Jesus die Messias, die Seun van Dawid, die Seun van Abraham: Volg Hom!

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-04-28
Teks: 
Mattheus inleiding
Preek Inhoud: 

Daar sit hy dan in sy mooi ontwerpersklere, met sy geldkiste rondom hom, op die hoofweg van Kapernaum, doenig met sy winsgewende bedryf van belastinginvordering vir die Romeine. Levi was sy naam toe nog. In daardie dae het hy belasting op ingevoerde goedere van boere, handelaars en karavane ingevorder.

Terwyl hy daar op die hoofweg gesit het, het hy geweet dat die man Jesus, wie hy al vantevore gehoor het, na Kapernaum op pad was en dat Hy rég voor sy tolhokkie verby sal gaan. Hy was vreemd genoeg opgewonde om hierdie man weer te sien. Hy het met soveel gesag gepraat. Gesag soos hy nog nooit in die stem van enige man gehoor het nie – nie eers die boodskappers van die keiser van Rome het so gepraat nie.

Sommige mense het gedink dat Hy ’n profeet was, ander die Messias, en nog ander het gedink dat Hy ’n bedrieër was. Wat hulle ook al gedink het, hulle het sterk oor Hom gevoel. Jy kon nie ’n draadsitter wees met Hom nie. Hy het op die een of ander manier geen draadsitters toegelaat nie. Jy was heeltemal vir Hom of nie – dit was sy ultimatum.

Min het hierdie man, Levi, geweet dat hy vandag voor daardie ultimatum te staan sou kom. ’n Keuse wat vir ewig sy lewe sou verander. Want terwyl hierdie man genaamd Jesus, verbygestap het, het Hy reguit na die tolhokkie gekyk, en met sy gesaghebbende stem gesê: “Volg my.” Teen daardie tyd het hy geweet dat hy geen keuse het nie. Hy moes volg, om hierdie stem te gehoorsaam. Hierdie man was sy lewe werd. En sy lewe sou nooit weer dieselfde wees nie.

Sy lewe was verby, en ’n nuwe een het begin. Soveel anderste sal hierdie lewe wees, dat dit selfs ’n naamsverandering ingesluit het. In ’n sekere sin ’n identiteitsverandering. Sy naam het van Levi na Mattheus – of geskenk van God – verander.

Vandag begin ons die reis deur die eerste helfte van hierdie man se boek, wat hy omtrent ’n paar jaar na Jesus se kruisiging geskryf het. En wat ek graag vandag wil doen, is om vir julle net ’n oorsig te gee van hierdie boek – staan terug en bekyk die bos sodat ons die bome beter kan verstaan. Ons sal dit doen deur spesifiek te kyk na die laaste paar verse. Die groot sendingsopdrag. Kom ons lees dit. Nou wil ek julle vra om al die “al”-woorde te onderstreep. Alle mag. Alle nasies. Leer hulle om alles te onderhou. Met julle al die dae. Jesus het gesag sodat alle nasies alles wat hy beveel sal gehoorsaam.

God se koninkryk het gekom om die bose teen te staan  waar dit ook al is, veral in elkeen se hart, en God se heerskappy te herstel waardeur ’n nuwe familie tot stand kom.

Jesus die Messias, die Seun van Dawid, die Seun van Abraham: Volg Hom!

  1. Die Koning se gesag
  2. Die Koning se volk
  3. Die Koning se oproep

Die Koning se gesag

Mattheus 1:1 sê dat hierdie boek oor ’n spesifieke persoon handel. Kom ons lees dit: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham:” Die boek wat ons gaan bestudeer gaan nie oor ons nie. Of die wêreld, of die Jode, of oor sekere gebeurtenisse nie. Dit is heel eerste die geskiedenis, of geslagsregister van Jesus Christus, of die Messias, wat beteken: die gesalfde een. Dit is die boek van die gesalfde Een wat as koning gesalf is deur God self. Hierdie boek gaan oor ’n koning, wat op die troon van Dawid sit. ’n Koning wat vir ewig soewereine gesag het oor ’n koninkryk. Hy is die Seun van Dawid.

In die laaste reëls van die boek bars hierdie tema uit in al sy heerlike simfoniese krag, wanneer die koning sê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op  aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”

Dit is ’n geweldige uitspraak met absoluut verstommende gevolge vir die lewe van elke persoon, eintlik vir die hele heelal!  Het jy ooit in die geskiedenis van die mensdom gehoor dat iemand so praat?!    “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.”

Dit is nie ’n uitspraak wat jy elke dag hoor nie.

Maar ons staan nie genoeg daarby stil hoe vreemd hierdie uitspraak sou klink as dit van enige ander persoon sou kom. As iemand anders dit gesê het, wat sou julle gedink het? As die magtigste mense sou sê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is myne!”

Wat sou jy dink? Ek dink dat jy dadelik sal dink dat hy ’n leuenaar of ’n onwerklike egoïs is. Niemand beweer dat hy die koning van hemel en aarde is en verwag dat hulle hom sal glo nie. Niemand het nog ooit gepraat soos Jesus gepraat het nie. Mattheus herhaal dit oor en oor. Niemand praat so nie.

Luister na party van die dinge wat Hy beweer.  

Hy beweer dat Hy mense se sondes vergewe wat nog nooit teen Hom gesondig het nie. Hy beweer dat elke mens eendag voor Hom sal staan om geoordeel te word. Hy beweer dat Hy die vervulling is van 2000 jaar se Joodse geskiedenis. Hy beweer dat Hy bestaan het voor Abraham. Hy beweer dat in Hom al die 10 gebooie vervul is.    Nie net dat Hy hulle gehoorsaam het nie.

Hy beweer dat Hy ’n Priester, ’n tempel en ’n koning is. Met ander woorde, sy gesag strek tot die verste uithoeke van die heelal, en die diepste dieptes van die menslike hart.

En die vreemdste is dat hy nie net hierdie uitsprake gedoen het nie, maar dat dit geloofwaardig is!  Soveel eeue later is daar steeds verstandige mense wat Jesus op sy woord glo.

Die gesag van Jesus is een van die sleutels om die Evangelie te verstaan. En hierdie sleutel maak die deur oop vir dit wat volg. Dus, ek wil net ’n oomblik neem om te verduidelik hoe Mattheus Jesus se gesag onderstreep. Want as Hy regtig alle gesag het, moet Hy gevolg word, en dan is dit moontlik vir Hom om by ons te wees waar ons ook al is. Kom ons kyk hoe Mattheus hierdie bewering probeer staaf. Hy ondersteun dit met vier pilare.

Die eerste pilaar, wat Jesus se gesag ondersteun, is die pilaar van vervulling. Jesus pas perfek in die groter geheel. Keer op keer neem Mattheus ons terug na die Ou Testament en wys vir ons dat dit presies is wat die Ou Testament voorspel het. Dit is deel van ’n verhaal.  Jesus het nie gekom om af te skaf nie. Maar om te vervul. Die messiaanse skoen pas perfek.

Die tweede pilaar, wat Jesus se gesag ondersteun, is sy onderwysing. Nie net dat Hy geleer het nie. Maar dat Hy met gesag geleer het. Sy onderwys ondervind konstant kritiek en twyfel. Die kritiek is: “Met watter gesag doen en sê u hierdie dinge?” Mattheus sê dat die skares verstom was omdat Hy met gesag geleer het! Jesus sê self: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”

Hoe kan Hy so iets sê? Wel, hier is ons dan nou, miljoene meer mense, 2000 jaar later, en ons luister steeds na sy woorde.

Die derde pilaar is karakter. ’n Wyse persoon kan party wyse dinge sê. Sokrates was wys en het baie wyse uitsprake gemaak. Maar Sokrates het nooit beweer dat hy God was nie. Sy karakter het nooit by daardie bewering hoef pas nie. Selfs Gandhi het baie wyse uitsprake gemaak, maar selfs hy het nooit beweer dat hy God was nie. Hulle karakters en dit wat hulle gedoen het, pas nie by die bewering dat hulle God was nie. Maar Jesus se bewering en sy karakter pas bymekaar. Daar is geen teenstrydigheid tussen sy aanspraak en sy karakter nie.

Ek is mal oor biografieë, maar dit is altyd bitter soet. Daar is so baie goeie dinge in Christelike biografieë, maar as hulle eerlik is dan is daar altyd die hartseer en gebroke kante van mense. Maar ek voel, en ek hoop dat julle ook, soos ons deur hierdie verhale gaan en noukeurig na Jesus gekyk het, ons geen fout in sy karakter sal vind nie.

Sy nederigheid staan uit. Want sy bewerings lyk trots soos dié van die grootste egoïs, en tog was Hy nederig. Hy was Here, Onderwyser en Meester, maar tog het Hy die dissipels se voete gewas. Is dit nie uniek nie, geliefdes ? Daar was al baie arrogante mense wat groot uitsprake oor hulself gemaak het, en hulle het altyd so opgetree. Daar was ook al baie nederige mense wat nié sulke groot uitsprake oor hulself maak nie. Maar hier is iemand wat groot uitsprake oor homself gemaak het, en tog ’n nederigheid gewys het wat selfs vir Moses, die nederigste mens, beskaam.

Die vierde pilaar wat die aanspraak op gesag ondersteun is sy wonderwerke.

Hulle almal wys op sy gesag. Gesag om siektes te oorwin. Gesag oor die weer. Die bose. Sonde. Dood.  

As jy gesag het oor die dood, het jy mag.

Alle gesag is syne. Dit is ’n fundamentele boodskap in hierdie evangelie, maar een wat niemand wil hoor nie. Mense sê dat alle gelowe gelyk is, en dat hulle naas mekaar moet bestaan. Nee, ek het nie ’n probleem met naas mekaar bestaan nie. Maar as Hy wel alle gesag het, is dit duidelik dat ons nie vir altyd naas mekaar kan bestaan nie.

Dit klink skokkend vir ons ore. Maar as sy dissipels moet ons dit hoor. Jesus het nie net gekom om jou verlosser te wees nie, Hy is jou Here. Hy is jou Koning, en jy moet Hom volg in ALLES wat Hy beveel. Daar is mense wat nie omgee vir Jesus as Verlosser nie, maar wat ‘n probleem het met Jesus as die Een na wie ons moet luister. Saam bestaan. Verdraagsaamheid. Dit is die taal van die dag.

Maar Christus se heerskappy kan nie onder ’n maatemmer gesit word nie. Jesus het alle gesag, of niks nie. En eendag sal Hy kom, soos die Bybel sê: “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word.”

Die eerste punt is sy koningskap en gesag. Die volgende groot tema is die oproep tot dissipelskap.

Die Koning se volk

Dus hierdie Koning het alle gesag, maar wie is die volk van die Koning?

Aan die begin van die evangelie lees ons dat Hy die Seun van Abraham is en dit bring ons terug na Genesis 12 waar God belowe dat alle nasies deur Hom geseën sal word. Die een wat geroep is uit die nasies sal die seën vir die nasies wees. Abraham was nie ’n Hebreër totdat hy een geword het nie. Hy was uit die nasies geneem. En hy het ’n groot belofte ontvang, naamlik dat alle nasies deur hom geseën sal word. God was op die punt om ’n ander volk tot sy volk te maak, net soos hy met Abraham gedoen het.

En hier, in hierdie Evangelie vind ons die Seun van Abraham wat hierdie buitengewone uitspraak maak: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Dit is die hoop van die nasies – dit is nie ’n geloof wat net by ‘n volk of ‘n klas behoort nie. Ons Koning se volk sal ’n volk wees van elke tong en nasie. Dit is ’n evangelie vir almal. Die uitbreiding van die Christendom wys dit: In Afrika en die Midde-Ooste het dit begin, en daarna versprei na Asië, en Europa en nou weer terugkeer na Afrika en Asië. Die sentrum van Christendom het verskuif van Jerusalem, na Afrika, na Europa, na Noord-Amerika en nou beweeg die sentrum van Christendom na die Ooste.

Dit is goeie nuus vir alle mense oraloor. Die Ou Testament het dit pragtig voorspel. In Jesaja word gesê: “Hy sal die reg na die heidene uitbring en in sy Naam sal die heidene roem.” Aan die einde van sy lewe het die naamplaat bo sy kop gehang: “Koning van die Jode.” Dit was geskryf in Aramees, Latyns en Grieks – die drie grootste tale van daardie tyd. Die tale van die wêreld.

Vandag kan ons Mandaryn, Engels, Afrikaans, Nederlands, isiZulu, Venda daarby voeg. Sodat almal die bordjie kan lees van die Man wat so hulpeloos gelyk het, was die groot Koning van die Jode wat oor die hele heelal sal regeer!

Jesus vertel vir die leiers: Ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.” En dit is presies wat Hy gedoen het; klippe wat verander het in kinders van God. Van ’n Kanaänitiese vrou tot Romeinse soldate tot die tollenaar.

En Mattheus maak dit duidelik dat dit nie net vir elke nasie is nie, maar vir elke persoon. Die armes, die gebrokenes, die sondaar, die laagstes en hoogstes in die samelewing. Die oproep tot die koninkryk is vir almal! Jesus het geweet waarmee Hy besig was toe Hy hierdie man geroep het. Jesus weet altyd wat Hy doen.

Oppervlakkig gesien was dit skandalig en aanstootlik dat Jesus ’n tollenaar kies as een van sy naaste volgelinge, want tollenaars is deur al die jode gehaat. Maar tog is dit vir die mense, wat hom as ’n tollenaar gehaat het, dat hy nou hierdie evangelie geskryf het.

En op een of ander manier glo die mense van wie dit sou verwag nie, maar die verworpenes in die samelewing verwerp dit nié. Die kinders wat gewoontlik heel laaste gekies word om in ’n span te speel, húlle is die eerstes om die koninkryk te betree. Mattheus is een van daardie mense en hy skets vir ons ’n prentjie van die ander mense.

En dit bring ons by ons laaste punt:

Die Koning se oproep

Hierdie oproep is radikaal.

Met sy agtergrond in ag genome, wys Mattheus een van die lewens wat die mees radikaal verander het in die Bybel, in reaksie op ’n uitnodiging van Jesus. Hy het nie gehuiwer nie; hy het nie teruggekyk nie. Hy het ’n lewe van rykdom en sekuriteit agtergelaat vir armoede en onsekerheid. Hy het die plesier van die wêreld agtergelaat vir die belofte van die ewige lewe.

En hy laat die noodsaak van hierdie radikale dissipelskap oor en oor sien. Hierdie boek is die handleiding vir dissipelskap genoem. ’n Handleiding om jou eie lewe af te lê en Jesus te volg.

En sy bevel is om alle mense oral op te roep tot bekering!   Glo!   Volg Hom en wees gehoorsaam! Dit is die opdrag wat ons kry. Maak dissipels van alle nasies. Burgers van die koninkryk, volgelinge van Jesus Christus, wat Hom dien. Ons is almal dissipels.

Dit is nie ’n uitgelese groepie Christene nie.

Christus vereis absolute en volkome trou aan Hom.

In hierdie dissipelskap evangelie, wat geskryf is deur een van die eerstes, hoor ons telkens hoe die oproep, die koste en die inhoud van dissipelskap verduidelik word.  Telkens weer sê Hy: “Volg My.”

En Hy verwag onmiddellike gehoorsaamheid.   

Geen “wat as”, of “maar” nie. En elke keer kom elke persoon voor ’n keuse te staan.

Jy staan vandag voor dieselfde keuse, wanneer die oproep vir sy koninkryk uitgaan.

Onwrikbare gehoorsaamheid soos jy volg en ook ander mense bring om te volg.   Of verwerping.

Jesus bo geld, bo mag, bo reputasie, gemak, tradisie,  familie, bo lewe, bo dood. Dit is die keuses wat Hy aan magtige goewerneurs en nederige melaatses gee.

Is jy werklik gewillig om alles, selfs jou lewe, vir Jesus op te offer? Wie sy vader of moeder liewer het as vir My, is My nie werd nie ?  Dit is trou !  Wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie werd nie.

Wie of wat het jy vandag die liefste? Jesus of jou lewe? Want wie sy eie lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe om My ontwil verloor, sal dit red.

As enigiemand My wil volg, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.  Dit is trou!

Dissipelskap gaan oor om te volg, te groei en te leer. Om nooit op te gee nie. Maak nie saak hoeveel keer jy val nie. Daar is ’n pragtige balans tussen vergifnis en geloof en gehoorsaamheid in Mattheus. Dit gaan nie net oor geloof en vergifnis nie, maar ook oor die gehoorsaamheid wat daaruit voortvloei.

En gehoorsaamheid sonder geloof en vergifnis is wettisisme. Amper die presiese kern van die Bergpredikasie.

Byna in die strukturele sentrum van die Bergpredikasie staan die bede: “Vergeef ons ons skulde soos ons ons skuldenaars vergewe.”

Aan die einde van Mattheus verkondig Hy, gedurende die laaste nagmaal dat die wyn die bloed van die verbond simboliseer, wat vir baie vergiet is tot vergifnis van sondes. En dit is hierdie bloed wat gevloei het vir vergifnis van sondes, wat in ons begin vloei deur geloof. Dit gee aan dorre bene nuwe vlees. Oë. Harte. Hande en voete. Soos Petrus sê: “sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug.”

Dit is ’n saak van volkome trou.

Vertrou en gehoorsaam.

Ons moet alles onderhou wat Hy beveel het. Bedoel jy nou, pastor, alles wat Hy geleer het oor die sonde en die Skrif, afgodery en egbreuk, laster, lyding, evangelisasie, vas en vergifnis, luuksheid en liefde? Woede?  Ja. Alles. Christenskap is nie ’n uitkies-en-word-gered geloof nie: Kies waarvan jy hou en word só gered.

Soos Jesus self sê in ’n uitspraak wat elke Christen behoort wakker te skrik en te bring om Hom met oorgawe te volg op die pad van ware dissipelskap.

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” Dit gaan oor die doen van sy wil. Jesus eerste. Alle ander dinge tweede.

Alle gesag. Alle trou. Van alle nasies. Dit is waaroor hierdie boek gaan. Koning Jesus.  Wat alle mense, ooral, oproep om na sy woorde te luister as Een wat groter is as Moses, en om Hom te volg tot in die ewige koninkryk, as die Een wat groter is as Joshua.

Jesus sal jou roep, jou oortuig, jou aanmoedig soos ons Hom deur hierdie boek sal volg. En soos ons Hom begin sien en volg, wil ek julle almal bemoedig en sê: Ons doen dit nie alleen nie. Ons stap nie hierdie pad van die lewe alleen nie.

Maar ons het Immanuel. Immanuel, dis waaroor hierdie boek gaan. Dit begin met “God met ons” en eindig met “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Dit is die kern van ons Christelike lewe, is dit nie? God met ons: van die begin tot die einde.

Dus bid dat Hy jou sal vul, saam met jou sal stap en jou sal aanmoedig.

Geliefde gemeente, ons begin nie self met dissipelskap nie. En probeer om dit op ons eie te doen nie. Wat Hy beveel, daarvoor gee Hy ook die krag om dit te doen. Hy gaan saam met ons. Hy lei ons, stap saam met ons, en dra ons selfs. As persone en as kerk.

Al wat Hy ons vra om te doen is om Hom te vertrou. Gehoorsaam Hom. Hy is daar. Hy sal altyd daar wees.

Selfs tot die voleinding van die wêreld.

Amen.