In die soewereiniteit van God, wees voorbereid op moeilike tye.

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-09-16
Teks: 
Daniël 8
Preek Inhoud: 

Ek het dit oorweeg om vandag met die laaste vers te begin: “en ek was verstom oor die gesig, en niemand het dit gemerk [verstaan vlg. ander vertalings] nie.”  En dan die preek baie kort te maak deur bloot te sê : “Ons kan nie hierdie dinge verstaan nie”, en om dan weg te stap.  Maar dit hou nie net in dat God se Woord nie ons tyd werd is, en dat ons niks daaruit kan kry nie, ek dink dit beteken ook dat hierdie vers verkeerd verstaan word.  Ek dink dat dit wat nie begryp kan word nie, was dat God die geskiedenis op hierdie manier sou lei.  Soms is die pad wat die geskiedenis volg, onbegryplik.  Ek dink as iemand ʼn visioen van die moord op ses miljoen onskuldige Jode gesien het voordat dit gebeur het, sou dit ook onverstaanbaar gewees het.

Nog iets wat ons oor hierdie hoofstuk moet verstaan, is dat die tyd wat lei tot die koms van die Messias, Hom vir Wie ons ken as Jesus, van kardinale belang was.  Hierdie hoofstukke vertel ons van daardie tyd.  Ons weet dat daar ʼn tyd van stilte tussen die laaste profeet en die koms van die Messias was, maar dit beteken nie dat God stilgebly het nie.

Die tyd tussen die laaste profeet en Jesus was ʼn tyd van stryd om geloof, ʼn tyd van ʼn amperse uitwissing van God se volk, waar die bose geheers het, waar misbruik aan die orde van die dag was, maar dit was ook ʼn tyd van ongelooflike uithoudingsvermoë en getrouheid.  Daar was tye wat dit gelyk het asof daar niks meer oor was nie; die bose is selfs toegelaat om tydelik in die Here se huis te regeer.  In die tempel, in GOD SE HUIS! Ek dink dat ons soms vandag aan die tempel terugdink as net maar nog ʼn gebou, wat nie enige betekenis gedra het behalwe dat dit ons op Christus gewys het nie.  Vir daardie mense was die tempel die plek waar God gewoon het.  In daardie tyd was dit die plek waarheen mense gegaan het om God te ontmoet.  As jou geloof opreg was, was die tempel werklik belangrik.  Dit is die plek waar hemel en aarde ontmoet het. 

In hierdie visioen is die tempel toegesluit deur iemand wat met byna satanistiese terme beskryf word.  Geen wonder dat Daniël sprakeloos is nie.  Toegang tot God was op ʼn manier tydelik gestaak.  Enige man van God sal gebroke wees as hy so iets moet aanskou.  Maar kom ons kyk na die visioen in vers 1-14,voordat ons op onsself vooruitloop,en dan na die interpretasie daarvan in vers 15-26, voordat ons die implikasies daarvan uitwys.

In die soewereiniteit van God, wees voorbereid op moeilike tye.

  1. Visioen
  2. Interpretasie
  3. Implikasies

Visioen (1-14)

Ons lees in vers 1-4 dat hy langs ʼn rivier in ʼn stad staan.  Soos wat hy opkyk, sien hy ʼn kolossale ram met twee baie lang horings, die een horing langer as die ander een.  Hierdie ram gaan oor die hele aarde en maak net soos hy lus het.  Hy vernietig alles waar hy ook al gaan.  Hy kom vanuit die ooste.  Niemand kan standhou voor hierdie ram met sy twee horings nie.  Hy het groot en magtig geword.

In vers 5-8 gaan dit verder.  Daniël sien hierdie gesig en begin daaroor nadink.  Hy kry egter nie baie tyd om te dink nie, want skielik verskyn daar ‘n bok.  Baie skielik.  Die bok kom van die weste en het een horing.  Hy beweeg so vinnig oor die aarde dat dit lyk asof hy vlieg.  Die bok bots met die ram en vertrap dit, hy maak die ram heeltemal tot niet.

Vers 7 sê: “... en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie ... en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie.”  Die ram het magtig geword, soos wat ons in vers 4 lees, maar die bok het UITERMATE MAGTIG geword, soos wat ons in vers 8 lees.  En dan, op die punt waar die bok op sy magtigste was, breek sy horing af en vier nuwe horings groei in die plek daarvan uit.  Vier horings, van die vier windrigtings, of die vier hoeke van die aarde, kan ‘n mens maar sê.

In vers 9-12 lees ons dat daar uit een van die horings nog ʼn kleiner horing begin groei het.  ʼn Klein horing wat al hoe meer mag gekry het, en suidwaarts en ooswaarts gegroei het, na ʼn pragtige land.  Pragtige Land.  Ek hou van hierdie naam vir ʼn land wat God geseën het.  Daar waar Hy woon, is dit pragtig.  Dit herinner ons aan Psalm 48, oor Jerusalem: “Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde”.  Maar die vreugde van die hele aarde sou deur hierdie horing oorgeneem word.  Die horing gaan reg in God se heilige woonplek in, en stop alle offerandes.

Toe is daar wat genoem word “’n heilige”, moontlik ʼn engel.  In vers 13 roep hy uit toe hy sien dat die vreugde van die hele wêreld verontreining word en dat al die offers opgehou het en dat hierdie koning doen net wat hy wil, sonder enige nagevolge.  Ons lees: “Hoe lank sal die gesig duur – van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid – sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word?”  Toe sê ʼn ander een: “Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.”  Dit sal dan 1150 dae wees, of omtrent drie-en-ʼn-half jaar.

Weer eens staan Daniël daar en probeer om dit alles te verstaan net soos wat hy die ram heel aan die begin probeer verstaan het.  En hy hoor hoe iemand vir Gabriël, die boodskapper van God, aansê om vir Daniël die betekenis van die visioen uit te lê.  As jy op hierdie punt deurmekaar is, moenie bekommerd wees nie.  Daniël het ook probeer om dit verstaan, soos ons in vers 15 lees, en heel waarskynlik kry hy dit nie heeltemal reg nie, want iemand wat lyk soos die seun van ‘n mens stuur vir Gabriël om dit aan hom te kom verduidelik.  En dit bring ons by die interpretasie van dit alles. 

 

Interpretasie (17-25)

In vers 16 word iemand gestuur om aan Daniël die betekenis van die droom uit te lê.  Dit was waarskynlik ʼn engel.  Daniël is vreesbevange in die teenwoordigheid van die engel en val plat op sy gesig.  Engele is nie oulike klein skepsels nie.  Wanneer ons hulle in die Skrif teëkom, is hulle asemrowende, vreeslike wesens wat selfs sterk manne (wat al menige beproewings deurgemaak het, soos Daniël) op hulle gesigte laat val.  En die engel sê in vers 17: “Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.”  En  verder in vers 19: “Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.

Hier kry Daniël ʼn vooruitsig, en ons kry ook ʼn wenk: dit gaan hier oor die tyd van die einde. Ons lees ook in vers 26: “hou die gesig geheim, want dit sien op ʼn verre toekoms.”  Die tyd van die einde is ʼn tyd wat nog steeds ‘n uitweg is – en hierdie tekens lei na daardie tyd.  Dit is nie ʼn mooi prentjie nie.

Die engel vertel aan hom dat die twee-horing ram die konings van die Mede en die Perse is.  Persië is die langer en sterker horing.  Die Persiese Ryk was magtig, en niemand kon voor dit staande bly nie.  By tye het dit met leërs van 25 000 man marsjeer.  Hierdie ryk het 200 jaar lank regeer, tot ongeveer in die jaar 330 voor Christus.  Die Persiese koning word ‘die koning van konings’ genoem.  Met ander woorde, soos die Bybel sê, hy het magtig geword.

Die engel gee net in een vers aandag hieraan, in vers 20, en gaan dan verder in vers 21: “En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.”  Die visioen gaan dus oor die Mede-Persiese ryk wat deur die koning van Griekeland met die aarde gelyk gemaak word. En dit is presies wat gebeur het.

Wat gebeur het, is dat die bok met die horing van nêrens af gekom het.  Hy staan ook bekend as Alexander die Grote.  Baie reken vandag nog dat hy die grootste militêre genie was wat al ooit geleef het.  Binne 10 jaar het hy die wêreld oorgeneem.  Die visioen verduidelik dit as “[kom aan] oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak.”  Hy het geglo dat hy die verlosser van die wêreld is.  Hy het geglo dat hy van die gode afgestam het.  Die ryk wat hy gebou het, is tot op hede die grootste in die hele geskiedenis. Hy het die Persiese Ryk vermorsel. 

Die finale veldslag was teen Darius III, wat so selfversekerd was dat hy hierdie klein weermag uit die weste sal verower, dat hy sy familie saamgebring het om te kom kyk, saam met ongelooflike skatte en rykdomme.

Wel, om ʼn lang storie kort te maak, die Bybel is altyd reg in sy voorspellings, ongeag die grootte van leërs.  Die Perse sal verloor, want God het so gesê.  Nadat Alexander ʼn groter ryk as enigeen voor of na hom gebou het, het hy dit alles verloor.  Soos die Bybel in vers 8 sê: “[hy] het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was het die groot horing afgebreek”.  En dit is presies wat gebeur het; weer eens, die Bybel het gesê dit  gaan gebeur en dus het dit net so gebeur.  Kan julle sien dat ons God se verhaal lees, selfs al lees ons geskiedenis? Ek gee nie om hoe lank die geskiedenis nog sal aangaan nie, God het dit alles geskryf.  En elkeen van sy kinders se name is in ʼn boek neergeskryf, sodat hulle nie te midde van ʼn verdraaide en bose geslag verlore sal gaan nie.  Ons moet leer om aan die beloftes van God vas te hou.  As God sê dit sal gebeur, dan sal dit gebeur.  In ʼn sekere sin is ons teologie geskiedenis.  Dit kom voort uit egte geskiedkundige gebeure.  Dit is die stryd van die mens se geskiedenis vir die mens se hart.

Vers 8 en 22 gaan verder en vertel aan ons dat die groot horing (Alexander die Grote) afgebreek word (hy sterf) en sy ryk word dan in vier dele verdeel.

Dan fokus vers 9-12 en vers 23-25 in die interpretasie op een van die vier ryke, en spesifiek op een koning. Dit fokus op die Seleucus-ryk.  Dit is die klein horing wat uit die groot horing gegroei het.  Ons lees oor hom in vers 23: “Maar aan die einde van hulle heerskappy (heerskappy van die Seleucus), as die goddelose die maat volgemaak het, sal ʼn koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan.” Die tyd toe hierdie man magtig geword het, was ʼn tyd waarin God se volk die pad byster geraak het.  Die hoëpriesterskap was ʼn gemors.  Ons lees hiervan in die Makkabeërs:

                “Die hoëpriesterskap was op ʼn uitverkoping ....... en die goue kruike van die tempel is verkoop om vir onheilige aankope te betaal.  Terselfdertyd is die gebruike van die heidense volke onder die Jode ingevoer. die jeug is volgens Griekse gebruike opgelei en geoefen; .....  die mense het van die ware  geloof afvallig geword.”

Op ‘n manier sou God ongelooflike lyding en vervolging gebruik om sy volk te reinig, en dit is ook wat gebeur het.

Vers 23 gaan verder: “[ʼn koning] hard van aangesig en wat listige streke verstaan.”  Dit was heel waarskynlik Antiochus Epiphanes, want dit is hoe hy deur ander beskryf is.  Hy het aan die einde van die Seleucus-ryk magtig geword.  Hierdie teksgedeelte pas hom soos ʼn handskoen.

Vers 10 vertel oor hom: “En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.”  In vers 24 lees ons die interpretasie: hy sal die magtige manne en die heilige mense vernietig.  En dis wat hy doen.

Hierdie man voer oorlog teen die stad van God, en teen God se kinders.  Dit was ʼn tyd van geweldige vervolging.  In een aanval is 40 000 Jode binne 3 dae vermoor.  Sommige reken dat 100 000 Jode in sy drie jaar van terreur dood is.

Hy het sy manne bevel gegee om die tempel te ontheilig.  Om afgode in God se huis op te rig.  Hy het die Jode geforseer om die Griekse kultuur aan te neem.  Hulle het boeke van die wet opgeskeur en verbrand, met ander woorde, soos vers 12 sê: “en dit het die waarheid op die grond neergewerp”.  As jy besny is, is jy doodgemaak.  Hy het brandoffers verbied.  Die tempel is bemors.  Die aanbidding van God is besoedel.  En bo dit alles het hy hulle gedwing om ʼn vark op die altaar van God te offer.  Hierdie heerskappy het omtrent drie-en-ʼn-half jaar geduur, of dan omtrent 2300 aande en môres.

Die haat van Satan is geweldig, geliefdes.  Dit is ʼn brandende en suiwer haat.  En hy wil niks met God of met die aanbidding van God te make hê nie.  Hierdie oorlog is groter as net ʼn man met ‘n harde gesig, en die Jode. Die man het ʼn standpunt teen die Prins van Prinse ingeneem soos wat Satan in die begin teen God gerebelleer  het.  Dit is die oorlog tussen lig en duisternis.  Goed en sleg.  God en Satan.

Dit is alles gewys voor die tyd van die einde.  Satan weet dat die tyd van die einde nader kom, en hoe nader die einde kom, hoe wreder en vyandiger word hy.  Hy is soos ʼn vasgekeerde hond.

Maar kyk na wat met hierdie man gebeur, in vers 25: “hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.” Weer eens is dit GOD wat hier ter sprake is.  Wanneer iemand die kerk aanval, is dit in der waarheid ʼn aanval op God.

Satan het geweet dat, as daar geen regverdige oorblyfsel bly lewe nie, sal daar geen Messias wes nie.  Maar God beskerm sy kinders.  Al lyk dit asof Satan wen, baklei hy met die verkeerde mense.  Nie omdat die mense self so goed is nie, maar omdat die Een aan Wie hulle behoort, die Skepper van hemel en aarde is, die Almagtige God.  ‘n Mens mors nie met die kerk nie.

Dus, wat doen ons met dit alles?

Implikasies

Die kerk het deur ongelooflike pynlike tye van beproewing gegaan in die verlede, en ons kan nie dink dat ons daarteen bestand is nie.  Dit is geen wonder nie dat die Engel in vers 13 uitroep: “Hoe lank!”  Dit is die uitroep van Psalm 13 (vers 1,2): “Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet?  Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg?  Hoe lank sal ek planne beraam in my siel, met kommer in my hart oordag?  Hoe lank sal my vyand hom oor my verhef?”  Dit is die uitroep van die profeet Habakuk (1:2) : “Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! – maar U help nie?”  Dit is die uitroep van die heiliges onder die altaar in Openbaring (6:10): “En hulle het met ʼn groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?”

Jy hoor hierdie uitroep deur die hele Skrif!  En dit is nog steeds ons uitroep!  “Hoe lank, o Here, voordat U kom om die lewendes en die dooies te oordeel?  Hoe lank, o Here, voordat geloof sigbaar word?  Hoe lank sal die bose voorspoed hê in die land?”

Jy sien, hierdie oorlog het nie opgehou by Antiochus nie.  In 2 Tessalonisense 2:4 hoor ons van ʼn soortgelyke man wat nog moet kom.  Dit is naamlik die man van wetteloosheid, die “teëstander” wat “hom verhef bo al wat God genoem word of ʼn voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”  Klink dit bekend?  Satan se strategieë verander nie, selfs al is hy nou in Christus oorwin.

Kyk veral na vers 11-12.  Wat het Antiochus gedoen om die aanbidding van God te vernietig?  Drie dinge:

  1. Neem die offers weg.  Verbied hulle om saam te aanbid.  Laat hulle nie toe om hul sondes te bely en dankoffers te bring nie.  Trek hulle weg van die een groot offer van Jesus Christus.  Kry dit reg dat hulle van die kruis af wegdraai, en in effek ook wegdraai van ʼn selfopofferende lewe.
  2. Die plek van God se heiligdom is as ʼn niks afgemaak.  Vertrap die nuwe tempel van God, die lewendige gemeenskap van sy kinders.  Sluit die kerk, of kry hulle so ver om nie eers op te daag nie deur hulle gewete aan die slaap te sus.  Kry hulle so ver om na valse onderrig te luister, of kry dit reg dat hulle onder mekaar baklei.  Wat hy ook al doen, hy wil die tempel van God vernietig.
  3. Die waarheid is op die grond gegooi.  As daar nou een ding is wat Satan en hierdie wêreld suksesvol in die Westerse kultuur, en veral die elite wat hulself verhoog en teenoor God plaas, bereik het, is dit dit.  Hulle  het die waarheid op die grond gegooi en dit vertrap.  In hierdie post-waarheid, post-modernistiese era is daar ʼn groot minagting vir waarheid.  Vir ʼn standaard wat hoër as onsself is.  Antiochus was ‘n god in sy eie oë – dit is vandag ook so.  Geliefde gemeente, die Antichris van elke eeu wil alle aanbidding sover as moontlik vernietig.  Hy wil die kerk binnekom en homself as God voorop plaas.

Vanaf Nebukadnésar wat die tempel geplunder het, na Bélsasar wat by sy maaltyd wyn uit die bekers van die tempel drink, na Antiochus Epiphanes wat die tempel verwoes...; en dit sal nie ophou totdat hulle ʼn greep op die Heilige Een self kry nie.  In die persoon van Christus is die woning van God weer eens ontheilig as gevolg van die mens se sonde en opstandigheid.  Maar dit was daar, in die donkerste tye, dat die oorwinning behaal is.  Dit was deur Antiochus se vervolging dat die Joodse godsdiens gereinig is.  Dit is deur lyding dat die kerk oorwin, en raai wat?  Nie eers die poorte van die hel sal dit oorweldig nie!

Dit is die kruis wat die bewys en waarborg is dat God se plan in die aangesig van alle teenstand volbring sal word.  Watter erger vervloeking, erger daad van verraad kan daar wees?  Geen wonder dit was daardie dag donker nie.

Die patroon sal voortaan, soos wat dit in die Nuwe Testament voorspel word, soos wat die geskiedenis sy groot tapisserie weef, en dit sal ʼn hoogtepunt bereik in ‘n finale koning met skokkende mag.  Die dier sal sterf. Sy liggaam sal verbrand word en die Oue van Dae sal kom om te regeer vir ewig en altyd, in totaliteit en volkomenheid.

Hierdie profesie is ongelooflik in sy detail, en skrikwekkend by tye.  Maar dit sou vir Israel wonderlike hoop gegee het.  Om voort te gaan.  Die pessimis kyk af, die verskrikte kyk rond, maar die Christen kyk op.  Na die God van die geskiedenis.  Dit is in sy krag dat Daniël voortgegaan het, soos wat ons in vers 27 lees: “daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen.

John Wesley is een keer gevra wat hy sal doen as God môremiddag sou terugkom.  Hy het sy dagboek uitgehaal en sy afsprake vir die res van die dag begin lees en gesê: “Dit, geagte meneer, is wat ek gaan doen.” Sy kennis van die toekomstige koninkryk van God het hom toegelaat om vandag reeds in daardie koninkryk te leef.

Hy gaan aan.  God het die geskiedenis in sy hand.  Daniël gaan voort om die werk van die koning te doen. Hierdie beeld van die heelal gee Daniël die krag om te volhard in die gewone lewe van elke dag, om getrou te bly.   

Amen.