toorn gelei het, bied Jesus veilige deurgang deur die oordeel, deur aan God se kinders skuilplek te bied en hulle uit genade te red.  Met sy dood en opstanding deur die water word Jesus – die verbondshoof van God se nuwe mensdom en die hele skepping – voorgestel as die Een wat die ware opstanding na die skepping bring en en wat 'n oorblyfsel vir Homself bymekaarmaak, vir wie Hy as nuwe skepsels in die nuwe skepping indra.

Johannes het moontlik ‘n idee gehad van wat Jesus doen, want aan die einde van vers 15 lees ons dat hy instem.  En dan lees ons:  “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele voor Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.  En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.”

Jesus, die vlekkelose Lam van God!  Hy klim op uit die water en die hemele gaan oop!  ‘n Mens kan dink aan die profesie van Jesaja 64, waar hy sê: “as U maar net die hemele oopgeskeur het en neergedaal het!”  Wel, die hemel is geopen!  God die Heilige Gees daal op Hom neer, en rus hom toe vir sy toekomstige bediening, en God die Vader praat met sy Seun, pragtige woorde van goedkeuring, die woorde van Psalm 2: “Dit is my geliefde in Seun in wie Ek ‘n welbehae het.”  Dit is ‘n uiters kragtige Trinitariese oomblik in die verlossingsgeskiedenis.  Dit is woorde van krag, wat Jesus toerus vir sy bediening.  Dit is nie verniet dat die volgende stadium die versoekings in die woestyn is nie.

Dit is die missie van God se Seun.  God se enigste Seun.  Die Seun wat Hy liefhet.  Hier hoor ‘n mens verwysings na Genesis 22:2, waar Abraham beveel word om sy seun te offer.  Sy enigste seun.  Die seun wat hy liefhet.  Dit is God se Seun.  God se enigggebore Seun.  Die Seun wat Hy liefgehad het. Jesaja 42 vs. 1: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het.  Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.”

Soos wat Jesus uit die water gekom het, het God se Heilige Gees op Hom neergedaal in die gedaante van ‘n duif, in ‘n amsemrowende oomblik van stille majesteit. Die Vader het totale teveredenheid en diepe blydskap gevind in Sy geliefde Seun.

Hoe wonderlik moes dit nie wees nie om hierdie woorde te hoor toe Hy begin het met die moeilikste missie in die menslike geskiedenis wat al ooit onderneem is.  Sodat almal wat in Hom glo, ook hierdie woorde mag hoor, soos wat elkeen sy eie geloofsreis onderneem. 

Dit maak nie saak hoe baie ons deur ander waardeer word, of hoe baie ons eie ouers ons liefhet nie, God ons Vader kyk neer op ons en sien ons net soos wat Hy Jesus gesien het daardie dag.  Soos wat ons verenig is met Hom deur die geloof, waarvan die sakramente ‘n teken en seël is, sien Hy ons deur die venster van sy Seun se geregtigheid – en met sekerheid en blydskap vertel Hy aan elkeen van ons dieselfde ding: “Jy is my geliefde kind!  In jou vind ek My blydskap!”  Hy sien nie meer ons sondes en tekortkomings, ons strydende begeertes nie.  Hy sien ons soos ons is in Jesus Christus.

Hierdie soort Vaderlike aanbidding namens God teenoor ons mag ons dalk ongemaklik maak, want ons kan nie verstaan hoe ons sulke ondersteuning van ons hemelse Vader kan ontvang nie.  Tog kyk Hy, met vaderlike liefde en goedkeuring wat ons ons slegs kan verbeel, neer op ons en sien ons as gewas in die bloed van ons Verlosser.  Ons word deur ons Messias in God se oë verteenwoordig.  In die doop is dit asof die gordyne van die hemel teruggetrek word, en God sluit ‘n verbond met jou wat moontlik gemaak is deur die doop in Jesus. Dit roep ons tot ‘n lewe van disipelskap en gehoorsaamheid aan God!  Van kindsbeen af tot in die ewigheid.  Ons behoort in liggaam en siel aan Hom deur Christus ons Here in die Heilige Gees.

Amen.