Ek mag nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2017-11-12
Teks: 
Galasiërs 6: 11 - 18
Preek Inhoud: 

Sjoe, ek kan nie glo ons het alreeds aan die einde van hierdie brief gekom nie.  In sy kommentaar op Galasiërs sê Luther de volgende: “Ek moet luister na die evangelie, wat my onderrig, nie wat ek behoort te doen nie, maar wat Jesus Christus die Seun van God vir my gedoen het: ... dat Hy gely en gesterf het om my te red van die sonde en dood. Die evangelie gee my die wil om dit te ontvang en om dit te glo.  En dit is die waarheid van die evangelie. Dit is ook die hoofartikel van alle Christelike leerstellinge, waarin die kennis van al die goddelike bevat is.  Daarom is dit uiters noodsaaklik dat ons hierdie artikel goed ken, vir ander leer, en om dit gereeld in hulle koppe te stamp.”  ‘n Mens kan dit nie beter sê nie.  Dit is nodig dat dit heeltyd in ons koppe gestamp word.  Dus, as julle my net nog ‘n laaste geleentheid gee, ek bid dat die Gees mag werk.

Ek gaan ook vir hierdie man, Paulus, mis.  Een van die dae gaan ek met Paulus sit en praat.  Eerlik, reguit, moedig, persoonlik; ‘n Christus-gesentreerde apostel vir die heidene.  Dit het vir hom nie daaroor gegaan om ‘n goeie indruk te maak nie, maar oor die waarheid.  Hy het nie omgegee hoe aanstootlik die kruis vir die wêreld sal wees nie; hy sal dit preek.  Hy het geweet dat die waarheid die enigste manier was om hulle lief te hê.  Ja, hy het hulle allerhande name genoem, maar die laaste woord wat hy gebruik, is: Broeders.  Broeders.  Familie.  Dit is met wie hy praat. Hierdie laaste gedeelte is intens persoonlik.

“Kyk met watter groot letters ek met my eie hand aan julle skrywe!”  Ek hou van die feit dat sinne soos hierdie in die Bybel staan.  Dit is maklik om hierdie verse oor te slaan en te sê: “O, daardie vers is nie so belangrik nie, laat ons by die regte dinge uitkom.”  Maar hierdie reël was geskryf deur God.  Paulus wil seker maak dat hulle weet dit is hy, dus hy voeg iets van homself daarby.  Omdat die grootste deel van die brief waarskynlik deur hom gedikteer is en sy skrywer dit neergeskryf het, sê hy by hierdie laaste gedeelte vir die skrywer om op te skuif sodat hy sy eie persoonlik boodskap kan stuur.  Sy eie naskrif.

En wat hy skryf, som alles op wat hy vir hierdie brief gesê het.  Die pad vorentoe word gevind in die reël:  “Ek mag nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”  As daar een ding is wat ek wil hê julle moet saamvat huistoe, dan is dit dít.  “Ek mag nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”  Het jy dit?   Dit is dan ook ons tema.

Ek mag nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld:

  1. Wat nie saak maak nie (12-13)
  2. Wat regtig saak maak (14-15)
  3. Die gevolg van wat eintlik saak maak (16-18)

 

Wat nie saak maak nie (v12-13)

Die valse leraars het nie die evangelie verstaan nie, dis hoekom hulle op dinge gefokus het wat nie belangrik was nie.  Omdat hulle nie God se bevestiging gekry het in Jesus Christus nie, het hulle mense se bevestiging nodig gehad.  Paulus skryf in vers 12:  “Almal wat ‘n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny.”

Die besnydenis op sigself was nie die probleem nie; dit was dat hulle ander onder druk gesit het om besny te word.  Hulle het probeer om die kulturele muur weer op te bou wat Christus afgebreek het met sy dood aan die kruis.  Hulle wou liewer ‘n aantreklike, hanteerbare en kulturele kerk hê as ‘n internasionale kerk gebou op die roekelose en absolute geloof van Jesus se volgelinge.

Hulle was meer bekommerd oor hoe die kerk aan die buitekant lyk in plaas daarvan om te wil hê dat Jesus in hulle lewe.  Soos dit met ons hart is, so kan dit met die kerk ook wees.  Ons kan die buitekant silwerskoon hou, maar as die binnekant verrot is en vol sonde, dan is dit nie anders as ‘n doodskis nie:  dood – met ‘n mooi lagie; of in Jesus se woorde: “ ’n wit gewaste graf”.

God gee niks om vir die uiterlike prestasies as die hart nie reg is nie.  Hy wil weet wat hier aangaan (in jou hart). Wat beteken Jesus vir jou?  Ons kyk na wat ons beskou as die meer tradisionele kerke en sê dat hulle agterlik is; of ons kyk na die meer liberale kerke en noem hulle vooruitstrewend.  Maar ons moet liewer ons eie hart ondersoek en vra: “Volg ons Jesus Christus passievol?  Is hierdie kerk, op hierdie oomblik, op hierdie plek in hierdie tyd, soos ‘n familie, totaal en absoluut toegewy aan die evangelie?  Is ons verbind tot die pad van die kruis?  Is die geloof in hierdie kerk soos histories gegrond, en so antiek as wat dit nuut is, vars en toepaslik in hierdie kultuur?”

Dis dikwels ‘n teken dat die kerk besig is om ‘n gevaarlike pad te loop as dit nie meer te make kry met vervolging en uitdagings nie.  Dit beteken dat die kerk baie lyk soos die kultuur om hom.  Hy meet sy sukses aan dieselfde standaarde as die wêreld.  Getalle, geld, roem, hoe gewild hulle is.  Nie in hoe gehoorsaam hulle die pad van die kruis loop nie.

Paulus spreek die kerke aan oor hierdie vermyding van vervolging; hy sê:  “Al rede hoekom hulle dit vermy is om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie.”  Die Kerk van Jesus in daardie tyd was grotendeels Joods.  Dit was lekker om deel te wees van die Joodse groep.  Jy sal dan nie gesien word as ‘n uitgeworpene nie en daar sal nie met jou gekgeskeer word nie.  Dit was dus te verstane dat dit baie beteken het om in te pas by die Joodse kerk, om daardie merk aan hulle liggame te hê om te bewys waarby hulle behoort. Plus: die Jode het spesiale behandeling van die Romeine gekry.  Maar die Jode wou ‘n koning hê, nie ‘n misdadiger aan die kruis nie.

As jy die kruis preek, dan sal jy vervolging ervaar.  Omdat dit die mure van menslike trots en selfvoldoening afbreek.  Billy Graham het die volgende gesê:  “En ek het in my eie bediening gevind dat ek enigiets anders kan preek en dit was gewild.  Dit streel die oor.  Maar wanneer ek by die kern van Christenskap kom, wanneer ek kom by die kruis en die bloed en die opstanding, dan is dit ‘n struikelblok.  Dit is die ding wat mense nie wil hoor nie.”  Maar daar is net een plek waar God die mensdom sal ontmoet, en dit is by die kruis.

Dit veroordeel ons kulturele onsedelikheid, en die begeerte om te doen wat hulle wil.  Dit veroordeel diegene in die kerk wat opgeblase is van godsdienstige trots.  As jy Jesus ken maar nooit na die kruis gegaan het nie, dan beteken dit niks nie. Die kruis het deur die eeue heen na ons gekom en sy onwankelbare oordeel oor die ydelheid, trots, haat, gierigheid, plesier en luste van die mens kom gee.  Die kruis sê vir ons almal: “Jy is ‘n sondaar.”  Dit word die gewete van die wêreld.  Die Bybel sê:  “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23).

“Want,” sê vers 13, “ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem.”  Ons sal enigiets doen om met ons eie prestasies te spog. Paulus sê:  “Die besnydenis was daardie teken om onder die hele wet te kom, maar hulle onderhou nie die hele wet nie!”  Dus: hoekom het hulle vir julle besny in die eerste plek?!  Ek sal julle sê hoekom, sê hy: “sodat hulle kan spog oor die getalle, oor hoe baie hulle bekeer het en om hulle lidmaatregisters na Jerusalem terug te stuur.” Maar, geliefdes, dit maak nie saak hoe baie dar in die kerk kom as ons nie getrou is nie.

Dus: laat ons net duidelik wees oor wat nie saak maak nie.  Wat tel nie in God se ekonomie nie – hoe baie geld jy het, hoe ver in die lewe jy gevorder het, of jy jou eie besigheid het of nie, hoe goed jou besigheid vaar, of jy gewild is, in watter huis jy woon, met watter motor jy ry, watter kleur vel jy het, van watter familie jy kom.  Dit alles maak geensins saak vir God nie!  Ons verraai wat die meeste saak maak deur dit waaroor ons die meeste dink, praat en bid.  Die kruis is die ding waaroor Paulus obsessief kan raak.

 

Wat regtig saak maak (v14-15)

“Ek mag nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”  Die wêreld waarvan hier gepraat word, is nie die fisiese wêreld asof God teen sy eie skepping is nie, maar dit staan vir alles wat teen God is.  Die wêreld se waardes en die manier waarop hulle dink.  Ek sal nie roem nie, behalwe as dit na die kruis wys.

Laat ons ‘n oomblik stilstaan en nadink waaroor Paulus hier roem.  Die kruis is die simbool van ‘n walglike bloedige gruwelike vorm van teregstelling. F.F. Bruce het gesê:  “Dit is moeilik om na meer as sestien eeue waartydens die kruis ‘n heilige simbool was, te besef dat die kruis in Paulus se dae gedagtes van onuitspreekbare gruwel en weersin opgeroep het.  Die gebruik van die woord ‘kruis’ was taboe in die beskaafde Romeinse samelewing (Cicero, Pro Rabirio 16).  Selfs wanneer mense veroordeel was tot die dood deur middel van kruisiging, het die vonnis ‘n argaïese formule gebruik wat gedien het as ‘n soort eufemisme: ‘hang hom aan die ongelukkige boom’ (Cicero, ibid. 13).  In die oostelike provinsies van die ryk moes die Griekse woord [kruis] σταυρός vergelykbare vrees en walging geïnspireer het in die Latynse ekwivalent. Maar die ‘totaal vervelige dood aan die kruis’ was so sentraal in Paulus se evangelie dat hy sy boodskap genoem het ‘die woord van die kruis’.”

Wanneer hy sê: “Ek mag nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus,” bedoel hy meer as om net te spog.  Die woord ‘roem’ beteken om in te verheerlik, om in te verhef, om aan te vuur, om obsessief te wees daaroor.  Waaroor is jy obsessief vandag?  Ons kan ‘n obsessie hê oor ons uiterlike, oor fiksheid, oor geld en oor ‘n miljoen ander dinge!  Maar die Christen roem in, het ‘n obsessie oor en verheerlik hom in die kruis!  Die kruis – die mees gewelddadige dood van daardie tyd – is die standaard en simbool wat ons hoog hou, wat wys hoe ons alle dinge van die wêreld wil afsterf en na Christus toe wil lewe.

Wat maak regtig saak?  Dit is die vraag vir elkeen van julle vandag.  Wat maak saak?  Wat gee alle lewe waarde? Wat gee jou lewe betekenis; wat motiveer jou?  Wat gee energie aan alles wat jy doen elke dag van jou lewe; of jy nou by die werk, huis of skool is?  Wat beteken Jesus vir jou?  Die kruis van Jesus kenmerk ‘n radikale transformasie, die afsterwe van alles wat van die eerste Adam kom en ‘n wedergeboorte en nuwe skepping gevind in die tweede Adam.

Die lering van die kruis, van die versoening is nodig om ‘n Christen te wees.  Ek hoop dat julle by die einde van hierdie boek sien dat die leer belangrik is.  Maar die leer word ook uitgeleef.  Die kruis is die sentrale leerstelling van ‘n Christen.  Almal hou van Jesus die leraar, die etikus, die geneesheer, die geliefde.  Maar as jy nie die kruis verstaan nie, dan verstaan jy nie waaroor dit gaan nie.  Daar is die verhaal van Petrus wat Jesus bely as die Messias.  Dan, ‘n paar verse later, verduidelik Jesus dat hy moet ly en sterf.  En Petrus sê:  “Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!”  En wat sê Jesus?  Nie net:  “jy verstaan nie”, maar Hy sê:  “Gaan weg agter My, Satan.”  Jy is ‘n dissipel van Satan as jy nie die kruis wil hê nie.  Soos Tim Keller dit uitwys: die evangelie bestee 30% tot 50% aan die laaste paar weke van Jesus se lewe.  Hoekom?  Omdat dit is hoekom hy gekom het!

As jy nie die leer van die kruis verstaan nie, dan is jy nie ‘n Christen nie.  Die kruis is die hoofrede hoekom Jesus gekom het.  Geliefde gemeente, jy kan nie ‘n Christen wees en nie na die kruis gaan en voel dis aanstootlik nie. As jy nie dink dat dit aanstootlik is nie, gaan dink weer daaroor.  En vra jouself af: het die God van die heelal regtig dit gedoen?!  Het die Seun van God, die Woord deur Wie alle dinge geskep is, regtig daarvoor gekies om te sterf op ‘n klein heuwel, deur die wêreldmag gesien as ‘n onbelangrike plek, as die slegste krimineel?  Dit is regverdige vrae.  Dit is deel van die oortreding – die struikelblok.  Die ander helfte is: hoe groot is my sonde?  As dit regtig gebeur het!  God, wees my genadig!  ‘n Sondaar!

Is dit jou belydenis?  Laat dit ver van my wees om te roem behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.  As Jesus alles vir my beteken, dan is dit wat die wêreld najaag, gekruisig in Jesus se kruisiging.  Dit beteken niks vir my nie.  In vergelyking met Jesus gee ek nie om oor die wêreld se welvaart, sy roem, sy lus vir die oë, huise, ek gee niks daarvoor om nie.  Ek het saam met Jesus gesterf en dit alles afgesterf!  En ek woon in Hom in die nuwe lewe!  Daardie dinge definieer my nie!

Soos Paulus sê:  “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.”  Nie enige hierjy soort van ‘n nuwe skepping nie, maar ‘n transformasie – jy word wie jy bedoel is om te word.  Die krag wat Jesus Christus uit die dood opgewek het, is aan die werk in jou.  Jy is nuut.  Dit is wat saak maak – ‘n nuwe skepping.  Wat saak maak is dat jy jouself in Christus vind, in sy werk.  Hy is besig om die hele skepping te herstel deur die versoenende bloed van die kruis.  Wil jy deel daarvan wees?  Kom praat met my, of enige van die manne hier.  

Ons glo dat Jesus se fisiese opgestane liggaam die eerste vrugte is van daardie skepping.  Sy Gees in jou hart is die waarborg van daardie skepping – en ook die skeppende krag in jou.  Dit skep ‘n nuwe hart, nuwe verlangens, nuwe liefdes, nuwe haat, ‘n nuwe wil en hernude intellek.  Dit gee nuwe betekenis aan jou werk, jou ontspanning en jou verhoudings.  Die Koninkryk het gekom in Jesus Christus en word gevestig in sy Gees.  Wat beteken Jesus vir jou?

 

Seëninge in Christus

Die eerste gevolg is vrede en genade.  “En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!”  Daar is geen groter vrede, geen groter genade in die wete dat Jesus alles volbring het.  Die kruis spreek vrede oor ons.  Wees meer en meer vreedsaam!  Het ek julle nie my Seun gegee nie?  Hoeveel te meer sal ek nie al die ander dinge saam gee nie?  By die kruis was vrede gemaak. Vrede tussen God en die mens.  God en skepping is versoen in die bloed van die Seun.  Die skepping is herstel. Die hemel het terug aarde toe gekom.  God het na die mens gekom.

Die tweede gevolg is dat Christene liewers die merk van die kruis dra as die merk van die besnydenis.  Paulus nie die minste van almal nie.  ”Verder moet niemand my moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van die Here Jesus in my liggaam.”  Met ander woorde hy sê:  “Ek is gebrandmerk as ‘n slaaf van Christus.  Ek het die merk van ‘n kruisvolgeling op my.”  Die littekens waaraan hy moontlik dink, is die steniging wat hy ondergaan het.  Hulle het so ‘n aanstoot geneem aan die goeie nuus van die kruis dat hulle hom vir dood agtergelaat het. Net soos hulle die Man gedood het wat Self die goeie nuus was.  Vanweë die kruis kan die Christen hard onderdruk word, maar nie gebreek word nie; perpleks staan, maar nie in wanhoop nie; vervolg word, maar nie verlate voel nie; geslaan word (bv. tot die dood), maar nie vernietig word nie.  “Want ons dra altyd in ons die dood van Jesus, sodat die lewe van Jesus ook in ons geopenbaar mag word.”

Ons vertoon Christus vir die wêreld deur die verhaal van die kruis uit te lewe, die verhaal van genade.  Die verhaal van Galasiërs.

Soos wat ek hierdie laaste paar paragrawe skryf, wens ek dat hierdie reeks preke nie tot ‘n einde hoef te kom nie.  Ek het daarvan gehou en het dit van voor af weer lief gekry.  Hierdie is die boek van die evangelie by uitstek. Dis nie so dat die hele Bybel nie die evangelie bevat nie, maar geen ander boek lê dit so duidelik uit nie.  Die boek gaan nie net daaroor hoe ‘n ongelowige gered word nie, maar dat die evangelie die hartklop van die gelowige se lewe is.  Die hartklop van die lewe van die kerk.  Wat ook al hierna kom, as God dit wil, in die jare wat kom, vloei uit hierdie boek.  Moet dit asseblief nie vergeet nie.

Die brief aan die Galasiërs, met sy trompetgeskal vir Christelike vryheid, het keer op keer die ware evangelie vrygemaak van die bande waarin goed bedoelende, maar misleidende mense dit beperk het.  Sodat dit weer eens sy emansiperende mag in die lewe van die mens kan uitoefen, om diegene wat dit ontvang, te bemagtig om sterk te staan in die vryheid waarmee Christus hulle vrygemaak het.  By die kruis in Christus.

Ek laat hierdie lied by julle:

  1. When I survey the wondrous cross
    On which the Prince of glory died,
    My richest gain I count but loss,
    And pour contempt on all my pride.
  2. Forbid it, Lord, that I should boast,
    Save in the death of Christ my God!
    All the vain things that charm me most,
    I sacrifice them to His blood.
  3. See from His head, His hands, His feet,
    Sorrow and love flow mingled down!
    Did e’er such love and sorrow meet,
    Or thorns compose so rich a crown?
  4. Were the whole realm of nature mine,
    That were a present far too small;
    Love so amazing, so divine,
    Demands my soul, my life, my all.

“Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle gees, my geliefde broeders en susters!  

Amen.”