Die gebed van die belydenis van sonde

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-10-14
Teks: 
Daniël 9:1-19
Preek Inhoud: 

“Dit wat ʼn persoon in die geheim is, op sy knieë voor God, dit is wat hy is en niks meer nie.” John Owen.  Daar is so baie wat van ons gesê kan word bloot deur na die dinge te luister waaroor ons bid.  In ʼn sekere sin is gebed ʼn bekentenis oor dit wat ons van God en van onsself weet.

Gebed.  Wat is gebed?  Die meeste mense sal sê dit is om met God te praat, hoofsaaklik om te vra wat ons nodig het.  Dit is gedeeltelik waar, maar daar is ook iets wat hieraan ontbreek.  In Jeremia 33:3 sê God aan die Israeliete: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”  Gebed is ʼn gesprek met God.  Jy praat, Hy antwoord.

Tim Keller verduidelik dit so:  “Wat is gebed nou eintlik, in die volle sin van die woord?  Gebed is ʼn aaneenlopende gesprek wat God deur sy Woord en genade begin het, en wat uiteindelik ʼn volledige ontmoeting met Hom word...  Die krag van ons gebed lê nie eerstens in ons vermoë en ons ywer, of in een of ander tegniek nie, dit lê in ons kennis van God.”

Hoe meer ons God leer ken, hoe meer sal ons bid.  En hoe meer sal ons gebede beantwoord word, want ons baseer die inhoud van ons gebed op dit wat God gesê het.  Die wêreld sal eendag geskok wees oor alles wat deur gebed bereik is. Meer as waarvan dit ooit kon droom.  Gebed is op ons kennis van God gebaseer, wat voortspruit uit die lees van sy Woord.  As ons nie met die Skrif omgaan nie, sal ons gebede te kort skiet.  Dit is soos om ʼn gesprek oor die telefoon met iemand te voer, waar die ander persoon jou kan hoor, maar jy kan hom nie hoor nie.  Daniël het dit verstaan.  Hy was ʼn man van gebed, want hy was ʼn man van die Woord.  Hy het na God geluister, en hy het gereageer op wat hy in die geloof gehoor het.  Dit is wat ons vandag ook sal sien.

Die gebed van die belydenis van sonde:

  1. Dit vloei vanuit die Woord
  2. Dit spreek God aan en bely sondes

 

Dit vloei vanuit die Woord

“Want alle vlees is soos gras, en die heerlikheid van die mens soos ʼn blom van die gras.  Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid.” ( 1 Petr. 1:24)

Daniël het die Woord bestudeer.  Die Woord wat vas bly staan deur al die konings en koninkryke wat opgestaan en weer in die hart van see weggesink het.  Dit is die Een ding wat bly staan: die Woord van God. Die Woord van God en God is baie nou aanmekaar verbind.  Jy kan nie sy Woord skei van Wie Hy is nie.  Sy Woord is sy openbaring; dit is Wie Hy is.  Daarom hou dit vir ewig stand.  Ons lees in vers 2: “In die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die Here tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.”

Dit was nou die eerste jaar van Darius die Grote.  Die Perse het oorwin, soos Daniël in die vorige hoofstuk voorspel het.  Daniël het gesien hoe sy eie profesie waar word.  Maar dit beteken nie dat hy vir nog visioene gewag het nie.  Ons vind Daniël hier waar hy besig is om die Bybel te lees.  Hul verkondigings het mekaar oorvleuel, maar Jeremia het voor Daniël gekom – en hy het toe na Egipte gegaan.

 ʼn Voetnota:  Onthou dat net ʼn paar jaar verloop het sedert Jeremia hierdie woorde geskryf het, en dit is reeds as die Skrif aanvaar.  God se mense het nie die Bybel gemaak nie, die Bybel het God se mense gemaak. Dit is die Woord van God wat die kerk vorm, nie andersom nie.  Die Bybel was God se Woord vanaf die oomblik toe dit geskryf is, en vir die meeste boeke in die Bybel is dit as sulks aanvaar.

Daniël het heel moontlik die presiese woorde gelees wat ons vandag nog in Jeremia lees (net in Hebreeus). Toe hy by hoofstuk 25, of miskien 29, kom, besef en verstaan hy dat die vernietiging en die ballingskap 70 jaar sal duur.  Hy besef daarmee saam dat 64 jaar al verby is, en dat die ballingskap amper verby is.

Kyk wat Jeremia sê in 29:10 :  “Want so sê die Here: as eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle My goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring.  Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ʼn hoopvolle toekoms te gee.”  Daniël het visioene van hoop vir God se volk gesien.  En nou lees Hy ook daarvan in Jeremia. 70 jaar was amper verby, en hy weet nou dat die ballingskap naby aan die einde is.

Kyk wat hy lees oor wat aan die einde van die 70  jaar gaan gebeur.  Vers 12 e.v.: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.  En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.  En Ek sal My deur julle laat vind...”

Wow.  Daniël lees dit, en besef dat hulle aan die einde van die 70 jaar staan.  Hy bid volgens hierdie profesie. Sy gebed is deel van God se plan.  Jeremia het dit voorspel.  Moses het ook ʼn beroep op die volk gedoen om te bid.  Ek is seker Daniël het die boeke van Moses geken.  Levitikus 26:40-42: “Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders [...] as hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid, sal Ek dink aan my verbond met Jakob”.  Wat hier gebeur, is ook wat die profeet Moses in Deuteronomium 4:30-31 geskryf het: “As jy in nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister. [...] Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou Vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.”

Daniël lees sy Bybel.  Sy reaksie hierop?  Gebed: “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die Here my God gebid en belydenis gedoen”.  Die gebede van God se kinders is nou verweef met Sy plan.  Hier is ʼn man wat die Bybel glo.  “Here, u het belowe...”  Geloof is om aan God se Woord vas te hou, en om God aan sy Woord te hou.

Dit is die Woord van God.  Nie een van hierdie woorde sal op die grond val nie.  Elke belofte is ʼn ja en amen. Gaan lees dit self.  Dit gaan oor God se werk.  God se verbond.  God se liefde.  God se geregtigheid.  Dit gaan oor God wat sy verbond hou.  Wil jy weet hoe om te bid?  Of waarvoor om te bid?  Lees hierdie boek, en laat jou gebedslewe daaruit vloei.  Daniël se gebed verbind die hele Bybel, vanaf die boeke van Moses tot die profesie van Jeremia.  Hy noem ook die profete en die konings in sy gebed.  Hierdie gebed is ʼn Skrifgevulde gebed.

Wanneer ʼn mens God se Woord lees, word ʼn antwoord geëis.  ʼn Kind van God kan nie hierdie boek lees en sê: “Dit was nou gaaf” en dit op die rak terugsit nie.  ʼn Kind van God lees dit, biddend, en hy vra dat God hom die betekenis sal uitlê, omdat hy weet dat sy lewe daarvan afhang.  Dit is waarom dit belangrik is om nie net te lees nie, maar om ook te verstaan.  Dit is wat Daniël gedoen het: “uit die Skrifte vasgestel” (AFR83).  Dit is die regte woorde van God.  Voorspelbaar, waar, nooit verkeerd nie – net soos God, want dit is immers deur Hom geskryf.

Let op dat Daniël, al is hy gelowig, bid as ʼn lid van die volk van God (die kerk).  Dit is ʼn gemeenskaplike gebed. Die kerk is ʼn liggaam.  Een Liggaam – die Liggaam van Christus.  Ons is saam hierin, of ons nou daarvan hou of nie.  Ons val as een, ons staan op as een.  Daar is nie een regverdige persoon hier wat homself in afsondering van die liggaam kan hou nie.  As een seerkry, kry almal seer.  As daar een is wat homself sou kon afsonder, was dit Daniël; en ons sien in sy gebed dat hy dit nie gedoen het nie.

Ons is nie individualistiese mense nie.  Ons is ʼn liggaam.  Ons funksioneer as ʼn eenheid.  Dit is waarom ons mekaar se laste dra, of mekaar hou aan die baie ander opdragte in die Nuwe Testament.  Ek en jy is deel van hierdie liggaam.  Dit is jou verantwoordelikheid om in ander se lewens te werk, en partymaal gaan jy vuil word.  Jy kan nie voorgee om jouself van ander se sondes af te sonder nie. Ja, en dit is baie morsiger om in iemand se lewe te werk as wat ons onsself kan voorstel, maar eerder dit as wat ons afstand sou skep en ons nie daarmee sou vereenselwig nie.

Christus sou Hom van ons kon afsonder, maar dit is presies wat Hy nie gedoen het nie.  Hy het in die gemors kom werk. Hy het een van ons geword en ons daardeur tot ʼn eenheid in Hom gevorm.  Sodat ons vandag soveel dieper en grondiger een is as wat Daniël homself ooit sou kon voorstel.

Daar is ook niks gemakliks aan sy benadering tot gebed nie.  Ons lees in vers 3: “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smeking te wy.”  “Ek het my aangesig  gerig”...   Dit is een van die doelbewuste uitdagings vir jong ouers om seker te maak dat hulle kinders iemand in die oë kyk wanneer daar met hulle gepraat word.  “Kyk na my wanneer jy met my praat.”  Dit is baie vreemd en ongemaklik as iemand verby jou kyk wanneer hy met jou praat.  Hy praat nie met God terwyl hy op sy skootrekenaar besig is, of ander werk doen nie.  Daar is plek vir daardie soort gebede.  Maar Daniël vas in ʼn roukleed en in as, in selfverloëning.  Die minste wat die lewe in vandag se besige wêreld  vereis, is dat ons in ons verhouding tot tyd, sal vas, as ons God se Woord ken, en so hartstogtelik soos Daniël in gebed is.  Dit mag beteken om van tegnologie te vas, of selfs van kos vir ʼn bepaalde tydperk.  Daar is nie gesonde groei sonder pynlike snoei nie.

Kom ons kyk na hierdie gebed.

Belydenis

Let op na hoe die gebed gestruktureer is.  Hy spreek God aan as God. Ja, ek weet dit klink voor-die-hand-liggend.  Wel, dit behoort so te wees, maar ek weet dat ons God nie altyd as ‘God’ aanspreek nie.  Dit is goed om Hom met intimiteit aan te spreek, maar ons moet Hom ook as God sien.  Dink aan al die mense wat God ontmoet het en met Hom gepraat het.  God is groot, heilig, vol majesteit, wonderbaar.  Sy majesteit is nie ʼn grens vir intimiteit nie.  Maar ons moenie dink dat intimiteit op ʼn gemaklik of informele wyse uitdrukking moet kry nie.

Dit is hoe hy God aanspreek in vers 4: “Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.”  “O groot en gedugte God”...  Hoor jy die nederigheid in sy stem?  Die blote besef met Wie hy praat.  ʼn God wat groot en wonderbaar is.  Hy hou sy Woord.  Dit is ʼn troue God vir almal wat Hom liefhet en aan Hom gehoorsaam is.  “... en sy gebooie onderhou”?  Ja!  Jesus sê: “As jy My liefhet, sal jy My gebooie onderhou.”  Liefde sonder gehoorsaamheid is eenvoudig daardie vae, leë gevoel wat jy jeens die meisie in graad 1 gekoester het.  Hierdie is die God wat sy verbond van liefde hou.  Maar wat doen sy eie volk?  Die teenoorgestelde.  “Ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister...”

Dan weer in vers 7 bid Daniël en vertel van God: “Aan U, Here, kom die geregtigheid toe”  En dan van sy volk: “maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is [...] oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het.”

Dan weer in vers 9: “By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing”.  En oor sy volk: “want ons het teen Hom opgestaan en na die stem van die Here ons God nie geluister om te wandel in sy wette wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie.  Maar die hele Israel het u wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na u stem geluister het nie”.

Sien jy wat hier gebeur?  “God, dit is Wie U is.  God, dit is wie ons is.  U is groot.  U is wonderbaar.  U is regverdig.  U is genadig.  U vergewe.”  Wat is God se kinders?  Sondaars.  Doen die verkeerde dinge.  Boos. Opstandig.  Beskaamd.  Ontrou.  Ongehoorsaam.  Oortreders.  Rebelleerders.  Dit is die verhaal van God en sy volk.  Daniël verstaan dit.  Hy het sy volk nie jammer gekry nie; hy weet dat hulle presies gekry het wat hulle verdien.  Hy het Levitikus en Deuteronomium gelees.  Hy ken die vloeke – God het hulle keer op keer gewaarsku, soos waarna hy in vers 11b-14 na verwys.  God het gedoen wat Hy gesê het Hy sal doen.

God het oor en oor gesê dat dit sal gebeur as hulle aanhou om op die verkeerde pad te loop.  En nog steeds het hulle dit gedoen.  “Soos ʼn vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.” (Ps. 103:13)  Hy het vir hulle gesê die manier waarop hulle besig was, gaan hulle laat seerkry, soos wat enige liefdevolle pa sou doen, maar soms luister die kinders nie.  Dit is wat ouerskap so moeilik maak.  Jy waarsku hulle, hulle sê: “Ja, Pa” en doen dan presies wat jy gesê het hulle nie moet doen nie.  Partymaal leer kinders op die harde manier, en deur God se genade kom hulle terug en sê: “Pa, jy was reg.”

Ons is dalk nie so blatant ongehoorsaam nie, maar net soos Israel kan dit lyk of ons naby kom en dan in werklikheid nog steeds ver weg is.  Soos die storie van die klein seuntjie in die voorste sitplek (nog voordat daar kinderstoeltjies was) wat heeltyd opspring terwyl sy Ma sê dat hy moet stil sit.  Hy sal vir ʼn rukkie stil sit en dan weer opspring.  Uiteindelik pen sy ma hom vas en hy sê vir haar: “Ek mag dalk aan die buitekant sit, maar aan die binnekant spring ek weer op.”  Geliefdes, julle weet hoe maklik dit is om daardie speletjie te speel.  Dit is waarom, wanneer ons ons sonde bely, dit help om spesifiek te wees.  “Sodat hulle geen verontskuldiging het nie.” (Rom. 1:20)

Eis

Eers vanaf hierdie punt gaan hy verder vanaf die belydenis na die eis.  Belydenis.  Belydenis.  Belydenis.  Dan eis.  En wanneer hy vra, gaan dit nie oor hom nie, maar oor God.

In vers 15-16 vertel Hy van God se groot dade, en herinner God daaraan, in ʼn sekere sin, dat hierdie volk sy volk is.  Hy het hulle uit Egipte gered.  Hy het ʼn Naam vir Homself gemaak.  Ons het gesondig.  Dit is ons sonde wat Jerusalem ʼn plek van bespotting vir die wêreld gemaak het.  Dit is wanneer die kerk sondig, dat die wêreld lag.  En dit is God se Naam wat klein gemaak word.  Die wonderbaarlike en heerlike God.  En Daniël weet dit. Hy pleit by God dat Hy, om sy eie ontwil, sy kwaad en wraak sal wegkeer en die sondes sal vergewe.  Nie net om sy volk se ontwil nie.  Maar ter wille van God se heilige Naam.  Die kerk bestaan om God te eer.  Om sy Naam te eer.  Dit is hoekom ons hier is: om sy Naam in woord en daad aan te kondig vir almal rondom ons.  Om van sy magtige wonders te vertel.

Soos hy in vers 18 sê: “nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid.”

Hierdie is ʼn wonderlike hoofstuk in Daniël en dit sal die kerk goed doen as sy daaraan vashou.  In hierdie wêreld waar “God my aanvaar soos ek is” lyk dit asof daar ʼn vrees is om oor sonde te praat en te besef dat die persoon wat jy is, moet verander.  Die afkeer van bekering en sonde is nie iets wat in die Ballingskap 600 vC agtergebly het nie.  Mense bely nie meer hulle sonde op ʼn gereelde basis nie.  Ons vind nie sommer meer iemand wat sê: “Ek het gerebelleer, en ek is ʼn afskuwelike sondaar” nie.  Ons vind net nie meer daardie beklemtoning nie.  Niemand wil dit hoor nie.  ‘Ek wil nie hoor dat ek ʼn gemors is nie.  Ek wil hoor dat ek ʼn meesterstuk is!’  Dit is makliker om te sê: “Ek weet nou nie of my lewe verloop soos ek daarvan hou nie” as om reguit te sê: “Ek is ʼn groot sondaar”.   En so is ook die kerk in ʼn bepaalde tyd in die geskiedenis.  Hier is ʼn prediker wat sy mense tot bekering lei, en vir sy mense wys hoe vergewing lyk.  In sommige kerke sou hierdie gebed nooit as ‘reg’ aanvaar word nie...

Een man wat homself ʼn predikant noem, het die volgende gesê:  “Ons moet positief dink, eerder as om min van onsself te dink en onsself nie te erken vir wie ons is nie, en om op ons foute te fokus (jy bedoel, soos Daniël!)...  Ek wonder wat sal gebeur die dag wanneer ons braaf genoeg is om te sê: ‘Ek is so wonderlik, en goed, waardevol.’ As jy so sou praat, dan sal wonderlike dinge op jou afkom.  Goedheid sal na jou toe aanstorm.  Dan sal jy nie daardie droewe, verslae mentaliteit van “Ek is maar net gewoon” hê nie.  Jy sal jouself soos ʼn koning of koningin dra.  Selfversekerd, met die wete dat die Skepper van die heelal jou met die hand uitgekies het.”  As ek sou so preek, sal ons dalk nog ʼn kerksaal moet bou...

Maar geliefdes, dit is ʼn leuen.  Dit is nie die goeie nuus van Jesus Christus nie.  Hy het gekom vir sondaars, en vir mense wat besef dat hulle sondaars is.  Hy is wonderlik.  Nie ons nie.  Ons het die goeie nuus nodig, maar die enigste manier om te weet dat dit goeie nuus is, is om die slegte nuus te ken wat die goeie nuus goed maak.  En dit is wat belydenis en ‘n besef van die sonde doen.

‘n Teoloog het gesê: “Dit wat ons van die wêreld onderskei, is nie dat ons minder boos is nie (alhoewel, hopelik is ons), maar dat ons, deur die genade van God, geleer het om ons boosheid te sien vir wat dit is en om ons sondes te bely.  Die kerk is die enigste liggaam op aarde wat sondes bely. En daar waar die belydenis van sonde uitdoof, daar is die kerk nie meer kerk nie.”  Pragtig.  Geliefde gemeente, julle het ʼn regverdige en vergewingsgesinde God.  ‘n God wat getrou bly aan sy verbond.  ʼn God wat geduldig is met die lang lyding van gebroke en hardkoppige mense.

Hier is ʼn man wat dit alles verstaan.  Hier is ʼn profeet wat sy volk lei.  Hy kon maklik anders gesê het, maar hy identifiseer homself met hulle.  Sien jy dat dit volgens God se geregtigheid was dat Hy Israel gestraf het?  En Daniël bid dat Hy hulle sal red volgens sy geregtigheid (vers 7,16).  Dit is presies wat Jesus gedoen het. Christus, die sondelose Lam van God, het een van ons geword en vir ons gebid, sodat ons verlos mag word. Hier is ʼn profeet wat weet dat hoop, verlossing en ʼn toekoms slegs by die Here te vinde is, soos wat dit in Jeremia geprofeteer is.  Hy roep uit: “Here, hoor!  Here, vergeef!  Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.”  En omdat Hy verlos en geantwoord het, het ons ʼn verlossing wat deur daardie een vooruitgewys is.  Ons het ʼn antwoord wat vir ewig neergeskryf is en met die bloed van die kruis verseël is.

Ons lees in 1 Johannes 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”  Dit is sy regverdigheid wat sy geregtigheid vereis. En sy regverdigheid is ons verlossing.  Dit is ongelooflik.  Dit is die evangelie.  Christus se regverdigheid is ons verlossing.  En dit is waarna ons volgende week sal kyk in een van die moeilikste dele van Daniël.

Amen.