Hoe lewe God se volk in ballingskap?

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-06-03
Teks: 
Daniël 1
Preek Inhoud: 

Jy hoort nie hier nie!

Dit maak seer as iemand dit vir jou sê: “Jy hoort nie hier nie”.  Veral as jy so hard probeer om in te pas.

Jy hoort nie hier nie.  Dis moeilik.  Om ander te wees, uit te staan; so, dat dit opval.  Om bereid te wees om anders te wees, al beteken dit ander sal jou spot, of erger.  So iets vat moed en oortuiging.

Jy hoort nie hier nie.  Jy is anders.  So is ‘n kind van God vir die wêreld: anders.  En dan kan jy so ‘n opmerking verwag: jy hoort nie hier nie.

Dit is die verhaal van Daniël.  Die verhaal van ‘n staatsman, ‘n politikus, ‘n leier, ‘n man oortuig van God se almag, ‘n gelowige.  Deur en deur, selfs in ‘n vreemde land.

Daniël sing God se lied.

Hoe lewe God se volk in ballingskap?

  1. Op pad na Babel
  2. In Babel
  3. Nie tuis in Babel

1. Op pad na Babel

Die boek Daniël begin met die verhaal van die nederlaag van die volk.  Menslik gesproke is die eer van God daarmee heen, en sy volk getuig nou nie juis van sy heerlikheid nie.

Ons lees in v1: “In die derde jaar van die regering van Jójakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër.  En die Here het Jójakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, met ’n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God...”

Hoe sou ou koning Neb ooit kon raai dat hierdie veldtog van hom in die geskiedenisboeke sou beland.  Jerusalem en Juda was nou nie juis magtige ryke nie.  Hy’t pas met die baie groter Siriese koninkryk klaargespeel – mens sou dink daardie veldtog sou die beroemde een wees, maar nee, daardie een is net vir geskiedenis studente, en die kleintjie is in die Bybel opgeteken.

Hoekom?  Want God wou hê hierdie veldtog moet onthou word.  God wil ons laat sien waaroor die hele geskiedenis eintlik gaan, God wil ons laat sien dat dit eintlik gaan oor die stryd tussen die koninkryk van God en die koninkryk van Babel (= hierdie wêreld).

Vers 2b gee hierdie aanduiding waar ons lees dat Nebukadnésar die voorwerpe van die huis van God na die tempel van sy god gebring het in Babel: “...en hy het hulle na die land Sínear gebring in die huis van sy god”. 

Sinear... die land Sinear... lui dit ‘n klokkie?  Is dit nie waar die toring van Babel destyds gebou is nie?

So, reg aan die begin van die boek lees ons van Jerusalem, die hoofstad van God se koninkryk.  En daarteenoor het ons Babel, die hoofkwartier van die ryk van die duisternis.

Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, van die begin van die Bybel af tot in Openbaring, waar Babel uiteindelik finaal oorwin is.

Hierdie twee stede verteenwoordig waar elkeen wat nog ooit geleef het vandaan kom, jy kan maar sê: dis die verhaal van die twee stede.  En jy is óf deel van die een óf deel van die ander, dit geld vir elkeen hier in hierdie gebou.  Daar is twee stede, en net daardie twee.  Twee poorte, twee weë, twee meesters: Christus of antichris.

Sekerlik het Nebukadnésar gedink dis vir altyd klaar met Israel en Jerusalem.  Maar in die Bybel lees ons iets anders, uit God se perspektief.

In v2 lees ons: “...die Here het Jójakim, die koning van Juda, in sy hand gegee”.  Waarskynlik het die Israeliete dit glad nie so gesien nie.  Hulle het waarskynlik gedink waar is God.  Het God vergeet van hulle?

Waar is God? 

As duisende babas daagliks vermoor word.  Waar is God? 

As miljoene mense dakloos gelaat word.  Waar is God?. 

As die sonde my steeds aanveg.  Waar is U, Here? 

Twee duisend jaar na Christus en die wêreld lyk niks beter nie.  Uit ‘n menslike oogpunt lyk dit amper asof die koninkryk van God nie meer bestaan nie.  Waar is God?

God werk in die geskiedenis, en daar is niemand wat rêrig hierdie vraag kan vra nie behalwe Jesus Christus.

Lees maar gerus die geskiedenis, geliefdes, God is aan die werk.  En Daniël het dit geweet.  Hy het geweet dat hierdie nederlaag, die ballingskap, van God gekom het.  Dit was vanweë sy mense se sondes.

Sien, God is altyd getrou.  Altyd!  Hy het sy volk gewaarsku dat dit sou gebeur.  Moenie ‘n kans vat met God se woord nie, elke enkele woord daarvan staan vas.

Hier sien ons die vloek op God se volk, soos Moses al gesê het in Lev 26, Deut 4 en 28-29.  Dit is die sonde wat die mense weggelei het van die land van die lewendes na die land van de dooies.  God is geduldig maar sy oordeel kom uiteindelik...

Op ‘n geestelike vlak het hulle al geword soos die volke rondom hulle, Nebukadnésar het hulle verval maar net voltooi.

Die volk het nie God se lig laat skyn nie, en daarvoor straf God hulle nou, en Hy verwyder hulle van sy aangesig af weg.  Nou word hulle geroep om ‘n lig onder die nasies te wees.

God is geduldig maar sy oordeel kom, en dit begin by die kerk.  Die vraag vir ons vandag is dit: is ons getrou aan ons roeping om ‘n lig vir die nasies te wees?  ‘n Lig in hierdie stad.  Is ons ‘n stem van die waarheid in ‘n sondige tyd vol bedrog?

Die volk is oorgelewer aan Babel, daar waar aardse magte regeer, sodat hulle ‘n les kan leer.  En ook: sodat hulle in daardie omgewing kan getuig van God se koningskap. 

En God sal hulle daar beskerm.  “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”, sê Jesus.  Elke gebeurtenis, groot of klein, is in God se hande.

2. In Babel

Koning Nebukadnésar was maar net ‘n instrument in God se hand, om die volk iets te leer.  Hy lei hulle weg in ballingskap, en kies die room van die oes om hom te dien.

Die koning beveel die owerste van sy hofdienaars, Aspenas, “...om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die edeles, te bring:  jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien”.

Hierdie was die slim jong manne, aantreklik, fiks en sterk, eerste in die klas en hulle skool het altyd die rugby gewen.

Dis interessant dat die koning juis jong seuns uitkies, tieners wat hy gedink het maklik beïnvloedbaar is. Sommige beweer dat hulle self so jong soos 14 jaar was. 

En hy indoktrineer hulle, herprogrammeer hulle as’t ware – om anders te dink, anders te glo, anders te wees.  Hy verander selfs hulle name!

Nebukadnésar is trouens nie die eerste leier wat die waarde daarvan insien om die geledere van jong, professionele mense te infiltreer op soek na toekomstige kandidate nie.  Universiteitskampusse is vol jongmense wat opgelei word om te dien in die koninkryk van Babel.  Jong mense het juis daar so ‘n gulde geleentheid om ‘n lig te wees.  Kom ons bekyk hierdie indoktrinasie ‘n bietjie van nader by.

Die Babiloniese indoktrinasie program is baie effektief. Dit behels ‘n subtiele kombinasie van dreiging en belofte, dwang en aanmoediging.

Byvoorbeeld: net die beste is goed genoeg vir die jong manne in die program.  Heerlike kos, pragtige klere, ‘n oorvloed van alles, die beloftes van aardse rykdom is ‘n groot trekpleister.

Hierdie vier jong Hebreeuse manne het Babiloniese name gekry:

Elkeen se naam het die woord “God” bevat, en daardie woord is uitgehaal en vervang met een of ander plaaslike afgod.  Babel wou hierdie manne hul God en hul vaderland laat vergeet.

Klink dit bekend?

Maar as hulle nie sou saamgaan met die Babiloniese kultuur nie, was daar gevolge.  Baie soos vandag.  Seker, nie alles daarvan was noodwendig sleg nie, maar in elk geval sou hulle uitstaan, gespot word en later erger dinge meemaak.

Vandag se koninkryk van die donker weet maar al te goed dat mens nie omgee om aan te pas nie as jy mooi agter hulle kyk.  En dan die spot met jou dryf omdat jy anders is.

Ek wonder soms of ons wel besef hoeveel ons daaraan blootgestel is, en of ons nie miskien te maklik daaroor dink nie.  Ons is so tuis in hierdie wêreld soos ‘n vis in die water, ons besef nie eens dat ons so baie vir soetkoek opeet nie.

Ons leef vandag in ‘n tyd van verdraagsame panteïsme.  En jou God is aanvaarbaar solank hy in sy hoek bly, dit is: kerk, familie en jou persoonlike stiltetye.

Maar moenie jou God na die wêreld van wetenskap of kultuur bring nie, ander gode heers al daar.  Moenie jou God na die kampus of die kantoor bring nie, daar is ons besig met die rêrige lewe. 

Hou maar jou geloof vir jouself.

Sien, Daniël en sy vriende het nie ‘n probleem daarmee gehad om die taal en kultuur van die Babiloniërs aan te leer nie.  As jy ‘n burger is van die nuwe Jersualem hoef jy nie laer te trek en jouself af te sonder nie.  Nee, ons is sout en lig.  Dit is wat dit beteken om Christen te wees.

Hierdie boek gaan oor wie in beheer is.  Daniël het geglo God is in beheer en dit was nie vir hom nodig om wêreldvreemd weg te kruip nie.  God is soewerein, en daarom mag ons nie gaan wegkruip agter die mure van die kerk nie.  Nee, juis nie!

Immigrante, byvoorbeeld, kan ‘n land maak of breek. Hulle breek dit as hulle nie assimileer nie, as hulle laer trek en weier om die taal te praat, as hulle die plaaslike kultuur wil vernietig of hul eie kultuur wil af forseer.

Maar hulle kan ook ‘n diep en blywende invloed hê as hulle hul eie identiteit behou maar nogtans deel word van die samelewing rondom.

Die Babiloniërs wou hê Daniël en sy vriende moet van God vergeet, moes hul herkoms vergeet.  Maar hulle het hierdie tieners lelik onderskat, of beter, hulle het hierdie tieners se God lelik onderskat.

Ten spyte van volgehoue blootstelling aan elke wêreldse leer, en al sê elke nuusberig dat hulle verkeerd is, al was hulle stoksielalleen in die wye wêreld – nogtans sou hulle nie toegee nie, want hulle was verseker dat God regeer.  God is soewerein.  En daarom het hulle vasgestaan, en eerder as deur ander beïnvloed word, kon hulle ander beïnvloed.

Die Bybel noem ons reisigers.  Tydelike immigrante in die wêreld.  Ons hoort nie tuis in Babel nie.  Ons hoort nie tuis in die tyd van sonde, dood en duisternis nie.

As Christene moet ons weet wat maak dat ons anders is, maar tog hier in Bellville woon.  Ons moet weet wat dryf die mense rondom ons.

So iets vra wysheid.  Dit vra gebed.  Dit vra gemeenskap.  Om te weet waar trek jy die lyn.  Om jou Christelike identiteit te behou maar tog in die wêreld te wees.

Jy kan enige plek in die wêreld gaan en jy sal altyd Afrikaners vind wat braai.  Dis wie hulle is, hulle “Afrikaansheid”. 

God se kinders is net so.  Orals waar jy gaan kry jy hulle bymekaar, bemoedig hulle mekaar, verbly hulle hul in God, wys hulle mekaar na Christus toe, in Woord en sakrament.

Die kerk het ‘n kultuur, gevorm deur die werk van Christus.  En hierdie lewenswyse kan aanpas in die wêreldkulture van vandag, maar dit ook beïnvloed.

Dit is iets wat ons deurgaans moet doen, van jongs af. Ouers, ons moet ons kinders grootmaak in die vrese van die Here, in die tradisies van die ewige koninkryk. Gebed, bybellees, gemeenskap, sodat, as die tyd kom, hulle sal vasstaan en sê: Ek is ‘n kind van God.  Ek sal trou bly aan my soewereine God, ook in hierdie vyandiggesinde omgewing.

En dit bring ons by ons derde punt.

3. Nie tuis in Babel

Die oomblik breek aan vir Daniël en sy drie vriende toe dit kom by die kos.  Daniël het homself voorgeneem om hom nie te verontreinig met die koning se kos en wyn nie, en hy vra toestemming daarvoor van die owerste van die hofdienaars.

En op hierdie oomblik draai die rolle om.  Dis nie meer die Babiloniese ryk en sy koning wat die besluite maak nie, dit is nou Daniël.  Die verhaal neem sy koers volgens die besluite van ‘n gevangene.

Maar Daniël was vasberade.  Hy het homself voorgeneem om by sy besluit te hou.

Sien, mense neig nie vanself na heiligheid toe nie.  Een teoloog stel dit so: “Ons is meer geneig na kompromie, en dan noem ons dit verdraagsaamheid, ons neig na ongehoorsaamheid en noem dit vryheid, ons neig na bygelowigheid en noem dit geloof.  Ons noem dit ontspanning as ons selfbeheersing verloor, ons verslap in ons gebede en verbeel onsself ons doen weg met wettisisme, ons raak al hoe meer godloos en oortuig onsself in die proses ons is vry”.

Dit kos vasberadenheid om ‘n Christen te wees. Toewyding.  En harde werk.

Jonathan Edwards, een van Amerika se groot teoloë het dit besef van jongs af.  Van sy tienerjare af het hy ‘n hele reeks resolusies opgestel, sewentig van hulle tot op sy 20e verjaardag.

Onder andere: “Ek neem my voor om nooit enigiets te doen, in gees of na die vlees, as dit nie tot Gods eer is nie.  Ek neem my voor om so te leef soos wat ek graag sou wou, tot die dag wat ek oud is.  Ek neem my voor om nooit toe te gee aan my swakhede nie, of selfs te verslap in die stryd daarteen, al misluk ek hoe daarin.  Ek neem my voor om nooit iets te doen wat ek te bang sou wees om te doen in die laaste uur voor die laaste trompet klink.”

Vasberade.  Daniël het ‘n streep getrek om nie oor te gaan nie.  En dit kon hom sy lewe gekos het.

Daniël het nie beswaar aangeteken teen die verandering van sy naam nie, of om te werk in die Babiloniese ryk nie.

Maar hy sou homself nie verontreinig nie (Dan 1:8).  Miskien lyk Daniël se standpunt vir ons vandag ‘n bietjie idealisties.

Daniël besluit om standpunt in te neem oor kos, nogal lekker kos daarby.

Daar word heelwat gedebatteer oor die redes waarom hy nie die kos wou eet nie.  Ek dink dit is omdat die kos gewy was aan die afgode.  Die koning wou juis hê dat hulle hierdie kos moes eet wat aan die gode geoffer was, sodat wat hulle ook al sou doen, of hulle geëet of gedrink het, alles was tot die eer en verheerliking van die Babiloniese afgode.

Dit was ‘n bietjie soos “onheilige nagmaal” elke keer wat hulle geëet het.  Daniël het net een Heer gedien.  En hier het hy dus besluit om die streep te trek.  Hy het geweet, dis nie net Sondag nie, maar die hele lewe wat deurdrenk moet wees met diens aan die Here, met aanbidding.

En soos God dit beskik het, was die owerste van die hofdienaars Daniël goedgesind.  Natuurlik was dit God self wat agter die skerms aan die werk was.

God het gemaak dat hierdie man Daniël goedgesind was.  Maar sy vrees vir ‘n aardse koning was groter as sy goedgesindheid teenoor Daniël.  Soos Daniël God meer gevrees as die mens, het hierdie man die koning meer gevrees as die mens.  Moontlik was hy bang vir Nebukadnésar se legendariese humeur, ons sal nog daarvan lees.

Daniël gaan ‘n slim ooreenkoms aan met hom – wag tien dae dan kyk ons weer – niemand hoef te weet nie. Vergelyk ons dan met die ander mense en doen dan soos jy goeddink.

Sien u ook Daniël se takt en innemendheid?  Hy skop nie ‘n bohaai op nie, hy speel nie martelaar nie.  Soms dink ons om ‘n lyn te trek beteken jy is dwars, hardkoppig en ontoegeeflik.  Maar Daniël maak ‘n vriendelike versoek, en - nou toe nou – hulle lyk wraggies gesonder as die ander mense.  Daniël se God was, en is, getrou.

En die Here seën hulle, “God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome.

Hier sien ons weer hoe God se soewereiniteit en ons intense betrokkenheid kan oorvleuel.  Hierdie kennis is nie op ‘n magiese manier oorgedra na Daniël nie, hulle het hard gewerk, gestudeer, gememoriseer.  Maar uiteindelik kom dit van God.

En omdat dit van God kom is dit geen verrassing dat hulle al die geleerdes en besweerders tien maal oortref in enige saak waarin die koning hulle ondervra het.

Ja, selfs wat dwaas is by God is wyser as die mens se wysheid, en wat swak is by God sterker as die mens se krag.

Ons leef vandag in soortgelyke tye.  Die mensdom het sedertdien nie veel verander nie, maar iets anders het wel verander sedert daardie tyd.  Christus het gekom.

Ons ken ‘n koning wat in ballingskap gegaan het, wat die ryk van die duisternis ingegaan het, wat na Babel gekom het – die ryk van sonde en menslike trots.  Wat homself onderwerp het aan die dood en so die sonde, die dood en die duiwel oorwin het.  Wat op die derde dag opgestaan het uit die dood, verhewe bo alles.

Hy regeer oor alles, en hy eis volkome trou.  Hy sal by jou wees, sy Gees sal jou beskerm teen die indoktrinasie-programme van hierdie wêreld.  Ja, moenie jouself misgis nie, die wêreld wil jou indoktrineer, ook in hierdie komende week.

Net soos Jesus bid: “...die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.  Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.  Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.  Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Is daar iets die moeite werd om jou lewe voor te gee? Waarskynlik nie – as die lewe net sou bestaan uit hierdie kort aardse tydjie, en wat met my gebeur is die enigste wat belangrik is vir my.

Die probleem is dat as ‘n kultuur niks meer het om voor te sterf nie, dit ook niks meer het om voor te leef nie.  “Of jy is bereid om jou lewe te gee vir iets wat die moeite werd is (jy is bereid om soos ‘n martelaar te ly), of jou lewe is niks werd en jy gooi dit weg.  Daar is nie eintlik iets tussen hierdie twee uiterstes nie.  En volgens die Bybel sal elke ware gelowige bereid wees om soos ‘n martelaar te ly”

Hoekom?  Want dit is die weg van die kruis.  Jesus het daardie streep in die sand getrek.  Hy het besluit iets is die moeite werd om sy lewe voor te gee – jy!

En omdat Hy gesterf het, het Hy oorwin.  Hy het die magte van die doderyk verslaan.  Hy kon ook die pad van die minste weerstand gekies het en voor die koning van Babel gebuig het, voor Satan gebuig het.  Maar hy het nie.

Deur Hom kan ook ons nou ‘n streep in die sand trek, kan ons Hom volg na die kruis.

Deur jou daaglikse stryd, deur swaarkry en lyding, deur siekte, en ja, selfs deur die dood, deur haat en spot.  Ek is reg daarvoor, want my God laat die geskiedenis gebeur.

Mag ons hierdie week, deur die genade van God, bewus vir Hom leef.  Want ons tydelike aardse moeites en stryd is niks in vergelyk met die ewige heerlikheid wat vir ons wag nie.  In Christus alleen.

Amen