Moenie met die lewende God speel nie. Sy oordeel is vinnig en onmiddellik.

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2018-08-19
Teks: 
Daniël 5
Preek Inhoud: 

Voordat ons begin wil ek net ʼn paar dinge noem wat ook duidelik word in die teks.  Eers iets oor Bélsasar.  Hy was die seun van Nabonidus.  Nabonidus het probeer om die gode van Babilon te verander en niemand het van hom gehou nie en hy wou eintlik ook nie regeer nie, daarom het hy sy seun aangestel as vise-regent en hom al die mag gegee. Dit is hoekom hy die derde posisie aanbied aan enige iemand wat die raaisel kan antwoord, want die top twee is reeds geneem.  Ek weet dat hierdie hoofstuk Nebukadneser as Bélsasar  se vader noem, maar dit is hoe dit Israeliete oor voorvaders gepraat het.  Die Israeliete sou Abraham hulle vader genoem het.

En die tweede punt is dat die koningin van wie hier gepraat word, waarskynlik Bélsasar  se ma is, maar ek sal later hierna toe terug kom.  Ek vat hierdie preek as volg saam.

Moenie met die lewende God speel nie.  Sy oordeel is vinnig en onmiddellik.

  1. Bélsasar  se fees
  2. Bélsasar  se kleur
  3. Bélsasar  se ma
  4. Bélsasar  se trots
  5. Bélsasar  se val

Bélsasar se Fees

Hegel, ʼn historikus, het eenmaal gesê:  ‘Die enigste ding wat ons van die geskiedenis kan leer is dat ons niks van die geskiedenis leer nie.’  Dit is miskien ʼn bietjie sinies, maar ʼn mens kan nie die waarheid ontken aangaande die man na wie ons vandag kyk nie.

Die toneel begin met Bélsasar  wat homself geniet.  Ons lees:  “Koning Bélsasar het ʼn groot maaltyd berei vir sy duisend maghebbers, en in teenwoordigheid van die duisend het hy wyn gedrink.”  Hy onthaal 1000 van die top regeringsamptenare en hyself sit aan die hoof van die tafel.  Dit spreek van weelde, ʼn gebrek aan soberheid, ʼn gebrek aan ordentlikheid en ʼn algehele verontagsaming vir die allerhoogste God.  Voor die oë van ʼn paar duisend mense, drink hy homself onder die tafel in as ʼn teken van sy bravade.

Die bose sê in hulle hart daar is nie ʼn God nie.  Geen transendensie.  Niemand het seggenskap oor my lewe nie.  Bélsasar  sê basies, “dit is my fees en ek maak soos ek wil.  Dit is my lewe en hierdie lewe gaan alles net oor my.”

Let op na die arrogansie en die trots.  Hy spog voor al sy edeles, vroue en byvroue en hy dink om regtig indruk te maak, sal hy wys wat hy van Israel se God dink.  Ons lees daarvan in vers 2-4:  ”By die genot van die wyn het Bélsasar  bevel gegee om die goue en silwervoorwerpe te bring wat sy vader Nebukadnésar uit die tempel van Jerusalem weggevoer het, sodat die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink.  Toe het hulle die goue voorwerpe gebring wat uit die tempel, uit die huis van God in Jerusalem weggevoer was, en die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue het daaruit gedrink.  Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.”

Hier drink hulle uit die bekers wat vanaf Jerusalem gebring is en wat dui op die Here se teenwoordigheid en mag – ongeveer 5400 soos ons in Esra lees.  En hulle gebruik dit om ʼn heildronk te drink op gode wat nie kan sien, praat of hoor nie.  Dit is ʼn ongelooflike beeld van trots, laster en afgodery.  Wat hulle sê is: “Dit is wat ons van julle God dink!  Hierdie dinge beteken niks vir ons nie, want julle God beteken niks vir ons nie!”

Nie veel het verander nie... soos mense saamkom op partytjies en drink en grootpraat oor hulle eie prestasies, sonder enige agting vir die God wat aan hulle die asem gee wat hulle gebruik om oor hulself te spog.  Ons aanbid nog steeds hierdie selfde gode.  Die rykdom word verteenwoordig deur goud en silwer, die sterkte en mag deur yster en brons en die fantastiese gebou deur hout en klip.  Ons is lief vir ons goed.  Dit is gode wat ons kan beheer en manipuleer, wat geen outoriteit het oor wat ek mag en nie mag doen nie.  Sien jy die trots hier?  Totale en absolute minagting vir God.  Nie alleen minagting nie, maar blatante laster:  “Dit is wat ons van julle God dink!”

Wel, God is op die punt om aan sy volk te wys dat hierdie konings, ongeag hoe magtig, in sy hande is.

Bélsasar  se kleur

ʼn Hand skryf iets op die muur se pleisterwerk naby die lampstaander in die koninklike paleis.  Almal sien dit.  Dit is geskryf op die paleismuur waar daar gewoonlik manjifieke skilderye van die lande se oorwinnings is, en wat hulle van hulself gedink het.  Maar nou is daar ʼn hand wat skryf wat God daarvan dink en die Bybel gaan verder om te beskryf dat hierdie koning ʼn regte bangbroek is.  Hy stort ineen.

Dit sê in vers 6:  “Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan. “  Die letterlike vertaling is dat hy badkamer toe gegaan het.  Dit is nie juis ʼn koninklike houding ten aanskoue van die duisend mense voor hom nie.  Hy verander van hierdie trotse, arrogante koning wat sy eie grootheid besing, na ʼn vreesbevange man wat homself bevuil.

En dan roep hy in vers 7-10 dieselfde ouens, die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers om antwoorde en beloof aan hulle mooi klere en ʼn goue ketting en die derde rang in sy koninkryk.  Na alles gaan hy nog steeds na die besweerders, Chaldeërs en waarsêers.

Ons is dalk geneig om te sê: “simpel Bélsasar  wat 600 jaar voor Christus geleef het.  Hoe dom was hierdie mense nie.  Maar voordat jy daardie roete inslaan:  onthou, Babel was een van die mees gevorderde beskawings van die antieke Midde Ooste en ek is seker dat hierdie mense ʼn ongelooflike kennis gehad het.  Maar op die ou end was hulle dwaas.  En ons het dit oor en oor gesien.  Hulle het nie probeer om die mens se diepste vrae te beantwoord nie.  En tog draai die mens in sy dwaasheid oor en oor na die wysheid van dwase.

Ek weet dit klink nie baie mooi nie, want dit is ʼn belediging vir die intellektueles.  Ons hou nie daarvan om dwaas genoem te word nie.  Maar dit is ook wat Paulus aan die goed opgevoede mense van die kerk van Korinthe sê.  “Waar bly die wyse?  Waar bly die skrifgeleerde?  Waar die redetwister van hierdie eeu?  Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?”  Ons mense sonder God gaan altyd terug na dieselfde gebroke plekke, na dieselfde gebroke reënbakke. Sonder die Gees van God is ek en jy totale dwase.

Ek sê nie dat jy jou brein moet verwyder om in Jesus te glo nie. Die Christen is ʼn redelike persoon, maar rede gaan jou nie by God bring nie.  Nog minder jou werke.  Nog enige iets wat jy doen of ooit sal doen.  Dit is beledigend vir die trots van die mens.  Jy sê dat ek dit nie op my eie kan maak nie?  Ja, ek doen.  Jy sê dat ek dit nie deur intellek of kennis van gereformeerde teologie kan maak nie?  Ja, ek doen.  Jy sê ek is in ʼn gemors?  ʼn Koninklike gemors wat ek nie self kan regmaak nie?  Ek het hulp nodig.  As ek nie hulp kry nie, is ek verlore.  Ja, ek doen.  Dit is moeilik.  Ek weet.  Dit is beledigend vir die mens.  Dit is hoekom ons na enige iets anders sal draai, behalwe as God ons in sy soewereiniteit na die kruis wys.

Bélsasar  se ma

Wel, in elk geval sou dit alles ʼn redelike oproer in die paleis veroorsaak het, want toe verskyn Ma.  Ek sê dat dit waarskynlik sy moeder is vir drie redes.  Hierdie woord kan moeder beteken, dit lyk of al sy vroue en byvroue by hom is, soos wat ons in vers 3 lees, en net ʼn ma kan doen wat hierdie vrou doen.  Jy sal onthou hoe moeilik dit vir Esther was om na koning Ahasveros te gaan.  Sy het met die dood voor oë gegaan.  Maar hierdie vrou bars net binne en selfs die koning moet na sy ma luister.

Sy begin goed in vers 10 waar sy sê:  “Mag die koning in ewigheid lewe!”  Die ironie hier is dat hy daardie nag sal sterf.  Sy gaan verder en sê:  “Laat u gedagtes u nie verskrik en u gelaatskleur nie verander nie.”  Met ander woorde, “Ruk jouself reg, seun!  Jy lyk soos ʼn sot hier voor al jou edeles, ruk jouself reg!”  En dan sê sy:  “Daar is ʼn man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is.”

Daar is ʼn man... let op hoe hierdie man in vers 11-12 beskryf word, “in wie die gees van die heilige gode is...in hom is verligting en insig en wysheid gevind.... in hom is ʼn voortreflike gees en kennis en verstand gevind om drome uit te lê en raaisels op te los en knope los te maak.”  As jy na die begin hiervan kyk en dit vergelyk met Jesaja 11 dan is daar verstommende ooreenkomste.  Hierdie man word in Messiaanse terme beskryf, soos Christus was.  Die hele Ou Testament druk ons vorentoe en gee ons ʼn al hoe beter beeld van die Messias deur Hom vooruit te skou deur mense, profesië, wet en geskiedenis.  Die antwoord op die mens se diepste vrae is aan die kom.

Op ʼn manier herinner dit ʼn mens aan wat die vrou by die put gesê het in Johannes 4.  Onthou toe sy terug gegaan het na die dorp en gesê het:  “Kom kyk ʼn man wat my alles vertel het wat ek gedoen het.”  Jesus het haar gewys dat sy op al die verkeerde plekke na liefde gesoek het, na 5 mans en een met wie sy huidiglik saamgewoon het.  Jesus wys ons dat ons na die verkeerde put gaan om die dors van ons hart te les.  Jy moet na Hom gaan wat die lewende water is.  En sy sê:  “Ek weet dat die Messias kom.”  En hy antwoord:  “Dit is Ek wat met jou spreek!”

Daar is ʼn man in die koninkryk na wie jy kan gaan vir antwoorde.  Daar is ʼn Man op wie die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van insig en intelligensie.  Daar is ʼn man!  Sy naam is Jesus.  Hy het die antwoorde op jou diepste verlange.  Jy mag na hom gaan.

Bélsasar  se trots

Die koning luister na sy moeder, soos elke seun behoort en laat Daniël voor hom bring.  Maar let op die arrogansie waarmee hy Daniël behandel.  Soos ʼn slaaf, ʼn gevangene.  Vervuil van sy eie arrogansie, bewende knieë, bleek gelaat en nog steeds behandel hy hom asof hy ʼn gevangene is.  Asof sy mag groter is as dit wat die profeet verteenwoordig het.

Hy sê in vers 13:  “Is jy die Daniël wat by die Joodse ballinge behoort?”  Is jy een van daai ballinge wat ons hierheen gebring het?  Een van daai immigrante?  “Ek het van jou gehoor dat die gees van die gode in jou is, en dat die verligting en verstand en voortreflike wysheid in jou gevind word.”  Hy gaan dan verder en sê dat as hy die skrif kan lees en uitlê, hy die derde heerser in die land sal word.

Net ʼn vinnige kanttekening:  Dit is die taal van God.  Dit moes gelees en uitgelê word.  Dit is nie genoeg om dit net te lees nie, ons moet dit ook verstaan.  Om te weet wat dit beteken.  Net ʼn geestelike mens kan geestelike waarheid verstaan.

Dit is ook waar van die Bybel, ons kan dit lees, maar dit is nie genoeg nie, ons moet dit ook verstaan en daarvoor het ons die Gees nodig.  Regdeur die gedeelte is dit ʼn vraag van nie net lees nie, maar ook uitlê.  Wie kan lees en uitlê?  Net hulle wat die Gees het.  Wat sê 1 Kor 2 oor die Christen?  “Ons het die sin (Gees) van Christus.”  Enigiemand kan die Bybel lees.  Daar is skole in ateïstiese China wat die Bybel gebruik om mense Engels te leer, maar net omdat hulle dit lees, beteken dit nie dat hulle dit verstaan nie, behalwe as die Gees besluit om te werk.

Kom ons kyk na Daniël se antwoord.  Eers drie dinge.  Hou jou goud, hou jou klere en gee iemand anders die hoogste posisie.  Ek het dit nie nodig nie.  Geestelike gawes kan nie gekoop word nie.  God se woord is nie te koop nie.  Dit is ʼn ou man wat besef dat al hierdie dinge bitter weinig beteken in die groter geheel.

En dan gee hy die koning ʼn geskiedenislessie.  Een wat Bélsasar  maar alte goed ken.  Hy gee hom basies die geskiedenis van die eerste vier hoofstukke van hierdie boek.  Van ʼn koning wat selfs groter as Bélsasar  was en vir wie God van sy eer gestroop het omdat hy so arrogant was en homself na die hemel verhef het en hoe God hom so verneder het dat hy soos ʼn dier geword het.  Vers 20 is die kern hiervan:  “Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom ontneem.”  Jy sien dit was nie die feit dat hy al die mag en die eer gehad het nie.  Dit was die trots wat gevolg het.  Hoe baie maal lei groot mag en rykdom nie na trots nie.  Dan dink ons dat ons dit gedoen het.

Daniël herinner Bélsasar  aan die verhaal wat hy maar alte goed ken.  Die appel val nie ver van die boom nie, so vader so seun.

Hy beklemtoon hierdie punt in vers 22:  “Maar U, Bélsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel U dit alles WEET;“  Jy het GEWEET! Bélsasar .  Jy is sonder verskoning!  “Maar u het u verhef teen die Here van die hemel.”  Dit is wat trots is.  Om jou vuis na God te bal.  My manier, nie u manier nie  Hy kom tot die gevolgtrekking in vers 23:  “Maar die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie.”  Die asem wat jy asem en die lewe wat jy leef is syne!  Jy het dit geweet!  Jy ken jou geskiedenis en tog het jy gekies om dit te ignoreer.

Dit herinner my aan wat Paulus in Romeine 1:19 sê:  ‘Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.”  Jy weet Paulus praat met die hele mensdom.  Jy het GEWEET!  En tog het julle gerebelleer! “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; “

“Omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.  Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ʼn verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.“  Deur voor te gee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword.  Dit is ʼn dwaas wat weier om te sien wie hulle sonder Christus is!  Sonder God!  Vervloek!  Sonder God se vrede, sonder sy teenwoordigheid!  Omdat hulle geweier het om eer te gee aan die een wat dit verdien.  Ons moenie iets aanbid wat dit nie eers werd is nie.  Maak skoon die verhoog, maak plek vir die een wat dit verdien.

Bélsasar  se val

Jy het Bélsasar  geken, maar nie geluister nie:  “Toe is deur Hom die deel van die hand gestuur en hierdie skrif geskrywe.  Mené: God het u koningskap getel en daar ʼn einde aan gemaak; tekél:  is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés: u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.”

Ek weet nie of hy gedink het dat hy meer tyd het nie, miskien het hy gedink aangesien God sy pa meer tyd gegee het, sal God hom ook meer tyd gee.  Moet nooit daardie speletjie speel as jy weet dat God jou roep nie.  Moenie dink net omdat jou oom Van der Merwe hom op sy sterfbed tot Christus bekeer het, dat jy ook kan wag nie.  Eerstens weet jy nie van oom Van der Merwe nie.  En tweedens is daar geen waarborg dat jy middagete sal hê nie.  Vandag.

As jy in sonde leef, bely dit vandag, bely dit nou.  Dit is baie beter om in God se oë reg te wees wanneer jy Hom ontmoet, as om ʼn lewe te geleef het waarin jy gemaak het of daar nie ʼn God is nie.  Daar is ʼn onmiddellikheid omtrent hierdie hoofstuk.  In vers 5, “op dieselfde oomblik” en nou in vers 30 “in DIESELFDE NAG....!”   Een môre het die koning feesgevier met sy mense, daardie selfde nag het God alles van hom weggeneem.  En in sy dood het hy van aangesig tot aangesig gekom met die God wat hy sy hele lewe lank geweier het om te erken.  Hierdie hoofstuk is nie langer as 24 uur nie en God sê iets baie duidelik vir hulle wat wil luister.  Luister terwyl jy nog tyd het.

Neem bestek op van jou lewe, o geliefdes en moenie net aanneem dat God regverdig en genadig gaan wees nie.

Spandeer vervalste

geld, mors

Kosbare tyd en gesondheid.

Plaas waarde op die

Waardeloses, minag

Onskatbare weelde.

Wel, jy kan met die bestes

Onderhandel

En die res besteel.

Jy ken die resultaat

Hul etiek is sonder maat.

Laastens hou ek van wat daar in vers 29 staan, waar dit erkenning gee waar ek glo dit nodig is.  Daniël word weer verhoog soos in elke hoofstuk en die koning verneder.  Daniël ontvang eer en die koning oneer.  Maar daardie eer is so vlietend, want binne ʼn paar uur sou die Persiese magte onderdeur die mure gegrawe het en die stad oorgeneem het.

Geliefde gemeente, hierdie hoofstuk was ʼn duidelike waarskuwing aan Israel en tegelykertyd ʼn wonderlike troos.   ʼn Waarskuwing:  om nie God se genade te veronderstel nie.  Om te bekeer.  Om in hul God te glo as die een wat alle mense oordeel.  En tweedens, wat ʼn troos.  God is in totale beheer.  Hier sien hulle weer hoe God koninkryke ophef en hulle weer ineen laat stort.  Hier laat Hy weer ʼn koning ineenstort, net om sy gesalfde profeet weer te verhoog.  Hier sien ons hoe Daniël, wat ongeveer 90 jaar oud is, bly leef terwyl die jong koning sterf.

Wat beteken dit vir ons wat hier sit in die 21ste eeu?  Wanneer ons om ons heen kyk in hierdie land, wonder ons nie of Hy op die troon sit nie?  O, Hy doen.  En Hy kan dinge in ʼn dag se tyd verander.  Maar weet jy wat, dit maak nie saak wie die volgende president is nie, dit maak nie saak wat môre gebeur nie, al wat God se volk moet doen is om vandag trou te bly.  God hou alle ander dinge in sy hand.  Ook jou lewe, en Hy weeg dit in die weegskaal.  Die enigste ding wat die skaal in jou guns kan laat swaai, is ʼn onwankelbare vertroue dat jy aan Jesus Christus behoort.  Jesus Christus is die een wat jou lewe is.  Verwerp Hom en jy is so goed as dood.

Amen