Die Stryd van die Eeue

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-10-28
Teks: 
Daniël 10:1 - 11:1
Preek Inhoud: 

Vandag begin ons met ʼn visioen wat hier in hoofstuk 10 begin en deurloop tot hoofstuk 12:4.  Ons gaan na hierdie visioen in drie dele kyk:  eers hoofstuk 10 - 11:1, dan hoofstuk 11:2–12, en laastens hoofstuk 12.  Die eerste gedeelte waarna ons vandag gaan kyk, is eintlik meer van ʼn inleiding tot die visioen.

 

Die Stryd van die Eeue

  1. Gebed
  2. Teenwoordigheid
  3. Mag

 

Gebed

In hoofstuk 10:1 staan daar:  “In die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is ʼn woord geopenbaar aan Daniël wat Béltsasar genoem is“.  ‘n Openbaring is iets wat deur God geopenbaar word wat nie bekend sou wees as God nie Homself geopenbaar het nie.  En ons lees:  “die woord is waarheid maar groot swarigheid; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig.“  En hier is ons weer terug by die “verstaan“ (begrip) wat aan Daniël gegee is.

Dwarsdeur ons studie van Daniël kom hierdie tema van “verstaan“ (begrip) telkens terug.  En dit is ʼn egte Bybelse beginsel dat ons die tye waarin ons leef, verstaan, dat ons onderskeidend lewe, dat ons die Skrifte en God se openbarings bestudeer om ʼn beter begrip te hê van wie Hy vir sy volk is, die verlede, hede en toekoms.  Die werk van ʼn Christen is om te dink, om te mediteer, om die tye te onderskei.  En om te reageer in gebed.  Jesus sê vir die mense van sy tyd dat hulle beter weet hoe om die weer te voorspel as die tye waarin hulle leef.

Die sewe-daagse weervoorspelling is baie maal verkeerd. Maar nie die Bybel nie.  Wanneer jy dit verstaan, verstaan jy die hoekoms van dit wat in die wêreld gebeur.  Jy sal weet waarom daar boosheid en verdrukking is.  Jy verstaan die tye en weet hoe om daarin betrokke te raak.  Hierdie hoofstuk gee die nodige insig in die aard van die realiteit.

Ons moet Bybels dink en nie toelaat dat die wêreld ons so oorspoel dat ons daarvan deel word nie.  Jy sien, hierdie hoofstuk wil ons wys dat daar agter alles wat in hierdie wêreld gebeur, ʼn kosmiese oorlog woed.  Daniël is geroep om die tye te onderskei, getrou te arbei, verwagtend te leef en dapper te wandel.

Dit is die doel van die visioen wat God aan Daniël gee.  Sodat sy volk sal glo, in afwagting sal lewe, dapper sal wees.

Voor die tyd van die visioen het Daniël getreur:  “In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur.  Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was.“

Ons weet dat Kores in die derde jaar sy seun, Cambyses, in beheer gestel het, wat ʼn wet uitgevaardig het om die bou van die tempel te stop.  Hier wys hy ware omgee vir die volk.  Dit was veronderstel om ʼn tyd van blydskap te wees, die eerste maand was die maand van die Pasga, waar God se bevryding gevier word.  Maar Daniël treur.  Hy sit homself daartoe om die God van die hemel te soek, met groot selfdissipline en ʼn helder visie van die behoeftes van die koninkryk.  ‘n Mens sien in die Bybel baie manne en vroue van God wat huil of stryd voer.  Soos Tozer eenmaal gesê het:  Die Bybel is in trane geskryf en tot trane sal dit sy opbrengs lewer.  God het niks om te sê vir ligsinnige mense nie.

Ons mis die punt as ons nie besef dat die aanhoudende klem wat op Daniël se wysheid en begrip geplaas word, hom daartoe gelei het om ʼn man van gebed te word nie.  Wat hy gesien het, het hom oor en oor op sy knieë gedwing.  Al hierdie kennis het hom nie opgeblase gemaak nie, dit het hom eerder meer laat besef hoe afhanklik God se volk rêrig is. 

O liewe gemeente, ons kan so baie hieruit leer.  Swakhede in die kerk word eerder gou-gou met ʼn program of ‘n komitee reggemaak as met gebed.  Ons as kerk het ‘n glorieryke doel en visie op aarde, op hierdie plek!  Om ons Here Jesus verheerlik te sien.  Om die lig van die wêreld te wees, die sout van die aarde.  Ons kan dit nie op ons eie doen nie, daarom val ons terug op gebed.  Ons roep uit na God!  En hoe laat Hy nie sy seën op ons neerreën as ons deelneem in die kosmiese stryd nie!  Ons moet hierdie visie voor ons hou en alle dinge daarmee in lyn bring.

 

Teenwoordigheid

Maar ongeveer drie weke later, so lees ons in vers 4:  “En op die vier en twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek op die wal van die groot rivier was, dit is die Hiddékel,  het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ʼn man met linne bekleed,”  Hy staan dus langs die rivier en sien hierdie man “en sy heupe was omgord met goud van Ufas.  En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ʼn menigte.“

Hier is Daniël, ʼn ou man, en hy sien hierdie man in linne met ʼn gordel van suiwer goud, en vuur skiet uit sy mond, sy liggaam is soos ‘n edelgesteente, sy gesig soos die bliksem, sy oë soos fakkels, sy arms en bene van brons en sy stem soos die gedruis van ʼn menigte.  Wie is dit?  Om eerlik te wees, ons weet nie.  Sommige sê dit is die inkarnasie van Jesus self!  Dit het baie ooreenkomste met die ander beelde van Christus of God soos in Esegiël 1 of Openbaring 1.  Ander sê dit is een van die magtiges in die hemel, wat die heerlikheid van God reflekteer.  In elk geval, of dit God is of ʼn boodskapper uit die hemel, hy sien die heerlikheid of ʼn refleksie van die heerlikheid en die mag van God self.

Geliefde gemeente, God bestaan werklik.  Dit moet nie nodig wees dat ek dit in die kerk sê nie.  Maar ons vergeet.  Ons dink aan werksdruk en daardie een kliënt, ons dink aan die baas wat moeilik is, ons dink aan die finansiële probleme wat ons in die gesig staar.  Ons is bekommerd, ons stres.  Wanneer jy Hom sien, begeer jy niks anders hê as om meer van Hom te sien nie.

Beroemdheid, mag, dit alles sal verdwyn in die lig van sy heerlikheid.  Hy bestaan.  In die absolute sin van die woord.  Ek weet jy sê:  “maar natuurlik”.  Maar soms leef ons so asof Hy nie bestaan nie, dat ek dink dit is belangrik om dit te sê.  Hy is werklik, Hy is ontsagwekkend in mag, oorweldigend in heerlikheid, asemrowend in skoonheid, angswekkend in heiligheid.  Hy is oneindig in al sy kenmerke.  As ons Hom as 'n sondige man gesien het, sou ons in 'n oomblik vergaan.  Daar sou niks oorbly nie.  Jy moet Hom sien om te kan weet wie jy is.  Hierdie boek hou aan praat oor Daniël se nederigheid.  Hoe kon hy so nederig wees – nie omdat hy so hard probeer het nie, maar omdat hy sy God geken het.  Om God te ken, maak nederigheid soveel meer outomaties.  Moenie probeer om nederig te wees nie.  Kyk net na God en word nederig.

Selfs die engele wat Hom bedien, is wesens wat reflekteer wie Hy is en vir wie ons as mense in vrees bewe, soos wat Daniël ook doen in hierdie hoofstuk.  Hulle is nie oulike, klein skepseltjies wat rondvlieg en harp speel nie.  Hulle is asemrowende wesens wat die lewende God dien.  Hulle is wesens waarvoor die sondige mens beangs is elke keer wanneer hy met hulle in kontak is.  Net soos die mense hier is.

En Daniël is die enigste een wat toegelaat is om hierdie visioen te sien.  Ons lees in vers 7:  “En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het ʼn groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg.“  Hulle kon nie sien nie en tog was hulle vreesbevange en wou hulle wegkruip.  Dit is soos die visioen wat Paulus op die weg na Damaskus gehad het, waar die ander wat saam met hom was, dit nie kon sien nie.  Maar wel geweet het dat hulle in die teenwoordigheid van Heiligheid was.  Ons het dieselfde beeld in die NT waar Jesus praat oor die dag van sy wederkoms, en op daardie dag sal die ongelowiges roep na die heuwels en die berge om op hulle te val.

Hier is hy, heeltemal alleen, starend na hierdie man, geen krag in hom oor nie, sy gesig doodsbleek en hy was hulpeloos.  Dit is die beeld van ʼn sondaar in die teenwoordigheid van heiligheid.  Wetend dat die dood op hom wag.  Wanneer jy die lewende God ontmoet, maak dit jou klein, dit maak die sondige mens bang om in die teenwoordigheid van perfekte heiligheid te staan.  Dit is in Daniël se swakheid dat hy krag ontvang.  God vernietig hom nie, Hy spreek eerder tot hom.  Sy woord is bemoedigend.  ʼn Mens wat God ken en God gesien het, kan egter nie dieselfde bly nie.  Hy begin om die smaak van die alledaagse dinge te verloor en leer om nader aan sy God te leef.

 

Krag

Dan maak iemand hom wakker uit sy diepe slaap, en sê vir hom:  “Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur.”  Wow!  Hier het ons weer iemand uit die hemel wat Daniël ʼn geliefde man noem.  En vir hom sê om ag te gee op die woorde wat hy gaan hoor.  Dit is die woord van God; hy wat hoor en nie ag gee nie, sal verdoem word.  Maar hy wat hoor en ag gee, vind diepe en eindelose troos in die woorde van God.

Daniël staan dus op en die engel praat verder:  “Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom;“  Daniël, moenie bang wees nie.  Ek weet dat jy bewe, maar moenie vrees nie.  Nie vandag nie, nie in die toekoms nie.  God hoor jou.  Hy het jou lief.  En vandat jy my Woord gelees het en daaroor gemediteer het en tot My in gebed gespreek het, het ek jou gehoor.  Jou stem, Daniël, is gehoor in die troonkamer van God.

Ek hou daarvan hoe hy sê:  “want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig”.  Dit is ʼn ware karaktereienskap van ʼn dissipel van God.  Dit is iets wat hy bewus gedoen het.  Hy het sy gedagtes daarop gefokus.  Net soos wat hy sy gesig na God gedraai het in gebed.  Net soos wat hy hom voorgeneem het in hoofstuk 1 om nie van die koning se kos te eet nie.  Hier is ʼn man wat weet dat hy nie sy instink moet volg en saamgaan met die Babiloniese kultuur nie, maar hy leef doelbewus.  Hy is doelgerig in sy Christelike lewe.  Hy maak besluite om die weg van sy God te volg.

Die engel gaan verder:  “maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.“  Die prins van die Persiese ryk is waarskynlik die demoniese mag wat agter die politiese en nasionale struktuur van Persië staan.  Hier word Daniël toegelaat om ʼn kykie te neem in die hemelse geskiedenis.  Die grootste stryd van almal.

Soos Abraham Kuyper eenmaal geskryf het:  “As die gordyn (van die geskiedenis) eendag weggeskuif word en die geesteswêreld daaragter word sigbaar, sou dit aan ons geestelike visie ʼn geestelike stryd vertoon, so intens, so uit die diepte bruisend, so alles-meesleurend, dat die hewigste geveg wat ooit op aarde geveg is, in vergelyking hiermee slegs na ʼn spel sal laat lyk.  Nie hier nie, maar daarbo – dit is waar die werklike stryd is.”

Hierdie is nie magte waarmee ligtelik gehandel moet word nie en terselfdertyd geen magte waarvoor jy bang hoef te wees nie.  Vanuit die hemelse perspektief mag selfs die bewaarder van Israel in die stryd gaan en die engel-prins van die magtige Persië oorwin.  Hulle is werklike magte en hulle is regtig aan die werk; in hierdie land, in hierdie stad, besig om die koninkryk van God teë te werk.  En ons kan dit nie alleen beveg nie.  Soos die gesang gaan:  Gord ons met eie krag ons aan, dan is die stryd verlore.  Die uiteindelike stryd vind plaas in die ryk waarvan die meeste mense niks weet nie.  Die magstryd van hierdie wêreld is nie tussen Washington DC en Beijing of in die Midde-Ooste nie.  Hierdie wêreldkrisisse is weerspieëlings van ʼn wreder, ewige konflik, naamlik dié tussen die stad van God, met die gasheer van die hemel, en die stad van die duisternis.

Terwyl Kores en sy seun Cambyses die heropbouing van die Joodse tempel teengestaan het in die aardse sfeer, was ʼn geestesoorlog in die hemel aan die gang waar die engel Gabriël die kwaadwillige invloed van die engel-prins van Persië op die politieke situasie op aarde teengestaan het.

Die mag van die prins van Persië was so groot dat Michael, die aartsengel van die leërmag van die Here, gekom het om hom te verslaan.  Let op dat dit die engel van die Here is.  Die stryd was hewig, want voor die koms van ons Here Jesus Christus kan ons verseker wees dat die Satan homself mislei het en gedink het dat hy kon wen, en het hy alles op hom uitgehaal.  Hy het nie besef dat God self eendag tot die stryd sou toetree nie, en wanneer dit gebeur, sou daar net een woord nodig wees om van hom ontslae te wees.  Toe ons Here daardie oorwinning uitgeroep het, het dit deur die eeue weerklink!  DIT IS VOLBRING!  Telesthai.

Daniël was vasgevang in hierdie konflik.  Dit is wonderlik dat die HERE aan hom bekend gemaak het dat sy eie aktiwiteit in gebed hom onvermydelik verbind het aan die kosmiese stryd, met verrykende historiese en geestelike gevolge.  Jy sien, deelname aan hierdie stryd is onvermydelik vir Christene.  Dit is ʼn veldslag waartoe hulle gebring word wanneer hulle God se koninkryk binnegaan.

Dit is slegs in Christus alleen dat ʼn oorwinning verseker is, en sedert daardie dag het die koninkryk van God stryd gevoer by die poorte van die hel, teen die heersers, teen die outoriteite, teen die magte van hierdie donker wêreld en teen die geestesmagte van die bose in die hemelse ruim.

O, mag ons die wapenrusting van ons God in Christus aantrek en voortgaan!  Vir solank as wat die kerk traag is, kan dit Satan se speelgrond wees.  C.S. Lewis het in die Screwtape-briewe vir ons gewys dat dit Satan se taktiek kan wees.  In een hoofstuk laat hy ʼn demoon met ʼn jonger demoon praat en sê:  “Ons beleid op die oomblik is om onsself te verberg ...  Ek het goeie hoop dat ons binnekort sal leer hoe om hulle wetenskap te emosionaliseer en te mitologiseer tot so ʼn mate dat ... geloof in ons (alhoewel nie onder daardie naam nie), sal inkruip terwyl die menslike verstand gesluit bly vir geloof in die Vyand.  Die “Lewenskragte”, die aanbidding van seks en sommige aspekte van psigoanalise, lyk bruikbaar.   Wanneer ons eenmaal ons perfekte werk kan lewer – die Materialistiese Towenaar, wanneer die mens, dit nie gebruik nie, maar ... aanbid, wat hy vaagweg “Kragte” noem terwyl hy die bestaan van “geeste” ontken – dan sal die einde van die oorlog in sig wees.”

Jy sien, wanneer ons veg teen hulle  wat die Bybelse outoriteit vernietig, die militante ateïsme, die relativisme van anti-waarheid, die outonome individualisme, dan veg ons nie teen vlees en bloed nie!  Wanneer daar owerhede is wat hulle teen God se werk verset, wat die kerk vervolg, wat dit onwettig maak om te aanbid, wat vervolging ondersteun:  ons veg nie teen vlees en bloed nie!  Nee, dit is verreweg nie ‘n stryd teen vlees en bloed nie.  Vlees en bloed is die sendingsveld, nie die slagveld nie.  Die geestesmagte is die slagveld.

Maar die HERE ONS GOD is aan ons kant.  Ons veg nie in ons eie krag nie, maar in die krag wat Hy gee.   Daniël bely, nadat die sluier van die geskiedenis vir hom gelig is, dat hy sprakeloos is, sonder krag.  Maar wat gebeur?  God open sy mond.  Die man raak aan sy lippe sodat hy kan spreek en gee krag sodat hy kan staan.  En sê:  “Shalom!  Vrede!  Sjoe, te midde van hierdie oorlog, sê hy vir Daniël: VREDE!  Dit is die kind van God te midde van die storm.  Vrede.  Terwyl die wêreld woedend is, is Hy ons vrede.

En hy sê vir hom om sterk te wees.  Wat is aan Moses gesê voordat hy die volk uitgelei het?  En wat is aan Josua gesê voordat hy die land binnegegaan het?  Wees sterk en dapper, want Ek is met jou!  God met ons!  Hulle het krag en moed nodig gehad, dit was ʼn kosmiese geveg waarin hulle betrokke was.  En nou word aan Daniël gesê dat hy sterk moet wees.  Wees STERK!  Hoekom?  Want daar is ʼn nuwe eksodus en ʼn nuwe ingang na die beloofde land wat op die punt staan om te gebeur, en hierdie gevegte lei daarnatoe!  Dit is wat die engel hom in vers 20 vertel.

En dit is waaroor die boek van waarheid gaan, lees ons in vers 21.  Dit is God se verhaal van die bouwerk aan sy koninkryk.  Sy planne kan nie verwring word nie.  Sy wil is van ewigheid tot ewigheid!  Dit is troos!  Dus, moenie eers na troos soek nie, soek die waarheid en jy sal troos ontvang.  Soos een skrywer sê:  “In geloof, soos in oorlog en alle ander dinge, troos is die een ding wat jy nie kan soek en vind nie.  As jy vir die waarheid soek, mag jy op die ou end troos vind:  as jy troos soek, sal jy nòg troos nòg waarheid vind – net wensdenkery, om mee te begin, en op die ou end: wanhoop.”

Voordat ons afsluit, laat ek vier punte gee ter opsomming.

  1. Die gebeure in hierdie wêreld kan nie geïnterpreteer word deur die boeke van geskiedskrywers alleen nie.  Jy het die boek van die Waarheid nodig.
  2. Christen:  Jy sal vasgevang word in hierdie Geestesoorlog, soos Paulus meedeel, die wapens van ons oorlog is nie vleeslik nie, maar magtig deur God om versterkings neer te trek, argumente en alles wat homself teen die kennis van God verhoog, omver te gooi, om elke gedagte vas te vang in gehoorsaamheid aan Christus.  Laat ons hierdie kerk nie net ʼn hospitaal vir siek sondaars maak nie, maar ʼn oefenterrein vir volwasse soldate van Jesus Christus.  Laat ons mekaar leer, toerus en dissipels maak vir hierdie oorlog.
  3. Hierdie visioen onderstreep die krag van gebed.  Daar word gesê Mary Koningin van Skotland was banger vir John Knox se gebede as vir die invallende leër.  Maar asseblief, dit is nie gebed wat alles verander nie.  Dit is God.  Dit leer Daniël 10 ons.  En jou lewe moet pas by jou gebed.  Soos Jakobus sê: die gebed van ʼn regverdige man is kragtig in sy werking.
  4. En ten slotte, jy is nie alleen nie.  Die bewoners van die hemel veg en staan in diens van God se kinders, soos Hebreërs sê: dat sy engele “dienende geeste is wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe.”

 

“Uw deel, hoeveel zwaarder is 't hier niet geweest!
Hoe spande niet satan zijn strik!
En ziend' op Uw kruis roemt in mij ook mijn geest:
't is mij goed, wat mijn God mij beschikk'.”

Amen.